reddende geloof

Generiese geloof vs Reddende geloof

Daar heers tans groot verwarring rondom die onderwerp van geloof. Baie mense glo dat geloof die een of ander krag is wat hulle kan gebruik om die werklikheid, of omstandighede rondom hulle te verander of te beïnvloed. Dus verklaar hierdie persone direk, of indirek, dat geloof oor inherente krag besit, en indien ‘n persoon genoeg daarvan kan opwerk, hy in staat sal wees om alles te doen insluitende die feit dat hulle berge met die spreek van een woord letterlik kan versit. Derhalwe maak hulle van teksgedeeltes soos Matt. 17:20 as proefteks gebruik om hulle stelling te staaf, naamlik:
Matt.17:20 “En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” (Ons sal later na hierdie teksgedeelte terugkom.)
Maar vir eers is dit belangrik om te bepaal wat die Bybel oor geloof te sê het, en dan sal daar met hierdie studie gepoog word om onderskeid tussen generiese geloof en reddende geloof te verduidelik. Ons almal beskik oor geloof en maak daagliks daarvan gebruik. (Ek praat nie nou noodwendig van reddende geloof nie. Geloof kan in twee kategorieë ingedeel word, naamlik generiese geloof, of geloof in die algemeen, en reddende geloof, wat wedergeboorte en die ewige lewe tot gevolg het.)

Generiese geloof: Generiese geloof kan as sekerheid, of vertroue in ‘n geïmpliseerde waarheid, of stelling wat gemaak is, omskryf word. Hierdie stelling kan in die vorm ‘n eenvoudige proposisie wat gemaak is voorkom, of die sekerheid/vertroue kan in ‘n fisiese voorwerp, soos byvoorbeeld ‘n persoon (wat een of meer proposisionele feite rondom daardie persoon insluit.) geplaas wees. Vervolgens twee voorbeelde wat generiese geloof mooi illustreer. Wanneer ek ‘n berig in die koerant lees, en ek oortuig/verseker van die feit is dat die inhoud van die berig (proposisie) die waarheid is, dan beskik ek op daardie oomblik oor geloof. (in hierdie geval generiese geloof, omrede my geloof/vertroue in die artikel in die koerant geplaas is wat nie noodwendig tot verlossing sal lei nie.) Geloof is dus ‘n sinoniem vir die terme “vertrou” of “glo” en is vanuit die Griekse woorde “pistis” (selfstandige naamwoord) en “pisteuó” (werkwoord) vertaal.

Nog ‘n voorbeeld: Wanneer ‘n politieke leier op die televisie ‘n belofte, dat hy die land se probleme sal oplos, maak en ek op daardie oomblik oortuig/seker/verseker is dat wat hy beweer die waarheid is, het ek geloof in daardie persoon geplaas. Dit is egter gevaarlik om geloof/vertroue in ‘n persoon te hê, alvorens ek nie sekere proposisionele feite rondom daardie persoon begryp nie. Voordat ek die stelling van die politieke leier kan glo/vertrou, is dit belangrik dat ek eerstens weet of die persoon betroubaar is en sy woord sal nakom. (proposisionele feit aangaande die persoon). Ook moet ek oortuig van die feit wees, dat hy oor die vermoëns beskik om sy stelling tot uitvoer te bring. (nog ‘n verdere proposisionele feit aangaande die persoon.) Die proposisionele feite aangaande die politieke leier se karakter, asook sy vermoëns is dus van uiterste belang, alvorens ek my vertroue/geloof in hom kan plaas. Die oomblik wanneer ek egter my vertroue in die persoon se stelling geplaas het, op daardie oomblik het ek geloof uitgeoefen. Dit sou dus sinneloos wees om geloof/vertroue in die persoon met die proposisionele feite, wat deel van daardie persoon uitmaak, te skei. Derhalwe is alle geloof proporsioneel, omrede geloof in ‘n persoon ooreenstemmende proposisionele feite rondom daardie persoon insluit. Dit is ook dan vanselfsprekend dat ‘n proposisionele stelling nie noodwendig van ‘n persoon afhanklik is, alvorens ek daardie stelling kan glo nie. Ek kan byvoorbeeld glo dat ‘n wiel rond is. Hierdie geloof/vertroue in die feit dat die wiel rond is, vereis nie dat ‘n persoon noodwendig betrokke moet wees nie. Dus kan geloof/vertroue in ‘n persoon (wat sekere proposisionele feite rondom die persoon insluit) geplaas word, of ek kan my geloof/vertroue slegs in ‘n stelling plaas waarvan ‘n persoon nie noodwendig deel van uitmaak nie. Ons almal oefen dus honderde kere ‘n dag geloof uit. Niemand kan dus beweer dat hulle nie oor geloof beskik nie. (soos reeds genoem, is dit egter nie te sê, dat die geloof wat hulle uitoefen het, noodwendig reddende geloof is nie, maar dit bly egter geloof.) Die terme “Om te glo”; “geloof” en “vertroue” is dus verskillende terme wat gebruik kan word om dieselfde feit te omskryf, naamlik om dieselfde versekering of vertroue in ‘n geïmpliseerde waarheid, of stelling, te hê.

