Luk.17:20-21 en die koninkryk

Luk.17:20-21 en die koninkryk op aarde

Dien Luk.17:20-21 as bewys dat Christus met Sy eerste koms Sy koninkryk op aarde gevestig het? Met die skryf van hierdie artikel sal dit gedemonstreer word dat Luk.17:20-21 nie as proefteks gebruik kan word om bogenoemde leerstelling te regverdig nie. Luk.17:20-21 lees soos volg:
Luk.17:20 “En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.”

Wat het die Here met die stelling “want die koninkryk van God is binne-in julle.” bedoel? Daar heers groot verwarring rondom hierdie stelling, en daarom is dit van uiterste belang om Christus se bedoeling met die gebruik van die term vas te stel. Die verwarring het hoofsaaklik met die Ou Afrikaanse (1933/1953) vertaling van die stelling “want die koninkryk van God is binne-in julle.” ontstaan. Alhoewel die Ou Afrikaanse Vertaling oor die algemeen die mees betroubare vertaling vanuit die oorspronklike Griekse grondteks is, kan dit nie in hierdie geval van Luk.17:21 gesê word nie. In hierdie geval is die 1983 Afrikaanse vertaling van die Bybel die beter vertaling. Ek gaan eerstens die gegewe teksgedeelte vanuit die 1983 Afrikaanse Vertaling hier weergee en dan sal ek die redes vir my stelling aan die leser weergee.
Luk.17:21 “Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”

Die stelling “want die koninkryk van God is hier by julle.” is om die volgende redes die akkuraatste vertaling vanuit die oorspronklike Grieks:

