Die gelowige se posisie in Christus vs sy optrede

Die gelowige se posisie in Christus vs sy optrede

Dit kan nie genoeg beklemtoon word hoe belangrik dit vir die gelowige is om teksgedeeltes in die regte konteks van die Skrif te lees en verstaan nie. As hierdie reël getrou nagevolg word sal dit baie verwarring en onsekerhede uitskakel en behoort die bestudering van die Bybel ‘n plesier te word en nie as iets beskou te word wat net vir sekere persone beskore is nie. God in Sy liefde en genade het die Bybel aan al Sy kinders geskryf en Hy wil hê dat hulle almal dit vir hulleself moet lees en verstaan. Dit is ook ‘n mite dat sekere gedeeltes van die Skrif nie verstaan kan word nie. God sal nie die Bybel vir die mens gee met die bedoeling dat die mens sekere gedeeltes nie kan verstaan nie. As die Bybel nie vir die mens geskryf is nie, vir wie is dit dan geskryf? Die Bybel is deur God gegee om verstaan te word. Met hierdie waarheid ingedagte gaan ons ‘n teksgedeelte bespreek wat baie onsekerheid en vrees by sommige mense veroorsaak, omrede die teksgedeelte gereeld buite sy konteks aangehaal word.

2Ko 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Die bostaande teksgedeelte word soms gebruik om te bewys dat die gelowige sondeloos moet wees en indien hy of sy nog met ‘n sonde sukkel, word daar beweer dat die persoon nie werklik weergebore is nie. In ander gevalle mag ‘n persoon hierdie teksgedeelte self lees en dit dan buite konteks op homself van toepassing maak, en dan begin twyfel aan sy eie redding. Om die volle konteks van hierdie teksgedeelte te verstaan, moet ons net verder lees en, dan sal ons gou opmerk, dat Paulus van die gelowige se posisie in Christus praat en nie van sondelose perfeksie nie. (Ons sal nooit ‘n toestand van sondeloosheid in hierdie sondige liggame van ons bereik nie. Dit sal slegs bereik word in fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking fase. In die verheerliking fase het die gelowige ook geen aandeel nie.) Kom ons gaan lees die teksgedeelte in sy konteks, soos wat dit in die Skrif staan.
2Ko 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 5:18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, 5:19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.”
Die woorde “in Christus” is van uiterste belang! Dit is wat Jesus Christus aan die kruis vir ons gedoen het, wat tel, en nie ons eie geregtigheid nie. As ons in Christus gevind word (deur die aanhoor en glo van die Evangelie)dan beskou die Vader ons as sondeloos, omrede Jesus Christus se geregtigheid aan ons toegereken is en ons sondes het Hy op Homself geneem en is daarvoor deur God die Vader aan die kruis gestraf. Dit is net by die aanhoor en glo van die Evangelie waar ons verhouding werklik met God kan begin en dan is daar geen veroordeling meer vir ons nie.
Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Die Here Jesus Christus het al ons misdade op Hom geneem en daarvoor betaal, nie net sommiges nie. God se genade plaas ons dan in ‘n perfekte posisie voor God en die gelowige word volkome aanvaar in Christus.
Efs 1:6 “tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. 1:7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,”
Ons is dus volkome aanvaar in Christus en is volkome in Hom en om in Hom gevind te wees is al wat ons nodig het! Rus in hierdie feit en dank God vir Sy genade!
Joh 1:16 “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
1Ko 1:30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”
In Christus is ons geklee in God se geregtigheid en kan ons dus nie veroordeel word nie.
2Ko 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. “
Deur die Evangelie te glo is ‘n persoon soos die wyse man wat op die Rots gebou het en waarvan die fondamente in Christus (Die Rots) geanker is. Ons verlossing hang nie van ons eie pogings tot geregtigheid af nie, maar van God se beloftes, genade en getrouheid af. Dus sal ‘n ware kind van die Here nooit verlore kan gaan nie.
Luk 6:48 “Hy is soos ‘n man wat ‘n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.”
Hierdie feit skakel by die eerste fase van ons verlossing in en die mens het geen aandeel daarin om homself te red nie. Al wat die mens moet doen is om, in geloof, die geskenk van die ewige lewe as ‘n geskenk te ontvang. Dit is al! Ek raai die leser aan om die artikel oor die drie fases van ons verlossing te lees indien jy dit nog nie gedoen het nie. Dit is van uiterste belang, dat die drie fases onderskei en verstaan word, want dit maak die lees en verstaan van die Bybel net so veel makliker.

