Die Here is Genadig!

Die Here is Genadig!

Psa 86:5 “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.
86:15 Maar U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.”
Hoe dankbaar is ek nie soms nadat ek gestruikel het, om teksgedeeltes soos hierbo te lees en daaroor na te dink nie. Hoe maklik struikel ons nie, en was dit nie vir God se genade nie weet ek nie waar ek nou sou gewees het nie. Ek kan maar net elke oggend tot God nader in gebed en Hom bedank vir al die genade en geduld wat Hy aan die dag gelê het en nog steeds aan die dag lê met my sondes. Ek verwonder my ook dan opnuut aan die volkomendheid van God se Woord aan ons, wat maar net weer bewys dat die Bybel nie deur die wil van die mens voortgebring is nie, maar deur God alleen. Die Here ken ons en weet hoe maklik ons struikel, en daarom het Hy voorsiening gemaak daarvoor.
1Jo 2:1 “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2:2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

Dit is nie te sê dat ek nou maar gaan moed opgee en in sonde gaan verval nie, want geen ware kind van die Here sal in sonde wil voortleef nie, maar sal onmiddellik deur die Heilige Gees oortuig word van sy sonde. Die Here wil dan hê die persoon moet sy sonde bely, laat staan en sondevergifnis vra, om sodoende deur Jesus se bloed gereinig te word.
1Jo 1:7 “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
Ons moet nie ons sondes probeer wegsteek nie, maar moet dit aan God openbaar en Hom vra om ons daarmee te help. Om sondes weg te steek gaan die saak net vererger en sal die Here dwing om in te gryp en ons te tugtig.
1Jo 2:3 “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. 2:4 Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 2:5 Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 2:6 Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.”

Alhoewel ons as kinders van God streef om soos ons Herder te wandel, kom ons nog steeds kort en kan verseker weet, dat wanneer ons, ons sondes bely Hy altyd getrou sal wees en ons vergewe.
1Jo 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Onthou net dat hierdie nie ‘n lisensie is om te sondig nie, hoe kan dit dan wees ? Ons is dan saam met Christus gekruisig en die Here is nou veronderstel om deur ons te lewe! Laat ons Hom toe om dit te doen?
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”

Verder is die sonde nie veronderstel om oor ons te heers nie.
Rom 6:11 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 6:12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.
6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. 6:15 Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! 6:16 Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?
6:22 Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Ons moet in die geloof glo dat ons dood is vir die sonde. Soos ‘n dooie mens nie meer kan reageer op enige vleeslike versoeking nie, so moet ons ook reageer as ons in versoekings kom.
Gal 6:14 “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”
As ek struikel moet ek gaan kyk wat ek verkeerd doen, want ek reken myself nie meer dood vir die sonde natuur nie. Ek moet dan tot inkeer kom en in geloof myself, as saam met Christus gekruisig reken, sodat Hy deur my kan leef. Ek is dus dood vir die sonde natuur en sy begeertes om God in ‘n nuwe lewe te dien.

Verder moet ons die Here vra om ons by te staan, sodat ons die versoeking kan weerstaan en getrou bevind kan word. Dit is ‘n wilsbesluit wat ons in geloof moet maak, en dan vertrou ons op die inwonende Heilige Gees om ons die krag te verleen om die versoeking te weerstaan. Indien die Heilige Gees in ‘n persoon is, dan is die krag om oor sondes te heers ook altyd beskikbaar, en as ons sondig is dit omrede ons nie werklik die versoeking weerstaan nie.
1Ko 10:13 “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
Jak 1:12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Ons sal goed doen om Jesus se raad te volg, naamlik:
Mar 14:38 “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

Ons moenie op onsself staat maak nie, maar op die Heilige Gees wat gegee is om ons van die oorwinning te waarborg.
Jes 40:29 “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
40:31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
En laastens:
Sag 4:6b “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”

Onthou egter ons almal struikel , maar ‘n kind van die Here bly nie in die modder van die sonde nie, maar staan op om gewas te word.
Spr 24:16 “Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk.”
Ongeredde mense kan egter nie anders as om in die modder te rol nie, dit is hulle aard. Kyk maar mooi en jy sal sien dat, iemand wat nie werklik glo nie, sal altyd terug na sy vorige sondige leefwyse gaan. Hy het dus nooit wedergebore geraak nie. So ‘n persoon kan in sonde bly sonder dat dit hom pla, want die Heilige Gees is nie in hom of haar nie. Daar vind geen oortuiging van sonde plaas nie.

Ons almal het egter die belofte van God, dat as ons opreg na Hom toe gaan, Hy ons sal verlos en ons sal reinig van al ons sondes.
Jes 1:18 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”
Hy het immers vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. (Rom 5:8)
Psa 25:8 ” Die HERE is goed en reg; daarom sal Hy sondaars leer aangaande die weg.”

Ons, as gelowiges, sal nooit werklik die diepte en breedte van God se liefde of genade kan begryp nie, maar ‘n mooi demonstrasie van God se genade het tydens die kruisiging plaasgevind. Terwyl die skepsels die Skepper op die mees barbaarse metode martel, bid die Skepper en Onderhouer van alles, vir Sy martelaars dat hulle sonde hulle nie toegereken word nie.
Luk 23:34 “En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.”
Hoeveel te meer sal ons Vader ons nie nou vergewe nie? Ons wat Sy Evangelie geglo het en Sy kinders geword het.
Rom 5:8 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.”

Hierdie feit is dit wat my moed gee wanneer ek struikel. Ek weet ek kan met kinderlike geloof na my Vader gaan. Aan Hom my sondes bely en Hom vra om my te help om dit nie weer te doen nie. Ek weet ek maak Hom seer, maar ek weet ook dat Sy liefde en genade onbeperk soos Hyself is, en dat Hy my elke keer sal vergewe. Ek weet ook dat ek op Hom in geloof kan staatmaak om my Sy weg te leer, want Hy wil hê ek moet soos Hy wandel. Wat ‘n vertroosting is dit nie vir ‘n sondige mens soos ek nie. Ek kan maar net weer op my knieë gaan en my God se lof besing. Watter wonderlike God dien ons darem nie? En hoekom sal ek ooit so Iemand wil seermaak, deur om in my sonde voort te wil leef? Nee ek sal nooit nie! Sy liefde vir my, dring my om in hierdie bose wêreld heilig te wil wandel.  Ek derhalwe neem Jesus se vermaning ernstig op wat Hy aan Sy dissipels gerig het, naamlik:
Joh 14:23 “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 14:24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.”
Ek bid dat die Here ons almal sal bystaan om deur ons lewenswandel te bewys dat ons Hom waarlik liefhet en dat Sy naam daardeur verheerlik mag word.

Onthou altyd die onderstaande teksgedeeltes en maak dit deel van jou lewe.
Rom 6:11 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
En laastens:
Gal 6:14 “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.