Krag in ons Woorde

Krag in ons Woorde?

Daar is deesdae ‘n gewilde konsep in die kerk wat beweer, dat ons woorde krag het en as ons positiewe uitsprake oor ons omstandighede en selfs ander persone maak, ons daardie dinge gaan kry as ons genoeg geloof het en die regte woorde uitspreek. So kan ons rykdom, gesondheid, geluk en ‘n lekker lewe kry. Daar word ook beweer dat mens nie negatiewe uitsprake oor mens se omstandighede of oor ander mense moet uitspreek nie, omrede ons woorde krag in hulle het en wat ons sê sal dus in die werklikheid manifesteer. Daar word gesê dat, toe God die wêreld geskape het, Hy woorde gespreek het en alles het ontstaan soos wat Hy gespreek het. Omdat ons in God se beeld geskape is, behoort ons dus in die God klas en kan ook dus met ons eie woorde skep. Die vraag wat ons moet beantwoord is, kan hierdie leerstelling uit die Bybel regverdig word, omrede ons as Christene die woord van God het en ons, ons lewens volgens God se woord moet inrig.

2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Indien hierdie leerstelling nie uit die woord regverdig kan word nie sal ons moet vasstel waar dit vandaan kom en wie die inspirasie agter hierdie leerstelling is.

Hierdie leerstelling is baie gewild en kom veral onder die Woord-Geloof (Word-Faith) proponente voor. Ek sal poog om kortliks te verduidelik wat die belangrike punte is waarin hierdie mense glo en dit dan met die Bybel vergelyk. Ons as gelowiges, moet nie alles glo wat aan ons verkondig word nie. Ons moet dit wat aan ons as die Bybelse waarheid voorgehou word eers met die Bybel vergelyk, voordat ons dit as die waarheid aanvaar. Indien ons dit nie doen nie, kan ons verlei word en dit is iets waarteen die woord ons ernstig waarsku.
2Pe 2:1 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 2:2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; 2:3 en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”
Ons moet ook soos die mense in Beréa wees wat alles wat Paulus aan hulle verkondig het met die Skrifte vergelyk het, om te sien of wat hy hulle geleer het wel so was.
Hnd 17:10 “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. 17:11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”

Eerstens glo hierdie mense, dat geloof ‘n krag is wat God en die mens kan gebruik.

Opmerking: In die eerste plek het God nie geloof nodig nie. Hy is die Skepper van alles, en omrede Hy almagtig is, sal alles wat Hy sê so gebeur, dus het Hy nie geloof nodig nie. As ons Genesis lees sal ons opmerk dat God gespreek het en alles het ontstaan. Daar word egter niks van geloof gemeld nie en enigiemand wat beweer, dat God geloof in Sy eie woorde gehad het, lees in die teksgedeelte in wat daar nie staan nie. (Gen 1:1-28) God het nie geloof nodig nie, maar die mens wat ‘n skepsel is het wel geloof nodig.
Mar 11:22 “Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.”
Ware geloof het God as objek. Geloof het geen krag op sy eie nie, maar die krag lê in die voorwerp of objek van daardie geloof. In die geval van ‘n gelowige is God die objek van sy geloof en lê die krag nie in die gelowige se geloof nie, maar in God wat oor alle krag besit. As ons hierdie waarheid nie verstaan nie, maak dit deure oop vir ernstige verleiding. Bybelse geloof werk so. Ons vra vir God in gebed om ons te help met iets en glo, dat Hy God is, en die vermoë het om te doen wat ons vra. Ons glo ook, dat indien dit Sy wil is, Hy ons versoek sal toestaan. In wie lê die krag? In ons geloof of in God? Die krag is in God en net Hy kan alles doen. Net Hy is Almagtig en nie ons geloof nie, maak nie saak hoe sterk ons geloof mag wees nie. Om geloof in ons eie geloof te hê is om God met geloof te vervang en dan het ons mos nie God nodig nie, maar ons geloof. As ons dus geloof in ons geloof het, is dit niks anders as afgodediens nie, en nie reddende geloof nie. As God verplig is om ons gebede in geloof te gehoorsaam elke keer as ons genoeg geloof het, dan is God nie meer God nie en is Hy ons dienaar, want Hy sal dan ondergeskik wees aan ons wil. Dit is Godslastering!! Dus is die God wat hierdie mense verkondig nie die God van die Bybel nie.

