Bokke en Skape

Die Bokke en Skape oordeel (Oordeel van die Nasies)

Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 7
Die Bokke en Skape oordeel (Oordeel van die Nasies)

Die Bokke en Skape oordeel of anders bekend as die oordeel van die nasies, is die laaste gedeelte van die prediking op die Olyfberg. Uit die konteks is dit ook baie duidelik dat die skape en bokke oordeel (oordeel van die nasies)nie ‘n gelykenis is nie, maar wel ‘n profetiese voorspelling wat die Here gemaak het. Met hierdie profesie het die Here verduidelik hoe Hy die Jode asook die Nasies, of nie Joodse volke, met Sy wederkoms gaan beoordeel. Die Skrifte stel dit baie duidelik dat die Israeliete apart van die Nasies beoordeel gaan word en dat net wedergebore gelowiges van albei hierdie groepe toegelaat sal word om in Jesus se koninkryk in te gaan. Meer besonderhede oor hoe die Here die Jode gaan beoordeel vind ons in Esegiël 20:34-38
Esg 20:34 “En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ‘n sterke hand en deur ‘n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid. 20:35 En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig. 20:36 Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE. 20:37 En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond. 20:38 En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is.”

Mense wat uit die nie-Joodse Nasies uit bestaan en wat die Groot Verdrukking sal oorleef, word in die Skape en Bokke oordeel bespreek. Dit is dus baie duidelik dat ons van afsonderlike groepe hier praat nl. Israel en die Nasies. Net soos die profesieë oor Jesus se eerste koms letterlik vervul is, sal al die ander profesieë wat oor Sy wederkoms handel ook letterlik vervul word, en is daar geen Bybelse mandaat vir mense om hierdie profesieë te vergeestelik nie. Die mense wat waardig geag word om Jesus se vrederyk binne te gaan sal met hulle fisiese liggame die vrederyk binnegaan en sal dan weer die wêreld bevolk. Die Kerk (Bruid van Jesus) sal in hulle verheerlikte liggame saam met Jesus die wêreld regeer.

Die skape en bokke oordeel (oordeel van die Nasies) moet nie met die Regter Stoel Oordeel van Jesus en die Wit Troon oordeel verwar word nie. Hierdie drie gebeure vind op verskeie tydperke plaas en het verskillende groepe mense as onderwerp. Die Regter Stoel Oordeel van Jesus vind net na die wegraping van die Kerk plaas. Hierdie oordeel vind ook in die Hemel plaas en nie op aarde nie. By hierdie oordeel is die gelowige se verlossing nie in gedrang nie, want almal wat hulleself by hierdie oordeel bevind sal wedergebore wees en kan dus nie verlore gaan nie. Die gelowiges wat by die Regter Stoel Oordeel van Christus verskyn, se lewens sal in oënskou geneem word en hulle sal dan loon ontvang vir die werke wat hulle op aarde gedoen het.
Rom 14:10 “Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
2Ko 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
(Vir meer besonderhede lees asb Rom 14:10; 1 Kor 3:11-15; 2 Kor 5:9,10) Dus is hier geen sprake van veroordeling nie, maar slegs beoordeling. Die Regter Stoel Oordeel van Jesus kan met ‘n prysuitdeling vergelyk word, waar net die mense wat dit verdien pryse sal ontvang, maar die res van die mense is nog steeds gered en kan nie verlore gaan nie. Dit sal ‘n tyd van blydskap wees en nie ‘n tyd van verskrikking nie.

Die Groot Wit Troon Oordeel vind eers duisend jaar na die oprigting van Jesus se Vrederyk op aarde plaas, en almal wie se name nie in die Boek van die lewe aangeteken is nie, sal in die poel van vuur gewerp word. Hierdie oordeel vind ook nie op aarde plaas nie maar in die hemelruim.
Opn 20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 20:13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. (Lees asb die artikel ” Sewe verskillende vorme van dood in die Bybel”20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Die mense wat die Evangelie verontagsaam het sal op grond van hulle werke beoordeel word. Omdat God regverdig is, sal Hy geen keuse hê om hierdie mense na die poel van vuur te stuur nie. Dit is nie God se wil dat iemand verlore gaan nie, maar Hy het aan almal ‘n vrye wil gegee om te kies. Die wat kies om Hom egter te verwerp sal nou die gevolge van hulle eie keuses moet dra en hulle sal niemand anders as hulleself kan blameer nie. Met hierdie kort agtergrond kan ons nou na ons teksgedeelte gaan.

