Is die boek Openbaring Volledig?

Is die boek Openbaring Volledig?

Vraag: Kan jy vir my asb kommentaar lewer op die feit dat iemand meen dat die boek Openbaring nog nie klaar geskryf is nie en dat mens nog openbarings inligting daarby kan voeg. In Open 22:18 staan niks mag bygevoeg of weggelaat word nie asook in Deut 4:2.

Antwoord : Baie dankie vir die vraag en boonop ‘n baie goeie een. Met die Here se hulp sal ek poog  om jou vraag so kortliks as moontlik te beantwoord. Onthou ek is net ‘n mens en kan foute maak. Gaan toets alles wat ek jou sê asb met die Skrifte!

Die Bybel vanaf Genesis tot en met die einde van Openbaring ‘n progressiewe openbaarmaking van God aan die mens. Dan is dit ook noodwendig die openbaarmaking van Jesus Christus aan die mensdom, en vertel ons hoe die mensdom in sonde verval het, en hoe God, in Sy genade, die gevalle mensdom verlos het. (die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die Duiwel se aktiwiteit sover dit die gelowige aanbetref” te lees, wat in diepte die mens se geskiedenis en hoe satan daarby betrokke is bespreek)  Dus bevat die Skrifte die rekord van God se handelinge met Sy skepping en skepsels. Tussen die eerste woorde van Genesis, en die laaste woorde in Openbaring, sien ons hoe sonde in die wêreld ingekom en weer vanuit die wêreld uitgeroei word.

In Genesis, na die sondeval van die mens, belowe God vir die eerste keer die koms van Jesus Christus, wat die slang se kop sal vermorsel. (Genesis 3:15) Die res van die Bybel is ingestel op hierdie progressiewe openbaarmaking van die Here Jesus Christus. Insluitende wat Hy aan die kruis vir ons gedoen en daarna tot en met die einde van die geskiedenis soos wat ons dit ken. Die diere offers, die tabernakel en die feeste van Israel, ensovoorts dui alles op Jesus Christus. Die Bybel bevat dus feitelike geskiedenis van gebeurtenisse wat klaar gebeur het, van gebeurtenisse wat nou plaasvind en gebeurtenisse wat nog in die toekoms moet plaasvind . En dit alles is alreeds opgeteken! Dit is ‘n onweerlegbare bewys dat die Bybel God se Woord is. (en om hierdie rede is dit so belangrik om die profesie in die Bybel te bestudeer!) Dus is die hele geskiedenis  vanaf die mens se skepping af, tot en met die aanbreek van die ewigheid in die Bybel aangeteken. Die hele tydsbestek, verlede, hede en toekoms, is alles tussen die eerste vers van Genesis en die laaste vers van Openbaring bekend gemaak.

Verder is die hele verlossings boodskap daarin vervat en volledig verklaar. Daar is niks meer wat gesê of bygevoeg kan word nie. Die Bybel sê ook presies vir ons hoe ons moet lewe, so daar skort niks wat nog bygevoeg kan word nie. ‘n Groot gedeelte van die Bybel is profesie, en so ook die boek Openbaring. Openbaring verskil met die ander boeke wat oor profetiese inligting beskik, in die sin is dat dit meeste van die onvervulde profesie wat vroeër in die Bybel gemaak is saamvat en afgesluit. Dinge wat ons weet nog in die toekoms moet plaasvind, maar wat ons reeds al weet hoe dit gaan gebeur. Ek gaan net ‘n paar voorbeelde noem.

In Genesis merk ons die skepping van die aarde en die gevolglike vervloeking daarvan. In Openbaring word die vervloekte wêreld herskep sonder die vloek en die gevolge daarvan.
In Genesis sien ons die ontstaan van sonde. In openbaring word ‘n einde daaraan gemaak. In Genesis ontmoet ons die Duiwel en hy verlei die mens om ongehoorsaam aan sy Skepper te wees. In openbaring sien ons waar die Duiwel, vir ewig, in die poel van vuur gewerp word. Let op die feit dat baie profesieë nog toekomstige gebeure is, en wat vooraf in die Skrifte opgeteken is, maar vanuit God se oogpunt is dit so goed as alreeds voltooi. Daar is nog voorbeelde maar hierdie behoort genoeg te wees.

Soos jy kan opmerk , kom alle temas wat in die Bybel bekend gemaak is, in Openbaring tot ‘n einde. My vraag is: “Wat skort wat in die Bybel bygevoeg kan word?” Niks! Die Duiwel gaan tog sekerlik nie ontsnap nie, anders lieg die Here, want Hy sê die duiwel word vir ewig in die poel van vuur gewerp.(Openbaring 20:10) God is almagtig en sal so iets verhoed. Vir ewig beteken vir ewig. Ons weet vooraf alreeds wat gaan plaasvind, asook die uitslag daarvan, en dit alles nog voor dit gaan plaasvind. Openbaring is deur God aan ons gegee sodat ons dit kon lees en verstaan. Dit is nie ‘n boek wat nie verstaan kan word soos wat sommige mense beweer nie.

