geloof

Geloof sonder werke is dood? Jak 2:14-26

Jakobus 2:14-26 is seker een van die teksgedeeltes wat die meeste verwarring vir gelowiges veroorsaak en dit is ook ‘n teksgedeelte waarmee baie teoloë in die verlede geworstel het. Daarom is dit ook nie vreemd om te verneem dat die Rooms-katolieke Kerk hierdie teksgedeelte as bewys gebruik, dat hulle leerstellings van geloof plus werke (werke evangelie) korrek is en dat die protestante reformasie verkeerd is as hulle verkondig dat die mens alleen deur geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis geregverdig word. (Ware Evangelie)

Ander teoloë veral in die gereformeerde tradisie beweer dat reddende geloof altyd werke te voorskyn sal bring, en indien daar geen werke by ‘n persoon bespeur word nie, dit as bewys dien dat die persoon nie werklik reddende geloof gehad het nie en dus nooit wedergebore geraak het nie. Ook hierdie siening het probleme en veroorsaak onnodige vrees by gelowiges, veral as hulle nog nuut in die geloof is en as hulle geloof nog nie verder ontwikkel het nie.

Baie ander mense beweer ook dat Paulus se siening van geloof sonder werke bots met Jakobus se siening, dat geloof met werke gepaard moet gaan, alvorens ‘n persoon as gered en as ‘n ware gelowige bestempel kan word. Met hierdie artikel sal gepoog word om te bewys dat daar geen botsing tussen Paulus en Jakobus se leerstellings is nie en dat ‘n persoon alleenlik deur genade op grond van geloof alleen, sonder enige werke, gered word. Daar sal ook gepoog word om te demonstreer dat die geloof waarvan Jakobus in Jak 2:14ff  verwys, geloof van ‘n wedergebore gelowige is en nie van iemand wat vir die eerste keer tot geloof in Christus kom nie, en dat dit ook nie slegs ‘n intellektuele aksent van die persoon se kant af is nie. Verder sal gedemonstreer word dat die geloof waarna Jakobus hier verwys nie die finale bestemming (hel of hemel) van die gelowige ingedagte gehad het nie, maar dat hy die gelowige se produktiwiteit en voordeel aan ander gelowiges in hierdie lewe ingedagte gehad het. Dus is Jakobus se doelstelling gewees om gelowiges so ver te kry om hulle geloof deur middel van goeie werke uit te leef, en dat die gelowiges nie werke as onbelangrik moet afmaak nie. En laastens sal gedemonstreer word dat Jakobus en Paulus in volkome harmonie met mekaar is en dat altwee bevestig, dat forensiese regverdiging voor God (wedergeboorte) op grond van geloof alleen in Christus alleen plaasvind, en dat regverdiging op aarde voor mense (praktiese leefwyse op aarde) deur geloof wat met werke gepaard gaan, gedemonstreer word.

Voor dat ons met hierdie studie begin, gaan ons eers gou die drie fases van ons verlossing kortliks opsom, omrede die begrip daarvan ons met die verdere verstaan van ons onderwerp sal help. Verder sal daar ook gepoog word, om eerstens die konteks van Jakobus se brief te bepaal, om vas te stel met wie en van watter fase van ons verlossing hy praat. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “drie fases van verlossing” te lees. Die leser moet ook mooi verstaan, dat die dood in die Bybel, nooit na totale uitwissing van die bestaan van ‘n persoon verwys nie, maar wel na ‘n skeiding tussen die siel en gees van die persoon met sy liggaam, wat as dood in die graf gelê word. Die persoon se gees en siel leef bewustelik na sy dood of in die Hel of in God se teenwoordigheid in die hemel voort. (Onthou hierdie feit) Die tweede dood, of geestelike dood, verwys altyd na ‘n persoon wat van die teenwoordigheid van God geskei is en is daar dus geen sprake dat die persoon ooit ophou bestaan nie.

Vervolgens ‘n kort opsomming van die drie fases van geloof.

