Genees

Genees en Genesing tydens die Post Apostoliese Tydperk

Vraag: Vic, jy het my in die verlede so mooi ( Skrif binne konteks) gehelp met Hebr 12:14. Nou het ek weer jou hulp nodig. Het ons as gelowiges dieselfde mag en outoriteit as wat die apostels en hulle legate gehad het om te genees? Skrifte soos Markus 16:15-18. Lukas 10:1-20 en Joh 14:12 word gebruik om te beweer ons as gelowiges het outoriteit en mag om dooies op te wek, siekes te genees ens. Wat beteken mag en outoriteit in die konteks?

Dankie vir jou puik web tuiste, ek het al baie geleer daaruit.

By voorbaat dankie.

Antwoord: Baie dankie vir jou mooi komplement oor die webtuiste, maar alle eer moet die Here toekom, want sonder Hom sou ek nooit hierdie webtuiste kon skryf nie. Ek gaan die verskillende teksgedeeltes waarna jy verwys afsonderlik bespreek, en dan gaan ek een byvoeg wat volgens my mening een van die teksgedeeltes is, wat die meeste as bewys gebruik word, dat ons in die Kerk Dispensasie die outoriteit het om siektes gesond te maak en mens uit die dood op te wek.

Ek gaan eerstens Lukas 10:1-20 kortliks bespreek. Dit is van uiterste belang, dat ons die konteks waarin die Here hierdie opdrag (outoriteit) aan Sy dissipels gegee het, korrek bepaal. Die Here Jesus Christus was op pad Jerusalem toe, met die wete dat Hy daar deur die volk Israel verwerp en gekruisig sou word. Dus het hierdie gebeure voor die kruisiging plaasgevind en daarom vorm dit deel van die Ou Testament. Die Nuwe Testament het in werklikheid met die Here Jesus Christus se dood aan die kruis begin en nie voor die tyd nie. Die konteks waarin hierdie gebeure plaasgevind het, was dus toe die Here Homself aan die Volk Israel, as hulle beloofde Messias, aangebied het. Sou hulle Hom met Sy eerste koms aanvaar het, sou die Messiaanse koninkryk, waarvoor gelowige Jode gewag het, (Luk. 2:25) aangebreek het en sou Jesus Christus die gevalle troon van Dawid weer oprig en vanuit die fisiese stad Jerusalem regeer. Hou hierdie feite ingedagte soos wat ons met die bespreking verder gaan.

Luk 10:1”En ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.”
Die feit dat hierdie ‘n tydelike sending is, word baie mooi uit bostaande teksgedeelte bevestig. Die Kerk dispensasie is nie hier ter sprake nie. Dus was dit die dissipels se plig, om die dorpe wat die Here beplan het om te besoek, vir Sy koms en Sy boodskap aan hulle voor te berei. En wat was die boodskap? Dit was dieselfde boodskap wat Johannes die Doper en die Here Jesus Christus aan die Joodse volk verkondig het, naamlik:
Mat 3:2 “gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Mat 4:17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
Mar 1:15 en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.”
Onthou, die Joodse volk het ‘n aardse koninkryk, in ‘n spesifieke geografiese gebied, soos wat die Here aan Abraham belowe het, en onder bewind van die beloofde Messias, verwag. Binne genoemde konteks het die Here aan hulle die opdrag gegee, om die betrokke stede, met dieselfde boodskap voor te berei.
Luk 10:9 “ En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom”.
Die rede waarom die Here hulle die mag (outoriteit) gegee het om mense gesond te maak en duiwels uit te dryf, was om hulle hoorders te oortuig, dat die boodskap wat hulle verkondig van God afkomstig is.

