Ras

Ras, die Gelowige en Haat

1Jo 2:9 “Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe.”
Omrede die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom so ver van suiwer Bybelse leerstellings verwyderd geraak het, moet dit geensins as verassing kom dat daar Christene is wat onder die indruk verkeer dat hulle in die lig wandel, maar te laat gaan uitvind dat hulle eintlik in die duisternis gewandel het nie. Soos alreeds in die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” gedemonstreer is, het die wyse waarop ons ons lewens in hierdie wêreld of dispensasie uitleef, ewigdurende implikasies en geld hierdie beginsel ook vir ons as gelowiges. Daar gaan gelowiges wees wat voor die Regterstoel Oordeel van Christus gaan verskyn, wat verkeerdelik onder die indruk gaan wees dat hulle as toegewyde dissipels van God gelewe het, net om te laat uit te vind dat hulle egter die heeltyd in ‘n toestand van voortgesette sonde gelewe het. Die rasse situasie in Suid Afrika dien as een so ‘n voorbeeld. Om te diskrimineer op grond van ras , is ‘n ernstige sonde.
1Jo 2:11 “Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.”
As gelowiges, moet ons besef, dat dit God is wat ons gaan beoordeel, en Hy gaan ons volgens Sy maatstawwe beoordeel en nie die van mense nie, en daarom moet ons streef om God te behaag en nie mense nie.

Soos alreeds in die artikel “Rassehaat en die Christen” genoem is, waarsku Jesus Christus ons in Mattheus 24 dat die een nasie teen die ander, en die een koninkryk teen die ander sal opstaan, alvorens Sy wederkoms sal plaasvind, wanneer Hyself Sy duisendjarige vrederyk op aarde sal kom vestig. (nie die Kerk nie!)
Mat 24:4 “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 24:5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! (Die gesalfde een of in Engels “the Anointed one.” Daar is alreeds baie mense wat beweer dat hulle die gesalfde van God is!) en hulle sal baie mense mislei. 24:6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. 24:7 Want die een nasie (Grieks ethnos wat volgens Strong’s as ras of stam vertaal kan word.) sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. 24:8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” (Begin van die Verdrukking)
Alhoewel die bostaande teksgedeelte hoofsaaklik oor die tydperk, wat as die Sewe Jaar Verdrukking bekendstaan, handel en gebeure gedurende daardie tydperk uitlig, kan ons nou al waarneem dat hierdie gebeure al tot ‘n groot mate begin manifesteer. Soos wat die verdrukking nader kom, kan ons verwag dat hierdie tendens toenemend sal intensieveer, en sal dit ook al hoe meer opmerklik word, dat die rasse situasie in Suid Afrika geensins die uitsondering op die reël is nie. Kyk maar hoe gaan dit deesdae in Amerika asook in Europa en in ander plekke om die wêreld. Die doel vir die skryf van hierdie artikel, is egter nie om oor hierdie tendense uit te brei nie, maar hoedanige optrede God van gelowiges van alle rasse in hierdie wêreld verwag. (Vir ‘n meer volledige uiteensetting van die gebeure van die Verdrukking word die leser aangeraai om die artikels “Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus  ” te lees, asook die gelykenisse van die Talente , Tien Maagde asook die Bokke en Skape oordeel.) God verwag van ons, as gelowiges, om as voorbeeld vir die ongelowige wêreld daarbuite te dien en Hy gaan ons daarvoor verantwoordelik hou. Ons kan verwag om teëstand asook lyding te verduur, indien ons as toegewyde dissipels van Jesus Christus in hierdie bose wêreld wil lewe. Indien ons egter bereid is om saam met Hom te ly, kan ons verseker wees dat ons saam met Hom sal regeer.
Rom 8:16 “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; (alle gelowiges wat die Evangelie geglo het. Fase een van ons verlossing – wedergeboorte) 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God (alle wedergebore Christene het God as hulle erfporsie en daarom kan hulle nie die ewige lewe verloor nie.) en mede erfgename van Christus, (alle gelowiges is potensiële mede erfgename van Christus) as ons naamlik saam met Hom ly, (om ‘n mede erfgenaam saam met Christus te word, moet daar egter aan sekere vereistes voldoen word, naamlik onsself verloën, ons kruis op te neem en as toegewyde dissipels Jesus Christus navolg, wat die weg van die kruis insluit, en wat ons in botsing met die wêreld sal bring, wat weer op lyding vir die toegewyde dissipel sal uitloop. Fase twee van ons verlossing – heiligmaking/dissipelskap.) sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (Slegs toegewyde dissipels sal saam met Christus verheerlik word, deurdat hulle die voorreg sal geniet om saam met Hom in Sy Koninkryk te regeer. Om die ewige lewe te ontvang kos niks nie, maar toegewyde dissipelskap kan ons egter alles in hierdie wêreld kos, selfs ons eie lewens. Die loon daarvoor gaan egter buite verhouding groot wees. Lees asb die artikels “Gelykenis van die Ponde, asook “Gelowiges se werke gaan beoordeel word.”)

