Bely

Moet Christus bely word om wedergeboorte te word?

Baie predikers verkondig, dat vir ‘n persoon om die ewige lewe te ontvang, daardie persoon die Evangelie moet glo en dan die Here Jesus Christus openlik met die mond moet bely. (wat ‘n addisionele stap by slegs die glo van die Evangelie is) Ander verkondig weer dat ‘n persoon openlik die Here met die mond bely wanneer daardie persoon toelaat dat hy in die openbaar of voor die gemeente gedoop word. (Dus ‘n vorm van doopsaligheid.) Ander glo dat ‘n persoon wat werklik die Evangelie geglo, en wedergebore geraak het, die Here outomaties sal bely. (‘n Leerstelling wat die gelowige se werke as bepalende element van reddende geloof maak, wat niks anders as ‘n vorm van werke-saligheid is nie.) Die teksgedeelte wat dan aangehaal word om hierdie leerstelling te regverdig is Rom.10:9-13, naamlik:
Rom.10:9 “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. 11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. 12 Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. 13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”
Rom 10:9-10 gaan eers bestudeer en bespreek word en dan sal Rom.10:11-13 bestudeer en bespreek word.

Rom.10:9 “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”
Wanneer Rom.10:9-10 bestudeer word wil dit voorkom asof openlike belyning van Christus ‘n addisionele stap by slegs geloof in die Evangelie aan die leser voorgehou word. Dit wil dus voorkom dat twee vereistes om verlossing vereis word, naamlik: Eerstens: Die Here Jesus Christus moet met die mond bely word. Tweedens: En ‘n persoon moet glo dat God Hom uit die dood uit opgewek het. Indien ons egter die res van die Bybel bestudeer vind ons dat die enigste vereiste vir wedergeboorte (Fase een van ons verlossing) geloof in die Evangelie is. (waarvan openlike belyning van Christus, wat ‘n menslike werk is, nie deel vorm nie)

Boonop blyk daar ‘n teenstrydigheid met Paulus se ander stellings te wees, wat verklaar dat ‘n persoon slegs op grond van geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis, sonder die doen van enige werke gered word.
Rom.11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie. (Om die Here Jesus Christus met die mond te bely is ‘n menslike werk)
Ef.2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Onthou, God wil nie die ontvangs van die ewige lewe ‘n ingewikkelde en moeilike proses maak nie. Dit is Sy wil dat almal gered moet word.

Om hierdie teksgedeelte reg te interpreteer, is dit belangrik dat ons ‘n paar vrae stel en dan daardie vrae vanuit die Skrifte beantwoord. Sodoende sal daar meer lig op hierdie onderwerp gewerp kan werp. Boonop is dit belangrik om Rom.10:9-10 korrek te interpreteer, omrede die Evangelie van God se genade terspraaklik is en mense se ewige bestemming op die spel is.

Vraag 1: Stel die Skrifte dit duidelik op watse tydstip ‘n persoon wedergebore raak en met die Heilige Gees verseël word? Vind wedergeboorte (fase een van ons verlossing) ten tye van die glo van die Evangelie plaas of ten tye van ons belydenis van Christus plaas? Onthou, daar sal altyd ‘n tydsverloop wees tussen die tyd waarop ‘n persoon die Evangelie glo en die tyd wanneer daardie persoon die Here Jesus Christus openlik met sy mond kan bely.
Antwoord op vraag 1:Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat die gelowige ten tye van die glo van die Evangelie met die Heilige Gees verseël is, wat beteken dat daardie gelowige die ewige lewe as geskenk by God ontvang het. (nog voordat hy ‘n kans gehad het om die Here Jesus Christus met die mond bely.) Slegs geloof is dus ‘n vereiste om die ewige lewe te ontvang.

