waterdoop

Die Waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie

Baie mense verkeer verkeerdelik onder die indruk dat die waterdoop ‘n vereiste vir wedergeboorte is. (‘n leerstelling wat as doopsaligheid bekendstaan) Ander weer is net verward, en weet nie of die waterdoop vir wedergeboorte/verlossing vereis word nie en weet nie werklik waar hulle rondom hierdie vraagstuk van die waterdoop staan nie. Die waterdoop is ‘n baie belangrike onderwerp, veral sover dit die uiters belangrike onderwerp van verlossing aanbetref, en die onderstaande vraag deur ‘n vriend van my illustreer baie duidelik hierdie feit. Met die skryf van hierdie artikel, gaan ek hoofsaaklik op die onderstaande vraag fokus, en Hand. 2:38 bestudeer om vas te stel of die waterdoop ‘n vereiste vir wedergeboorte (fase een ) van ons verlossing is? Die beginsels wat in hierdie artikel gebruik word, kan op alle moeilik verklaarbare teksgedeeltes wat oor enige onderwerp in die Bybel (wat die leerstelling van die doop insluit) toegepas word. Die belangrikheid van hierdie vraag kan egter nie genoegsaam beklemtoon word nie, omrede die Evangelie van God se genade, (en derhalwe die ewige bestemming van mense se siele) van die korrekte uitleg van hierdie teksgedeelte afhang. Die leerstelling van doopsaligheid is niks anders as dwaalleer wat miljoene mense in die ewige verderf laat beland het. Indien dit die Here se wil is, sal ek op ‘n latere stadium ‘n hele reeks studies rondom die onderwerp van die doop skryf. (wat die onderwerp van die waterdoop sal insluit)


Vraag: Hallo Vic, glo dit gaan baie goed met jou! Het weer een van jou uitstekende Bybel studies, “Bekering vir wedergeboorte is nie boetedoening nie” bestudeer en het gesien dat jy skrywe “waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie”. Jy het my onkant gevang met die stelling! Die aand toe ek tot bekering gekom het in 1991 het God die skrif gedeelte in Hand 2:38 pertinent in my verstand geplaas! Ek haal aan: Bekeer julle (1ste prioriteit), en laat elkeen van julle gedoop word (2de prioriteit) in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes. Ons lees ook van die doop op verskeie plekke onder andere in Mark 16:16 en seker een van die belangrikste skrif gedeeltes is en van Christus Jesus Homself is Mattheus 28:19!

Ek hoor graag van jou!

Antwoord: Baie goeie, en uiters belangrike vraag! Hierdie is inderdaad een van die mees omstrede vraagstukke waarmee die belydende Christendom geworstel het en nog steeds worstel. Die rede vir hierdie stelling is eenvoudig. Die Skrifte stel dit onomwonde dat daar slegs een Evangelie is wat tydens die Kerk Dispensasie verkondig, en geglo moet word, en wat almal wat genoemde Evangelie glo, van die ewige verderf sal red. Boonop rig die Skrifte ‘n baie ernstige waarskuwing aan diegene wat ‘n ander Evangelie verkondig naamlik:
Gal. 1:8 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
Derhalwe is dit van uiterste belang om slegs God se woord (die Bybel) vir die antwoord te raadpleeg, en moet ons geensins op menslike opinies en tradisies staat maak nie. Met die hulp van die Here sal ek ook dan so doen. Onthou, hierdie ernstige waarskuwing is aan ons gerig, omrede mense se ewige bestemming op die spel is! Dit is letterlik ‘n kwessie van Hemel of Hel!
2Tim.3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,”

Voordat ons Hand.2:38 bestudeer, is dit eerstens van belang om sekere beginsels, wat die uitleg van gegewe teksgedeelte sal vergemaklik, hier weer te gee. Boonop is dit altyd makliker indien mens sekere terme, soos byvoorbeeld die term “doop” kortliks omskryf. Die term “doop” het as basiese betekenis: a. Om ‘n voorwerp of persoon in iets of iemand te plaas. b. Om met iets of iemand te identifiseer. c. Om ‘n voorwerp of persoon in iets te dompel. Ons moet egter onthou dat ons die konteks waarin die term “doop” in voorkom, moet toelaat om die betekenis van die term “doop” te bepaal. Die rede hiervoor is eenvoudig. Alhoewel die term “doop” soms binne die konteks van water weergegee word, is dit nie altyd die geval nie. In baie gevalle het die term “doop’ absoluut niks met water te make nie, soos byvoordeel wanneer die Heilige Gees ons in Christus indoop. (wat ons met Christus se dood en opstanding vir ons sondes identifiseer.)
So ook was Israel met Moses geïdentifiseer/gedoop toe hulle uit Egipte gevlug het, waar daar geen sprake van waterdoop was nie. (1Kor.10:2) Vervolgens gaan ek ‘n paar beginsels hier weergee wat ons in gedagte moet hou soos wat ons die genoemde teksgedeeltes interpreteer.