Fase een: Regverdiging of Wedergeboorte by die oomblik van geloof in die Evangelie sonder enige werke. Dus geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis plus niks!! Waar daar met gelowiges in die Bybel gespreek word, word daar altyd na hierdie fase as iets wat in die verlede plaasgevind het verwys en reflekteer die tydvorm wat gebruik word ook dan hierdie waarheid. (Titus 3:5; Hnd 16:31 ens) Die mens het geen aandeel in hierdie fase nie, behalwe deur om die Evangelie te glo en dit is God wat die gelowige op grond van sy geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis regverdig verklaar.

Fase twee: Of heiligmaking fase. In hierdie fase word die verloste persoon bevry of verlos van die houvas wat sonde op sy huidige lewe, op hierdie aarde na wedergeboorte, het. Die Heilige Gees lei die gelowige om met alle bewuste sondes in sy lewe te breek, en Hy verskaf ook die krag om hierdie doel te bereik, en staan die gelowige ook in die hele proses by. Dus moet die gelowige in die teenswoordige tyd met heiligmaking besig wees en reflekteer die tydvorm (Teenswoordige tydvorm) wat na hierdie fase verwys ook hierdie waarheid. (1 Kor 1:18; Jakobus 1:21) In hierdie fase word daar samewerking van die alreeds verloste persoon verwag. Dus het die , alreeds verloste persoon, ‘n aandeel met die heiligmaking fase.

Fase drie: Of verheerliking fase en vind met die wegraping plaas, wanneer die gelowige sy verheerlikte liggaam ontvang om vir ewig in God se teenwoordigheid te leef. Met hierdie fase word die verloste persoon finaal van sy sonde natuur geskei of verlos en sal hy nooit weer kan sterwe nie, omrede hy glad nie meer sal kan sondig nie. Hierdie fase lê dus nog in die toekoms, en daarom word die toekomstige tydvorm gewoonlik in die Bybel gebruik as daar na hierdie gebeurtenis verwys word. (Heb 9:28; Fil 3:20-21) Net soos met die eerste fase, het die verloste persoon geen aandeel in die verheerliking fase nie, en doen God al die werk. Slegs as fase drie van ons verlossing afgehandel is sal ons vry van fisiese dood en siekte wees. Wanner ons dus die Skrifte bestudeer is dit belangrik om altyd te bepaal na watter fase van ons verlossing enige gegewe teksgedeelte verwys.

Nou kom ons by die konteks van die brief van Jakobus, en daarom gaan daar eerstens ‘n paar teksgedeeltes bespreek word, om vas te stel met wie Jakobus in sy brief praat en hoekom dit duidelik is dat hy met wedergebore Christene praat.

Kom ons stel eers die probleem duidelike en dan bespreek ons die oplossing.
Jak 2:14 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?”
Indien ons die woord “red” as redding of verlossing van die ewige verderf verstaan en dan die teksgedeelte formuleer en tot sy logiese slotsom neem, dan wil dit blyk of geloof sonder werke ‘n persoon nie van die ewige verderf kan red nie, en dat geloof met werke saam moet gaan alvorens daar gesê kan word dat ‘n persoon wedergebore en dus gered is.

Dus:
Stelling 1: Geloof sonder werke kan nie red nie.
Stelling 2: Die woord “red” beteken om van die ewige verderf gered te word.
Gevolgtrekking: Geloof sonder werke kan nie ‘n persoon van die ewige verderf red nie. As Jakobus dus die ewige verderf ingedagte gehad het, toe hy hierdie teksgedeelte geskryf het, wil dit dan voorkom asof die leerstelling van geloof sonder werke nie ‘n persoon van die ewige verderf kan red nie, en dit wil ook verder voorkom asof hierdie leerstelling die Rooms-katolieke leerstelling van geloof plus werke as waarheid bevestig. Verder sal dit ook wil voorkom, asof Jakobus ‘n werke evangelie verkondig wat in botsing is met wat Paulus verkondig het, naamlik dat ‘n persoon slegs deur geloof sonder enige werke gered word.

