Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 1

Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 1

Die begin van die smarte (Die begin van die verdrukking)

Die gesprek wat die Here Jesus Christus op die Olyfberg gelewer het is een van die vier hoof gesprekke wat Hy met Sy eerste koms aarde toe gelewer het, en die inhoud daarvan moet met die Bergpredikasie (wat oor die morele en etiese beginsels van die koninkryk handel Mattheus 5 – 7); met die predikasie wat oor die huidige tydperk handel (wat oor die koninkryk wat in versteekte vorm in die harte van mense voortbestaan, terwyl die Koning afwesig is, handel. Mattheus 13) en met die gesprek in die bovertrek ( wat oor die kerk wat as die liggaam van Christus in die huidige tydperk handel. Johannes 13 – 17) vergelyk word. Die gesprek op die Olyfberg handel oor die einde van die huidige dispensasie (tussen die twee komste van Christus) wanneer Jesus Christus weer aarde toe sal kom om Sy koninkryk fisies aarde te kom vestig. Die gesprek op die Olyfberg het gevolg op die gebeure in Mattheus 23 waar Jesus die Fariseërs en Skrifgeleerdes ernstig betig het oor hulle valse en skynheilige godsdiens en praktyke. Hoofstuk 23 het afgesluit met Jesus se bewoënheid oor die stad Jerusalem.
Mat 23:37 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!
23:38 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!
23:39 Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”
Vir Sy dissipels moes Sy woorde verwarrend geklink het, want hulle het verwag dat Jesus Sy Koninkryk onmiddellik gaan vestig en hoe sou Hy oor die nasie Israel kon regeer as die nasie woes gelaat word? Dit herinner mens nogal aan die tyd toe die heerlikheid van God op ‘n vorige geldeenheid die tempel van Salomo verlaat het, voordat die volk Israel in ballingskap weggevoer was. (Esg 9:3; 10:4; 11:23) Daar het God die tempel verlaat en hier verlaat God weereens die tempel, net voordat die herboude tempel weereens verwoes sou word en die volk na die uiteindes van die wêreld verstrooi sou word!

Mattheus 24:1 “En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys.
24:2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.”
Opmerking: Werk aan die tempel het alreeds in 20 vC begin en was nog nie heeltemal voltooi nie. Die tempel was eers in 64 nC voltooi, net ‘n paar jaar voordat dit verwoes sou word. Met Jesus se eerste koms aarde toe was die hoof gebou van die tempel hoofsaaklik voltooi of baie naby aan voltooiing gewees. Vir die dissipels moes die tempel ‘n toonbeeld van die Israeliese volk se godsdiens wees en kon ook vir hulle as bewys van God se seën oor die nasie beskou word. Dit is waarom hulle dalk die Here se aandag op die indrukwekkende tempel geboue gevestig het. Jesus se uitspraak in vers twee moes as ‘n skok vir die dissipels gekom het.

Die tempel was immers ‘n indrukwekkende gebou, waarvan sommige van die klippe waaruit dit gebou was, baie tonne geweeg het. Die reuse klippe is in klipgroewe wat onder die stad Jerusalem geleë was gekap en in die bou van die tempel gebruik. Hierdie voorspelling wat Jesus gemaak het, het in omstreeks 69-70 nC waar geword met die val van die stad Jerusalem. Titus, die Romeinse generaal wou die tempel bewaar het, maar sy troepe het dit sonder sy toestemming aan die brand gesteek en die goud waarmee die tempel se binne vertrekke uitgelê was het gesmelt en tussen die klippe, waaruit dit gebou was, geloop en daarom het die Romeinse soldate klip vir klip losgemaak en afgegooi om by die goud uit te kom. Dit het presies gebeur soos wat Jesus voorspel het en van die klippe is alreeds deur argeoloë in die vallei onder die stad gevind.

