liefde en waarheid

Die Liefde van Christus kan nie van Waarheid geskei word nie

Bybelse liefde verskil van die wêreld se liefde. Vir baie mense sal hierdie stelling as ‘n skok kom of daar sal ander mense wees wat hierdie stelling as onsin afmaak, maar dit bly egter die waarheid. Ware liefde, soos wat ons dit in die Skrifte vind, kan nooit van die waarheid geskei word nie. Of anders gestel: “Enige persoon wat die woordjie liefde rondstrooi en op dieselfde tyd daardie liefde van die waarheid, soos wat ons dit in die Bybel vind, skei, lieg blatant of is ernstig mislei.” Hierdie stelling geld vir mense wat sonde as siektes afmaak en sodoende die skuldige persoon van enige verantwoordelikheid aan sy kant vrywaar. As voorbeeld word mense wat steel in sekere gevalle as kleptomane omskryf, eerder as om hulle as diewe te omskryf, presies soos wat die Heilige Gees d.m.v. die Bybelskrywers sulke mense omskryf. Hierdie stelling geld vir enige ander sonde.
1Ko 6:10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”
Daar is ook mense wat onder die dekmantel van liefde (of in die naam van liefde) eerder misdadigers as goeie mense omskryf, eerder om die waarheid te praat en daardie mense as misdadigers te omskryf. Dit geld vir enige sonde. Om so iets te doen demonstreer nie liefde nie, maar is ten ergste ‘n blatante leuen, of op sy beste, ‘n delusie. In ieder geval bly dit nog steeds ‘n leuen of ‘n delusie en sal op die een of ander tyd gevolge meebring!
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Die Skrifte waarsku uitdruklik:
Jes 5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. 5:21 Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.”
Daar is ongelukkig deesdae ‘n tendens onder ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom, om eerder die waarheid, in die naam van liefde, eenheid en positiwiteit onder die mat in te vee. En dan vra ons hoekom dinge so sleg in ons samelewing gaan! Daar is baie faktore wat tot hierdie stand van sake bygedra het, en een so ‘n oorsaak kan voor die Woord Geloof Beweging gelê word, wat beweer dat wat ons uitspreek in die werklikheid sal manifesteer. Hierdie dwaalleerstelling het meer met die okkult in gemeen as wat dit met gesonde Bybelse leerstellings in gemeen het. (Die leser word te sterkste aangeraai om die artikels “Krag in ons woorde” asook “Spreuke 18:21 en krag in die mens se woorde” vir meer inligting rondom hierdie onderwerp te lees.) Baie mense glo verkeerdelik dat indien hulle genoeg positiewe woorde oor ‘n praktiserende sondaar of misdadiger (of op omstandighede) uitspreek dat daardie positiewe woorde wat hulle in geloof uitspreek sal veroorsaak dat daardie persoon sy optrede sal staak en sy gedrag sal verander. Hierdie leerstelling is nie net ernstige dwaalleer nie maar is ook uiters gevaarlik.

Indien ons almal, maak nie saak hulle gedrag nie, as goeie mensies of wonderlike mense omskryf, dan sal hulle nooit tot die besef kom dat hulle sondaars is, wat hulleself nie kan red nie, en dan sal hulle ook nooit na ‘n verlosser buiten hulleself soek nie. Hulle sal dus nooit die nodigheid van die Evangelie besef nie, omrede hulle verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle goeie mense is. (Goeie mense het immers nie ‘n Verlosser nodig nie!) Die Here Jesus Christus het aarde toe gekom om vir sondaars aan die kruis te sterwe nie vir mense wat op hulle eie geregtigheid staatmaak nie.
Mar 2:17 “En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”
Om sondaars as goed te omskryf, beteken nie dat ons in liefde optree nie, maar eerder die teenoorgestelde. Liefde soek altyd die beste vir die ander persoon, en derhalwe sal dit nooit van die waarheid geskei word nie, om so te doen is eerder ‘n daad van verleiding en dus nie liefde in die Skriftuurlike sin van die woord nie. Om iemand te verlei beteken dat ons daardie persoon mislei, en dit beteken dat ons nie in werklikheid die beste vir daardie persoon soek nie, en derhalwe demonstreer ons nie God se liefde nie, maak nie saak hoe goed so ‘n persoon a.g.v. ons mooi woordjies mag voel nie. Selfs die groot apostel Paulus het homself as ‘n sondaar omskryf, hoeveel te meer geld hierdie stelling nie vir blatante sondaars en misdadigers nie!
1Ti 1:15 “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.”
Dit is nie liefde, om aan ‘n persoon ‘n leun as waarheid voor te hou, net sodat almal goed daaroor kan voel nie.

