bose geeste

Bind en Ontbind van Bose Geeste!

Daar is deesdae ‘n siening onder ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom wat verklaar  dat ons, as gelowiges, die Duiwel en demone kan bind. (Neem asb kennis dat hierdie studie nogal lank is en die leser word aangeraai om eerder die artikel uit te druk en dan rustig te lees.) Sommige mense gaan ook so ver en beweer dat self siektes en armoede ontbind kan word, wat daartoe aanleiding sal gee dat die betrokke persoon welvaart sal beleef en selfs volkome van siektes bevry kan wees. ‘n Verdere uitvloeisel wat uit hierdie leerstelling voortkom,  is die leer dat ons as gelowiges die gesag, en mandaat, het om bose geeste wat oor spesifieke dorpe, stede, lande en self kontinente heers te bind wat daartoe sal lei dat hierdie plekke uit die mag van hierdie demone bevry sal raak en op hierdie wyse sal die wêreld weer vir Christus terug gewen kan word. Daarbenewens word dan seminare en lesings aangebied waar ywerige gelowiges geleer word hoe om hierdie bose geeste te bind, en word daar gereeld op televisie, op radio, boeke, asook op konferensies verkondig dat gelowiges die offensief teen Satan en ander bose geeste moet neem, waardeur bose geeste deur die toepassing van strategiese geestelike oorlogvoering gebind en sodoende sal die bose geeste se houvas oor hierdie gebiede verbreek word. Daar word ook verkondig, dat daar individuele geeste of demone is wat in beheer van sekere dorpe, stede geografiese streke asook individuele geboue (territoriale geeste of demone) is, en indien gelowiges hierdie geeste wat oor daardie plekke gesag uitoefen bind, dit daartoe sal lei dat daardie plekke geëvangeliseer sal word. Hierdie leerstelling word ook op individuele toegepas en daar word soms so ver gegaan as om te beweer dat bindings van armoede gebreek, of ontbind kan word, wat daartoe sal lei dat die betrokke persoon rykdom en voorspoed sal beleef.

Indien ons egter die Bybel bestudeer, sal ons opmerk dat die Bybel ons, as gelowiges, nêrens beveel om op die offensief teen sogenaamde demoniese vestings in die hemele, wat heerskappy oor sekere geografiese gebiede uitoefen, te gaan nie. Die Bybel beveel ons egter om in die dag van onheil weerstand te bied, en teen die Duiwel se liste staande te bly en nie om tot die offensief oor te gaan nie. Ook moet ons besef dat ons worstelstryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen bose geeste in die lug wat nie fisiese liggame besit nie. Hou ook die feit in gedagte, dat ons as gelowiges, nie die Satan of ander bose geeste kan bind nie. (Hierdie feit sal duideliker na vore kom soos wat die leser deur verloop van hierdie studie lees.) Ons word egter deur God vermaan om die volle wapenrusting van God op te neem en aan te trek, naamlik:
Efs 6:11 “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.  6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.”
In die bostaande teksgedeelte word ons duidelik gemaan om teen die liste van die Duiwel staande te bly. Nêrens word ons beveel om tot die aanval oor te gaan nie en self die bose geeste te bind nie! Ons moet ook baie mooi besef, dat geloof in Christus ‘n individuele keuse is en dat die individu se geloof net homself teen die liste en aanvalle van die Duiwel gaan beskerm, en dit kan nie ander mense teen Satan se liste en leuens beskerm nie. Ons kan nie namens ander glo nie. Ons kan slegs vir sulke mense bid. Elke individu het dus ‘n keuse om te maak, en ons kan nie namens ander mense keuses maak nie. Geloof en wedergeboorte is ‘n individuele keuse!

Ons moet ook baie mooi besef, dat ons worstelstryd nie in die lug oor stede en geografiese gebiede plaasvind nie, maar ons worstelstryd vind teen die liste en leuens van die Duiwel in ons, as individue, se harte en verstand plaas. As gelowiges is ons ook volkome vir hierdie stryd toegerus, deurdat ons die waarheid, soos wat dit in God se woord opgeteken staan, glo en waarmee ons ook die goeie stryd van die geloof kan stry. (1Tim.6:12) Slegs die woord van God, naamlik die Bybel, is die swaard van die Gees en nie buite Bybelse openbarings of tegnieke nie. Paulus en die Apostels het nooit op die aanval teen die Duiwel of demone gegaan nie, ook het hulle nooit die sogenoemde territoriale geeste eers gebind alvorens hulle ‘n stad of huis betree het om die Evangelie daar te verkondig nie. Hulle het net dood eenvoudig stede en geboue binnegegaan en die Evangelie begin verkondig. Dit is ook opmerklik dat nie een van die Apostels ooit rondgeloop en soek het waar hulle demone kon uitdrywe nie. Paulus het wel ‘n gees uit ‘n slavin, wat ‘n waarsêende gees in haar gehad het, gedryf, maar hy het dit slegs gedoen nadat die vrou hom dae lank gevolg het en gepoog het om sy bediening met die van Satan te vereenselwig.
Hand. 16: 16 “En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. 17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. 18 En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.”
Op geen stadium het Paulus haar gesoek met die uitsluitlike doel om die gees uit haar te dryf nie. As Christus se apostel, het Paulus wel oor die vermoë beskik om die bose gees in Christus se Naam te beveel om die vrou te verlaat, maar hy het nie die vermoë besit om die bose gees te bind nie. Sy het op sy pad gekom toe hy (Paulus) besig was om God se wil uit te voer, naamlik om die Evangelie te verkondig en daarna het Paulus die gees beveel om die vrou te verlaat.

