geeste

Kan die geeste van geliefdes aan ons verskyn?

Vraag aangaande geeste: Naand Vicus.

Ek het nou baie probeer uitvind op internet, maar vind dit moeilik.

My ma vertel my vandag dat sy geeste, mense sien. Sy het bv. Donderdag aand my pa gesien! Hulle praat al en het geen kontak met mekaar vir n paar jaar nie. Hy is Vrydag in vir n operasie waarvan sy geen kennis dra. Hy het Donderdag aand aan haar verskyn. Sy kon sy klere drag aan my verduidelik en dit stem saam met wat hy aangehad het toe hy hospitaal toe is. Wat kan dit beteken dat hy aan haar verskyn het al is hy nie oorlede nie?

Sy het glo al baie mense gesien. Sy wil bv nie by mense se huise oorslaap waar hulle sê dit spook, want daar verskyn ook mense aan haar wat sy nie ken nie en sy is bang vir hulle!

Is dit maar net drome of is dit waarlik wat kan gebeur? As sy mense sien is hulle duidelik soos asof hulle werklik voor haar staan!

Hoop dit maak sin en dat jy dalk n verduideliking het vir ons.

Groete.

Antwoord: Jou ma is nie enigste persoon wat hierdie tipe van manifestasies ondervind nie. Daar is ook geen rede om haar storie te verwerp nie. Die feit dat sy sekere feite aangaande jou pa weet, wat sy nie onder normale omstandighede sou weet nie, dien as indikasie dat haar bewerings waar is. Daar is baie mense wat dieselfde verskynsels ondervind en om sulke verklarings uit die hand uit te verwerp sou ‘n ernstige fout wees. Alhoewel daar ‘n sekere persentasie van sulke gevalle aan geestelike siektes en selfs drome toegeskryf kan word, geld dit egter nie vir alle gevalle waar hierdie verskynsels voorkom nie. Hierdie verskynsel kom reg deur die wêreld en onder alle gelowe voor. Dit is naïef om te beweer dat al hierdie mense verkeerd is of hierdie stories opmaak. Wat ons egter moet doen is om met die Skrifte as vertrekpunt ‘n verduideliking vir hierdie verskynsels te vind.

Toe die Here uit die dood uit opgestaan het, het Hy aan Sy dissipels verskyn. By daardie geleentheid het hulle gemeen dat Hy ‘n gees is. Die Here het uit Sy pad gegaan om aan hulle te verduidelik dat ‘n gees nie oor vlees en bloed beskik nie.
Luk.24:36 “En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! 37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. 38 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? 39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. 40 En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. 41 En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? 42 Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. 43 En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.”

Indien daar geen moontlikheid was dat geeste aan die mensdom kon verskyn nie, dan sou hierdie ‘n gulde geleentheid vir die Here wees waarop Hy hulle wanopvatting kon regstel. Hy het egter nie, hoekom nie? Ek glo dat Here het nie hulle wanopvatting gekorrigeer het nie omrede Hy weet dat die mens wel onder sekere omstandighede deur geeste besoek kan word. Die Skrifte bevestig hierdie feit. Dit is opmerklik dat in die Ou Testament die Here spesifiek mense verbied het om enigsins te poog om met die geesteswêreld kontak te maak. Dit sluit die geeste van afgestorwe geliefdes in.
Lev.20:6 “En as ‘n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en hom uitroei onder sy volk uit.”

Ek glo dat die Here enige kontak met die afgestorwenes verbied het omrede Hy weet dat hierdie mense, of in die hel, of in die hemel by Hom is. Daar is nie een plek in die Bybel waar die Here dit duidelik gestel het dat Hy sal toelaat dat die geeste van die afgestorwenes met die lewendes kan kontak maak nie. Indien die geeste van afgestorwene met die lewendes kon kontak maak dan sou die Here hierdie optrede mos nie verbied het nie. Wanneer ‘n persoon tot sterwe kom, dan word daardie persoon se liggaam van sy gees geskei. Waar die oorlewende ‘n gelowige was, gaan daardie persoon se gees na sy hemelse Vader wat in die Hemele is.
2Kor.5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon. 9 Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.”
‘n Ongeredde persoon bevind hom met sy dood egter in die doderyk, waar hy homself in smarte sal bevind, naamlik:
Luk.16:23 “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.”