Alles wat ons tot nou toe bespreek het handel oor ons posisie in Jesus Christus. Posisioneel is ons perfek in God se oë, maar ons sit nog steeds met ons sondige liggame wat nog steeds die sonde natuur het, en wat nog steeds sondig. Dus is ons posisioneel perfek, maar in die praktyk is ons alles behalwe perfek en wissel ons optrede van oomblik tot oomblik en sondig ons nog steeds somtyds. Wanneer ‘n persoon wedergebore word en in Christus geplaas word , word net sy gees wedergebore en sal sy liggaam met ‘n sondelose verheerlikte liggaam vervang word met die koms van Jesus Christus. Dus sal ons nog steeds kan sondig en sondig ons ook, totdat ons of sterf of met verheerlikte liggame oorklee word. (2Ko 5:4)
1Jo 3:2 “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.”
Die eerste opstanding is gelykstaande aan die derde fase van ons verlossing nl. die verheerliking fase. Ook in hierdie fase het ons geen aandeel nie en doen die Here alles.

Waar ons as gelowiges se optrede wel van belang is, is in die tweede fase van ons redding , die heiligmaking fase. Dus is dit na ons wedergeboorte en voordat ons met ons verheerlikte liggame oorklee sal word. Dit is in hierdie fase waar ons optrede wel van belang is en waar dit van ons verwag word om saam met die Heilige Gees te werk, om sodoende meer soos Jesus Christus te word, en toe te laat dat die Here deur ons lewe. Gedurende hierdie fase leef ons nog steeds in ons sondige liggame asook in die sondige wêreld en voer ons ‘n stryd teen die wêreld, die sondige vlees en Satan. Die grootste stryd vind in ons gedagtes plaas, omrede dit hier is waar ons gedagtes, idees en suggesties ontvang. Dus het ons gedagtes drie moontlike oorspronge nl. ons self, die Heilige Gees en Satan.

Dit is van uiterste belang om vas te stel na watse faset of fase van verlossing ‘n spesifieke teksgedeelte verwys. Deur om dit te doen sal ons seker maak dat ons nie oorboord sal gaan en onnodig vreesagtig word nie. As ons dus die Bybel lees dan moet ons onsself afvra, oor watse faset die teksgedeelte regtig handel. Handel dit oor ons posisie in Christus of oor ons optrede, nl. hoe ons behoort op te tree?
As ons terme soos “In Christus , in die Geliefde of in Hom” waarneem kan ons verseker weet dat ons posisie in Christus bespreek word. (Die eerste fase van verlossing waar ons niks by kan dra nie) Indien ons egter ‘n teksgedeelte lees waarin ons voorgeskryf word wat ons behoort te doen, dan kan ons met sekerheid aanneem dat dit oor ons optrede handel (Tweede fase van verlossing nl. Heiligmaking, waarin ons, ons samewerking moet gee) Gebruik die Skrif altyd in konteks met inagneming van die omliggende teksgedeeltes en met vergelyking met die hele Skrif om vas te stel van watter faset van verlossing die skrywer praat.

Hier volg ‘n paar voorbeelde.
Joh 1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;”
Dit is uit die woorde “in sy Naam glo” duidelik dat die gelowige se posisie aangedui word en nie sy optrede nie. Om in Jesus se Naam te glo is om in Jesus Christus geplaas te word. (Posisie en geen werke mag gedoen word nie, slegs geloof alleen)
Efs 5:1 “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik, dat die gelowige voorgesê word oor hoe hy as kind van God behoort op te tree. Dus word ons optrede in hierdie teksgedeelte aangespreek en behoort ons as kinders van God soos ons Vader op te tree en sodoende Hom verheerlik. (Fase twee van verlossing nl die heiligmaking fase) As ons Vader, verwag God dat ons soos Hy sal optree en behoort ons al hoe meer aan Sy beeld gelykvormig te word, al sal ons dit nooit volkome regkry in hierdie lewe nie. (die leser word baie sterk aangeraai om die artikels “Heiligmaking op Grond van Genade deur Geloof” te lees.)

Nog ‘n voorbeeld:
Heb 10:14 “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”
Hier kan ons duidelik waarneem dat deur Jesus Christus se soendood die gelowige as volmaak bestempel word. Dit dui duidelik op ons posisie in Christus. (Fase een van verlossing)
Mat 5:48 “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”
Hier stel die Here dit duidelik hoe ons behoort op te tree. Dus word ons optrede hier aangespreek. (Fase twee van verlossing nl heiligmaking) As ons nie mooi die onderskeid tussen posisie en optrede kan onderskei nie, sou mens maklik kon dink dat die twee teksgedeeltes met mekaar in botsing is. Dit kan egter nie die geval wees nie, want die Bybel is God se Woord en kan nie bots nie. Die probleem ontstaan as ons nie weet hoe om die Woord reg te onderskei en interpreteer nie.