Boonop het God ook aan hulle ‘n voorsmakie gegee, van hoe hulle die algemene toestande gedurende die Messiaanse Ryk (Duisendjarige Vrederyk) sou beleef, indien hulle Hom sou aanvaar.
Jes 29:18 En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien. 29:19 En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die HERE, en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.
Jes 35:4 Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos. (Die Here Jesus Christus sal Persoonlik met Sy wederkoms, die volk Israel, van gewisse uitwissing, aan die einde van die Groot Verdrukking red) 35:5 Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. 35:6 Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.” (Hierdie wonderwerke van genesing sal ‘n algemene verskynsel, tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus, wees. Maar onthou ons is nog nie in daardie Vrederyk nie, omrede die volk Israel hulle Messias met Sy eerste koms verwerp het!)
Let wel: Die bostaande profesie is spesifiek aan die volk Israel gemaak en nie aan die kerk of enige ander groep mense nie. En daarom sou die Jode van daardie tydperk hierdie profesieë geken het, en indien hulle die tekens gesien het wat die dissipels voor hulle oë gedoen het, moes dit hulle op die feit voorberei het, dat die beloofde Messiaanse Ryk op hande was, net soos wat die Here Sy dissipels voorgesê het om te verkondig. Onthou ‘n koninkryk het ‘n koning nodig, en in hierdie geval was die Koning beskikbaar en op pad om hulle te besoek! Hulle moes Hom net aanneem en van hulle sondes bekeer, sodat Hy Sy Messiaanse Ryk kon oprig. Hierdie dorpe moes in ‘n toestand van gereedheid gebring word, sodat hulle hulle Messias kon verwelkom wanneer Hy die betrokke dorpe besoek. Die Koninkryk was ophande, want die beloofde Messias was op aarde en was reg om Sy Koninkryk op aarde te vestig, indien die volk in Hom sou glo en van hulle sondes bekeer, sodat die volk se gemeenskap met God herstel kan word en Hy hulle in die seëninge van die Messiaanse koninkryk kon inlei. Ons weet egter dat die Joodse volk, as geheel, hulle Messias verwerp het en Hom laat kruisig het, wat tot die slagting van 70nC gelei het.

Die konteks van hierdie hele teksgedeelte handel oor ‘n tydelike opdrag (outoriteit) wat die Here aan Sy dissipels opgedra en dit is verkeerd om hierdie opdragte as ‘n mandaat (outoriteit) vir die Kerk Dispensasie oor te dra. In my mening, is mense wat hierdie opdragte (outoriteit) van die Here op die Kerk dispensasie van toepassing maak, besig om hulle eie leerstellings op die Bybel af te dwing, want hierdie opdragte (outoriteit) aan die dissipels, soos hier gevind, het niks met die Kerk te make nie en het ook voor Jesus Christus se kruisiging plaasgevind. (die Kerk het toe nie eers bestaan nie) Daar is egter baie beginsels wat op die Kerk van toepassing is, wat die vereistes vir getroue dissipelskap insluit, maar nêrens kan vanuit Lukas 10:1-20 afgelei word dat die Kerk ‘n mandaat (outoriteit) het om mense tydens die hele Kerk Dispensasie gesond te maak nie. Lukas 10:1-20 is nie aan die Kerk gerig nie en kan dus nie op die Kerk, as reël, toegepas word nie. Soos uit bostaande bespreking waargeneem kan word, bewys Lukas 10:1-20 nie dat alle gelowiges tydens die Kerk Dispensasie oor die mandaat (outoriteit) beskik om mense te genees en hulle uit die dood op te wek nie. Die opdrag (outoriteit) in Lukas 10:1-20 gevind is aan die direkte dissipels van Christus gegee, en hierdie opdrag (outoriteit) was ‘n tydelike opdrag, (outoriteit) wat in daardie lig bestudeer en toegepas moet word. Die mag en outoriteit wat die Here hier aan die dissipels gegee het, behoort as ‘n tydelike opdrag, en binne daardie raamwerk bestudeer te word, en kan nie na die Kerk Dispensasie oorgedra word nie. Hierdie was ‘n tydelike roeping/opdrag met tydelike outoriteit/magte/opdragte, en die Kerk is glad nie hier ter sprake nie en nêrens word dit gestel dat die kerk as geheel oor hierdie outoriteit (om wondertekens te verrig) sal beskik nie.

