Persoonlike evangelisasie

Persoonlike Evangelisasie

Seker een van die mees verwaarloosde aspekte van ware dissipelskap is persoonlike Evangelisasie. Dit is ‘n tragedie dat persoonlike evangelisasie so ‘n onbeduidende rol in die meeste moderne kerke van vandag speel. Onthou, ek bedoel nie hier die soeker vriendelike metodes wat deur die Ontluikende Kerk Beweging toegepas word nie. Ek praat hier van die verkondiging van die Evangelie, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, en waar die waarheid van God se woord alleenlik as maatstaf van sukses beskou word en nie getalle, emosies, buite Bybelse openbarings en manifestasies nie.

Dit is nogal interessant, om mense wat mens daagliks mee in aanraking kom, te vra of hulle weet wat die Evangelie is, en of hulle weer op hulle beurt weet hoe om die Evangelie met ander te deel. Ek het al met mense wat ouderlinge in die kerk was gepraat, en met ‘n skok agter gekom dat hulle nie die eenvoudige Evangelie ken nie! Dit is ‘n tragedie, veral in ons land, waar die oorgrote meerderheid mense beweer dat hulle Christene is en waar die Bybel tot die meeste mense se beskikking is. Is dit nie dalk een van die redes waarom ons samelewing so agteruit gaan nie? Dra ons nie maar net die gevolge van ons eie traak-my-nie-agtige houding nie? Wat het dan geword van Jesus Christus se opdrag aan ons om die Evangelie met die hele mensdom te deel?
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Onthou, gekerkte mense is nie noodwendig geredde (wedergebore) mense nie! Almal wat getroue dissipels van onse Here Jesus Christus wil wees, sal op die een of ander wyse by die verkondiging van die Evangelie betrokke moet wees, as ons die Here gehoorsaam wil wees. En onthou, ons almal gaan voor die Regterstoel Oordeel van Christus aan God rekenskap moet gee.
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Die Evangelie is seker een van die grootste en belangrikste gawes en verantwoordelikhede waarmee die Here ons kon vertrou het, en daarom is dit so belangrik dat ons dit met ander deel. Mense se lewens is op die spel! Mag die Here gee dat ons, ons harte sal oopstel vir Sy liefde en genade, sodat ons net so oor die verlore mensdom sal voel soos wat Hy oor hulle voel!
2Pe 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Persoonlike evangelisasie is boonop een van die mees effektiefste metodes van evangelisasie en iets waarin alle gelowiges ‘n bydrae kan lewer. Die Bybel illustreer hierdie waarheid baie mooi. Petrus, wat so ‘n belangrike rol in die vroeë geskiedenis van die kerk gespeel, het is deur sy broer Andreas na die Here Jesus Christus gebring. In dieselfde teksgedeelte sien ons ook hoe Filippus, Natánael na die here gelei het en hierdie voorbeelde is niks anders as persoonlike evangelisasie nie! (Joh 1:35-52) Mens kan maar net wonder of ons ooit van Petrus of Natánael sou geweet het, as hulle nie na Christus gelei was nie. So ook was die bekende evangelis D. L. Moody deur ‘n mnr Edward Kimball na die Here gelei, en het D.L. Moody weer op sy beurt derduisende mense na die Here gelei. Dink maar net watse groot loon hierdie mense by God gaan ontvang, wat hierdie bogenoemde persone aanvanklik na Christus toe gelei het en wat weer op hulle beurt derduisende mense na die Here gelei het. Indien ons ook getrou persoonlike evangelisasie werk doen, dan kan ons ook dalk so ‘n groot siele oes insamel. Onthou die Here is nie ‘n aannemer van die persoon nie en by Hom is daar geen voortrekkery nie. God verwag van ons, om ons gawes te gebruik om Hom te dien. ( Luk 19:12-28. Die gelykenis van die Ponde)