Mattheus 24:3 “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”
Opmerking: Volgens Markus 13:3 het Petrus, Jakobus, Johannes en Andréas Jesus drie vrae gevra nl. 1) Wanneer sal hierdie dinge plaasvind (Wanneer sal die tempel verwoes word?) 2) Wat sal die teken van Jesus se koms wees (Watter teken sal plaasvind alvorens Jesus aarde toe kom om Sy koninkryk hier te kom vestig?) 3) Wat is die teken wat sal aandui dat die eeu of tydperk aan die einde gekom het? (Watter teken sal aandui dat Jesus se koms naby is en dat die huidige tydperk tot ‘n einde gekom het?) Jesus Christus se antwoorde op hierdie vra staan as die profetiese rede op die Olyfberg bekend, en soos wat die beskrywing aandui is alles wat Jesus hier gepraat het profeties van aard, en as Sy woord sal dit verseker in vervulling gaan.

Daar moet net gelet word dat die vra wat gevra was, betrekking het op die vernietiging van die tempel en die stad Jerusalem en die teken van Jesus se tweede koms, asook die einde van die huidige tydperk, en het niks met die kerk te doen nie. Die kerk, wat as die liggaam van van Jesus Christus beskou word, is geensins hier te sprake nie, omrede Jesus Christus dit alreeds gestel het dat Hyself Sy kerk sal bou. (Mattheus 16:18)
Mat 16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots (Jesus self wat as die Rots bekendstaan) sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”
Dus is die ware kerk (wat uit alle wedergebore kinders van die Here bestaan) nie beskik vir God se oordele nie, maar vir verlossing. (Op 3:10)
Dit sal ook uit die konteks waarin al hierdie gebeurtenisse plaasgevind het duidelik blyk dat die Evangelie volgens Mattheus hoofsaaklik ‘n Joodse perspektief handhaaf en moet dit van uit ‘n Joodse oogpunt bestudeer word. Die Jode asook Jesus se dissipels het verwag dat die Messias ‘n aardse koninkryk tot stand sou bring, soos wat hulle in die Ou Testament belowe is en wat hulle dus nou verwag het.(Dan 2:44 ens) Hou hierdie feit ingedagte soos wat ons Mattheus 24 en 25 verder bestudeer.

Ons moet ook poog om vas te stel wat die dissipels se uitgangspunt was toe hulle hierdie drie vra aan Jesus gestel het. Hulle was Israeliete en het ‘n Joodse uitkyk en verwagting op alle profetiese gebeure gehandhaaf. Terwyl die Jode in Babilon was, tydens die tydperk van hulle 70 jaar lange ballingskap, het die engel Gabriël aan die profeet Daniël verskyn en aan hom meegedeel dat daar vir die volk Israel 490 jaar, deur God, vasgestel was vanaf die datum waarop hulle toestemming gekry het om die stad Jerusalem te herbou en om alles af te handel. (Daniël 9:24-27) Kom ons gaan eers na daardie teksgedeelte en ontleed dit ‘n bietjie net om ‘n goeie agtergrond te verkry.