Eerstens gaan daar ‘n paar vra en scenarios weergegee word, wat ons as gelowiges van alle rasse, sal help om uit ‘n ander oogpunt na en rasse situasie in ons land te kyk en behoort ons baie mooi hieroor na te dink. Daarna sal ‘n Skriftuurlike oplossing vir die probleem gesoek word, wat nie op politieke korrektheid gebaseer sal word nie, maar op die waarheid soos wat dit in God se woord, die Bybel, opgeteken staan.

Alle gelowiges regoor die wêreld, (dit sluit gelowiges van alle rasse en nasionaliteite in) vorm deel van God se Kerk en vorm dus deel van God se familie. Daarenteen is alle ongelowiges (dit sluit ongelowiges van alle rasse en nasionaliteite in) nie deel van Jesus Christus se Kerk nie, en is ook nie deel van God se familie nie. Die vraag ontstaan dan nou: “Wie se kant gaan ek neem, indien ek met ‘n situasie te doen kry, waar my ras of stamverband (gelowiges sowel as ongelowiges) vereis dat ek ‘n gelowige van ‘n ander ras of stam moet benadeel, om my ras of stam te bevoordeel? Gaan ek dus my ras of stam verband belangriker ag as my familieverband met ‘n gelowige van ‘n ander ras, wat ek weet deel van God se familie uitmaak? Onthou God is nie die aannemer van die persoon nie!
Kol 3:25 “Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie.”

Hoedanig gaan my optrede wees, indien ek deel van ‘n vergadering of komitee uitmaak, wat slegs uit mense van my eie ras bestaan, waar ons beplanning vir ‘n kamp, funksie of projek doen, en die voorsitter asook die res van die vergadering aanbeveel dat ‘n sekere groep mense op grond van hulle ras (wat medegelowiges insluit) uitgesluit of benadeel word? Sal die oortuiging van my geloof, asook die Heilige Gees my so ver kry om teen die stroom op te swem en sulke optrede af te keer, met die wete dat ek beledig of selfs heeltemal deur my eie ras verwerp sal word, wat finansiële implikasies kan inhou? Ek is vas oortuig daarvan, dat ons as gelowiges, in die verlede op hierdie spesifieke punt ernstig misluk het en dat ons nog steeds op hierdie punt misluk. Dit sluit gelowiges van alle rasgroepe in, en daarom is dit tyd dat ons mooi oor hierdie saak besin. Ek praat spesifiek hier met gelowiges, wat almal saam deel van God se familie uitmaak, met die wete dat alles wat ons aan ‘n medegelowige doen ons dit aan God self doen.
Mat 25:40 “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”
Alhoewel die konteks van bostaande teksgedeelte hoofsaaklik oor die volk Israel handel, bly die beginsel egter waar vir gelowiges van alle tye en rasse.
Joh 13:20 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”
Indien ons nie tot bekering gaan kom nie, kan ons verseker wees dat daar katastrofiese gevolge vir ons en ons land voorlê!

