genesing 'n uitdaging

Genesing, ‘n Skriftuurlike uitdaging aan geloofsgenesers

Met die skryf van die artikel “Laster teen die Heilige Gees” het daar ‘n paar Skriftuurlike feite uitgespring wat ek glo sal help verseker dat gelowiges nie meer so maklik deur geloofsgenesers, (en meegaande bewerings van genesing) om die bos gely sal kan word nie. Die sogenaamde profeet Bushiri is maar net een simptoom van ‘n baie groter probleem in die belydende Christendom. Boonop dien dit as uitdaging aan alle persone wat beweer dat hulle mense deur gebed/handoplegging van hulle siektes kan genees om hierdie genesings vir objektiewe ondersoek beskikbaar te stel. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ek glo dat die Here nog mense genees. (Hy is immers die Soewereine, Almagtige, Skepper en die enigste ware God) Maar ek glo net nie Hy doen dit deur die sogenaamde geloofsgenesers en televisie-evangeliste van vandag nie. Indien hulle werklik die gawe beskik om mense te genees, sou dit baie maklik wees om my bewerings hier gemaak, verkeerd te bewys. Al wat hulle hoef te doen is om die voorbeeld van die Here Jesus Christus na te volg. Die Here Jesus Christus is immers ons voorbeeld en die Skrifte is Sy onbetwisbare woord aan ons. Derhalwe behoort Christus se voorbeeld as maatstaf te dien waarteen alle optredes en bewerings gemeet behoort te word. Onthou, alles wat ons doen moet teen die waarheid, soos in die Skrifte gevind, getoets word!
Joh.3:21 “Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.”

Ek gaan net kortliks ‘n gedeelte van die artikel “Laster teen die Heilige Gees” hier aanhaal wat as grondslag vir die res van hierdie artikel sal dien, naamlik:

  • A.g.v. Christus se leerstellings, en die wonderwerke wat Hy verrig het, het daar self van die godsdiensleiers na die Here gekom om hierdie hele aangeleentheid persoonlik vir hulleself te ondersoek, naamlik:
    Luk.5:12 “En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ‘n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. 13 Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat. 14 Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ‘n getuienis. (Hierdie wonderwerk moes aan die priesters as bewys gedien het dat die beloofde Messias nou op aarde teenwoordig was.)15 Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister (Sy leerstellings)en deur Hom van hulle siektes genees te word. (Wat as bewys sou dien dat Hy die Messias is en dat Sy boodskap van God die Vader afkomstig is.)16 Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid. 17 En op een van dié dae was Hy besig om (weer) te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, (hulle wou self hoor wat Christus verkondig en die wonderwerke op die proef stel.)en daar was krag van die Here om hulle te genees.”
    Die Fariseërs en wetgeleerdes het ondersoek kom instel, om persoonlik vas te stel wie hierdie persoon Jesus dan nou is, en of die wonderwerke waarvan hulle gehoor het, wel werklike wonderwerke was wat volgens die Skrifte as bewys sou dien dat Hy die beloofde Messias is.
  • Indien daar wel wonderwerke plaasgevind het, hoe kon hulle daardie wonderwerke aan iemand anders as God self toeskryf? Die Here vind egter niks daarmee verkeerd dat Sy wonderwerke ondersoek word om die werklike bestaan daarvan te bevestig nie. Hiermee bedoel ek werklike wonderwerke, en nie beweerde genesings waarvan almal van hoor, maar wat nooit aan enige objektiewe ondersoek daarvan blootgestel word nie. (soos wat huidiglik in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom die geval is nie) Onthou die Fariseërs en wetgeleerdes was teenwoordig toe die Here van Sy wonderwerke in hulle midde gedoen het.
    Matt.12:10 “En daar was ‘n man met ‘n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? — sodat hulle Hom sou kan aankla. 11Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? 12 Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. 13 Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een. 14 Daarop het die Fariseërs uitgegaan en saam raad gehou teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.”
    Let wel: Mense met ernstige, asook opsigtelike siektes was onmiddellik daarvan genees en dit ten aanskoue van ongewillige/ongelowige getuies.