Dan 9:24 “Sewentig sewetalle (490 jaar volgens die Jode se godsdienstige kalender) is oor jou volk en jou heilige stad (Jerusalem)bepaal, om die goddeloosheid te voleindig (Israel se goddeloosheid sal met Jesus se tweede koms tot ‘n einde gebring word, wanneer hulle Hom as hulle verlosser en Saligmaker erken en aanneem) en om die maat van die sondes vol te maak (Die gedagte hier is om die maat van hulle sondes vol te maak met die idee om dit te straf. Deut 32:34; Job 14:17 Jesus het vir die volk Israel se sondes aan die kruis betaal, maar hulle het Hom verwerp en hulle sal eers as volk uit Jesus se soendood voordeel trek nadat die 490 jaar voltooi is, met die einde van die groot verdrukking, en met Jesus se tweede koms, wanneer hulle Hom as hulle lank belowe Messias en Verlosser sal aanneem. In hierdie opsig sal Hy dus hulle sonde op Hom neem, omdat hy alreeds aan die kruis daarvoor betaal het. Esg 37:23; Rom 11:20-27)en om die ongeregtigheid te versoen ( Die nasie Israel sal met God versoen word met Sy wederkoms wanner hulle as volk tot bekering kom en Hulle Hom as hulle Verlosser sal aanneem, deur Sy soendood wat Hy met Sy eerste koms vir hulle aan die kruis bewerkstellig het.)en om ewige geregtigheid aan te bring( Hierdie tydperk begin met die duisendjarige vrederyk van Jesus, waar Hy fisies as Koning oor die aarde regeer. Dit sal dus ‘n tyd van geregtigheid wees. Jes 60:21; Jer 23:5-6) en om gesig en profeet te beseël (Alles wat God deur Sy profete aan die volk Israel beloof het, sal in die vrederyk van Jesus voltooi en afgehandel word. Alle profesieë wat nog nie vir die volk Israel in vervulling gegaan het nie is dus nog ongeseëld)en om wat hoogheilig is, te salf.( “Hoogheilig te salf” is ‘n verwysing na Jesus Christus, wat Hoogheilig is en wat as die Koning van Konings gesalf sal word met Sy tweede koms aarde toe, en wat as die Gesalfde bekendstaan. Op 19:16; Daniël 7:25-27.)
Dan 9:25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, (Jesus Christus) is sewe sewetalle;(7 x 7 jaar = 49 jaar) en twee en sestig sewetalle (62 x 7 jaar = 434 jaar)lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.
9:26 En ná die twee en sestig sewetalle (434jaar. Hierdie tyd is vervul met Jesus se intog in Jerusalem. Mat 21:1-11 ) sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, (Jesus se kruisiging) maar sonder iets vir Hom; (Jesus se kruisiging, omrede die volk Israel Hom verwerp het. Sonder iets vir Hom beteken dat Sy Koninkryk nie toe onmiddellik op die aarde gestig sou word nie, omdat die volk Israel Hom nie as Koning oor hulle wou hê nie.)en die volk van ‘n vors wat sal kom, (Neem kennis!! Die volk van ‘n vors, nie die vors self nie. Dus Romeine wat die stad verwoes het, waarvan die toekomstige vors nog nie koning was nie. Die vors wat sal kom is die Antichris wat as die klein horinkie in Daniël 7:8 beskryf word wat later die hoof van die herstelde Romeinse ryk sal word.) sal die stad en die heiligdom(Jerusalem waarin die tempel geleë was) verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. (Toe die leiers van die volk Israel hulle verwerping van Jesus as hulle Messias bekend gemaak het, deur om Sy wonderwerke aan die krag van Beëlsebul die prins van demone toe te skryf (Mat 12:24) het Jesus hulle gewaarsku dat as hulle in hulle besluit sou voortgaan, dat hulle van ‘n sonde sou skuldig wees wat daar geen vergifnis voor sal wees nie. (Mattheus 12:31-32) Hy het ook gewaarsku dat die stad Jerusalem deur heidene verwoes sou word (Lukas 21:24), dat die stad woes gelaat sou word (Mat 23:38) en dat die verwoesting so volledig sou wees, dat nie een klip van die tempel op ‘n ander sou bly staan nie. (Mat 24:2) Hierdie verwoesting het met die val van Jerusalem in omstreeks 69-70nC vervul en die volk is volkome verslaan toe die bergvesting van Masada in 70nC geval het. Die val en verstrooiing van die volk het hulle nie van enige verdere leiding gespaar nie. Volgens die engel Gabriël sou hulle leiding as volk nie beëindig word, totdat die hele 70 jaarweke (490 jaar) voltooi sou wees nie. Omrede Israel as God se volk vir ‘n bepaalde tydperk tersyde gestel is, beteken dit geensins dat Hy hulle nie verder sou straf nie. Hulle leiding strek dus vanaf die tyd toe hulle Jesus as hulle Messias verwerp het, tot en met die einde van die verdrukking wat met Jesus se tweede koms sal saamval.
Dan 9:27 En hy (Die Antichris die leier van die herstelde Romeinse Ryk, wat uit tien Europese lande sal bestaan)sal een week lank (7 jaar.) met baie (Die Volk Israel as geheel) ‘n sterk verbond sluit ,(Die ondertekening van die verbond sal ‘n teken wees dat die verdrukking, of die laaste 7 jaar van Daniël se profesie, in vervulling gaan. Israel sal die verbond teken, want hulle sal meeste, of al, hulle ondersteuning wat hulle huidiglik geniet verloor. Ons sien dit reeds huidiglik gebeur. Hulle sal dus baie bly wees as so ‘n verbond deur ‘n baie sterk wêreldleier aan hulle aangebied word.) en gedurende die helfte van die week (3.5 jaar) sal hy (Die Antichris)slagoffer en spysoffer laat ophou; (Ou-Testamentiese offers deur Jode wat in ‘n herboude tempel in Jerusalem sal plaasvind)en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, (Die Antichris sal ‘n standbeeld in die tempel plaas en almal onder dwang dwing om hom as God te aanbid. Die wat dit nie doen nie sal gedood word. Dus sal die tempel onheilig word. 2 Thess 2:4; Op 13:8; Mat 24:15) en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” (Die Antichris sal tot sy einde kom met Jesus se wederkoms en wanneer hy in die poel van vuur gewerp word. Op 19:20)