Dit is ook vanuit die Skrifte duidelik dat die oorlede persoon nie met die lewendes kon kontak maak nie en daarom het die ongelowige ryk man Abraham gevra om iemand na sy broers, wie nog op daardie stadium gelewe het, te stuur sodat hy hulle kon waarsku om tot geloof in God te kom. Dit sou nie vir hom nodig gewees het om hierdie versoek te rig indien hy instaat was om met die lewendes kontak te maak nie.
Luk.16:27 “En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — 28 want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. 29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. 30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. 31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”
Indien mens bogenoemde teksgedeelte mooi oordink, dan word dit duidelik dat die geeste van die oorledenes nie met die lewendes kan kontak maak nie. En boonop bly hulle geeste nie op aarde nadat hulle tot sterwe gekom het nie, maar het ‘n vasgestelde plek waarheen hulle geneem word. Die geeste van afgestorwenes het geen verdere insae in die lewens van die lewendes op aarde nie. Om hierdie rede het die Here die volgende stelling gemaak, naamlik:
Jes.8:19 “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?”
Indien ons, wie nog op hierdie aarde lewe, met die dooies kon kontak maak, dan sou die Here nie die bostaande stelling gemaak het nie. Bostaande teksgedeelte dien as bewys dat ons as ‘n reël glad nie met die geeste van die afgestorwenes kan kontak maak nie. En boonop kan hulle nie met ons kontak maak nie.

Die enigste moontlike uitsondering kon die keer wees toe die Here die profeet Samuel toegelaat het om uit die doderyk op te kom sodat hy die doodsvonnis aan Saul kon oplê vir sy sonde. (wat die begeerte om met die dooies in verbinding te tree insluit. 1 Samuel 28:15-21) Daar is egter geen ander voorbeeld in die Skrifte waar die Here toegelaat het dat ‘n afgestorwene se gees uit die dood kon opkom nie. Met die verhaal van die ryk man en Lazarus het die Here Jesus Christus dit duidelik gemaak dat ‘n mens nie toegelaat sal word om weer uit die dood uit op te kom en met die lewendes te kommunikeer nie. (Luk.16:20-31) Die Skrifte is baie duidelik in die opsig dat enige poging om met die geeste van afgestorwenes kontak te maak heeltemal verbode is. Daar is egter baie mense, wie mediums, toordokters ensovoorts insluit, wat beweer dat hulle met die geeste van dooies kontak maak. Hierdie mense maak in baie gevalle wel met geeste kontak, maar dit is nie die geeste van afgestorwe mense nie, maar eerder bose geeste wat besig is om hulle in die afgrond in te lei. Die Here is deeglik van hierdie feit bewus en daarom het Hy ‘n verbod op enige poging om met die geeste van afgestorwenes kontak te maak geplaas. Hierdie is ook dan een van die hoofredes waarom die oorgroot meerderheid van die mensdom deur die duiwel mislei word. Dit sluit baie mense wat hulleself as Christene beskryf ook in. Enige vorm van okkultiese bedrywighede, wat deesdae so gewild onder die mensdom is, is egter absoluut vir die mensdom verbode en diegene wat hulle aan sulke gedrag skuldig maak sal nog ‘n prys vir hulle optrede betaal.

Die duiwel sal nie skroom om homself as ‘n engel van die lig aan mense voor te stel nie.
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
Bose geeste sal vir ‘n mense wees net wat daardie persoon wil hê hy moet wees. Vir iemand wat in buiteaardse/ruimte wesens glo, sal hy as ‘n buiteaardse weseverskyn. Vir iemand wat in die tokkelossie glo sal hy as ‘n tokkelossie verskyn. Met al die inligting tot ons beskikking kan ons nie meer die verskynsel van buiteaardse verskynsels asook vreemde vlieënde voorwerpe ontken nie. Wat ons egter moet doen is om te bepaal wat hierdie verskynsels is en wie agter dit sit. Ek is vas daarvan oortuig dat hierdie verskynsels satanies van aard is en dat dit bose geeste is wat besig is om die mensdom te verly. (hierdie verskynsel sal toeneem soos wat die einde van hierdie dispensasie nader kom.) Indien mens na die boodskappe luister wat hierdie wesens verkondig is dit duidelik dat hulle die Skrifte, of heeltemal verdraai, of dit heeltemal ontken. In baie gevalle word die skeppingsweek van God heeltemal ontken en met die leerstelling van ewolusie vervang. Baie mense glo verkeerdelik dat Charles Darwin die uitvinder van die teorie van ewolusie is, maar dit is nie die geval nie. Die teorie van ewolusie en reïnkarnasie kan amper so ver as die menslike geskiedenis terug gevolg word. My opinie is die grondslag van hierdie leerstelling in die tuin van Eden gelê is, toe Satan die mens belowe het dat hy nooit tot sterwe sou kom nie. Hierdie leuen van hom het tot die leerstelling van reïnkarnasie aanleiding gegee. Die idee dat organismes vanaf ander tipes organismes ontwikkel het is al tydens die tydperk van die eerste pre-sokratiese Griekse filosofie, naamlik die van Anaximander en Empedocles aan die mensdom bekend.

