die duiwel deel drie

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel drie

Noudat ons ‘n behoorlike agtergrond ten opsigte van die duiwel se aktiwiteite in die vorige twee artikels weergegee het, kan ons nou ‘n studie van die Here Jesus Christus se versoeking in die woestyn doen, om sodoende ‘n beter idee te kry van hoe Satan te werk gaan wanneer hy poog om iemand met sonde te verlei. Die Skrifte stel dit baie duidelik dat die versoeking van Christus, deur die duiwel, binne die raamwerk van God se wil, plaasgevind het. Maar voordat daar enigsins oor hierdie feit uitgebrei word, gaan die betrokke teksgedeelte eerstens aanhaal en dan bespreek word.

Luk 4:1 “En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei, 4:2 waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.”
Opmerking: Dit is opmerklik dat dit die Heilige Gees was wat die Here in die woestyn in gelei het en waar Satan Hom sou versoek. Indien mens Mat. 4:1 hierby voeg, blyk dit duidelik dat die Heilige Gees die Here Jesus in die woestyn in gelei het met die uitsluitlike doel om daar deur die duiwel versoek te word.
Mat 4:1 “Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.”
In Markus 1:12 word dit gestel dat die Here deur die Heilige Gees in die woestyn in gedryf is.
Mar 1:12 “En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn.”
Dit kan dus met sekerheid gestel word, dat God, sowel as Satan, by die Here Jesus Christus se versoeking in die woestyn betrokke was. Die Bybel stel dit egter duidelik dat God niemand met sonde versoek nie.
Jak 1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”
Maar God het egter toegelaat dat Sy Seun deur Satan versoek word, omrede God sodoende wou demonstreer dat die Here Jesus Christus absoluut sondeloos was, en dus aan die vereiste van sondeloosheid voldoen het, sodat Hy in die plek van die sondige mensdom kon sterwe. In teenstelling met God se doelstellings, wat absoluut geregtig was, was die duiwel se doelstelling ten alle tye gewees om die Here Jesus Christus so ver te kry, om van God se wil (waarvoor die Here Jesus Christus aarde toe gekom het) af te wyk, en om Hom so ver te kry om onafhanklik van die Vader en Sy wil op te tree, en as God self, onafhanklik van God die Vader op te tree, deur om ‘n weg tot glorie te volg wat Sy leiding, smarte en vernedering van Sy kruisdood sou omseil. Die duiwel se bose doelstellings weerspieël dus sy bose karakter!

Alhoewel die Bybel hoofsaaklik op drie van die Here se versoekinge klem lê, beteken dit geensins dat hierdie drie versoekinge die enigste versoekinge is wat die Here tydens Sy veertig daelange verblyf in die woestyn beleef het nie.
Luk 4:1 “En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei, 4:2 waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik, dat die Here Jesus die hele 40 dae tydperk deur Satan versoek was. Slegs die laaste drie versoekinge is deur die Heilige Gees gekies om in die Skrifte opgeneem te word. Ek is van mening dat die Heilige Gees slegs die laaste drie versoekinge van Christus laat opteken het, omrede hierdie spesifieke drie versoekings die drie areas weergee wat die duiwel gebruik om die mensdom (insluitende gelowiges) te versoek, naamlik die begeertes van die vlees; die begeertes van die oë, asook die grootsheid (spog, grootpraat, eiewaan, roem, hoogmoedigheid en trots om maar ‘n paar te noem) van die lewe. (meer hieroor later) En dit is waarom die Apostel Johannes ons ernstig vermaan om nie hierdie bose wêreld/kosmos, of die dinge wat in die wêreld is, lief te kry nie.
1Jo 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 2:17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”

Die Here Jesus is op alle punte waardeur die mens versoek kan word versoek:
In Heb 4:15 sien ons dat die Here Jesus Christus op alle punte, net soos ons, versoek is, maar sonder sonde.
Heb 4:15 “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat die Here Jesus Christus, as die God-Mens, in alle opsigte net soos ons versoek is. Sy versoeking het egter nie vanuit Sy sonde natuur voortgespruit nie, (Jesus Christus is sondeloos en derhalwe beskik Hy nie oor ‘n sonde natuur nie.) maar Hy is egter ten opsigte van Sy menslike natuur versoek. Omrede die Here Jesus ‘n volledige menslike natuur by Sy Godheid gevoeg het, het Hy as mens, net soos enige ander mens, ook oor sekere menslike behoeftes beskik. Hy het fisies honger geword, dors geword, en selfs moegheid ervaar en het boonop ook slaap benodig. Net soos enige ander mens, het Hy ook die begeerte gehad om sosiaal deur ander mense aanvaar te word, en net soos ons, het Hy ook oor ‘n God bewussyn beskik. Die Here Jesus het dus, net soos enige ander mens, oor ‘n fisiese, geestelike, asook ‘n siel dimensie beskik waarin die begeerte tot sosiale aanvaarding gesetel is. Dit is juis op hierdie spesifieke punte waar Satan die mensdom versoek. (insluitende die Here Jesus)