Dus, tot en met Jesus se intog in jerusalem, het 483 jaar alreeds verstrek. Die tempel wat hulle aan Jesus uitgewys het, was toe al vir meer as veertig jaar aan die bou en was nog nie heeltemal voltooi nie. Die dissipels, wat Jode was, en hierdie profesie van Daniël sou geken het, het dus gedink dat hulle die einde van die tydperk nader en dat Jesus binnekort Sy koninkryk sou oprig, met die aanbreek van die 490ste jaar. Hulle het miskien nie presies geweet wanneer die tydperk sou verstrek nie, maar hulle sou ‘n algemene verwagting gekoester het net soos wat ander gelowige Jode wel die Messias verwag het.(Luk 2:25) Dit moet ook net verder onthou word, dat hulle nog nie geweet het dat daar ‘n tydperk tussen die alreeds voltooide 483 jaar en die laaste 7 jaar tydperk sal wees, wanneer Jesus Israel vir ‘n tydlank tersyde sal stel en vanuit die heiden nasies vir Homself ‘n bruid sal bymekaarmaak nie.(Rom 11:11;11:13 ens) Dus het hulle nie verstaan dat daar ‘n kerk dispensasie (die dispensasie van genade)sou wees nie en hulle het nog minder kennis van die wegraping gehad.(I Thess 4:13-18; 1 Thess 1:10; 5:9; 2 Thess 2:1-12; Op 3:10) Dus moes die dissipels gedink het dat hulle nog net omtrent sewe jaar weg van die volledige vervulling van Daniël se profesie oor Israel moes wees. Dit is ook hoekom hulle na Jesus se opstanding, toe hulle weer op die Olyfberg was, aan Jesus gevra het of Hy nou Sy Koninkryk gaan oprig.
Hnd 1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Hou asb hierdie feite ingedagte soos wat ons met hierdie studie aangaan.

Dit moet ook net gedagte gehou word, dat die vier Evangelie skrywers elk ‘n spesifieke gehoor ingedagte gehad het, en waarvoor die Heilige Gees hulle geïnspireer het om voor te skryf, om sodoende daardie spesifieke gehoor aan te spreek. Soos reeds gemeld is die Evangelie van Mattheus hoofsaaklik aan die Jode gerig, om aan hulle te bewys dat Jesus Christus die beloofde Messiaanse Koning is en dat Hy die Leeu van Juda is. Die Evangelie van Markus is hoofsaaklik aan die Romeine gerig en demonstreer dat Jesus Christus die nederige Kneg van God is. Die Evangelie van Lukas is aan die Grieke, wat die heidense nasies insluit, gerig en wat Jesus Christus as die Seun van die Mens voorstel. Die Evangelie van Johannes is aan die ware Kerk gerig wat Jesus Christus as die Seun van God voorstel. As die vier Evangelies net eenvoudige historiese waarhede moes dokumenteer, dan sou een Evangelie genoegsaam gewees het. Dit vier Evangelies is meer as net ‘n historiese rekord, dit is deur God geïnspireer met ‘n spesifieke doel en verskillende gehore ingedagte.

