werk om te wil

Dit is God wat in julle werk om te wil

Die meeste van ons kan na ‘n spesifieke gebeurtenis in ons lewens verwys waar ‘n gevoel oor ons gekom het dat ons lewens in gevaar is. Baie mense verwys na hierdie verskynsel as ‘n sesde sintuig of “klein stemmetjie”. Hierdie verskynsel manifesteer nie noodwendig net in tye van gevaar nie. Ek sou dit nie noodwendig as ‘n sesde sintuig omskryf nie maar eerder ‘n geestelike invloed “werk om te wil”

Maar voordat ons met hierdie artikel verder gaan is dit belangrik om hierdie voorgevoel, soos wat ek al op verskeie geleenthede beleef het, baie mooi te verduidelik. Die rede hiervoor is van uiterste belang, omrede daar baie sogenaamde moderne profete verklaar dat die Here ‘n gesprek met hulle voer. Hulle begin gewoonlik met die stelling “Die Here het vir my gesê” en dan volg daar gewoonlik ‘n sogenaamde uiteensetting van wat die Here aan die spesifieke persoon wil sê. En dit ten spyte van die feit dat dat die Bybel baie duidelik verklaar dat die gawe van profesie tot ‘n einde sou kom. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?” te lees, waar hierdie onderwerp volledig vanuit ‘n suiwere Skriftuurlike perspektief bespreek is.

Indien mens met oud soldate, polisiemanne of mense wat hulleself in gevaarlike beroepe bevind praat, dan hoor mens gereeld van hierdie voorgevoel wat hulle ontvang het. Hierdie verskynsel is egter nie slegs tot bostaande groep mense beperk nie en word op die een of ander tyd deur meeste (indien nie almal) van ons ervaar. Baie mense ontken hierdie “voorgevoel” maar ek is vas daarvan oortuig dat hierdie verskynsel wel werklik plaasvind en het dit al persoonlik op verskeie kere beleef. Omrede alle leerstellings slegs vanuit die Skrifte bekom moet word, het ek egter hierdie verskynsel in die lig van die Skrifte deurdink, en ek gaan kortliks my redes waarom ek dink dat hierdie voorgevoelens, wel soms van God afkomstig is hier weergee. Ek moet die term “soms” hier beklemtoon, want ons word ook baie keer deur die bose geesteswêreld, en selfs ons eie begeertes, asook verbeelding beïnvloed.

‘n Groot gedeelte van ons geestelike stryd vind in ons gedagtes plaas:
Omrede die menslike verstand so ‘n belangrike rol in die mens se geesteslewe speel, het God dit nodig geag om ons d.m.v. die apostel Paulus te waarsku dat ons in ons verstand hernu moet word, naamlik:
Rom.12:2. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Daarom kan mens verwag dat die Here van ons verstand gebruik sal maak om ons te beïnvloed, omrede Hy weet watse groot invloed ons gedagtewêreld oor ons uitoefen. (Hy het ons immers geskape) Meeste, indien nie alle goeie dade, sowel as sondes, word eers in ‘n persoon se verstand geformeer en dan word daar soms op daardie gedagtes geregeer. Hierdie beginsel geld vir enige betekenisvolle kommunikasie. Ons moet egter nooit vergeet dat ons deur die geesteswêreld beïnvloed word en soms op wyses wat ons nie mooi verstaan nie. Die Bybel gee wel aan ons die antwoorde. Dus bestaan daar altyd die moontlikheid dat die idees of voorgevoelens wat ons beleef, as oorsprong die geesteswêreld het en nie noodwendig die menslike verstand nie. ‘n Idee of gevoel sal in ‘n persoon se verstand opkom, en indien daardie persoon dit oordink, ontstaan daar ‘n groot kans dat hy die gedagte sy eie maak en dit op die een of ander wyse uitleef. Alhoewel die persoon op die idee moet uitbrei, en dit mooi moet omskryf, is die grondslag van hierdie idee egter nog steeds in die geesteswêreld te vinde. (dit sluit die verskillende politieke ideologiese denkrigtings in) Omrede die gawe van profesie nie meer tydens die post-apostoliese tydperk in werking is nie, gebruik die Here wel die Heilige Gees, Wie permanent in alle gelowiges inwoon, om ons te leer en in alle waarheid te lei. (Dit geld vir alle gelowiges en nie net vir ‘n beperkte groepie soos byvoorbeeld profete nie) Die Heilige Gees werk dan in ons om Sy wil deur ons te bewerkstellig, en daarna neem ons hierdie begeerte, oordink dit, vergelyk dit met die Skrifte en pas dit in ons lewens toe.

