As ons Sterf

Wanneer ons Sterf

Hierdie is nie juis een van die mees aangenaamste onderwerpe om oor te skryf nie, maar die feit bly staan dat ons almal die een of ander tyd gaan sterf. (indien ons gelukkig is sal ons deel van die groep gelowiges wees wat die dood d.m.v. die wegraping sal vryspring.) Vir baie mense is die gedagte van die dood iets vreesliks, maar vir die gelowige hoef dit nie die geval te wees nie.

Onthou, dat die Bybel nooit die dood, as uitwissing van bestaan omskryf nie, maar wel as skeiding. Indien iemand sterf, dan sterf net sy fisiese liggaam, maar sy gees en siel bly bewustelik voortbestaan. Die verhaal van Lasarus en die ryk man demonstreer hierdie waarheid baie mooi.(Luk 16:19 – 31) Ek gaan egter Openbaring 6:9 hier aanhaal om mooi te illustreer wat met die mens na sy afsterwe gebeur.
Opn 6:9 “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. 6:10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? 6:11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”
Soos wat duidelik uit bostaande teksgedeeltes waargeneem kan word, bestaan mense wat alreeds afgesterf het, bewustelik voort al sou ons hulle as afgesterf aan hierdie kant van die graf beskryf. Daar is dus geen sprake van ‘n sieleslaap soos wat sekere mense beweer nie. Wanneer ‘n gelowige tot sterwe kom, vind daar ‘n skeiding tussen sy liggaam, en sy siel en gees plaas. Sy siel en gees is egter onmiddellik in die teenwoordigheid van God.
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.” (Die gelowige is in Christus en kan dus nooit van God geskei word nie, en hierdie feit geld selfs vir die oomblik wanneer ons sterf.)

Nog ‘n baie belangrike feit om te onthou, is die feit dat die Bybel dit baie duidelik stel, dat die Heilige Gees, ten tye van wedergeboorte, in die gelowige inwoon en die gelowige permanent deur die Heilige Gees verseël word.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Met die gelowige se afsterwe, is hy glad nie alleen nie en word die verbintenis met die Heilige Gees op geen stadium verbreek nie. God is ten alle tye by die Sy kind en die gelowige kan homself daarby berus. Vir stawing van hierdie feit, meld ek graag die Here Jesus Christus se eie woorde, naamlik:
Mat 28:20 “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”
Ook moet ek net meld, dat die Vader ook by die gelowige kom inwoon en nie net die Heilige Gees nie. Aldrie Persone van die Drie-Eenheid kom woon, ten tye van wedergeboorte, in die gelowige in en hierdie feit behoort as ‘n groot vertroosting aan die sterwende gelowige te dien.
Joh 14:23 “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.”
Wat ‘n gerusstellende gedagte is dit darem nie?

Voordat ek weergebore geraak het, het ek altyd in my verbeelding gedink dat die dood iets vreesliks is, en dat dit ‘n verskriklike donker tydperk in mense se lewe sal wees. Ek het altyd die dood met duisternis verbind en dit het baie vrees by my geskep. Danksy die Here, en Sy genade aan my, het ek met tyd geleer, dat die dood vir die gelowige net mooi die teenoorgestelde is as wat ek altyd gedink het. Ek deel graag wat ek aangaande die dood vanuit die Skrifte waargeneem het met die leser.

Die Bybel stel dit baie duidelik dat God lig is en daar geen duisternis in Hom is nie.
1Jo 1:5 “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”
Verder stel die Bybel dit ook baie duidelik, dat God ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat niemand aan diekant van die graf al gesien het en ook nie nou sal kan waarneem nie.
1Ti 6:13 “Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, 6:14 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus
6:15 wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 6:16 wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.”
Ook stel die Psalmis dit baie mooi.
Psa 104:1 “Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed— 104:2 wat Uself omhul met die lig soos met ‘n kleed, wat die hemel uitspan soos ‘n tentdoek;”
Ek kan nog baie meer teksgedeeltes gebruik om die punt te illustreer, maar hierdie teksgedeeltes is al wat vir eers nodig is. Dit is dus logies, dat wanneer ‘n gelowige tot sterwe kom, hy geensins enige duisternis, of donkerte, gaan beleef terwyl hy sterf nie. Die persoon gaan homself of haarself onmiddellik in God se teenwoordigheid bevind, en soos ek duidelik gedemonstreer het, is God lig, en leef hy ook verder in ‘n ontoeganklike lig. ‘n Lig soos wat geen een van ons al ooit waargeneem het nie! Dus gaan die afgestorwene se onmiddellike gewaarwording, nadat hy afgesterf het, God se teenwoordigheid wees en die persoon sal homself in ‘n onbeskryflike helder lig bevind.

Ons moet net daarop let, dat die engele Lasarus, na sy afsterwe, na die gedeelte van die doderyk, wat as Abraham se boesem bekend staan, geneem het. Die geskiedenis van die ryk man en Lasarus glo ek, is nie ‘n gelykenis nie, maar is ‘n werklike gebeurtenis wat werklik plaasgevind het. (Luk 16:19 – 31) Die gebeurtenis het egter voor Jesus se kruisiging plaasgevind, en derhalwe moes Lasarus deur die engele na Abraham se boesem vervoer word, omrede Jesus nog nie vir al sy sondes aan die kruis versoening gedoen het nie en die Heilige Gees dus nog nie in Lasarus ingewoon het nie. Hy kon dus nie in God se teenwoordigheid verskyn het nie, omrede God heilig is en geen sondaar kan in Sy teenwoordigheid verskyn nie. Na die kruisiging (Versoening) is dit egter ‘n hele ander saak, en is ons permanent in Christus en kan ons ook op geen tydstip van Hom geskei word nie. Boonop word die gelowige deur die Heilige Gees self verseël. (Efs 4:30; Efs 1:13) Dit is egter net waar vir diegene wat die Evangelie gehoor en geglo het. (alle ware gelowiges) Die res van die mensdom is nog steeds geestelik dood, en van God geskei en dit is waarom dit so belangrik is om die Evangelie aan hulle te verkondig! God het ons nie geroep om ‘n koninkryk op aarde te stig nie. Hy het ons geroep om die Evangelie te verkondig! Onthou, die dood beteken nie uitwissing van bestaan nie! In die geval van die ongelowige, word hy vir ewig van die teenwoordigheid van God geskei, iets wat die Bybel baie duidelik as iets verskrikliks beskryf. Dit is egter die persoon se eie keuse waar hy die ewigheid gaan deurbring. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Wat is die Ewige Lewe” te lees.)

