Voorspoed Evangelie

Voorspoed Evangelie

Vraag: Wat is jou siening oor die Voorspoed Evangelie of die Prosperity Gospel soos dit oor die algemeen bekendstaan? Kan die Voorspoed Evangelie uit die Bybel geregverdig word ?  Ek weet van mense wat swaarkry en wat glo daarin. Ek wonder net want jy daaroor dink, want soms klink jy negatief oor wat hulle verkondig. Baie dankie.

Antwoord: Om mee te begin glo ek dat die Voorspoed Evangelie nie die Evangelie is wat die Here aan ons as gelowiges gegee het om te verkondig nie. Dus is dit ‘n ander Evangelie wat nie red nie, en daartoe sal lei dat baie mense in die Hel gaan beland wat dink dat hulle gered is. Lees asb klaar, want dit is baie belangrik en dan besluit jy vir jouself of ek die waarheid praat. Vergelyk alles wat ek of enigiemand jou mag meedeel met die Bybel self, om seker te maak wat aan jou verkondig word die waarheid is!

Jesus het aarde toe gekom om sondaars te red nie om mense ryk te maak nie.
Luk 5:32 “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
Nêrens in daardie teksvers word gemeld dat Hy gekom het om mense ryk te maak nie. Jesus het gekom om ons te verlos van ons sondes en nie om ons in ons sondes te versterk nie.
1Ti 6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 6:11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”

Mens hoef nie weergebore te word om ryk te wil wees nie. Hulle verkondig rykdom en ‘n selfsentrerende evangelie wat nie red nie. Wat belowe hierdie predikers egter aan hulle gemeentes? Maak ‘n beslissing vir Jesus en Hy sal julle gesond maak, seën en ryk maak, en julle ‘n goeie selfbeeld gee. Baie verkondig dan ook dat alle kinders van die Here klein godjies is, wat self net positiewe uitsprake moet maak en dan sal hulle kry wat hulle wil hê. Die Pastore hou dan hulle eie rykdom aan die mense voor, as voorbeeld van wat deur geloof en positiewe uitsprake “positive Confession” bekom kan word. Die mense stroom dan na sulke samekomste en kerke toe om Jesus aan te neem, en besef nie dat hulle pas ‘n vals evangelie gehoor het en nie gered is nie. Hulle is van die mense op die breë weg. (Luk 13:24) Ek gaan nie op die positiewe uitsprake gedeelte konsentreer nie, maar op die rykdom wat belowe word. Lees asb die artikel “Krag in ons woorde” om meer oor hierdie okkultiese leerstelling te leer.)

Mense neem die Here Jesus dan aan, nie om hulle te verlos van hulle sondes nie , maar om hulle voorspoedig, gelukkig, en gesond te maak, sodat hulle ‘n goeie selfbeeld kan verkry. Hulle wil dus, met hulle gierige begeertes, hier op aarde as konings voortleef en heers. Hulle besef nie dat hulle verlore sondaars is wat onder God se oordeel staan a.g.v. hulle sondes nie. (Een van daardie sondes is gierigheid.) Hulle grootste probleem word misgekyk en daar word op die vleeslike behoeftes gefokus. Hulle hoofdoel is om verryk en gesond gemaak te word. Hulle soek ‘n goeie selfbeeld, hulle soek hulle beste lewe nou, soos wat dit aan hulle belowe word. Hulle het dus die hele doel van Jesus se koms aarde toe gemis en verstaan nie die ware Evangelie nie. Hulle maak dus presies dieselfde fout as wat baie van die Israeliete gemaak het toe Jesus aarde toe gekom het. Hulle wou van Rome se juk verlos word en nie van hulle sondes nie. Dit is hoekom dieselfde skare wat Jesus toegejuig het met Sy intog in Jerusalem, net ‘n paar dae later net so hard geskree het, dat Hy gekruisig moes word. Hy het nie aan hulle verwagtinge voldoen nie en hulle het Hom dus daarvoor verwerp. Hulle het iemand gesoek wat met swaard en geweld die Romeinse juk afgooi. Net so gaan baie mense vandag na Jesus toe met die verkeerde gesindheid en verwagtinge, en hulle mis die hele Evangelie.