In die poging om die Strategiese Geestelike Oorlogvoering leerstelling, soos wat deur hierdie mense verkondig word, te ondersoek, gaan ons eers kortliks die proefskrifte wat gebruik word om hierdie valse leerstelling te staaf weergee en dit dan binne die korrekte konteks bespreek. Daarna sal die gevolge van hierdie valse leerstelling bespreek word, en sal ons afsluit met wat die Bybel ons in werklikheid beveel om te doen wanneer ons aanslae van die bose beleef.

Seker die mees toonaangewende teksgedeelte wat as proefskrif vir die bind van geeste voorgehou word is Mat 16:18-19 wat soos volg lees:
Mat 16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Mat 16:19 En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
Bogenoemde stelling van Jesus word dan as bewys gebruik dat ons, as gelowiges, die mag het om die duiwel asook bose geeste te bind. Indien ons egter mooi na die inhoud, asook die konteks, waarin hierdie stelling gemaak is gaan kyk, sal ons opmerk dat die Here Jesus Christus glad nie van die binding van Satan of bose geeste gepraat het nie. Die Nuwe Testament illustreer ook baie duidelik hierdie waarheid. Nie Petrus of enige van die ander apostels het ooit gedink het dat hulle die duiwel of enige bose gees kan bind nie! Hulle het wel die mag gehad om bose geeste uit mense te dryf, maar hulle is nooit die mag gegee om enige bose gees te kan bind nie! (daar is ‘n groot verskil tussen geeste bind en hulle uit te dryf) Kom ons gaan na bogenoemde teksgedeelte om te bepaal wat die Here werklik met bogenoemde stelling bedoel het.

Die konteks van Mat 16:18-19 handel geensins oor die bind van bose geeste, of die Duiwel nie, maar oor wie die mense gemeen het Jesus Christus was, en oor Petrus se openbaring dat Jesus die Christus die Seun van God was. Op hierdie verklaring van Petrus sou Jesus Christus  gevolglik Sy gemeente (die Kerk) oprig. Daar word geensins van bose geeste bind gepraat nie!
Mat 16:13 “En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? 16:14 En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.  16:15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? 16:16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. 16:17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 16:19 En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”

Indien ons dus na vers 18 gaan kyk sal ons opmerk dat die Here van Sy gemeente (die Kerk) praat en geensins van gesag om bose geeste te bind nie! Die Here gaan dan voort en stel dit duidelik dat Sy Kerk nie deur die doderyk oorwin sal word nie, alhoewel die bose magte die Kerk sal teenstaan. Die Kerk word vir die eerste keer in die Nuwe Testament genoem, en die Kerk sou ‘n vername rol in Jesus Christus se toekomsplanne speel. Self in hierdie vroeë stadium het die Here nie veel oor Sy gemeente uitgebrei nie. Hy het byvoorbeeld nie hier genoem dat die Kerk nie ‘n voortsetting van die Joodse geloof sou wees nie, maar dat dit ‘n nuwe entiteit sou wees wat uit gelowige Jode sowel as gelowige heidene sou bestaan. Dus sou die Kerk ‘n nuwe entiteit wees, wat as ‘n enkele eiesoortige liggaam sou bestaan.(1 Kor 12:12-13; Efesiërs 2:11-3:7) Die Kerk het dus op Pinksterdag as ‘n nuwe entiteit ontstaan (Hnd 2:1-4) Ons sien ook dat hierdie groep mense vir die eerste keer in Hnd 2:47 as die Kerk beskryf word.

Die Kerk sou op ‘n standvastige fondament gebou word, naamlik ‘n rots. (Mat 16:18; Luk 6:48) Die Rots waarop die Kerk gebou sou word, is Petrus se stelling dat Jesus die Christus, die Seun van God is. Nêrens word gestel dat die Kerk op Petrus, of selfs deur Petrus gebou sal word nie! Met die stelling:
“En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, (In Grieks “Petros” wat klip of klippie beteken) en op hierdie rots (In Grieks “Petra” wat rots beteken) sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” het Jesus dit duidelik gestel, dat Petrus se stelling dat Jesus die Christus, die Seun van God is, die Rots is waarop Hyself (die Here Jesus Christus) Sy gemeente sal bou en nie Petrus soos wat baiekeer verkeerdelik verkondig word nie! Petrus se latere skrywes, soos in die Bybel opgeteken, bevestig dat hy die Here Jesus Christus se stelling so verstaan het. Petrus het hierdie feit ook dan pertinent so verkondig .
1Pet.2:4 ”Kom na Hom toe, (Christus is die ware Rots, nie Petrus nie!) die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; 5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. 6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. 7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling — 8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.”
Die Apostel Paulus bevestig dan ook hierdie feit, naamlik:
Ef.2:19 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en (Nuwe Testamentiese) profete, (wie tydens die Apostoliese tydperk gelewe het) terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
Dus, is die Apostels en Nuwe Testamentiese profete die fondasie stene wat op die stelling dat “Jesus die Christus, die Seun van God is” gelê is, en waarvan die Here Jesus Christus die ware rots  en hoeksteen is waaruit Hy (Jesus Christus) die Kerk bou waarvan die Apostels en Nuwe Testamentiese profete maar net die fondasie stene is.

In Mat 16:19 sien ons dat Jesus die sleutels van die koninkryk aan Petrus gee. Hierdie sleutels het te doen met die feite van die inhoud en geestelike kennis van waarheid, naamlik die Evangelie, wat ‘n persoon se ewige lot sou bepaal. Ons sien ook in die Skrifte, dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat die waarheid oor Jesus Christus behoort te geken het, net mooi die teenoorgestelde gedoen het. Hulle het dus in werklikheid die lig van die Evangelie van die Koninkryk wat deur Johannes die Doper, Christus en die apostels aan hulle voorgehou was verwerp.