Vir Jesus se antwoord op die eerste vraag sal ons na Lukas moet gaan want Mattheus het die eerste vraag oorgeslaan en met vraag twee begin. Die hele profetiese rede in Lukas vind ons in Lukas 21:5-36. Ek gaan egter net selektiewe gedeeltes uit Lukas aanhaal om te verseker dat hierdie artikel nie te lank sal wees nie, en om te verseker dat sekere feite nie onnodiglik herhaal word nie. Ek raai die leser aan om die genoemde teksgedeelte vir homself te lees vir meer inligting. As dit die Here se wil is, sal ek later ‘n artikel oor die predikasie op die Olyfberg skryf, wat hoofsaaklik vanuit die oogpunt van Lukas sal handel. Hou ook net ingedagte dat ek hoofsaaklik Mattheus se Evangelie gaan gebruik omrede ek by die gelykenisse soos wat hulle in Mattheus beskryf word wil uitkom om hulle te verduidelik, maar voordat ek dit kan doen moet ons eers die nodige agtergrond en konteks kry. Kom ons gaan lees die teksgedeelte in Lukas.

Luk 21:20 “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.
21:21 Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.
21:22 Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.
21:23 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.
21:24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.”
Opmerking: Uit hierdie teksgedeelte sal dit baie duidelik opgemerk word dat, Jesus die dissipels se eerste vraag baie duidelik beantwoord nl. :” Wanneer sal hierdie dinge plaasvind? (Wanneer sal die tempel verwoes word?” As die Jode sou sien dat die stad Jerusalem omsingel word, dan moes hulle vlug. En dit het ook presies so plaasgevind. In 69 vC het Titus Vespasian die opvolger van Keiser Nero geword. Maar voordat hy as keiser aangestel was, het hy sy seun, ook genaamd Titus in sy plek as generaal oor sy weermag aangestel, omrede Titus Vespasian die bevelvoerder oor die legioene van die Midde Ooste was. Dit is hierdie generaal, die seun van Titus Vespasian, wat die stad Jerusalem beleër het. Dit sou gewoonlik te laat vir iemand wees om uit ‘n stad te vlug indien die stad alreeds beleër was. Maar die Here se woord sal bly staan en daar het ‘n wonderwerk plaasgevind. (Ek glo daar vind daagliks wonderwerke in ons lewens plaas, maar ons is so besig met die wêreld en om onsself te bekommer dat ons dit nie raaksien nie.)

Spr 21:1 “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”
Titus Vespasian het sy seun, Titus, laat weet om die beleering te beëindig en om na Rome terug te keer, omdat hy gevoel het dat hy sy leer gaan nodig kry om hom die posisie van keiser te verseker. Sy seun het toe gehoor gegee en die beleering is gestaak. Die gelowiges wat hierdie profesie van Jesus letterlik opgeneem en geglo het, het toe uit die stad ontvlug en het verseker dat hulle die ramp wat die meerderheid van die ongelowige Jode getref het, vryspring. Voordat die Romeinse leer egter die land verlaat het, het Titus Vespasian sy seun laat weet dat hy nie meer in Rome benodig word nie en het hy die stad weer beleër. Volgens tradisie het nie een Christen in die beleering omgekom nie, maar daar het meer as miljoen Jode gesterf en as slawe weggevoer. Die tempel is ook in hierdie slag verwoes net soos wat Jesus gewaarsku het. Dit behoort ook as waarskuwing te dien aan die skrifgeleerdes van vandag, wat beweer dat ons nie Jesus se woorde letterlik moet opneem nie en wat Sy woord vergeestelik om dit te kry om te sê wat hulle wil hê dit moet sê, en nie wat die Here bedoel het toe Hy Sy woord aan ons gegee het nie.