Omrede dit die bose geeste se doelstelling is om die mensdom te verlei sal hulle nie skroom om hulleself as die geeste van geliefdes voor te doen nie. Dit sluit die geeste van lewende persone in. Die duiwels kry ‘n inslag by mense omrede hulle inligting kan bekendmaak wat nie op ‘n ander wyse bekend sou wees nie. Daarom kan ‘n bose gees byvoorbeeld vir ‘n persoon sê dat hy ‘n spesifieke kledingstuk aangehad het. Die rede hiervoor is eenvoudig. Geeste beskik nie oor fisiese liggame wat tot sterwe kom nie. Boonop is hulle nie tot dieselfde fisieke wette as die van die materiële wêreld gebonde nie. Omrede hulle nooit tot sterwe kom nie, en oor die vermoeë beskik om die mens ongesiens dop te hou, weet hulle feite aangaande persone wat ander mense nie bewus van kan wees nie. (dit verduidelik ook die feit dat vreemde vlieënde voorwerpe die fisiese wette van die natuur kan oorskry en bewegings uitvoer wat vir enige materiële vaartuig onmoontlik sou wees.) Op hierdie wyse verskyn hulle aan mense gekleed in kledingstukke wat die persoon aan gehad het en so verlei hulle die slagoffers van hierdie bedrogspul. Hierdie manifestasies kan in die vorm van drome, hipnose of fisiese manifestasies plaasvind. In baie gevalle maak mense van mediums (of ander okkultiese metodes) gebruik om boodskappe vanaf oorlede geliefdes te ontvang. In baie gevalle word daar wel met ‘n gees kontak gemaak, maar dit is nie die gees van die geliefde nie, maar die gees van ‘n duiwel. Omrede hierdie inligting nie algemeen bekend is nie neem die slagoffer aan dat die gees wat aan hom verskyn, of wat die boodskap aan hom oordra, die gees van ‘n geliefde is. So word die persoon wat hierdie bewerings glo deur die duiwels vasgevang en kan dus maklik verder mislei word. Ek weet van mense wat deur ‘n gees wat homself as die reïnkarnasie van die Christus voorgedoen het, en beveel het dat die spesifieke persoon homself moet doodmaak sodat hy na hierdie christus kon gaan. Toe die persoon weier, toe word die gees kwaad en begin dreigend raak. Net nadat die persoon die naam van die ware Here Jesus Christus van die Bybel aangeroep het (wie nie reïnkarneer is nie, maar liggaamlik uit die dood uit opgestaan het) het die bose gees van die persoon gewyk.

Daar is baie vorme waarin hierdie manifestasies plaasvind en daarom is die oorgroot meerderheid van die mensdom heeltemal verly. (Dit sluit enige vorm van breinwysigende middels, trans oefeninge asook hipnose en ander okkultiese aktiwiteite ens in. Hierdie geeste beweer soms dat die bestaan van die duiwel slegs ‘n menslike konsep is, en dat die Here Jesus Christus nie God in die vlees is nie, maar slegs een van die hoër ontwikkelde vorme naamlik die “ascended masters” is. In baie gevalle beweer hierdie wesens dat sonde nie werklik bestaan nie en dat ons ook nie ‘n verlosser nodig het nie. Baie mense glo hierdie leuens en verwerp die Bybel en die Jesus Christus van die Bybel en kom nooit tot die ware kennis aangaande Hom nie. Dit geld ook vir sogenaamde boodskappe wat onder die invloed van hipnose bekom is. Soos reeds genoem, neem hierdie manifestasies verskeie vorms aan en dit sou ‘n boek neem om al die metodes te bespreek wat deur die duiwels aangewend word om die mensdom te verlei.