Dit moet egter mooi begryp word, dat nie alle gevalle waar ons geloof uitoefen, noodwendig tot verlossing/wedergeboorte sal lei nie. Ons merk dus in die Bybel dat sekere mense verskillende stellings geglo het, maar die glo van hierdie stellings het nie noodwendig tot die ewige lewe gelei nie. 1Kor 11:18 is een so ‘n voorbeeld van baie, naamlik:
1Kor.11:18 “Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.”
In bogenoemde instansie het Paulus se geloof in die feit dat daar skeuringe in die gemeente is, niks met die onderwerp van wedergeboorte, of die ewige lewe, te make nie en die feit dat hy hierdie stelling geglo het, het geensins tot sy verlossing bygedra nie. Hy was egter verseker dat die stelling waar was (geloof) maar die voorwerp van sy geloof het absoluut niks met die onderwerp van wedergeboorte/verlossing te make nie. Nie alle geloof het dus as voorwerp dit wat op die ewige lewe uitloop nie. In die meeste gevalle is ons geloof generies van aard, en het derhalwe niks met soteriologie (die leerstelling oor verlossing) te doen nie, omrede dit nie reddende geloof is nie. So wat is reddende geloof dan?

Reddende Geloof: Reddende geloof vind plaas wanneer geloof in die regte voorwerp, naamlik die Evangelie, geplaas word. Dit moet egter baie duidelik gestel word, dat al die krag/vermoeë om ons verlossing te bewerkstellig uitsluitlik in die voorwerp waarin ons, ons geloof plaas gesetel is. Ons geloof beskik geensins oor enige vorm van krag/vermoeë nie. Geloof is nie ‘n krag wat ons, of self God in ons voortbring, om verlossinge te bewerkstellig nie. Slegs Christus (wat aan die kruis vir ons sondes gesterwe het en op die derde dag uit die dood opgestaan het) kan ons van die ewige verderf red. Die meriete of krag van ons geloof is dus nie in ons geloof self gesetel nie, maar is uitsluitlik in die Here Jesus Christus te vinde, wat as God in die vlees, vir ons sondes aan die kruis gesterwe het, en wat uit die dood uit opgestaan het, en as God, oor die mag beskik om aan ons die ewige lewe, as genadegawe, te skenk. Daarom is dit ‘n ernstige mistasting om geloof in ons eie geloof te plaas, asof daar enigsins krag in ons geloof is, wat oor die vermoeë beskik om ons verlossing te bewerkstellig. Al wat ons moet doen is om die Evangelie te glo en dit is die Here Jesus Christus wat dan ons verlossing bewerkstellig.
Rom. 1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” (let mooi op die feit, dat dit die krag van God is wat ons red en nie ons geloof self nie!)

‘n Persoon het slegs reddende geloof uitgeoefen, indien daardie persoon op ‘n spesifieke punt in tyd geglo het, dat die Here Jesus Christus vir al sy sondes aan die kruis, deur Sy dood, versoening gedoen het, en weer uit die dood uit opgestaan het, en deur alleenlik in die Here Jesus Christus te glo sal die sondaar die gawe van die ewige lewe deelagtig word. Verlossing van die ewige verderf is ‘n uiters persoonlike gebeurtenis, en daarom is dit nie genoeg dat ‘n persoon glo dat die Here vir ander se sonde gesterwe het nie. Die persoon moet glo dat die Here Jesus Christus vir hom persoonlik gesterwe het en niks minder as dit sal doen nie! Ons moet besef dat slegs die glo van die Evangelie die ewige lewe tot gevolg sal hê. ‘n Persoon mag dalk glo dat die Here Jesus Christus, God is, en Hy is, maar hierdie feit sal hom nie red nie. Die persoon mag dalk glo dat die Here Jesus Christus ‘n profeet is, of ‘n sondelose lewe op aarde gelewe het ensovoorts, maar hierdie feite alleen sal nie tot wedergeboorte lei nie. Die persoon moet glo dat die Here Jesus Christus, as die Seun van God, vir al sy persoonlike sondes aan die kruis gesterwe het, en weer uit die dood uit opgewek is, en die enigste Een wie aan die gelowige die gawe van die ewige lewe sal/kan skenk.