Baie teoloë, in hulle poging om die leerstelling van redding deur genade alleen, deur geloof alleen, sonder werke te verdedig, beweer dan dat as ‘n persoon nie sigbare werke in sy lewe voortbring nie, die persoon nie werklik reddende geloof gehad het nie, want reddende geloof sal altyd tot goeie werke lei. Die intellektuele aksent verskoning word dan gebruik as bewys dat die persoon net saam met die feite van die Evangelie stem, maar dit nie in werklikheid glo nie. Maar ook hierdie siening skep ernstige probleme, asook onnodige onsekerheid by gelowiges, omdat hulle nooit werklik seker kan wees of hulle genoeg geglo het nie, en hulle sal ook altyd twyfel of hulle genoegsame werke voortgebring het, as bewys dat hulle oor werklike geloof beskik het. Hierdie leerstelling veroorsaak ook maar net weer dat ‘n persoon op sy werke staatmaak om hom in die Hemel te kry, omdat hy deur sy werke wil bewys dat hy reddende geloof het. Indien toegewydheid aan Jesus Christus, die kruis opneem en Jesus navolg en volkome van sonde af weg te draai en ander goeie werke en vereistes by eenvoudige geloof as vereiste vir bewys van wedergeboorte gevoeg word, sal die persoon nooit weet of hy die vereistes genoegsaam nagekom het om gered te word nie. Dus werk hy ook maar net weer vir sy redding! En wat dan van gevalle soos Lot, wat in die Nuwe Testament in 2 Pet 2:7 as ‘n regverdige man bestempel is, maar wat so ver as wat ons weet geen goeie werke voortgebring het, as bewys dat hy ‘n gelowige was nie. Inteendeel, hy het baie wêrelds opgetree. Dit is ook verder baie duidelik dat werklike gelowiges nie ten alle tye goeie werke voortbring nie. Dus is dit uiters misleidend om ‘n persoon se verlossing op die basis van sy werke te beoordeel!

Hierdie siening bots verder lynreg met Jesus Christus se eie beloftes, asook die versekering wat deur Sy apostels gegee is.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
1Jo 5:9 As ons die getuienis van die mense aanneem—die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het.
5:10 Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.
5:11 En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun.
5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.
5:13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
In bostaande teksgedeeltes, asook baie ander in die Bybel, word daar niks gesê van watter tipe of hoeveel geloof nodig is nie, maar net dood eenvoudige geloof. Onthou die meriete of waarde van ons geloof is nie in ons geloof self gesetel nie, maar in die objek of voorwerp waarin ons glo. In die geval van die gelowige is dit Jesus Christus as God self, en daarom kan ons geloof nie misplaas wees nie, en het ons sekerheid, dat indien ons in Hom glo, Hy ons sal verlos. Lees asb die artikel “Die objek van geloof” en “om wedergebore te word” vir meer inligting oor hierdie onderwerp.

Gewapen met al die bogenoemde feite, gaan ons nou na die teksgedeelte van Jak 2:14-26 en ons begin by vers 14.
Jak 2:14 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?”
Opmerking: Dit is baie duidelik dat Jakobus twee vra aan gelowiges rig, wat alreeds wedergebore is, en dus in die geloof is. Dus verwys hy na gelowiges wat alreeds in fase twee (heiligmaking fase)van hulle verlossing is en nie in fase een nie. (oomblik van aanvanklike geloof en wedergeboorte) Soos verder gedemonstreer sal word, is dit baie duidelik, dat die hele brief van Jakobus aan gelowiges gerig is, en is die doel van die brief nie om die Evangelie te verkondig nie (Want sy gehoor is alreeds wedergebore) maar om hulle in hulle geloof te versterk en aan te moedig om tot geestelike volwassenheid te groei. Soos ons sal sien, maak die konteks hierdie feit baie duidelik en derhalwe sal daar na ‘n paar teksgedeeltes verwys word om hierdie stelling te staaf.