Dit is elke gelowige se plig om persoonlike evangelisasie te beoefen, en indien Jesus se opdrag aan ons getrou uitgevoer woord, sal die wêreld baie spoedig deur die Evangelie bereik word. Dus behoort elke gelowige ongeag van status en vermoë by persoonlike evangelisasie betrokke te wees, want die Here kyk nie na wat ons het nie, maar na die gesindheid van ons harte.
Mar 12:41 “En Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi. 12:42 En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ‘n oortjie. 12:43 Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. 12:44 Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”
Dit help nie ons kla oor hoe goddeloos die wêreld is, as ons nie bereid is om die Evangelie aan die hele mensdom te verkondig nie. Net die Here Jesus Christus kan die mens se hart verander. Die Here kan nie ‘n persoon verander as daardie persoon nie die Evangelie gehoor en geglo het nie.
Rom 10:13 “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 10:14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? 10:15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”

Die voordele van persoonlike evangelisasie:

Persoonlike evangelisasie kan op enige plek uitgevoer word.

Persoonlike evangelisasie kan by ons eie gesin, werk en by ons vriende begin. Daarna kan dit in skole, ouetehuise, gevangenisse, op straat en selfs van huis tot huis gedoen word. Die moontlikhede vir persoonlike evangelisasie is onbeperk. Die internet en sosiale media kan ook baie voordelig aangewend word, en omrede die meeste mense deesdae op die een of ander wyse toegang tot die internet het, is hierdie ‘n veld wat veral deur die introverte onder ons met baie sukses bearbei kan word. Die verspreiding en uitdeel van traktaatjies kan ook onder die vaandel van persoonlike evangelisasie geplaas word. Die Evangelie kan op kennisgewingborde by skole, winkels en besighede opgesit word, asook in posbusse en self in boeke, wat by die biblioteek uitgeneem is, gelos word. Weereens is die opsies basies onbeperk.

Persoonlike evangelisasie kan deur enige iemand gedoen word.

Die Heilige Gees het nie aan almal die gawe om te preek of ander mense te leer gegee nie, maar dit is nie te sê dat ons geensins met persoonlike evangelisasie besig moet wees nie, al het ons nie die spesifieke gawe as evangelis ontvang nie. Die persoon wat op die een of ander manier huis gebonde is, kan nog steeds die Evangelie met ander oor die internet of ter brief deel. Gelowiges wat bedlêend was of wat in die hospitale opgeneem is, het ook al baie keer met hulle persoonlike getuienis mense vir die Here gewen. Huisvrouens kom in aanraking met winkeliers en persone wat agter toonbanke werk en hulle het dus ‘n gulde geleentheid om persoonlike evangelisasie te doen. Veral as hulle ‘n heilige lewenswandel handhaaf en leef wat hulle glo. Daar is niks so mooi as ouers wat hulle kinders vir die Here grootmaak nie, en ook hier speel persoonlike evangelisasie ‘n groot rol!

Ook is persoonlike evangelisasie nie van status of finansiële vermoëns afhanklik nie. Die gelowige tuinier kan sy ongelowige werkgewer, deur persoonlike evangelisasie, na die Here bring. Kyk maar wat het die Here met die vyf brode en twee vissies gedoen, wat ‘n seuntjie bereid was om tot Sy beskikking te stel. Net soos wat Jesus Christus meer as vyfduisend mense met die seuntjie se gawe die broodjies en vissies kon voer, kan Hy ook die gawes waaroor ons beskik en wat ons aan Hom gee, vermeerder om Sy doel met ons lewens te bereik, solank as wat ons harte maar net opreg is. (Joh 6:3-13) R A Torrey vertel van ‘n arm dogtertjie wat op haar sterfbed gelê het, en wat met haar goddelose dokter oor die Here gepraat het, iets wat ander mense nie noodwendig die geleentheid voor gekry het nie. Dink maar net hoeveel geleentheid vir persoonlike evangelisasie het ‘n onderwyser, wat honderde kinders per dag sien, en wat van die gelowige tronkbewaarder, verpleegster , winkel toonbank assistent om nie eers te praat van die ryk besigheid eienaar en welaf boer met baie werkers onder hom nie. Die dissipels was nie uitsonderlike persoonlikhede nie, maar kyk maar wat het die Heilige Gees deur hulle verrig gekry, net omdat hulle gewillig was om Jesus Christus getrou te volg en te gehoorsaam. Dieselfde beginsel geld vir ons. Ons moet Gees vervulde lewens lei en dan sal die Here ons mildelik kan gebruik. Die leser word aangeraai om die artikel “ Word met die Gees vervul” te lees.