Hierdie valse leraars bied aan die mense presies wat hulle sondige natuur ook begeer.
1Jo 2:16 “Want alles wat in die wêreld is—en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”
Is dit nie presies wat hierdie mense aan hulle hoorders bied nie? Kom ek verduidelik.
1Jo 2:16 “Want alles wat in die wêreld is (Wêreld sisteem wat in die mag van die duiwel lê. Mat 4:8-9 )
–en die begeerlikheid van die oë (Mooi om na te kyk. Wat ek sien wil ek hê. ‘n onbevredigende dors om meer en meer te besit en te vergader. Gierigheid)
en die grootsheid van die lewe (Ek wil belangrik en in aansien wees.  Beroemd. Ek moet nommer een wees. Mense moet my prys en verheerlik. Ek moet bedien word en wil nie ander dien nie. Ek moet myself liefhê en ‘n goeie selfbeeld hê. Ek wil in weelde lewe ens. Dus Self-vergoddeliking! )
–is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. “
Dit is presies wat die duiwel aan Adam en Eva in die tuin van Eden aangebied het en wat hy nog steeds aan die mensdom bied. Hierdie leerstellings kom nie van die Here af nie, maar van die duiwel af. Jesus waarsku ons egter teen gierigheid en en vereis presies die teenoorgestelde van Sy volgelinge as wat hierdie valse Herders verkondig.

Die Here verwag egter dat:
Ons onsself verloën en ons kruis opneem en Hom volg. (Mat 16:24 ) Nie onsself liefhê en verheerlik nie. Ons het onsself al klaar te veel lief, dit is hoekom ons net vir nommer een omsien en vere voel vir die res van die wêreld. (lees asb die artikel “Jouself liefhê?” wat hierdie onderwerp vanuit die Skrifte aanspreek.)
Jesus waarsku ons dat ons nie Hom en geld tegelyk kan dien nie.
Luk 16:13 “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. “
Verder word ons gewaarsku om nie die wêreld of die dinge in die wêreld lief te hê nie.
1Jo 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”

Die Here Jesus Christus het Sy dissipels gewaarsku teen presies die dinge wat die sogenaamde voorspoed evangeliste so sterk aanbeveel.
Luk 12:15 “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. 12:16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra. 12:17 En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? 12:18 Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. 12:19 En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. 12:20 Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? 12:21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”
En verder:
Kol 3:5 “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 3:6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,”
Die Here Jesus Christus het nie aarde toe gekom om aan die Kruis te sterf om ons in ons gierigheid te versterk nie. Om gierig te wees bewys maar net dat die persoon nie God in werklikheid dien nie, maar die ding wat hy wil opgaar. Hy wy sy lewe daaraan toe om meer en meer te versamel en dit bewys maar net wat hy werklik aanbid. Dit is hoekom die Bybel gierigheid afgodediens noem. (Kyk maar waarop iemand sy tyd, geld en talente spandeer en dan sal jy weet wie hy  inwerklikheid dien.)

Ons word ook vermaan om tevrede te wees met wat ons het en nie geldgierig moet wees nie.
Hebreërs 13:5 “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
1Ti 6:6 Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 6:7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
Die voorspoed evangeliste sal jou egter anders wil wysmaak. Iemand wat opgaar bewys maar net, dat hy nie werklik glo dat die Here hom nooit in die steek sal laat nie, en daarom moet hy ‘n klomp geld versamel, sodat hy nie op die Here hoef staat te maak nie, maar op sy geld en besittings kan vertrou. Dit is ook waarom baie mense in Amerika en ander plekke om die wêreld, selfmoord gepleeg het toe die markte met die groot depressie in duie gestort het. Hulle het op hulle rykdom vertrou en nie op God nie. Toe dit waarop hulle vertrou het, in ‘n oogwink weg was, het hulle lewens in duie gestort en kon hulle dit nie aanvaar nie. Hulle het niks anders gehad om te vertrou en om voor te lewe nie.

Dis hartseer dat hierdie predikers nie aan hulle volgelinge verkondig dat hulle verlore sondaars is wat ‘n verlosser nodig het nie. Hulle verkondig ‘n goeie selfbeeld en rykdom wat nie daartoe lei dat die sondaar soos die tollenaar in Lukas 18:13 tot ‘n ware besef van sy skuld voor ‘n heilige God kom nie.
Luk 18:13 “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!”
Dit lei daartoe dat mense godsdiens, en selfs Jesus Christus, as ‘n middel tot rykdom sien en nie werklik as Verlosser, wat hulle sondeskuld op Homself geneem het en daarvoor aan die Kruis betaal het nie. Hoe hartseer moet dit God nie maak, om te weet dat mense Hom net soek om verryk te word en dat hulle nie werklik met Hom gemeenskap wil hê nie. Ons aanvaar sulke gedrag nie van ander mense nie, maar verwag God moet dit van ons verdra.