Wat ‘n in diepte studie van Satan se versoeking van die Here Jesus Christus sal openbaar, is die feit dat Satan se versoeking van Jesus Christus, spesifiek so uitgewerk is, om presies by die Here Jesus Christus se Persoon en omstandighede in te pas. Die Here Jesus Christus se Persoon en omstandighede was van so ‘n aard dat die duiwel nie enige ander mens met presies dieselfde versoekinge kon versoek nie. (Hierdie feit is ‘n baie mooi illustrasie van hoe die duiwel ‘n spesifieke persoon, en daardie persoon se gegewe omstandighede, deeglik in ag sal neem, alvorens hy sy plan sal uitwerk.) Slegs die God-Mens, die Here Jesus Christus, (volkome God en volkome mens) was in ‘n posisie, en het oor die vermoeë beskik, om klippe in brood te verander. Geen ander mens beskik oor hierdie vermoeë om klippe in brood te verander nie, en derhalwe sou dit vir die duiwel sinneloos wees om enige ander mens op presies dieselfde wyse te versoek. Slegs Christus, en nie enige anders mens (insluitende ons) kon van die tempel se dak afspring sonder om iets oor te kom nie. Slegs die Here Jesus Christus (nie ons nie) kan verwag om al die koninkryke as besitting te ontvang. Vanuit bostaande feite is dit baie duidelik, dat Satan sy planne om Christus te versoek so uitgewerk het, sodat daardie versoekinge presies by Christus se Persoon en spesifieke omstandighede ingepas het. Op dieselfde wyse sal die duiwel ook ons, as individuele persone, (wat ons eiesoortige persoonlikhede insluit) asook ons individuele omstandighede (wat alles van mekaar verskil) in ag neem alvorens hy beplan om ons te versoek. Onthou die duiwel, en sy engele, het al ‘n paar duisend jaar tot hulle beskikking gehad om die mensdom te bestudeer, en hulle weet presies hoe die meeste van ons op enige gegewe situasie sal reageer en optree. Hy sal boonop nie skroom om hierdie magdom van data en kennis teen ons te gebruik nie! In teenstelling met ons, kon Satan nie die Here Jesus Christus op enige persoonlike swakpunt of sondige neiging versoek nie, want die Here het nie swakpunte nie (Hy is immers almagtig) en Hy beskik ook oor geen sonde natuur wat teen Hom gebruik kan word nie (Hy is immers volkome heilig.) Boonop is Hy alwetend en weet dus vooraf die verwoestende gevolge van sonde. As God die Almagtige, beskik die Here oor geen swakpunte nie, maar ons, as Sy skepsele, is nie almagtig, (wat die druk van enige versoeking kan weerstaan) alwetend (wat die verwoestende gevolge van sonde vooraf weet, asook die duiwel se slinkse planne vooraf volledig ken.) of sondeloos nie en derhalwe is dit moontlik vir Satan om ons suksesvol te versoek.

Soos reeds aan die begin van hierdie studie duidelik gestel is, was dit God wat die Here Jesus Christus woestyn toe gely het om daar deur Satan versoek te word, sodat Hy sodoende kon demonstreer dat die Here Jesus Christus absoluut sondeloos was en dus as sondeoffer in ons plek kon dien. Derhalwe is dit noodsaaklik om die drie spesifieke versoekings hier aan te haal en dit kortliks te bespreek.