Jak 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,”
Onthou Jesus Christus se stelling dat net die persone wat die Vader se wil doen Sy broers en susters is. (Luk 8:21) En wat is die wil van die Vader? Dit is dat ons in Sy Seun glo wat Hy gestuur het. (Johannes 6:29. Geloof sonder enige werke!) So die mense wat Jakobus aanspreek, is alreeds broeders in die geloof, wat hulle in fase twee van hulle verlossing bevind, anders sou hy hulle nie broeders kon noem nie. (net ware gelowiges kan as broeders aangespreek word)

Jak 1:3 “omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.”
Weereens word mense wat alreeds geloof het hier aangespreek, omdat ‘n persoon wat geen geloof het se geloof nie op die proef gestel kan word nie, want hy het dan nooit eers geglo nie. Weereens is dit duidelik dat Jakobus met gelowiges praat, wat hulleself in fase twee van hulle redding bevind. (Heiligmaking Fase)

Jak 1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
In bogenoemde teksgedeelte bemoedig Jakobus gelowiges wat onder versoeking is aan. Die kroon van die lewe wat hy na verwys, is die kroon van die lewe, wat sommige gelowiges by die Regterstoel Oordeel van Jesus Christus sal ontvang, omdat hulle versoekings weerstaan het. Net ware gelowiges sal voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn en nie ongelowiges nie. Hulle kan wel moontlik hulle kroon as loon verloor, maar hulle kan nie verlore gaan nie. Lees asb die artikel “Hemelse krone, loon en goeie werke” vir meer volledige besonderhede oor hierdie aangeleentheid. Dus is dit weereens duidelik dat Jakobus, met gelowiges wat alreeds in fase twee van verlossing is, (heiligmaking fase) praat en nie ongelowiges nie.

Jak 1:18 “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring (Fase een , wedergeboorte, verlede tydvorm) deur die woord van die waarheid, (Die Evangelie) sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees”. (Fase twee, Heiligmaking fase, dus gelowiges)

Jak 1:21 “Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante (Verlede tydvorm) woord, wat in staat is om julle siele te red.”
Te red van wat? Onthou die woord red kan betrekking op verskillende onderwerpe hê en nie net red van die verderf, soos wat gewoonlik verkeerdelik in meeste teksgedeeltes ingelees word nie. Dus moet die vraag gevra word: “Red van die ewige verderf of van die houvas van sondes op ons lewens?” (Fase een of fase twee?) Vir die antwoord op hierdie vraag, moet ons na die konteks waarin die woord “red” in hierdie skrifgedeelte gebruik word, gaan kyk. As ons na die teksgedeelte kyk, sal opgemerk word dat Jakobus met gelowiges praat, want hulle word aangesê om met sagmoedigheid die ingeplante woord (Verlede tydvorm! So hulle het alreeds die Evangelie gehoor en geglo) te ontvang wat in staat sal wees om hulle siele te red. (hulle moet dus sy woorde van aansporing in hulle harte inneem om vrugbaar in hulle geestelik lewens te wees en die houvas wat sonde op hulle lewens het te verbreek) Dus, nie van die verderf nie, maar van die houvas wat sonde daarop het, naamlik vuilheid, boosheid ens. (Fase twee van ons redding, naamlik die heiligmaking fase. Let daarop dat die gelowiges hulle samewerking in die proses moet gee {fase twee}. Met wedergeboorte {fase een} het ons geen aandeel nie en daarom is dit duidelik dat fase twee hier die fokuspunt is)

Jak 1:22 “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”
Onthou ons word op grond van ons geloof alleen gered, maar is veronderstel om met heiligmaking saam te werk, soos wat Jakobus dit hier duidelik stel. Ons moet nie net hoorders van die woord wees nie maar ook daders. (Fase twee, Heiligmaking fase) Hierdie teksgedeelte sal later verder bespreek word.

Jak 2:1 “My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie.”
Dit is duidelik dat hierdie mense alreeds gelowig is en dat fase twee hier betrekking het.

