die duiwel

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 5

Voordat ons met hierdie studie begin, word die leser ten sterkste aangeraai om eerstens die voorafgaande artikels oor die duiwel se aktiwiteite in hierdie reeks te lees, om sodoende ‘n volledige raamwerk waarin hierdie versoekinge van Christus in plaasgevind het te bekom.

Die versoeking om Homself van die tempel af te werp en deur die volk as hulle Messias aanvaar te word:
Luk 4:9 “Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. 4:10 Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar, 4:11en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.”
Opmerking: Met bogenoemde versoeking, versoek die duiwel die Here, deur om Hom so ver te kry om Sy Messiasskap, deur middel van ‘n skouspelagtige wonderteken aan die Jode te demonstreer en daardeur hulle erkenning van Hom as hulle beloofde Messias te bewerkstellig. Indien mens ingedagte hou dat die tempel op plekke tussen 121 meter en 182 meter hoog kon wees, en indien die Here skielik vanaf die tempel dak tussen die Jode wat in die tempel diens verrig het, asook diegene wat daar aanbid het, te lande sou kom, sou dit bo enige twyfel aan hulle bewys het dat die Here hulle beloofde Messias was. Veral indien die Here tussen hulle op Sy voete te lande sou kom, sonder om enige beserings op te doen, en sodoende sou die Here Jesus Christus Sy ewige Seunskap aan die volk kon demonstreer en deur hulle aanvaar word.

Die duiwel se stelling: “As U die Seun van God is” impliseer geensins dat die duiwel nie bewus van die feit was dat die Here Jesus Christus die Seun van God was en derhalwe die Tweede Persoon in die Drie-Eenheid was nie. Satan was deeglik bewus van hierdie feit en haal derhalwe Ps. 91:11-12 aan waar die Skrifte belowe dat God die Vader die Messias sal bewaar, naamlik:
Psa 91:11 “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. 12 Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”
Die duiwel het dus die Here Jesus Christus op ‘n baie subtiele wyse versoek, om deur die verrigting van ‘n sensasionele daad, Homself aan die Joodse volk as hulle beloofde Messias voor te hou, en sodoende kon Hy deur hulle aanvaar word en die skande, smarte en lyding van die kruisdood omseil en glorie van die koningskap ontvang.

Om hierdie handeslwyse op aandrang van die duiwel te volg, sou beteken dat die Here Jesus in onafhanklikheid buite die wil van God die Vader optree, deurdat Hy (die Seun) Sy eie persoonlike glorie sal bewerkstellig, en dit ten koste van God die Vader se wil en tydsberekening vir Hom, naamlik dat die kruis voor persoonlike glorie moes geskied. Die apostel Johannes omskryf hierdie tipe versoeking in terme van die “Grootsheid van die lewe”
1Jo 2:16 “Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”
Die versoeking t.o.v. die grootsheid van die lewe, stem ooreen met die versoeking waarmee Satan, Adam en Eva in die tuin van Eden versoek het, naamlik: “Die boom wat mens kan begeer om verstand te verkry.” In albei gevalle was die versoeking gewees om ‘n weg te volg wat na persoonlike glorie, in weerwil van God se wil, sou lei. By verre die oorgroot meerderheid belydende Christendom maak hulleself aan hierdie sonde skuldig! Dit beteken geensins dat hierdie mense verlore sal gaan nie, want ons werke het geen aandeel in ons verlossing (Fase een, naamlik wedergeboorte) nie, maar dit sal wel verlies aan genadeloon teweegbring, wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus moet verskyn om daar rekenskap van ons lewens aan ons Heer te gee. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Gelowige se werke gaan beoordeel word” ; “Die gelykenis van die Ponde” ; Bekering, geloof en die Ewige Lewe” asook “Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige” te lees.)

As gelowiges, moet ons teen die versoeking waak om persoonlike glorie buiten God se wil en tydsberekening vir ons te bewerkstellig. Hierdie versoeking kom gewoonlik in die vorm van ‘n begeerte om Godsdienstige en siviele prominensie in hierdie wêreld te bekom, sonder om eerstens gemeenskap in Christus se lyding deur toegewyde dissipelskap na te streef. Die teenoorgestelde optrede is egter gewoonlik die geval, naamlik dat ons enige iets sal doen om te verseker dat ons die moontlikheid van gemeenskap met Christus se lyding vry te kan spring. Ons begeer groot dinge vir onsself, maar ons slaan op die vlug en skuil in ons veilige plekkies wanneer daar enige weerstand, moeilike omstandighede, die moontlikheid van vervolging en lyding op ons weg kom. En onthou die Here se vermaning:
Mat 13:20 “En by wie op rotsagtige plekke gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; 13:21 maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. 13:22 En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.”  (lees asb die artikel “Gelykenis van die Saaier“)
Indien ons poog om onsself buite God se wil (en tydsberekening vir ons), in eie krag te verhoog, en sodoende God se wil vir ons ignoreer, dan versoek ons God en verval in sonde. Dit maak nie saak hoe eerbaar en vroom ons optrede aan ander mag voorkom nie. En Onthou!:
Luk 14:11 “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.
1Pe 5:6 “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.”