Die versoeking om klippe in brood te verander:
Mat 4:1 “Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. 4:2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 4:3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.”
Opmerking: Die duiwel was bewus van die feit dat die Here Jesus die Seun van God was. (en dus God Self was) Die duiwel het egter gepoog om Christus so ver te kry, om in onafhanklikheid van God die Vader, en Sy wil vir die Seun, (wat die vernedering en smarte van die kruis insluit) op te tree. Derhalwe het Satan met die wete dat die Here 40 dae sonder kos was, en baie honger moes wees, die Here se hongerpyne teen Hom as wapen gebruik om die Here so ver te kry om onafhanklik van die Vader, en Sy wil vir die Seun, op te tree, deur Jesus Christus so ver te kry om van Sy Goddelike almag gebruik te maak, en daardeur die klippe in brood te verander en sodoende Sy hongerpyne te stil. Dit is nie noodwendig ‘n sonde om hongerpyne deur kos, wat op ‘n eerlike wyse bekom is, te bevredig nie, maar net soos wat die manna in die woestyn op God se tydsberekening, en op Sy wyse, aan die volk Israel voorsien was, net so moes die Here Jesus Christus se voedsel, ook op die Vader se tydsberekening en wyse bekom word. Vir die Here Jesus om die klippe in brood te verander (iets wat Hy as God baie maklik kon doen) was om in afhanklikheid van Sy Vader se wil op te tree. Alhoewel die Here Jesus Christus tot die uiterste toe honger was, sou Hy nooit in onafhanklikheid van Sy Vader, en buite die Vader se wil, eet (of enige iets anders doen) nie. Satan se doelstelling was dus nie om die Here Jesus hoofsaaklik van letterlike brood te weerhou nie, maar hy wou die Here Jesus so ver te kry om onafhanklik, en buite die wil van die Vader vir Hom, op te tree.

Net so versoek Satan nog steeds gelowiges vandag, en hy poog nog steeds daarin om ons so ver te kry om eerder sake in ons eie hande te neem, instede daarvan om onsself aan God, en Sy wil vir ons, te onderwerp en op Hom alleenlik vir die nodig leiding, voorsiening en uitkoms te vertrou. Net omrede iets nie op sigself verkeerd is, of op ‘n eerbare, en wettige wyse, bekom kan word, beteken geensins dat dit noodwendig die Vader se wil vir ons is nie! Om in teenstryd met God se geopenbaarde wil vir ons op te tree, word dan sonde in ons. Slegs dade wat binne die raamwerk van God se wil, en tydsberekening, en wat op grond van God se genade, deur geloof, en tot eer van God, in en deur die krag van die Heilige Gees verrig is, is by God aanvaarbaar. Alle dade (insluitende goeie dade) wat God buite rekenskap hou, en wat nie in afhanklikheid van Hom, en in Sy krag, en binne die raamwerk van Sy wil en tydsberekening, en tot Sy eer gedoen is nie, kan as goddeloosheid omskryf word. Derhalwe is dit van uiterste belang om in die Here en Sy woord te bly. Onthou die Here se vermaning:
Joh 15:3 “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Die Bybel word nie verniet die lig vir ons pad genoem nie, omrede die Bybel as God se woord, nie van Sy Persoon, en werke, geskei kan word nie.
Psa 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Hou egter in gedagte dat ons optrede altyd binne die raamwerk van die dispensasie waarin ons onsself bevind moet plaasvind. Ons lewe nou tydens die dispensasie van Genade, ook bekend as die dispensasie van die Kerk. Om die vereistes van vorige of latere dispensasies, wat nie op die dispensasie van die Kerk van toepassing is nie, oor te bring en op die dispensasie van die Kerk van toepassing te maak, kom op ‘n ernstige mistasting neer en sal erge verwarring en selfs dwaallering tot gevolg hê.) Onthou, ons behoort ten alle tye in afhanklikheid van God, en op Sy tydsberekening, op te tree. Net soos wat Satan die Here versoek het om in onafhanklikheid van die Vader, en Sy wil vir Hom op te tree, net so sal hy ons versoek om ook in onafhanklikheid van ons hemelse Vader en buite Sy wil en tydsberekening vir ons op te tree. Hou in gedagte, dat die duiwel gelowiges ook net so sal versoek, maar hy sal hulle op ander punte (veral hulle swakpunte) versoek en sal sy metodes by elke gelowige se eiesoortige persoonlikheid en omstandighede aanpas.

