pyn en lyding

Pyn en Lyding en God se Liefde – dieskrifte.org

Vraag oor pyn en lyding: Eers wil ek jou geluk wens met ‘n pragtige nuwe webblad, tot Sy eer. Ek het jou artikel gelees oor lyding. Ek het ‘n vriend wat ‘n kind van God is en wat prostaat kanker het. Hy gaan deur erge pyn. Hy vra my gisteraand wat ek dink waarom hy deur so ‘n vreeslike pyn moet gaan. Hy vra my ook as God hom so liefhet, waarom hy so erge pyn moet ervaar? Ek het nie regtig vir
hom ‘n bevredigende antwoord nie. Hoe sou jy hom antwoord ?

Antwoord: Baie dankie vir jou komplement! Alle eer aan Christus! Ek is bitter jammer om van jou vriend se pyn en lyding te hoor! Dit is maar altyd ‘n nare ondervinding en dit is in tye soos hierdie wanneer die werklike moeilike vrae gevra word. Ek het gesien hoe my ma met kanker worstel (en die pyn en lyding wat sy verduur het) en die vrae waarmee sy gesukkel het. En daarom het ek simpatie met die hele aangeleentheid en het ook al baie oor die onderwerp van pyn en lyding in die gelowige se lewe gewonder. Onthou, dit is nie ‘n sonde om vrae te vra nie. Volgens my beskeie mening sou weinig antwoorde bekom word indien daar nooit vrae gevra was nie. Dit is egter van uiterste belang, om ons antwoorde vanuit God se woord aan ons (die Bybel) te verkry, en om nie ons antwoorde op buite Bybelse manifestasies; buite Bybelse profesieë; ons omstandighede; ons belewenisse en selfs ons pyn en lyding te baseer nie. Omrede elke persoon verskil is dit belangrik om eerstens die Here te vra om aan jou die wysheid te gee om met jou vriend te praat. Dit is wat ek altyd doen en dit help!
Jak 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” (En ons almal kom wysheid kort!)
Soos reeds genoem verskil elke persoon en daarom is dit belangrik om God se perspektief op die hele saak te handhaaf. Daarbenewens sou ek die volgende punte in gedagte hou soos wat ek met my vriend sou praat. Ek bid en hoop van harte, dat die punte wat in hierdie artikel weergegee word, jou en jou vriend minstens iets sal gee om aan vas te hou, en om oor na te dink en met die Here in gebed te bespreek.

1) Ons moet altyd ingedagte hou, dat menslike lyding (wat pyn en lyding insluit) as gevolg van die eerste mens Adam se sonde in die wêreld ingekom het. (Gen. 3:1- 24) Anders as wat sommige mense beweer is hierdie huidige wêreld nog steeds onder die vloek. Ons almal (Insluitende gelowiges) sweet nog steeds as ons werk; ons word nog steeds siek; ervaar pyn en gaan dood; vrouens ervaar nog steeds pyn wanneer hulle kraam ens. Die vloek sal gedeeltelik met die Duisendjarige Vrederyk van Christus verwyder word en eers heeltemal met die koms van die nuwe aarde en die nuwe hemel verwyder word.
Opn 21:1 “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 21:2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. 21:3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Alhoewel ons, as gelowiges, geestelik vry van die vloek is, sal ons egter eers fisies vry van pyn en lyding by ons dood en/of na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking d.m.v. die eerste opstanding/wegraping wees, wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee sal wees. Die leser word aangeraai om die artikel “Die Drie Fases van Verlossing” ; “Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom” asook “Waarom Sterf ons nog?” te lees om meer inligting rondom hierdie aangeleentheid te bekom. Derhalwe kan ons, as gelowiges, nog verwag om pyn en lyding tydens ons huidige aardse bestaan te ervaar en die Here het ons ook oor hierdie feit gewaarsku.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; (Wat pyn en lyding insluit) maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin”
Indien ons in ‘n vloek vrye wêreld gelewe het sou bostaande stelling van die Here Jesus sinneloos wees. Die feit van die saak is dat ons nog steeds in ‘n gevalle wêreld lewe, waarvan Satan die god van hierdie wêreld is, en derhalwe sal pyn en lyding noodgedwonge deel van hierdie wêreld uitmaak.
1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.
2Ko 4:3 Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”