Vraag 2: Is daar ‘n voorbeeld vanuit die Skrifte waar ‘n persoon alreeds toegerekende geregtigheid besit het, maar egter geweier het om die Here openlik met sy mond te bely?
Antwoord op vraag 2: Ja, daar is so ‘n voorbeeld en ons vind dit in Johannes 12:42-43, naamlik:
Joh.12:42 “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. 43 Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.”
Bostaande teksgedeelte stel dit duidelik dat sommige van die owerstes wel in Christus geglo het, (dus het hulle toegerekende geregtigheid besit) maar hulle het geweier om Christus openlik te bely, omrede hulle die eer van mense belangriker geag het as die eer van God. (daar is ook hordes sulke gelowiges vandag) Onthou, ‘n persoon word nie gered deur wat hy doen (dissipelskap wat werke vereis) nie maar wat hy glo! (uit genade deur geloof.) So ook het die Here Jesus Christus persoonlik aan die Jode gestel wat van hulle vereis word om die werke van God te volbring, naamlik:
Joh.6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Ook hier word die menslike werk, naamlik om die Here Jesus Christus met die mond te bely, nie as addisionele stap vereis nie. Al wat God van hulle verlang het, was om in die Here Jesus Christus te glo. Niks anders nie! Anders sou die Here dit genoem het. Paulus bevestig dat geloof alleenlik ‘n vereiste is, naamlik:
1Kor.15: 1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Weereens geen menslike werke, soos byvoorbeeld die Here Jesus Christus met die mond te bely, word vir die ontvangs van die ewige lewe vereis nie.

Drie fases van verlossing:
Dit is ook belangrik om te onthou dat die menslike verlossing in drie fases plaasvind. Met die glo van die Evangelie, op ‘n spesifieke punt in tyd, word ‘n persoon wedergebore en is hy vir ewig God se kind en kan nooit verlore gaan nie. Die wedergebore persoon gaan nou outomaties in fase twee van sy verlossing, naamlik die heiligmaking fase in, waar hy van die houvas wat sonde tydens sy huidige aardse bestaan, na aanvanklike wedergeboorte, verlos behoort te word. Gedurende die heiligmaking fase, wat die res van die gelowige se lewe sal voortduur, kan die gelowige ook van God se Vaderlike tugtiging verlos/gered word deur om Sy woord te gehoorsaam. Met die eerste opstanding/Wegraping, vind fase drie van sy verlossing, naamlik die verheerliking fase plaas, wanneer die gelowige met ‘n onsterflike verheerlikte liggaam oorklee sal word en wat beteken dat hy vir eens en vir altyd van die teenwoordigheid van sonde in sy liggaam bevry sal word. (Vir ‘n meer omvattende verduideliking aangaande hierdie onderwerp word die leser aangeraai om die artikels “Drie Fases van verlossing” asook “Waarom sterwe gelowiges nog?” te lees.)

Konteks, konteks, konteks:
Indien mens die onmiddellike voorafgaande konteks bestudeer, sal opgemerk word dat Paulus hoofsaaklik verlossing van ‘n temporale aard bespreek, asook die Joodse volk as geheel aanspreek. Romeine 9-11 handel hoofsaaklik oor Israel as volk en wat hulle moet doen om die komende volksmoord na afloop van die Groot Verdrukking te oorleef. Wanneer hy dan by Rom.10:9-10 kom, som hy fases een en fase twee van alle individuele persone se verlossing/redding as voorbeeld op. (hierdie feit sal duideliker word soos wat ons met die artikel voortgaan.) Dus handel die voorafgaande konteks oor fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking en nie fase een, naamlik wedergeboorte nie. Ons moet dus hierdie feit in rekening hou wanneer ons wil vasstel wat die terme “gered en redding” in Rom.10:9-10 beteken.

Wat bedoel Paulus dan met die terme “gered en redding” wat hy in Rom.10:9-10 noem?:
Onthou die terme “redding of gered” kan meer as net redding van die ewige verderf beteken. ‘n Kind kan byvoorbeeld van ‘n pak slae gered word, indien ons hom waarsku dat hy pak slae gaan kry as hy met sy kattekwaad aanhou. In hierdie opsig word die kind “gered” of “verlos” maar nie van die poel van vuur nie, maar eerder van tydelike brandende boude. Al wat in so ‘n geval terspraaklik is, is ‘n goeie loesing, niks meer nie. Ons moet daarteen waak om onsself aan die ongeoorloofde oordrag van identiteit skuldig te maak. Die terme “redding en gered word” kan baie meer as net redding t.o.v. die ewige verderf beteken.