Nog ‘n verdere feit wat in gedagte gehou moet word, is die feit dat hierdie versoeking ook ‘n politiese element bevat, naamlik die beloofde Messias en die Joodse volk. Met die versoeking om Homself van die tempel af te werp, met die idee dat die Joodse volk Hom as hulle Messias sou aanvaar, het Satan gepoog op die menslike drang om deur ander mense aanvaar te word (veral diegene die naaste aan ons) teen die Here as wapen te gebruik. Dit is juis om hierdie rede waarom die duiwel die Here spesifiek na die tempel geneem het en nie na enige ander plek soos byvoorbeeld ‘n hoë krans op ‘n berg nie. Indien die Here Homself van die tempel afgewerp het, sou dit deur die diensdoenende priesters en lede van die publiek, wat daar aanbid het, waargeneem word, en Satan was deeglik bewus van die profesie wat in Maleági 3:1-2 opgeteken staan, wat dit duidelik stel dat die Here skielik na Sy tempel toe sal kom, naamlik:
Mal 3:1 “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare. 3:2 Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.”
Ook in hierdie geval gebruik die duiwel die Skrifte buite konteks, en haal dit tot sy eie voordeel aan, want die profesie, soos wat dit in Maleági 3:1-2 opgeteken staan, noem nêrens die feit dat die Engel van die verbond (Die Here Jesus Christus) op die voorstel van Satan skielik aan die Joodse volk sal verskyn nie, maar Hy sal eerder op Sy eie tyd, en wyse, skielik aan die volk verskyn, en dit slegs volgens die Drie-enige God se ewige raadsplan en nie op Satan se aandrang nie! Dieselfde beginsel geld vir ons as gelowiges. Ons moet slegs op God en Sy woord aan ons reageer en nie op die duiwel se suggesties en influisteringe nie! (wat buite Bybelse profesie insluit)

Die Here Jesus se antwoord op Satan se versoeking:
Luk 4:12 “En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.”
Opmerking: Net soos in al die vorige kere, beantwoord die Here Satan se versoekinge, deur om die Skrifte binne die korrekte konteks aan te haal en Satan sodoende te oorwin. (Indien die Here Jesus Christus dit nodig geag het om van die Skrifte gebruik te maak om die duiwel se aanvalle te weerstaan, hoeveel te meer behoort ons ook nie oor ‘n deeglike kennis van die die Skrifte beskik en daarvan gebruik maak wanneer ons in versoeking kom nie?)
Die Here maak van Deut. 6:16 gebruik om Sy teenstander se versoeking te beantwoord, naamlik:
Deu 6:16 “Julle mag die HERE julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie.”

Dit moet ook in gedagte gehou word dat God die Vader belowe het om die Messias te bewaar, naamlik:
Psa 91:10 “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; 91:11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. 91:12 Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”
Dus, het die Vader dit op Homself geneem om die Messias (asook alle gelowiges) te bewaar, maar hierdie waarborg, soos wat dit in bostaande teksgedeelte geskryf staan, sluit die veronderstelling in dat die persoon aan wie die belofte gemaak is, in die middel van God se wil en weë wandel. Vir enige persoon om hierdie belofte op te eis, terwyl so ‘n persoon buite God se wil, ( wat Sy tydsberekening en metodes insluit) en dus in onbelyde sonde woon, kom daarop neer dat so ‘n persoon in werklikheid God versoek. Dus beteken Duet. 6:16 in wese dat mens nie God se betroubaarheid, of geloofwaardigheid, op ‘n voorbarige of aangematigde wyse op die proef mag stel nie.