Boonop bestaan daar ‘n groot moontlikheid dat die ware Christendom toenemend vervolg gaan word, en dit sluit Christene van alle rasse in. Vir gelowiges in sekere dele van die wêreld is vervolging geensins iets nuuts nie, en dit kan baie maklik in ons eie land ook plaasvind. Vervolging op grond van geloofsverband tref nie onderskeid tussen rasverband nie! Sal ons bereid wees om ons lewens vir ‘n gelowige van ‘n ander ras te waag? Indien nie, kan ons geensins die bewering maak dat ons Christus se dissipels is nie!
1Jo 3:16 “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders (gelowiges van alle rasse) af te lê.”
Is ons as gelowiges, van alle rasse, nie dalk besig om die belangrikste kwessies in die lewe, naamlik liefde en toegewyde dissipelskap heeltemal mis te kyk nie?
1Jo 3:7 “My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid (doen altyd wat reg is) doen, is regverdig soos Hy regverdig is. 3:8 Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.”

Ons moet nooit die fout begaan om te vergeet dat ons maar net deur reisigers in hierdie wêreld is nie!
1Pe 2:11 “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; 2:12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke (wat liefde en eenheid onder mekaar insluit) wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.”
Fokus ons nie dalk te veel op ras/nasionalistiese belange en dit ten koste van heiligmaking en toegewyde dissipelskap nie? Ras/nasionalistiese belange gaan geensins iets beteken indien daar volskaalse vervolging van ware Christene begin plaasvind nie. Gelowiges se velle mag dalk van mekaar verskil, maar ons almal kan bloei en ons almal se bloed is rooi! Boonop word ons almal deur dieselfde Gees wederbaar en staan ons almal gelyk voor God.
Die probleem lê nie in ons velkleur nie maar in ons harte!
Luk 6:45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond. (dink mooi oor hierdie stelling na!)

Daar hoef geensins verder oor die probleem van rassisme in ons land uit te brei nie. Ons almal is deeglik bewus daarvan. Die vraag wat ons moet beantwoord, is wat staan ons as gelowiges van alle rasse te doen, omrede ons besef dat ons vir ons optrede by God verantwoording sal moet doen. Onthou ons gaan net maai wat ons saai!
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
Die Here self gee aan ons egter die oplossing.
Joh 13:34 “ ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. 13:35 Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
Ek is vas oortuig daarvan, dat indien ons as gelowiges, hierdie opdrag van die Here in die Gees uitvoer, dit ‘n geweldige impak op die ongeredde wêreld om ons sal hê. Ongelukkig volg die oorgrote meerderheid gelowiges nie Jesus Christus as toegewyde dissipels nie, en daarom steur die wêreld hulle nie veel aan mense wat beweer dat hulle Christene is nie. En hoe kan ons hulle kwalik neem? In baie gevalle kan mens geen onderskeid tussen die gedrag van gelowiges en ongelowiges tref nie! Die Here self waarsku ons.
Mat 5:13 “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
Markus 9:50 Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.”

Die Here verwag van alle gelowiges om as toegewyde dissipels te lewe. Ons optrede en gedrag in hierdie wêreld gaan ewigdurende implikasies vir ons as gelowiges meebring.
Op 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Die gelowige gaan op sy werke beoordeel word om sy loon en posisie in Christus se koninkryk te bepaal, en die ongelowige gaan op sy werke beoordeel word en in die poel van vuur gewerp word.)
Boonop moet ons nie Christus se waarskuwing vergeet nie!
Luk 6:44 “Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk ‘n mens tog nie vye nie, en ‘n mens sny ook nie druiwe van ‘n doringbos nie. 6:45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond. 6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

Is dit nie dalk tyd, dat ons as gelowiges van alle rasse, die verlede los waar dit hoort, naamlik in die verlede, en mekaar vergewe en saam die toekoms as getroue dissipels van God ingaan nie? As ons nie bereid is om te vergewe nie, kan ons ook nie verwag dat die Here ons moet vergewe nie.
Mat 6:14 “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 6:15 Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
En onthou, om waarlik te vergewe beteken dat ek nie weer ou koeie uit die sloot op uithaal indien dinge nie volgens my smaak verloop nie. Dit bly egter ‘n feit, dat daar altyd mense sal wees wat ras as verskoning sal gebruik om hulle eie politieke agenda te bevorder, maar dit gee geen verskoning aan die gelowige om ook so op te tree nie. Alle gelowiges behoort Christus se opdragte uit te voer en nie na die goddelose wêreld se standaard afgetrek te word nie!
Mat 5:5 “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. 5:6 Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid (wil altyd doen wat reg is), want hulle sal versadig word. 5:7 Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 5:8 Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 5:9 Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