Dit wil ook voorkom asof Jesus in Sy antwoord die gebeure van 70nC en die tyd van die verdrukking van die laaste dae laat saamsmelt met ‘n latere tyd van benoudheid wat ons weet, in die laaste dae, sal voorkom. Daar is ‘n rede hiervoor. Indien ‘n profeet ‘n profesie gegee het, wat eers na die lewensjare van sy hoorders in vervulling sou gaan, dan het die Here baie keer ‘n gedeeltelike vervulling van die profesie laat plaasvind, om te bewys dat die profeet wat die voorspelling maak, wel vir die Here spreek en as bewys sou dien dat alles wat hy gesê het, later in vervulling sou gaan. Die gedeeltelike vervulling van die profesie is dus ‘n validasie dat die profeet namens God praat en dat God se woord verseker in vervulling sou gaan.
Deu 18:21 “En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? —
18:22 as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”
Jesus was ‘n profeet en baie van die hoorders wat gehoor het wat Hy profeteer het nog geleef met die val van die stad Jerusalem en die volk Israel in 70 nC, en hulle sou dus verseker weet dat Jesus wel God se woorde gespreek het en hulle kon dus met sekerheid weet dat Sy woord volkome vervul sou word.

Kom ons gaan verder. Die Evangelie volgens Mattheus gee vir ons Jesus se antwoorde op vraag twee en drie. (Mattheus 24:4-44) Dit moet ook verstaan word dat die gebeure wat Jesus hier beskryf in die tydperk sal plaasvind wat bekend staan as die Sewentigste Jaarweek van Daniël. (Dan 9:27) Dit is ‘n tydperk van sewe jaar wat net voor die wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind. Volgens die profeet Daniël, sal hierdie laaste sewe jaar met die ondertekening van ‘n verbond tussen die nasie Israel en die Antichris, begin (Daniël 9:27) Maar voor hierdie tydperk aanbreek sal die Here Jesus, Sy bruid, die kerk kom haal en hulle neem waar Hy is, nl die Hemel. (1 Thess 4:13-18) Hy sal dit doen voordat Hy Sy oordele op ‘n goddelose wêreld sal uitstort. (1 Thess 1:10; 5:9; 2 Thess 2:1-12; Op 3:10)

Mat 24:4 “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
Mat 24:5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Mat 24:6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
Mat 24:7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
Mat 24:8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.
Mat 24:9 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
Mat 24:10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
Mat 24:11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
Mat 24:12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
Mat 24:13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
Mat 24:14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
Opmerking: Mattheus 24:4-14 moet as ‘n eenheid beskou word, wat die algemene kenmerke van die tydperk wat op Jesus se wederkoms uitloop. Daar moet ook net kennis geneem word, dat hierdie kenmerke met toenemende intensiteit sal toeneem soos wat Jesus se wederkoms nader kom. Dus sal die oordele en rampe al hoe vinniger op mekaar volg en sal die kenmerke ook in intensieteit toeneem. (Mat 24:8) Ons weet dat geboorte pyne intensiewer word soos wat die tydperk tussen die pyne verkort, totdat die baba gebore is, so sal dit ook die geval wees met die gebeure in die verdrukking.