Luk 11:52 “Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.”
Nadat dit duidelik geword het dat die leiers van die Jode, Hom as hulle Messias verwerp het, het die Here in gelykenisse begin praat en Sy dissipels van Sy komende dood begin leer, asook die feit dat Hy nou Sy Kerk, wie uit Jode sowel as heidene in een nuwe liggaam sou bestaan, sou oprig.  Daarom het Hy die vraag oor Wie die mense beweer Hy is aan die apostels gestel en op die daaropvolgende stelling van Petrus hulle van die Kerk en oprigting daarvan in kennis gestel. Dus het die Here Petrus met die rentmeesterskap, van die inhoud, van die Evangelie (wat tydens die Kerk Dispensasie verkondig sou word en wat as die Evangelie van God se genade bekendstaan) toevertrou, en is aan hom die gesag as apostel gegee, om te verklaar watter persone in die koninkryk  (op grond van hulle geloof in die Evangelie van God se genade ) toegelaat sou word en watter persone a.g.v. hulle ongeloof uitgesluit sal word. (a.g.v. hulle gebrek aan geloof in die Evangelie van God se genade, wat eers na Sy dood en opstanding tydens die aanbreek van die Kerk Dispensasie verkondig sou word, en nie die Evangelie van die Koninkryk wat deur Johannes die Doper, Christus self en die Apostels tydens Christus se bediening op aarde aan slegs die Joodse nasie gerig was nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk nie” te lees. )  Ons sien dat Petrus vir die eerste keer die sleutels, van hierdie gesag wat deur Christus aan hom verleen is,  gebruik het toe hy op Pinksterdag die koninkryk vir die Jode oopgesluit het, en daar toe 3000 van hulle die Evangelie gehoor en hulle Petrus se boodskap geglo het. (Hand. 2:38-42) Ons sien weer later, hoe hy ook die sleutels gebruik het toe hy in Samaria die koninkryk vir die Samaritane (wat ‘n vermenging tussen die Joodse geloof en die van die heiden nasies was) oopgesluit het. ( nadat hulle alreeds die Evangelie van God se genade geglo het Hand 8:14-17) en later het hy dieselfde gedoen toe hy die koninkryk vir die suiwere heiden nasies, naamlik in Cornelius se huis, oopgesluit het. (Hnd 10:34-48)

Binding of ontbinding was alledaagse terme, wat beteken het dat sekere dinge ingesluit of uitgesluit; of om iets toe te laat of nie toe te laat nie; of om ‘n reël of wet as bindend of nie bindend te bestempel nie. Die rede hiervoor was dat Petrus (en die ander Apostels) in die vroeë stadium van die Kerk, voordat die volledig voltooide Bybel saamgestel was, die gesag gehad het om te besluit oor watse leerstellings en optredes as bindend beskou sou word en watter leerstellings verbied moes word. (Dit sluit optredes van mense ook in) Dus sou Petrus se leierskap die rigting bepaal waarin die Kerk sou beweeg. Dit moet ook verder gelet word dat die Here op ‘n latere stadium dieselfde gesag aan al die ander apostels gegee het. (Mat 18:18)

Die boek van Handeling demonstreer mooi hoe Petrus en die ander apostels belangrike besluite oor die kerk, onder leiding van die Heilige Gees, gemaak het. Dit sluit die gebeure by die sinode van Jerusalem in. (Hnd 15:6-29) Dit is egter baie belangrik om te besef dat die uitsprake of besluite wat die apostels gemaak het, slegs bindend was solank as wat hierdie besluite in ooreenstemming met God se geopenbaarde wil (Die Skrifte) gemaak is. Dus kon hulle slegs iets bind as dit alreeds in die hemel gebind was, en iets ontbind as dit alreeds in die hemel ontbind was. Derhalwe is hier geen sprake van bose geeste bind of ontbind nie en dien hierdie teksgedeelte nie as bewys dat gelowiges bose geeste kan bind nie!

Die mense wat beweer dat gelowiges Satan en sy demone kan bind gebruik as proefskrif ook Mat 12:29 wat soos volg lees:
Mat 12:29 “Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.”
Indien ons egter na die konteks van hierdie teksgedeelte gaan kyk, vind ons dat Jesus hierdie stelling gemaak het, omrede die Fariseërs beweer het dat Hy die demone in die krag van Beëlsebul (Satan) uitgedryf het. Jesus verduidelik aan hulle, dat indien Satan teen homself verdeel sou wees, sy koninkryk nie sal kon voortbestaan nie. Net so ook sal niemand in ‘n ander se huis kan inbreek indien hy nie sterker as die huiseienaar is nie, omrede hy eerstens die huiseienaar sal moet kan vasboei alvorens hy sy huis kan beroof. Met hierdie stelling het die Here dit duidelik aan die Fariseërs gestel dat Hy baie sterker as die Duiwel is, maar nêrens het Hy met hierdie stelling bedoel dat Christene die mag het om die Duiwel en ander bose geeste kan bind nie. Jesus het aarde toe gekom (na die sterkman se huis) waar die sterkman Satan in beheer is, en Hy het sondaars kom bevry (die sterk man se goedere) deur om vir hulle sondes aan die kruis te sterf en daar was niks wat die Duiwel daaraan kon doen nie. (omrede die Here baie sterker as Satan is) Die konteks van hierdie teksgedeelte laat geensins die interpretasie toe wat beweer dat a.g.v. die stellings wat die Here hier gemaak het, die kerk die mag ontvang het om Satan en sy demone te bind nie. Om hierdie teksgedeelte as bewys vir hierdie valse leerstelling aan te wend, is om hierdie valse leerstelling in die teks in te lees en dit op die skrifgedeelte af te dwing. Daar is geen Skriftuurlike regverdiging hiervoor nie!