  1. Dit is uiters belangrik om te onthou, dat die boek van Handelinge hoofsaaklik ‘n narratiewe, of anders gestel, ‘n vertellende boek van aard is, wat aan ons die verhaal van hoe God die Kerk tydens die oorgangstydperk, na afloop van die kruisiging, (waarby die Dispensasie van die Wet afgesluit is) en die ontstaan van die Kerk, vroeg tydens die Dispensasie van die Kerk/genade, weergee. Die boek Handelinge is dus hoofsaaklik narratiewe boek, wat aan ons die vroeë verspreiding van die Evangelie van God se genade, en die ontstaan, asook uitbreiding van die Kerk vertel. In hierdie opsig, moet ons ook uiters versigtig wees, om stellings en teksgedeeltes wat vertel wat in ‘n gegewe tydstip gebeur het, as voorskrywend op alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef, as vereistes te wil afdwing. Om so iets te doen kan tot ernstige mistastings en selfs dwaalleer lei.

  2. Derhalwe is dit van uiterste belang, om vas te stel aan wie ‘n spesifieke stellig gerig is, watse groep mense die fokus van ‘n gegewe stelling is, omrede daar verskillende groepe mense in die boek van Handelinge aangetref word. Ons vind byvoorbeeld ongelowige Jode; ongelowige Heidene; dissipels van Johannes die Doper; en wedergebore Christene.

  3. Wanneer ons, ons teologie/leerstellings van die narratiewe boeke (wat aan ons vertel wat gebeur het) aflei, moet dit altyd in rekening gehou word, dat nie alles wat gebeur, of gesê is, noodwendig vir ons opgeteken is nie. Dus moet ons teologiese, of leerstellige, afleidings wat ons vanuit die narratiewe boeke, soos byvoorbeeld die boek Handelinge, eers in lig van die hoofsaaklik voorskrywende boeke, soos byvoorbeeld die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, vergelyk, alvorens ons enige voorskrifte as reël, op gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe, van toepassing wil maak.

  4. Onthou, konteks, konteks konteks! Die konteks van ‘n teksgedeelte moet altyd in rekening gehou word. Alle woorde, terme en leerstellings moet binne die konteks waarin ons dit in die Bybel vind bestudeer word, alvorens ons dit as leerstelling wat op die dispensasie van die Kerk van toepassing is, aanvaar.

  5. Boonop dit alles, moet die inhoud van elke teksgedeelte in ag geneem word en dan binne die korrekte konteks bestudeer word. ‘n Enkele term soos byvoorbeeld “Verlos” kan ‘n wye reeks betekenisse hê en die konteks moet gebruik word om die spesifieke betekenis van die woord “Verlos” te bepaal.

  6. Skrif moet met Skrif vergelyk word. Die persoon wat Bybelinterpretasie doen (en ek hoop ons almal doen dit) moet toelaat dat Skrif, Skrif verduidelik. Onthou altyd, dat die Bybel selfverklarend is.

  7. Die Bybel is God se geïnspireerde, foutlose en onfeilbare woord. En as sulks, kan daar geen weersprekings daarin wees nie. Waar dit wil voorkom of daar wel ‘n weerspreking is, dan moet dit aanvaar word, dat daar fout met ons uitleg van die Bybel is en nie in die Bybel self nie. (Hierdie stelling geld veral vir die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf is.)

  8. Wanneer mens die Bybel interpreteer, is dit van uiterste belang om te onthou, dat die Bybel ‘n progressiewe openbaring aan die mens is. Wanneer hierdie feit nie in berekening gebring word nie, sal dit daartoe lei dat vereistes vir vroeëre dispensasies, op vereistes vir die huidige Kerk Dispensasie afgedwing word, wat teenstrydighede en verwarring te weeg sal bring, wat daartoe kan lei dat ‘n persoon in sy interpretasie van die Skrifte dwaal.