En nog een vir oulaas:
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”
Ons posisie in Christus word hier beklemtoon. Let op Paulus se gebruik van die verledetydsvorm as iets wat klaar gebeur het. Ons kan nie baie kere weergebore word nie! Wedergeboorte vind net een maal in tyd plaas en kan nie ongedaan gemaak word nie. Ons posisie as gelowiges word hier bespreek. (Fase een van verlossing)
Fil 2:12 “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”
Ons optrede is duidelik in gedagte hier, want ons kan nie werk vir die ewige lewe nie, maar ons moet saam met die Heilige Gees werk om verlos te word van die binding van sonde in ons aardse bestaan. (Fase twee van verlossing die heiligmaking fase.) Ons posisie is ‘n gawe van God en ons kan nie daarvoor werk nie! Ons optrede behoort ons dankbaarheid aan God te bewys, deur om met behulp van die inwerking van die Heilige Gees met die sondes wat in ons liggame heers te breek. Ons word nie Christene deur om heilig te leef nie, ons leef heilig, omdat ons wedergebore is en omdat die heilige Gees wat nou in ons inwoon ons daartoe lei en daarmee help.

Ons moet ook net daarvan kennis neem dat ons optrede nooit voor ons posisie geplaas kan word nie. Ons verhouding begin met God die oomblik wanneer ons die Evangelie verstaan en glo , nie voor die tyd nie. Daar kan nie van ‘n persoon verwag word om oor sondes te heers sonder dat die Heilige Gees eers in daardie persoon leef en hom die krag gee om die sondes te laat staan nie. Heiligmaking vind ook nooit voor wedergeboorte plaas nie. Mens sien hierdie tendens in baie van die briewe wat Paulus geskryf het. Die brief van Efesiërs is ‘n baie mooi voorbeeld hiervan. Die eerste drie hoofstukke van Efesiërs handel oor ons posisie in Christus, en vind ons onsself gesetel in hemelse plekke saam met Christus. In die laaste drie hoofstukke van Efesiërs vind ons, onsself op aarde waar ons met die alledaagse probleme van hierdie aardse lewe te doen het. In hierdie gedeelte word ons vermaan oor ons optrede in hierdie lewe as kinders van God en is ons kindskap nie in gedrang nie. Dus word ons optrede aangespreek en nie ons posisie in Christus nie.

In afsluiting gaan ons weer Romeine 8:1 aanhaal en dit in konteks bespreek
Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
Rom 8:1 handel dus nie oor ons optrede (Heiligmaking)nie maar dit handel oor ons posisie in Christus, waar daar geen beskuldiging teen ons ingebring kan word wat ons verlossing in gedrang kan plaas nie. Hierdie teksgedeelte handel oor ons posisie in Christus en niks anders nie. In Jesus Christus is daar geen veroordeling, geen hel en geen sprake van Satan se oorheersing in my lewe nie. Al hierdie dinge het verbygegaan die oomblik toe ek die Evangelie gehoor en geglo het. Alle dinge het, in Christus, nuut geword. In Christus Jesus word ek deur die Vader vrygespreek, aangeneem, geregtig verklaar en word ‘n mede erfgenaam saam met Jesus Christus van alles wat aan God behoort. Is dit nie ‘n rede om juig nie! Ons aanbid ‘n onbeskryflike God en ek sal nooit die regte woorde kan vind om my dankbaarheid aan Hom te beskryf nie. Ek los die leser met ‘n laaste teksgedeelte om oor na te dink.
Rom 8:31 “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”
Ons moet rus in wat God deur Jesus Christus vir ons gedoen het! Ons moet vanuit ‘n posisie van rus, in Jesus Christus, deur die inwerking van die Heilige Gees leef en dan alleen sal ons vind dat ons werklik lewe en niks vir God onmoontlik is nie. Verder moet ons seker maak dat ons nie ons posisie in Christus met die optrede wat van ons verwag word verwar nie. As ons bid en vra, kan ons verseker wees dat die Heilige Gees ons in Sy waarheid sal lei. Ek bid dat die Heilige Gees dit vir al die lesers van hierdie artikel sal doen.

Seën Groete!

Vic

 

Deel met ander asb.