Waar lê jou skat

Waar lê jou Skat?

Lukas 12:34 “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Om die vraag eerlik te beantwoord hoef mens net te kyk op wat ‘n persoon sy geld, tyd en moeite spandeer. Hoeveel geld spandeer ons op ons eie genot? Hoeveel tyd spandeer ons op wêreldse dinge? Waaraan spandeer ons die meeste tyd? Laastens met wie spandeer ons dit? Of kom ons stel die vrae op ‘n ander manier om vas te stel waar ons harte werklik lê.

Spandeer ons die meeste van ons geld op die Here en om Sy opdrag om met die verkondiging van die Evangelie besig te wees? Spandeer ons, ten minste, meeste van ons vrye tyd om vir die Here te werk of meer van Hom te leer? Doen ons werklik enige moeite vir die Here en Sy werk? Hoeveel van ons tyd spandeer ons in God se Woord of in gebed met Hom? Hoeveel tyd spandeer ons met wedergebore Christene? Bogenoemde vrae, as ons dit eerlik beantwoord, sal vir ons ‘n indikasie gee van waar ons harte werklik lê. Is ons skat nie dalk hierdie wêreld en die dinge in hierdie wêreld nie?

Filippense 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
Kolossense 3:1 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”
Glo ons werklik dat ons burgerskap in die hemele is? As ons ja antwoord, hoekom leef ons dan asof ons burgerskap op die aarde is? As Jesus Christus ons Skat is hoekom soek ons dan die dinge hier op aarde asof dit ons skat is? Is dit nie in werklikheid ‘n indikasie dat ons skat die wêreld is nie? Is ons optrede as kinders van God werklik anders as die ongelowiges in die wêreld sin? Wat sê dit aan die wêreld daarbuite? Demonstreer ons lewenswyse dat ons God glo toe Hy gesê het:
Lukas 12:29 “Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; 12:30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. 12:31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Hoeveel van ons soek werklik eers die koninkryk van God?

Die ware vraag wat ons sal moet beantwoord is, glo ons werklik die Here? Hoe kan dit wees dat ons Hom nie vir ons tydelike behoeftes op aarde kan vertrou nie, maar Hom dan vertrou om ons uit die hel uit te hou? Kom ons dink vandag ernstig hieroor na.
Mense soos Hudson Taylor het God op Sy Woord gevat en Sy koninkryk eerste gesit en die Here het wonderlike werke deur hulle gedoen. Hoekom kan ons nie dieselfde doen nie? Die probleem lê nie by God en Sy bereidwilligheid om ons te help nie. Die probleem is dat ons nie werklik die Here glo en gehoorsaam nie. Die hartseer waarheid is dat hierdie wêreld in werklikheid ons skat is, en net soos wat die Here gesê het, sal ons harte wees waar ons skat is.

Mag die Here ons help om tot inkeer te kom en weer op Hom alleen te vertrou. Ons moet bid dat Hy ons bystaan sodat Hy ons enigste Skat sal wees. Hy is een van die dae hier. Hoe gaan ons rekenskap gee vir die bestuur van ons Meester se belange? Ons moet onsself elke dag ondersoek om te bepaal waar ons skat werklik lê, en as dit nodig is moet ons tot bekering kom.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.