Mens hoor en lees nogal gereeld onder die belydende Christendom stellings dat die betrokke gelowige, of gelowiges, die liefde van Christus “deel”, of terme soos “sharing the love of Christ” word gereeld as ‘n slagspreuk rondgegooi, en dit is goed en wel, maar om sulke stellings te maak, en dan sondaars en misdadigers as spesiaal te beskryf, is om nie die waarheid te praat nie, en sodoende word Bybelse liefde van ‘n sentrale element ontneem en word dit in iets anders as ware Bybelse liefde verander.
Joh 4:23 “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
1Jo 3:18 “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.
Onthou ek praat hier van ware liefde, soos wat dit in die Bybel omskryf word, en nie die liefde wat die wêreld aan die mensdom voorhou nie. Daar is ‘n groot verskil! Die Hippie teen-kulturele beweging word, en was, die woordjie liefde ook vrylik rondgeslinger, maar dit het niks in gemeen met Bybelse moraliteit en liefde gehad nie, maar was eerder ‘n nes van immoraliteit, wat deur die God van die Bybel as losbandigheid en hoerery omskryf word. Hierdie stelling geld vir die hele “Free Love” sosiale beweging! Hierdie tipe bewegings het tot die huidige morele laagtepunt in ons samelewing bygedra en sake sal net vererger soos wat die tyd aanstap. En hierdie teen-kulturele beweging van die sestigs, en sewentigs, is maar net een van baie invloede wat deur Satan gebruik word om die mensdom, onder die vaandel van liefde en vrede, verder in die moeras van rebellie en sonde teen God in te sleep, en wat huidiglik tot die hoë misdaadvlakke en geweld in ons samelewing bydra en wat uiteindelik op die oordele van die Groot Verdrukking sal uitloop. Die huidige “Burning Man” feeste is maar net nog een verdere voorbeeld van sulke teen kulturele-bewegings.

Ware liefde bestaan nie slegs uit teerheid en sagtheid nie, maar dissipline en fermheid vorm ‘n integrale deel van ware liefde. Hierdie beginsel is duidelik waarneembaar in die lewe van die Here Jesus Christus. Toe die Here die handelaars uit die tempel uitgedryf, en die geldwisselaars se tafels omgegooi het, het Hy die strengheid of fermheid van Sy liefde ten toon gestel.
Mat 21:12 “En Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. 21:13 En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak.”
Maar wanneer dit by die kindertjies gekom het, het Hy sy ontferming en teerheid ten toon gestel.
Mar 10:13 “En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf. 10:14 Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”
Daar is vele meer sulke voorbeelde in die evangelies opgeteken, en daarom is dit belangrik om ons Bybels deeglik te bestudeer, anders kan mens baie belangrike waarhede misloop. Beide God se teerheid en fermheid is ‘n demonstrasie van God se liefde, want die Bybel stel dit onomwonde dat God liefde is.
1Jo 4:8 “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”
Dit moet egter in gedagte gehou word dat die mensdom nooit onkunde as ‘n verskoning kan gebruik nie, ons het immers God se woord (die Bybel) en behoort dit te bestudeer.