2) Soos reeds gestel, is dit van kardinale belang dat ons teologie of leerstellings op God se woord (die Bybel) gebaseer word, en nie op ons belewenisse, omstandighede, (wat pyn en lyding insluit) buite Bybelse profesieë en leerstellings of opinies van mense nie.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Ongelukkig is daar deesdae baie sogenaamde geloofsgenesers, wat beloftes van genesing in God se naam maak wat hulle nie kan nakom nie. Die eenvoudige feit van die saak is dat hierdie mense nie oor die gawe beskik om te genees nie, en die rede hiervoor is dat die gawe van genesing nie op die Post-Apostoliese tydperk van die Kerk Dispensasie van toepassing is nie. Ek glo dat God nog in sekere gevalle direk, as gevolg van ‘n gebedsversoek, en indien dit in Sy wil is, mense op ‘n bonatuurlike wyse genees. (Jak 5:14-15) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Genees en Genesing Tydens die Post Apostoliese Tydperk” te lees” Onthou geloof wat op verkeerde leerstellings gebaseer word is nie Bybelse geloof nie maar ‘n delusie! Bly by die waarheid, soos wat dit binne die korrekte konteks, in God se woord aangeteken staan!

3) Indien ons ons leerstellings op die Bybel (wat God se woord aan ons is) baseer sal dit gou duidelik word dat God ons sonder perke liefhet.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.” (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat sal uitloop op fase drie, naamlik ons verheerliking)
Om ons verlossing in al die drie fases te bewerkstellig het God tot die uiterste gegaan om ons te red, naamlik om Sy enigste Seun in ons plek aan die Kruis vir ons sondes te straf, sodat Hy geregverdig sal optree indien Hy ons op grond van Jesus Christus se toegerekende geregtigheid sou vryspreek.
Rom 3:23 “ want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 3:25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 3:26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) 3:27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Dit is altyd raadsaam om ‘n persoon wat aan God se liefde vir hom twyfel aan die kruisdood van Christus te herinner, en veral op die feit wat God, in Christus, daar vir ons bewerkstellig het. Daar is nie ‘n groter demonstrasie van liefde as dit nie! Onthou ons geloof moet op God se woord gebaseer wees en nie op ons belewenisse en omstandighede nie. (Wat pyn en lyding insluit!)

4) Die Skrifte stel dit baie duidelik dat niks ons van God se liefde vir ons kan skei nie!
Rom 8:31 “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. 8:35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 8:36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
Daar is niks wat ons van die liefde van God vir ons kan skei nie en dit sluit pyn en lyding in! Dink mooi daaraan: “God die Vader het ons net so lief soos wat Hy die tweede Persoon in die Drie-Eenheid, naamlik die Here Jesus Christus het.” Dit is ‘n ewige en onbeperkte liefde!

5) Indien ‘n persoon die Evangelie geglo het, dan het daardie persoon God se woord dat hy/sy vir ewigheid saam met Hom in Sy komende Koninkryk sal wees. (Lees asb die artikel “Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom” Om hierdie rede behoort ons ‘n ewige en Goddelike perspektief oor ons huidige aardse bestaan te handhaaf, en in geloof, verby die tydelike na die toekomstige ewigheid, waar pyn en lyding iets van die verlede sal wees, te kyk.
Opn 21:3 “En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 21:5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”
Om hierdie rede behoort ons in geloof ons oë op die Here Jesus Christus te fokus, wie net soos ons (maar net op ‘n baie groter skaal) lyding tydens Sy eerste koms op aarde getrou verduur het.
Heb 12:1 “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. 12:3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.”
Ons behoort net soos Christus verby ons huidiglik pyn en omstandighede kyk, en in geloof na die glorie, wat na ons huidige aardse bestaan gaan volg, heen te kyk.

6) Soms dien pyn en lyding as herinnering van die feit dat hierdie wêreld nie ons finale bestemming is nie, en daarom behoort ons nooit ons pelgrim mentaliteit te verloor nie. As gelowiges behoort ons altyd met die wete te lewe dat die ewigheid, en dus die beste, nog vir ons voorlê.
2Ko 4:16 “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 4:17 Want ons ligte verdrukking (Wat pyn en lyding insluit) wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 4:18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Solank as wat fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, nog nie voltooi is nie ( ‘n gebeurtenis wat eers met ons dood of die eerste opstanding wat die wegraping insluit voltooi sal wees.) sal ons nog steeds pyn en lyding in ons huidige nie-verheerlikte liggame ervaar. En daarom moet ons met verlange hunker om met ons verheerlikte liggame oorklee te word.
2Ko 5:2 “Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, 5:3 as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. 5:4 Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.”