Jes 46:9 “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;”
Uit die bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik, dat God doen wat Hom behaag en niks word gemeld van God se onderdanigheid aan ons geloof nie. Bybelse geloof is om in iemand groter as die persoon wat glo te vertrou. In die geval van die gelowige is daardie iemand God self en is God die objek van die gelowige se geloof. As geloof vir God ‘n vereiste is, in wie sal Hy Sy geloof plaas? Is daar iemand groter en sterker as Hy? God het nie geloof nodig nie, want Hy is volkome in Homself. Hy is perfek en het niks of niemand nodig nie, ook nie geloof nie. Verder is God ook selfbestaande en selfonderhoudend. Hy is die groot Ek Is! God is almagtig, Hy het nie geloof nodig nie!!

Tweedens word daar beweer dat die krag van woorde vrygestel word as mense woorde spreek.

Opmerking: Nêrens in die Bybel word hierdie konsep gestel nie, maar mens vind hierdie tegnieke orals in okkultiese praktyke en inheemse gelowe. Oorlede Dave Hunt in sy boek Occult Invasion verduidelik hierdie leerstelling baie mooi. Ek vertaal los. “ Positiewe uitsprake beteken om ‘n positiewe gedagte in woorde om te sit en dit dan hardop uit te spreek – dit is presies wat Shamans [toordokters] vir duisende jare in alle kulture geglo en gepraktiseer het” (Bron Hunt Dave Occult Invasion bl 119) As ons woorde krag het om dinge te skep, dan is ons ook God en dan is die God van die Bybel nie meer die alleen Skepper nie, omdat ons mede- skeppers saam met Hom is. Boonop het God ook gelieg en kan dus nie God wees nie. Dit is egter nie wat die Bybel ons leer nie.
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Ons is nie mede-skeppers nie, maak nie saak wat sekere mense beweer nie. Ons is geskape en is skepsels niks meer nie.

Dink maar net watse chaos in die wêreld sou geheers het, indien dit wel waar sou wees dat ons woorde krag sou gehad het. Eerstens sou weermagte nie nodig gewees het nie, Die mens sou sommer sy vyande met die woord van sy mond verdelg. Daar sou bitter min mense geleef het indien enige, miskien net die laaste een, wat nie deur die ander gedood is met hulle woorde nie. Aan die anderkant sou armoede, swaarkry en probleme mos nie kon bestaan nie, omrede ons dit net kon aanspreek en alles sou verander. Hoekom dra die mense wat hierdie leerstelling verkondig dan nog brille en vra geld van ander? (Seed faith) Is dit nie ‘n tasbare bewys, dat wat hulle nog verkondig nie die waarheid kan wees nie? Soos ons uit die werklikheid, asook die Bybel kan waarneem is wat hulle verkondig nie die waarheid nie, maar onsin. Hierdie leerstelling kom nie van die Bybel af nie ,maar is van buite in die kerk ingebring en toe op die Bybel afgedwing.

Die Derde bewering wat gemaak word is dat die mens ‘n klein godjie is wat in die God klas geskape is.

Opmerking: Die Bybel stel dit egter baie duidelik dat net God alleen die Skepper is.
Gén 1:1 I”n die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Efs 3:9 en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus,
Kol 1:16 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 1:17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.”
En laastens:
Opn 4:11 “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”
Daar is nog baie ander teksgedeeltes wat hierdie waarheid staaf.

God het die mens na Sy beeld geskape, maar dit maak nie van die mens ‘n goddelike wese nie, ook het nie mens nie ‘n goddelike natuur nie. (Gen 1:26,27; 9:6) Net God alleen het ‘n goddelike natuur.
Jes 43:10 “Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is–voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.
Jes 44:6 So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.”
Verder moet ons waak teen die leun van die duiwel wat aan ons sal voorhou dat ons God is. Ons is definitief nie goddelike wesens nie.
Psa 8:4 (8:5) “wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? 8:5 (8:6) U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.”
Die Skrif stel dit baie duidelik dat ons minder is as godlike wesens is, hoe kan ons dan klein godjies wees?