Jesus Christus se reaksie op die versoeking om klippe in brode te verander:
Mat. 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”
Opmerking: Die Here het die duiwel se versoeking vanuit die Skrifte beantwoord, deur om Deut 8:3 aan te haal wat soos volg lees:
Deu 8:3 “En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.”
Dit is opmerklik dat die Here nie die noodsaaklikheid van fisiese voedsel ontken het nie, maar Hy het egter ‘n baie hoër motivering, asook die werklike grondslag van die lewe, naamlik die wil van God, soos wat dit in die Skrifte opgeteken staan, aan die duiwel voorgehou. Dit is dus baie belangriker om die Here se woord, soos wat dit in die Skrifte opgeteken staan, te gehoorsaam as wat dit is om vleeslike behoeftes te bevredig. Indien mens Joh. 4:31-34 saam met bostaande teksgedeelte bestudeer, sien mens hoe die Here hierdie waarhede op ‘n praktiese wyse uitgeleef het toe Hy die sondige Samaritaanse vrou by die put van Jakob ontmoet het.
Joh 4:6 “En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur. 4:7 Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink— 4:8 want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.”

In vers 31 sien ons hoe Sy dissipels met die voedsel teruggekeer het, en hoe hulle daarop aangedring het dat Hy ‘n stukkie moes eet.
Joh 4:31 “En intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: Rabbi, eet. 4:32 Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie.”
Die dissipels se logiese reaksie was om te dink dat iemand anders vir die Here kos gebring het. Hulle het nie verstaan dat die Here die uitvoering van die Vader se wil, soos wat dit in die Skrifte opgeteken staan, as baie belangriker, en ook as ‘n baie hoër motivering as fisiese brood, asook die bevrediging van fisiese behoeftes beskou het.
Joh 4:33 “Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring? 4:34 Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.”
Die duiwel versoek nog steeds gelowiges om die bevrediging van hulle fisiese behoeftes die hoofdoel in hulle lewens te maak, instede daarvan om God en Sy wil vir hulle, die hoof prioriteit in hulle lewens te maak.
Luk 12:28 ” As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! 12:29 Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; 12:30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. 12:31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

In hierdie opsig dien die Here as perfekte voorbeeld aan ons. Dit was ten alle tye die Here Jesus Christus se hoof prioriteit en begeerte om Sy Vader se wil uit te voer.
Fil 2:6 “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; 2:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
Jesus Christus het nooit van Sy sentrale doel, naamlik om die Vader se wil te doen, afgewyk nie. Hier was ‘n man wat ten alle tye die opperste heerskappy en wil van God eerbiedig het. Hy wat self God (en dus gelyk met God) was, kon van alle mense, op die reg om Sy eie wil uit te voer, aanspraak maak. In teenstelling met ons, wat maar net geskape wesens is, en wat gestreef het om soos God te word, het Hy vrywilliglik gekies om aan Sy Vader se wil onderdanig te wees, en het nooit oplossings van Sy eie, buite God se wil, bewerkstellig nie. Hy het ten alle tye gekies om met Sy hele Wese op Sy hemelse Vader te vertrou. Net so behoort alle gelowiges ook te doen!

Nog ‘n feit wat ons ingedagte moet hou, is die feit dat indien die Here die duiwel se versoek om die klippe in brood te verander sou eerbiedig, dit sou beteken dat Hy die duiwel gehoorsaam en eerbiedig, in stede daarvan om Sy hemelse Vader en Sy woord te eerbiedig. Dit sou beteken dat die Here Jesus Christus op ‘n subtiele wyse die duiwel dien. Dieselfde beginsel geld vir ons. Ons is veronderstel om die Here se woord te eerbiedig en op God en Sy wil vir ons lewens te vertrou. Ons moet nooit die duiwel se ingewings of influisteringe gehoorsaam nie, en dit maak nie saak hoe heilig, reg of voordelig dit mag voorkom nie. Ons aanbid en dien nie die duiwel nie, en derhalwe is dit ons plig om slegs God, en Hom alleenlik, en Sy woord aan ons, (die Bybel) te eerbiedig. Om hierdie rede moet gelowiges nie toelaat dat die duiwel, ons sonde natuur/die vlees, of die wêreld/kosmos ons voorsê hoe, en wat, ons moet doen nie en dit maak nie saak hoe reg of mooi so ‘n bevel ook al mag klink nie. Ons moet slegs God en Sy opdragte aan ons eerbiedig en gehoorsaam. Soos reeds vroeër in hierdie studie genoem is, is die bevrediging van vleeslike behoeftes nie opsig self sonde nie. Hou in gedagte dat Satan nie ‘n openlike bose daad, as versoeking, voor die Here Jesus gehou het nie, maar ‘n liggaamlike behoefte, wat as dit nie bevredig sou word nie tot fisiese dood sou lei. Dit bly egter ‘n sonde om enige behoefte op grond van Satan se voorstelle te gehoorsaam. Die einddoel wat die duiwel, die sonde natuur of die wêreld/kosmos aan ons mag voorhou mag dalk mooi en reg wees, maar die wyse waardeur so iets dan bekom sou word is verkeerd. Die einddoel of resultaat regverdig nooit die metode nie! Dit is altyd ‘n sonde om die duiwel te gehoorsaam, hom te aanbid, en/of om God se wil vir ons lewens te weerstaan. Mens mag nooit enige behoefte (maak nie saak hoe eerbaar of noodsaaklik dit mag voorkom nie) op ‘n oneerlike of sondige wyse of metode bevredig nie.