Met bogenoemde feite in gedagte kan ons nou weer na Rom.10:9-10 kyk en kortliks ontleed, naamlik:
Rom.10:9 “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte/regverdiging) en met die mond bely ons tot redding.” (fase twee, naamlik heiligmaking/dissipelskap waardeur tydelike redding van die gevolge van sonde in ons lewens voorkom kan word.)
Om die Here Jesus Christus met die mond te bely, beteken dat ons Hom in die openbaar as God erken, met die wete dat slegs Hy as God die enigste Persoon is wat ons met ons sonde (na aanvanklike wedergeboorte) kan help en ons sodoende van die tydelike gevolge/tugtiging vir ons sonde kan verlos/red.

Die konteks waarin hierdie teksgedeelte in voorkom handel hoofsaaklik oor Israel as volk. (Rom 9-11) Paulus maak ‘n punt daarvan, om aan Israel as volk te verduidelik, dat net soos wat enige individuele persoon in die Here Jesus Christus moet glo om die ewige lewe te ontvang (fase een, wedergeboorte) en die Here openlik met die mond moet bely, (Fase twee, heiligmaking/dissipelskap) moet hulle net so, as volk, in die Here Jesus Christus glo, (fase een) en daarna die Here Jesus Christus, wie hulle gekruisig het, openlik bely/aanroep om Sy hulp te bekom om sodoende van God se tydelike oordeel/volksmoord na afloop van die groot Verdrukking verlos/gered te word. (wat hulle wel teen die einde van die Groot Verdrukking sal doen) Onthou, die voorafgaande konteks, asook die hele hoofstuk 11, handel oor die Joodse volk. Paulus het slegs individuele redding van alle gelowiges hierby ingebring om aan die Joodse volk ‘n praktiese voorbeeld te verskaf wat hulle met sukses kon navolg. Net soos wat individuele gelowiges na aanvanklike wedergeboorte van die tydelike uitdrukkings van God se ontevredenheid gered/verlos kan word, deur om in Hom te glo (fase een, wedergeboorte) en Hom daarna openlik te bely (fase twee, dissipelskap/heiligmaking) het Israel as volk ‘n voorbeeld wat hulle met sukses kan navolg wat gewisse uitwissing van die volk sal voorkom. Dat die volk Israel hoofsaaklik in die apostel Paulus se denke was, word bevestig deur die konteks wat direk na hierdie stelling volg, naamlik Rom 11. Baie mense glo verkeerdelik dat Rom 9-11 hoofsaaklik oor individuele verlossing handel. Dit handel egter oor die volk Israel, as geheel, en beantwoord die vraag of die Here Sy uitgekose volk heeltemal verwerp het, waarop Paulus dit duidelik stel dat Israel nie deur God verwerp is nie, en dat die volk, na afloop van die Groot Verdrukking, in Hom sal glo, (fase een, wedergeboorte) en Hom sal aanroep, (openlike assosiasie met Hom wat fase twee, naamlik dissipelskap/heiligmaking) waarop Hy hulle van gewisse uitwissing met Sy wederkoms sal verlos.
Matt.23:37 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! (Christus se eerste koms toe Hy Homself aan die volk as hulle Messias aangebied het) 38 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! (Omrede hulle nie hulle Messias aanvaar het nie. Hierdie gebeurtenis het in 70nC plaasgevind toe die Romeine Jerusalem verower het.) 39 Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Hierdie gebeurtenis sal teen die einde van die Groot Verdrukking plaasvind, wanneer Israel in die Here as hulle Messias sal glo, [Fase een] en Hom openlik aanroep waarop Hy met Sy wederkoms Israel van gewisse uitwissing sal verlos. [Fase twee])