Jesus Christus het ‘n ewige bestaan en Hy is die enigste inkarnasie van God.
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
1Jo 4:2 Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;”
In Hom alleen het die volheid van die Godheid liggaamlik gewoon.
Kol 2:9 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;”
Jesus het ‘n menslike liggaam by Sy Godheid gevoeg, sonder om enigsins Sy Godheid prys te gee. Terwyl op aarde het Jesus uit eie wil gekies om nie van Sy volle Godheid gebruik te maak nie.
Fil 2:6 “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
2:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”

Om die leun te glo dat ons klein godjies is , is om die leun wat Satan in die tuin van Eden aan die mens verkondig het te glo. Hy verkondig nog steeds dieselfde leun en miljoene mense glo hom nog steeds.
Gén 3:5 “maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”
Ons vertroue moet in God alleen wees en nie in onsself, ons geloof of ons woorde nie. Die duiwel bedrieg ons nog steeds met die belofte dat ons soos God sal wees. Ons moet baie waaksaam wees!

Proefskrifte wat gebruik word om te bewys dat ons godjies is.

“Word Faith” predikers gebruik Ps 82:6 om te bewys dat ons godjies is.
Psa 82:6 “Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste”
As mens na hierdie teksgedeelte se konteks kyk, sal mens opmerk dat hierdie teksgedeelte nie bewys dat die mens gode is nie. Lees net verder.
Psa 82:7 “nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val.”
Verder stel die konteks van Ps 82 dit baie duidelik dat God die leiers van Israel aanspreek wat as Sy verteenwoordigers oor die volk moet heers. Die Here praat duidelik hier met die Konings en regters van die volk en in daardie opsig verwys Hy na hulle as gode, maar onmiddellik daarna wys Hy hulle egter daarop, dat hulle mense is, en soos mense sal sterwe omrede hulle nie gode is nie. Hulle word gewaarsku om reg op te tree en dit word nie aan hulle verduidelik dat hulle klein godjies is nie.

Jesus het ook hierdie teksgedeelte aangehaal.
Joh 10:34 “Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie?”
Weereens moet ons na die konteks gaan kyk, dan sal mens duidelik opmerk wat die Here hier bedoel het. Die volk wou Hom stenig omdat Hy gesê het, dat Hy die Seun van God is, en Homself met daardie verklaring gelykgestel aan God. Jesus wys hulle skynheiligheid egter uit, deurdat hulle menslike volksleiers, wat as gode in die Skrifte beskryf word aanvaar, maar Hom wat deur die Vader afgesonder en in die wêreld ingestuur is wil hulle stenig. En dit omdat Hy die waarheid oor Homself praat. As hulle Hom nie wil glo nie, moes hulle na die werke kyk wat Hy doen, dan sou hulle opmerk dat Hy van die Vader afkomstig was en die Vader in Hom is en Hy in die Vader. Die profesieë het dit duidelik gestel dat die Messias wonderwerke sou doen, en hier doen Hy dit en hulle wil nog steeds nie glo nie.

Ook moet mens onthou, dat die Bybel God se Woord is, dus kan daar geen weerspreking wees nie. As dit blyk dat daar ‘n weerspreking is, moet aanvaar word dat die probleem nie in die Bybel lê nie, maar dat die probleem by die persoon wat die Skrif verklaar lê. As die mens klein godjies is, dan weerspreek God Homself en kan Hy nie God wees nie en die Bybel ook nie Sy Woord aan ons wees nie.
Jes 45:18 “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God! —wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word–Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.”