7) Pyn en lyding word ook soms toegelaat om ons so ver te kry om weer God se mandaat aan die Kerk, naamlik om die Evangelie te verkondig, en om mense wat die Evangelie geglo het te leer en aan te moedig om as toegewyde dissipels in hierdie wêreld te lewe. Ek glo die Skrifte leer dat daar ‘n sekere getal gelowiges vir die Kerk Dispensasie deur God vasgestel is. Wanneer ons mense sien wat pyn en smarte beleef, behoort dit ons weer opnuut aan te moedig om die Evangelie te verkondig, of met die verkondiging daarvan betrokke te wees, sodat die volle getal, wat deur God vir die Kerk Dispensasie vasgestel is, kan ingaan en God d.m.v. die Wegraping die Kerk Dispensasie tot ‘n einde kan bring (fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking) sodat ons vir eens en vir altyd vry van enige pyn en lyding sal wees.
Rom 11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
Dit is opmerklik dat die Here Jesus Christus nêrens die Kerk aangesê het om die wêreld oor te neem of om die wêreld te verower nie, maar Hy het ons opdrag gegee om die Evangelie te verkondig. Kom ons doen dit, sodat ons kan huistoe gaan!
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Mat 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Bogenoemde teksgedeelte is die Kerk se mandaat!!

8) Dit is van uiterste belang, dat ‘n persoon wat die Evangelie geglo het, besef dat hy God se kind is, en dat God, as sy Vader, op alle vlakke, intens geïnteresseerd in elke detail van elke gelowige se lewe is.
1Pe 5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.
Luk 12:7 Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies. ” 

9) God wil net die beste vir ons hê en Hy wil ook eendag in die posisie wees, om ons vir ons lewe op aarde te beloon, en daarom laat Hy soms pyn en lyding toe, sodat ons geestelik tot volwassenheid kan opgroei en Hy ons daarvoor, by die Regterstoel Oordeel van Christus, kan beloon. Indien ons nie lyding ervaar het nie sou ons dalk nie genade loon verdien het nie en dus met leë hande van Christus af moes wegloop.
Jak 1:2 “ Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
Bostaande stelling geld veral vir die tyd wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus moet verskyn. Die Regterstoel Oordeel van Christus handel nie oor waar ons die ewigheid gaan deurbring nie. Met die glo van die Evangelie is ‘n gelowige versekerd van die ewige lewe en sal hy nooit verlore kan gaan nie. (Lees asb die artikel “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe” asook “Die ewige Sekuriteit van die Gelowige”) By die Regterstoel Oordeel van Christus gaan ons lewe na aanvanklike wedergeboorte in oënskou geneem word en gaan ons op grond van ons lewe na wedergeboorte beloon of nie beloon word nie. (Lees gerus die artikels “Die Gelykenis van die Ponde” asook “Gelowiges se werke gaan beoordeel word.”
Jak 5:9 Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. 5:10 Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. 5:11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is. ”

10) Boonop laat God lyding in ons lewens toe sodat ons nie opgeblase en hoogmoedig moet raak nie. Sulke optredes is sonde en sal nie by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon kan word nie.
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
Ons moet dus in die wete rus dat God intiem in ons lewens belangstel, en derhalwe is Hy ook intiem in ons lewens betrokke en sal Hy alles ten goede laat saamwerk! Al kan ons dit nie nou volkome begryp nie.
Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Onthou ons leerstellings moet op God se woord gebaseer wees en nie op ons omstandighede, wat moontlik pyn en lyding mag insluit, nie. Dit is die tipe geloof wat die Here behaag.
Heb 11:1 “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. ”

11) Ons moet besef dat God se heilige karakter Hom nooit sal toelaat om foute te begaan of onregverdig op te tree nie. Alhoewel alles nie altyd vir ons as reg of regverdig mag voorkom nie, kan ons in die feit rus, dat God, Is Wie Hy Is en dat Hy geen onreg sal doen en geen fout sal begaan nie. Dit sluit ons pyn en lyding in.
Gén 18:25ff “ Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?”
Ons moet in die verhouding wat God, in en deur die Here Jesus Christus met ons bewerkstellig het, rus met die wete dat Hy die hele prentjie van begin tot einde sien en in ag neem. Ons moenie in terme van ons beperkte kennis en visie toelaat, dat ons in God se liefde vir ons begin twyfel nie. Ons beskik dood eenvoudig net nie oor die vermoeë om alles in terme van die breër skema van God se doelstellinge waar te neem nie. Slegs God kan die einde van die begin af sien.
Jes 46:9 “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;”  

