Die laaste basuin

Die laaste basuin in 1Kor.15:52 vs die sewende basuin in Open.11:15

Daar heers soms groot verwarring rondom die identifikasie van die laaste basuin soos in 1Kor.15:52 gevind. Veral proponente van die mid-tribulasie siening beweer dat hierdie basuin dieselfde basuin is as die laaste van ‘n reeks van sewe basuine wat ons in Open.11:15 vind. Hulle glo dat die kerk deur die eerste helfte van die sewejarige verdrukking sal moet gaan en dan teen die middel van die sewe jaar deur Christus weggeraap word. Met hierdie skrywe sal gedemonstreer word dat hierdie twee basuine nie dieselfde basuine is, en derhalwe nie met mekaar verwar moet word nie. 1Kor.15:52 lees soos volg, naamlik:
“in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
Daarenteen vind ons dat daar in Openbaring aan sewe engele, sewe basuine gegee word wat hulle tydens die tweede helfte van die verdrukking sal blaas, en wat verdere oordele op die wêreld tot gevolg het, naamlik:
Openb.8:2 : “En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.”
Met die blaas van elke basuin sal daar ‘n reeks verskriklike oordele van God die wêreld tref. (Die leser word aangeraai om self die hele gedeelte in Openbaring te lees.) En daarna blaas die sewende engel die laaste basuin in die reeks van sewe basuine, naamlik:
Openb.11:15 “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” (dus het die tyd aangebreek dat Christus Sy Koninkryk op aarde oprig. Die leser word aangeraai om die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk Kom” te lees.)

Wanneer dit by die korrekte uitleg van die Bybel kom is dit van uiterste belang om te bepaal wat die skrywer met ‘n gegewe stelling bedoel. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die korrekte konteks te gebruik, anders gaan mens die gegewe stelling verkeerd verklaar. Wanneer ons die briewe bestudeer, dan is dit opmerklik dat die apostel Paulus hoofsaaklik op die leerstelling van die wegraping, wat die Here Jesus Christus in Joh.14:2-3 bekendgemaak het, uitbrei, naamlik
Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan (fisies/liggaamlik, naamlik die hemelvaart))om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer (fisies/liggaamlik) en sal julle (fisies/liggaamlik) na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek (fisies/liggaamlik) heengaan, weet julle en die weg ken julle.”

Gegewe hierdie feit is dit opmerklik dat Paulus op hierdie leerstelling van die wegraping uitgebrei het, naamlik:
1Thess.4:16 “Want die Here self sal (fisies/liggaamlik)van die hemel (waarheen Hy liggaamlik opgevaar het)neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, (Slegs gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef word as “in Christus” beskryf. Alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot sterwe kom, se geeste sal saam met die Here kom, en met die eerste opstanding, met hulle verheerlikte liggame verenig word en liggaamlik uit die dood uit opstaan.) sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, (gelowiges wat nog met die aanbreek van die wegraping lewe) saam met hulle (fisies verheerlikte liggame) in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; (waar Hy fisies/liggaamlik vir ons wag) en so sal ons altyd by die Here wees. (want ons sal dan saam met Hom na Sy Vader, en ons Vader, se huis in die Hemel gaan) 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Dit blyk ook duidelik dat Paulus die “basuin van God” soos in 1Thess.4:16 gevind met die “laaste basuin” soos in 1Kor.15:52 gevind (twee uiters belangrike teksgedeeltes wat oor die wegraping handel) verbind, naamlik:
1Kor.15:51 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, (fisies tot sterwe kom nie) maar ons sal almal verander word, (met ons verheerlikte, onsterflike, sondelose en onsterflike verheerlikte liggame oorklee word)52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode (alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie, en wat dus “in Christus” tot sterwe gekom het)sal onverganklik opgewek word; en ons (wie nog fisies/liggaamlik lewe) sal verander word. 53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” (dan eers sal fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking afgehandel wees.) Slegs na afloop van die eerste opstanding/wegraping sal fase drie van die gelowige se verlossing, naamlik die verheerliking, afgehandel wees en sal die gelowige nie meer vir fisiese dood vatbaar wees nie. Slegs wanneer die verheerliking afgehandel is sal gelowiges kan verklaar dat die dood in die oorwinning verslind is. Onthou, hierdie gebeurtenis lê nog in die toekoms voor, en tot en met die wegraping sal alle gelowiges nog steeds vir die dood, siektes en die verouderingsproses vatbaar wees.

