talente

Gelykenis van die Talente

Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 6
Gelykenis van die Talente

Net soos wat Jesus die gelykenis van die tien maagde vertel het met die bedoeling om gelowiges, wat na die Groot Verdrukking nog lewe, te waarsku om geestelik gereed vir Sy wederkoms te wees, het Hy die gelykenis van die Talente vertel, om te illustreer dat Hy van Sy diensknegte verwag om met Sy belange werksaam te wees, terwyl Hy afwesig is. Die leser moet ook net verder daarop let, dat die gelykenis van die Talente nie dieselfde as die gelykenis van die ponde is nie. Die twee gelykenisse het wel gemeenskaplike ooreenkomste, maar hulle is twee verskillende gelykenisse met verskillende betekenisse. Kom ons gaan bestudeer die gelykenis van die Talente.

Mat 25:14 “Want dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou.
25:15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.”
Opmerking: Hierdie is ook een van die gelykenisse wat gereeld verkeerd vertolk word. Hierdie stelling geld veral vir die Afrikaanse gemeentes. Baie van ons is geleer dat die talente waarvan in hierdie gelykenis gepraat word, ‘n vermoë is wat ‘n persoon mee gebore is en wat dan van die persoon verwag word om verder te ontwikkel, soos bv , atletiese vermoëns (talente), kunsvaardigheid ens. Omdat hierdie gelykenis gewoonlik vanaf hierdie oogpunt benader word, veroorsaak dit dat die gelykenis heeltemal verkeerd geïnterpreteer word. Gevolglik word hierdie gelykenis dan heeltemal misverstaan en word dit ook dan verkeerdelik toegepas. So het die gelykenis van die talente ook baie van sy werklike betekenis verloor en het die boodskap, wat die Here aan Sy hoorders wou oordra, grotendeels verlore gegaan.

In die oorspronklike Griekse grondteks waaruit die Nuwe Testament vertaal is, beteken ‘n talent nie ‘n vermoë nie, maar is dit ‘n gewigseenheid soos bv ‘n kilogram, en het ‘n talent gewoonlik ‘n som geld verteenwoordig. Dus kon ‘n talent tussen 26.30 – 36,28 kg geweeg het, en as dit uit goud bestaan het, sou dit in vandag se terme ‘n enorme bedrag geld verteenwoordig het. Veral as mens in ag neem dat die gemiddelde dagloon van daardie tyd maar net 16 sent was.

Ons moet ook besef dat die besittings wat die heer in die gelykenis aan sy diensknegte oorhandig het, simbolies is van iets wat baie kosbaar vir hom was. In hierdie geval, ‘n talent, wat ‘n groot som geld verteenwoordig het. Onthou dat in die vertel van ‘n gelykenis, almal of enigiets simbolies van iets anders is. ‘n Voorbeeld hiervan is waar suurdeeg simbolies vir sonde gebruik word en waar egbreuk altyd as simbolies vir afgodediens beskou word. Lees asb die artikel oor die gelykenis van die suurdeeg vir meer inligting. Gewoonlik word hierdie simbole regdeur die Bybel vir dieselfde items gebruik en dit word deur teoloë as eksegese konsistensie omskryf.

Ons moet dus poog om vas te stel wat die talent in die gelykenis van die talente verteenwoordig. Die talente kan nie aardse rykdom of geld verteenwoordig nie, want die Here waarsku ons male sonder tal teen die gevare van liefde vir geld en die opgaar van rykdom, asook die feit dat Hy gierigheid as afgodediens beskou.
1Ti 6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
Luk 16:13 “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
Luk 18:25 “Want dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”
Wat is belangrik vir die Here? En met watse waardevolle item het die Here Sy diensknegte met Sy hemelvaart gelos? Vir die antwoord moet ons na Sy woord gaan.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
2Pe 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Die mens is belangrik vir die Here, en Hy het alles prys gegee om hulle te red, selfs Sy eie lewe. Lees asb die gelykenis van die pêrel en die gelykenis van die skat vir meer inligting. Die Here het aan ons Sy woord, wat die Evangelie insluit, gelos en ons beveel om dit met almal te deel.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Dus is die waardevolle besitting wat die Here aan Sy dissipels met Sy hemelvaart gelos het, Sy kosbare woord, wat die Evangelie insluit, en met die aanhoor en glo van die Evangelie word mense gered. Die redding van die mens was die Here se hoofdoel met Sy eerste koms en dit moet ook Sy diensknegte se doel wees terwyl hulle Meester afwesig is.