Uit bostaande teksgedeelte kan daar minstens tien algemene kenmerke bespeur word wat soos volg uiteengesit kan word. 1) Valse Christusse. (Mat 24:4-5) 2) Oorloë en gerugte van oorloë. (Mat 24:6-7) 3) Hongersnode. (Mat 24:7) 4) Pessiektes. (Mat 24:7) 5) Aardbewings. (Mat 24:7) 6) Baie Martelare. (Mat 24:8-10) 7) Valse Profete. (Mat 24:11) 8) Toenemende boosheid en die afneem van liefde. (Mat 24:12) 9) Wêreldwye verkondiging van die Evangelie van die Koninkryk (Mat 24:13-14) Tot ‘n sekere mate is baie van hierdie tekens alreeds sigbaar en is dit kenmerkend van die tydperk tussen die eerste en tweede komste van Christus. Daar was nog altyd oorloë maar ons kan duidelik opmerk dat daar ‘n toename in opstande en oorloë is. Dit geld vir siektes en die toeneem van boosheid. Optredes wat nie te lank terug onaanvaarbaar was, is nou nie net aanvaarbaar nie maar ook alledaags. Daar is reeds baie meer Christen martelare in die 20ste en 21ste eeue as wat daar in die 1ste eeu was. Van valse profete hoef ek nie eers van te praat nie. Hoeveel profesieë wat deesdae verkondig word, word ooit bewaarheid? Maar kyk na die gewildste televisie kanale dan word mens oorval met profete en profesieë wat gereeld as vals uitgewys kan word. Die Evangelie van die Koninkryk sal eers met die aanvang van die verdrukking wêreldwyd verkondig word. Van aardbewings hoef ek nie veel te noem nie. Gaan Google net en dan sal daar gou opgemerk word dat die wetenskaplikes erken dat aardbewings oor die algemeen aan die toeneem is. Die wêreldleiers is huidiglik alreeds bekommerd oor die toenemende wêreld populasie en die meegaande hongersnode en nie eers te praat van die hongersnode wat a.g.v. oorloë en burgeroorloë ontstaan nie.

Met die aanvang van die verdrukking sal al hierdie tekens sigbaar wees en toenemend vererger. Dit moet egter besef word, dat die Here dit duidelik gestel het dat hierdie maar net die begin van die smarte is en dat die einde nog nie aangebreek het nie. Die huidige situasie in die wêreld laat mens weereens besef, hoe naby die wegraping en die begin van die verdrukking werklik moet wees. Ons moet daarteen waak om nie hierdie basiese tekens mis te kyk nie. Ons moet nie soos die Fariseërs en Sadduseërs wees wat nie die tekens in hulle tyd raak gesien het nie. As die Here hulle so ernstig betig het, wat gaan Hy aan ons generasie sê, wat Sy hele geopenbaarde wil het en behoort te ken. (Die Bybel)
Mat 16:2 “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi.
16:3 En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?”

Ons sal ook baie wys wees, indien ons Paulus se leëring oor hierdie aangeleentheid ook baie mooi verstaan.
1Ts 5:1 “Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;
5:2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.”
Paulus het alreeds die gebeure, soos wat Jesus dit in Mattheus 24-25 uiteengesit het, aan sy hoorders geleer en daarom het hy nie weer nodig om oor die tye en geleenthede uit te brei nie. Ons moet weet dat ons nooit die presiese dag van Jesus se koms sal kan voorspel nie, maar dat ons die tekens van die tye in ag moet neem, want dit sal as indikasie dien dat ons naby die dag gekom het. Vlug van mense af weg wat voorspellings maak dat Jesus op hierdie spesifieke dag gaan verskyn, hulle lieg en praat nie namens die Here nie, want hulle weerspreek duidelik God se woord.
Mat 25:13 “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.”
Maar let mooi op dat, nie Jesus of Paulus geleer het dat ons nie die algemene tydsbestek van Jesus se koms nie kan weet nie. Jesus het ons egter geleer dat as ons hierdie tekens sien plaasvind, dat ons moet opkyk want ons verlossing is dan naby.
Luk 21:25 “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,
21:26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.
21:27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid.
21:28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”
Let baie mooi na Jesus se woorde in vers 28: “As hierdie dinge begin.” Jesus het ons ook verder gewaarsku.
Luk 21:34 “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.
21:35 Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.
21:36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Let op die woord:“ontvlug*” wat dit baie duidelik stel dat ons as gelowiges nie deur hierdie verskriklike tyd hoef te gaan nie, en dat ons op die Koms van ons Here en Verlosser moet wag. (Op 3:10) Ons moet waaksaam wees!