  9. Onduidelike, of moeilik verstaanbare teksgedeeltes moet in lig van duidelik gestelde, en maklik verstaanbare teksgedeeltes geïnterpreteer word en nooit anders om nie. (‘n uiters belangrike feit om te onthou!)

  10. Om hierdie rede is dit belangrik om van die konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese Bybel interpretasie metode gebruik te maak, om seker te maak dat ons weet wat God werklik in Sy woord aan ons wil sê. Ons moet toelaat dat die God deur Sy woord (die Bybel) ons leerstellings bepaal en moet ons nooit ons leerstellings in die Bybel inlees nie.

Met bogenoemd feite tot ons beskikking, kan ons nou na Hand.2:36-38 gaan en genoemde teksgedeelte binne die korrekte konteks bestudeer, naamlik:
Hand. 2:36 “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. 37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? 38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”

Baie groepe, wat op die een of ander wyse glo, dat die waterdoop ‘n vereiste vir wedergeboorte (fase een van ons verlossing) is, gebruik dan Hand. 2:38 as bewys om hulle standpunt te staaf. Dit is egter opmerklik dat indien Hand. 2:38 bewys dat waterdoop ‘n vereiste vir wedergeboorte is, hierdie teksgedeelte met baie ander teksgedeeltes, wat dit baie duidelik stel dat ‘n persoon slegs deur geloof (alleen) in die Here Jesus Christus (Wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis vir ons sondes insluit) verlos/wedergebore raak, in botsing kom. (Onthou die man wat saam met Christus gekruisig is en wat nou saam met Christus in die Hemel sit. Hy was nooit gedoop nie!)
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Die apostel Paulus stel dit onomwonde dat gelowiges die Heilige Gees ontvang die oomblik wanner hulle die Evangelie verstaan en glo. (Niks word hier van die waterdoop gemeld nie. ‘n Ernstige weglating indien die doop ‘n vereiste vir wedergeboorte is.) Onthou, die briewe is direk aan die Kerk gerig, en derhalwe moet die gebeure wat ons in Handelinge vind, eers met die briewe wat spesifiek aan die Kerk gerig is, en voorskrywend van aard is, vergelyk alvorens ons sodanige leerstellings op die Kerk Dispensasie van toepassing wil maak. (Bestudeer asb die volgende illustrasie genaamd “Sewe vorme van doop in die Skrifte“)

Noudat ons weet dat ‘n persoon die Heilige Gees ten tye van die glo van die Evangelie ontvang, is dit belangrik om te bepaal wat die Evangelie is wat Paulus verkondig het, en waardeur hierdie mense (en ons wat tydens die Dispensasie van die Kerk/Genade lewe.) die Heilige Gees, asook die ewige lewe deelagtig geword het.
1Kor.15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Daar het ons dit! Hier het ons die Evangelie wat Paulus verkondig het, en waardeur diegene wie geglo het, die gawe van die Heilige Gees ontvang het. Dit is ook opmerklik dat daar geen sprake van die waterdoop is nie! En om hierdie Skriftuurlike feit verder te bevestig, gaan ek weereens die apostel Paulus aanhaal, naamlik:
1Kor.1:17 “Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.18 Want die woord van die kruis (nie die woord van die waterdoop nie!) is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
In bogenoemde teksgedeelte stel die apostel, onder inspirasie van die Heilige Gees, dit baie duidelik dat die waterdoop nie deel van die Evangelie uitmaak nie en dus nie ‘n vereiste vir wedergeboorte/verlossing (fase een van ons verlossing) uitmaak nie. Dit beteken geensins dat die waterdoop nie belangrik is nie. Die waterdoop is uiters belangrik, maar dit mag nie as vereiste by die Evangelie gevoeg word om wedergeboorte te bewerkstellig nie! Om so iets te doen, is om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander wat niemand van die ewige verderf sal red nie. Die waterdoop vorm deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, waar ons openlik ons geloof aan die gemeente, en wêreld, proklameer en waar ons verklaar dat ons onsself met Christus en Sy dood vir ons geïdentifiseer het. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van Verlossing” te lees.)