Mat 25:31 “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;”
Opmerking: Uit bostaande konteks is dit baie duidelik dat Jesus Christus in Sy heerlikheid aarde toe kom en dan op Sy troon gaan sit. Hierdie troon moet nie met die Vader se troon in die Hemel verwar word nie. Jesus sit huidiglik saam met die Vader op Sy troon wat in die Hemel is en van daar af tree Jesus vir ons by die Vader in.
Heb 8:1 “Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele,”
Met Sy wederkoms kom die Here egter aarde toe en kom sit dan op Sy troon wat op aarde gevestig sal word.

Mat 25:32 “en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; 25:33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.”
Opmerking: Die woord “Nasies”kan ook as “Heidene” vertaal word wat vanuit die Griekse woord “ta ethnẽ” vertaal is. Dus sluit hierdie groep, alle mense van alle nasies behalwe die Jode in, wat die Groot Verdrukking oorleef het. (Joël 3:2,12) Hierdie mense sal as individue geoordeel word en word as ‘n gemengde trop vee beskryf, wat uit bokke sowel as skape bestaan. As herder gaan die Here die bokke en skape van mekaar skei. Ons moet net onthou, dat hierdie oordeel na afloop van die Groot Verdrukking, net na Jesus se wederkoms, sal plaasvind en net voordat die duisendjarige Vrederyk van Jesus op aarde amptelik sal begin.

Mat 25:34 “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. 25:35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; 25:36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. 25:37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 25:38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 25:39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 25:40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”
Opmerking: Die Here nooi die skape om in Sy koninkryk in te gaan. Die basis vir toelating tot die koninkryk is hulle optrede teenoor die Here. Hierdie mense het aan die Koning kos, klere, iets te drink, en herberg gegee. Hulle het Hom ook verder in die gevangenis besoek. Dan sal die skape verbaas vra hoe hulle dan al hierdie dinge aan die Koning gedoen het? Hulle het Hom dan nie eers gesien nie. Die Koning se antwoord is baie insiggewend.
Mat 25:40 “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”

Dit is van kardinale belang dat ons die konteks waarin hierdie gebeure gaan plaasvind baie mooi verstaan. Die gebeure wat die Here hier beskryf sal net na afloop van die laaste sewe jaar tydperk, wat oor die Joodse nasie geprofeteer is, plaasvind en wat op Jesus se wederkoms sal uitloop. Die Kerk, wat as die Bruid van Jesus bekendstaan, sal alreeds sewe jaar voor hierdie gebeure met die wegraping uit die wêreld uit geneem wees. (1 Thess 4:13 – 18; 1Thess 1:10; 5:9; 2Thess 2:1 – 12; Op 3:10) Tydens die verdrukking sal daar baie mense die Evangelie glo en wedergebore word. Hierdie groep mense vorm nie deel van die Kerk nie, omrede die dispensasie van genade met die tyd van die wegraping tot ‘n einde sal kom. Die skape waarvan die Here hier praat is dus mense vanuit al die nie Joodse nasies wat tydens die verdrukking wedergebore word. Die bokke, soos wat ons later sal opmerk, is die ongelowiges wat die Evangelie verwerp het. Die broeders waarvan die Here in vers 40 praat, vorm nie deel van enige van die voorafgaande groepe nie, en kan dus niemand anders as gelowige Jode wees, wat tydens die verdrukking tot geloof in Jesus kom nie. Dit moet ook verder in gedagte gehou word dat Jesus ‘n Jood was. Dit is baie belangrik om nie die Kerk, Israel en die Nasies met mekaar te verwar nie. Hierdie groepe word altyd in die Bybel as afsonderlike groepe bespreek en daar is geen Skriftuurlike mandaat om hierdie teksgedeeltes te vergeestelik en Israel met die Kerk te vervang nie. Om so iets te doen is om bewustelik God se woord te verdraai.

Die Jode wat tydens die verdrukking en veral die Groot Verdrukking tot geloof in Jesus kom, gaan dit verskriklik moeilik vind om te oorleef. Dit gaan ‘n tydperk van verskrikking vir hulle wees.
Mat 24:15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet— 24:16 dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; 24:17 wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; 24:18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. 24:19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. 24:20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. 24:21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”
Net soos wat Hitler tydens die tweede wêreld oorlog gepoog het om die Jode uit te wis, sal die Antichris alles in sy vermoë doen om Satan se wil finaal uit te voer.
Opn 12:17 “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
Enige nie-Jood wat tydens die Groot Verdrukking sal poog om ‘n vervolgde Jood te help sal deur sy optrede demonstreer dat hy wedergebore is en die Skrifte glo wat meld dat Israel God se uitverkore volk is. Iemand wat gedurende hierdie tyd ‘n voortvlugtende Jood bystaan sal net soos in Hitler se tyd met die dood beloon word. Dit moet net gelet word, dat so ‘n persoon nie deur sy werke gered sal word nie, maar dit sal as bewys dien dat die persoon werklik reddende geloof besit.

