die doop deel drie

Bykomende vrae aangaande die doop. Deel 3

In deel drie van die reeks artikels genaamd “Bykomende vrae aangaande die doop” gaan ons Rom.6:3-5 asook 1Pet.3:17-22 onder die vergrootglas neem en bespreek. Ook in hierdie artikel gaan van die “jou stelling” “my antwoord” formaat gebruik gemaak word om bogenoemde teksgedeelte te bespreek. Die leser word ten sterkste aangeraai om die voorafgaande drie artikels in hierdie reeks studies genaamd: “Die doop vorm nie deel van die Evangelie nie” asook “Bykomende vrae aangaande die doop. Deel 1” en laastens “Bykomende vrae aangaande die doop. Deel 2” ook te lees.

Jou stelling: Rom 6:3-5 sê dieselfde Paulus wat nie doop nie, dat ons deur die doop saam met Jesus begrawe is, (die ou mens) en dat ons met dieselfde magsdaad/krag wat God geopenbaar het om Jesus op te wek, ons ook dan op wek as nuwe mens! Hoe ervaar ek dan hierdie opwekking of wedergeboorte sonder die doop?

My Antwoord: Die fout wat jy begaan is om dit vanselfsprekend te aanvaar dat Paulus hier van die waterdoop praat, en nie van die doop van die Heilige Gees, die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, en met die Heilige Gees gedoop en verseël word nie. Net vir duidelikheid onthalwe gaan ek Rom.6:3-5 hier aanhaal en dan bespreek, naamlik:
Rom.6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.”
Opmerking: Soos alreeds in die studie “Bykomende vrae aangaande die doop. Deel 1” gemeld is, is dit van uiterste belang om die term “doop” te omskryf. Ek gaan weer die omskrywing van die term “doop” hier weergee. Die term “doop” het as basiese betekenis: a. Om ‘n voorwerp, of persoon, in iets of iemand te plaas. b. Om met iets, of iemand, te identifiseer. c. Om ‘n voorwerp, of persoon, in iets soos byvoorbeeld water te dompel. Ons moet egter onthou dat ons die konteks waarin die term “doop” in voorkom moet toelaat om die betekenis van die term “doop” te bepaal. Die rede hiervoor is eenvoudig. Alhoewel die term “doop” soms binne die konteks van water weergegee word, is dit nie altyd die geval nie. In baie gevalle het die term “doop’ absoluut niks met water te make nie, soos byvoordeel wanneer die Heilige Gees ons in Christus indoop. (wat ons met Christus se dood en opstanding vir ons sondes identifiseer.) Onthou, Jesus Christus se stelling toe Hy na Sy lyding en dood as ‘n doop verwys waar daar ook glad nie water betrokke was nie.
Mark.10:37 “En hulle antwoord Hom: Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter— en een aan u linkerhand. 38 Maar Jesus sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? 39 En hulle antwoord Hom: Ons kan. Maar Jesus sê vir hulle: Dis waar, die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word;”
So ook was Israel met Moses geïdentifiseer/gedoop toe hulle uit Egipte gevlug het, waar daar geen sprake van waterdoop was nie. (1Kor.10:2) Derhalwe is dit van uiterste belang dat ons die konteks toelaat om te bepaal wat die skrywer met die term “doop” bedoel. Bestudeer asb die illustrasie ” Sewe vorme van die Doop in die Skrifte”

Die vraag wat ons moet beantwoord is: “Na watter doop verwys Paulus in Rom.6:3 dan?” Die korrekte antwoord sal ons in die Bybel vind. Tydens die Kerk Dispensasie ontvang die gelowige die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie (waarvan die waterdoop nie deel van uitmaak nie) hoor, verstaan en glo.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, (nog nie gedoop is nie)verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
En op dieselfde tyd doop die Heilige Gees ons weer in Christus (wat Sy dood en opstanding vanuit die dood insluit)
1Kor.12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Weereens is daar geen sprake wat die waterdoop nie. Al hierdie dinge gebeur die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie van Christus glo, en is nie iets wat die gelowige self kan bewerkstellig nie. Dit is alles die werk en gawe van God, wat slegs op grond van Sy genade deur geloof alleenlik ontvang word!
Rom. 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. (onthou die waterdoop is ‘n menslike werk!”)
Rom. 11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
Rom. 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;”
Onthou, as God se woord, kan daar geen weersprekings in die Bybel wees nie. Indien dit wil voorkom dat daar wel ‘n weerspreking in die Bybel is, kan met sekerheid gestel word dat die probleem by ons uitleg van die Bybel lê en nie in die Bybel self is nie.