Benewens bostaande feite, is dit ook belangrik om Paulus se stellings, soos hierbo weergegee, binne die korrekte dispensasionele konteks te bestudeer. Praat die skrywer met gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Wet, die Dispensasie van die Kerk, of die dispensasie van die Messiaanse Koninkryk van Christus/Millennium sal lewe? Die antwoord vir hierdie vraag is eenvoudig. Onthou, die briewe, soos in die Nuwe Testament gevind, is direk aan die Kerk, wat tydens die Dispensasie van die Kerk leef, gerig. Boonop word alle persone wie tydens die Kerk Dispensasie tot geloof in Christus kom, in Sy liggaam ingedoop en word hulle dus as “in Christus” beskryf.
1Kor.12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Rom.12:4 Want soos ons in een liggaam
(die Kerk wat as die liggame van Christus bekendstaan, wat tydens die Dispensasie van die Kerk deur Christus gestig en opgebou word. Matt.16:18) baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, 5 so is ons almal saam een liggaam (gelowiges wat deel van die kerk vorm, wat as die liggaam van Christus bekendstaan) in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.”
Nou dat ons hierdie vraag beantwoord het, moet ons ‘n volgende vraag stel en beantwoord, naamlik: “Wat het die skrywer dan met die term “laaste basuin” binne hierdie konteks bedoel?” Dit is ook baie opmerklik dat Paulus nie die term “die laaste basuin” aan sy lesers verduidelik nie. Die rede hiervoor is duidelik. Hy moes alreeds met sy persoonlike besoek aan hulle die betekenis van die term “laaste basuin” aan sy lesers verduidelik het, en daarom neem hy aan dat hulle alreeds weet wat hy met die term “laaste basuin” bedoel en vind dit nie nodig om nou weer daaroor uit te brei nie.

Die stelling “laaste basuin” kan nie beteken dat Paulus van die heel laaste van die reeks van sewe sewe basuine in Openb.11:15 praat nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die Here Jesus Christus het self verklaar, dat na afloop van die Groot Verdrukking, daar ‘n basuin sal blaas wanneer engele na die uithoeke van die aarde uitgestuur sal word, om die res van die volk Israel, wat nie in hulle land teenwoordig is nie, te gaan haal en hulle weer in hulle eie land sal versamel.
Matt.24:29 “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae (wanneer die reeks van sewe basuine soos in Openb.11:15 alreeds iets van die verlede is) sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. 30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. (om Sy Koninkryk op aarde te vestig) 31 En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes (Israel wie God se uitverkore volk is) versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
Indien mens die verloop van die chronologiese gebeure, soos wat ons dit in die boek van Openbaring opgeteken vind, in ag neem, word dit duidelik dat die Wederkoms van Christus na afloop van die Groot Verdrukking sal plaasvind. Die wederkoms sal dus ‘n geruime tyd na afloop van die blaas van die sewende basuin in Openb.11:15 plaasvind, wat beteken dat die laaste basuin in die reeks basuine soos in Openb.11:15 nie die algehele laaste basuin kan wees nie, omrede daar nog ‘n verdere basuin na afloop van Christus se wederkoms geblaas sal word. (Self in die Millennium wat na afloop van die Groot verdrukking persoonlik deur Christus opgerig sal word, sal daar weer feeste gehou en basuine geblaas word. ‘n Onderwerp wat nie vir die doeleindes van hierdie artikel bespreek hoef te word nie. Sag.14:16-19)

Derhalwe is dit foutief om die sewende basuin in Openb.11:15 met die laaste basuin in 1Kor.15:52 te identifiseer, omrede daar verskeie basuine in die Skrifte te vinde is. Boonop is daar ook ander redes om nie die twee basuine met mekaar te identifiseer nie. Daar bestaan ook groot verskille tussen die laaste basuin, soos in 1Kor.15:52 beskryf, en die sewende basuin soos in Openb.11:15 gevind. Omrede 1Kor.15:52, asook 1Thess.4:16 dieselfde gebeurtenis beskryf, moet die “laaste basuin” met die “basuin van God” gekoppel word wat beteken dat “basuin van God” niks anders as die “laaste basuin” is nie. Daarenteen word die reeks basuine in Openbaring deur engele geblaas wat beteken dat die laaste basuin in Openb.11:15 nie dieselfde basuin as die een in 1Kor.15:52 kan wees nie. Boonop gee die “laaste basuin” of te wel die “basuin van God”, aanleiding tot fase drie van die gelowiges se verlossing, naamlik die wegraping/verheerliking, wat ‘n seën vir gelowiges sal wees en nie iets is om te vrees nie. (daar is dus geen sprake van oordeel in 1Kor.15:52 te vinde nie.) In teenstelling met hierdie feit, gaan die blaas van die basuine, soos in Openbaring gevind, met God se oordele oor ‘n bose wêreld gepaard, wat definitief nie deur die aardbewoners as ‘n seën beskou sal word nie. Daar is dus geen gemeenskaplike ooreenkomste tussen die “laaste basuin” soos in 1Kor.15:52 gevind en die basuin in Openb.11:15 nie.

