die duiwel deel een

Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 1

Indien ons ‘n deeglike kennis van Satan se werkwyses rakende gelowiges ken en verstaan, sal dit tot ‘n groot mate verhoed dat ons deur hom om die bos gely word en verhoed dat ons in die strikke van sy listige planne val. Die apostel Johannes omskryf nie verniet die Duiwel as die bose een nie. (Joh. 17:15; 5: 18-19) Sy bose karakter, wat deur die titels en name wat aan hom gegee weerspieël word, deurweek die hele wêreld, omrede hy binne die raamwerk van God se soewereine plan, toegelaat is om tydelike bekeer oor die hele wêreld te bekom. (Neem egter kennis dat die feite soos hierbo genoem geensins as bewys dien dat die gelowige deur Satan beset kan word nie. Die gelowige kan nie deur bose geeste beset word nie.) In Openb. 12:3 word die Duiwel as die draak omskryf, en dien dit as waarskuwing dat die gelowige op ‘n geweldadige, verbete en verwoestende wyse deur Satan aangeval kan word. Omrede die Duiwel ‘n hoogs intelligente en kragtige wese is ( wat baie sterker en slimmer as enige mens is) is hy in staat om sy taktiek en planne sodanig aan te pas, wat elke persoon se swak en sterkpunte in ag neem, waardeur hy sal verseker dat hy die beste kans het om die oorwinning oor sy teiken te behaal. Wanneer die omstandighede dit vereis, sal hy van taktiek verander en homself as ‘n engel van die lig voordoen en so sal hy heel aantreklik en goedgesind voorkom.
2Ko 11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
Dus beskik die duiwel oor die vermoeë om sy teenstanders op verskeie wyses aan te val en gewoonlik op grond van ‘n plan wat spesifiek vir ‘n gegewe situasie of ‘n spesifieke persoon uitgewerk is.

Soos reeds genoem, word Satan se beheer oor hierdie wêreld in die titels, wat hom in die Bybel gegee is, gevind. Hy word as die heerser of owerste van hierdie wêreld omskryf.
Joh 12:31 “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.”
Die apostel Paulus beskryf die duiwel as die god van hierdie wêreld.
2Ko 4:4 “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
Verder word hy as die owerste van die mag van die lig omskryf, sowel as die gees wat in die kinders van die ongehoorsaamheid (ongelowiges) werksaam is.
Efs 2:2 “waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,”
Sy doelstelling is om die hele wêreld te verlei.
Opn 12:9 “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” (Hy gaan dit tot ‘n baie groot mate tydens die sewe jaar verdrukking regkry!)
En laastens is die Duiwel woonagtig in die lug, vanwaar hy sy bose planne teen gelowiges; die mensdom in geheel; asook die nasies en hulle goewermente, (veral instansies en persone wat in ‘n posisie is om ‘n land of organisasie se beleid te bepaal) uitdink en tot uitvoering bring.
Efs 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Dus regeer hy tydelik oor hierdie kosmos/wêreld! Maar voordat ons verder gaan is dit belangrik dat die gelowige weet wat die wêreld is waarvan bostaande teksgedeeltes na verwys.

Die wêreld/kosmos:  In kort kan die wêreld of kosmos as die georganiseerde raamwerk of stelsel omskryf word, waarin die mensdom lewe en wandel en wat die Here uitsluit of Hom namaak. Dit sluit nie slegs alle immorele dade in nie, maar dit sluit ook alle morele dade en goeie werke in, wat nie in geloof en in afhanklikheid van God en tot Sy eer gedoen is nie, en wat selfverheerliking as motief het in pleks daarvan om God te verheerlik. Sodra ‘n persoon sy goeie dade aan ander voorhou, kan met redelike sekerheid gereken word dat so ‘n persoon se dade nie tot verheerliking van die Here gedoen is nie, maar in selfverheerliking. Sulke optrede is wêrelds! Baie wat deesdae op Christelike televisie gesien word is niks anders as selfverheerliking en selfverryking nie. (dan praat ek nie eens van die sekulêre media nie!) Die wêreld of era waarin ons lewe, en waarvan die duiwel die god is, sluit in kort die volgende in, naamlik die volle volume van gedagtes, opinies, spreekwoorde, grondreëls/grondbeginsels, doelstellings, teorieë en spekulasies wat op enige tydstip in die kosmos/wêreld aanwesig is, en wat baie moeilik of selfs onmoontlik is om ten volle aan te gryp, of om dit volkome akkuraat te omskryf, maar wat wel ‘n werklike en effektiewe krag/mag is, wat uit ‘n immorele of morele atmosfeer bestaan, en wat die mensdom elke oomblik van die dag aan blootgestel word, en waarvan alle ongelowiges deel van uitmaak en wat ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom insluit. Hierdie subtiele gees (wat uit ‘n georganiseerde netwerk van bose geeste bestaan, waarvan Satan die hoof is) poog om elke oomblik van die dag die mensdom vir sy eie bose doelstellings, en tot hulle ondergang, te beïnvloed. Hierdie mate van heerskappy wat die Duiwel oor die wêreld/kosmos uitoefen is angswekkend en asemrowend! Derhalwe kan die gelowige uiters dankbaar wees, omrede Hy wat in ons is groter as hy wat in die wêreld is.
1Jo 4:4 “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”