As gelowiges van alle rasse, moet ons nie toelaat dat ons optrede en handelswyses deur ons sonde natuur, die Satan asook die wêreld bepaal en voorgesê word nie. Ons moet deur die Heilige Gees gelei word, en Hy sal ons nooit na ongeregtigheid lei nie, maar slegs na heiligmaking en toegewyde dissipelskap. Dit is egter ons keuse of ons Hom gaan gehoorsaam of nie. Indien ons na die anderkant toe oorbeweeg, word ons nie meer deur die Heilige Gees gelei nie en het ons ook nie meer gemeenskap met God nie. Boonop moet ons dan bereid wees om die gevolge van ons eie ongehoorsaamheid te dra.
Rom 12:2 “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Slegs indien ons in die Gees wandel, sal ons werklik oor sonde en haat kan seëvier en as voorbeeld vir die wêreld om ons kan dien.
Gal 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;
5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.”
Die Heilige Gees sal poog om ons te lei, deur ons in ons gewetens te prik, Sy begeertes op ons harte te lê en ons deur die Bybel aan te moedig. Ons moet egter kies om Hom te gehoorsaam en dit word van ons verwag om werke by ons geloof en Sy leiding te voeg. Dus moet ons die werke doen, om Sy wil te laat geskied en dit kos moeite, inspanning, ongerief en soms trane. Soos reeds genoem sal die loon daarvoor nooit werklik aan diekant van die graf bepaal kan word nie, maar ons kan egter ‘n groter mate van die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe alreeds aan diekant van die graf beleef. (lees asb die artikel “Wat is die Ewige Lewe”)
Mat 5:10 “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, (doen altyd van reg is) want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 5:11 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. 5:12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”

Dit is baie makliker om haat aan te blaas, as om jou medemens sonder vooroordeel lief te hê. As kinders van God word ons tot ‘n baie hoër standaard gehou as die ongeredde wêreld rondom ons.
1Jo 3:15 “Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.”
Die Here het ons beveel om ons ligte in die donker wêreld te laat skyn. Om liefdeloos teenoor ons medemens op te tree, is nie om ons ligte in ‘n donker wêreld te laat skyn nie! Dit sal egter net veroorsaak dat die verskillende rasse en kulture toenemend gaan polariseer, iets wat die Duiwel graag wil hê moet gebeur, want hy wil dit gebruik om ‘n een man diktatorskap op aarde, onder die gesag van die Antichris, te bewerkstellig.
Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; 12:15 en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”
Ons behoort God te dank vir die verskille in ons kulturele agtergronde, asook die verskille in ras. God is ‘n God van verskeidenheid en liefde, en daarom is dit belangrik dat ons mekaar sal liefhê, ten spyte van die uiterlike verskille wat daar tussen ons mag wees. Ons ras en kultuur kan dus as ‘n gawe van God beskou word, en ons behoort hierdie gawe te gebruik om in liefde na ander rasse en kulture uit te reik en mekaar lief te hê en te respekteer. Dit was nooit die Here se doel, dat ras die grondslag van haat tussen die mens moes wees nie. Iemand wat ‘n ander persoon net op grond van sy ras of stamverband haat, kan nooit die bewering maak dat hy God liefhet nie.
1Jo 4:20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
Onthou, gelowiges van alle rasse is broeders in Christus, en die Here het nie die een kultuur, ras of stam liewer as die ander nie! Ons behoort Jesus Christus se voorbeeld van liefde na te volg en nie die bose wêreld om ons nie!
Efs 5:1 “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; 5:2 en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.”

Hoe moet ons as gelowiges dan optree?

Doen alles in liefde en tot eer van die Here.
1Pe 4:11 “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.”