Nou vir die bestudering van Joh. 14:12:
Joh 14:12 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”
Onthou dit is altyd raadsaam om Skrif met Skrif te vergelyk, indien mens die Skrifte korrek wil uitlê. Die Bybel stel dit baie duidelik, dat slegs God almagtig is, en in daardie opsig sal niemand werke kan doen wat groter as God sin is nie. Ons sien nie byvoorbeeld dat die Apostels 5000 en 4000 mense met slegs ‘n paar vissies en brode gevoed het nie. So ook merk ons vanuit die Skrifte, dat alhoewel die apostels arm was en soms honger gely het, (1Kor. 4:11) hulle nie op eie inisiatief na die see kon loop en visse met geld in hulle bekke kon vang nie. (Matt. 17:27) Wat het die Here dan bedoel toe Hy die bostaande stelling aan Sy dissipels gemaak het? Die antwoord is eenvoudig! Alhoewel die apostels, as God se skepsele, nie groter werke as Hy in betrekking tot die grote in soort/aard (Eng. kind) kon verrig nie, hulle wel groter werke in omvang (Eng: extend) kon doen. Die apostel Petrus het op een dag meer mense in geloof na die Here gelei, as wat die Here Jesus Christus, in alle waarskynlikheid, in Sy hele aardse bediening gedoen het. Dus sou die dissipels se werke en ryk in omvang groter as die van die Here Jesus Christus wees, want deur hulle is die Evangelie tot so ver as Rome versprei. (Jesus het nooit Rome besoek nie.) En onthou, daar is geen groter wonderwerk as dit, dat ‘n sondige mens, op grond van God se genade, deur geloof alleenlik, wedergebore kan raak nie. So iets sal geen skepsel ooit kon bewerkstellig nie. (Hierdie werk is sekerlik die belangrikste en grootste werk wat die Here Jesus Christus met Sy eerste koms bewerkstellig het!) Slegs God alleenlik, kon Jesus Christus (wat self God is) se voltooide werk aan die kruis bewerkstellig het! Om hierdie teksgedeelte as bewys te gebruik, dat die Kerk die outoriteit het om mense te genees en uit die dode op te wek, en selfs verder te beweer, dat die Kerk oor die outoriteit beskik om groter wonderwerke in soort/aard as God self te kan verrig, is blote wensdenkery en is nie op gesonde Bybel uitleg gebaseer nie. Dit is ‘n geval waar ‘n persoon met ‘n vooropgestelde idee na die Bybel kom, en dan daardie vooropgestelde idee in die Bybel inlees. Die Skrifte, die waarheid, die Kerk se geskiedenis, asook die werklikheid dien as onweerlegbare getuienis, dat die Kerk nie oor die outoriteit beskik om groter wonderwerke, in soort, as God te verrig nie. Joh. 14:12 kan dus nie as bewys gebruik word om aan te dui, dat die Kerk oor die outoriteit beskik, om mense uit die dood uit op te wek of om siek mense gesond te maak nie. Hierdie teksgedeelte moet in konteks van die Hele geopenbaarde wil van God bestudeer word, en dan sal dit sonder enige twyfel vasgestel kan word, dat die Here met die term “werke” die verkondiging van die Evangelie bedoel het. Ek sal later meer oor hierdie stelling uitbrei.