Dit is dus baie duidelik, dat die konteks van die brief van Jakobus nie met verlossing van die verderf te doen het nie, maar met heiligmaking, en praat hy met gelowiges wat alreeds die Evangelie geglo het en wat besig is met fase twee, naamlik heiligmaking. Daarom is dit ook baie duidelik dat Jak 2:14ff nie beteken dat die gelowige nooit gered was nie.
Jak 2:14 ff “Dié geloof kan hom tog nie red nie?”
Ook hier moet die vraag gevra word, naamlik red van wat? Soos reeds gesien, handel die hele brief tot op hierdie punt oor heiligmaking en nie oor wedergeboorte nie. Die antwoord is dus baie duidelik. Die antwoord is: “Red van die houvas van sonde in die gelowige se aardse bestaan (fase twee), in hierdie geval die sonde van omissie, net soos wat Jakobus dit in die hieropvolgende teksgedeeltes duidelik gaan stel. As ons die konteks en die drie fases van ons verlossing mooi verstaan, sal ons opmerk dat Jakobus en Paulus nie in botsing met mekaar is nie, maar dat die twee se leerstellings soos ‘n legkaart by mekaar inskakel. Paulus praat van wedergeboorte (fase een) en Jakobus praat van heiligmaking (fase twee). Onthou hierdie feit soos wat ons deur die res van die artikel werk. In Jakobus se brief wil hy die gelowiges kry om hulle geloof tot ander gelowiges op ‘n praktiese manier uit te leef d.m.v goeie werke en nie net goeie woorde nie!!

Jak 2:15 “As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het,
2:16 en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?”
Opmerking: Hier moedig Jakobus medegelowiges aan om praktiese werke by hulle geloof te voeg om sodoende ‘n medegelowige, wat aan die nodige lewensmiddele kortkom, met praktiese hulp by te staan en nie net die broeder met mooi woorde te seën en niks doen om sy huidige situasie te verlig nie. Dus is dit duidelik dat hy met gelowiges praat, wat in fase twee van hulle verlossing is, en nie met ongelowiges nie! Mooi woorde gaan nie ‘n gelowige wat honger en koud kry se smarte verlig nie, maar praktiese optrede van voedsel verskaf en kleding voorsien gaan die broeder se lot verlig. Ons as gelowiges is veronderstel om goeie werke by ons geloof te voeg, sodat ons die mensdom om ons tot seën kan wees en nie net vir onsself leef nie. In hierdie paragraaf bespreek Jakobus dus die geloof van ‘n gelowige (alreeds verloste persoon) en is die geloof in die Evangelie (fase een, wedergeboorte) nie hier die fokuspunt nie. Onthou, bly in konteks!

Jak 2:17 “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”
Opmerking: Onthou, soos reeds duidelik gestel, is dood in die Skriftuurlike sin nooit totale uitwissing of totale nie bestaan nie, maar skeiding. Om volgens die Skrifte geestelik dood te wees is om van God geskei te wees en is daar geen sprake dat die persoon se gees glad nie bestaan nie. Fisiese dood is wanneer die siel en gees van die persoon van sy liggaam geskei is, en is daar geen sprake dat die persoon se siel en gees nie bewustelik voortbestaan nie. Die tweede dood is dus geestelike dood, wat tot in ewigheid strek en wat nooit ophou nie, en dus is daar ook geen sprake dat die persoon nie bewustelik sal voortbestaan nie. Dus wanneer ‘n persoon tot sterwe kom, animeer sy gees en sy siel nie meer die persoon se liggaam nie, omdat die siel en gees die liggaam verlaat het en daarom is die fisiese liggaam lewensloos en om hierdie rede word daar gesê dat die persoon gesterf het. In presies dieselfde sin, verwys Jakobus na geloof, wat as dit nie deur die gelowige met goeie werke prakties uitgeleef word nie, ook in daardie sin van God se bedoeling geskei is en dus as dood beskryf word.

Dus het die gelowige geloof om gered te word, maar omdat hy sy geloof nie met praktiese goeie werke laat saamwerk, om ander mense tot voordeel te strek nie, is die gelowige se geloof van God se doelstelling daarvoor geskei. Dus is daar geen botsing tussen wat Paulus in Efs 2:8-10 verkondig en wat Jakobus hier verkondig nie.
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Let op die woord “Tot goeie werke” Wedergeboorte ontstaan nie deur goeie werke nie, maar tot goeie werke. Dit is God se doel met ons lewens na wedergeboorte! (Fase twee, Heiligmaking) Dus net soos wat ‘n fisiese liggaam sonder die gees en siel hom nie in hierdie materiële wêreld van ons kan uitdruk nie, so kan geloof wat alhoewel dit bestaan, tot geen nut vir die mensdom strek as nie deur goeie werke uitgeleef word nie. Dit is dus nie ‘n kwessie dat daar geen geloof bestaan nie, maar dit is net van God se doel daarvoor geskei en is dus nutteloos vir ons medemens. Nog net een teksgedeelte wat hierdie feit duidelik uitbeeld.
Titus 3:5 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees
3:6 wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser;
3:7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.
3:8 Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.”
Paulus en Jakobus is dus in volkome harmonie en daar is absoluut geen weerspreking tussen die twee nie.