‘n Ander teksgedeelte wat as proefskrif vir hierdie leerstelling aangebied word, is Mat 18:18 wat soos volg lees:
Mat 18:18 “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
Indien ons egter weer na die konteks waarin bogenoemde teksgedeelte voorkom gaan kyk, dan sal ons opmerk dat hier van kerklike tug gepraat word. In hierdie teksgedeelte het ‘n gelowige ‘n ander gelowige benadeel en die skuldige persoon weier om tot inkeer te kom. Met hierdie teksgedeelte het die Here aan die Apostels die reg gegee om die skuldige party uit die gemeente te plaas, totdat hy tot inkeer kom. In hierdie opsig is hulle uitspraak en straf bindend en beskou die Here dit ook as sulks, solank as wat die tugproses volgens God se geopenbaarde woord (die Bybel) geskied. Dus kan die leiers in die gemeente die persoon onder sensuur plaas as dit volgens God se geopenbaarde woord toegepas word, (Die Bybel) en kan hulle die wandelende skaap weer in die gemeente toelaat, indien hy doen wat die Bybel aan hom voorskryf, naamlik om tot bekering te kom en om vergifnis te vra. Dit is wat die Here met bind en ontbind in hierdie konteks bedoel het. Weereens is dit duidelik dat die konteks hier oor kerklike tug handel en nie oor die bind en ontbind van geeste nie. (vir verdere besonderhede oor hierdie aangeleentheid, word die leser aangeraai om die artikel “Vergifnis tussen gelowiges” te lees)

Matt. 28:18 word ook gereeld as bewys voorgehou dat ons as gelowiges die Duiwel en bose geeste kan bind, asook hulle houvas op mense en omstandighede kan ontbind.
Mat 28:18 “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”
Indien ons weer baie mooi na die konteks en inhoud van bostaande teksgedeelte kyk, sal ons opmerk dat Jesus nêrens aan ons, as gelowiges, die belofte gemaak het dat alle mag en gesag in die hemel sowel as op aarde aan ons behoort nie. Indien dit die geval sou wees, sou ons gelyk in gesag met God wees, iets wat nooit sal gebeur nie. Die stelling wat Jesus Christus hier aan Sy dissipels gemaak het is eenvoudig die feit dat net Hy (nie ons nie) oor alle mag en gesag in die Hemel sowel as op aarde beskik. (Hy is immers God!) Indien ons verder na die direkte konteks waarin hierdie stelling gemaak word gaan kyk, sal ons opmerk dat sekere van die dissipels nog steeds getwyfel het en daarom is dit belangrik dat die Here so ‘n stelling sou maak, met die doel om hulle gerus te stel en hulle geloof in Hom te versterk. Hy moes dus die voorwerp van hulle geloof wees en nie hulle omstandighede nie! Dit is ook opmerklik dat die Here nie die dissipels opdrag gegee het om die wêreld in te gaan en die Duiwel en sy demone te bind nie. Hy het hulle egter die opdrag gegee om die Evangelie te gaan verkondig en dissipels van die wedergebore gelowiges te maak.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Mat 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Onthou, met Jesus se stelling dat alle mag aan Hom gegee is, beteken nie dat alle mag aan ons gegee is nie! Vir ons as gelowiges, om enige gesag te hê, beteken dat ons onder Jesus se gesag, en ooreenkomstig Sy wil, deur die krag van die Heilige Gees moet funksioneer, en dit slegs indien ons Sy woord en opdragte gehoorsaam! Sodra ons buite Sy geopenbaarde wil (die Bybel) optree, tree ons in ons eie gesag op en is dus in rebellie teen God.

Mense wat die leerstelling van strategiese geestelike oorlogvoering teen territoriale geeste verkondig , verkondig leuens en hulle steun ook dan baie sterk op die teksgedeelte soos gevind in Daniël 10:13 in ‘n poging om hulle leerstelling te regverdig, naamlik:
Dan 10:12 “Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; 10:13 maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. 10:14 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.”
Indien ons egter weer mooi na die konteks gaan kyk, dan sal ons opmerk dat Daniël nie vir die Persiese koninkryk gebid het nie. Hy het gebid vir meer inligting oor wat met sy volk, naamlik Israel, in die laaste dae sou gebeur. Daniël was nie eens bewus van die Persiese vors/engel nie! Verder het nie Daniël of die engel Mígael enigsins die vors van Persië probeer bind nie! Ook word dit nêrens in die teksgedeelte verklaar dat indien die vors van Persië gebind sou word, dit tot ‘n geestelike deurbraak in Persië sou lei nie. Dit moet weer baie duidelik gestel word, dat miljoene mense al wedergebore geraak het en dit nie deur die bind van geeste nie, maar deur eenvoudige die  Evangelie te hoor en te glo! Niks in bostaande teksgedeelte regverdig die leerstelling dat ons Satan of sy bose geeste kan bind nie.