Mat 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. 25:42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. 25:43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. 25:44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? 25:45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. 25:46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”
Opmerking: Die bokke sal na die ewige vuur verdoem word. Hierdie is ‘n letterlike plek wat nie oorspronklik vir die mens geskep was nie, maar vir Satan en sy die ander gevalle engele. Ongelowige mense sal egter ook na hierdie plek van verskrikking gestuur word, omrede hulle gekies het om die Antichris se merk te neem en om hom te volg in pleks van die Evangelie te glo en gered te word. Hulle demonstreer deur hulle keuse dat hulle die wêreld liewer het as vir God. Hulle sal dan weier om enige voortvlugtende Jood te ondersteun en sal liewers so ‘n persoon oorgee om gedood te word.

Hulle word dus nie verwerp op grond van hulle werke nie, maar hulle werke demonstreer dat hulle nie reddende geloof in Jesus Christus het nie. ‘n Persoon word nie deur werke gered nie, maar slegs deur geloof in wat Jesus aan die Kruis vir hom gedoen het. Na wedergeboorte, waar die Heilige Gees in die persoon inwoon, kan verwag word dat die Heilige Gees goeie werke in daardie persoon se lewe sal voortbring. Dus is geloof die wortel van wedergeboorte en goeie werke die vrugte van wedergeboorte. Dit moet ook verder besef word, dat die Heilige Gees nie mense wat gedurende die verdrukking tot geloof in Jesus kom gaan verseël nie, maar dit gaan van hulle verwag word om hulle geloof te behou. Die Heilige Gees sal hulle kan verlaat net soos wat Hy ook tydens die Ou-Testamentiese tydperk gedoen het.
1Sa 16:14 “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.”
Jesus het die mense wat gedurende die verdrukking sal leef baie ernstig gewaarsku en daar sal geen verskoning wees as iemand Hom nie gehoorsaam nie.
Op 16:15 “Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.”

‘n Baie goeie les wat uit die oordeel van die skape en bokke geleer kan word, is die feit dat alles wat mens aan ‘n gelowige doen, daardie mens dit aan die Here persoonlik doen, sou dit nou goed of sleg wees. Dit is ‘n baie belangrike punt wat ons moet verstaan. Toe Paulus die kerk vervolg het, en die Here aan hom verskyn het, het die Here hom nie gevra hoekom hy Sy kerk vervolg nie, maar hoekom hy Jesus self vervolg.
Hnd 9:3 “En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; 9:4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
As ons hierdie waarheid besef sal gelowiges baie versigtiger wees om ander gelowiges te beskinder of te benadeel. Om ‘n medegelowige te verontreg is om teen die Here Jesus Christus self te sondig.

Ter Afsluiting: Met hierdie artikel het ons aan die einde van die predikasie op die Olyfberg volgens Mattheus gekom. Met Jesus se wederkoms sal alle bose mense van die wêreld af verwyder word, alvorens die duisendjarige Vrederyk van Jesus sal begin. Die mense wat na hierdie reeks oordele nog sal lewe, sal met hulle fisiese liggame die millennium binnegaan en sal die kern bevolking van Jesus se aardse koninkryk uitmaak. As die Here se direkte onderdane gaan hulle die wêreld weer moet bevolk, net soos wat Noag en sy gesin na die wêreldwye vloed gedoen het. Die Kerk wat saam met Jesus met Sy wederkoms aarde toe sal kom, sal dan saam met Hom, in hulle verheerlikte liggame, vir duisend jaar lank regeer. Ons posisies in die koninkryk gaan afhang hoe getrou ons Sy opdragte tydens die Kerk dispensasie uitgevoer het.

In die prediking op die Olyfberg het Jesus Sy dissipels se vrae beantwoord wat hulle aan Hom gestel het, naamlik die teken van Sy wederkoms en die teken wat sal aandui dat die einde van die eeu aangebreek het. Hierdie vrae is in Mattheus 24:4-31 bespreek en is deur praktiese lesse opgevolg wat aan die mense wat met Sy wederkoms nog sal lewe gerig is. (Mattheus 24:32-51) Hierdie geslag is aangeraai om waaksaam en gereed vir Jesus se Wederkoms te wees. Dit is ook aan hulle gestel dat hulle getrou hulle Heer se belange op aarde moes behartig terwyl Hy afwesig is. By implikasie is hierdie lesse ook op alle gelowiges van alle tye van toepassing. Laastens het die Here afgesluit met lesse wat oor die oprigting van Sy aardse koninkryk handel, en wat die oordeel van die Jode (Mattheus 25:1-30) sowel as die oordeel van Nasies insluit (Die Skape en Bokke Oordeel) (Mattheus 25:31-46)

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.