Dit is egter ‘n tragedie dat die meeste mense salig onbewus is van die feit dat daar ‘n hewige stryd in die geesteswêreld plaasvind, en dat daar bose geeste is wat poog om die mensdom as hulle werktuie te manipuleer en te gebruik. Maak geen fout nie, Satan is ons teenstander, aanklaer en verleider en ons is in ‘n stryd gewikkel.
Efs 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Hy is ‘n leuenaar, moordenaar (wat graag die mens se samewerking wil bekom, sodat hy sy moorddadige planne deur die mens se fisiese optrede en beleidsrigtings kan uitvoer.) Hy is boonop baie magtig (nie almagtig soos God nie) hoogs intelligent, (nie alwetend soos God nie) en boonop is hy uiters slinks. Ons moet hom nooit onderskat of in ons eie krag en met ons eie wysheid wil teëstaan nie. Derhalwe moet ons deur geloof in die Here en op Sy krag staatmaak en die Duiwel op grond van God se woord, en slegs op Sy metodes Satan weerstaan, anders gaan die Duiwel ons verlei en sal ons onbewustelik deur hom vir sy doeleindes aangewend word. Om hierdie rede is korrekte Bybelse leerstelling, wat slegs vanuit die Skrifte bekom is, van uiterste belang. (die leser word aangeraai om die artikels “Bind en ontbind van bose geeste” asook “Die Salwing (the Anointing”) en “ Hulp met bose geeste in huis” en laastens “Is Bybelse leerstellings so belangrik” te lees.)

Net soos wat die Here bereid is om ‘n persoon te ontmoet op die punt waar daardie persoon homself mag bevind, of in omstandighede waarin daardie persoon homself mag bevind, sal die Duiwel ook net so maak. Die betrokke doelstellings verskil egter hemelsbreed. God se doelstellings is altyd ten goede vir die mensdom, waar Satan se doelstelling altyd is om die mensdom vir sy bose planne en begeertes uit te buit. Hy sal ook bereid wees om ‘n persoon wat homself in ‘n spesifieke situasie mag bevind tegemoet kom, maar sy doelstellings is altyd om daardie situasie so te misbruik, dat hy ‘n oorwinning oor die persoon kan behaal wat verlyding (valse leerstellings) mag insluit. Soos reeds genoem, verkies hy gewoonlik om van spesifieke metodes gebruik te maak, maar hy sal nie skroom om sy taktiek te verander soos wat die omstandighede dit mag vereis nie. Sy doel bly egter nog steeds om die gelowige kwaad aan te doen. Onthou die ou gesegde: “Sonde is soos ‘n kredietkaart. Trek nou en betaal later.” Soms sal Satan die fondasie van sy plan in ‘n persoon se lewe lê, net om later wanneer dit hom pas, (dit kan weke, maande en selfs jare neem) terugkom om die situasie verder uit te buit en sy verwoestende werke voort te sit en af te handel. En daarom waarsku God ons in Sy woord!
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Onthou, die Duiwel is nie alwetend nie maar hy (en alle bose geeste) het genoeg tyd gehad om die mensdom deeglik te bestudeer. (Onthou hy is nie vatbaar vir fisiese dood nie, en was vroeg na, en moontlik tydens ‘n groot deel van die skepping teenwoordig gewees.) Hy het ook boonop die tyd gehad om die mensdom, wat hulleself in verskillende situasies bevind het, te bestudeer en hy dra kennis van hoe die meeste mense in ‘n gegewe situasie opgetree het. Sodoende kan hy tot ‘n groot mate van akkuraatheid bepaal watse plan hy kan aanwend wat spesifiek by ‘n persoon, wat homself in ‘n spesifieke situasie mag bevind, pas en wat aan hom die grootste kans gee om sy teiken tot ‘n nederlaag te lei.
1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
Baie mense beweer dat die Duiwel ‘n tandelose teenstander is, maar indien mens in ag neem, dat Petrus die bogenoemde waarskuwing aan gelowiges gerig het, is dit opmerklik dat hy geglo het dat indien die gelowiges nie waaksaam is nie hulle verslind kan word, wat beteken dat hulle deur Satan oorwin kan word en dit beteken dat hulle tot ‘n geestelike val kan kom en selfs in ‘n posisie beland waar hulle as instrumente in Satan se hande teen ander gelowiges en God se doelstellings dien. (Kyk maar wat se seer a.g.v. skinder, valse leerstellings, hoogmoed, sedeloosheid, immoraliteit, haat, materialisme en wêreldgesindheid onder ‘n oorgroot meerderheid van die belydende Christendom voorkom.) Hoeveel keer het bekende predikers nie al tot ‘n val gekom nie! Is die oorsaak nie dalk gedeeltelik omrede hulle Petrus se waarskuwing te ligtelik opgeneem het en gedink het dat Satan as ‘n tandelose leeu omskryf kan word nie? Moenie die duiwel onderskat nie!