Die basuin in Openb.11:15 kan ook om nog ‘n rede nie dieselfde basuin as die “laaste basuin” in 1Kor.15:52 wees nie, omrede daar geen sprake van ‘n opstanding of verheerliking in Openb.11:15 te vinde is nie. Daarenteen handel 1Kor.15:52 hoofsaaklik oor die opstanding van gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het. (Dit sluit alle gelowiges wat dus “in Christus” en dus gedurende die Kerk Dispensasie tot geloof gekom en “in Christus gesterwe” het in.) En soos reeds genoem, dien hierdie opstanding/wegraping as ‘n seën vir gelowiges, nie oordeel nie. Oordeel word nêrens in hierdie teksgedeelte genoem nie. (een van die seëninge wat met die wegraping gepaardgaan is die feit dat alle gelowiges met hulle afgestorwe geliefdes verenig sal word. Dood, siekte, angs, eensaamheid, sonde ens sal iets van die verlede wees wat slegs as ‘n seën vir gelowiges bestempel kan word. Die wegraping is nie ‘n gebeurtenis wat gelowiges moet vrees nie, maar iets waarvoor ons moet bid, want dan alleenlik sal ons lyding en smarte op hierdie aarde tot ‘n einde kom!

Daar is egter nog ‘n verdere rede waarom die siening van die proponente van die mid-tribulasie wegraping verkeerd is. Hulle beweer dat die laaste basuin in die reeks van sewe basuine, soos in Openb.11:15 gevind, dieselfde basuin as die “laaste basuin” van God in 1Kor.15:52 is. Die sewende basuin in Openbaring 11:15 word nie in die middel van die sewe jaarlange verdrukking geblaas nie, maar amper teen die einde van die Groot Verdrukking. Dit sou beteken dat gelowiges die Groot Verdrukking sou binnegaan wat ‘n weerspreking van hulle eie leerstelling teweegbring. Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking” te bestudeer wat hierdie feit duidelik uitlig.

Ter Afsluiting: Wat het Paulus met die stelling “laaste basuin” dan bedoel? Ons weet die konteks maak dit duidelik dat hy aan gelowiges, wat tydens die dispensasie van die Kerk lewe, geskryf het. Die “laaste basuin” moet dus binne hierdie konteks verstaan en verklaar word. Die “laaste basuin” wat ook niks anders as die “basuin van God” is, is die basuin wat die wegraping inlui en wat die Kerk Dispensasie tot ‘n einde bring. Die wegraping bring die Kerk Dispensasie tot ‘n einde en daarna volg die verdrukking eers. Die Kerk is nie bestem vir God se oordeel nie, maar vir Sy verlossing/seën, en kan dus geen gedeelte van die sewe jaar verdrukking binnegaan of aan die Christus se oordele in die Verdrukking blootgestel word nie.
1Thess.5: 9 “Want God het ons (gelowiges wie tydens die kerk dispensasie lewe) nie bestem tot toorn (die verdrukking) nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus 10 wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.”
Gelowiges wat tydens die dispensasie van die Kerk lewe, wag nie vir die aanbreek van die Verdrukking, of die openbaarmaking van die Antichris, asook God se oordeel oor die bose wêreld nie. (die sewe jaar verdrukking) Ons wag vir die Here Jesus Christus, wat Sy verskyning uit die Hemel sal maak, om ons d.m.v. die wegraping van Sy toorn te verlos en ons na Sy Vader (en ons Vader) se huis sal neem.
Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.”
1Thess.1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn (die Verdrukking) verlos.”
1Thess.4:16 “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus
(slegs gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het word as “in Christus” beskryf.) gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons (gelowiges wat tydens die wegraping nog leef) wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”

Die wegraping is ‘n seën vir gelowiges, nie iets is om te vrees nie! Anders sou ons nie mekaar met hierdie woorde kon bemoedig het nie! Slegs nadat ons met ons verheerlikte liggame oorklee is, sal ons kan verklaar dat die woord vervul is wat verklaar dat die dood in oorwinning verslind is.
1Kor.15:51 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,
(daar is dus ‘n klein persentasie gelowiges wat fisiese dood sal vryspring) 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons (wat nog lewe) sal verander word. 53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking) dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Drie Fases van Verlossing” asook die artikel “Waarom sterf gelowiges dan nog?” te lees.)

Die “laaste basuin” is niks anders as die “basuin van God” nie, en dit is die einste basuin wat die Kerk Dispensasie d.m.v. die wegraping tot ‘n einde bring. En onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede, hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.