Mens sal ook nooit hoor dat hulle sal preek oor die waarskuwings wat God in Sy Woord oor rykdom maak nie. Hoekom nie?
Openbaring 3:17 “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 3:18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. 3:19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. 3:21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”
Soos wat jy kan sien is dit ‘n baie mooi beskrywing van sommige van hierdie kerke en wat ook opmerklik is, is die feit dat Jesus buite staan en klop, wat ‘n indikasie is dat die gemeente wat Hy vermaan, nie in gemeenskap met Hom is nie. Oor sulke gedeeltes sal vals leraars nooit preek nie, want vir hulle gaan dit oor geld en sal nie iets sê wat ‘n potensiële geld skenker kan afsit nie.

Die Bybel het nog meer oor sulke mense te sê.
Rom 16:17 “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. 16:18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.”
Die leer wat Paulus hier van praat is die ware Evangelie, en die feit dat ons uit die wêreld moet kom en Jesus en die Apostels se voorbeeld moet volg. Dit is die weg van die Kruis nie die weg van selfverheerliking en selfverryking nie. Dit sluit die feit in, dat ons God moet verheerlik met ons lewens en die Evangelie gaan verkondig. Ons moet nie onsself verheerlik en soos gode op hierdie aarde wil woon, soos wat hierdie mense verkondig nie. Hulle dien ‘n god maar dit is nie die God van die Bybel nie. Hierdie mense dien hulleself. Jesus is gekruisig en elf van die twaalf Apostels insluitende Paulus is gedood vir hulle geloof. Hulle het nie in weelde gesterf of geleef nie, en het ook nie in twaalf perd koetse hulle werk verrig nie. Wat ‘n verskriklike belediging is dit nie vir die duisende ware Christene wat daagliks ly en gedood word vir hulle geloof nie. http://www.opendoors.org.za/afr/
Fil 3:17 “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. 3:18 Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus. 3:19 Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.”

Ons word egter gemaan om nie aardse dinge te bedink nie, maar op Jesus te wag en Hemelse dinge te bedink. Ons burgerskap is nie op aarde nie maar in die Hemele.
Fil 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”
En verder:
Kol 3:2 “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.
Rom 8:5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.”
Dit is net mooi die teenoorgestelde as wat hierdie mense verkondig, maar hulle doen hulle egter voor as Engele van die lig.
2Ko 11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
Die Here self sê ons sal die boom aan sy vrugte ken. Kyk vir jouself watse vrugte hierdie mense dra. Onthou dit wat hulle verkondig is die vrugte wat hulle dra!

Baie van die mense wat na hierdie valse leraars luister, hou daarvan om na hulle te luister en stel nie werklik belang om te hoor wat die Here werklik in Sy woord wil sê nie. Die Bybel is baie duidelik daaroor en dit sal net erger gaan soos wat die tyd verloop. My raad is bly weg van hierdie mense af en gaan na ‘n gemeente wat werklik die Bybel verkondig en leef. 
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Let wel: Die Here seën wel sommige mense met rykdom, om Sy doelstellings op aarde te bereik, maar dit blyk egter die uitsondering as die reël te wees.
1Ko 1:26 “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 1:27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 1:28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 1:29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Jak 2:5 Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?”
Gaan doen maar jou navorsing, en jy sal opmerk dat meer mense in arm lande en gemeenskappe tot geloof kom as wat in ryk streke die geval is. In ryk streke soos Europa en Amerika vind ons egter dat daar ‘n grootskaalse wegdraai vanaf God plaasvind. Dit is hoekom baie van hierdie valse leraars na Afrika en Indië kom, want hulle besef dat daar ‘n groot mark is waar hulle, hulleself kan verryk. So rig hulle oneindige skade in hierdie streke aan. Vergete is die sendeling wat getrou sy werk uitvoer sonder enige erkenning en menslike aanprysing. Die Here het egter Sy loon by Hom en sal elkeen beloon vir sy werke. God slaap nie!

Ek hoop hierdie antwoord verduidelik my siening en hoekom ek so gekant is teenoor mense wat hierdie valse evangelie verkondig. Baie meer kan egter nog gesê word, maar hierdie behoort genoeg vir nou te wees. Onthou, dit is nie ‘n sonde om ryk te wees nie, maar dis ‘n sonde om rykdom na te jaag en op rykdom te vertrou. Die ware Evangelie handel oor Jesus se voltooide werk aan die kruis vir jou sondes, sodat jy nie hel toe hoef te gaan nie, maar eerder vir ewig in Sy teenwoordigheid kan lewe. Ons is wel mede erfgename saam met Jesus, maar sal ons erfporsies eers ontvang wanneer Hy ons met die wegraping kom haal en ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn om vir ons werke na wedergeboorte beloon te word. Ons heer nie nou al as konings nie en moet ook nie poog om dit te doen nie. Ons werk hier en nou is om mekaar te dien en die Evangelie te verkondig en die Here as toegewyde dissipels na te volg!  Al kos dit ons alles, selfs ons lewens! Dit is die weg van die kruis.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.