Ons weet dus, dat die talente God se woord verteenwoordig. Volgens Mat 25:15 sal ons opmerk dat die Heer die talente dan volgens die diensknegte se vermoëns uitdeel en dit dien as verdere bewys dat ‘n talent nie ‘n vermoë kan verteenwoordig nie. Die verskille in die diensknegte se vermoëns verteenwoordig die vermoëns en geleenthede wat elke persoon in die lewe het en wat ook van persoon tot persoon verskil. Die vyf talent man het dus meer geleenthede in hierdie lewe as die een talent man. Onthou alles wat ons het is aan ons, deur God, gegee en daarom moet ons nie hoogmoedig wees nie, maar mekaar in nederigheid dien.
1Ko 4:7 “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
Verder moet ons ook besef, dat by diegene wat baie in hierdie lewe ontvang het, baie vereis gaan word.
Luk 12:47 “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word;
12:48 maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”
In Mattheus 25:15 sien ons, dat nadat die Heer sy besittings aan Sy diensknegte besorg het, Hy op reis gegaan het. Die reis verteenwoordig Jesus se hemelvaart, nadat Hy Sy dissipels opdrag gegee het om die Evangelie na die hele mensdom te neem. (Markus 16:5)

Mat 25:16 “En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin.
25:17 Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien.
25:18 Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.
Mat 25:19 En ná ‘n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken.”
Opmerking: Die lang tyd in vers 19 verteenwoordig die tydperk tussen Jesus se hemelvaart, met Sy eerste koms, tot en met Sy wederkoms aarde toe, wanneer Hy Sy koninkryk fisies op aarde kom vestig. Daardie tydperk beloop nou huidiglik net meer as 2000 jaar.

Mat 25:20 “En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien.
25:21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
25:22 En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien.
25:23 Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.”
Opmerking: Die beginsel van loon ontvang, vir getroue diens, word baie mooi in hierdie gelykenis uitgebeeld. Hier, net soos in ander plekke in die Bybel, kan goeie werke as bewys dien dat ‘n persoon werklik weergebore is. (dit is egter nie altyd die geval nie. Judas was ‘n dissipel maar was nie wedergebore nie. Dus kan ongeredde mense ook soms goeie werke doen al is hulle nie wedergebore nie!) Dit moet egter baie duidelik verstaan word, dat goeie werke wel as bewys kan dien, dat wedergeboorte wel plaasgevind het, maar wedergeboorte vind nooit op grond van goeie werke plaas nie. Geloof in Jesus Christus is dus die wortel van wedergeboorte en goeie werke is slegs die vrugte van wedergeboorte.   Wedergeboorte vind plaas die oomblik wat ‘n persoon die Evangelie glo, en geen werke is betrokke of kan by die Evangelie gevoeg word om wedergebore te word nie.

Die vyf talent man, asook die twee talent man, demonstreer deur hulle optrede, dat hulle wel glo dat die Here met Sy eerste koms vir hulle sondes aan die kruis gesterf het. En, omdat hulle werklik in Jesus se eerste koms glo, het hulle Sy waarskuwing oor Sy wederkoms ook geglo en daarom het hulle gedoen soos hulle Heer hulle beveel het. Altwee hierdie getroue diensknegte het hulle vermoëns, asook die geleenthede, wat tot hulle beskikking was, gebruik om die Evangelie te verkondig. Onthou, hulle was veronderstel om met hulle Heer se belange besig te wees en nie met hulle eie nie. Hulle het dus die gawes en geleenthede wat hulle in hierdie lewe ontvang het, in diens van hulle Heer ingespan. Die Here beloon hierdie diensknegte met baie meer as wat hulle verdien en hulle word oor baie aangestel. Hulle ontvang nie net slegs die ewige lewe nie, (wat ‘n genadegawe is en wat nie verdien kan word nie) maar kry as bonus gesag posisies in die vrederyk van Jesus.