‘n Ander teksgedeelte wat gebruik word en heeltemal uit konteks uitgeruk word, is waar God aan Moses sê dat Moses Aäron se god sal wees.
Eks 4:16 “En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ‘n mond wees en jy vir hom ‘n god wees.”
Indien ons egter weer na die konteks gaan kyk, sal ons sien hoekom die Here so gesê het. Moses het beswaar gemaak en gesê dat hy nie ‘n goeie spreker is nie. Die Here het toe vir hom kwaad geword en hom meegedeel dat sy broer, Aäron, namens hom die woorde wat God in Moses se mond lê, sal spreek. In daardie opsig sal hy vir Aäron ‘n god wees, net soos wat God vir die profete woorde in hulle monde gelê het. Die Bybel stel dit nêrens dat Moses ‘n God in die godlike sin was nie. Ons sal ook opmerk, dat Moses en sy broer dit so verstaan het en ons sien nêrens dat Aäron, sy broer Moses, as God aanbid het nie. Hierdie idee word duidelik deur ander teksgedeelte gestaaf.
1Ko 8:4 “Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. 8:5 Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is— 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.”
Dit geld vir Moses se geval en die volksleiers in Ps 82:6. Hulle is sogenaamde gode in die sin dat hulle as God se verteenwoordigers opgetree het en niks meer nie. Hulle is nie gode in die ware sin van die woord nie, want daar kan net een God wees. As die mens werklik god is, hoe kon die Here net vir Moses sê dat hy vir Aäron ‘n god sal wees? As Moses werklik ‘n god was sou die hele mensdom gode moes wees en dan sou die Here nie hierdie stelling kon maak nie.
Psa 86:10 “want U is groot en doen wonders, U alleen is God.”

Soos al reeds genoem, word daar nêrens in die Bybel geleer dat ons gode is nie. Petrus het dit ook so verstaan en geweier dat die hoofman hom aanbid toe Petrus die Evangelie aan hom gaan verkondig het.
Hnd 10:25 “Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. 10:26 Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ‘n mens.”                                                                                                                      
Dit is uiters vreemd, dat indien die mens gode was, Petrus wat drie jaar saam met Christus geloop het, dit nie geweet het nie. Het die Here hulle nie alles geleer wat hulle moes weet nie? Hierdie leun kom nie uit die Bybel uit nie, maar kom direk van die tuin van Eden af, waar die duiwel godheid aan die mens voorgehou het, indien hy van die verbode vrugte sou eet. Dieselfde leun leef nog steeds voort, want die mens, in sy gevalle toestand, wil nog steeds God wees en glo nog steeds die duiwel en sy leuens. (Gen 3:4- 5)

Die laaste proefskrif wat hier gaan bespreek word is 2 Pet 1:4
2Pe 1:4 “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”
Hierdie skrifgedeelte word nogal gereeld aangehaal as bewys dat ons ‘n godlike natuur het en dus klein godjies is. As ons weereens mooi na die konteks kyk dan sien ons egter ‘n hele ander prentjie.
2Pe 1:2 “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! 1:3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, 1:4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”
Sy goddelike krag wat hier van gepraat word is nie ons eie goddelike natuur nie, maar die krag van die Heilige Gees. Omrede die Heilige Gees in die gelowige is , is Sy krag beskikbaar aan die gelowige om die goddelike natuur van Jesus Christus te imiteer, sodat ons meer soos Jesus Christus kan word. Niks word hier gesê dat ons ‘n eie goddelike natuur het nie. Daarom vermaan Paulus ons ook op ‘n ander plek om onsself met Jesus Christus te beklee. Ons moet dus word soos wat Hy is en ons sal dit net regkry deur die krag van die inwonende Heilige Gees.
Rom 13:14 “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
Mens moet baie versigtig wees vir leraars wat sekere verse uit konteks uitruk en hulle teologie net om daardie verse probeer bou. Indien ons so iets opmerk, moet daar rooi ligte aangaan en daarom is dit so belangrik dat gelowiges self hulle Bybels bestudeer en verstaan. Die Heilige Gees het juis aarde toe gekom met hierdie doel om Sy kinders in alle waarheid te lei. Die vraag is net hoe gewillig is ons om by Hom te leer?

Vierdens word daar beweer dat enigiemand hierdie wet van geloof met sukses kan toepas, nie net Christene nie.