Derhalwe is dit baie duidelik, dat Paulus in Rom.6:3 na die doop van die Heilige Gees praat (die oomblik toe ons die Evangelie geglo het, en waar God ons toe met Christus se Persoon, en voltooide werk aan die kruis, geïdentifiseer/gedoop het, en ons dan op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis, regverdig verklaar het.) Die doop met die Heilige Gees is slegs ‘n eenmalige gebeurtenis, wat die oomblik van geloof in die Evangelie plaasvind. (en word nie weer na afloop van wedergeboorte herhaal nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees en vervulling met die Heilige Gees” asook “Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop?” te lees.) Die doop met die Heilige Gees is ‘n daad wat slegs God kan verrig, en die mens het geen bydra, behalwe geloof in die Evangelie, om te lewer nie! Rom. 6:3 handel dus oor die doop, waar die Heilige Gees ons in Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis doop/identifiseer en nie oor die waterdoop nie. En om hierdie rede verwys die Skrifte na gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe as “in Christus”, omrede ons deur die Heilige Gees in Christus gedoop/geplaas is.
Rom. 6:11 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
Rom. 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

En derhalwe kan Rom.6:3 soos volg opgesom word:
Rom.6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte. ‘n Doop wat die Heilige Gees verrig.)4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop (wat die Heilige Gees verrig) in die dood, (die dood wat Christus aan die Kruis gesterwe het.) sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking waar die Heilige Gees in ons kom inwoon en aan ons die krag gee om oor sonde in ons lewens te heers.)5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, (fase een, wedergeboorte)sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking/eerste opstanding vanuit die dode.) 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, (fase een, wedergeboorte)sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. (fase twee, heiligmaking)7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.” (fase een, wedergeboorte wat as waarborg dien dat God fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking/opstanding vanuit die dode, met verheerlikte liggame, sal voltooi.) Die waterdoop is nêrens in bogenoemde teksgedeelte ter sprake nie. Onthou, jy ontvang die Heilige Gees die oomblik wanneer jy in Christus glo, nog voordat jy gedoop kan word. En omrede jy die Heilige Gees ontvang het, is jy nou in staat om werklik, in die krag van die Heilige Gees, heilig te lewe en hoef jy nie meer as hopelose slaaf van jou ou sonde natuur die sonde te dien nie. (Lees asb die artikels “Drie fases van verlossing” asook “Heiligmaking op grond van God se genade deur geloof”)

Jou stelling: 1 Petrus 3 verduidelik Petrus dit baie duidelik dat die doop ‘n bede tot God is vir ‘n skoon gewete (verlossing van sonde) en DIT red julle op grond van die opstanding van Jesus. Soos ek dit dus weer hier aflei, jou wedergeboorte word weereens vergelyk met die opstanding uit die water na die dood van die ou mens in die water. Ek weet geloof is die enigste redding, maar hoekom het Jesus en die apostels dan soveel klem daarop gelê. Dan kan ons ook daarop let dat dit nie klein doop is nie, jy word begrawe.

My antwoord: Dit is ‘n ernstige fout om vanselfsprekend te aanvaar dat Petrus van die waterdoop 1Petrus 3 praat. Soos alreeds genoem is, vind ons in die Bybel dat daar meer as net een doop is. Ons moet dus die konteks gebruik om te bepaal watter doop die skrywer na verwys, en ons antwoord dan met die hele Skrif vergelyk, om seker te maak dat daar geen botsings met ander teksgedeeltes in die Skrifte is nie. Slegs dan kan ons verseker weet dat ons interpretasie van die teksgedeelte op die soliede grondslag van die woord staan.

Ook hier gaan ek die genoemde teksgedeelte aanhaal, naamlik:
1Pet.3:20 “wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; 21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete — deur die opstanding van Jesus Christus 22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.”
Opmerking: Soos alreeds in hierdie reeks artikels gedemonstreer is, word geen mens deur die waterdoop gered/wedergebore nie. Daar is egter ‘n doop wat die mens red, en dit in die doop met die Heilige Gees. Die oomblik wanneer ‘n persoon in die Here Jesus Christus glo, word daardie persoon deur die Heilige Gees in Christus geplaas/gedoop.
Gal.3:25 “Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. 26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.”
Om in die Here Jesus Christus gedoop/geplaas te word is nie iets wat die mens kan bewerkstellig/verrig nie, maar dit is uitsluitlik ‘n werk wat God kan verrig. Al wat van die mens verwag word is om die Evangelie te glo. Die gevolg van hierdie doop/plasing van die Heilige Gees is die feit dat die gelowige nou in ‘n nuwe posisie geplaas is, naamlik in die Here Jesus Christus. Omrede die Heilige Gees die gelowige nou in Christus gedoop/geplaas het is die gelowige nou in Christus en sal nooit verlore kan gaan nie. (Die term “in Christus” is eiesoortig aan die Kerk dispensasie, en word herhaaldelik in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig, is gevind.) Boonop is die gelowige ook vir al sy sondes vergewe. (Posisionele vergifnis)
2Kor.5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,”
En hoe word ons in die Here Jesus Christus geplaas/gedoop? Deur God in Sy genade die oomblik toe ons geloof in die Here Jesus Christus (wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis vir ons insluit) geplaas het.