Daarbenewens, vind ons ook voorbeelde in die boek van Handelinge self, waar mense die Heilige Gees ontvang het voordat hulle in water gedoop is.
Hand.10: 43 “Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang. 44 En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.”
Boonop is daar ‘n hele rits teksgedeeltes in die boek Handeling alleen, waar dit duidelik gestel is dat mense slegs op grond van hulle geloof alleen wedergebore geraak het, (fase een van ons verlossing) en waar daar nêrens die vereiste vir waterdoop eens genoem is nie. ‘n Ernstige weglating, indien die doop deel van die Evangelie, en dus ‘n vereiste vir wedergeboorte/verlossing, (fase een) uitmaak. Ek gaan slegs een teksgedeelte as bewys hier weergee. Die leser word aangeraai om self die ander teksgedeeltes te lees, omrede die studie te lank sal raak indien ek elke teksgedeelte hier moet aanhaal.
Hand.13:38 “Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, 39 en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.” (slegs geloof in Christus se Persoon, en voltooide werk aan die kruis, word as vereiste vir die gawe van die ewige lewe vereis en niks anders nie. Die waterdoop word nie vir wedergeboorte vereis nie en mag nie as vereiste by die Evangelie gevoeg word nie!)
(Sien ook Hand.4:4; 13:38-49; 15;11; 17;2-4; 10-12; 18:27-28; 20:18-21)

Dit is uiters belangrik om die konteks waarin Hand.2:38 voorkom in rekening te hou, asook die feit dat die boek Handelinge, die oorgangstydperk tussen die Dispensasie van die Wet en die Dispensasie van Genade/Kerk beskryf. (wat die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees insluit) Verder moet ons ook in gedagte hou, dat die Jode, wie voor die Here Jesus Christus se kruisiging tot geloof in Hom gekom het, nie noodwendig volledige kennis gedra het van die feit dat Hy aan die kruis sou sterwe en weer uit die dood sou opstaan nie. (onthou die boek van Handelinge dek die oorgangstydperk, waartydens die Here nou ‘n nuwe entiteit, naamlik die Kerk tot stand bring.) Die Evangeliese boodskap het nou die boodskap van Christus se kruisiging, en opstanding vanuit die dode ingesluit, asook die feit dat almal wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof kom, nou permanent deur die Heilige Gees verseël sou word. (al hierdie gebeurtenisse was nog iets wat in die toekoms sou plaasvind toe die Here Jesus Christus nog met Sy aardse bediening besig was en nog nie gekruisig was nie.) (Bestudeer asb die volgende illustrasie genaamd “Sewe vorme van doop in die Skrifte“)

Ons vind ook byvoorbeeld in die boek van Handelinge, dat sowel Jode en Samaritane (half- Jode) die Heilige Gees ontvang het, nadat hulle tot geloof in Christus gekom het. (Hand. 8:14-18; 9:17; 19:5) Ons vind egter ook dat die Heidene die Heilige Gees ontvang het die oomblik toe hulle in Christus geglo het, en het daar in hierdie instansie, geensins handoplegging en waterdoop die ontvangs van die Heilige Gees voorafgegaan het nie.
Hand.10: 44 “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. 45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. 46 Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek (nie die een of ander brabbeltaal nie, maar menslike tale wat nie aangeleer is nie) en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: 47 Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?” (Die leser word aangeraai om die artikel “Spreek in vreemde tale” te lees.)

Hand.2:37-39 is algemeen bekend as ‘n teksgedeelte wat moeilik verklaarbaar is, en veral in lig van die feit dat daar so baie ander teksgedeeltes is, wat dit duidelik stel dat doop nie deel van die Evangelie is nie, of vir wedergeboorte vereis word nie. Ek gaan slegs enkele voorbeelde hier weergee om my punt te staaf, maar die leser moet weet dat daar baie meer sulke teksgedeeltes aangehaal kan word en die feit dat God Homself nooit in Sy woord (die Bybel) kan weerspreek nie.
Joh.3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Joh. 16:8 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (Dit is geloof in Christus wat bepaal waar ‘n persoon die ewigheid gaan spandeer, nie geloof in Christus plus waterdoop of enige ander vereiste nie!)
Rom.3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
1Kor.1:17 “Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.18 Want die woord van die kruis is (nie die woord van die waterdoop nie) wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”
Derhalwe is daar wel ‘n verskeidenheid interpretasies wat al die bogenoemde vereistes van Bybel uitleg eerbiedig, sonder om enigsins met anders teksgedeeltes in die Bybel in botsing te kom. Ek gaan slegs my interpretasie hier weergee, omrede ek die studie so kort as moontlik wil hou.

