My Vyand se Teëspoed

My Vyand se Teëspoed

Spreuke 24:17 “As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie,
24:18 dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie.”
Hoe dikwels sien mens sommer die lekker op mense se gesigte, as iemand wat hulle nie van hou nie struikel, of in die moeilikheid kom. Al verdien hulle dit, mag ons as Christene nie lekker kry as ons vyande gestraf of teenspoed beleef nie. Dit wys maar net dat die Heilige Gees ons nie beheer nie en daar skort dus iets in ons geestelike lewens, naamlik heiligmaking. Ons moet ook weet, dat om so iets te doen, sonde in God se oë is en soos enige sonde moet dit bely en laat staan word. Indien ons nie hierdie sonde bely en laat staan nie mag die Here dalk besluit om ons ook te tugtig. Soms vat dit jare maar wees verseker, dat sonde wat nie bely en laat staan word nie,  nooit ongestraf sal bly nie. (Dit geld veral vir gelowiges wat God se tugtiging te wagte kan wees omrede God al Sy kinders tugtig sodat hulle Sy heiligheid op aarde aan ander kan reflekteer.) Het die Here Jesus Christus ons dan nie beveel  om ons vyande lief te hê nie? Het Hy nie ons  nie beveel om ons vyande, wat ons vervloek, te seën nie? Dit is ‘n verskriklike mistasting (en sonde) om lekker te kry wanneer enige iemand, insluitende ons vyande, struikel of hulleself in moeilike omstandighede bevind.

Job 3:25 “As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.”
As ons oor ander mense se leed lekker kry, sien die Here dit raak en dit kan gebeur dat juis die ding waarvoor ons vrees oor ons kan kom, net soos wat dit op ons vyand gekom het. Ons sal goed doen as ons dit onthou en liewers iemand bemoedig , al is hy ons vyand. (wys hom eerder die regte pad en verkondig die Evangelie aan hom) Ons moet oor dieselfde gesindheid beskik as wat die Here Jesus Christus op aarde deur Sy lewe aan ons geopenbaar het. Hy het immers vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. (Iets wat ons geensins verdien nie!) Ware liefde kry nie lekker as iemand anders seerkry nie, al mag  daardie persoon ons vyand wees. Onthou die Here is alwetend en Hy weet alles. Dink mooi oor hierdie feite na! Ek het male sonder tal al gesien, waar mense lekker kry wanneer ‘n ander persoon teenspoed ervaar, net om self later ook teenspoed te ervaar. Onbelyde sonde in die gelowige se lewe sal gevolge meebring. Dit is maar net ‘n kwessie van tyd! Onthou die Here waarsku ons in Sy woord dat ons sal saai wat ons maai. God gaan Homself nie laat bespot nie! 
Gal. 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
Kom ons help eerder mense eerder as om lekker te kry wanneer teenspoed hulle oorval! Ons is immer God se kinders en behoort Sy karakter aan die wêreld te reflekteer.  Onthou, God is liefde! 

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.