Jak 2:18 “Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.
2:19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”
Opmerking: Op hierdie stadium van sy brief stel Jakobus ons aan ‘n fiktiewe persoon voor wat as Jakobus se ondersteuner optree en sy stelling maak naamlik:
Vers 18: “jy het geloof sonder werke en ek het die werke wat my geloof demonstreer. Wys of demonstreer jou geloof (aan die mensdom) sonder jou werke (dis onmoontlik, geloof sonder werke kan nie deur mense gesien word nie)) en ek sal my geloof demonstreer (aan mense) deur my werke (werke is waarneembaar en daarom kan dit geloof aan mense demonstreer)
Vers 19: “ Jy glo dat daar net een God is. monoteïsme Dit is goed!
“Die demone glo dit ook, (monoteïsme, kan deur mense en demone geglo word, sonder dat hulle enige voordeel daaruit kan trek. Dit is nie die Evangelie nie.) en (daarom) sidder hulle. (die demone)

Jak 2:20 “Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?”
Opmerking: Jakobus sluit nou aan by sy bondgenoot en hy spreek die gelowige, wat nie sy geloof op ‘n praktiese manier uitleef nie, aan. Dus bevestig Jakobus net wat in vers 17 alreeds gestel is, en dit is die feit dat geloof wat nie in werke uitloop nie, geskei is van God se doel daarmee en daarom is dit waardeloos, soos ‘n dooie mens wat se siel en gees hom verlaat het en is dus nutteloos en niemand vind baat by so ‘n geloof nie. Onthou ons praat van ‘n gelowige wat reeds verlos is, maar wat se geloof nie deur goeie werk uitgeleef word nie. (fase twee van verlossing) Petrus waarsku ook teen onvrugbare gelowiges en gaan so ver as om te beweer dat sulke gelowiges vergeet het dat hulle van hulle ou sondes gereinig is (Fase een van verlossing) en dat hulle in fase twee van verlossing is en dus geestelik moet groei.
2Pe 1:8 “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;
1:9 want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.”
Hierdie mense is gered, maar hulle het vergeet dat hulle alreeds van hulle sonde gereinig is die oomblik toe hulle die Evangelie geglo het.(Fase een)

Kom ons gaan voort.
Jak 2:21 “Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?
2:22 Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?
2:23 En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.”
Opmerking: Kom ons ontleed hierdie teksgedeelte bietjie:
Vers 21:“Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?”
Die antwoord: 1. Nee!, indien ‘n persoon fase een of die regverdig fase van verlossing bedoel, naamlik dat Abraham uit die kloue van die Hel gered is. 2. Ja, indien ‘n persoon fase twee van verlossing (heiligmaking) ingedagte het. Dit is baie duidelik dat Abraham voor die oë van mense geregverdig is, toe hy sy seun Isak aan God wou offer. Dit is ook baie duidelik dat Jakobus regverdiging in die oë van mense ingedagte gehad het, want werke kan gesien word, maar geloof kan nie gesien word nie. (Gen 22; Jak 2:21-23) Die Bybel stel dit baie duidelik dat Abraham, omtrent veertig jaar, voordat hy Isak wou offer, alreeds deur God regverdig verklaar is. (fase een van verlossing) God sal nooit op Sy woord teruggaan nie!
Gén 15:6 “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.
Rom 4:1 Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?
4:2 Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. (fase een, geloof sonder werke)
4:3 Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” (fase een, geloof sonder werke)

Nou gaan ons na vers 22: “Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?” (Fase twee, heiligmaking. Abraham het werke by sy geloof gevoeg en daarom kon sy geloof deur ander mense waargeneem word) Jakobus het God se doelstelling met die wisselwerking van geloof (fase twee) en goeie werke ingedagte. Geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis het ‘n Godgegewe doel, naamlik geestelike groei (heiligmaking) Waar ‘n gelowige sy geloof in goeie werke uitleef, lei dit tot geestelike volwassenheid sodat “geloof volkome geword” het en dit was nog altyd God se doel vir geloof. Daarom is dit belangrik dat die gelowige nie die belangrikheid van goeie werke in God se plan vir geloof onderskat nie. (fase twee van ons verlossing en nie fase een nie!)