Indien mens die historiese konteks en oorgang narratief (wat ons vertel wat vroeg tydens die Kerk Dispensasie plaasgevind het) van die boek Handelinge in ag neem, dan is dit opvallend dat Petrus slegs die Joodse volk aanspreek en geen ander bevolkingsgroep nie. (onthou die konteks waarin hierdie teksgedeelte in voorkom.) Nou kan ons na Hand.2:36 gaan en die teksgedeelte bespreek.
Hand.2:36 “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. 37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?”
Opmerking: Hierdie Jode, wie Petrus hier aanspreek, word diep in hulle harte deur sy woorde (en dus die oortuigingswerk van die Heilige Gees) aan hulle getref. Onthou, hierdie Jode moes bewus van die gebeure, tydens Christus se kruisiging, asook die gebeure direk na afloop van Christus se kruisiging gewees het. Verder moes hulle ook kennis gedra het van die gebeure rondom die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Indien ons al hierdie feite, asook Petrus se woorde aan hulle in ag neem, is hulle nou oortuig daarvan dat hulle skuldig is aan die feit dat hulle, helle lank verwagte Messias gekruisig het. Hulle is nou deeglik van hulle sonde oortuig en vra die Apostels wat hulle nou moet doen.

Hand.2:38 “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”
Opmerking: Met die stelling “Bekeer julle” sê Petrus in effek vir die Jode, om hulle opinie oor wie Christus is, te verander. Waar hulle vroeër die Here Jesus Christus as ‘n bedrieër gesien het, wie die kruisdood verdien het, moet hulle nou die Here Jesus Christus, as Verlosser, aanvaar/glo, en hulleself in die Naam van die Here Jesus Christus laat doop, waarna Christus hulle vir al hulle sondes sal vergewe en die gawe van die Heilige Gees aan hulle sal gee. (Fase een van hulle verlossing naamlik wedergeboorte.) Waterdoop sal dus ‘n uiterlike demonstrasie van hulle aanvanklike geloof wees, waardeur hulle hulleself met Christus en die nuwe gemeente van gelowiges identifiseer. (fase twee naamlik heiligmaking/dissipelskap) Hulle breek dus enige vorige identifisering met die volk Israel, wie nog steeds nie in die Here Jesus Christus glo nie, en wie Hom verwerp, en laat kruisig het en wie nog onder God se regverdige oordeel staan.

Die tydsvorme wat Petrus gebruik het is nogal insiggewend. Die term “Bekeer julle” is in die meervoudsvorm, en die frase: “en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes” is in die enkelvoudige vorm gestel. Maar die stelling: “ en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” is weer in die meervoudsvorm gestel. Die stelling: “Bekeer julle” en die stelling: “ en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” wat in die meervoudsvorm gestel is, stem met mekaar ooreen en bevestig die feit dat almal wat vanuit ‘n posisie van ongeloof, na ‘n posisie van geloof in Christus bekeer, die gawe van die Heilige Gees sal ontvang. Die stelling: “en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes” is egter uniek, en in die enkelvoudige vorm gestel, wat ‘n aanduiding is dat hierdie teksgedeelte ‘n parentetiese gedeelte van Petrus se opdrag aan die volk is. Wat Petrus dan in werklikheid sê, is dat die vereiste vir die vergifnis van sonde, bekering vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in Christus verlossing/wedergeboorte (fase een) bewerkstellig, wat die gawe van die Heilige Gees tot gevolg sal hê. Die nou wedergebore/verloste Israeliete moet hulleself nou individueel laat doop, en derhalwe openlik hulle geloof in die Here Jesus Christus demonstreer, en sodoende bevestig hulle openlik dat hulle met die oorgroot meerderheid van die ongelowige Joodse volk, wat nog steeds die Here verwerp, breek en hulle nou by die klein minderheid gelowiges identifiseer. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap)