Daarom is dit dan ook baie opmerklik, dat ons in die Skrifte geen instansie sal vind waar Paulus en die Apostels rond gegaan en geeste of territoriale geeste oor seker stede en geboue gebind het, alvorens hulle die Evangelie na so ‘n plek geneem het nie. Waar ook al hulle gekom het, het hulle net dood eenvoudig die Evangelie verkondig . Christus se opdrag aan die Kerk was nooit om bose geeste te bind nie. Sy opdrag aan die Kerk was om die Evangelie te verkondig en om dissipels van die mensdom te maak. En wat het dan geword van Johannes se stelling wat soos volg lees:
1Jo 4:4 “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”
Ons moet mooi verstaan, dat Jesus Christus aan die kruis die oorwinning oor Satan behaal het, deur met Sy lewe vir ons sondes te betaal. Satan is dus ‘n verslane vyand! Hy is egter nog nie gebind nie! (Later meer hieroor) Dit is ook baie opmerklik, dat boosheid onversteurd in die wêreld voortgaan en selfs toeneem, omrede die groot meerderheid van die mensdom nog steeds Jesus Christus verwerp, deur om Satan of hulleself te volg. Dit is ook die rede waarom ons nog steeds die volgende gebed moet bid:
Mat 6:10 “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Dit is net logies dat God se wil nog nie op aarde geskied, soos wat dit in die hemel wel die geval is nie, en derhalwe is die oorgroot meerderheid van die mensdom nog steeds in rebellie teen God. Die Here se wil sal slegs op aarde geskied, wanneer die Here Jesus Christus self , na afloop van die Groot Verdrukking, Sy koninkryk op aarde kom oprig het, wanneer Hyself alle bose mense van die wêreld af gaan uitdelg. Gelowiges word nêrens in die Bybel aangesê om die boosheid wat huidiglik in die wêreld seëvier te bestry, deur om Satan en die bose geeste, wat huidiglik in die wêreld aktief is, te bind nie, maar ons as individuele gelowiges oorwin Satan deur ons geloof in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis en om die Evangelie gehoorsaam te verkondig. Met die aanhoor en glo van die Evangelie word mense uit die mag van Satan se koninkryk verlos.

Deesdae hoor mens nogal gereeld van mense wat beweer dat hulle deur die bind van territoriale geeste‘n sekere dorp, stad of land vir die Here gaan terugwen, en indien hulle dit gedoen het, die dorp of land deur Christene beheer sal word. Buite Bybelse profesieë word dan ook vanaf sogenaamde moderne profete gemaak wat hierdie stelling bevestig. As mens egter met eerlikheid ‘n ondersoek gaan instel om te bepaal of hierdie dorpe, stede of lande vir Christus teruggewen is, dan sal daar gou agter gekom word dat nog nie een van hierdie dorpe al werklik vir die Here teruggewen is nie. Inteendeel, net mooi die teenoorgestelde is besig om plaas te vind. Die wêreld, as geheel, word toenemend boser by die dag en gaan nog baie goddeloser raak! Vergelyk maar gerus vandag se koerante met die van 30 jaar terug! Dan praat ek nie eers van die morele verval wat huidiglik amper onbeperk in ons samelewing en selfs onder die belydende Christendom aan die toeneem is nie. Hoe lank word sulke stellinge en profesieë nie al gemaak nie, en kyk mooi hoe lyk die wêreld om jou. En dit is ook geen wonder nie, want die Bybel stel dit baie duidelik, dat die wêreld as geheel sal vererger, totdat dit op God se oordele in die Groot verdrukking sal uitloop. Dus, bots die koninkryk nou leerstelling, waarvan die Geestelike Oorlogvoering beweging ‘n groot deel van uitmaak, (en wat buite Bybelse profesieë wat deur sogenaamde moderne apostels en profete deesdae gemaak word insluit) lynreg met wat die Here in Sy woord aan ons weergee. Beskik hierdie mense dan oor feite waarvan God nie kennis dra nie?  Vervolgens ‘n paar teksgedeeltes wat bogenoemde punt mooi sal illustreer. Veel meer kan aangehaal word en die leser word aangeraai om die artikel “Profetiese Rede op die Olyfberg” vir verdere inligting te lees.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
1Tim.4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
2Tim.3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”
Bostaande teksgedeeltes stel dit baie duidelik dat die wêreld nie gaan verbeter nie! Boosheid gaan toeneem!

Ons moet seker maak dat slegs die Bybel ons teologie bepaal, en ons moet nooit ons leerstellings op buite Bybelse profetiese, openbarings, ondervindinge en gevoelens baseer nie! Om dit te doen gaan tot verdere ernstige verleiding lei. (Dit is ook uiters gevaarlik om ons gesonde verstand tersyde te stel en op sulke buite Bybelse openbarings en vleeslike manifestasies staat te maak.) Die Bybel is geskryf met die doel dat ons dit moet verstaan, en derhalwe moet ons geloof slegs op feitlike inligting, binne die korrekte konteks, soos in die Bybel gevind, gebaseer wees en nie op veranderlike omstandighede en menslike opinies en buite Bybelse openbarings nie. Daarom is dit ook opmerklik dat baie van hierdie mense se leerstellings ook baie swaar op buite Bybelse openbarings en belewenisse staatmaak. In baie gevalle word daar selfs verder gegaan, en sekere teksgedeeltes word buite konteks aangehaal, en selfs moedswillig verdraai, in ‘n poging om hulle valse leerstellings te regverdig . In hierdie opsig moet ons die Here se waarskuwing ernstig opneem!
Opn 22:18 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.  22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”

Ons moet daarteen waak om bose geeste die skuld vir al die mens se ongeloof en vleeslike optrede te gee. Deesdae hoor mens gereeld waar predikers en profete vir gelowiges bid, wat kwansuis die gees van wellus, of die gees van dronkenskap of die gees van hoerery ens het. Die sondaar word dan nie die skuld vir die sonde wat hy gereeld pleeg gegee nie, maar die skuld word op ‘n bose gees gelê en die gelowige word net as ‘n onskuldige slagoffer gesien. As ons egter die Bybel as ons maatstaf gebruik, sal ons agterkom dat die Bybel nooit die skuld van die mens by die voete van bose geeste lê nie, maar beskou dit as werke van die vlees en word die gelowige daarvoor verantwoordelik gehou.
Gal 5:19 “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;  5:20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;
5:21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”
Ja, bose geeste kan ons probeer beïnvloed, maar hulle kan ons nie forseer om te doen wat ons nie wil doen nie. Om aan ons vleeslike hartstogte, asook aan die versoeking van bose geeste, toe te gee is ‘n keuse wat die indiwidu self moet maak. Indien ons net hopelose slagoffers van sonde was, dan sou God onregverdig wees indien Hy ons daarvoor verantwoordelik sou hou. God hou ons vir ons sondes verantwoordelik, want ons is verantwoordelik daarvoor! Indien ons net die onskuldige slagoffers van die bose geeste was, dan sou die Here baie duidelik in die Bybel ons beveel het om eerstens die geeste wat ongelowiges bind, self eerstens te bind, alvorens ons aan hulle die Evangelie kon verkondig. Ons vind egter geen so opdrag in die Bybel nie! Nêrens nie! Die vraag ontstaan dan nou, hoekom verkondig sekere mense dan hierdie leerstelling? Weet hulle weereens meer as wat God self weet?