Filip.2:13 is ‘n spesifieke teksgedeelte wat meer lig op hierdie onderwerp werp, naamlik:
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Alle gelowiges ontvang na wedergeboorte ‘n nuwe natuur wat nou in stryd met sy ou sonde natuur wil optree. Omrede die sonde natuur nie met wedergeboorte vernietig word nie, en nog steeds in die gelowige teenwoordig is, het die gelowige nou die keuse uit watter natuur hy gaan optree. Die Heilige Gees wil nou die gelowige sover kry om vanuit sy nuwe natuur te leef en sy besluite volgens die begeertes van die nuwe natuur uit te voer. Dit is dan ook vanuit hierdie nuwe sondelose natuur, waar die Heilige Gees met die gelowige werk om hom te beïnvloed om toenemend soos die Here Jesus Christus te leef. ‘n Persoon wat nie wedergebore is, en dus nog nie oor ‘n nuwe natuur beskik nie, kan nie die dinge van die Here verstaan nie want dit is vir hom dwaasheid.
1Kor.13 “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons (gelowiges wat oor ‘n nuwe natuur beskik) geestelike dinge met geestelike vergelyk. 14 Maar die natuurlike (ongeredde persoon) mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.”

‘ n Gelowige wat vanuit sy sonde natuur lewe word in die skrifte as vleeslik beskryf, en omrede hy vanuit sy ou sonde natuur optree kan so ‘n gelowige net soos ‘n ongelowige optree. Dit is egter God se begeerte dat ons nie so optree nie, maar ongelukkig tree ons almal op die een of ander stadium net soos ongelowiges op. Vra maar gerus diegene wie die naaste aan ons leef! Die gemeente in Korinthe, wie gelowiges was, dien ook as voorbeeld hiervan.
1Kor.6:9 “Of weet julle (gelowiges)nie dat die onregverdiges (ongeredde mense wie nie die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid besit nie)die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers (skinderbekke) of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. (alles werke wat mens van ‘n ongeredde persoon verwag, nie van ‘n geredde persoon nie)11 En dit was (verlede tydsvorm. Hulle het egter die Evangelie geglo en die Here Jesus se toegerekende geregtigheid ontvang) sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, (deur die Evangelie te glo en wedergebore te raak)maar julle is geheilig, (vir ewig as God se eiendom afgesonder)maar julle is geregverdig (geregtig verklaar en dus weergebore) in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (verseël. Ef.1:13)
Maar dit was juis hierdie einste wedergebore Korintiërs wat hulleself aan bogenoemde sondes skuldig gemaak het. Beide die briewe van I en 2 Korinthiërs illustreer hierdie feit baie mooi.

God maak van meer as een metode gebruik om ‘n gelowige so ver te kry om binne die raamwerk van Sy wil op te tree. God kan byvoorbeeld ‘n gelowige finansieel beperk, om sodoende te verseker dat die gelowige homself slegs op ‘n spesifieke taak toespits, met die wete dat indien die persoon meer finansiële opsies het, sy aandag baie vinnig van die taak afgehaal kan word en God se doel met daardie persoon se lewe sodoende verydel word. In sekere gevalle mag dit selfs vir God nodig wees om ‘n doring in die vlees aan ‘n gelowige te gee, om sodoende hoogmoed of sonde in die gelowige se lewe te verhoed.
2Kor.12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
In ander gevalle kan God ‘n gelowige, wie die gawe om te gee ontvang het, met meer as genoeg geld voorsien, sodat daar altyd genoegsame finansies vir die uitvoering van Sy werk op aarde beskikbaar sal wees.
Fil.4:18 “Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, ‘n lieflike geur, ‘n welgevallige offer, welbehaaglik by God.
2Kor.9:6 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.”