Markus 16:15-18:
Wat is die Kerk se outoriteit of mandaat dan? Kom ons laat toe dat die Here vir Homself spreek:
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. 16:16 Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. 16:17 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, 16:18 slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.”
Let mooi op die frase: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg:” Die konteks waarin die Here hierdie opdrag gegee het, was na afloop van die kruisiging en direk voor Sy Hemelvaart. By hierdie geleentheid, word die opdrag aan persone gegee wat almal alreeds geglo het (Hulle was dus alreeds gelowiges) en hulle het nie nodig gehad om weer in die Evangelie te glo nie. Die tekens wat sou plaasvind, het dus nie die geloof wat die gelowiges alreeds besit het bekragtig nie, maar dit het die boodskap/geloof wat hulle verkondig het, geversifiseer. Dit is uiters belangrik om hierdie feit raak te sien. Maar hoekom was dit nodig dat die boodskap, wat die Apostels en vroeë dissipels verkondig het, deur tekens geversifiseer moet word? Die antwoord is eenvoudig. Die boodskap wat die Apostels en die direkte dissipels van die Here verkondig het, het nuwe waarhede en feite bevat, wat nie voorheen in die Skrifte bekend gemaak is nie, en indien hierdie wonderwerke tussen die aanvanklike hoorders plaas sou vind, sou dit bo enige twyfel aan hulle (die hoorders) demonstreer, dat die boodskap wat aan hulle verkondig word, van God afkomstig was. Onthou die Apostels en die 70 dissipels het alreeds die meeste van hierdie wonderwerke persoonlik beleef en self al voorheen gedoen.
2Ko 12:12 “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.
Heb 2:3 hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, (die Apostels en dissipels wat direk die boodskap by die Here Jesus Christus gehoor het, toe Hy met Sy eerste koms, op aarde was) 2:4 terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?”

Om hierdie rede, is dit logies om te verwag, dat met die voltooiing van die Bybel, (die ses-en-sestig boeke van die Bybel) die nodigheid, om daardie boodskap deur die bevestiging van wondertekens weggeval het, omrede na voltooiing van die Skrifte geen verdere Goddelike openbarings gegee sou word nie, en derhalwe was tekens wat daardie boodskap sou verifiseer nie meer benodig nie. Ons het nou, in die vorm van die Bybel, God se hele openbaring aan die mensdom in ons hande. Daar word nie meer nuwe openbarings gegee nie.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Die Skrifte, soos wat ons dit in ons Bybels het, is al wat ons nodig het om volkome, vir die Christelike lewe, toegerus te wees. Indien die Skrifte (ses-en-sestig boeke van die Bybel) nie genoegsaam was nie, sou die Heilige Gees nie bostaande stelling deur Sy Apostel kon gemaak het nie. Daarom kan met sekerheid gestel word, dat die Here nie meer verdere buite Bybelse openbarings maak nie, en dus het die nodigheid vir bevestigende tekens met die voltooiing van die laaste boek van die Bybel, naamlik die boek Openbaring, tot ‘n einde gekom.

Ons moet ook daarop let, dat die Heilige Gees hierdie gawes uitgedeel het net soos wat Hy wou, en derhalwe is dit verkeerd van ons om hierdie gawes vir onsself toe te wil eien, soos wat ons dit wil hê, en soos wat baie mense poog om dit by ander persone en instansies aan te leer.
1Ko 12:7 “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.12:8 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 12:9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 12:10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.
2:11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.”
Let op die term: “Soos Hy wil.” Nie soos wat ons wil hê Hy moet doen nie. Dit was die Here wat hierdie tekens bewerkstellig het, asook die gawes van die Gees indiwidueel uitgedeel het. Dit kon op geen wyse aangeleer, of deur die bywoning van die een of ander wonderwerk skool/instansie/saal/plek bekom/gekoop word nie.
Mar 16:19 “Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. 16:20 Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.”
Die Apostels en eerste dissipels het hulle outoriteit en opdrag reg verstaan en daarom het hulle die Evangelie gaan preek, en dit was die Here wat hulle prediking, deur die doen van wonderwerke in en deur hulle, bevestig het en net soos wat Hy dit wou doen. En onthou die Here het dit nêrens gestel, dat hierdie tekens tot die einde van die eeu/wêreld/dispensasie sou voortduur nie. Die enigste waarborg wat Hy ons gegee het is dat Hy vir altyd by ons sal wees.