Persoonlike evangelisasie kan enige tyd gedoen word

Daar is geen tyd wat nie die regte tyd vir persoonlike evangelisasie is nie. Die Here kan ons omstandighede so bewerk, dat ons onsself moontlik na ure by ‘n hospitaal bevind en daardeur ‘n goeie geleentheid kry om van Sy liefde en genade te kan getuig. Ek weet dit het al met my gebeur! Baie mense is bedlêend en huis gebonde en kan nie noodwendig uitkom om kerk toe te gaan nie. Hierdie mense is dan ook soms uitgehonger vir geselskap en sal te bly wees om ‘n nie besoeker te ontvang wat God se woord met hulle deel. Die Here kan in Sy soewereiniteit sake so bewerk, dat ons onsself saam met ‘n ongelowige op die vliegtuig of op die bus bevind, en dan is daardie spesifieke moment dus die ideale geleentheid vir persoonlike evangelisasie. Ons sal nooit weet of so ‘n geleentheid dalk die laaste geleentheid vir daardie persoon is om die Evangelie te hoor, alvorens hy tot sterwe kom nie! Ons moet daarteen waak om enige tydsbeperking op persoonlike evangelisasie moontlikhede te plaas. Weereens moet ons toelaat dat die Heilige Gees aan ons die nodige leiding gee, en daarom is dit belangrik dat ons in ‘n noue verhouding met die Here leef en Gees vervulde lewens lei. So in kort kan dit gestel word dat enige tyd die regte tyd vir persoonlike evangelisasie is, net solank as wat dit onder leiding van die Heilige Gees geskied.

Persoonlike evangelisasie kan slaag waar ander metodes misluk het.

Baie mense bevind hulleself in kerke waar die Evangelie nie duidelik verkondig word en waar daar self ‘n valse evangelie verkondig word. Hierdie mense glo vas dat hulle wedergebore is, terwyl dit nie in werklikheid die geval is nie. Baie ander is verlei en hulle kom dit nie eers agter nie. Vir hierdie rede alleen is dit van uiterste belang dat ons die Evangelie ken en weet hoe om dit met ander te deel. Daar moet nie net aangeneem word dat ‘n persoon wedergebore is net omdat hy homself as ‘n Christen voorstel nie.

Persoonlike evangelisasie is persoonlik en tref maklik die merk.

Omrede die baie preke wat vandag gelewer word aan redelike groot gemeentes gelewer word, is dit nie so persoonlik soos interpersoonlike evangelisasie nie. Iemand mag dalk nie verstaan wat die prediker verkondig nie, en het dan ook nie noodwendig die geleentheid om te vra dat die preek gestop en dat, wat die pastoor preek, eers aan hom verduidelik moet word, alvorens met die preek voortgegaan word nie. By persoonlike evangelisasie bestaan hierdie probleem nie, en kan die soekende persoon se vra onmiddellik beantwoord word. Dit sal daartoe lei dat die persoon sekerheid oor sy redding kan ontvang, en sal onnodiglike verwarring en vrees uitgeskakel word.

Selfs na wedergeboorte is interpersoonlike werk baie belangrik, want dit sal enige onduidelikhede uitskakel en die Evangelie en die daaropvolgende lewe van heiligmaking baie mooi in die lig van God se woord uitbeeld. Indien daar persoonlike aspekte in die persoon se lewe is, wat aandag moet kry, is interpersoonlike werk die oplossing hiervoor en word daar verhoed dat sensitiewe inligting onnodiglik uitgeblaker word. ‘n Persoon wat byvoorbeeld met ‘n spesifieke sonde sukkel, sal baie makliker sy probleem in ‘n persoonlike gesprek, met iemand, wat hy ken en vertrou, bespreek as met die gemeente of Bybelstudie groepie as geheel. Met persoonlike opvolgwerk kan al die geestelike behoeftes van ‘n persoon een vir een aangespreek word, wat weer daartoe sal lei dat die persoon in baie gevalle vinniger tot geestelike volwassenheid groei.