Ter Afsluiting: Omrede hierdie artikel alreeds te lank is, gaan ek dit hier afsluit en in die volgende artikel met hierdie studie voortgaan. Wat die inhoud van hierdie studie aanbetref, is dit altyd belangrik dat ons as gelowiges die versoeking weerstaan om slegs te lewe om ons vleeslike, asook tydelike behoeftes te bevredig. Dit is nie raadsaam om altyd die maklikste uitweg, wat ons op die weg van persoonlike gemak en sekuriteit (persoonlik sowel as finansieel) lei, na te streef nie. Instede daarvan om die maklikste uitweg na te streef, behoort ons eerder God, en Sy wil vir ons lewens, asook Sy woord aan ons (Die Bybel) te eerbiedig. (maak nie saak hoe moeilik of ongewild so ‘n keuse dalk aan ander mag voorkom nie.) Dit beteken dat God, en Sy geopenbaarde wil, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, en wat gemeenskap met God, heiligmaking, asook getroue dissipelskap, wat die verspreiding van die Evangelie, asook ‘n lewe van praktiese geregtigheid, insluit die hoof prioriteite in ons lewens moet wees. Dit beteken ook dat God, en Sy wil vir ons, (soos wat dit in die Bybel opgeteken staan) ten alle tye voorrang oor ons eie behoeftes en begeertes moet geniet. Om God te gehoorsaam is selfs belangriker as om fisies in aan die lewe te bly. En dit geld veral in tye van versoeking wanneer die begeerte groot is om ons lewens ten koste van gehoorsaamheid aan God se woord te bewaar.
Mar 8:35 “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.
Joh 12:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. 12:25 Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. 12:26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.”

Hierdie taak mag dalk onmoontlik voorkom, maar onthou: “Die Gees van God; gebruik die Woord van God; in die kind van God; om die wil van God te doen; en dit alles deur die instaatstellende krag van God; tot die heerlikheid van God en die seën van ander mense om ons.” Sonder die instaatstellende krag van die Heilige Gees sou ons nooit hierdie hoë ideale kan uitleef nie, en daarom het alle wedergebore gelowiges eenmalig die Heilige Gees met wedergeboorte ontvang!
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Mens kan nooit enige menslike behoefte, maak nie saak hoe nodig, reg of eerbaar so ‘n behoefte of begeerte mag voorkom, op ‘n oneerlike of sondige wyse of metode bevredig nie. Ons kan verseker wees, dat die duiwel op subtiele wyses aan ons dinge sal voorhou, wat opsigself nie sondig mag wees nie, maar wat sou beteken dat ons hom gehoorsaam instede daarvan dat ons ten alle tye slegs God en Sy woord aan ons (die Bybel) moet gehoorsaam. Onthou, die einddoel of resultaat regverdig nooit die wyse of metode wat gebruik word om daardie einddoel of resultaat te bekom nie! Selfbehoud moet nooit ten koste van God en Sy wil geskied nie, want die duiwel sal ons heel waarskynlik in hierdie area van ons aardse bestaan versoek! (ek glo soos wat sake in ons land, en in die wêreld, stelselmatig versleg, al hoe meer gelowiges spesifiek op hierdie punt, versoek gaan word!) Mag die Here die oë van ons verstand verlig, sodat ons ten alle tye, alles tot eer van Sy heilige Naam en wil sal doen! Ja, dit mag dalk opofferings vereis, maar die loon sal op die ou einde van die dag buite proporsie groot wees! (Lees gerus ook die artikels “die Gelykenis van die ponde”; “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” asook “Hindernisse wat toegewyde dissipelskap verhinder”)

Seën groete

Vic

DIE DUIWEL SE AKTIWITEITE SOVER DIT DIE GELOWIGE AANBETREF. DEEL 1
DIE DUIWEL SE AKTIWITEITE SOVER DIT DIE GELOWIGE AANBETREF. DEEL 2

 

Deel met ander asb.