Ook moet net gelet word, dat mens ook nie die geval van Stéfanus se martelaarsdood gebruik om te bepaal wat met mens gebeur as mens sterf nie, want soos die Skrifte dit baie duidelik stel, het Stéfanus wel die Hemel geopen gesien, maar hy moes hierdie dinge ‘n redelike tydjie voordat hy gesterf het waargeneem het.
Hnd 7:55 “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. 7:56 En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.
7:57 Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. 7:58 En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus. 7:59 En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!”
Soos duidelik waargeneem kan word, is daar ‘n tydsverloop tussen wat Stéfanus gesien het, en sy afsterwe, omrede hulle hom eers uit die stad uit moes sleep en hom toe gestenig het. Aan die anderkant glo ek wel, net soos in die geval van Stéfanus, dat die Here in Sy genade soms wel die Hemel open, sodat Sy sterwende kind nie bevrees hoef te wees om te sterf nie. Die geval van Stéfanus illustreer die feit baie mooi. Wat ‘n wonderlike vooruitsig moet die aanskouing van die Here nie vir die beproefde siel wees nie!

Wat die Skrifte dus met sekerheid verklaar, is die feit dat die gelowige wat tot sterwe kom, op geen stadium van God, of Sy teenwoordigheid, geskei kan word nie, maar sal net oorgaan van ‘n stadium waar hy God nie fisies kan waarneem nie, tot ‘n stadium waar hy God wel fisies gaan sien. Dit sal die oomblik, ten tye, en  onmiddellik na afloop van die gelowige se afsterwe wees. God is egter die heeltyd tydens die sterwensuur by Sy kind teenwoordig en word die gelowige nooit van God geskei nie! Ons kan onsself, en ander wat hulle in hierdie posisie bevind, met hierdie waarhede vertroos en bemoedig.

Nog ‘n waarheid wat bespreek moet word, is wat die gemoedstoestand van die gelowige onmiddellik na die oomblik van afsterwe gaan wees. 
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Die gelowige sal onmiddellik na afsterwe, onbeskryflike vreugde, vrede en liefde ervaar, soos wat hy nog nooit voorheen beleef het nie en ook nooit sal kan beleef solank as wat hy nog in sy sondige liggaam aan hierdie kant van die graf is nie. Ook sal daar absoluut geen vrees, pyn, siekte, onsekerheid of ‘n gevoel van veroordeling wees nie. Die Skrif belowe ons dat daar geen veroordeling vir die wat in Christus is nie.
Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
Ook sal die afgestorwene bewus wees van God se absolute  teenwoordigheid en sal hy ook sy Hemelse Vader kan waarneem. Vanaf die oomblik van wedergeboorte af, is die gelowige vir ewig met God verenig en sal nooit van God se teenwoordigheid geskei kan word nie. Hierdie feit geld ook vir die oomblik wanneer ons tot sterwe kom.
Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”
En verder:
Rom 8:38 “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

As gelowiges kan ons dus verseker weet, dat ons geen duisternis, vrees, hartseer, pyn of enige onaangename belewenisse na afloop van ons sterwensuur sal beleef nie. Die teenoorgestelde is egter waar. Dit sal onbeskryflike lig wees en ons sal God van aangesig tot aangesig sien. Onbeskryflike vrede, vreugde, blydskap en totale bevryding, asook liefde sal die gelowige se lot wees. Ook sal die gelowige op geen stadium alleen of vreemd voel nie, want die Here is ten alle tye by die gelowige en boonop sal die gelowige tot die volle besef kom, dat die Here die heeltyd met hom was net soos wat Hy beloof het!

Solank as wat ons aan hierdie kant van die graf staan, sal ons nooit die onbeskryflike gevoelens van vreugde en vrede volkome kan omskryf nie, omrede ons nog nie volkome hierdie emosies beleef het nie.  Ons kan egter ons onrustige siele, met die wete dat ons nooit van God geskei kan word nie, tot bedaring bring en veral indien ons God se beloftes aan ons ook in gedagte hou, naamlik:
1Ko 2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Ek het net kortliks probeer verduidelik wat ons te wagte kan wees indien ons tot sterwe kom. Ek hoop dat enige gelowige wat op sy sterfbed lê, en onrustig is oor wat vir hom voorlê, homself met hierdie artikel gerus kan stel en met blydskap en vrede op sy God kan vertrou met die wete dat hy nie alleen is nie.
Psa 23:4 “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”
Wat die Here egter van ons verwag is om Hom te glo en met ons hele hart op Hom te vertrou. Hy sal ons nooit in die steek laat nie!.
Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

Soos ek reeds vroeër in hierdie artikel gemeld het, is hierdie nie ‘n aangename onderwerp om oor te skryf nie, maar dit is belangrik om wel daaroor te skryf, sodat ons mekaar in die donkerste tye van ons lewens kan bystaan en met Bybelse waarhede kan vertroos.

Seën Groete

Vic