Opmerking: Hier is maar net nog ‘n bewys dat hierdie hele leerstelling ‘n baie ernstige dwaling is. Dit gaan daartoe bydra, dat baie mense in die Okkult ingetrek gaan word indien hulle hierdie leerstelling sou glo. Hierdie wet van geloof waarvan hier gepraat word is nie Bybelse geloof nie, maar kom voor in die okkultiese praktyke oral oor die wêreld heen. Soos alreeds vroeër in hierdie artikel gemeld is, het Bybelse geloof God as objek en is daar geen krag in geloof self nie, maar net in die objek waarop vertrou word. God is die Skepper van alles, en is dus buite Sy skepping en nie deel daarvan nie. Ook is daar geen wette wat Hom kan beheer nie, want Hy het al die wette gemaak, dit sluit natuurlike sowel as sogenaamde geestelike wette in. Daar is nie ‘n wet of enigiets anders wat God kan beheer nie, anders sal Hy nie meer soewerein wees nie. Dit kan nie gebeur nie, want dan moet God een van Sy attribute, wat Hom God maak, prysgee en dus kan Hy ook nie meer God wees nie. Die Bybel stel die saak egter heeltemal anders, soos wat mens sou verwag.
Jes 46:9 “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;”

Die feit dat enigiemand insluitende ongelowiges God kan beheer, deur die toepassing van hierdie wette van geloof, is godslasterlik. Dit is niks anders as ‘n poging om van die mens god te maak en van God die slaaf van mense te maak nie. Mens word weer herinner aan die leun van Satan in die tuin van Eden.
Gén_3:5 “maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”
Dit is maar net nog ‘n bewys dat die mens soos God wil wees, en wat sal nou lekkerder wees, indien daar nou ‘n wet van geloof is wat ons beheer oor God kan gee. Dit is en bly egter nog steeds ‘n leun, wat die navolgers van hierdie leerstelling tot ‘n val gaan bring. Hierdie leerstelling kom egter nêrens in die Bybel voor nie.
Jes 42:8 “Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.”
God se seëninge word in ‘n sekere mate op almal uitgegiet, anders sou niemand meer gelewe het nie. Dit gebeur egter net omdat God dit so wil hê en uitsluitlik deur Sy genade.
Mat 5:45 “sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.”
Niemand kan God manipuleer deur die nakom van ‘n sekere wet wat Hom daartoe verbind nie. Wat Hy doen, doen Hy uit genade en liefde en uit Sy eie wil uit. Die god wat hierdie mense verkondig en wat deur sekere wette beheer kan word is nie die God van die Bybel nie. Ons sal moet erken dat daar ‘n ernstige dwaalleer in die kerk ingebring is, wat miljoene mense en selfs Christene verlei. Daar sal in die laaste gedeelte van hierdie artikel gepoog word om te bepaal waar hierdie dwaalleerstelling ontstaan en deur wie dit in die kerk ingebring is.

Die vyfde bewering wat gemaak word is dat, die mens sal verkry wat deur hom uitgespreek word. Alles wat in geloof uitgespreek word, manifesteer in die fisiese wêreld.

Opmerking: As dit werklik was, soos wat hierdie mense dit aan hulle hoorders voorhou, hoe sou die wêreld nie nou gelyk het nie? Ook is dit nie wat ons in die Bybel geleer is om te doen nie. Jesus het Sy dissipels geleer hoe hulle moet bid.
Luk 11:2 “En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Nêrens het Jesus hulle geleer om positiewe uitsprake te maak, en indien hulle genoeg geloof het, hulle sal kry wat hulle uitgespreek nie. Indien daar werklik ‘n moontlikheid was, dat alles wat hulle in geloof sou uitspreek hulle kon kry, vind ek dit vreemd dat die Here hulle nie hierdie konsep geleer het nie. Jesus het hulle dit nie geleer nie, omdat hierdie leerstelling nie van Hom afkomstig is nie. Hierdie positiewe uitspraak leerstelling bots ook heeltemal met die Bybel en mens moet net vra hoekom?
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Is dit nie maar weer ‘n geval van die mens wat soos God wil wees nie?