Mat 25:24 “En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie;
25:25 omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.”
Opmerking: Die patetiese verskoning wat die een talent man aanbied, dien net as bewys dat hy nie werklik sy Heer ken nie. Onthou alle goeie gawes wat ons in hierdie lewe ontvang insluitende die gawe van die ewige lewe is van God afkomstig.
Jak 1:17 “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
Iemand wat die Here werklik ken, sal weet dat God ‘n liefdevolle en genadige God is, wat die krag en genade sal verleen om te voltooi wat Hy beveel het om te doen. ‘n Persoon is nie veronderstel om op homself staat te maak nie, maar hy moet op die Heilige Gees vertrou om die nodige krag en leiding te verskaf, maar dit kos geloof. Boonop het die Here die mens met Sy woord gelos, wat as ‘n lig vir ons pad sal dien en waar al die profesieë aangeteken is. Dus kan niemand beweer dat hy nie weet wat die Here van Hom verwag nie. Die Here het self so ver gegaan, en die toekoms aan ons bekendgemaak, soos wat in die profesieë in die Bybel aangeteken is.
Psa 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Dus is die beskrywing wat die een talent man van sy Heer gee, doelbewus vals en totaal en al van die waarheid ontneem.

Mat 25:26 “Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie.
25:27 Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.”
Opmerking: Dit is nie dat die Heer met die slegte dienskneg se opinie oor Hom saamstem nie. Indien die Heer wel so verskriklik was, sou die een talent man se vrees as aanmoediging gedien het om wel getrou sy Heer se belange te verteenwoordig, en sou hy sy som geld verdubbel het. Om hierdie rede verklaar sy Heer dat hy ‘n slegte en lui dienskneg is. Die minste wat hy dan kon gedoen het, was om die Heer se geld in ‘n bank te deponeer, sodat sy Heer met sy wederkoms minstens die rente op die geld kon ontvang het.

‘n Interessante vraag wat uit hierdie teksgedeelte ontstaan en wat nie direk in die Skrif beantwoord word nie, is waarom die slegte dienskneg nie sy Heer se geld in die bank gedeponeer het nie. ‘n Moontlike verduideliking is dat die slegte dienskneg, dieselfde geslepenheid aan die dag gelê het as wat Judas Iskáriot aan die dag gelê het, toe hy Jesus verraai het. Judas het gereken dat indien Jesus werklik die beloofde Messias was, dit nie sou saak maak as hy die omkoopgeld geneem het nie, want hy kon dan die geld aan Jesus oorhandig as bewys dat die Jode teen Hom ‘n komplot gesmee het en moontlik sou hy ryklik beloon word vir sy kamtige getrouheid. Onthou Judas het nie werklik geglo dat Jesus God is nie en daarom het hy ook geen rede gehad om te dink dat Jesus alwetend is nie. So sou hy dan verseker dat hy in die Here se goeie boekies bly. Indien Jesus nie die beloofde Messias was nie, dan sou hy ook nog steeds 30 sikkels silwer ryker vir al sy moeite gewees het, en volgens sy verdraaide berekening, het hy al die pad bank toe gewen. Hy demonstreer dus met sy optrede, dat hy nie Jesus se waarskuwing, dat mens nie God en Mammon tegelykertyd kon dien, nie ernstig opgeneem het nie . (Onthou die ewige lewe is ‘n geskenk wat ons niks kos nie, maar dissipelskap is nie deel van die Evangelie nie, en om ‘n dissipel van God te wees sal ons egter alles kos)

Die een talent man moes ook in hierdie lyn geredeneer het, en mens sien hierdie lyn van redenasie nogal baie in die wêreld. Die slegte dienskneg moes dus soos volg geredeneer het: “As my heer terugkom, dan sal ek sy geld aan hom terugbesorg en kan niemand my van diefstal beskuldig nie. Indien my heer egter nie terugkom nie, dan sal daar geen rekord wees dat die geld aan my heer behoort het nie, omdat ek nie sy geld in die bank gedeponeer het nie. Indien my heer nie weer terugkom nie, dan is die geld myne en is daar geen rekord by die bank dat die geld aan my heer behoort nie.”
1Ti 6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
Die slegte dienskneg se probleem was, dat hy nie werklik sy Heer se waarskuwing, dat Hy sou terugkeer en rekenskap eis, nie ernstig opgeneem het nie. Die een talent man was dus nie seker of sy heer werklik weer sou terugkom nie en daarom het hy nie moeite gedoen om sy heer se opdragte uit te voer nie. Sy probleem was net soos baie mense van vandag. Hulle optrede demonstreer, dat hulle nie werklik vertroue in God se woord het nie. Die een talent man is dus niks anders as ‘n onbetroubare dienskneg nie, al het hy as ‘n getroue dienskneg aan ander voorgekom! (daar is baie sulke mense vandag en dit sluit mense in wat God se woord verdraai, om te lees wat hulle wil hê dit moet lees en nie wat God werklik gesê het nie.) Na afloop van die Groot Verdrukking sal omstandighede nog erger wees , want daar  sal baie valse profete wees, wat alles in hulle vermoëns sal doen om mense so ver te kry om nie geloof in Jesus te plaas nie.