Aanvullend tot bostaande stelling kan Matt. 28:18-20 by Markus 16:19 gevoeg en daarmee saamgelees word. Indien ons hierdie twee teksgedeeltes saam bestudeer, dan word dit duidelik dat die Kerk se outoriteit by die verkondiging van die Evangelie lê, en sodra iemand die Evangelie glo en wedergebore is, daardie persoon as dissipel opgelei moet word, wat met die water doop van onderdompeling behoort te begin. Nêrens sien ons dat die Here die opdrag gee om uit te gaan en mense te genees, of uit die dood uit op te rig, of in vreemde (nie aangeleerde menslike tale) tale te gaan spreek nie.
Mat 28:18 “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. (Alle mag behoort aan die Here Jesus Christus, nie aan die Kerk nie! Ook word alle mag nie hier aan die kerk gegee nie. Hierdie is slegs ‘n stelling van die Here Jesus Christus se outoriteit en op grond van daardie outoriteit stuur Hy nou sy dissipels uit.) 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”
En onthou die Here het dit nêrens gestel, dat hierdie tekens tot die einde van die eeu/wêreld/dispensasie sou voortduur nie. Die enigste waarborg wat Hy ons gegee het, is dat Hy vir altyd by ons sal wees. Indien die tekens tot en met die beëindiging van die Kerk Dispensasie sou voortduur, dan kan ons verseker wees dat die Here hierdie feit duidelik so aan Sy dissipels oorgedra sou het. Hy het egter nie, en het slegs die waarborg gegee dat Hy vir altyd met ons sal wees.

Indien bostaande stellings korrek is, dan behoort daar in die Bybel verdere bewyse gevind te word, wat bostaande stellings, dat die gawe van genesing, asook die Apostoliese gawe van tekens en wonders tot ‘n einde sou kom, staaf. En die Skrifte gee inderdaad diesulke bewyse.
Gal 4:13 “maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het; 4:14 en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus. 4:15 Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.”
Dit is baie opmerklik, dat die krankheid in die vlees, waarna die apostel Paulus hier verwys, heel waarskynlik iets met sy oë te doen gehad het. Self in hierdie vroeë stadium (baie geleerdes beweer dat die brief aan die Galasiërs die apostel Paulus se eerste brief was wat hy geskryf het) wil dit voorkom of Paulus se genadegawe van genesing aan die kwyn was. As verder bewys van hierdie feit, stel die Skrifte dit duidelik, dat die apostel Paulus ook op ‘n latere stadium nie in staat was om sy medewerker Epafrodítus te genees nie.
Fil 2:25 “Maar ek het dit noodsaaklik geag om Epafrodítus, my broeder en medewerker en medestryder, julle afgevaardigde en bedienaar van my behoefte, na julle te stuur, 2:26 want hy het na julle almal verlang en was besorg, omdat julle gehoor het dat hy siek was. 2:27 Want hy was ook siek tot by die dood; maar God was hom barmhartig, en nie hom alleen nie, maar ook my, dat ek nie droefheid op droefheid sou hê nie.”
Dit is opmerklik dat God Epafrodítus moes genees, anders sou hy gesterf het en sou Paulus verdriet op verdriet beleef het. Indien Paulus oor die vermoë beskik het om Epafrodítus te genees sou hy hom in die vroeë stadium van sy siekte genees het, en mens kan met sekerheid aanneem, dat hy nie eers sou wag totdat Epafrodítus by die dood gedraai het alvorens hy hom sou genees nie. Dit is duidelik dat Paulus nie hier die outoriteit gehad het om sy medewerker te genees nie. En die derde bewys dat die gawe van genesing aan die kwyn was, vind ons in 1 Tim. 5:23. Dit is egter belangrik om daardie teksgedeelte afsonderlik aan te spreek, want daar is ‘n paar interessante observasies wat vanuit hierdie teksgedeelte waargeneem kan word.