1Ts 5:3 “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”
Let weer op die woorde “hulle”. Dus praat Paulus nie van “Julle” die lesers van sy brief nie, maar van “hulle” die ongelowiges. Mens hoor nogal deesdae baie die woorde “Vrede en Veiligheid” in die sekulêre media, maar die wêreld word net erger soos wat die politieke leiers van die wêreld vrede probeer bewerkstellig sonder die Vredevors, Jesus Christus. Is dit ook nie dalk ‘n leidraad, dat dit wat Paulus hier voorspel het dalk vinnig in vervulling kan gaan nie? (naamlik ‘n skielike verderf wat die wêreld gaan oorval, naamlik die verdrukking!)
1Ts 5:4 “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.”
Let nou op die woord “julle”. Paulus praat met gelowiges. Ons het God se woord (Die Bybel) waarin Hy Sy wil en die wêreld se toekoms aan ons bekendmaak , en daarom behoort ons nie soos blindes in die duisternis rond te tas nie. Dit verstom my dat mense gehoor aan buite Bybelse profete soos Nostradamus gee, maar hulle ignoreer God se profesieë in die Bybel aan ons. Wat ek net moet noem, ‘n honderd persent vervullings syfer het.

1Ts 5:5 “Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
5:6 Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.
5:7 Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk.
5:8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.
5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”
Onthou net dat ons as gelowiges nie bestem is vir die toorn van God nie. Ons is in Jesus Christus en sal hierdie verskriklike tyd misloop. As ons huidiglik na die tekens van die tye kyk, dan moet dit wat ons waarneem, ons aanspoor om die Evangelie te verkondig en nie te slaap nie.

Mattheus 24:4-14 verduidelik dus die algemene tekens, gebeurtenisse en situasies wat die afloop van die huidige dispensasie aandui (Die tydperk tussen die twee komste van Christus) en die toenemende intensiteit van hierdie tekens en gebeure dui baie duidelik daarop, dat ons die einde van hierdie dispensasie baie vinnig nader. Hierdie tekens met hulle algemene karaktertrekke is nie ‘n direkte antwoord op die vraag oor watter teken die koms van Jesus sal aandui nie. Onthou die dissipels het vir ‘n spesifieke teken gevra.
Mat 24:3b “en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”
Die antwoord op hierdie vraag sal met deel 2 van hierdie reeks artikels bespreek word omrede deel 1 van hierdie artikel alreeds te lank is.

Seën Groete

Vic
Nota ter inligting: Let op die woord:”ontvlug” in Lukas 21:36 wat vanuit die Griekse woord “ekfeugo” vertaal is en wat korrek in die 1953 vertaling as “ontvlug” vertaal word, maar verkeerd in die 1983 vertaling as “behoue deurgekom” vertaal word. Die voorvoegsel “ek” beteken in die Grieks altyd “buite” Volgens die hoogs gesaghebbende Griekse woordeboek naamlik “A Greek Eglish Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich word die woord “ekfeugo” wat in Lukas 21:36 gevind word as “escape tribulations” (ontvlugting uit verdrukking)vertaal. Ander betekenisse wat in die woordeboek aangedui word vir die woord “ekfeugo” is: 1) Na veiligheid ontsnap. 2) ontvlug, soos wat die 1953 vertaling dit korrek het. 3)vermy of ontwyk. In die ander vier plekke in die 1983 Afrikaanse vertaling waar die woord “ekfeugo” vanuit die oorspronklike Griekse grondtekste na Afrikaans vertaal is, het die woord altyd die betekenis dat persone uit ‘n bepaalde plek of probleem situasie uitkom en nie behoue deurgaan nie. (in Hand 16:27 as ontsnap; in Hand 19:16 as gevlug; in Hebr 2:3 as ontkom en in 1 Thess 5:3 as ontkom) Net in Lukas 21:36 het die vertalers heeltemal inkonsekwent en teenstrydig met die vertaling van die woord “ekfeugo” te werk gegaan. Die 1953 Afrikaanse vertaling asook die King James Version het die woord “ekfeugo” korrek vertaal. My New Iterenational Version asook die Amplified Bible het die woord as “escape” vertaal wat die korrekte vertaling van die woord is. Hierdie is maar net een rede waarom ek by die 1953 vertaling bly. Dit is baie meer akkuraat vanuit die oorspronklike grondteks vertaal.

Deel met ander asb.