Die hand wat die klein kindjie met liefde voer, is dieselfde hand wat die kindjie tugtig wanneer daardie kindjie met ‘n warm plaat van ‘n stoof wil speel! Dink mooi oor hierdie feit na. Om onder die dekmantel van liefde die kind te los, en sodoende toelaat dat die kind homself seermaak, is nie liefde nie. (Hierdie stelling geld vir enige sonde, want sonde het altyd gevolge al manifesteer daardie gevolge nie onmiddellik nie. Dink maar aan Dawid en Batseba as een so ‘n voorbeeld.) Hierdie beginsel geld vir alle sondes. Om hierdie rede stel die Bybel dit duidelik dat indien ‘n ouer nie sy kind tugtig nie, daardie ouer nie werklik sy kind, in die sin van ware Skriftuurlike liefde, liefhet nie.
Spr 13:24 “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.
Spr 22:15 As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.”
Waar ouers, onderwysers en die howe verbied word om regmatige lyfstraf toe te dien, kan mens niks anders as ‘n toename in misdadige gedrag verwag nie.
Spr 29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.
Spr 23:13 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. 23:14 Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.”
Dit is uit liefde vir Sy kinders dat ons hemelse Vader alle gelowiges tugtig. Waar ‘n persoon nie getugtig word vir sonde in sy lewe nie, kan met redelike sekerheid bepaal word dat daardie persoon nie werklik wedergebore is nie. Die Here tugtig almal wie Hy liefhet!
Heb 12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Waar ‘n gelowige in sonde verval, moet hy in liefde, en in ‘n gees van sagmoedigheid, van daardie sonde ingelig word.
2Ti 2:25 “Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, 2:26 en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.”
In sulke gevalle is dit van uiterste belang, dat die dwalende broeder of suster van hulle verhewe posisie in Christus herinner word, en aangemoedig word om op grond van die feit dat hulle alreeds in Christus is, hulleself in die geloof vir die ou sonde natuur as dood reken, en vanuit hulle nuwe posisie in Christus, deur die inwerking van die Heilige Gees hulle lewens tot heerlikheid van God uitleef. Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te bestudeer. Onthou, die Here Jesus Christus se vermaning asook beskrywing van ware liefde vir Hom, naamlik:
Joh 14:15 “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.
Joh 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.
Joh 15:10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”
En die apostel Johannes bevestig hierdie feit, naamlik:
1Jo 5:3 “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.
2Jo 1:6 En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel.
1Jo 2:5 Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.”

Ter Afsluiting: Ons samelewing staan op die rand van ‘n afgrond en indien ons verwag dat die Here ons land moet seën, dan moet ons doen wat Hy ons beveel het om te doen, en dit is om met die wêreld te breek en om met die verkondiging van die Evangelie betrokke te wees. 
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Boonop gaan dit ons niks help om van een selfaangestelde profeet na die ander te gaan, sodat hy ‘n positiewe boodskap oor ons kan uitspreek nie. Ons moet eerder weer self ons Bybels opneem, en die Bybel weer self bestudeer, om te vas te stel wat werklik daarin opgeskrywe staan, en dit wat ons daar leer weer in ons lewens toe te pas. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” te lees.)

Ons moet weer toelaat dat die Bybel ons idees vorm. Onthou, idees kan lei tot leerstellings, en ideologieë, en wat weer op hulle beurt tot fisiese uitdrukking van daardie leerstellings/ ideologieë kan lei en wat op sy beurt gevolge gaan meebring. Die Bybel waarsku ons uitdruklik, naamlik:
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Tot ‘n groot mate kan die oorsaak van die huidiglik probleme in ons land (asook die wêreld as geheel en veral die Westerse wêreld) voor die deur van ons eie wêreldgesindheid gelê word. Ons kan nie selektief kies watter gedeeltes uit God se woord ons wil gehoorsaam en watse gedeeltes ons wil verontagsaam nie. Boonop is ons ook nie in die posisie om te kies watter straf die Here na ons kant moet stuur nie. Dit werk nie so nie! Die Here sal besluit watter gevolge ons gaan dra en ons sal niks daaraan kan doen nie. Die beste raad wat ek het is om tot inkeer te kom, en die Here as getroue dissipels te gehoorsaam, en Hom alleen na te volg anders sien ek nog groot smarte in hierdie land. Paulus waarsku ons nie verniet nie; naamlik:
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”

Ek glo ons bevind onsself nou huidiglik in daardie tydperk! Ek glo ook dat ons swaar tye nader, omrede ons nie die Here se woord eerbiedig het nie. Boonop glo ek ook dat die Here die leierskap wat ‘n nasie verdien oor daardie nasie sal aanstel! Indien ons self goddeloos optree, kan ons nie kla indien daar onheil oor ons kom nie! Soos alreeds vroeër genoem, het ons die keuse om te kies watse sondes ons wil pleeg, maar dit is nie in ons mag om te besluit watter gevolge ons vir daardie spesifieke sondes gaan dra nie! Ons moet oppas dat dit wat Job so mooi beskryf het, nie ook met ons gebeur nie!
Job 3:25 “As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe. 3:26 Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus!”
Die Here sal Hom nie laat bespot nie! Dit is tyd dat ons tot inkeer kom! Boonop moet ons God se waarskuwing ernstig opneem, naamlik:
Jes 5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. 5:21 Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.”
En onthou, waar lig verwerp word neem duisternis oor! Dit is tyd dat ons weer die waarheid soek en praat!

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.