Paulus stel dit duidelik dat geloof in Christus regverdiging/wedergeboorte tot gevolg het. Om die Here egter openlik te bely het redding tot gevolg, maar ons moet onthou dat redding nie noodwendig redding van die ewige verderf beteken nie, maar kan ook redding van die tydelike uitdrukkings van God se ontevredenheid, naamlik tugtiging, kan beteken. Dus kan met sekerheid gestel word dat die terme “glo” en “redding” in hierdie konteks twee verskillende betekenisse het. Onthou die Here tugtig die wat Hy liefhet.
Hebr.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?”
Om die HereJesus Christus met die mond te bely, beteken dat die gelowige in die openbaar Hom as God bely/aanbid en Hom in hierdie opsig om Goddelike bystand vra. Nie om van die ewige verderf gered te word nie, maar om van tydelike probleme, sonde na wedergeboorte, asook die tydelike gevolge wat daarmee gepaardgaan gered te word.

Rom.10: 11 “Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. 12 Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. 13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”
Die vraag wat ons nou moet beantwoord is wat die term “aanroep” in die bostaande teksgedeelte beteken? Beteken dit dat ons die Here moet aanroep om van die ewige verderf gered te word? (fase een, naamlik wedergeboorte). In die Ou Testament beteken die frase, “die Here aanroep” hoofsaaklik drie dinge. Eerstens: Dat die spesifieke persoon die Here aanbid. Tweedens: Op Hom vertrou. En derdens: Hom om hulp vra. Dit is belangrik om na die Ou Testament vir die betekenis en korrekte konteks vir die term “Wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” te bepaal, aangesien Paulus die profeet Joël direk met hierdie stelling aanhaal, naamlik:
Joël 2:32 “En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.”
Die hele voorafgaande konteks handel oor die volk Israel as geheel en die temporale probleme wat hulle op hierdie aarde ondervind het, nie ook die hiernamaals nie. Hier volg nog ‘n paar voorbeelde.

  • Om die Naam van die here aan te roep, is iets wat net ‘n persoon wat alreeds toegerekende geregtigheid besit het (fase een) gedoen het. In baie gevalle was dit ‘n versoek van die gelowige om hulp van God vir die een of ander temporale probleem, soos in die geval van Dawid toe hy vir Saul gevlug het en die Here hom uit die hande van Saul gered het.
    Ps.18:4 “Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos. 5 Bande van die dood (fisiese dood nie die ewige verderf nie) het my omring, en strome van onheil het my oorval. (temporale probleme) 6 Bande van die doderyk was rondom my; strikke van die dood het my teëgekom. 7 Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.” (Dawid het die Here aangeroep om hom van tydelike probleme te verlos, nie om die ewige lewe deelagtig te word nie. Dawid het alreeds die ewige lewe besit.)
  • Ex.34:4 “Toe het hy twee kliptafels gekap soos die eerstes, en Moses het die môre vroeg klaargemaak en op die berg Sinai geklim, soos die HERE hom beveel het, en die twee kliptafels in sy hand geneem. 5 En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep.”
    In bostaande teksgedeelte het Moses, wie alreeds ‘n gelowige was, die Here in aanbidding aangeroep, nie om die ewige lewe te beërwe nie. So ook het die gelowige Abraham (wie alreeds ‘n gelowige was) die Here aangeroep.
    Gen.12:8 “En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.”
    Ook hier het Abraham nie die Here om die ewige lewe aangeroep nie, maar as gelowige het hy die Here aanbid.