Jak 2:23 “En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.”
Opmerking: Let op die frase: “En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken” Hier haal Jakobus Gen 15:6 aan, waar God Abraham geregtig verklaar het, lank voordat hy Isak wou offer. (Fase een, verlossings fase) Toe Abraham Isak omtrent veertig jaar later wou offer, (Gen 22) het sy optrede (werke) aan die mensdom sy geloof, wat onsigbaar is, gedemonstreer. Vers 23 stel dit ook baie duidelik dat Abraham sonder die doen van enige goeie werke, deur God geregtig verklaar is, en dit slegs op grond van Abraham se geloof! Paulus bevestig hierdie feit!
Rom 4:1 “Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?
4:2 Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie.
4:3 Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.
4:4 Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste;
4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Abraham was deur God in die forensiese sin (Fase een, verlossings fase) geregverdig verklaar, slegs op grond van sy geloof, sonder dat daar enige werke van sy kant af was. God het geweet Abraham het Hom geglo. Hy is immers alwetend! Dit moet ook duidelik gelet word, dat Jakobus nooit beweer, dat werke ons voor God regverdig nie, en Paulus stel dit ook baie duidelik dat ons deur geloof alleen, sonder werke, deur God geregverdig verklaar word. (fase een, waar ons geen aandeel in het nie) Dit is baie belangrik dat ons hierdie waarheid begryp! Dus is daar geen teologiese botsing tussen Paulus en Jakobus nie, en stel Jakobus dit net duidelik, dat toe Abraham in Gen 15:6 deur God geregverdig verklaar is (Fase een, verlossing deur geloof alleen) hy sy geloof aan die mensdom gemanifesteer het toe hy bereid vas om sy seun, omtrent veertig jaar later, aan God te offer. (Fase twee, heiligmaking. In hierdie vase van ons verlossing word daar samewerking van ons kant verwag) As Abraham geweier het om sy seun te offer, sou dit nie as onbetwisbare bewys gedien het dat hy nie gered was of nie ware geloof besit het nie, (onthou hy was alreeds veertig jaar tevore deur God geregtig verklaar.) Indien hy God nie gehoorsaam het nie, sou die mensdom nooit werklik weet of Abraham werklik ‘n gelowige was of nie en sou die mensdom kon beweer dat sy geloof nutteloos of onproduktief was. Dus van ‘n menslik oogpunt af gesien, sou dit wou voorkom asof sy geloof dood was. Gesien vanuit God se oogpunt sou daar geen twyfel wees dat Abraham ‘n verloste persoon is nie!

Jak 2:24 “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?
Opmerking: In bostaande teksgedeelte stel Jakobus dit weer duidelik dat ‘n mens, soos die gelowige persoon Abraham, geregverdig (vanuit ‘n menslike oogpunt) verklaar word deur sy werke (fase twee van verlossing) en nie net uit geloof alleen nie. (vanuit ‘n menslik oogpunt, omdat geloof nie deur ‘n mens waargeneem kan word, as dit nie met werke saamgevoeg word nie. Geloof kan egter vanuit God se oogpunt raakgesien word, indien so ‘n geloof nie in werke gemanifesteer word nie, want God is alwetend) Dus stel Jakobus dit duidelik dat daar nie net “‘n deur geloof geregverdiging” is nie, maar dat daar ook ‘n “deur werke geregverdiging” is. Eersgenoemde is voor God en die twee is voor die mensdom.