So ver dit die Persoon van die Here Jesus Christus aanbetref, het die Drie-enige God alreeds in Sy ewige raadsplan bepaal wanneer God, die Seun, as Israel se Messias sou openbaar, maar hierdie plan van God het egter bepaal dat die Seun eerstens vir die mensdom se sonde gekruisig moes word, om sodoende alle gelowiges se verlossing te bewerkstellig, en daarna sou die Joodse volk die Here Jesus Christus met Sy wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, as hulle lank beloofde Messias aanvaar. In God se raadsplan ten opsigte van die Seun, het die altaar van opoffering en lyding voor die kroon van glorie gekom. Eers moes die Seun met die kroon van dorings gekroon word alvorens Hy die kroon van glorie kon ontvang!
Mat 27:29 “en hulle vleg ‘n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en ‘n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode!”
Christus se lyding moes Sy verheerliking voorafgaan, en dieselfde beginsel geld vir gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe, en wat onsself in fase twee van ons verlossing, naamlik die heiligmakingsfase bevind en wat geduldig moet wag om met ons verheerlikte liggame oorklee te word. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees)
Fil 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”
En daarom moet ons nie verbaas of mismoedig wees as ons teëspoed en lyding in hierdie wêreld beleef nie!
1Pe 4:12 “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 4:13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.”

Net soos met die versoeking om die klippe in brode te verander, het Satan gepoog om die Here Jesus Christus te versoek om teenstrydig met God die Vader se wil, en tydsberekening, asook die wyse waarop God Sy wil uitgevoer wou hê, op te tree en sodoende Sy (die Seun) se onafhanklikheid van die Vader te bewerkstellig. Die Drieënige God het in Sy ewige raadsplan alreeds bepaal op watse wyse en tyd die Seun as die Jode se Messias openbaar sou word en dit het geensins die duiwel se metode, wyses of tydsberekening ingesluit nie.

Dit moet ook verder ingedagte gehou word, dat die Here Jesus Christus gereeld die stelling tydens Sy eerste koms gemaak het, dat Sy tyd nog nie aangebreek het nie, wat ‘n duidelike indikasie was dat Hy streng volgens die tydsberekening van God se ewige raadsplan opgetree het.
Joh 2:1 “En op die derde dag was daar ‘n bruilof te Kana in Galiléa, en die moeder van Jesus was daar. 2:2 En Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof genooi. 2:3 En toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: Hulle het geen wyn nie. 2:4 Jesus sê vir haar: Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie.”
Wat die Here met die bostaande stelling duidelik gemaak het, is die feit dat Hy nie wonderwerke gaan doen net omdat Hy kan en wanneer Hy wil nie (en Hy kon dit ter enige tyd doen) en dit sluit ook Sy moeder se versoeke in. Hy wou dit duidelik maak dat Hy slegs binne die raamwerk van God se vooropgestelde raadsplan sou optree, en dat Hy nie buite daardie plan sou optree, al sou dit beteken dat mense Hom makliker sou aanvaar nie! Sy koers en weg was vooraf deur God vasgestel en Hy sou nie van daardie plan afwyk nie. Hy het egter voortgegaan en die water in wyn verander, maar slegs omrede dit deel van God se plan en tydsberekening in hierdie geval vir Hom was. (en daardeur moes Sy moeder ‘n belangrike les leer)

Ter Afsluiting: Om dus die Jode se aanvaarding van die Here Jesus Christus as hulle beloofde Messias op Satan se aanbeveling, metode en tydsberekening deur ‘n aanmatigende teken, om van die dak van die tempel af te spring, te bewerkstellig sou beteken dat die Here Jesus Christus God se plan, tydsberekening en wyse waarop daardie plan uitgevoer moes word, sou verydel. Jesus Christus moes Sy glorie binne die raamwerk van op God se plan, wyse en tydsberekening tentoonstel en nie soos wat die duiwel dit aan Hom voorgehou het nie. Dieselfde beginsel geld vir ons as gelowiges.

In die volgende artikel in hierdie reeks van studies, sal ek poog om op ‘n praktiese wyse te demonstreer hoe Satan van dieselfde tegnieke gebruik gemaak het om Adam en Eva suksesvol te verlei, en dan sal daar ‘n paar praktiese voorstelle gegee word oor hoe ons, op grond van Jesus Christus se suksesse teen die duiwel se versoeke, ook suksesvol teen Satan se versoekinge kan weerstand bied. Onthou die maklikste weg is nie altyd die regte weg nie! Alles wat ons doen, moet ons tot verheerliking van God doen, en dit beteken dat ons dit binne die raamwerk van God se wil, metode en tydsberekening vir ons moet bewerkstellig! As gelowiges moet ons slegs die Bybel gebruik om ons leerstellings, en optredes te bepaal, en ons moet nie op buite Bybelse profesieë of emosionele ondervindings staatmaak en daarvolgens optree nie, anders gaan ons ernstig verlei word!
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
(die leser word te sterkste aangeraai om die artikel “Is die Gawe van Profesie nog in werking vir vandag?” te lees.)

Seën Groete

Vic

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 1
Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 2
Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 3
Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 4

 

 

Deel met ander asb.