Wanneer die Here byvoorbeeld ‘n persoon in die een of ander bediening wil gebruik, dan sal Hy die begeerte (“Werk om te wil”) in die persoon se hart plaas om byvoorbeeld die Bybel in diepte te bestudeer. Daar is nie een persoon wat kan verklaar dat hy deur God tot ‘n voltydse bediening geroep is, sonder dat die Here die begeerte in daardie persoon se hart sal plaas om die Skrifte deeglik te bestudeer nie. Ek praat nie hier van die feit dat ‘n persoon noodwendig na ‘n universiteit moet gaan nie, maar dat hy onder die invloed van die Gees die Skrifte sal bestudeer. Dit verg baie moeite aan die kant van die gelowige, en daarom is gesonde leerstellings nie meer so gewild nie. Baie bedieninge maak van emosies gebruik om getalle te trek en sodoende word gesonde Bybelse leerstellings tersyde gestel. Deesdae begeer die oorgroot meerderheid Christene eerder emosionele belewenisse as die suiwer woord van God. Die Heilige Gees sal nooit valse leerstellings goedkeur nie. In baie gevalle is dit juis die universiteite wat valse leerstellings verder propageer, soos byvoorbeeld liberale teologie ens. God se model was nog altyd dat opsieners uit die plaaslike gemeentes aangestel word. Herders en leeraars wat uit daardie gemeente onder die leiding van die leeraars daar teenwoordig opgelei is, en wat aan die vereistes soos in 1Tim.3:1-13 gevind voldoen, en wie deur die Heilige Gees met die gawe van leeraar of evangelis geseën is.

Nadat die Here die begeerte (werk om te wil) in die persoon se hart geplaas het, bly dit egter nog steeds daardie persoon se keuse of hy op daardie begeerte gaan reageer of nie. Indien die gelowige positief reageer, moet hy egter aan die vereistes soos in die Skrifte gevind voldoen. ‘n Opsiener is dus ‘n persoon wat hoë mate van geestelike volwassenheid d.m.v. toegewyde heiligmaking/dissipelskap bereik het (iemand wat die Skrifte ken en korrek kan uitlê en toepas.) Hy hoef nie oor ‘n graad te beskik of noodwendig by enige tersiêre instansie opleiding te ontvang nie. (Hierdie is egter ‘n onderwerp vir ‘n ander artikel)

Op dieselfde wyse kan God soms in gevalle waar Hy gevaar ontstaan in die gelowige “werk om te wil” sodat die persoon die gevaarlike situasie kan ontduik. Dit is hierdie voorgevoel/bewuswording waarvan ‘n persoon gewoonlik bewus word en wat so moeilik is om in woorde te verduidelik. Net soos wat ‘n persoon bewus word van die begeerte om die Bybel te bestudeer, net so word hierdie persoon van moontlike onheil bewus, maar sonder dat die waarskuwing woord vir woord aan hom opgedra word. Dit is meer ‘n geval van ‘n wete, of gewaarwording, dat gevaar naby is wat dan ‘n reaksie aan die gelowige se kant vereis. Op hierdie wyse verskaf die Here daaglikse leiding aan die gelowige wat andersins onmoontlik sou wees.
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Wat ons byvoorbeeld as ‘n voorgevoel beleef, kan dalk niks anders as die Heilige Gees wees Wie in ons werk om te wil nie.

Daarom is dit van uiterste belang dat ons die Here se woord ken en Hom toelaat om in en deur ons te werk. (werk om te wil) Dit is aan die gelowige wie in die daaglikse roetine van die lewe getrou aan die Here en Sy woord bly, en wie naby aan Hom lewe, aan wie Hy ‘n groter mate van insig aangaande die Skrifte en Sy persoonlike wil sal gee. So ‘n gelowige sal dus insae hê in dinge waarvan die vleeslike gelowige nie kennis van dra nie. Dit is om hierdie rede dat Paulus gelowiges aanmoedig om ten alle tye met die Gees vervul te wees.
Ef.5:18 “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Dit is ‘n opdrag wat die gelowige moet nakom.

