sterf, lyding

Hoekom sukkel mense om te sterf veral by ou mense

Vraag: Mens het so baie vrae en die Woord sê ons sal eendag ten volle antwoorde op ons vrae kry. Maar ek wil graag weet as jy my kan laat verstaan. Hoekom sukkel mense om te sterf veral by ou mense. My tannie is 74 jaar oud en het kanker en hul kan haar nie chemo gee nie want sy is te swak. Sy is al so maer, kan nie eet en drink nie en mens ruik al die dood maar sy sterf nie.

Daar is mense wat al met haar gepraat het, en gebid het en het haar ook al gesalf. Sy ly ook aan alzheimers kort geheue verlies. So sy verstaan met tye. Sy ly baie en het baie pyn, maar sterf nie??

Ons lees jou verduidelikings op jou webtuiste en dit het ons oë met baie dinge oop gemaak. Mag die Here Jesus Christus jou ryklik seën.

Baie groete.

Antwoord: Baie dankie vir mooi woorde. Wanneer daar dinge soos met jou tannie gebeur, ontstaan die vraag outomaties hoekom mense so moet ly veral met die wete dat die Here hulle vroeër huis toe kon neem. Dit is uiters moeilik om sodanige vrae te beantwoord, omrede die Here nie altyd aan ons die redes vir Sy optredes geen nie. In die Skrifte vind mens egter inligting wat ons sal help om sulke moeilike vrae ten minste gedeeltelik te verstaan. Maar eers moet ons begin met God se beloftes vir ons, naamlik:
Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Vanuit bostaande teksgedeelte kan ons sien, dat self jou tannie asook, die res van die familie wat deur hierdie donker tyd gaan, julle daarby kan berus dat God in beheer is en dat Hy alles wat nou met julle gebeur vir julle almal ten goede laat meewerk. Dit is God se belofte aan julle en Hy kan nie lieg nie. Al verstaan julle dit nie nou nie, sal julle wel eendag by die Regterstoel Oordeel van Christus alles verstaan, en dan sal julle meer as genoeg rede hê om Hom te dank vir dit wat julle almal moes deurgaan. Dit is in Sy teenwoordigheid waar julle sal sien dat haar lyding (en julle lyding) nie tevergeefs was nie maar tot julle almal se voordeel gestrek het.
Rom.8:18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.
Glo my julle gaan Hom vir Sy besluit bedank!

Een van die belangrikste redes waarom ek dink die Here neem so lank om jou tante huistoe te neem, is omrede Hy aan haar (en self julle wat saam met haar ly) die Kroon van die Lewe wil gee. Ons moet egter nie die Kroon van die Lewe met die ewige lewe, wat slegs deur geloof by God as kostelose geskenk ontvang word, verwar nie. Die kroon van die Lewe word as genadeloon deur ons getrouheid aan God verdien en dus handel dit oor fase twee van ons verlossing naamlik heiligmaking, nie fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte nie. Die kroon van die lewe is ‘n kroon wat Christus aan gelowiges by die Regterstoel Oordeel as genadeloon gaan gee, wat hulle deur voortgesette geloof, na aanvanklike wedergebore, as genadeloon moet verdien.

Daarom is dit belangrik om die Here tydens hierdie donker tyd in julle lewens te vertrou, en in geloof julle by Sy besluit berus, met die wete dat Hy die beste vir julle weet en julle boonop vir julle getrouheid aan Hom ryklik sal beloon.
Jak.1:12 “Salig is die man wat versoeking (versoeking kom in baie vorms voor, en kan intens tydens tye van lyding wees.) verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Jak.5:11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.
Dit is uiters belangrik dat jy die artikels “Die onderskeid tussen wedergeboorte en die loon vir goeie werke”, asook “Hemelse krone, loon en goeie werke” en laastens “Wat is die Ewige Lewe” te lees. Dit sal baie dinge aan jou verduidelik.)

Ons goeie werke, wat na aanvanklike wedergeboorte gedoen is, en wat getrouheid aan God tydens tye van lyding insluit, gaan bepaal watter funksies, posisies en voorregte ons in God se koninkryk, as genadeloon, gaan ontvang.
Fil 3:11”of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 3:12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 3:13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
Die opstanding waarvan Paulus hier praat, is nie die opstanding wat alle gelowiges, as deel van die ewige lewe, kosteloos tydens aanvanklike wedergeboorte ontvang nie. Die opstanding waarna hy verwys is ‘n beter opstanding, wat as loon vir goeie werke wat deur voortgesette dade van geloof, na aanvanklike wedergeboorte, verdien kan word. Alle gelowiges kan streef om deur hulle voortgesette getrouheid aan die Here hierdie beter opstanding as genadeloon te verdien en daar is geen uitsonderings nie.