1Ti 5:23 “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede. “
Dit is opmerklik dat Timoteus ‘n direkte legaat of gesant van die Apostel Paulus was, maar dit het Paulus geneem om sy direkte gesant Timoteus aan te raai om wyn (medisyne) vir sy herhaalde ongesteldhede te gebruik. Vanuit hierdie teksgedeelte is dit baie duidelik dat Timoteus met sy gesondheid gesukkel het en was sy ongesteldheid nie net ‘n eenmalige probleem nie. Mens sou dink dat die Apostel Paulus, sy getroue medewerker en direkte gesant, wat vir hom van baie belang was, lankal sou genees het indien hy oor die outoriteit daarvoor beskik het. Verder sou mens ook kon aanneem, dat Timoteus homself sou genees het indien hy oor die outoriteit of gawe beskik het om homself te genees. Ons merk egter op, dat die Apostel Paulus, Timotheus aanraai om wyn vir sy gereelde ongesteldhede te gebruik, wat bo enige twyfel aandui dat die gawe om te genees by hierdie tyd aan die kwyn was of alreeds heeltemal tot ‘n einde gekom het, anders sou dit nie vir Paulus nodig gewees het om hierdie opdrag aan Timoteus te gee nie. Indien Paulus geglo het dat Timotheus, as sy direkte legaat, oor die outoriteit beskik het om bonatuurlike genesing te bewerkstellig, dan sou hy minstens Timoteus oor hierdie feit moes herinner het en dan sou die raad oor die gebruik, van ‘n bietjie wyn (medisyne) heeltemal onnodig gewees het.

En laastens nog een teksgedeelte wat bo enige twyfel demonstreer, dat die gawe van genesing met verloop van tyd afgeneem en heeltemal tot ‘n einde gekom het.
2Ti 4:20 “Erástus het in Korinthe gebly. Trófimus het ek siek in Miléte agtergelaat.”
Hierdie brief is laat in die Apostoliese tydperk, en in die laaste jare van Paulus se bediening en lewe geskrywe. Ook hier is dit baie opmerklik dat Paulus nie meer oor die vermoë beskik het om mense te genees nie. En daarom moes hy noodgedwonge sy metgesel, siek in Miléte, agterlaat.

Ter Afsluiting: Moet my asb nie verkeerd verstaan nie! Ek glo dat God nog genees. Die vraag wat ons met hierdie studie moet beantwoord, is of God nog deur middel van ‘n tussenganger, in die vorm van ‘n Apostel of ‘n gelowige wat oor die gawe van genesing beskik, genees? Vir so ver dit die apostoliese gawe van genesing aanbetref, stel die Bybel dit duidelik dat die Apostoliese tydperk verby is, omrede die Kerk op die fondasie van die apostels en profete gebou is.
Efs 2:20 “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,”
Die ampte van Apostels en Nuwe Testamentiese Profete bestaan volgens my mening nie meer nie, net soos wat die Bybel dit baie duidelik leer. (Die leser word aangeraai om die artikels “Is die gawe van Profesie nog in werking vandag” asook “ Spreek in vreemde tale” vir ‘n meer in diepte bespreking oor hierdie onderwerpe te bekom.) Die fondasie van die Kerk, naamlik die leerstelling van die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir ons, is dan nou klaar gelê, en met die voltooiing van die ses-en-sestig boeke van die Bybel, is verdere Tekens en Wonders, wat hierdie leerstelling as van God afkomstig bevestig, nie meer nodig nie en daarom het die Here ‘n einde daaraan gemaak. Die Skrifte is dus nou volledig en daarom is die Ampte van Apostels nie meer in werking nie en saam met hierdie feit is die kentekens van ‘n apostel ook nie meer vandag waarneembaar nie.
2Ko 12:12 “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.”
Dieselfde beginsel is op die tydelik gawe van genesing ook van toepassing.

