Jesus as Rots

Die Here Jesus Christus as Rots

Die Skrifte verwys gereeld na die Here Jesus Christus as ‘n Rots of bousteen. In Mattheus 21:44 sien ons waar die Here Jesus Christus die volgende waarskuwing aan Sy gehoor rig, naamlik:
Matt.21:44 “En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.”
Dit sou ‘n ernstige mistasting aan die kant van die mensdom wees om hierdie waarskuwing ligtelik op te neem, en hierdie feit geld ook vir gelowiges. D.m.v. die rots/steen metafoor merk ons in die Skrifte dat die Here hoofsaaklik met drie groepe mense praat, naamlik Israel as volk, die Kerk, wat as die liggaam van Christus bekendstaan, en die nie-Joodse, of te wel die heiden nasies, wat alle nasies en volke behalwe Israel insluit. (Dit sluit Suid Afrika in.)

Israel: Met die Here Jesus Christus se eerste koms het Hy in die gedaante van ‘n dienskneg aan die volk Israel verskyn. Hulle wou Hom nie as hulle lank verwagte Messias en Verlosser aanvaar nie en het geglo dat hulle deur die wet by God regverdig sou word. Hulle het nie verstaan dat niks minder as God se geregtigheid by Hom aanvaarbaar sou wees nie en het eerder op die wet staatgemaak om hulle voor God te regverdig.
Rom.9:30 “Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, (nie Joodse volke) wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; (die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid wat slegs op grond van genade deur geloof in ontvangs geneem kan word. Dit sluit dus enige vorm van menslike werke uit) 31 terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, (wet nakoming) die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. 32 Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. (die Here Jesus Christus, se Persoon en wat Sy voltooide werk aan die kruis sou insluit. Hy is eerder as ‘n misdadiger/bedrieër deur hulle laat kruisig.) 33 Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.”

Hulle wou dus nie die feit dat niemand d.m.v. wet nakoming deur die Here geregverdig verklaar sal kan word aanvaar nie, en het sodoende die Here Jesus Christus hulle Verlosser se toegerekende geregtigheid verwerp.
Rom.3:19 “Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

Die rede hiervoor is eenvoudig! Mense wat enige vorm van wet nakoming, menslike rituele of werke wil gebruik om hulle eie geregtigheid voor God te bewerkstellig, vergeet dat alle mense oor ‘n sonde natuur beskik, (die sonde natuur en dus sonde is inherent deel van die gevalle mens) en daarom is selfs ons beste werke (nie net ons openlike sondes nie) met sonde besmet en is soos vuil lappe in God se teenwoordigheid.
Jes.64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede (menslike goeie werke) soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Bogenoemde stellings geld ook vir alle mense wat enige menslike werke deel van die Evangelie wil maak. Dit sluit mense wat verkondig dat water doop ‘n vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe is. (Die dwaalleerstelling van doopsaligheid. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Die Waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie”, asook “Joh.3:5 en die waterdoop ‘n Skriftuurlike perspektief” en laastens die reeks van drie artikels genaamd “Bykomende vrae aangaande die doop.” te lees.)

Die Jode (en alle ander mense) wat die wet wil gebruik om hulle voor God te regverdig het dus oor die die Rots, naamlik die Here Jesus Christus gestruikel.
1Kor.1:23 “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; 24 maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. 25 Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.”
Ek heraal! Alle mense wat menslike werke/rituele enige ander vereistes, behalwe geloof alleen in die Evangelie van God se genade, voeg verwerp dus Christus se toegerekende geregtigheid wat Hy d.m.v. Sy voltooide werk aan die kruis vir die mens bewerkstellig het, en kan verder as godsdienstige ongelowiges omskryf word.
1Pet.2:7 “Vir julle dan wat
(die Evangelie) glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling — 8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.”

Die Kerk: Ten opsigte van die Kerk, wat uit alle ware gelowiges bestaan, is die Here Jesus Christus die fondasie waarop Hyself Sy kerk bou.
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis insluit) 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels —13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; (Regterstoel Oordeel van Christus) en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

En om Sy doel te bereik, maak Hy van mense gebruik wat getrou die ware Evangelie van God se genade verkondig. (nie ‘n werke evangelie wat enigsins van menslike werke/rituele afhanklik is nie)
Rom.1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Mense word deel van die Kerk die oomblik wanneer hulle die Evangelie hoor, verstaan en glo. (Sonder die doen van enige menslike werke. Dit feit sluit die water doop en sabbatdag onderhouding in.) Enige persoon wat enige verdere vereistes behalwe geloof by die Evangelie voeg verander die evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie wat onder die vloek geplaas is.
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe,7 “terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”

‘n Persoon word met die Heilige Gees gedoop en verseël die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie op ‘n spesifieke punt in tyd verstaan en glo, nog voordat hy enige menslike werk soos byvoorbeeld die water doop kan doen.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is (verlede tydsvorm en dus ‘n alreeds afgehandelde saak op ‘n gegewe punt in tyd) met die Heilige Gees van die belofte, 14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Wees op die uitkyk vir predikers wat enige vorm van werke evangelie voorstaan. Diesulke mense is verly en self verly hulle ander mense. Die Here Jesus Christus se woorde kan ook op diesulke mense van toepassing gemaak word, naamlik:
Luk.11:52 “Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.
Matt.23:13 Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie 15 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.” (dit is nogal opmerklik dat vandat ek hierdie bediening begin het, is dit juis mense wat op die een of ander menslike werke by die evangelie wil voeg wat my die ergste aanval. Dit sluit mense wat doopsaligheid verkondig in.)