Verder moet ons in gedagte hou, dat ‘n Jood wat vroeg tydens die Kerk Dispensasie tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, nie sommer die daad van geloof met die waterdoop sou skei nie. Alhoewel die waterdoop nie deel van die Evangelie uitgemaak het nie, en dus nie ‘n vereiste vir wedergeboorte was nie, maar slegs geloof alleen in die Evangelie, sou enige Jood wat vroeg tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het, en op die vraag of hy in Christus glo, ja sou antwoord en sou byvoeg dat hy in Christus se Naam gedoop is. Vanuit die Skrifte weet ons ook egter dat so ‘n Jood nooit die waterdoop as vereiste vir wedergeboorte beskou het nie. So ‘n Jood sou verstaan dat die waterdoop in werklikheid ‘n uiterlike demonstrasie van sy innerlike geloof was. Indien mens die Jood sou vra of hy wedergebore sou wees, indien hy nooit gedoop is nie, sou hy ja op die vraag geantwoord het, en dit duidelik gestel het dat die waterdoop niks met sy wedergeboorte te make het nie, maar dat hy slegs op grond van sy geloof in die Evangelie verlos is. Hoe weet ons dat hierdie persoon so sou geredeneer het? Vanuit die Skrifte natuurlik! Ons weet byvoorbeeld wat die Apostel Petrus in Hand.10:47 gesê het, toe die Heilige Gees op Cornelius se vriende en huisgesin geval het, terwyl Petrus nog met hulle gepraat het naamlik: (en voordat hulle gedoop was)
Hand.10:47 “Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?”
Petrus het geweet dat hierdie mense alreeds wedergebore geraak het en daarom wou hy hulle dadelik doop. Hy het dus geweet dat hulle nie die gawe van die Heilige Gees ontvang het omrede hulle die water gedoop is nie, maar slegs op grond van geloof alleen, soos wat die Here hulle vooraf in die Evangelie van Johannes geleer het. Hierdie feit blyk duidelik wanneer mens Hand.11:15-18 hierby voeg, naamlik:
Hand.11:15 “En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. 16 En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. 17 As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? 18 En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”
Let veral op Petrus se stelling “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, (nie geglo en gedoop is nie) wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?”
Hy stel dit onomwonde dat hulle die Heilige Gees op Pinksterdag ontvang het, omrede hulle in Christus geglo het en noem niks van die feit dat hulle gedoop is nie. Hoekom? Want die doop het absoluut niks met wedergeboorte (fase een van ons verlossing) te make nie! Dit is slegs geloof in die Evangelie wat ons red!

Dieselfde gebeurtenis sien ons in Hand.16:30-33, naamlik:
Hand.16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) jy en jou huisgesin. 32 En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. 33 En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap) Gelowiges wat vroeg tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het, is gewoonlik direk na so ‘n belydenis gedoop as deel van fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap. Die twee elemente van geloof en die waterdoop het in noue verband teenoor mekaar gestaan, maar moet nooit met mekaar verwar word nie! Geloof alleen in Christus alleen + niks = ware Evangelie wat wedergeboorte tot gevolg het. (fase een van ons verlossing) Geloof in Christus + doop of enige ander goeie werk of verordening = werke evangelie en dus die ewige verderf!

Wat dan van Mark.16:16 wat soos volg lees, naamlik:
Mark.16:16 “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.”
Opmerking: Op die eerste oogopslag wil dit voorkom dat die stelling “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word;” as bewys dien dat waterdoop as vereiste vir wedergeboorte (fase een) vereis word, maar die daaropvolgende stelling “maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” stel dit baie duidelik dat ongeloof die rede is waarom ‘n persoon verlore gaan en nie ‘n gebrek aan die waterdoop nie. Inteendeel, die waterdoop word geensins in die tweede stelling genoem nie, iets wat mens sou verwag indien die waterdoop ‘n vereiste vir wedergeboorte was. Hierdie feit alleen behoort as genoegsame bewys te dien dat die waterdoop nie as vereiste vir wedergeboorte vereis word nie. Soos alreeds in hierdie studie gedemonstreer is, het geloof en die waterdoop in noue verband teenoor mekaar gestaan, en was enige persoon wat vroeg tydens die aanvang van die Kerk Dispensasie onmiddellik na aanvanklike geloof (wedergeboorte) in water gedoop, wat as publieke demonstrasie van sy geloof en identifisering met Christus en Sy kruisdood vir hom is en was derhalwe ‘n algemene verskynsel. (Hand.2:41; 8:35-37; 10:44-48; 16:14-15)