  • Die stelling “want die koninkryk van God is binne-in julle.” kan nie korrek wees, indien dit beweer word dat die Here gesê het die koninkryk alreeds in ‘n geestelike sin in hulle harte gevestig is nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Dit is die Fariseërs, wie totaal ongered was, en wat die duiwel as vader gehad het, wie die vraag aan Christus gestel het. Boonop was hulle besig om Christus se dood te beplan, en het geensins die begeerte gehad om Hom as hulle Messias te aanvaar nie.
    Joh.8:44 “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. 45 Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.”
    Dit is ook opmerklik dat die Here die Fariseërs aanspreek toe Hy genoemde stelling gemaak het. Hy rig dus Sy antwoord direk aan die Fariseërs. Daar is absoluut geen manier waarop die koninkryk in ‘n geestelike sin binne die ongelowige Fariseërs kan wees nie. Indien mens die stelling “want die koninkryk van God is binne-in julle.” as “want die koninkryk van God is binne-in julle midde.” verstaan, dan sou dit die korrekte vertaling wees, en sou met die 1983 vertaling ooreenkom wat die stelling as “want die koninkryk van God is hier by julle.” vertaal. Dus was die koninkryk, in die Persoon van die Here Jesus Christus “in hulle midde” of te wel “hier by julle” teenwoordig gewees. Sou hulle Hom aanvaar sou Hy die koninkryk onmiddellik opgerig het.
  • Boonop stel die Skrifte dit duidelik, dat dit die persoon is wat die Evangelie glo, wie die koninkryk binnegaan, nooit anders om nie.
    Joh.3:5 “Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.
    Matt:5:
    20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”
    In die Skrifte vind mens nêrens die konsep dat die koninkryk ‘n mens binnegaan nie. Die konsep dat die koninkryk binne ‘n persoon is, is deur mense uitgedink en kan nie vanuit die Skrifte geregverdig word nie, omrede so ‘n konsep nie in die Skrifte te vinde is nie.
  • Indien daar beweer word dat die koninkryk, in ‘n geestelike sin, in ‘n persoon se hart teenwoordig is, hoekom regeer die Here dan nie volkome in daardie persoon se hart nie? Al die briewe in die Nuwe Testament is direk aan gelowiges gerig. Die skrywers van die briewe vermaan egter herhaaldelik dat gelowiges nie moet sondig nie. (Iets wat nie nodig sou wees indien Christus volkome in hulle harte regeer het nie.)
    Rom.6:12 “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
    Boonop kan gelowiges self die Heilige Gees bedroef.
    Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” En selfs in hulle lewens blus:
    1Thess.5:19 “Blus die Gees nie uit nie.”
    Dit beteken dat ‘n gelowige die Heilige Gees se werk heeltemal kan teëstaan, ‘n uiters buitengewone konsep indien die Here volkome in daardie persoon se hart sou regeer.
  • Verder beperk diegene, wat verkondig dat die koninkryk in Luk.17:20-21 binne ‘n persoon is, die konsep van die koninkryk tot slegs ‘n geestelike koninkryk. Die Ou Testament, waaruit Christus se dissipels hulle konsep van die koninkryk bekom het, en waarop Christus voortgebou het, het altyd die idee van ‘n aardse geopolitieke koninkryk ingesluit, en was nie slegs tot ‘n geestelike koninkryk beperk nie.
  • Proponente van die koninkryk nou leerstelling, wat Luk17.20-21 gebruik om te bewys dat Christus Sy koninkryk met Sy eerste koms op aarde gevestig het, vergeet egter die feit dat Christus herhaaldelik, nadat Hy die stelling in Luk,17:20-21 gemaak het, die koninkryk as ‘n toekomstige gebeurtenis beskryf het, naamlik:
    Matt.19:28 “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My (op aarde)gevolg het, in die wedergeboorte (Christus se koninkryk op aarde, naamlik die Millennium)wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. (‘n aardse geopolitieke koninkryk) 29 En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel (in die komende koninkryk)ontvang en die ewige lewe beërwe.” (geestelike element van die koninkryk)
    Later het die Here Jesus Christus ook die volgende stelling gemaak, naamlik:
    Matt.26:29 “Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”
    Die Ou Testamentiese profesieë rakende ‘n letterlike aardse geopolitieke koninkryk, en die Here Jesus Christus se latere leerstellings aangaande die koninkryk, het as grondslag gedien waarom Christus se dissipels die koninkryk in terme van ‘n toekomstige aardse geopolitieke koninkryk verstaan en verwag het.
    Hand.1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel (wat ‘n geopolitieke koninkryk op aarde was) weer oprig?”
    Hierdie dissipels was reeds wedergebore. Hoekom dan nog ‘n koninkryk verwag indien die koninkryk alreeds binne in hulle harte is? Die dissipels het bostaande vraag aan die Here gerig, nadat Hy alreeds gekruisig was en vanuit die dood uit opgestaan het. Die rede vir hulle vraag was eenvoudig. Hulle het geen ander konsep van die koninkryk verstaan nie, want hulle is dit nooit geleer nie. Hulle het ‘n aardse geopolitieke koninkryk verwag met Christus as Koning. En daarom het die Here hulle egter ook nie oor hulle siening van die koninkryk gekorrigeer nie, iets wat Hy sou doen indien hulle konsep van die koninkryk foutief was.
  • Die apostels Jakobus en Johannes se moeder het ook die koninkryk in terme van ‘n toekomstige aardse geopolitieke koninkryk verstaan. Dit was op grond van hierdie kennis aangaande die koninkryk wat haar gemotiveer het om haar versoek aan die Here te rig, naamlik:
    Matt.20:20 “Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. 21 En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand.”
    Die Here het nooit die dissipels, asook Jakobus en Johannes se moeder, se begrip van die toekomstige aardse geopolitieke konsep van die koninkryk gekorrigeer nie. Indien hulle konsep van die koninkryk verkeerd was sou die Here hulle gekorrigeer het. Hy het nooit. Hy het geweet hulle begrip van die koninkryk was korrek gewees. Slegs hulle tydsberekening, en die posisies wat hulle in daardie koninkryk sou beklee, was verkeerd. ‘n Foutiewe begrip wat Christus wel reggestel het.

Inaggenome hierdie feite, is dit duidelik dat die 1983 Afrikaanse Vertaling die akkuraatste (asook duidelikste) vertaling van Luk.20:21 uit die oorspronklike Grieks is, naamlik:
Luk.17:21 “Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”
Die Ou Afrikaanse vertaling van Luk.17.21 sou duideliker wees, indien dit as “want die koninkryk van God is binne-in julle midde.” vanuit die oorspronklike Grieks vertaal is.