Jak 2:25 En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?
Opmerking: Ragab die prostituut illustreer die bogenoemde besprekingspunt baie mooi! Deur om werke (fase twee)saam met haar geloof in God (Fase een)te voeg, deurdat sy die Israeliese spioene op ‘n ander weg weggestuur het en dus hulle lewens gered het. Dus het haar werke haar geloof (fase een, geen werke benodig) in Israel se God aan die mensdom gedemonstreer of laat manifesteer (fase twee, samewerking benodig, in hierdie geval het sy hulle op ‘n ander weg weggestuur en verhoed dat hulle gevang en gedood word.)

Jak 2:26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”
Opmerking: Jakobus voltooi in vers 26 sy argument met ‘n analogie van die liggaam en die gees. Hy bevestig dat die liggaam sonder die gees dood is. Om die analogie te verstaan, moet ons seker maak dat ons nie van die metafoor afdwaal nie en verstaan dat die liggaam nog steeds bestaan, al is dit lewensloos of dood. Oor die algemeen behoort die liggaam en gees as ‘n kombinasie te funksioneer en in die analogie in vers 26 is dit die gees wat die liggaam animeer en daaraan lewe gee. As die analogie dan tot sy logiese einde gevolg word, dan sal opgemerk word dat geloof in hierdie analogie parallel is met die liggaam en dat werke parallel is met die gees. Dus geloof = die liggaam en werke = die gees. Volgens Jakobus se logika is dit werke wat geloof animeer en lewe aan geloof gee en nie die anderkant om nie!

Dus praat Jakobus van heiligmaking en geestelike groei in die gelowige se lewe, asook om geregtig op te tree en dit dan uiterlik aan die mensdom te manifesteer deur om goeie werke voor te bring. Hierdie is ‘n baie mooi illustrasie van die belangrike verhouding wat tussen geloof en werke bestaan. Jakobus 2:14-26 handel dus glad nie oor die feit of ‘n persoon van die ewige verderf gered is of  (fase een, wedergeboorte) nie, maar dit handel oor watse wyse die gelowige geestelik groei of nie. (Fase twee) Gelowiges (fase een) wat geloof het, maar wat geen aksie a.g.v hulle geloof neem nie, maak hulle geloof waardeloos en veroorsaak dat hulle geloof vir alle praktiese doeleindes dood is. Aan die anderkant illustreer Jak 2:14-26 dat daardie gelowiges wat geloof het en wat werke by hulle geloof voeg (Fase twee, heiligmaking) is die gelowiges wat geestelik opgroei tot volwassenheid, soos wat die Here van hulle verwag. Hierdie tipe gelowiges is dus nie net hoorders van die woord nie, maar ook daders van die woord. (Fase twee van verlossing, heiligmaking.) Dit is die doel wat die Here vir geloof het.

Ter Afsluiting: Indien ‘n persoon nie duidelike onderskeid tussen fase een (verlossinge en fase twee (Heiligmaking) van mekaar onderskei nie, sal die persoon altyd sukkel om teksgedeeltes soos Jak 2:14-26 konsekwent te interpreteer. Dit sal ook tot gevolg hê dat die Evangelie, in alle eenvoud, duidelik verstaan kan word en ook verhoed dat werke by die Evangelie gevoeg word, as bewys dat iemand gered is. Dit sal ook die tendens verwyder, waar mense te vinnig ander se verlossing op grond van hulle werke oordeel en nie op wat hulle glo nie. Dit verseker ook dat gelowiges sekerheid oor hulle verlossing bekom en nie onnodig angstig sal wees nie. Ook word heiligmaking in die gelowige se lewe aangemoedig en tot ‘n hoër vlak van belangrikheid bevorder, wat weer daartoe sal lei dat die gelowige nooit werke as onbelangrik sal beskou nie. En laastens sal die Bybel ook baie makliker verstaanbaar wees, wat daartoe sal lei dat gelowiges nie die boodskap in die Bybel sal vrees nie, maar dat Bybelstudie ‘n plesier sal wees, soos wat dit behoort te wees. Ons moet verby die elementêre beginsels van ons Godsdiens kom en opgroei tot ‘n volwasse man of vrou in Christus. (Heb 5:12)

Seën groete

Vic