Hierdie leerstelling lei ook daartoe dat nie mens ook meer wêreldgesind en materialisties raak. Dit gaan nie oor wat God wil hê ons moet doen nie, maar oor wat God vir die mens kan doen. Wie is veronderstel om wie te dien? Gierigheid is een van die mens se grootste hindernisse in die uitleef van ‘n heilige lewe in ware geloof. Die leun dat ons kry wat ons uitspreek, versterk ons juis in ons sonde van gierigheid, dit verlos ons nie daarvan nie. En weer sal mens opmerk dat hierdie leerstelling lynreg teen die Bybelse leer inloop. Hoekom?
Jak 4:2 “Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 4:3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Soos die bostaande teksgedeeltes dit duidelik maak, moet ons, ons versoeke na God neem met danksegging, en indien dit Sy wil is, sal Hy ons versoeke toestaan. Niks word gesê van positiewe uitsprake nie. God is God en ons moet Hom gehoorsaam en leef soos wat Hy wil hê ons moet lewe. Hy sal nooit die mens dien en Hom laat bind deur ons woorde of deur enige sogenaamde wet van geloof nie. Deesdae gaan dit nie meer oor heiligmaking nie, maar oor gierigheid. Mense soek nie ‘n God wat hulle voorsê om heilig te lewe en hulleself van hierdie wêreld en sy begeertes af te sonder nie. Hulle soek ‘n God wat hulle sal dien en hulle sal gee wat hulle wil hê, en hulle sal uitlos, sodat hulle die begeerlikhede van hierdie wêreld kan geniet. Gierigheid is ‘n leemte in die mens se hart, wat nooit werklik deur besittings, en seks gevul kan word nie. Ek glo daar is baie opregte Christene wat deur hierdie leerstelling verlei is, maar daar is net so veel mense wat hierdie leerstelling aanhang, omrede hulle dit wil glo ten koste van die waarheid. Ek baseer nie my opinie op my eie insig nie maar wat die Bybel daaroor sê.
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Is dit nie wat deesdae in baie kerke gebeur nie?

As wat hierdie mense verkondig die waarheid is, hoekom word hierdie mense ook siek en moet hulle net soos ons almal brille dra? Is die brille wat hulle dra nie in skrille kontras met die leerstelling wat hulle verkondig nie? Die eenvoudige waarheid is, dat wat hierdie mense, as die waarheid aan ander, voorhou nie eens vir hulle self werk nie. Hulle moet nog steeds mense manipuleer om hulle sover te kry om van hulle swaarverdiende geld afstand te doen, sodat die predikers hulleself kan verryk. Hulle buit mense se vrees en sonde natuur uit, deur om aan hulle rykdom en gesondheid voor te hou. Die Bybel waarsku ons egter teen die gevare van gierigheid en rykdom.
1Ti 6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.
Efs 5:5 Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.”

Baie van die voorstanders van hierdie leer, beweer ook dat mens nooit moet bid : ” Laat U Wil geskied” nie. Vir hulle is dit ‘n bewys van ongeloof. Dit is egter nie wat die Bybel ons leer nie, soos ons alreeds gesien het. Iemand wat werklik God vertrou sal weet, dat Hy as Vader, en God, baie meer weet as wat ons ooit sal weet en dat Sy Wil altyd beter vir ons sal wees as ons eie wil. Ware geloof sal daartoe lei dat die persoon homself altyd onder God se wil sal wil plaas, met die wete dat God die beste weet en net die beste vir Sy kinders wil hê.
Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
God in Sy wysheid, sal nooit iets aan Sy kinders gee wat hulle skade sal berokken nie. As God al ons selfsugtige begeertes vir ons sou bevredig, sou nie een van ons meer gelewe het nie en sou nie een van ons Hom genader het vir verlossing nie. Dit is iets om oor na te dink. Bybelse geloof vertrou op God met die wete, dat Hy vir al ons behoeftes sal sorg. Ware geloof spreek nie positiewe uitsprake met die hoop dat dit sal manifesteer nie. Dit is maar net nog ‘n poging om God te speel en is inwerklikheid ‘n okkultiese praktyk!