‘n Paar feite om van kennis te neem:

  • Christus het Sy wonderwerke in die teenwoordigheid van die godsdiensleiers, wie onwillige (en selfs vyandige) getuies was, gedoen.
  • Hy het hulle nie verkwalik omrede hulle Sy genesings persoonlik kom ondersoek het nie. Hy het boonop voortgegaan en nog genesings in hulle teenwoordigheid gedoen.
  • Die Here het opsigtelike organiese siektes genees. In hierdie geval was daar ‘n merkbare gebrek of kwaal aan hierdie persoon se hand waarneembaar.
  • Die persoon se hand is onmiddellik en volkome voor almal se oë daar teenwoordig genees. Dus, kon die Here se wonderwerk nie ontken word nie, selfs nie eens deur die vyandige godsdiensleiers nie. Hierdie selfde beginsel het vir Christus se dissipels gegeld, naamlik:
    Hnd. 4:16 “en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ‘n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.”
  • Die godsdiensleiers is nie noodwendig deur enige wonderwerk oorgehaal om in die Here te glo nie. Hierdie feit alleenlik behoort oom Angus Buchan se stelling, dat een werklike wonderwerk gelykstaande aan duisend preke is, tot ruste te lê. Lukas 16:30 bevestig hierdie feit, naamlik:
    Luk.16:30 “Maar hy (die ryk man wie in die doderyk is) antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. 31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses (die geskiedenis boeke en wet) en die (Ou Testamentiese) profete nie luister nie, (dus die hele Skrif tot op daardie stadium beskikbaar) sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”
    Dit is om hierdie rede dat Paulus vir Timoteus aangespoor het om die te preek, nie om genesings en wonderwerke te verrig nie, naamlik:
    2Tim.4:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk. 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;”
    Onthou, dit is die Evangelie (leerstellings) wat verkondig word, wat mense van die ewige verderf red, nie wonderwerke nie! Dit moet ook gelet word dat Paulus hierdie brief aan Timoteus geskryf het omrede hy geweet het dat sy dood naby is en dit was nou Timoteus en ander gelowiges wat die leisels verder moes oorneem. Die feit dat hy nie Timoteus nie verder beveel om mense te genees nie, dien as verdere bewys dat die gawe van genesing besig was om tot ‘n einde te kom, en sou in 95nC toe die laaste boek van die Bybel op skrif gestel is, en na afloop van die afsterwe van die laaste lewende apostel, naamlik Johannes, heeltemal tot ‘n einde kom. (Lees asb die artikel “Genees en genesing tydens die Post Apostoliese tydperk”) Daarom is dit vandag nodig om die Evangelie te verkondig!
    Rom.10:14 “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? 15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!
    Rom.1:16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie,
    (leerstellige preke) want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”

Ons lewe in ‘n tydperk waar die kerk aan ‘n vlaag van bedrog, asook valse bewerings van wonderwerke en genesings, blootgestel word. (Hele bedieninge word op beloftes van genesing, voorspoed en wonderwerke gebou.) Die Here sal nie ‘n gelowige kwalik neem, indien daardie persoon eers deeglike ondersoek aangaande ‘n beweerde genesing of wonderwerk doen, alvorens daardie wonderwerk as waarheid aanvaar word nie. Ons word eerder vermaan om dit te doen.
1Thess. 5:21 “Beproef alle dinge; behou die goeie.”

Nou ‘n paar punte om oor na te dink:

  • Hoekom is daar nog nooit deur een van die sogenaamde geloofsgenesers suksesvol, op versoek van die pers en ander Christelike bedieninge, werklike bewyse van genesings voorgelê nie? Indien die pers tydens die Here Jesus Christus se bediening op aarde bestaan het, sou Sy wonderwerke deur almal op televisie waargeneem kon word. Die rede daarvoor is eenvoudig. Hy het werklike genesings gedoen en het nie geskroom om Sy wonderwerke ten aanskoue van onwillige getuies te verrig nie. Inteenstelling hiermee is daar nog nie een verifiseerbare genesing aan die sekulêre pers, asook ander Christelike bedieninge, wie al herhaaldelik daarvoor gevra het, voorgelê nie wat hierdie aangeleentheid tot ruste sou lê nie. Hoekom nie? Hoekom hoor ons nooit stellings soos die onderstaande stelling aangaande die moderne geloofsgenesers nie?
    Hnd. 4:16 “en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ‘n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.”
    Self die volksleiers, wat as vyandige getuies beskou kan word, kon nie die wonderwerk wat verrig is ontken het nie. Hoekom gebeur dit nie vandag nie? Om sake te vererger, maak die sekulêre media ‘n bespotting van hierdie sogenaamde genesings, want hulle kan bewys dat daar geen wonderwerk plaasgevind het nie. Dit is nie my doel om mense se geloof af te breek, of enige persoon se bediening af te kraak nie, maar geloof wat op leuens gebaseer is, is nie ware geloof nie, maar eerder ‘n delusie. Dink wat sou gebeur indien iemand werklik uit die dood in jou gemeenskap sou opgestaan! Daar is al baie sulke bewerings deur sogenaamde apostels/profete/evangeliste gemaak, maar helaas geen sertifiseerbare bewyse is al ooit suksesvol vir ondersoek voorgelê nie. Is die rede daarvoor nie dalk dat hulle nie werklik enige verifiseerbare genesings kan bewerkstellig nie? Ek glo so! Hoekom word daar nooit een so ‘n voorbeeld vir deeglike ondersoek voorgelê nie? Dit sluit adresse, dokters wie die persoon behandel het, skole waar die persoon skoolgegaan het ens in. Indien bonatuurlike genesings so volop is, soos wat deur hierdie mense beweer word, sou verifiseerbare genesings mos ‘n algemene verskynsel gewees het? Dit is nie!
  • Met al die kameras wat orals teenwoordig is, hoekom is daar nog geen opname bekendgestel wat bo enige twyfel ‘n waarneembare bonatuurlike genesing ten toon stel nie? En die feit dat baie van hierdie sogenaamde genesings byeenkomste deur video opnames gedek word. (Dit sluit ook die feit dat baie van hierdie genesings byeenkomste deur hulle eie media afdelings opgeneem word.) Voorbeelde hiervan sou wees dat verminkte ledemate merkbaar genees word, vermiste ledemate weer terugroei, gevorderde stadiums van amiotrofiese laterale sklerose merkbaar en onmiddelik genees word ens. Waar was die sogenaamde geloofsgenesers toe die Springbok skrumskakel Joost Van der Westhuizen siek was. Ons almal weet immers dat hy bo enige twyfel ‘n gelowige was. (so die verskoning van gebrek aan geloof kan nie met enige mate van sukses in sy geval aan ons voorgehou word nie!)
  • Sou hierdie geloofsgenesers bereid wees om ‘n onafhanklike party (‘n gelowige soos byvoorbeeld Joost, wie werklik ‘n opsigtelike gebrek of siekte het) voor almal daar teenwoordig te genees, sodat sy bewerings van genesing op die proef gestel kan word? “Wat beweer moet bewys word” was ‘n gesegde wat ons altyd in die polisie aangewend het. Deesdae hoor ons baie bewerings maar sien geen bewyse nie! Is dit nie tyd dat hierdie mense aangespreek en uitgewys word nie? Hulle beweer hulle genees mense. Gee ons ‘n geloofwaardige voorbeeld wat deur onafhanklike ondersoekers ondersoek en bevestig kan word. Dit is ‘n vraag wat elke gelowige aan elke persoon wat sy bediening op genesing baseer (of waarvan genesing en wonderwerke ‘n deel vorm.) behoort te stel. Toe Johannes die Doper sy dissipels na die Here gestuur het, om te verneem of Hy werklik die Messias is, het Hy hulle beveel om Johannes te vertel wat hulle persoonlik waargeneem het, naamlik:
    Luk.7:En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag? 21 En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. 22 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle (met julle eie oë) sien en (met julle eie ore) hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie (die goeie boodskap) verkondig.”
    Indien daar mense (insluitende mense wat skepties is) na ‘n spesifieke geloofsgeneser gestuur word, sal daardie persoon ook die Here Jesus se voorbeeld kan navolg en die persone aanmoedig om te vertel wat hulle self gesien het? Of sal hulle, soos wat dit met die geloofsgenesers van vandag die geval is, met hoorsê tevrede moet wees? (In hierdie geval sou hulle dit selfs op video kon vaslê wat die genesing bo enige twyfel sou kon bevestig.)
  • Die tydperk van die Nuwe Testamentiese profete, het teen die einde van die Apostoliese tydperk, met die voltooiing van die ses-en-sestig boeke van die Skrifte in omstreeks 96nC , en die daaropvolgende dood van die Apostel Johannes tot ‘n einde gekom. Hierdie feit en ook aanleiding gegee dat sekere geestelike gawes tot ‘n einde sou kom. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Genees en genesing tydens die Post Apostoliese tydperk” asook die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” sorgvuldig deur te lees.)
  • Onthou die Here soek mense wat Hom in waarheid dien, nie leuens nie. Indien genesing en wonderwerke ‘n belangrike deel van ‘n bediening uitmaak, is dit net billik om verifiseerbare bewyse op aanvraag voor te kan lê. Kan hulle soos Christus en die Apostels te werk gaan en hulle genesings ook voor objektiewe (en self onwillige) getuies verrig? Indien hulle ja antwoord, vra hulle om verifiseerbare getuienis voor te lê. Dit behoort maklik te wees, gegewe die feit dat slimfone nou in meeste mense se hande is. Indien geloofsgenesers bo enige twyfel bewyse van verifiseerbare genesings en wonderwerke kan voorlê, sou dit aanleiding gee dat die Here Jesus Christus daardeur verheerlik sou word. (iets wat ons almal se doel behoort te wees) Dit sal ‘n verdere positiewe uitwerking meebring, naamlik dat die sekulêre pers nie meer van hierdie bewerings van genesing ‘n bespotting sal kan maak nie. (en sodoende sal die Here weereens verheerlik word.) Handeling 4:16 het ook in hierdie geval betrekking, naamlik:
    Hnd. 4:16 “en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ‘n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.”
    Hoekom kan die geloofsgenesers van vandag se bewerings so maklik ontken word?
  • Onthou, indien ‘n persoon oor die feit dat hy die gawe beskik om ander te genees mislei is, (of selfs willens en wetens daaroor jok) dan kan daardie persoon oor ander meer belangrike aangeleenthede/leerstellings ook mislei wees (of jok) wat ewigdurende implikasies vir die mense wat hom glo kan inhou. Onthou, mense se geloofslewe, asook hulle ewige bestemming, is op die spel. Hierdie stelling geld vir die leser ook! Elkeen van ons is self verantwoordelik vir wat ons glo, en ons gaan op daardie feit beoordeel word. Dit is elkeen van ons se plig om alle bewerings op die proef te stel. Onthou, die Here Jesus Christus het juis die gemeente in Éfese geprys juis omrede hulle die vals apostels se bewerings op die proef gestel het, naamlik:
    Openb.2:2 “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;”
    Hierdie beginsel geld ook vir die sogenaamde geloofsgenesers van vandag, asook enige bediening wat op wonderwerke en bonatuurlike genesings gebaseer is. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Ware Apostels vs Valse Apostels” asook die artikel “ware Profete vs Vals Profete”te lees.