Die wyse waarop Satan die Here Jesus Christus in die woestyn versoek het, verskaf aan die gelowige ‘n rykdom van inligting en daardeur het die Here ons ‘n voorbeeld gegee hoe ons die Duiwel se versoekinge kan hanteer. Maar voordat ons die Here Jesus Christus se versoekinge in die woestyn (in deel twee van hierdie reeks artikels) in fyner detail gaan bestudeer, is daar eerstens ‘n belangrike vraag wat beantwoord moet word. En die vraag is hoekom die Here Satan toelaat om die gelowige te versoek/toets. Alhoewel hierdie antwoord baie breedvoeriger beantwoord kan word, gaan ek net kortliks hier ‘n kort antwoord gee, veral so ver dit die inhoud van hierdie artikel aanraak. Hou ook ingedagte, dat die Here beproewinge in ons lewens gebruik om ons geestelik te ontwikkel, maar Satan se uitsluitlike doel met versoeking is altyd om die gelowige so ver te kry om boosheid te bedryf; onafhanklik van God op te tree en om die gelowige se geestelike (asook fisiese) lewe te verwoes.

Eerstens dien beproewinge as middel waardeur die gelowige se geloof getoets word.
1Pe 1:6 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”
Die Here laat beproewinge in ons lewens toe, omrede dit voordelig vir geestelike groei en ontwikkeling is. Ons goud en silwer behaag nie die Here nie.  (ons geld mag dalk die proponente van die Voorspoed Evangelie behaag maar nie vir God nie.) Dit is geloof wat God behaag!
Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Om hierdie rede gebruik God beproewinge, en daardeur ontwikkel Hy ons geloof, sodat ons Hom kan behaag en Hy ons by die Regterstoel Oordeel van Christus kan beloon. Slegs goeie werke, wat op grond van genade, deur geloof, in afhanklikheid van God, in en deur die gelowige d.m.v die Heilige Gees verrig is gaan by die Regterstoel Oordeel met genadeloon beloon word.

Tweedens laat ons Hemelse Vader beproewinge in ons lewens toe, om ons te leer om op die Here se koms vir ons te hoop en met geduld na hierdie wonderlike dag uit te sien.
1Pe 1:12 “Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien. 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.”
As gelowiges moet dit ons nie verbaas as ons in hierdie wêreld beproewinge, versoekinge en selfs lyding (wat moontlik fisiese dood mag insluit) ervaar nie. Die Here Jesus Christus ons Leidsman het voor ons geloop, en het ook beproewinge deurgegaan en net so moet ons Hom getrou navolg om sodoende gehoorsaamheid aan te leer.
Heb 5:8 “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het;
Fil 2:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 2:10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,”

En laastens laat die Here allerlei beproewinge in die gelowige se lewe toe, met die doel om die gelowige se liefde vir God tot ‘n groter mate te ontwikkel.
Jak 1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Dit is in tye van beproewinge of versoekinge waar ons die kans gegun word om ons liefde aan die Here te toon. Hierdie versoekinge is nie altyd noodwendig negatief van aard of waar lyding ervaar word nie. Ons kan soms in versoeking kom a.g.v God se seëninge/gawes aan ons, soos byvoorbeeld ons intellektuele vermoëns, ons voorkoms, ons posisie in die samelewing, asook rykdom en aansien ens. In tye soos hierdie is dit versoeking groot om op ons eie vermoëns te roem of om opgeblase en hoogmoedig te raak en op ander neer te wil kyk.
1Ko 4:7 “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
1Pe 5:6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.”
En onthou die waarskuwing!
Jak 4:6 “Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
Hoe tragies is dit darem nie dat ons (en ja, selfs gelowiges!) God se gawes, wat Hy met soveel liefde aan ons skenk, aanwend om boosheid te bedryf!