Dus kan dit met sekerheid gestel word, dat die Here nie meer op ‘n bonatuurlike wyse mense genees, waar Hy van ‘n indirekte intermediêre tussenganger (apostel of persoon met gawe van genesing) gebruik maak nie. Met bonatuurlike genesing word bedoel die onmiddellike, oombliklike genesing van ‘n persoon, waar daar absoluut geen twyfel oor die bonatuurlike oorsprong van die genesing is nie. Dus word die normale fisiese en biologiese wette deur God opgeskort of geneutraliseer. Bogenoemde wyse van genesing is egter die enigste metode van genesing waarvan die Here nie meer gebruik maak nie. Hy genees wel vandag nog, deur van ander genesings metodes (natuurlik of bonatuurlik) gebruik te maak.

God genees egter nog soms direk op ‘n bonatuurlike wyse, maar dan maak Hy nie meer gebruik van ‘n indirekte intermediêre tussenganger nie, maar Hy verrig die genesing op grond van ‘n gebedsversoek, of volgens Sy soewereine wil en plan, indien die genesing deel van Sy soewereine plan en doelstellings uitmaak.
Fil 2:25 “Maar ek het dit noodsaaklik geag om Epafrodítus, my broeder en medewerker en medestryder, julle afgevaardigde en bedienaar van my behoefte, na julle te stuur, 2:26 want hy het na julle almal verlang en was besorg, omdat julle gehoor het dat hy siek was. 2:27 Want hy was ook siek tot by die dood; maar God was hom barmhartig, en nie hom alleen nie, maar ook my, dat ek nie droefheid op droefheid sou hê nie.”
Hierdie genesings kan of onmiddellike genesing tot gevolg hê, of God kan die persoon se immuniteitstelsel versterk en daardeur die genesing bewerkstellig, wat dus nie onmiddellike gevolge sal meebring nie, maar die persoon sal eerder oor ‘n tydperk van tyd genees word. Maar dit moet duidelik gestel word, dat die Here nie in die uitvoering van bogenoemde genesings van ‘n indirekte intermediêre tussenganger gebruik maak nie, maar Hy genees eerder direk die aangetaste persoon.

Boonop genees God vandag ook op ‘n indirekte natuurlike intermediêre wyse, deur van chirurgie en medisinale samestellings gebruik te maak, wat deur ‘n menslike agent , naamlik ‘n gekwalifiseerde geneesheer, wat van geneesmiddele soos kruie, medisyne, antibiotika of die gebruikmaking van sy kennis oor die mens se anatomie en die toepassing van chirurgiese kundigheid genesing bewerkstellig. Hierdie persone neem dit wat God geskape het, en maak gebruik daarvan om genesing te bewerkstellig. Hierdie metode van genesing kan nie as bonatuurlike genesing bestempel word nie. Onthou, ‘n wonderwerk vind plaas wanneer die normale natuurlike wette van die fisika of biologie, deur God opgeskort word. (Slegs God beskik oor die outoriteit en mag om buite die wette van fisika en die natuurlike wette op te tree. Die duiwel kan soms, met God se toestemming, hierdie wette manipuleer, maar hy moet dit binne die raamwerk van genoemde wette [natuurlike wette/wette van die fisika] doen, omrede hy ‘n geskape wese is en nie buite God se skepping staan of kan funksioneer nie.) Om hierdie rede is dit uiters belangrik om vir ons geneeshere te bid, sodat die Here hulle sal lei om die regte besluite te neem; die regte inligting en kennis te bekom en dat Hy aan hulle die nodige vaardigheid sal skenk om God se wil in die siek persoon se lewe te bewerkstellig. Boonop moet ons bid en God versoek, om die siek persoon se immuunstelsel te versterk, sodat hy op die geneesmiddels of chirurgie reageer en gesond kan word.