12) Om hierdie rede behoort ons onsself daarop in te stel om die lewe vanuit ‘n ewige perspektief, en dus vanuit God se perspektief, te aanskou en derhalwe moet ons nie na ons huidige omstandighede kyk in lig wat hulle blyk te wees nie, of dit nou aangename of aangename belewenisse mag insluit. (Insluitende pyn en lyding.) Ons moet na ons omstandighede vanuit God se perspektief kyk, net soos wat die Here Jesus Christus gedoen het toe Hy op aarde, as mens gewandel het, en in afwagting van Sy kruisdood wat onbeskryflike pyn en lyding ingesluit het.
Heb 12:2 “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, (die ewige perspektief) die kruis verdra het, (die huidige onaangename belewenis wat pyn en lyding ingesluit het.) die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. (Op die regte tydstip deur God die Vader verheerlik en beloon is.)
Ons moet onsself instel om verby die oënskynlike te kyk en ons oë op God te vestig, Wie alleenlik alomteenwoordig en alwetend is. Boonop moet ons leer om in God se soewereiniteit en liefde vir ons te rus, met die wete dat Hy as Almagtige God, in beheer van alles is. Boonop is ons hemelse Vader onveranderlik. Dit beteken dat Sy liefde vir ons nie van oomblik tot oomblik wissel nie, maar dat Hy ons met ‘n ewige liefde, wat geen perke het nie, liefhet! Gewapen met hierdie feite kan ons weet dat God alles ten goede vir ons sal laat meewerk.
Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Indien ons ten spyte van ons omstandighede aan God getrou bly, dan sal Hy ons boonop vir ons getrouheid beloon.
2Ti 2:11 “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) sal ons ook met Hom lewe. (fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking) 2:12 As ons verdra, (Ons belydenis van geloof vashou ten spyte van ons onaangename omstandighede wat pyn en lyding insluit. Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking.)sal ons met Hom regeer. (By die Regterstoel Oordeel van Christus met onder andere heersers posisies beloon word) As ons Hom verloën, (nie aan ons geloofsbelydenis vashou nie) sal Hy ons ook (By die Regterstoel Oordeel van Christus) verloën. (Wat beteken dat die gelowige loon en die eer om saam met Christus in Sy Vrederyk te regeer, verloor maar die gelowige bly nog steeds gered.) 2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (‘n Gelowige se ontrouheid sal nooit veroorsaak dat die Here teen Sy beloftes van die ewige lewe, op grond van genade alleen deur geloof alleen, sal optree nie. As God, kan die Here nie Sy woord breek of Homself verloën nie. Dus die Ewige sekuriteit van die gelowige en ‘n feit om volkome in te rus!)

Ter Afsluiting: Die onderwerp van pyn en lyding in die gelowige se lewe is so omvangryk, dat daar letterlik boeke daaroor geskryf kan word. Dus kan hierdie artikel derhalwe net as beperkte riglyn vir die verdere bespreking van hierdie onderwerp dien, en die leser kan self ander punte, wat nie hier genoem is nie, byvoeg of self punte weglaat soos wat die onderwerp van pyn in die gelowige se lewe bespreek en in gebed oordink word. (Daarom is dit uiters belangrik om altyd ons Hemelse Vader te versoek, om deur Sy Gees ons verstand te verlig, sodat ons Hom en Sy weë kan verstaan.) Ons moet altyd God se soewereine en alwetende perspektief in ag neem en nie net op ons beperkte perspektief fokus nie. God sal niks in ons lewens toelaat indien dit nie absoluut nodig is nie en daarom moet in God se wysheid en liefde vir ons rus. Onthou, vir die ongelowige is hierdie lewe die beste wat dit ooit sal wees. Vir die gelowige is hierdie lewe die ergste wat dit ooit sal wees!
1Ko 2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
En onthou:
Efs 3:20 “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, 3:21 aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.”

Seën Groete

Vic

 

 

 

Deel met ander asb.