Dit is ook verder opmerklik, dat diegene wat die strategiese geestelike oorlogvoering leerstelling verkondig, ook dan gereeld God se gesag op hulleself neem deur om Satan en sy demone te bind, of om hulle te beveel om stede, geboue en selfs mense uit te los. Net God is alomteenwoordig, nie Satan nie, so hy kan nie op verskillende plekke op dieselfde tyd wees nie. Hy het egter die samewerking nodig van baie ander bose geeste wie sy bose opdragte uitvoer. Alhoewel hierdie mense Satan en sy bose geeste daagliks bind neem sy invloed in die wêreld toe. Kyk net hoe vinnig ons samelewing agteruitgaan! Mens sou dink, omrede hy so gereeld gebind word, sy invloed baie minder sou wees. Die teenoorgestelde is egter waar. Indien ons eerlik is, sal ons moet erken dat daar ernstige fout met hierdie leerstelling is. Wie laat die die duiwel, asook die ander bose geeste, dan elke keer los sodat hy onverpoosd met sy boosheid op aarde kan voortgaan? Die feit van die saak is dat ons as mense nie die Duiwel of enige bose gees kan bind nie. Die Bybel stel dit duidelik dat die Duiwel nie op hierdie oomblik gebind is nie, en dit geld vir die meeste van die ander bose geeste wie nog steeds ongedeerd saam met hom werk.
1Pet.5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel,loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
Ef.6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreld heersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Iemand wat verkondig dat ons as gelowiges Satan kan bind, maak van God ‘n leuenaar, omrede die Bybel (wat God se woord is) dit baie duidelik stel dat die Satan eers na die afloop van die Groot Verdrukking vir duisend jaar gebind sal word en nie voor die tyd nie!
Openb. 20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand.  20:2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 20:3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
Dit is ook opmerklik, dat ‘n engel in opdrag van God, Satan bind en nie ons as mens self nie!!

Jesus Christus het nooit Satan gebind toe Hy op aarde was nie, maar Hy het altyd demone uit mense gedryf. Daar is ‘n baie groot verskil tussen bind en uitdryf. Die Bybel stel dit nêrens dat Jesus Christus tydens Sy eerste koms Satan gebind het nie.
Ek gaan drie teksgedeeltes as proefskrif vir my stelling hier weergee en vra dat die leser self die ander teksgedeeltes oplees.
Mat 9:34 “Maar die Fariseërs het gesê: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.
Mar 5:12 en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar.”
Bogenoemde teksgedeeltes stel dit duidelik, dat die Here nie die geeste gebind het nie, maar dat Hy hulle uitgedryf het. Die Here het ook Sy dissipels die mag gegee om bose geeste uit mense te dryf, maar nie om hulle te bind nie!
Mar 3:14 “En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek  3:15 en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.” (nie bind nie!)
Die Here het dit ook duidelik gestel, dat omrede bose geeste nie gebind is nie, hulle weer sal terugkeer en indien hulle, hulle vorige huis leeg vind, nog sewe bose geeste erger as hulleself sal saam bring en dan sal daardie persoon se toestand vererger het.
Luk 11:24 “Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. 11:25 En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. 11:26 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.”
Dit is baie opmerklik dat die bose gees nooit gebind was nie! Hoe kan hierdie mense dan verkondig dat ons as gelowiges bose geeste kan bind?

Jesus Christus is God en is almagtig! As Hy Satan sou bind, dan sou Satan nooit kon ontsnap nie, maar die Bybel stel dit baie duidelik dat Satan in Judas Iskáriot ingevaar het en hom in sy poging gehelp om Jesus Christus te verraai.
Luk 22:3 “En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was.”
Hoe kon Satan dit doen as hy gebind was? Wat dan van die keer toe Satan, Petrus wou kry om Jesus te keer om die weg van die kruis te neem?
Mat 16:23 “Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (Deesdae bedink nogal baie mense die leerstellings van mense en God se woord, die Bybel, word heeltemal geminag en selfs verdraai!)
Satan is nie gebind nie en ons het ook nie die mag om hom te bind nie. Dieselfde beginsel geld vir die bose geeste wat huidiglik saam met Satan werk.

Anders as wat die proponente van die Voorspoed Evangelie  en die Nuwe Apostoliese Reformasie verkondig, sal elke ware gelowige daarvan bewus wees dat hy homself in ‘n stryd teen die bose geeste in die lug bevind. Satan asook al die bose geeste wei hulleself daaraan toe, om die gelowige van stryk te bring, om sodoende te verhoed dat die gelowige in oorwinning leef en daardeur ‘n bedreiging van Satan se koninkryk inhou. Die gelowige sal ook nooit Satan en sy magte kan oorwin deur om op sy eie krag staat te maak nie.
Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Dus is die gelowige se krag nie in homself gesetel nie, maar lê sy krag in die Here! Ons sal net teen Satan seëvier indien ons besef hoe swak ons in werklikheid is, en dat die oorwinning nie in onsself gesetel is nie maar in God se krag. Dus moet ons volkome op God en Sy krag staatmaak en nie op onsself nie. Net Jesus Christus kan ons die oorwinning gee!
1Ko 1:27 “maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;”