Die aanbod van die Koninkryk: Wat beteken die term “want die koninkryk van God is hier by julle.” dan? Onthou, die Jode het hulle konsep van ‘n koninkryk vanuit die Ou-Testamentiese skrifte bekom, en vir die Jode kon die konsep van ‘n koninkryk en koning nie van mekaar geskei word nie. Derhalwe was die konsep van ‘n koninkryk sonder die koning sinneloosheid. Vir hulle was die koninkryk onlosmaaklik aan die koning verbind. Hierdie konsep kan duidelik in Daniël 7:13-14 waargeneem word, naamlik:
Dan.7:13 “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, (Die Here Jesus Christus)en Hy het gekom tot by die Oue van dae, (God die Vader)en hulle het Hom (Die Here Jesus Christus)nader gebring voor Hom. (God die Vader)14 En aan Hom (Die Here Jesus Christus)is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, (‘n toekomstige letterlike geopolitieke koninkryk op aarde) en sy koninkryk is een wat nie vernietig sal word nie.”
Nadat God na afloop van die Groot Verdrukking, ‘n einde aan alle menslike koninkryke gaan maak, gaan die Here Jesus Christus Sy koninkryk op aarde vestig, wat nooit tot ‘n einde gaan kom nie en wat alle menslike koninkryke sal vervang. Die gelykenis van die ponde illustreer hierdie feit baie duidelik.
Luk.19:11 “En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ‘n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. (Onthou die Jode se idee van die koninkryk het altyd die idee van ‘n aardse geopolitieke koninkryk ingesluit.) 12 Hy het dan gesê: ‘n Man van hoë geboorte het na ‘n ver land gereis (Die Hemel) om vir homself ‘n koningskap te ontvang (volgens Dan.7:13-14 hierbo) en dan terug te kom.” (Christus se Wederkoms wanneer Hyself Sy koninkryk op aarde sal oprig.)
Jes.9:6-7 bevestig hierdie feit, naamlik:
Jes.9:5 “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — 6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid (Dawid se troon en heerskappy was op aarde, nie in die hemel, of slegs in ‘n geestelike sin nie) en oor sy koninkryk, (Dawid se koninkryk was ‘n letterlike geopolitieke koninkryk op aarde.) om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”
Onthou, God se Universele Koninkryk bestaan uit meer as net een gedeelte, naamlik ‘n hemelse gedeelte, wat die tweede en derde hemel insluit, asook ‘n aardse gedeelte, wat slegs tot die aarde beperk is. Die Skrywers van die Ou Testament het hoofsaaklik oor die aardse gedeelte van God se Universele Koninkryk geskryf. Dit was hierdie koninkryk wat die Jode afgewag het. Nadat Christus vir duisend jaar lank oor Sy aardse koninkryk regeer het, sal Christus se Koninkryk met die ewigheid saamsmelt, waarin die Drie-Enige God vir altyd oor die nuwe hemel en aarde sal regeer. (Die leser word aangeraai om die illustrasie genaamd “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Verdrukking” te bestudeer.)

Net soos wat ons in die studie aangaande Matt.12:28 opgemerk het, was die koninkryk in die Persoon van die Koning, naamlik die Here Jesus Christus, in hulle midde teenwoordig gewees toe Hy die stellings in Luk.17:20-21 geuiter het. Vir die Israeliete sou die koninkryk ‘n werklikheid word indien hulle die Here Jesus Christus as hulle Messias sou aanvaar. In hierdie opsig word die koninkryk nie deur tekens voorafgegaan nie. Hy was immers in hulle midde, by hulle, in Sy Persoon gewees. Sou hulle Hom aanvaar, sou Hy die koninkryk onmiddellik opgerig het en daarom word die koninkryk nie in hierdie opsig deur tekens voorafgegaan nie.

Dit is egter ‘n historiese feit dat die Jode die koninkryk, in die Persoon van die Here Jesus Christus, verwerp het. Net ‘n paar hoofstukke verder, in Lukas 19:28-44, sien ons hoe die Joodse volksleiers die koninkryk, in die Persoon van die Here Jesus Christus, verwerp het, toe Hy Jerusalem op die rug van ‘n donkie binnegery het. (Alles het gebeur net soos wat die Ou Testament voorspel het.)

