Die Bybel

Die gevaar wanneer die Bybel nie genoeg is nie

Ons lewe toenemend in ‘n wêreld waar die belydende Christendom nie glo dat die Bybel voldoende is vir die uitleef van hulle geloofslewe na wedergeboorte nie. In gevalle soos hierdie draai hulle na mense wat beweer dat hulle direk van God hoor. Terme soos “God het my gewys” of God het vir my gesê” en “ek het ‘n woord ontvang” dien as bekende voorbeelde van hierdie tipe buite Bybelse openbarings. Ons word daagliks met hierdie stellings gebombardeer, maar wanneer dit wat hierdie mense “ontvang” het nie manifesteer soos wat hulle voorspel het nie, dan word hierdie mense nooit as valse profete uitgewys nie. (iets wat hulle juis in werklikheid is!) En waarom nie? Is die rede vir hierdie versuim nie dalk te vinde in die feit dat ons mense meer vrees as wat ons God vrees nie?

Niemand sal openlik verklaar dat hy ‘n sogenaamde profetiese woord van Satan ontvang het nie. Satan is in baie gevalle juis die bron agter hierdie valse voorspellings. Dit is juis die Bybel wat ons waarsku dat die Duiwel homself as ‘n engel van die lig voordoen.
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
Daarenteen verklaar die Bybel duidelik dat die Bybel voldoende openbaring bevat en dat ons geen buite Bybelse openbarings nodig het nie.
2Tim.16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Wanneer ‘n persoon nie glo dat die Bybel voldoende Goddelike openbaringsinligting bevat nie, dan sal die Satan met graagte in daardie leemte in beweeg en die persoon met valse profetiese openbarings voorsien.

As voorbeeld hiervan kan mens na die gemeente in Thiatíre kyk wat as uitstekende voorbeeld hiervan dien.
Openb.2:18 “En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper: 19 Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste. 20 (die Here praat hier met gelowiges wie alreeds wedergebore is. Fase een van hulle verlossing is dus alreeds afgehandel, en hulle bevind hulleself nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap.) Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. 21 En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. 22 Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. 23 En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke. (God tugtig Sy kinders sonder uitsondering, en hierdie tugtiging vind tydens fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking plaas en op geen ander stadium nie.
Heb.12: 5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.)

Openb.2:24 “En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie (dwaalleer) leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. 25 Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. (Indien die gelowiges in Thiatíre slegs aan die leerstellings wat die apostels verkondig het vasgehou het, sou hulle nie deur die valse profetes Isébel verly kon word nie.) 26 En aan hom wat oorwin (die persoon wat die evangelie glo het alreeds oorwin omrede hy in die evangelie geglo het. 1Joh.5:5. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte deur geloof in die evangelie alleen is dus alreeds afgehandel. Onthou, die ewige lewe is ‘n geskenk wat sonder enige werke deur geloof ontvang word)en my werke (soos wat dit in die Bybel opgeteken staan) tot die einde toe bewaar, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, waartydens ons deur die toepassing van korrekte Bybelse leerstellings genadeloon kan versamel/verdien.) sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking.)28 En Ek sal hom die môrester gee. 29 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” (lees gerus weer die artikel “Die drie fases van verlossing”, asook “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” )

Wanneer ‘n gelowige buite die Bybel gaan om openbarings van God te ontvang, dan stel so ‘n persoon homself vir Satan se misleiding oop. Sover dit Bybelse leerstellings aanbetref, moet ‘n persoon nooit buite die boks dink nie, maar eerder in die boks dink en die boks is niks anders as die Bybel nie! Die leerstellings soos in die Bybel gevind is volkome voldoende om ons in staat te stel om ’n lewe te leef wat God verheerlik. Indien die gemeente van Thiatíre aan hierdie beginsel vasgeklou het, dan sou hulle nooit die slagoffers van die sogenaamde profetes geword het nie. Boonop sou hulle nooit “die dieptes van Satan” leer ken het nie. Dit kan wees dat die “profetes” volkome daarvan oortuig was, dat die profetiese woord wat sy ontvang het van God afkomstig was, en nooit besef het dat dit in werklikheid leerstellings van duiwels is en wat van Satan afkomstig was nie. En omrede sommige in die gemeente in Thiatíre geglo het dat sy ‘n profetes was, het hulle alles geglo wat sy aan hulle verkondig het, omrede hulle korrek verstaan het dat ‘n profetes die woorde van God spreek en direkte openbarings van Hom ontvang. Die gawe van profesie was ‘n tydelike gawe en het tot ‘n einde gekom toe die Bybel volledig op skrif gestel is. Met die voltooiing van die Bybel het die gawe van profesie volkome tot ‘n einde gekom. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” te lees, waar hierdie onderwerp vanuit die Bybel bespreek word. Ongelukkig is daar baie gelowiges wat deur sogenaamde moderne profete mislei word en verkeerdelik dink dat hierdie “profete” direkte openbarings van God ontvang en sodoende word die kerk toenemend die slagoffers van verleiding.