Ons ontvang die ewige, (wat die waarborg van die opstanding tot die lewe insluit) deur geloof alleen (in die evangelie alleen) as geskenk by God, sonder enige werke van ons kant af. Daar is egter ‘n ander faset van die opstanding waarna Paulus hier verwys, wat slegs diegene wat Jesus Christus getrou as dissipels, (na aanvanklike wedergeboorte, fase een van ons verlossing) nagevolg het as genadeloon sal verdien. Alle gelowiges sal uit die dood uit opstaan, maar sekeres sal ‘n beter opstanding ontvang.

Die apostel Petrus verwys ook na hierdie beter opstanding, naamlik:
2Pe 1:10 “Daarom, broeders, (fase een, naamlik weergeboorte is alreeds afgehandel anders sou hy nie na hulle as broeders verwys nie) moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking wat lyding insluit) want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. 1:11 Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking/opstanding. Alle gelowiges sal aan die opstanding deelneem, maar sekeres sal deur getroue dade van geloof, na aanvanklike wedergeboorte, ‘n ryklike ingang tot die koninkryk as genadeloon verdien.)

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs het ook na hierdie opstanding as ‘n beter opstanding verwys.
Heb 11:35 “Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.”
Daar is dus ‘n faset van die eerste opstanding, waaraan alle gelowiges deel van sal uitmaak. Dan is daar ‘n faset van die opstanding , wat in die Skrifte as ‘n beter opstanding beskryf word, wat aan die gelowige as loon voorgehou word. Hierdie beter opstanding word deur voortgesette werke van geloof wat in en deur die krag van die Heilige Gees na aanvanklike wedergeboorte gedoen is verdien. (wat slegs getroue dissipels aan sal deelneem en vorm deel van hulle genadeloon.) Lees gerus die artikel “Die onderskeid tussen wedergeboorte en loon vir goeie werke”

Ter Afsluiting: Julle almal se lyding sal nie tevergeefs wees nie. Onthou dit! Daarom is dit van uiterste belang dat julle in ons Hemelse Vader en Sy wysheid en krag berus en vir mekaar bid. Julle loon sal groot wees.
1Ko 3:12 “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen
2Ko 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. 5:11 Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.”
Jou tante sal binnekort haar rus ingaan, en dan sal haar lyding vir ewig iets van die verlede wees, maar haar loon sal groot wees.
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Niks kan die kind van God van Sy liefde skei nie. Julle moet hierdie beloftes in geloof aanvaar en dit julle eie maak.
Rom.8:31 “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? 33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. 35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

God maak nooit foute nie, en Hy sal nooit iemand onnodiglik laat ly nie. Julle het Sy belofte dat Hy alles ten goede vir julle sal laat saamwerk. Onthou vir Job! Onthou, julle trane val in Sy hart, en dit raak Hom net so baie, (en selfs meer as julle) maar Hy weet egter ook wat die uitkoms van al die lyding is en daarom laat Hy dit toe. Berus julle by hierdie feit. Julle is in ons bede. Ek herhaal weereens 1Kor.2:9, naamlik:
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Ek moet net noem, ek het geen idee gehad oor hoe ek jou kon antwoord toe ek jou epos ontvang het nie. Ek het God om hulp en wysheid gebid en ek dank Hom vir Sy hulp. Hy bly altyd getrou! Onthou, Hy sal julle nooit alleen los nie, maar is vir ewig by en in julle. Onthou, solank as wat ‘n gelowige nog lewe, het daardie gelowige se lewe betekenis al weet ons nie presies wat dit is nie. Wanneer die Vader die gelowige huistoe neem, en Christus haar by die Regterstoel Oordeel vir haar werke na aanvanklike wedergeboorte beloon, dan sal sy werklik besef dat haar lewe, tot en met die oomblik van haar dood, wel nog waarde gehad het. Dit geld vir julle ook. Die ongelowige daarenteen se werke sal in die asblik van die ewigheid gegooi word, en sal net gebruik word om sy graad van straf in die poel van vuur te bepaal. Moet nooit vergeet dat alle gelowiges se lewens betekenis het nie. Hulle sou nie meer hier gewees het indien God nie meer ‘n doel met hulle lewens gehad het nie. God doen niks sonder ‘n doel nie, al verstaan ons nie altyd Sy doel nie. (Indien julle ‘n beter begrip van die sterwingsproses wil bekom, dan kan julle gerus die artikel “Wanneer ons sterf” lees. Dit sal julle bemoedig.)

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.