In die dae van Noag was slegs agt mense van die vloed gered. Die res van die mensdom het in die vloed omgekom. Noag en die mense saam met hom was gered/verlos omrede hulle in ‘n plek was waar hulle absoluut veilig was, naamlik die ark. Onthou, almal wat buite die ark was het in die vloedwaters vergaan. Net so is die Here Jesus Christus ons ark van veiligheid/verlossing vandag. Daar is nie ‘n veiliger plek as om “in Christus” te wees nie.
Rom.8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
Diegene wat hulleself buite die Here Jesus Christus bevind verkeer in doodsgevaar! En hoe het ons in ons ark van veiligheid/verlossing gekom? Ons was deur God in Christus gedoop/geplaas die oomblik toe ons die Evangelie (wat nie die waterdoop insluit nie) geglo en gered/wedergebore is. (fase een van ons verlossing) En in die Here Jesus Christus gevind, is ons vir ewig en altyd veilig en kan nooit verlore gaan nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Ewige sekuriteit van die gelowige” te lees.) Die waterdoop is slegs bedoel om as illustrasie van die ware doop, die doop met die Heilige Gees, te dien. ‘n Gebeurtenis wat plaasgevind het die oomblik toe ons die Evangelie geglo het. Die waterdoop is dus slegs ‘n waarneembare uiterlike illustrasie (of teëbeeld) van ons nuwe posisie en verhouding wat ons nou in Christus ontvang het d.m.v die werklike doop met die Heilige Gees. (ons is dus volkome met die Persoon en voltooide werk aan die kruis en opstanding vanuit die dood van Christus geïdentifiseer.)

Ter Afsluiting: Ons moet nie die fout begaan om die werklike doop (doop met die Heilige Gees) met die teëbeeld daarvan, die rituele daad van waterdoop, te verwar nie. Die waterdoop is ‘n simboliese representasie van die werklike doop, naamlik die doop met die Heilige Gees. In baie gevalle waar die term “doop” in die Skrifte gelees word, word daar verkeerdelik aangeneem dat die term “doop” outomaties die waterdoop beteken. Dit is egter nie altyd die geval nie. Die volgende lys teksgedeeltes, waar die doop van die Heilige Gees beskryf word, word gewoonlik verkeerdelik as die waterdoop geïnterpreteer, naamlik: Matt.3:11; Hand.1:5; Hand.11:16; Rom.3-5; (let op daar word nie gesê ”gedoop in water” nie) 1Kor.21:13; (let op daar word nie gesê ”gedoop in water” nie) Gal.3:27; (let op daar word nie gesê ”gedoop in water” nie) Ef. 4:5 (die waterdoop is ‘n illustrasie van die eenmalige doop in die Heilige Gees. Kol.2:12. Doop met die Heilige Gees, vind plaas die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, en dit sluit die feit in dat die gelowige in Christus, en Sy liggaam die Kerk geplaas word. Al hierdie dinge vind plaas nog voordat die gelowe die kans gehad het om gedoop te word en is dade wat slegs God kan verrig.

Boonop is dit van uiterste belang, om nie die genade van God met menslike werke te vermeng nie, al is hierdie menslike werke slegs ‘n byvoeging tot die evangelie wat ons verkondig. Indien enige menslike werke (of ritueel) deel van die evangelie vorm wat ons verkondig, dan verkondig ons ‘n ander evangelie en nie die een ware Evangelie nie.
Joh.6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Onthou, die ritueel van die waterdoop red ons nie, dit is die Here Jesus Christus wat ons red. God se verlossende genade kan slegs in die Persoon van die Here Jesus Christus gevind word, Wie alleenlik God se heiligheid en geregtigheid kan bevredig! Slegs in die Here Jesus Christus is die gelowige se verlossing gesetel.
1Joh.5:11 “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”
Slegs nadat ‘n persoon geloof in die Evangelie geplaas het, en alreeds wedergebore is, word daar van hom verwag om gedoop te word. Die waterdoop het egter niks met sy wedergeboorte te make nie, maar behoort die eerste stap in toegewyde dissipelskap/heiligmaking te wees.

Onthou Paulus, en die ander Apostels, het slegs een spesifieke Evangelie verkondig waarvan die doop nie deel van gevorm het nie. Indien ‘n persoon enige ander evangelie (wat enige vorm van menslike werke insluit) verkondig dan kom daardie persoon onder die vloek waarvan Paulus gewaarsku het, naamlik:
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”
Om ‘n ander evangelie te verkondig is dus dwaalleer! (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Bekering, geloof en die ewige lewe” asook die artikel “Wat is die Ewige Lewe?” te lees.)

Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede,hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.