Met hierdie feite in gedagte is dit duidelik dat stellings in Rom.10:13 “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” en “As jy met jou mond die Here Jesus bely” (Rom.10:9) mekaar komplimenteer en dus niks anders as parallelle stellings is wat dieselfde gedagte aan die leser wil oordra nie. Beide stellings het niks met verlossing van die ewige verderf te make nie maar wel temporale verlossing/redding. (fase twee) In ‘n parallelle teksgedeelte in die Ou Testament vind ons verder dat Dawid die Here aanroep om hom van temporale teenspoed te red, naamlik:
Ps.55:16: 17 “Maar ek, ek roep God aan, en die HERE sal my verlos. (weereens in ‘n temporale sin!)
Daar is letterlik honderde sulke voorbeelde wat vanuit die Ou Testament aangehaal kan word wat hierdie gevolgtrekking sal staaf.

Net so vind ons in die Nuwe Testament dat “om die Naam van die Here aan te roep” iets is, wat met regte, slegs persone wat alreeds toegerekende geregtigheid ontvang het (dus alle gelowiges) kan doen.
1Kor.1:2 “aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, (wedergebore persone) die geroepe heiliges, saam met almal (ander gemeentes van gelowiges) wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:”
‘n Ongelowige persoon kan nie die Here in aanbidding aanroep, en met alle sekerheid verwag dat God sy gebedsversoeke moet aanhoor nie, omrede daardie persoon nog nie in Christus is nie. So ‘n persoon is dus nog nie wedergebore nie. Hy moet eerstens die Evangelie glo, (waarvan die vereiste om die Here openlik met die mond te bely nie deel vorm nie!) en dan kan hy met regte die Here se naam in lofprysing bely, Hom aanbid en verwag om antwoorde op sy gebedsversoeke te ontvang. Onthou, die Here sien die hele mensdom in slegs twee groepe. Of ‘n persoon is in Christus en het op grond van hierdie feit (Christus se voltooide werk aan die kruis) vrye toegang tot God. Daar is net twee opsies. Of ‘n persoon is ongered, en is nog in sy sondes. (en God sien hom ook so) In so ‘n geval is dit sinneloos om die Here met gebedsversoeke, om temporale redding, te nader terwyl hy nog steeds in ongeloof en in die eerste Adam is. Wat van so ‘n persoon vereis word, is dat hy die Evangelie moet glo, (hy hoef nie die Here aan te roep nie, hy moet slegs die Evangelie glo!) sodat hy Christus se toegerekende geregtigheid kan ontvang wat daardie persoon gewaarborgde toegang tot God sal verleen. Nêrens in die Nuwe Testament word enige persoon aangesê om sy hart vir die Here te gee, in ‘n poging om die ewige lewe te bekom nie. God, in Christus, het alreeds alles gedoen wat die mensdom benodig om van die verderf gered te word. Om hierdie rede verwag Hy dat ons doen wat Hy vereis, naamlik die glo van die Evangelie. Niks meer nie! Onthou, dit is nie ‘n ruiltransaksie waar ons, ons harte vir Christus gee en Hy ons dan die ewige lewe gee nie. God het alles gedoen/betaal en ons kan Hom niks daarvoor gee nie, behalwe om die geskenk van die ewige lewe deur geloof in ontvangs te neem. (anders sou God nie die ewige lewe as genadegawe aan die mensdom kon aanbied nie. Indien hy ons moes beloon omdat ons, ons harte vir die Hom gegee het, (of Hom openlik met die mond bely het) dan sou dit nie ‘n genadegawe wees nie maar verdiende loon wat d.m.v. ‘n ruiltransaksie bekom is.) In hierdie opsig begaan baie mense ‘n ernstige fout.

Die Nuwe Testament bevestig ook bogenoemde gevolgtrekkings. Waar Christene vroeg gedurende die aanbreek van die Kerk Dispensasie, as gemeente bymekaar gekom het, het hulle die Here Jesus Christus om hulp vir hulle daaglikse behoeftes genader deur Hom aan te roep. (nie om van die ewige verderf gered te word nie, want hulle was alreeds in daardie opsig gered!) Christene was dus alom bekend as diegene wat die Here Jesus Christus se Naam aanroep. (Hom aanbid)
Hand.9:4 “en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. (persone wat alreeds wedergebore was) Dus beteken aanroep in hierdie konteks die Here aanbid.
Hand.9:21 “En almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: Is hy nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep,
(persone wat alreeds wedergebore was, wie die Christus aanbid) en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie?”