Verkondig die Evangelie, of wees op die een of ander wyse, deur gebed, skenkings, verspreiding van pamflette ens by die verkondiging daarvan betrokke. Dit is slegs die Heilige Gees wat met wedergeboorte ‘n persoon se hart kan verander. Haat ontstaan in die harte van mense en dit is daar waar dit aangespreek moet word. Daarom is dit so belangrik om die Evangelie te verkondig!
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Nadat ‘n persoon die Evangelie gehoor en geglo het, is dit belangrik dat ons die nuwe gelowige leer hoe om as toegewyde dissipel van die Here te lewe, wat met die doop van onderdompeling behoort te begin.
Mat 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Moet nooit die wet in eie hande neem nie en eerbiedig die wette van die land. Tree altyd binne die raamwerk van die wet op.
Rom 13:1 “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, 13:2 sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. 13:3 Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; 13:4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. 13:5 Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. 13:6 Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. 13:7 Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.”
Baie mense het al tot hulle eie ondergang en ergernis hierdie opdragte van God verontagsaam, en hulle het niemand behalwe hulleself om te blameer nie.

Bid gedurig en bespreek alles met die Here in gebed.
Jak 4:2 “Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 4:3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Bid vir ons regerings amptenare wat in bewind is.
1Ti 2:1 “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2:2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 2:3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 2:4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Bid sodat die Here ons land se leierskap wysheid in insig sal gee en hulle omring met mense wat insig en wysheid het. Ons moet nooit die krag van gebed onderskat nie! En onthou, dit is God wat koninkryke oprig en hulle tot ‘n val bring. Paulus het hierdie opdragte geskryf toe die goddelose Nero aan bewind oor die Romeine Ryk was, en daarom het ons geen verskoning om nie vir die leierskap wat oor ons aangestel is te bid nie. Ons mag dalk nie almal van die huidige leierskap van ons land hou nie, maar dit stel ons geensins vry van die verpligting om vir hulle te bid nie. Bid, met die wete dat ons almal voor God sal moet verskyn en dat God regverdig gaan oordeel. Wees verseker dat geregtigheid op die einde van die dag sal seëvier en elke mens gaan ontvang wat hy gedoen het. Die ewigheid is ‘n lank tyd! Daarom is dit belangrik om te bid, sodat ons leierskap almal tot geloof in die Here Jesus Christus kan kom.

Miskien is dit tyd, dat ons na die mensdom rondom ons kyk, soos wat God na hulle kyk.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Dit sluit alle mense van alle rasse, stamme en kulturele agtergronde in. Absoluut geen mens is uitgesluit nie!

Hierdie wêreld nie ons finale woning nie. Ons werklike woning is in die nuwe Jerusalem, wat vanuit die hemel neer sal daal, geleë. Die wete dat gelowiges van alle rasse in daardie stad sal woon, behoort daartoe te lei dat ons nie teen ons medemens op grond van sy ras en kulturele agtergrond sal diskrimineer nie.
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. Joh 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Indien ons wil hê dat God ons gebede moet antwoord, dan sal ons eers Sy gebooie moet nakom en begin doen wat Hy ons beveel om te doen, anders kan ons nie verwag dat Hy ons gebede moet beantwoord nie.
Joh 15:7 “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”

Daar kan nog baie teksgedeeltes by hierdie lys bygevoeg word, maar vir nou sal hierdie teksgedeeltes eers voldoende moet wees. Die doel van hierdie artikel, is om die gelowige so ver te kry, om na die kwessie van rassisme vanuit God se perspektief te kyk en nie vanuit die sondige natuur se oogpunt nie.

Ter Afsluiting: Die apostel Paulus het deur die Gees mooi aan ons verduidelik wat ware liefde is.
Rom 13:8 “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. 13:9 Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. 13:10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. 13:11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. 13:12 Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. 13:13 Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
Mag die Here ons help en versterk, sodat ons as ligte in ‘n donker wêreld sal lewe en deur ons lewenswandel Hom sal verheerlik. Mag Hy Sy liefde oorvloedig in ons harte uitstort, sodat ons ons medemens net so lief sal hê, as wat Hy hulle het en bereid sal wees om ons lewens vir hulle af te lê. En onthou:
1Ko 13:4 “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, 13:5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, 13:6 is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. 13:7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 13:8 Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.”
En los die oordeel vir die Here!
Rom 12:19 “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. 12:20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. 12:21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Die ewige lewe word slegs deur geloof en heeltemal kosteloos ontvang, maar toegewyde dissipelskap sal ons baie kos! Onthou egter dat die loon vir toegewyde dissipelskap onberekenbaar groot gaan wees!
1Ko 2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
Slegs diegene wat Christus se gebooie nakom is die wat Hom werklik liefhet!
Joh 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.