Die sesde en laaste bewering wat bespreek gaan word, is dat mens nooit ‘n negatiewe uitspraak moet maak nie.

Opmerking: Indien dit waar is, soos wat hierdie mense beweer, dan kon Dawid onmoontlik die beste koning in die geskiedenis van Israel gewees het en kon God hom ook nie ‘n man na Sy hart genoem het nie. (1Sa 13:14) Lees maar gerus die Psalms, dan sal mens opmerk hoe Dawid sy hart voor die aangesig van die Here uitgestort het. Dit was nie alles positief nie. Wat van Paulus wat nie sy teologiese grade as bewys van sy apostelskap voorgehou het nie, maar eerder sy swaarkry en littekens. (2 Ko 11:16 – 33) Het hierdie twee godsmanne nie van positiewe en negatiewe uitsprake geweet nie? Wat van die gelowiges wat in grotte en in woestyne met velklere rondgedwaal het? Het hulle nie geweet dat hulle net positiewe uitsprake kon maak en hulle omstandighede so verander nie?
Heb 11:36 “Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. 11:37 Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel— 11:38 die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.”
Jesus self het sy dissipels gewaarsku dat hulle tribulasie in hierdie wêreld gaan hê
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
As die positiewe uitspraak leerstelling enigsins waar is, hoekom het die Here dit nie hier aan Sy dissipels geleer nie? Want dit is nie ‘n Bybelse leerstelling nie, maar kom van die bose soos wat later bo enige twyfel gedemonstreer sal word.
2Ti 3:12 “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”                                                                                                                   Hierdie uitspraak van Paulus weerspreek die positiewe uitspraak leerstelling van die “Word Faith” beweging. Nee, mens word nie vervolg omdat mens negatiewe uitsprake maak nie, maar omdat mens ‘n Godvrugtige lewe wil lei, soos wat God dit wil hê en nie die mens nie. Baie Christene ondervind geen vervolging nie, want hulle beweer hulle lewe vir die Here maar eindelik lewe hulle vir die wêreld.

Nog ‘n ernstige gevolg van hierdie leerstelling, is dat dit gelowiges verhoed om ander te waarsku oor hulle sondes en dwaalleerstelling. Om iemand te waarsku, dat sy drankmisbruik na alkoholisme gaan lei, kan as ‘n negatiewe uitspraak gesien word, dus word dit nie oortreder nie aangespreek nie. Dit is weereens in totale teenstelling met wat die Bybel sê en is niks anders as onsin nie!
2Ti 4:2 “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;”
Om mense nie te bestraf, en te vermaan nie, sal daartoe lei dat die persoon in sonde bly voortleef en sodoende nie die noodsaaklikheid raaksien om tot bekering te kom nie, wat ernstige gevolge tot gevolg kan hê. As mens nie negatiewe stellings mag maak nie, hoe gaan mens ander waarsku, dat indien hulle nie die Evangelie verstaan en glo nie, hulle Hel toe sal gaan nie? Die Bybel waarsku ons om nie vir hierdie wêreld te leef nie, maar ons gedagtes te fokus op die dinge in die Hemele.
Kol 3:1 “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 3:2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.”
Ook gaan hierdie wêreld vernietig word en dus sal dit dwaas wees om net vir hierdie wêreld te leef. Is dit nie dalk te negatief nie?
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.
1Jo 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
1Jo 2:17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
Hierdie mag nie na baie positiewe stellings klink nie, maar dit bly die waarheid en die Here verwag dat ons mekaar moet vermaan. Soms is negatiewe stellings nodig en dit kan mense se lewens red, deur hulle die lig van die waarheid te laat sien en hulle dan tot inkeer te bring.

Waar kom hierdie leerstelling vandaan?