Persoonlike evangelisasie kan groot resultate lewer.

Dink maar net daaraan, as elke gelowige wat God se Naam bely , self uitgaan en persoonlike evangelisasie doen, watter groot inpak dit nie op daardie gemeenskap ,waarin daardie persoon homself bevind, gaan hê nie. Die kultusse soos die Jehova Getuies en ander groepe lê juis baie sterk klem op persoonlike evangelisasie, en daarom is baie van hierdie groepe se getalle besig om toe te neem, terwyl ware gelowiges se getalle besig is om te af te neem.

Ter Afsluiting: Baie gelowiges het ‘n begeerte om vir die Here te werk, maar hulle weet nie altyd hoe om te begin nie. Die geheim is om net daar te begin werk waar die persoon homself ook al in die lewe mag bevind. Hy moet by God se opdrag aan ons, om die Evangelie te verkondig, begin en getrou ‘n siele wenner wees. Om suksesvol in hierdie taak te wees, moet die persoon ‘n noue persoonlike verhouding met die Here handhaaf, en moet hy oor ‘n werkende kennis van die Bybel beskik en daarom is dit so belangrik dat die Bybel bestudeer word. (verkieslik daagliks)
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

God is liefde, maar Hy is ook waarheid, en daarom speel hierdie twee beginsels so ‘n belangrike rol in enige verhouding met God! Ons moet soekers van die waarheid wees en ons moet nie bang wees om teen die stroom van tradisies en menslike menings op te swem, as daar bevind word dat ‘n optrede of leerstelling met die Bybel in botsing is nie. Die Here sal altyd iemand wat Sy woord (die Bybel) ernstig opneem en daarvolgens lewe eer en gebruik. Dit is ‘n hartseer feit, dat ‘n baie groot deel van die belydende Christendom nie meer die Bybel as God se finale gesag aan die mens eerbiedig nie. Dit lei daartoe dat gedeeltes van die Bybel as mites afgeskryf word en ander moet weer van buite Bybelse profesieë, gevoelens en visioene gebruik maak om hulle leerstellings, wat met die Bybel in botsing is, te regverdig en dit terwyl die Bybel geïgnoreer en verdraai word. Hierdie mense gaan hulle loon ontvang, maar dit gaan nie wees soos wat hulle verwag nie. Soek en pas die waarheid, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, toe en demonstreer hierdeur dat jy ‘n getroue volgeling van die Here Jesus Christus is. Lees asb die artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” asook “Bekering Geloof en die Ewige Lewe” “Om ‘n beter kind van God te wees” en laastens “Heb 12:14 en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” vir meer inligting.

Indien ons graag God se wil wil doen, dan sal ons daadwerklik die aanvanklike stappies moet neem en die bietjie hulpmiddele wat ons ook al mag besit vir Sy werk inspan. Die Here ken ons harte, en Hy sal aan ons alles verskaf wat ons ook al nodig sal kry, solank as wat ons Sy opdragte getrou uitvoer. Hy kan ook deure, wat ons nie eers van bewus is nie, open sodat ons Hom tot nog ‘n groter mate kan dien, maar dan moet ons ons getrouheid demonstreer en uitleef met dit wat die Here alreeds aan ons gegee het. En om eerlik te wees, ons almal het iets, al is dit net ons bereidwilligheid. En onthou elke treetjie wat gegee word, moet onder lyding van die Heilige Gees geskied. En Bid! As Jesus, wat God is, dit nodig geag het om tot Sy Vader te bid, hoeveel te meer nie ons wat maar net feilbare mense is nie!!
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Onthou in God se oë tel die werk van siele wen baie meer, as die posisie van president, direkteur van ‘n groot maatskappy of enige ander amp wat die wêreld so graag, as ‘n teken van sukses, aan ons wil voorhou. Onthou, God gaan ons beoordeel en nie die wêreld nie. Hierdie wêreld is aan die verbygaan! Ons almal behoort na persoonlike evangelisasie te streef, want dit is wat werklik op die einde van die dag gaan saak maak! En watse groot vreugde is daar nie as een persoon wedergebore raak nie! Mag die Here ons hiermee help!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.