Ter Afsluiting: Onthou, ‘n persoon kan na so ‘n genesings samekoms gaan, of ‘n geloofsgeneser besoek, en dit kan hom dalk rustiger laat voel, ens selfs gevoelens van ekstase laat ervaar, maar dit beteken nie dat hierdie manifestasies noodwendig van God afkomstig is nie. Wanneer dit later blyk dat daardie persoon nie werklik genees is nie, veroorsaak dit in baie gevalle ‘n geweldige geloofskrisis in daardie persoon se lewe. Om nie eens van so ‘n persoon se familie/naasbestaandes te praat nie! Baiekeer word die gebrek aan genesing kwansuis aan die siek persoon se gebrek aan geloof toegesê. Hierdie bewerings kan weereens tot ‘n verdere geloofskrisis in daardie persoon se lewe aanleiding gee. Hoekom? Die antwoord is eenvoudig! Indien dit beweer word dat ‘n persoon nie oor genoeg geloof beskik om genees te word nie, hoe kan daardie persoon seker wees dat hy oor genoeg geloof beskik om wedergebore te raak? (veral indien daardie persoon aan ‘n ongeneeslike siekte ly en op sy sterfbed lê) Baie mense gaan so ver en blameer God, omrede die geloofsgeneser verklarings van genesings in Christus se Naam gemaak het, en daar geen werklike genesing plaasgevind het nie. Dit gebeur gewoonlik omrede die geloofsgeneser teksgedeeltes uit konteks aangehaal (en selfs verdraai) en sodoende genesing aan sy gehoor belowe. Moet ons nie eerder die geloofsgenesers wat valse beloftes maak aanspreek nie?

Onthou, al hierdie beloftes van genesings (en wonderwerke) word in die Here Jesus Christus se naam gemaak! Indien ‘n bediening op die fondament van valse genesings en wonderwerke gebou is, kan dit dan werklik as ‘n werk van God beskou word? Dit maak nie saak hoe gewild daardie bediening dalk mag wees, of hoe lekker die vleeslike manifestasies wat daar plaasvind ‘n persoon mag laat voel nie! Ons geloof moet nie op ons ons belewenisse en vleeslike manifestasies gebaseer wees nie, maar slegs op grond van God se woord! (die Bybel) Wanneer ons hierdie punt besef, en ‘n punt daarvan maak om met die Gees vervul te word, dan sal God die vrugte van die Gees in ons lewens voorbring, waarvan ware blydskap maar net van vele geestelike vrugte is, naamlik:
Ef.5:17 “Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.18 Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
Gal.5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Een van die vrugte van die Gees is immers die waarheid, naamlik:
Ef.5:9 “Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”

Indien ‘n persoon se bediening op genesing gebaseer is moet hy gevra word om verifiseerbare bewyse voor te lê. Sodoende sal ons verhoed dat wolwe die skape verskeur! Nadat die Here uit die dood uit opgestaan het, het Hy aan Petrus verskyn en hom opdrag gegee om sy skape op te pas.
Joh.21:16 “Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op.”
Dis op grond van hierdie opdrag van die Here waarom hierdie artikel op skrif gestel is! Mag ons optredes, en leerstellings, op die waarheid (die Bybel) gebaseer wees en mag ons Hom sodoende verheerlik!

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.