Verder het Paulus ons gemaan om die volle wapenrusting van God aan te trek en word ons nêrens aangesê om Satan of enige ander bose geeste te bind nie!
Efs 6:13 “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” (Boonop vorm die bind van bose geeste nie deel van God se wapenrusting wat Hy aan die gelowige gegee het nie. Die volle wapenrusting van God ipliseer dat hierdie wapenrusting volledige is, en al is wat die gelowige behoort aan te trek om teen die bose geeste staande te bly. Die bind van bose geeste vorm nie deel van God se wapenrusting nie en hierdie valse leerstelling moet dus heeltemal verwerp word!)
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik, dat ons as gelowiges, die volle wapenrusting van God aan moet trek en nie net gedeeltes daarvan nie! Indien ons dit nie doen nie, sal ons nie staande teen Satan en sy aanvalle kan bly nie. Die duiwel maak van verskeie strategieë gebruik om die gelowige te laat struikel, en omrede hy hoogs intelligent is, en oor ‘n uitgebreide intelligensie netwerk beskik wat uit bose geeste bestaan, weet hy wat elke mens se swak en sterk punte is. Derhalwe sal hy gewoonlik op ons swak punte konsentreer en dit ook net wanneer die tyd vir hom geleë mag wees. In kort is die metodes wat hy gebruik soos volg:
Hy sal poog om die gelowige moedeloos te maak; die gelowige te frustreer; hom te verwar en sal poog om die gelowige moreel te laat struikel, om sodoende die gelowige se sonde aan die wêreld voor te hou en God se naam daardeur te onteer. Ons moet egter ook nie van die duiwel se mees suksesvolste strategieë vergeet nie, naamlik die gebruik van valse leerstellings en wêreld gesindheid . Op hierdie manier kom die gelowige nie eers agter dat hy op ‘n dwaalweg is nie, en is hy onder die indruk dat hy God dien, terwyl hy in werklikheid in rebellie teen God is.

Geestelike oorlogvoering volgens die Skrifte: Dit moet ingedagte gehou word, dat ons stryd teen demoniese magte is, wat oor geweldige krag beskik en wat hoogs intelligent is. Alhoewel ons nie die demoniese magte kan sien nie, kan ons egter verseker wees dat hulle wel hier is en poog om ons te beïnvloed. Bose geeste kan nie die gelowige beset nie, maar hulle kan die gelowige teister, verdruk en verlei. Dit is egter nie nodig vir die gelowige om behep met bose geeste te raak nie, en hoef ons ook nie bang vir hulle te wees nie. Ons moet egter slegs op die Here Jesus Christus fokus en daagliks die volle wapenrusting van God aantrek, sodat ons in die dag van versoeking en onheil staande kan bly.

Efs 6:14 “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,”
Die eerste deel van die gelowiges se wapenrusting is die gordel van die waarheid. Daarom is dit uiters belangrik dat die gelowige nie net die waarheid glo nie, maar moet hy die waarheid, soos wat dit in God se woord opgeteken staan, goed ken en in in sy lewe toepas. Slegs die Bybel moet as bron van leerstellings dien en nie buite Bybelse profesieë, openbarings, opinies en omstandighede nie. Ons hele menswees, prediking, leerstellings en uitleef daarvan moet met die reguit lyn van God se woord vergelyk word, om sodoende te bepaal tot hoe ‘n mate ons aan God se wil voldoen. Ons moet daarteen waak om leuens as waarheid te verkondig en mense gesond te verklaar wat nie in werklikheid gesond is nie. Indien ons in God se waarheid leef, dan sal ons die krag ontvang om staande teen Satan en sy strategieë en aanvalle te bly. Ons moet dus soekers na waarheid wees en nie alles wat aan ons verkondig word ligtelik glo nie!

Die tweede item van die gelowige se wapenrusting, is die borswapen van geregtigheid. Met wedergeboorte word elke gelowige met Jesus Christus se geregtigheid beklee, en beskou God daardie persoon as absoluut geregverdig.
2Kor. 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Die gelowige moet homself egter ook in praktiese geregtigheid, integriteit en heiligheid in sy alledaagse lewe beklee en nie soos ‘n ongeregtige optree nie, anders dien hy maar net homself en Satan. Onthou woorde is nie altyd genoegsame bewys van praktiese geregtigheid nie. ‘n Persoon wat heilig lewe se lewe spreek boekdele en die wêreld sal dan nie beskuldigings teen die persoon kan inbring nie. Ons moet so voor God, en ons medemens, lewe dat ons gewetes altyd skoon sal wees, en sodoende sal ons nie ‘n maklike teiken aan Satan bied waarop hy kan mik nie. Daarom is belydenis van sonde so belangrik, en sodra die Heilige Gees die gelowige van enige sonde in sy lewe oortuig, moet die gelowige die sonde onmiddellik bely en laat staan!

Die derde deel van die gelowige se wapenrusting is die bereidwilligheid om die Evangelie te verkondig. Die mensdom gaan nie bevry of verlos word deur om die Duiwel en sy bose geeste te bind nie, maar indien ons die Evangelie aan mense verkondig en hulle glo dit, dan sal hulle verseker uit die koninkryk van die bose verlos word. Elke gelowige behoort op die een of ander wyse by die verkondiging van die Evangelie betrokke te wees, hetsy met verkondiging van die Evangelie self, finansiële bydraes, hulpbetoning, versprei van traktaatjies en skrywes, asook in die moderne tydperk met die gebruik van die media en die internet ens.
Rom 10:13 “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 10:14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? 10:15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”
En onthou ons almal behoort op die een of ander wyse hiermee betrokke te wees, want ons almal is in daai opsig gestuur!