Ter Afsluiting: In deel twee van hierdie artikel sal ons die versoeking van die Here Jesus bestudeer en dan verdere voorbeeld gee van hoe die Duiwel ander mense in sy planne vasgevang en hulle laat struikel het. Vanuit daardie voorbeelde behoort ons ‘n redelike volledige beeld te kry van hoe die duiwel te werk gaan, en sal dit aan ons die wysheid verskaf om sy planne vroegtydig raak te sien en dit dan te vermy of in God se krag teen te staan.

Alhoewel hierdie artikel hoofsaaklik oor die duiwel se bedrywighede sover dit die gelowige aanbetref handel, is dit egter noodsaaklik om ook kortliks die duiwel se handelswyses aangaande ongelowiges ook hier mee te gee. So ver dit ongelowige mense aanbetref, poog hy om hulle te verblind sodat hulle nie die ware Evangelie hoor, verstaan en glo nie.
2Ko 4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”

Satan saai ook sy onkruid tussen die koring.
Mat 13:37 “En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, 13:38 en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose,”
Net soos wat daar geredde mense op aarde is, so is daar ongeredde mense tussen die geredde mensdom wat ‘n ander evangelie; ‘n ander godsdiens; ‘n ander Jesus as die ware Here Jesus van die Bybel ensovoorts verkondig en glo. Baie van hierdie mense staan elke Sondag op preekstoele en praat soos skape (ware gelowiges) maar van binne is hulle verterende wolwe. (mense wat ‘n valse evangelie voorstaan en verkondig.)
Mat 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
Hnd 20:29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.”
Ondier hierdie valse leerstelling sal mens die dwaal leerstelling vind, waarin beweer word, dat alle weë uiteindelik na die hemel lei. Die Here waarsku egter dat die weg na die Hemel smal is en dat daar min is wat dit vind.
Mat 7:14 “Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Derhalwe is dit van uiterste belang dat ons die ware Evangelie ken en glo en moet ons oor die vermoeë beskik om dit ook met ander mense te deel.

Die Duiwel weet dat indien hy die mensdom vir God se waarhede, soos in die Bybel opgeteken staan, kan verblind, hy tot ‘n baie groot mate sy doelstellings met hulle bereik het. Derhalwe hou hy valse godsdienste aan die mensdom voor wat of op werke gebaseer is, (werke evangelie) of wat die Godheid van Christus en/of Sy voltooide werk aan die kruis ontken. Dit sluit alles van asketisme; tot lisensie om te sondig; tot die okkult en tot teïsme (net om in God te glo beteken nie noodwendig dat so ‘n persoon wedergebore is nie. Om wedergebore te raak moet ‘n persoon die Evangelie verstaan en glo.) in. En derhalwe val by verre die grootste  gedeelte van die belydende Christendom onder diegene wat ‘n ander evangelie aangang en verkondig!

En laastens in dit van vanselfsprekend, inaggenome Satan se bose karakter, dat hy van enige aspek van die wêreld sisteem, waarvan hy die god van hierdie wêreld is, gebruik sal maak om te verhoed dat die ongeredde mensdom die Evangelie hoor of glo en daardeur wedergebore sal raak. Derhalwe sal hy ook poog om die mensdom so besig met die sorge van die lewe, met die self, geld, vervolging en selfs plesier en vermaak besig te hou, dat hulle nooit of bitter min tyd aan die lewe na die dood, hulle sondeskuld teenoor ‘n regverdige God, en God se oplossing vir die mens se sondeskuld voor ‘n heilige God (die Evangelie) na te dink en die regte besluit te neem nie.
Maar diegene wat alreeds die Evangelie, op ‘n punt in tyd, geglo het is nie meer in die Duiwel se koninkryk nie, maar behoort aan die Here en derhalwe moet hulle nou met heiligmaking besig wees, wat ook kennis van Satan se strategiese werksmetodes insluit, sodat hulle nie die slagoffers van sy listige planne word nie. Alhoewel die Duiwel nie hulle ewige sekuriteit in Christus ongedaan kan maak nie, kan hy die gelowige geestelik bankrot en vrugteloos maak, en self poog om hulle deur sonde in fisiese en geestelike smarte, wat geestelike bankrotskap insluit, te dompel en wat self die sonde wat tot fisiese dood mag lei insluit.
1Jo 5:16 “As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.
Jak 4:4  Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

In deel twee van hierdie artikel sal die Here Jesus Christus se versoeking van nader bestudeer word, wat die Duiwel se werkswyse en tegnieke nog beter sal ontbloot en uitlig, sodat ons nie onbekend met Satan se bose planne sal wees nie.
2Ko 2:11 “want ons is met sy planne nie onbekend nie.
2Ko 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”

Seën Groete.

Vic

 

Deel met ander asb.