Luk.19:35 “Toe bring hulle hom (die vul van ‘n donkie) na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit. 36 En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad. 37 En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ‘n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, 38 terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! 39 En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels! 40 En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.”
Dit was a.g.v die Joodse volksleiers se ongeloof dat die Here die onderstaande stelling van Jerusalem se verwoesting in 70.nC gemaak het.Luk.19:41 “En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween 42 en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. 43 Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. 44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God (In die Persoon van hulle Koning, die Here Jesus Christus) jou besoek het, nie opgemerk het nie.”

Dit is op grond van die feit, dat die Here geweet het dat die Jode Hom met Sy eerste koms sou verwerp, dat Hy die gelykenisse van die verwerping, wat die gelykenis van die ponde insluit, vertel het. Derhalwe het die Here die aanbreek van die interimperiode tussen Sy eerste koms (en verwerping) en wederkoms (na afloop van die Groot Verdrukking) wanneer die Jode Hom sal aanneem begin verduidelik. Die aanbod van die Koninkryk sal tydens die sewejarige verdrukking, na afloop van die wegraping, weer aan die Jode, in die vorm van die Evangelie van die Koninkryk, aangebied word, waarop hulle Christus as hulle Messias sal aanvaar. Slegs wanneer Israel God se gekose Koning, in die Persoon van die Here Jesus Christus, aanvaar sal die Here Jesus Christus Sy koninkryk op aarde oprig. (‘n Gebeurtenis wat nog in die toekoms, na afloop van die Groot Verdrukking, sal plaasvind.)
Deut.17:15 “dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.”

Ter afsluiting: Dit is in die raamwerk van hierdie feite, waardeur die probleem van ‘n koninkryk, wat sonder enige vooraf tekens kon ontstaan, en ‘n koninkryk wat deur tekens voorafgegaan word, opgelos kan word. Met Christus se eerste koms was die koninkryk, in die Persoon van die Here Jesus Christus, nie deur merkbare tekens voorafgegaan nie omrede hy in hulle midde was. (soos wat Hy in Luk.17:20-21 gesê het) Omrede Israel die aanbod van die koninkryk verwerp het, is die koninkryk vir ‘n onbepaalde tydperk uitgestel, en sal eers na afloop van die Groot Verdrukking, met Christus se wederkoms, op aarde gevestig word. Dit is die oprigting van die koninkryk, na afloop van Christus se wederkoms, wat nou deur sigbare tekens voorafgegaan sal word.
Luk.21:31 “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. 32 Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.”
In Luk.17:20-21 was die koninkryk nie deur tekens voorafgegaan nie, maar met Christus se wederkoms sal die koninkryk deur tekens voorafgegaan word. Dit is in hierdie raamwerk van gebeure waarin die Here die gelykenisse van die verwerping, wat die gelykenis van die ponde insluit, vertel het.

Gegewe al hierdie feite, sou dit dus verkeerd wees om Luk.17.20-21 as proefteks te wil gebruik in ‘n poging om te bewys dat Christus met Sy eerste koms die koninkryk op aarde gevestig het. (Die leser word aangeraai om die artikel “Matt.12:28 en Christus se koninkryk op aarde” te lees, wat by hierdie artikel aansluiting vind.) Die koninkryk is huidiglik van die aarde afwesig en sal eers met Christus se wederkoms op aarde gevestig word. (Die leser word aangeraai om ook die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk kom” te lees.) Dit is my bede dat hierdie artikel meer lig aangaande Christus se komende koninkryk op aarde sal werp. Huidiglik is alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef vreemdelinge en bywoners in die wêreld.
1Pet.1:17 “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;”
Huidiglik is Satan die God van hierdie wêreld en daarom word ons ernstig teen vriendskap met die wêreld gewaarsku.
Jak.4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
‘n Waarskuwing wat nie sin sou maak indien die Christus se koninkryk huidiglik op aarde teenwoordig was is nie.

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.