Nie Reddende Geloof: Nie reddende geloof vind plaas wanneer ‘n persoon se geloof in die verkeerde voorwerp of proposisie/stelling geplaas word. (so ‘n persoon mis dus die merk.) In my beskeie opinie is daar ongelukkig baie mense in die belydende Christendom, wat verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle reddende geloof uitgeoefen het, maar wat ongelukkig heeltemal mislei is, omrede hulle geloof in die verkeerde voorwerp geplaas is. (en dus mis hulle die merk!) Dit sluit mense in wat menslike werke, soos byvoorbeeld ophou sonde pleeg, sabbatdag onderhouding, die verbod op die eet van sekere kossoorte, tiendes gee, doop, Christus in die openbaar bely of enige ander menslike werk, of vereiste, by slegs geloof alleenlik op die een of ander wyse deel van die Evangelie van God se genade maak. Hierdie stelling geld ook vir ‘n persoon wat menslike werke, as vereiste maatstaf vir die bewys van wedergeboorte, behalwe geloof in die Evangelie alleenlik, aan mense voorhou. So ‘n persoon voeg dus menslike werke by die Evangelie van God se genade en verkondig dus ‘n ander evangelie (Waarvan menslike werke ‘n integrale deel van uitmaak en wat van menslike werke afhanklik is) en wat niemand sal red nie. (Hulle mis dus die merk, naamlik die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis alleenlik, en alhoewel hulle oor geloof beskik, is hulle geloof in die verkeerde voorwerp, naamlik ‘n werke evangelie/valse evangelie geplaas en kan dus nie as reddende geloof bestempel word nie.) Dit is nie ‘n geval dat hulle glad nie oor geloof beskik nie. Hulle beskik oor geloof, maar hulle geloof is in die verkeerde voorwerp geplaas en sal dus nie tot hulle verlossing lei nie.

Verlossing van die ewige verderf is iets wat God vir die mens, op grond van Sy genade (en liefde) doen en die mens kan niks tot hierdie verlossingsplan bydrae nie. Die erkende sondaar kan slegs die gawe van die ewige lewe kosteloos, deur geloof, by God in ontvangs neem, deur eenvoudig die Evangelie te glo.
Rom. 11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
Ef. 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”

Om enigsins menslike werk by die Evangelie te voeg, of om werke met die Evangelie te vermeng, verander die Evangelie van God se genade na ‘n mensgemaakte evangelie wat katastrofiese gevolge tot gevolg sal hê.
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”
Onthou, mense se siele is op die spel en daarom is dit van uiterste belang dat ons die ware Evangelie suiwer verkondig!

Bogenoemde stelling oor generiese geloof (nie reddende geloof) geld in my opinie ook vir mense wat glo dat ‘n gelowige a.g.v. sonde, of selfs latere ongeloof, uit genade kan verval en die gawe van die ewige lewe kan verbeur. Die rede vir hierdie stelling is eenvoudig. Indien ‘n persoon glo dat die Here Jesus Christus vir al sy sondes aan die kruis gesterf, en sodoende volkome vir sy sondes versoening gedoen het, en op dieselfde tyd glo dat ‘n mens a.g.v. sonde of geestelike agteruitgang later uit genade kan uitval, en verlore kan gaan, demonstreer so ‘n persoon in my opinie, dat hy nie werklik geglo het dat die Here volkome vir sy sondes aan die kruis versoening gedoen het nie. Onthou, mens kan nie terselfdertyd tyd twee teenstrydige proposisies glo nie. Of jy glo die een of jy glo die ander een. Of jy glo die Here Jesus Christus het vir al jou sondes aan die kruis versoening gedoen, en omrede Hy vir al jou sondes versoening gedoen het, is daar geen sonde wat sou kan veroorsaak dat jy na aanvanklike wedergeboorte verlore sal kan gaan nie. Of jy moet aan die anderkant glo, dat die Here Jesus Christus nie vir al jou sondes versoening gedoen het nie, en derhalwe is daar ‘n sonde, wat indien jy dit na wedergeboorte sou pleeg, daartoe sou lei dat jy die gawe van die ewige lewe verbeur en verlore sal gaan. In so ‘n geval kan ‘n persoon dus nie met oortuiging (geloofsoortuiging) verklaar dat die Here vir al sy sondes aan die kruis gesterwe het nie en dus het jy nie werklik die Evangelie geglo nie. In so ‘n geval het die persoon wel geloof uitgeoefen, maar dit was nie reddende geloof nie, omrede die persoon ‘n ander evangelie as voorwerp van sy geloof vertrou. (‘n Evangelie waarin menslike werke ‘n bepalende faktor is en dus ‘n werke evangelie.) Of die Here Jesus Christus het vir al jou sondes aan die kruis gesterwe of Hy het nie. Of Hy het vir al jou sondes by God versoening gedoen, of jy sal dit moet doen, wat sou beteken dat jy vir ewig in die poel van vuur sal beland. Daar is absoluut geen middeweg nie! Genade kan nie genade wees en op dieselfde tyd menslike werke insluit nie!

Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ‘n persoon ten tye van geloof in die Evangelie (‘n gebeurtenis wat op ‘n gegewe punt in tyd plaasvind.) absoluut seker/oortuig daarvan moet wees dat die Here Jesus Christus volkome vir al sy sondes aan die kruis versoening gedoen het, en dat hy nou die ewige lewe as huidige gawe besit, en omrede dit die gawe van die ewige lewe is, hy nooit verlore sal kan gaan en in die poel van vuur kan beland nie. Hierdie leerstelling kan as die leerstelling van die sekerheid van verlossing omskryf word en moet nie met die leerstelling van die ewige sekuriteit van die gelowige verwar word nie. Hierdie twee leerstellings staan in noue verband met mekaar, maar is nie presies dieselfde leerstellings nie. Indien ‘n persoon ten tye van die glo van die Evangelie nie oortuig/verseker is dat hy die ewige lewe ontvang het nie, en dat die Here Jesus Christus vir al sy sondes aan die kruis versoening gedoen het nie, dan kan met regte gestel word dat daardie persoon nie reddende geloof uitgeoefen het nie.

Let wel: Dit mag dalk gebeur, dat ‘n persoon die ware Evangelie (op ‘n gegewe punt in tyd) verstaan, en glo, en dan a.g.v. sy reddende geloof die gawe van die ewige lewe ontvang, maar later a.g.v. ‘n wye reeks redes, soos byvoorbeeld blootstelling aan valse leerstellings (of die pleeg van ‘n sonde) begin twyfel of hy werklik wedergebore is, of dalk twyfel hy of hy werklik in die eerste plek geglo het en in so ‘n geval dus sekerheid oor sy verlossing verloor. (wat in effek ongeloof is) In gevalle soos hierdie, sal die twyfelende gelowige nie verlore gaan nie, en is hy nog steeds deel van God se familie, omrede die Here Jesus Christus ook vir hierdie spesifieke sonde aan die kruis versoening gedoen het, en derhalwe sal die gelowige nie a.g.v. daardie spesifieke sonde van ongeloof verlore gaan nie, maar die Vader/kind verhouding sal negatief geraak wees, en die gelowige sal sy daad van ongeloof moet bely, alvorens sy gemeenskap met sy Hemelse Vader herstel sal wees. In gevalle waar die gelowige a.g.v. ongeloof in sonde verval, kan dit gebeur dat hy onder die tugtiging van sy Hemelse Vader kan kom wat heel onaangename afmetings kan aanneem. (selfs siekte en fisiese dood! Lees asb die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” vir meer besonderhede rondom hierdie aangeleentheid.) Die hele brief, wat aan die gemeente van die Hebreërs gerig is, handel spesifiek oor hierdie onderwerp, en in daardie geval wou Joodse Christene onder dwang van vervolging, terugkeer na die Joodse geloof en die Joodse geloof (wat die diere offers, sabbatdag onderhouding ensovoorts insluit weer wou beoefen. (Waarteen die skrywer hulle baie sterk gewaarsku het, omrede hulle in gevaar gestaan het om onder God se tugtiging deur te loop wat ernstige gevolge sou meebring! Hulle sou egter nooit verlore kon gaan nie. Lees asb die artikel “Die Ewige sekuriteit van die gelowige.”)