Indien hierdie leerstelling nie uit die Bybel voortkom nie, waar kom dit dan vandaan? ‘n Paragraaf uit die boek Charismatic Chaos bl 290 sal aangehaal word om ‘n indikasie te kry van waar hierdie dwaalleerstelling vandaan kom. ( Paragraaf is vertaal) “Woord-Geloof [Word-Faith] proponente het hulle oorsprong in groepe soos Christen Wetenskap [Christian Science] Swedenborgianism, Teosofie [Theosophy], Wetenskap van die Verstand [Science of Mind] en Nuwe Gedagte [New Thought] – nie in klassieke Pentekostalisme nie. Dit onthul, dat die Woord-geloof [Word Faith] leerstellings tot in hulle kern korrup is. Hulle leerstellige afleiding is kulties, nie Christelik nie. Die hartseer waarheid is dat die evangelie soos verkondig deur die Woord-geloof [Word Faith] beweging nie die Evangelie van die Nuwe Testament is nie. Woord-geloof [Word Faith] doktrines is ‘n baster sisteem, ‘n vermenging van mistisisme, dualisme en gnostisisme wat ryklik leen by die leerstellings van die Metafisiese kultus. Die Woord-geloof [Word Faith] beweging mag dalk die mees gevaarlikste valse sisteem wees wat uit die Charismatiese beweging te voorskyn gekom het, omrede so baie Charismate onseker is oor die finaliteit van die Woord “ MacArthur John Charismatic Chaos bl 290 (Vertaal)

New Thought ” is die voorloper van die Nuwe-Era Beweging [New Age movement] soos wat ons dit vandag ken. Dit sal ons dus nie verbaas dat mens die positiewe uitspraak konsep ook in die Nuwe Era beweging vind nie. Die konsep in die Nuwe Era staan bekend as die wet van aantrekking [Law of Attraction] wat leer dat ‘n positiewe gedagte en positiewe uitsprake goeie dinge na mens toe aantrek. Hierdie filosofie het niks in gemeen met die God van die Bybel nie en kan ook nie as Christelik bestempel word nie. Op grond van daardie feite moet ons as Christene hierdie leerstelling en konsep as baie gevaarlik bestempel en heeltemal verwerp. Die Bybel waarsku ons ernstig.
Spr 14:12 “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
Efs 4:4 Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; 4:5 een Here, een geloof een doop, 4:6 een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.”
Soos uit bostaande teksgedeelte baie duidelik opmerkbaar is, is daar net een God, een Gees, en een geloof, en die geloof wat die Woord-Geloof beweging verkondig, is nie die geloof van die Bybel nie. Hierdie konsep is nie uit die Skrif afkomstig nie, maar is ‘n buite-Bybelse leerstelling wat net in Christelike terme omgesit is en word deur baie mense as ware Christenskap verkondig en ervaar. Dit red egter nie die hoorders daarvan nie, maar lei eerder na nog groter dwaalleerstellings.

Wat die saak nog verder vererger, is die feit dat, die mense wat hierdie leerstelling propageer meeste van die Christelike televisie kanale beheer, en derhalwe verkondig hulle hulle dwaalleerstellings aan miljoene mense. Die meeste mense wat hierdie verdraaide leerstelling hoor, dink dit kom uit die Bybel uit en aanvaar dit as die waarheid. Soos wat reeds gedemonstreer is, is dit nie ‘n Bybelse leerstelling nie. Een so kanaal is TBN. Miljoene mense word deur hierdie valse leerders verlei, want hulle ken nie hulle eie Bybels nie en maak staat om mense, wat een van die gevaarlikste dinge is wat mens kan doen. Bekende predikers wat hierdie leerstelling verkondig is wat oorspronklik van E.W Kenyon afkomstig is, is Charles Capps, oorlede Kenneth Hagin, Kenneth Copeland, Frederick Price, Joel Osteen en baie ander. (in Suid Afrika is Ray McCauley  van Rhema kerk seker een van die bekendstes wat hierdie dwaalleerstelling verkondig. Elke persoon het ‘n keuse wie hy gaan glo. Ons moet egter baie seker weet wat en in Wie ons werklik glo, en of die geloof wat ons het Bybelse geloof is. Ons gaan vir ons eie keuses verantwoordelik gehou word, en die onus is op ons om seker te maak, wat en in wie ons glo en hoekom ons dit glo.

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.