Die vierde artikel in die gelowige se wapenrusting is die skild van die geloof.
Efs 6:16 “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.”
Vir geloof om enige meriete of waarde te hê, moet dit God en Sy woord as voorwerp of objek hê. Daar is geen krag in geloof self nie, maar die waarde of die krag van geloof is in die objek waarin ons geloof gesetel is. In die geval van die gelowige is dit die Here wat almagtig is en wat nooit kan faal nie. God is waarheid, daarom is Sy woord die waarheid en moet ons teologie, geloof en leefstyl op die inhoud van die Bybel gebaseer wees. Indien ons dit doen sal die vurige pyle van Satan geen inspraak in ons lewens kan vind nie. Onthou, enige geloof wat nie op die waarheid gebaseer is nie, sal die die gelowige geensins baat nie en sal so ‘n persoon heel waarskynlik Satan se slagoffer word, omrede hy sy geloof nie op die gesonde fondasie van die Bybel baseer nie, maar op buite Bybelse openbarings, leerstellings en profesieë waarvan die oorsprong nie bo enige twyfel vasgestel kan word nie. Geloof is ‘n vaste oortuiging van die dinge wat ons nie kan sien nie. Wanneer versoekings, onaangename omstandighede, of ‘n ramp ons in die oë staar, kyk ware geloof op en sê: “Ek glo God en Sy beloftes, omdat ek op Sy onfeilbare beloftes, wat binne die regte konteks in Sy woord opgeteken is, staan en vertrou nie op my omstandighede, gevoelens en enige buite Bybelse openbarings nie.” Daarom is dit so belangrik dat ons ons Bybels bestudeer en ken!

Die vyfde en sesde items van die gelowige se wapenrusting is die helm van die verlossing en die swaard van die die Gees naamlik die Bybel.
Efs 6:17 “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God”
Dit maak nie saak hoe erg die stryd ook al mag wees nie, want die gelowige weet dat hy homself in Christus bevind,  en dat die algehele oorwinning alreeds deur Jesus Christus behaal is. As gelowiges is ons verseker dat ons eendag in Jesus Christus se teenwoordigheid sal wees en hierdie feit alleen behoort te verhoed dat die gelowige enigsins opgee of agteruit wyk.
Rom 8:31 “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?
1Jo 4:4 “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”

Die swaard van die Gees is die woord van God, soos wat ons dit in ons Bybels het, en daarmee sal ons die Satan se versoekings, suggesties en valse leerstellings en leuens die hoof kan bied. Net soos wat Jesus Christus in die woestyn die Skrif gebruik het om Satan se versoekings te weerstaan, moet ons ook die Skrifte ken, om sodoende die regte teksgedeeltes, binne die korrekte konteks vir spesifieke versoekings te kan aanwend.

Soos duidelik in hierdie artikel gedemonstreer is, word ons nêrens in die Bybel aangesê om bose geeste of Satan te bind nie. God het ons egter Sy metode, om teen Satan se aanvalle staande te bly, in Sy woord aan ons gegee. Dit is verbasend dat so baie mense hierdie opdragte verontagsaam en hulle eie metodes opstel en dit dan op die Bybel afdwing. Ons is veronderstel om God en Sy woord te gehoorsaam en nie om ons eie metodes en opinies te volg nie! Dit maak nie saak hoe geleerd ‘n persoon mag voorkom nie, want alles draai om God en Sy woord en nie om menslike redenasies nie. Dit sal dan as geen verassing kom, om uit te vind dat ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom, oortuig daarvan is dat hulle die Here volg en gehoorsaam terwyl hulle met ‘n skok gaan agterkom dat dit egter nie die geval was nie, maar dat hulle mense, asook menslike opinies gevolg het, en hulle lewens, en hulle hulpmiddele op metodes gemors het wat nooit werklik gewerk het nie en wat nie van God afkomstig was nie! Hulle sal dus geen loon daarvoor ontvang nie!

Ter Afsluiting: As gelowiges moet ons altyd onthou om te bid. Dit is ongelukkig seker die een ding wat ons almal te min doen. Om nie te bid nie, stel die gelowige homself oop vir Satan se aanvalle, omrede gebed die sfeer is waarin alle gelowiges behoort te leef.
Efs 6:18 “terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges 6:19 en vir my, sodat ‘n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,”
As kinders in God se familie, behoort ons alles met God in gebed te bespreek, en moet ons Hom vra en toelaat om ons deur Sy Gees in die woord van God te lei, sodat ons sal kan weet hoe om in hierdie bose wêreld op te tree. Ons moet ook onthou dat die Bybel die maatstaf is waarteen ons alles moet meet en niks anders nie! Die feit dat mense nie meer die Bybel as gesaghebbend beskou nie, lei daartoe dat hulle op buite Bybelse openbarings moet staatmaak om hulle teologie te bevestig, en dit lei weer daartoe dat die mens maar net weer sy eie godsdiens skep, wat nie van God afkomstig is nie, en dit gaan tot erge ontnugtering lei. Om te bepaal hoe getrou ons die Here volg, moet ons gaan kyk hoe naby ons aan God se woord en Sy opdragte in die woord leef. Hoe verder ons vanaf die Bybelse waarhede weg beweeg, hoe verder beweeg ons van God af weg!! ‘n Baie goeie voorbeeld hiervan is die leerstelling, wat verkondig dat ons Satan en die bose geeste kan bind, en waarvan die Strategiese Geestelike Oorlogvoering Beweging , die Nuwe Apostoliese Reformasie asook die Woord Geloof Beweging ‘n groot deel van uitmaak.

En onthou!:
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Slegs die Bybel behoort as grondslag vir ons godsdiens te dien en niks anders nie!! Ons kan nie Satan of enige bose gees bind nie!

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.