Al die waarskuwings gedeeltes wat ons in die boek van Hebreërs vind, is aan gelowiges gerig, en wat geensins beteken dat hulle die ewige lewe kan verloor soos wat baie mense verkeerdelik beweer nie. Hierdie gelowiges het egter op die punt gestaan om deur God vir hulle ongeloof getugtig te word. In lig van hierdie feite is die ernstige waarskuwings aan hulle gerig, naamlik:
Heb.12:28 “Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte afgehandel, en hulle as gevolg van hierdie feit ‘n onwankelbare koninkryk deelagtig geword wat hulle nie kan verbeur nie.) laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat voortgesette geloof vereis) 29 Want onse God is ‘n verterende vuur.” (die gevolge van ongehoorsaamheid en ongeloof. Die gelowige gaan egter nie verlore nie, maar kom onder die tugtiging van sy Hemelse Vader wat in sommige gevalle ernstige afmetings mag aanneem. Die gelowige self sal egter nooit verlore kan gaan nie! Lees asb die artikel “Drie Fases van verlossing.”) Onthou altyd dat die hele brief aan die Hebreërs aan gelowiges gerig is wat hulleself in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking bevind.
1Kor. 3:15 “as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (Daar kan nie weersprekings in die Bybel wees nie! Dit is God se woord. Indien dit wil voorkom of daar weersprekings in die Bybel is, lê die fout by ons uitleg van die Bybel en nie in die Bybel self nie. Die Bybel stel dit duidelik dat al ‘n gelowige se werke by die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand kan word, maar hyself sal nooit verlore gaan nie.)
Ons moet daarteen waak die term “vuur” altyd met die ewige poel van vuur te wil vereenselwig. Om so iets te doen sal ‘n ernstige mistasting wees, en sal beteken dat ons nie toelaat dat die gegewe konteks die betekenis van ‘n gegewe woord bepaal nie. Om so iets te doen, maak ons onsself skuldig in die feit dat ons ‘n enkele tegniese term aan die woord “vuur”, naamlik die hel, wil toeken, en dit dan op alle teksgedeeltes waarin die term “vuur” in voorkom wil inlees, wat tot weerspreking in die Bybel lei en wat weer verder dwaalleerstelling tot gevolg het. Onthou die ewige lewe is ‘n kostelose genadegawe van God aan die mens en die Bybel stel dit duidelik dat die Here nooit Sy genadegawes onttrek nie, naamlik:
Rom.11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”

Mattheus 17:20: Maar wat beteken Mat.17:20 dan werklik? Ek gaan die teksgedeelte weer ‘n keer hier aanhaal en dan kortliks bespreek, naamlik:
Matt.17:20 “En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
Vanuit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik dat mens nie groot geloof nodig het om ‘n berg te versit nie. (geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie sal genoegsaam wees.) Mens moet egter die regte geloof besit, en daardie geloof is nie die een of ander inherente krag wat in ons geloof gesetel is nie, maar ware geloof beskik oor geen krag/vermoeë opsigself nie, maar al die krag is in die objek waarin daardie geloof geplaas is te vinde, naamlik God wat almagtig is. (Bybelse geloof het God as voorwerp en mense wat geloof in hulle geloof plaas is met niks anders as afgodediens besig nie!) Vir God is alles moontlik, en derhalwe hoef mens nie oor ‘n reusagtige mate van geloof te beskik, alvorens die berg sal verskuif nie, want dit is nie ons geloof wat die berg verskuif nie, maar die voorwerp waarin ons ons geloof plaas, naamlik God wat almagtig is. Mens moet ook egter die feit in ag neem, dat ‘n persoon wat ‘n versoek aan God rig daardie versoek, net soos wat Christus altyd gedoen het, binne die raamwerk van God se wil aan God moet rig. Dit is ook vanselfsprekend dat ‘n persoon God se stelling/proposisie glo alvorens Hy sal reageer. (mits dit Sy wil is.) Indie geval van Matt.17:20 moet ‘n persoon verseker weet dat dit God se wil is om die berg te verskuif, alvorens hy die berg beveel om te versit, anders sal die berg nooit verskuif nie, maak nie saak hoe groot die persoon se geloof mag wees nie. Dus kan ‘n persoon slegs so opdrag gee indien God dit in Sy woord beveel het.