En onthou, omrede die bose geeste nie fisies tot sterwe kan kom nie, het hulle ‘n geweldige groot databasis van kennis aangaande die mensdom tot hulle beskikking. As geeste het hulle ook ‘n groter mate van insig in wat moontlik in die toekoms kan gebeur, en sal nie skroom om van hierdie inligting, wat dalk korrek mag wees, aan die mens oor te dra, om hulle sodoende te kry om alles wat die gees later aan hulle mag sê te glo. Wanneer ons ‘n persoon sien wie ernstig siek is kan ons met ‘n groot mate van sekerheid voorspel dat daardie persoon nie meer lank gaan lewe nie, of dat daardie persoon ‘n groot operasie sal moet ondergaan. Die duiwels, wat oor ‘n hoër vlak van intelligensie as die mens beskik, kan presies dieselfde (en selfs meer) doen en hierdie inligting deur ‘n manifestasie aan ‘n persoon gee met die wete dat die persoon hom in alles sal glo indien sy voorspelling later waar word. So stel hulle die persoon vir ‘n groot val op. Niemand sou hulle geglo het indien hulle die heeltyd leuens verkondig het nie, maar met genoeg waarheid in die leuens vermeng is dit maklik om mense te verlei. Hierdie is ook ‘n gewilde tegniek wat gereeld deur valse profete aangewend word. (lees gerus die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?”)

Ter Afsluiting: Nee, dit is nie jou pa of enige gees van ‘n afgestorwene wat aan jou ma verskyn nie. Dit is eerder bose geeste. Sy moet geensins met hulle in ‘n gesprek betrokke raak nie, maar hulle in die naam van die Here Jesus Christus weerstaan, geklee in die volle wapenrusting van God. As sy dit doen sal hulle van haar af wegvlug. (dit is nie te sê dat hulle nie later weer sal poog om terug te kom om haar weer te verly nie) Maar onthou die bose geeste probeer ons almal op die een of ander wyse te beïnvloed, maar net soos enige versoeking moet ons die duiwel in die Gees en met die korrekte Bybelse leerstellings weerstaan.
Ef.6:13 “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God — 18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges 19 en vir my, sodat ‘n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,”

Om hierdie rede is dit belangrik dat ons die Bybel goed ken en weet hoe om dit korrek uit te lê. Ons moet ‘n liefde vir die waarheid aankweek (soos wat ons dit in die Bybel vind), en die wêreld deur hierdie lens benader, anders gaan ons verly word.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die Here het ons vooraf gewaarsku dat die wêreld toenemend boser sal raak en ons kan dit orals rondom ons waarneem. Televisie programme waar die okkult ‘n groot deel van vorm is baie gewild onder ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom. Dit sluit ook programme in waar mense d.m.v. ‘n medium met die dooies in aanraking kom. (dan praat ek nie eens van die sekulêre wêreld nie!) Hierdeur word die mensdom verlei en dit gaan nog tragiese gevolge vir mensdom as geheel inhou.
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”

Die gees wat aan jou ma verskyn is nie jou pa nie. Dit is ‘n bose gees wat jou ma wil verlei. My raad sou wees dat jy haar aanraai om hierdie geeste in die naam van die Here Jesus Christus te weerstaan. En onthou:
1Joh.4:4 “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”
Ons hoef geensins bose geeste te vrees nie, maar ons moet alle kontak met hulle verwerp. Die grootste skade wat hulle aan ons kan doen is om ons op ‘n dwaalweg te plaas, of ons te beïnvloed om ideologiese stelsels soos byvoorbeeld Marxisme of kommunisme te aanvaar, want daardeur het Satan dit reggekry om miljoene mense om die lewe te bring. Hierdie beginsel geld vir enige valse godsdiensstelsel ook. Dit is juis d.m.v. ideologiese, asook valse godsdiensstelsels, (wat ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom insluit) waardeur Satan grootskaalse bloedvergieting veroorsaak het. En om hierdie rede noem die Here nie verniet Satan ‘n moordenaar van die begin af nie, want dit was juis Satan wat Kain beïnvloed het om sy broer te vermoor en hy doen dit vandag nog steeds. Dit is om hierdie rede dat ons glad nie met bose geeste in gesprek mag tree nie. Onthou, agter elke ideologiese, asook godsdienstige stelsel is daar geestelike beïnvloeding wat van die geesteswêreld afkomstig is. Dit sluit ander sondes soos byvoorbeeld diefstal en skinder in. (Satan hou daarvan om mense te laster en hulle in ‘n slegte lig te plaas en hiervoor gebruik hy die mens as instrument.) Ons fokus moet op die Here en die Skrifte wees en moet enige vorm van kontak met geeste vermy.

Dit is my bede dat hierdie artikel jou sal help.

Seën groete.

Vic

Deel met ander asb.