Opsommend: Die Here het goed genoeg geweet dat die Duiwel die boek Openbaring sou aanval. Dit is logies te verwagte. Daarom sien ons die ernstige waarskuwing wat Hy gegee het om nie met die boek Openbaring te peuter nie. Die Bybel, wat openbaring insluit, is immers God se woord! Weë die persoon wat enigsins iets by die Bybel byvoeg! So ‘n persoon kan verseker wees dat hy alles sal ontvang wat die Here daarin belowe het. Dit geld ook vir die hele Skrif. 
2 Petrus 1:3 “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, 1:4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”
Uit bogenoemde gedeelte sien ons dat ons alreeds alles het wat ons nodig het om ‘n godsalige lewe te lei. Dit is alreeds geskenk, verlede taal. Dus het ons nie nuwe buite Bybelse openbarings nodig nie. (‘n feit wat die moderne sogenaamde profete nie verstaan nie) 
En Verder:
Judas 1:3 “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”
Bogenoemde teksgedeelte kan ook soos volg korrek vertaal word, naamlik: “eens en vir altyd” of “een tyd vir alle tye” wat impliseer dat daar niks meer is om by te voeg nie.
En Laastens:
Openbaring 22:18 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.
22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”
Die bogenoemde teksgedeelte is verstaanbaar genoeg, en daar hoef nie eers veel daaroor uitgebrei te word nie. My raad aan enige persoon sal wees om hierdie waarskuwings ter harte te neem en te gehoorsaam.

As iemand vir jou sê die Woord is nie volledig nie, vlug weg van daardie persoon af. Let op die feit dat die meeste kultusse ‘n boek, of boeke het, wat hulle, deur sogenaamde profete, as God se nuwe openbaring beskryf en wat hulle met die geïnspireerde Skrifte van die Bybel gelykstel. Weereens is my raad aan jou om weg te bly van sulke groepe af. Mens hoor nogal deesdae baie daarvan in sogenaamde Christelike sirkels “We need revalation not head knowledge” Maar die hartseer feit van die saak is, dat mense wat hierdie uitsprake lewer, gewoonlik diegene is wat die geïnspireerde openbaring, wat God alreeds in Sy Woord aan hulle gegee het, ignoreer en op buite Bybelse openbarings en profesie wil staatmaak. Profesie wat hulle nie eers vir seker kan weet, as van God afkomstig nie. Hulle nooi die duiwel dus uit om hulle te kom verlei, indien hulle nie alreeds verlei is nie.

Hierdie tipe stellings hoor mens ook gereeld van mense wat nie hulle teologie uit die Bybel kan staaf nie, en dus nodig het om buite Bybelse openbarings gelyk te stel met wat God in Sy woord alreeds aan ons gesê het.  Soms herskryf hulle sommer die Bybel en teksgedeelte word heeltemal buite konteks aangehaal en verdraai. Sodoende skep hulle maar net vir hulle ‘n god na hulle eie voorkeur. ‘n God wat nie die God van die Bybel is nie! Die God van die Bybel stel Homself in Sy woord aan ons bekend, en op hierdie enigste geïnspireerde teks behoort ons, ons leerstelling te bou. Ons kan nie ons teologie vooraf bepaal en dit dan op God se woord wil inlees nie. Dit is ‘n uiters gevaarlike ding om te doen. Dink net vir jouself wat sal gebeur indien ons nou skielik, na twee duisend jaar, ander openbarings moet gehoorsaam. (soos wat die proponente van die Nuwe Apostoliese Reformasie wil hê ons moet glo)  Enige iemand, en insluitende die duiwel kan dan mos by die Bybel voeg soos wat hulle wil. Waar sal dit eindig. Nee glo my, die Bybel is God se alreeds voltooide woord aan ons, en is die enigste Goddelike openbaring wat ons sal ontvang en nodig het.

Dit is ook ‘n tragedie dat sommige mense van die een konferensie na ‘n ander gaan en nooit werklik tot ‘n Skriftuurlike insig kom nie! Een van die redes hiervoor, is die feit dat hulle nie self die Bybel bestudeer, en so tot God nader, sodat Hy hulle by name van die Heilige Gees, in en deur Sy woord, kan onderrig nie. Hulle wil liewerste die nuutste vleeslike manifestasie beleef, of die nuutste teken in die wolke of enige ander dergelike teken waarneem, en dan verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle God gevind het. Hierdie mense is nie net self verlei nie, maar hulle verlei ook almal waarmee hulle in kontak kom en wie naïef genoeg is om hulle te glo! Om tot God te nader, beteken om Sy woord te bestudeer en dit wat God in Sy woord aan ons leer getrou in ons lewens toe te pas. ‘n Persoon se geloof moet op die onfeilbare beloftes in God se woord gebaseer wees en nie op tekens, wonders, vleeslike manifestasies en buite Bybelse profesie nie! Die Bybel is volledig en niks meer is nodig om bygevoeg te word nie! ‘n Persoon wat die teenoorgestelde verkondig, verkondig ‘n leun! My raad aan jou sal wees, om self die Bybel te bestudeer en by ‘n gemeente aan te sluit wat van die konsekwente, letterlike, grammatiese historiese interpretasie metode gebruik maak om die Bybel te verklaar en wat die hele Bybel ook vers vir vers verduidelik. En maak ook seker dat slegs die Bybel gebruik word om die gemeente se leerstellings te bepaal en niks anders nie.

Ek hoop my antwoord beantwoord jou vraag.

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.