Om hierdie rede is dit van uiterste belang, dat die gelowige God se wil ken, en dat hy sy versoeke aan God sal rig, met God se wil, heerlikheid en glorie as motief, en nooit om self te verheerlik of om sy eie wil op God te wil afdwing nie. Dit geld ook vir gevalle waar ons om genesing bid. Baie mense verkondig dat dit altyd God se wil is om te genees, maar die Bybel stel net mooi die teenoorgestelde feit. Hierdie stelling sal as ‘n groot skok vir sommige gelowiges kom, veral vir gelowiges wat ongelukkig die slagoffers van hierdie dwaalleerstelling is. Die feit bly egter staan, dat dit nie altyd God se wil is om te genees nie, en soos in enige versoeke wat ons aan God rig, moet ons geloof in Hom, en Sy alwetendheid, en wil in die gegewe situasie geplaas wees en moet ons nie poog om ons eie beperkte perspektief en wil op God af te wil dwing nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Genees en genesing tydens die Post Apostoliese tydperk” asook “Genesing ‘n Skriftuurlike perspektief” te lees.) Om werklik geloof in God te demonstreer, beteken dat ons Sy besluit in ‘n gegewe situasie, meer as ons eie begeertes sal vertrou, met die wete dat Hy alles weet en ons kennis maar baie beperk is. Ook moet ons besef, dat God niks sonder rede toelaat nie, en derhalwe moet ons in geloof in God se besluit rus met die wete dat Hy net die beste vir ons wil hê. Al beteken dit dat Hy nie altyd ons gebede beantwoord soos ons graag wil hê Hy moet doen nie. Dit is die tipe geloof wat God behaag!

Daar is ongelukkig ‘n dwaalleerstelling wat beweer dat ons geloof self die krag beskik om berge te versit en dan deur die spreek van woorde ons daardie krag vrystel. (Woord Geloof Beweging)
(Lees asb die artikel “Krag in ons woorde” vir meer inligting rondom hierdie dwaalleerstelling.) Mens sien en hoor nogal gereeld van mense wat verklaar dat daardie gegewe dorp, of persone waaroor hulle die verklarings uitspreek, aan die Here behoort en dat die dorp of stad vir die Here gewen gaan word of dat ‘n persoon genees gaan word. (declare en decree) Hierdie vorm van optrede demonstreer nie Bybelse geloof nie, maar eerder hulle eiewaan, arrogansie en die feit dat hulle heeltemal dwaal. Die Bybels stel dit baie duidelik dat ons, ons versoeke in geloof deur gebed aan God moet rig en volgens Sy wil moet bid. (Om dit te kan doen, moet ons egter eerstens Sy wil ken, wat beteken dat ons, ons Bybels ken en nie teksgedeeltes buite konteks aanhaal en dit dan op die Here in gebed wil afdwing nie. Hierdie sogenaamde “declare” en “decree” demonstreer nie ons kinderlike afhanklikheid van God nie, maar eerder die dwaalleerstelling dat ons onafhanklik van God kan optree, deur om positiewe woorde uit te spreek. Slegs God kan met Sy woorde skep. Dit is uiters arrogant om te beweer dat ons met ons woorde soos God kan skep. Indien dit die geval is, het ons nie ‘n God nodig nie en is ons in onsself voldoende wat niks anders as selfverheerliking is nie.)
Joh. 15:7 “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
I Joh. 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.”
(slegs vra en niks van “declare” en “decree” nie!)
Slegs wanneer ons gebede binne die raamwerk van God se wil aan Hom gerig is, kan ons ‘n positiewe antwoord verwag. Ons beskik nie oor die mag om verklarings te maak en dan te dink God onder die verpligting staan om dit uit te voer nie. Weereens is dit niks anders as arrogansie en dwaalleerstelling nie.

Ter Afsluiting: Met die skryf van hierdie artikel is daar gepoog om te demonstreer dat almal van ons oor geloof beskik, selfs die ateïs. Die ateïs mag dalk beweer dat hy nie in God glo nie, maar al wat hierdie stelling bewys is dat hy nie oor reddende geloof beskik nie, maar hy beskik wel oor geloof (generiese geloof) omrede hy in sy proposisie, dat daar nie ‘n God is nie, glo. Dit is geloof! Hierdie geloof van die ateïs sal egter nie tot die ewige lewe lei nie en derhalwe kan dit nie as reddende geloof omskryf word nie. Hy beskik dus oor geloof, maar die voorwerp van sy geloof kan nie aan hom verlossing verskaf nie en is dus nie reddende geloof nie. (Hierdie stelling geld vir alle gelowe, selfs vir ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom wat hulle werke deel van die Evangelie maak.) Reddende geloof vind alleenlik plaas wanneer geloof die korrekte voorwerp ontmoet, naamlik die Evangelie.

Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige) sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete

Vic

Een kommentaar op “Generiese geloof vs Reddende geloof”

Kommentaar is gesluit.