En laastens: “Is dit altyd God se wil om ‘n persoon te genees?” Ek vra hierdie vraag, want ek het nou die dag ‘n preek op YouTube gekyk, waar ‘n gewilde Afrikaanse prediker/geloofsgeneser ‘n teksgedeelte uit konteks aanhaal, en dan as bewys gebruik, dat dit altyd God se wil is om ‘n persoon te genees. Ek haal die gegewe teksgedeelte vir duidelikheidshalwe aan.
Mat 8:2 “en daar het ‘n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. 8:3 Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig.”
Hierdie persoon het bostaande teksgedeelte aangehaal en toe verklaar dat dit altyd God se wil is om siek mense te genees. As dit by gesonde Bybeluitleg kom, moet mens altyd Skrif met Skrif vergelyk, om te verseker dat mens nie ‘n spesifieke teksgedeelte, wat vertellend of beskrywend van aard is, as voorskrywend op die hele Kerk dispensasie van toepassing maak nie. Ons moet altyd spesifieke gebeure, in lig van die hele Bybel, veral waar dit die Kerk Dispensasie aanraak, in lig van die Nuwe Testament, en veral die briewe, wat spesifiek aan die Kerk gerig is, vergelyk om vas te stel of die betrokke leerstelling wat ons verkondig, wel voorskrywend op die kerk as reël toegepas kan word, anders ontstaan die gevaar dat ons woorde in God se mond lê, wat niks anders as dwaalleer is nie en wat daartoe sal lei dat ons ander mense gaan verlei. Die Nuwe Testament, en veral die Briewe, stel dit baie duidelik dat Paulus nie homself kon genees het toe hy Galasie toe gegaan het nie. Verder kon Paulus nie vir Epafrodítus ( Filip. 2:25) genees het nie en hy kon ook nie vir Timotheus genees nie. (1Tim. 5:23) Dan praat ek nie eers van die siektes wat God self op Sy kinders lê, as tugtiging, vir spesifieke sondes in hulle lewens.
1Ko 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
(Die Leser word aangeraai om die artikel “Genesing ‘n Skriftuurlike Perspektief” vir meer inligting rondom hierdie aangeleentheid, te lees) Om te beweer dat Matt. 8:2-3 as bewys dien, dat dit altyd God se wil is om Sy kinders te genees, is ‘n ernstige mistasting wat ernstige gevolge in ‘n persoon se geloofslewe kan meebring! Onthou, alles wat nie op die waarheid, soos wat ons dit binne konteks in die Bybel vind, gebaseer is nie, is niks anders as ‘n delusie nie!

Hierdie studie het dus vanuit die Skrifte gedemonstreer, dat die gelowige wat tydens die Post-Apostoliese tydperk lewe, nie oor die mag of outoriteit beskik om bonatuurlike genesings te bewerkstellig nie. Hierdie outoriteit was slegs op die Apostels wat tydens die Apostoliese Tydperk gelewe het en op gelowiges wat spesifiek die gawe van genesing tydens die Apostoliese Tydperk, as gevolg van die direkte verkondiging van die Evangelie aan hulle deur die oorspronklike dissipels ontvang het, van toepassing. Soos wat die laaste boeke van die Bybel op skrif gestel is, het die Here geleidelik die gawe om te genees onttrek. Ons beskik dus nie oor die outoriteit om genesings op eie wil te bewerkstellig nie en moet dus al ons versoeke aan God rig en Hom vra om genesing in ‘n siek persoon se lewe te bewerkstellig. Ook het hierdie studie gedemonstreer, dat dit nie altyd God se wil is dat ‘n persoon genees moet word nie, en dit kan selfs God se wil vir ‘n persoon wees om siek te wees en selfs van daardie siekte te sterwe. Hy beskik immers oor die outoriteit en mag om oor ons lewens te besluit! En daarom is dit belangrik om ons versoeke vir genesing aan God self te rig, en moet ons nie vir genesing na sogenaamde geloofsgenesers toe gaan nie.
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Seën Groete

Vic