Ons ontvang die ewige lewe slegs op grond van God se genade deur geloof alleen, en op geen ander wyse nie.
Gal.3:1 “o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? (Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis. Indien Sy werk aan die kruis voltooi is, dan is dit net logies dat ons niks daarby kan voeg nie anders sou dit nie Sy voltooide werk aan die kruis genoem kon word nie!) 2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Ons moet daarteen waak om die vereistes vir wedergeboorte met die vereistes vir dissipelskap te verwar. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Voor verlossing, verlossings en post verlossing bediening van die Heilige Gees” en “Die onderskeid tussen Wedergeboorte en Loon vir Goeie Werke” asook “Onderskeid tussen ‘n Gelowige en ‘n Dissipel” te lees)

Die Here Jesus Christus is dan ook die kosbare hoeksteen waaruit die hele Kerk opgebou word.
Ef.2:14 “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. 17 En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; 18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. 19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”

Die Nasies wat alle wêreldmoondhede insluit: Die tye van die nasies het met die inname van Jerusalem deur Nebukadnesar begin. Hierdie gebeurtenis is in 2Kron.36:1-21 in die Skrifte opgeteken en die leser word aangeraai om self die gegewe teksgedeelte sorgvuldig deur te lees. Die tydperk vanaf die verowering van Jerusalem deur Nebukadnesar se magte staan as die tydperk van die nasies beken en sal eers met die Here Jesus Christus se wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, tot ‘n einde kom wanneer Hy Israel van gewisse uitwissing sal verlos sodra die nasie as geheel Hom as hulle Messias aanvaar en Hom as hulle Verlosser sal aanroep.
Dan.2:34 “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het.
Dan2. 44 Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke
(van die nasies) verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal (Christus se koninkryk) dit vir ewig bestaan — 45 net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” (die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasies, “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die verdrukking” asook “Die sewe dispensasies” sorgvuldig te bestudeer.)

Die wêreld sal toenemend na ‘n sosialistiese een wêreld politieke en godsdienstige rigting beweeg en wat op die ou einde (soos in meeste gevalle) in ‘n eenman diktatorskap onder die heerskappy van die Antichris sal opeindig. (dit sluit Suid Afrika in)
2Thess.1 “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, (die wegraping) 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. (wat met die Verdrukking begin en in Christus se duisendjarige vrederyk sal uitloop) 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval (wegraping) kom en die mens van sonde geopenbaar word, (die Antichris) die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die (herboude) tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, (Die Heilige Gees wat d.m.v die Kerk die Antichris se verskyning teëhou) sodat hy op sy tyd (wat God bepaal het) geopenbaar kan word.”
In die verlede is diktatorskappe oor die algemeen tot enkele spesifieke nasies beperk gewees, maar met die aanbreek van die Groot Verdrukking, wanneer die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot god sal verklaar, sal die hele wêreld onder die bewind van die mees goddelose diktator van alle tye, die donkerste tydperk die menslike bestaan binnegaan, waarna die grootste bloedvergieting van alle tye sal plaasvind. Globalisering klink goed op papier, maar die proponente van hierdie humanistiese stelsel vergeet dat die mens oor ‘n sonde natuur beskik, en om algehele mag in een sondige mens se hande te plaas sal tot die grootste ramp van alle tye aanleiding gee. Indien die Here Jesus Christus nie op ‘n spesifieke tydstip, wat die Vader vooraf bepaal het, d.m.v. Sy wederkoms ‘n einde aan die Antichris se bewind sal maak nie, sou daar geen mens op aarde oorleef het nie. Die Here self het hierdie voorspelling gemaak, naamlik:
Matt.24:22 “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”

Met Christus se wederkoms aarde toe om Sy koninkryk op aarde te vestig, sal Hy die weermagte van die nasies verpletter en ‘n einde aan alle mensgemaakte koninkryke maak, waarna Hy Sy koninkryk op aarde sal vestig en as Koning van die Konings oor die hele wêreld vanuit Jerusalem sal regeer. In hierdie opsig sal die Here Jesus Christus die Rots wees wat in Dan.2:34 voorspel is en wat op die nasies sal val en dit heeltemal sal vermorsel.
Dan.2:34 “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. 35 Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.
En hierdie klip is niks anders as die rots waarna die Here Jesus Christus in Mattheus verwys het nie, naamlik:
Matt.21:44 “En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.”

Ter Afsluiting: Ten opsigte van alle humanistiese koninkryke ( die nasies) is die Here Jesus ‘n Rots wat hulle sal verpletter en tot fyn stof sal maal. Die Joodse volk het oor hulle Messias, die Rots, naamlik die Here Jesus Christus gestruikel, maar vir die Kerk is die Here Jesus Christus die fondasie en kosbare hoeksteen. Indien ons hierdie feite in gedagte hou behoort ons te besef dat God in beheer van die loop van die wêreld se geskiedenis is en dat ons nie moet moedeloos word met hoe sake in die wêreld lyk nie. Soos wat Christus se wederkoms nader kom, kan ons verwag dat die wêreld toenemend die ware Christendom vyandiggesind sal word. (dit sluit wetgewing in) Ons hoef egter nie te vrees nie, en moet aan die Here Jesus Christus getrou bly. Op die regte tyd sal Hy ons met die wegraping kom verlos, en dan Sy oordeel op die goddelose wêreld uitstort, waarna Hy self sal terugkom en Sy koninkryk op aarde sal vestig. Hierdie koninkryk sal ‘n koninkryk van vrede en geregtigheid wees. Kyk op en weet dat die Here Jesus Christus, ons Rots, volkome in beheer is! Hy kom gou!

Seën Groete!

Vic.

Deel met ander asb.