Die bankiers of geldwisselaars verteenwoordig mense wat ons gawes (talente) namens ons vir die Here kan aanwend. In hierdie geval sou die geldwisselaars Sendelinge, Christelike bedieninge ens insluit. Soos wat William MacDonald dit baie mooi gestel het. “In ‘n samelewing soos ons sin, is daar geen verskoning om geld ydel te laat rondlê nie”

Ek moet net hier ‘n woord van vermaning invoeg. Ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons lei, voordat daar geld aan enige bediening gegee word, want as daardie mense valse leerstellings verkondig en verhoed dat mense gered word, deel ons in hulle kwaad. In so ‘n geval doen ons nie die Here se wil nie maar Satan sin. Die Here verwag van ons om seker te maak dat wat predikers verkondig inlyn met Sy woord is. Wees veral versigtig vir TV-Evangeliste wat die sogenaamde “seed faith” wette gebruik, waar belowe word dat indien ‘n persoon R100 aan hulle bediening skenk, hulle R1000 terug sal ontvang. Mense wat geld aan hierdie mense stuur, met die hoop dat die Here hulle ‘n honderdvoudige vermeerdering sal skenk, is nie mense wat God werklik uit liefde wil dien nie, maar uit gierigheid. Sulke optredes demonstreer nie geloof nie, maar wel ‘n liefde vir Mammon en ‘n gebrek aan geloof in die Here en in die feit dat Hy in Sy kinders se behoeftes sal voorsien, nie. Dit is ‘n skande om te dink dat ons God op hierdie manier kan koop!
Rom 8:32 “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
As mense na hierdie mense se lewenstyl kyk, dan sal mens gou agter kom, dat hulle nie werklik God dien nie, maar hulleself en Mammon. Voordat enige geld aan enige Christelike organisasie of sendeling gegee word, moet daar egter eers seker gemaak word dat wat daardie mense verkondig werklik volgens die Bybel is, en dat die Evangelie verkondig word soos wat dit in die Bybel opgeteken is.

Mat 25:28 “Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het;
25:29 want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
25:30 En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.”
Opmerking: Die een talent man het dus deur sy optrede gedemonstreer dat hy nie God se woord ernstig opgeneem het nie. Om nie God se woord (Die Bybel) te glo nie, is dieselfde as om God nie te glo nie, want die Bybel is Sy woord aan ons. Die een talent man is dus nie ‘n ware dissipel van Christus nie, en verteenwoordig nie ‘n Christen wat alles prysgegee het om God se woord te gehoorsaam nie. Onthou ook die konteks asook die tyd waarin hierdie gebeure plaasvind. Geloof wat nie op God se woord gebaseer is nie, is nie ware geloof nie. Daarom is dit van uiterste belang om mense wat die Goddelike Inspirasie van die Bybel ontken ten alle kostes te vermy. Dit maak nie saak hoe gewild hierdie mense mag wees nie. Slegs die Bybel moet as grondslag vir ons geloof dien en nie gevoelens, sensasies en buite Bybelse openbarings nie. Anders as wat sommige mense verkondig, is die Bybel al wat die Christen nodig het om ‘n godvrugtige lewe te lei en getrou bevind te word. Die Bybel is heeltemal voldoende!
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Iemand wat die teenoorgestelde verkondig, verkondig leuens.