Die moderne “profete” mag dalk aanstoot teen bogenoemde stellings neem, en hulle “openbarings” verdedig. Maar die feit bly staan dat Satan d.m.v. mense, en veral predikers, asook valse profete sy leerstellings verkondig om dit sodoende vir gelowiges aanvaarbaar te maak. Daarom waarsku die Bybel ons dat predikers, en mense wat as leermeesters optree ‘n groter oordeel sal ondergaan, naamlik:
Jak.3:1 “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.”
Die duiwel het, en sal nog solank as wat hy nog op vrye voet verkeer van verlyding gebruik maak om mense te verlei. Gelowiges is geensins van verlyding vrygestel nie en daarom waarsku Petrus ons:
1Pet.5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

Wanneer ons as gelowiges slegs aan die Bybelse leerstellings, soos wat dit in die skrifte opgeteken staan, vashou en reg uitlê, kan ons verseker weet dat dit wat daar staan 100% van God afkomstig is. Daarenteen kan mens nooit 100% seker wees dat dit wat ‘n sogenaamde profeet verkondig van God afkomstig is nie. Hierdie feit alleen behoort ons genoeg rede te gee om eerder aan die skrifte vas te hou, en buite Bybelse profesie te verwerp wetende dat die Bybel dit duidelik gestel het dat die gawe van profesie tot ‘n einde sou kom.

Ter Afsluiting: Wat sal ‘n gelowiges/gemeente verloor indien hulle slegs aan die leerstellings, soos wat dit in die Bybel verkondig is, vashou? Hulle sal niks verloor nie, want die Bybel stel dit duidelik dat die Skrifte volkome is, naamlik:
2Tim.3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Let op die term “volkome”. Indien die Bybel ons volkome kan toerus om ons geloofslewe volkome uit te leef waarom het ons dan buite Bybelse profesie nodig? Daarenteen kan ‘n gelowige wat op buite Bybelse profete vertrou baie verloor deurdat hy verlei kan word, en selfs ander weer kan verlei en dit alles op grond van buite Bybelse openbarings wat nie van God afkomstig is nie.
2Tim.3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif (soos wat dit in die skrifte staan) is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”

Persoonlik vertrou ek slegs die openbarings, soos wat dit in die skrifte opgeteken staan, as van God afkomstig en dit maak nie saak hoe oortuigend enige ander buite Bybelse openbaring mag voorkom nie. Ek kan immers volkome God se plan vir my lewe uitleef indien ek die leerstellings soos wat dit in die Bybel opgeteken staan eerbiedig. Ek is onmiddellik skepties wanneer ‘n persoon by my kom en beweer dat hy ’n “woord/profesie” by God vir my gekry het.” Hoe kan ek immers verseker weet dat die “woord” wat die persoon ontvang het van God afkomstig is, maak nie saak hoe mooi en oortuigend dit ook al mag klink nie. Ongelukkig is daar baie mense wat dink dat hulle nooit die slagoffers van sataniese misleiding kan wees nie en hierdie gesindheid stel hulle juis oop vir sy aanvalle. Dit is dan ook een van die redes waarom die belydende Christendom lyk soos wat dit lyk, omrede mense eerder na die een of ander profeet sit en luister en nooit self die Bybel bestudeer om werklik uit te vind wat die Here te sê het nie.

Kom ons hou eerder aan dit wat in die Skrifte staan vas, en bestudeer dit op ‘n korrekte dispensasionele wyse d.m.v. die konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese interpretasie metode van die Bybel. Mag die Here ons van die bose bewaar en ons gou d.m.v. die wegraping kom haal en huistoe neem!

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.