Hierdie gewaarwording is nie noodwendig ‘n gereelde gebeurtenis nie, maar ons almal beleef dit die een of ander tyd, asook op verskillende maniere. Die Here gebruik egter die “werk om te wil” metode om Sy wil op aarde gedoen te kry. Omrede hierdie gewaarwording nie in woorde ontvang word nie, is dit maklik om dit mis te kyk of selfs heeltemal te ignoreer. Daarbenewens kan Satan van soortgelyke metodes gebruikmaak om die persoon te verwar en op ‘n dwaalweg te plaas. Satan sal alles wat God doen probeer namaak, en ons kan te wagte wees dat hy ook met God se begeerte om te “werk om te wil’ verwarring wil saai. Om hierdie rede moet ons alles met die Skrifte vergelyk en sorg dat ons naby aan die Here leef.

Net omrede ons ‘n begeerte of gedagte ontvang beteken geensins dat dit noodwendig van God afkomstig is nie. In gevalle soos hierdie is daar drie bronne waaruit ‘n persoon beïnvloed kan word, naamlik: Die persoon self, Satan of God. Ons moet egter ten alle tye dwaalleerstellings en sondige optredes vermy want dit kan nooit van die Here afkomstig wees nie. Aan die anderkant sal ons eendag, wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus staan, besef hoeveel keer God in ons gewerk het om te wil wat ons of geïgnoreer of heeltemal misgekyk het. Daar sal selfs mense staan wie heeltemal God se wil vir hulle lewens misgeloop het en wat met leë hande voor die Regterstoel Oordeel moet weggaan. Om hierdie rede is dit belangrik om sensitief vir die leiding van die Heilige Gees in ons lewens te wees. Die “wil om te werk” is dus niks anders as God wat Sy begeertes op ons harte lê nie. Wanneer hierdie begeertes met die Skrifte vereenselwig kan word is dit belangrik dat ons dit gehoorsaam, anders is dit niks anders as ongehoorsaamheid nie.

Ter afsluiting: Die rede waarom die ware Christendom se invloed op die wêreld so drasties agteruitgaan is omrede die mensdom hulle eie begeertes in die Skrifte inlees en nie doen wat die Here wil hê hulle moet doen nie. Dit is ook een van die hoofredes waarom bedieninge wat suiwer Bybelse leerstellings verkondig dit toenemend moeilik vind om finansieel te oorleef. Finansies wat die Here in Sy genade aan ons voorsien, word in valse bedieninge gekanaliseer. Nog ‘n rede is dat mense eerder aan bedieninge gee wat preek wat hulle graag wil hoor of selfs glad nie enige geld aan enige bediening gee nie.
1Kor.9:7 “Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? 8 Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? 9 Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? 10 Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. 11 As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?”1Kor.9:13 “Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? 14 So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.”
Dit is een van die hoof oorsake waarom die Kerk toenemend suiwer Bybelse leerstellings en standaarde prysgee, en toenemend leerstellinge van duiwels aanhang. Hulle wil eerder finansieel oorleef eerder as om getrou aan God en Sy woord aan ons te bly, en daarom duld hulle openlike sondige leefwyses, en regverdig of verdedig selfs in baie gevalle sodanige optredes. Dit sluit alle ekumeniese bewegings, wat alle godsdienste/leerstellings onder een vaandel wil verenig in. Hiervoor sal God ons nog straf!

Ek hoop met die skryf van hierdie artikel daar meer lig op hierdie interessante onderwerp gewerp is. Daar kan soveel meer oor hierdie onderwerp uitgebrei word, maar hierdie artikel is net geskryf, met die doel om aan die leser ‘n interessante onderwerp voor te hou wat verder rondom die etenstafel bespreek kan word. Soos reeds genoem is die “wil om te werk” in baie gevalle niks anders as God wat Sy begeertes op ons harte lê nie.
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.