Dus verteenwoordig die talente God se woord, wat die Evangelie en profesieë insluit. Persone wat die woord in ander mense se harte saai, sal vind dat dit vermeerder soos wat dit in mense se harte posvat en tot wedergeboorte lei. Dus vind daar ‘n verdubbeling plaas. Waar daar een gelowige was, is daar nou ‘n minimum van twee. Indien ‘n persoon sy besittings, wat eintlik die Here sin is, vir ‘n sendeling stuur, dan sal die mense, wat uit daardie arbeid wedergebore word, ook op die sender se rekening geplaas word. So sal mens ook vind, dat waar die Here se belange werklik eerste in ‘n persoon se lewe geplaas word, sal die Here gewoonlik meer geleenthede vir daardie persoon skep om Hom nog meer te kan dien.

Hierdie feite geld ook vir persoonlike Bybelstudie. Hoe meer ‘n persoon die Bybel bestudeer en dit met God in gebed bespreek, hoe meer sal God die persoon se insig vermeerder. Die persoon sal vind dat die Here die dieper betekenisse van teksgedeeltes aan hom sal openbaar. Dit is hoekom mens gereeld hoor dat ‘n persoon sal vertel dat hy sy hele lewe lank die Bybel lees en nog steeds daagliks nuwe insigte ontvang. So kan die beginsel baie duidelik waargeneem word, dat die persone wat het, meer by God sal ontvang. En nou praat ek die eers van die hiernamaals, wat gesagsposisies in sal sluit, nie! Dieselfde beginsel geld vir die wat nie het nie. Dit wat hulle het, sal weggeneem word en aan die gegee word wat het. Mens kan nie God en Sy woord van mekaar skei nie, en daarom is dit soms moeilik om te begryp hoe ‘n persoon kan beweer dat Hy God liefhet, maar nooit werklik Sy woord bestudeer nie. En hoe sal ‘n persoon weet wat hy moet doen, as hy nie tyd in die Skrifte spandeer nie. Hierdie is ook dan een van die belangrikste redes waarom miljoene mense daagliks deur valse profete en valse herders verlei word. Die eenvoudige rede is dat hulle nie die Bybel vir hulleself bestudeer nie, en daarom is hulle oop om verly te word. Hulle geloof is dus swak en hulle maak dan op sinlike fisiese manifestasies, buite Bybelse openbarings en valse wonderwerke staat, om hulle geloof te versterk. Dit lei net weer tot meer dwaling, omrede hierdie genoemde praktyke nie ware geloof versterk nie. As ‘n persoon meer geloof wil hê, moet hy doen wat God hom beveel om te doen en nie sy eie opinies volg nie.
Rom 10:17 “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”
Ons geloof moet op God se woord alleen gebaseer wees. Geloof wat nie op die waarheid, soos wat dit in God se woord vervat is, gebaseer is nie, is nie ware geloof nie.  Hierdie feit gaan veral ‘n belangrike rol na afloop van die Groot Verdrukking en met Jesus se wederkoms, speel. Die een talent man is dus iemand wat self gesentreerd is, en wat nie sy Heer getrou gedien het nie, maar iemand wat sy Heer vir sy eie ongehoorsaamheid en luiheid wil blameer! Daarom gaan dit wat hy het, van hom weggeneem word en aan diegene gegee word wat het, omdat die wat het, dit wat aan hulle gegee was getrou in God se belange aangewend het. Hy sal dan in die buitenste duisternis gewerp word, waar daar ‘n geween en ‘n gekners van tande sal wees. (hy sal dus groot spyt ervaar)

Alhoewel die gelykenis van die talente hoofsaaklik aan mense gerig, wat na afloop van die Groot Verdrukking nog sal lewe, is daar baie waarhede wat op die gelowiges van hierdie dispensasie van toepassing is. Net soos hulle, is ons veronderstel om op die uitkyk vir Jesus se skielike koms vir ons te wees. Ons is ‘n taak opgelê om af te handel, en ons moet dit doen!
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

En onthou, hierdie wêreld is nie ons tuiste nie. Ons tuiste is by ons Hemelse Vader in die Hemel.
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
As ons dit werklik glo, sal ons nie so bekommerd wees oor wat huidiglik op aarde verkeerd loop nie. Al hierdie tekens dien maar net as aanduiding dat die Bybel God se woord is en dat Sy koms vir Sy bruid (die Kerk) nie meer ver kan wees nie. Hy kan ons vandag kom haal!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.