Die feit, dat slegs gelowiges met regte die Here kan aanroep, stel Paulus in Rom.10:14 baie duidelik, naamlik:
Rom.10:14 “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? (hulle kan die Christus slegs aanroep/aanbid indien hulle eerstens geglo het. Hulle moes dus alreeds wedergebore gewees het.) En hoe kan hulle in Hom glo (wedergebore word)van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?”
Daar is dus ‘n chronologiese volgorde van afsonderlike stappe wat hier uitgelig word, naamlik: Die Evangelie word gepreek. (stap een) Die persoon hoor die Evangelie en glo dit (stap twee) en word wedergebore. (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) Omrede hy nou in Christus is, is hy nou ‘n kind van God, en op grond van hierdie feit kan hy God vrylik aanroep, (stap drie) met die wete dat God sy gebed sal aanhoor. (fase twee van verlossing, naamlik dissipelskap/heiligmaking)
Hebr.14:6 “Laat ons (gelowiges) dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd (van temporale probleme) gehelp te word.”

Ter Afsluiting: Indien mens ‘n deeglike studie van die Skrifte maak, dan word dit duidelik dat daar nie een enkele teksgedeelte is wat bewys dat om die Here aan te roep ‘n vereiste is om van die ewige verderf gered te word nie. In alle opsigte is die term “om die Here aan te roep” ‘n uitdrukking van aanbidding of versoek om hulp met die een of ander tydelike/temporale probleem. Om die Here aan te roep dien as beskrywing van iemand wat alreeds ‘n gelowige is en dus alreeds die ewige lewe deelagtig is, en persone wie alreeds op die Here as God vertrou, Hom wil gehoorsaam en wie Hom alreeds aanbid. Benewens hierdie feite, word niemand ooit in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, aangesê om die Here te bely of Hom aan te roep alvorens daardie persoon wedergebore kan raak nie. Nêrens nie! ‘n Persoon gaan nie die hemel binne omrede hy die Here bely het nie. Die persoon gaan hemel toe omrede hy die Evangelie geglo het. Punt! Om iets te bely beteken dat daar met ‘n spesifieke proposisie saamgestem word, dit as al wat bely op neerkom. Onthou die duiwels weet ook Christus is God, maar hulle raak nie wedergebore nie. Die Evangelie is meer as net om Christus, as God, te bely. (om saam te stem dat Christus God is) Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige[verlede, huidige en toekomstige sondes]) sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou.

Rom.10:9-13 handel dus oor ‘n algemene Nuwe Testamentiese leerstelling wat dit duidelik maak dat daar twee vereistes, na aanvanklike wedergeboorte, is wat vir heiligmaking (fase twee van ons verlossing) en redding van die tydelike/temporale gevolge van sondes vereis word. Eerstens: Om die Here Jesus Christus met die mond te bely. (Saamstem dat Hy God is) Derhalwe moet ons in die openbaar met Hom identifiseer en Hom openlik as God bely. Tweedens: En in daardie opsig moet ons Hom versoek/aanroep om ons met ons probleme, en sondes wat ons na aanvanklike wedergeboorte pleeg, te help. Derhalwe moet ons Hom, as God, vra om ons met heiligmaking te help, sodat ons van die tydelike gevolge van sonde verlos/gered kan word. Hierdie feite sluit by Paulus se vermaning aan wat ons maan om die volle wapenrusting van God op te neem en om altyd te bid.
Ef.6:11 “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges”

Daar is egter slegs een vereiste om wedergebore te word, naamlik geloof in die Evangelie.
Hand.16:3 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” (niks van die Here Jesus Christus in die openbaar te bely nie)
En onthou, genade kan slegs as genade ontvang word, indien daar geen meriete aan die kant van die ontvanger teenwoordig is nie.
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Rom.11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.