Daar is egter meer bewyse dat die waterdoop nie as vereiste vir wedergeboorte by die Evangelie gevoeg word, sonder om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander nie. Onthou daar is net een Evangelie wat ‘n persoon red, nie twee nie!
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”
Daarbenewens moet ons ook Skrif met Skrif vergelyk en moet ons altyd moeilik verstaanbare, en onduidelike teksgedeeltes, in lig van duidelik gestelde teksgedeeltes interpreteer. Ons vind baie teksgedeeltes wat sonder enige twyfel stel dat ‘n persoon slegs op grond van geloof in Christus gered word, waarvan ek slegs enkele voorbeelde van baie hier gaan weergee, naamlik:
Joh. 20:31 “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; 31 maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.
Gal.2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Rom.1:16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”

Soos alreeds genoem, moet ons die feit in rekening hou, dat die Bybel God se progressiewe openbaring aan die mensdom is, en dat boeke wat hoofsaaklik vertellende van aard is, met die boeke wat hoofsaaklik voorskrywend van aard, en wat spesifiek aan die Kerk, wat tydens die Kerk dispensasie lewe gerig is, soos byvoorbeeld die briewe, vergelyk word alvorens ons enigsins ‘n stelling as leerstelling op die Kerk wat tydens die Kerk Dispensasie leef wil afdwing. Hierdie beginsel geld ook vir Mark.16:16. Wanneer al hierdie feite in rekening gebring word, kan daar met absolute sekerheid gestel word, dat ‘n persoon slegs op grond van geloof in die Evangelie wedergebore raak, en vorm die waterdoop deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap. Derhalwe is dit ‘n ernstige mistasting indien die waterdoop as vereiste vir wedergeboorte by slegs die Evangelie gevoeg word. Om so iets te doen is om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander, wat mense na die verderf sal lei eerder as om tot hulle verlossing te lei. Onthou, mense se siele is op die spel, en daarom moet ons weet in wat, en in Wie ons glo en hoekom ons dit glo. (Hiervoor is Bybelstudie absoluut noodsaaklik en moet ons seker maak dat ons ‘n kerk bywoon wat slegs die Bybel as fondasie vir alle leerstellings gebruik. En moet ons alles wat aan ons verkondig word, self met die Bybel vergelyk, om seker te maak dat ons nie die slagoffers van dwaalleerstelling is nie.)

Ter afsluiting: Paulus stel dit dus baie duidelik dat die waterdoop nie deel van die Evangelie uitmaak nie en daarom het hy die volgende stelling gemaak, naamlik:
1Kor.1:17 “Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.18 Want die woord van die kruis is (nie die woord van die waterdoop nie) wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”
Onthou verlossing is ‘n werk wat God vir die mensdom doen. Die mens het geen aandeel of enige bydrae ten opsigte van God se verlossingsplan te lewer nie. Dus, is al die mensdom se pogings om God deur sy eie menslike dade (soos byvoorbeeld die waterdoop) te oorreed om hom te verlos absoluut vrugteloos, onnodig, en selfs verdoemend, omrede wedergeboorte/verlossing (fase een) nie deur menslike pogings en goeie werke bewerkstellig kan word nie. Slegs God kan die mens verlos, en die mens kan slegs verlossing as geskenk deur geloof aanvaar! Niks anders nie! Dit is met hierdie ingesteldheid waarmee die Apostel Paulus na die Korintiërs gegaan het en waardeur hulle verlossing bewerkstellig is.
1Kor.2:2 “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.”
(die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Godsdiens vs Verlossing” te lees.) Ek stel dit weer: “Om waterdoop as vereiste vir wedergeboorte te maak, is om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander.” Ons moet daarteen waak en seker maak dat ons slegs die Evangelie as vereiste vir wedergeboorte glo en verkondig.” (onthou, mense se siele is op die spel!)

Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Onthou, die Bybels stel dit baie duidelik dat ons deur Christus se bloed/dood gered word nie deur die waterdoop nie!
Hebr.9:22 “En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting (nie die waterdoop nie!) vind daar geen vergifnis plaas nie.” (Tydens die ritueel van die waterdoop, vind daar geen vergieting van bloed plaas nie en kan dus nie deel van die Evangelie uitmaak nie!)

Ek hoop hierdie studie beantwoord jou vraag.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.