Satan se Strategieë

Satan se Strategieë

Metode nommer 1

Satan gebruik van verskillende strategieë om mense van die waarheid van die Evangelie te weerhou. Hy versoek die Here om hulle te sif. (Lukas 22:31) Sodoende versoek hy hulle om die Here te verloën, en probeer hy Jesus se dissipels so ver te kry om die Here Jesus nie meer as dissipels te volg nie. Indien hy slaag, word die verspreiding van die Evangelie verhinder en die verlore mensdom kom nie te hore van die verlossing wat daar in Jesus Christus is nie. Satan se versoek om iemand te sif kan slegs plaasvind indien die Vader toestemming daartoe verleen. (Job 1:8-13) Wanneer die Here die versoek, om deur Satan gesif te word, toestaan moet ons besef dat dit altyd vir ons eie beswil en verdere geestelike groei is.

Metode nommer 2

Satan gebruik verskillende metodes om mense te mislei, soos wat dit die geval in die gemeente van  die Korintiërs was. Die eerste metode was om die gemeente so ver te kry, om openlike sonde in die gemeente te duld. Sodoende verloor die gemeente sy getuienis in die samelewing en word Jesus se Naam belaster. Daar is niks wat ‘n ongelowige meer gekant teen die Evangelie maak, as mense wat beweer dat hulle kinders van die Here is, maar hulle lewens reflekteer net mooi die teenoorgestelde, deurdat hulle net soos die bose wêreld om hulle optree. Daarom probeer Satan om gelowiges te kry om in sonde te bly, sodat hy dit aan die wêreld kan voorhou. Mense word dan afgesit deur die optrede van die gelowiges en hulle steur hulle nie verder aan die aanhoor van die Evangelie nie. Neem kennis van die ernstige waarskuwings wat Jesus aan die gemeentes in Openbaring rig. (Openbaring 2:1 – 3:22) Een van die waarskuwings is juis dat Hy die getuienis van die gemeente sal verwyder, indien hulle nie tot bekering kom en met hulle sondes breek nie. Wanneer die duiwel se strategie nie werk, om die gelowiges te kry om in sonde te leef nie, en die gemeente kerklike tug toepas, soos wat die Bybel ons beveel, sal hy die gemeente kry om die dwalende skaap, wat tot bekering kom nie onmiddellik te vergewe nie. Sodoende laat hy die bekeerde sondaar onnodiglik lyding en hartseer verduur, en hoop hy die bekeerde gelowige gee moed op en hou heeltemal op om die Here as dissipel te volg.

Metode Nommer 3

Satanl gebruik ook onkruid om die woord van God in mense se lewens te smoor.
Luk 8:14 “En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.”
Kyk maar rond en jy sal opmerk dat die meeste belydende Christene hier deur Jesus self vir hulle wêreldgesindheid uitgewys word. As Satan nie mense onvrugbaar vir die saak van die Here kan kry, deur die sorge en bekommernisse van die lewe nie, bied hy hulle die wêreld en die wêreldse genot aan. Kyk maar wat wys op televisie. Geweld, seks, laster, okkultiese programme en duiwelse musiek wat losbandigheid en geweld voorstaan. Ek noem maar net ‘n paar van die wêreldse vorms van vermaak wat Satan aan die mensdom voorhou. Kinders en selfs grootmense word daagliks ure lank gebombardeer met hierdie gemors, dan verbaas dit ons as mense soos barbare optree en die wreedste misdade pleeg. Ons moet waak, want die duiwel sal aan ons die dinge voorhou wat ons die graagste wil hê, asook die dinge waarmee hy ons die maklikste kan verlei. Onthou, hy ken ons goed en weet wat ons swak punte is. Esau was honger en het sy eersgeborene reg verkoop vir ‘n bord lensiesop. Die duiwel het geweet dat Jesus honger in die woestyn was, en het Hom versoek om Sy Goddelikheid, in stryd met die Vader se Wil, te gebruik om Sy honger te stil. Indien hy Jesus probeer verlei het om in stryd met God die Vader se Wil op te tree, dan kan ons verseker wees dat hy ook sal poog om ons te verlei. Die duiwel sal ons met geld, rykdom en gewildheid probeer verlei, sodat ons geld op ‘n oneerlike wyse bekom of die verkryging van geld ons hoofdoel in die lewe maak. Hy wil ook hê dat ons al ons tyd op die versameling van rykdom spandeer, en sodoende weerhou hy ons om met die verspreiding van die Evangelie besig te wees. Hoeveel Predikers het nie a.g.v. buite-egtelike verhoudings hulle getuienis verloor en sodoende die Here se Naam in oneer gebring nie?

Metode nommer 4

Mat 13:21 “maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.”
Hierdie metode is een van Satan se gunsteling metodes om mense onvrugbaar te kry, en mense selfs so ver te kry om op te hou glo. Vervolging vind op verskillende metodes plaas, geweld, groepdruk, finansiële aanvalle, siektes, vyandskap van familie en vriende, skinder en laster ens. Ek is van mening, dat sodra ‘n persoon ‘n ernstige besluit neem om die Here te volg, daar altyd aanvalle van die duiwel te wagte kan wees. Hierdie feit is nie as gevolg van my eie menslike opinie nie nie, maar baseer my opinie slegs op God sen Sy woord aan ons, naamlik:
2Ti 3:12 “En almal wat ook godvrugtig (toegewy) wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”
Kyk maar wat het Job en Paulus (albei toegewyde dissipels van die Here) alles deurgemaak. Onthou die ou gesegde: “ Geloof wat nie getoets word nie is nie ware geloof nie!”

Predikers en evangeliste wat rykdom en plesier in hierdie wêreld aan mense voorhou, om hulle so ver te kry om Jesus aan te neem, verkondig leuens en doen nie die werk van die Here nie. (die voorspoed evangelie) Inteendeel, die Here het ons vooraf gewaarsku dat ons vervolg sal word indien ons Hom werklik aanneem.
Joh 15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”
Bogenoemde stelling geld veral vir diegene wat die Here as toegewyde dissipels wil navolg!

Die Bybel beskryf Satan as die god van hierdie wêreld, omrede die meeste mense kies om hom te volg en sy werke te doen. Hierdie stelling geld selfs vir mense wat hulleself Christene noem.
2Ko 4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,
2Ko 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
As die wêreld Jesus gehaat het, hoe kan ons dan verwag dat die wêreld ons moet liefhê? Dit kan mos nie wees nie! Indien die wêreld ons liefhet,  kan ons maar verseker wees dat ons die Here nie as toegewyde dissipels navolg soos wat ons behoort te doen nie. (1Jo 2:15 -17)

Metode nommer 5

Hy loop ook rond en brul soos ‘n leeu om mense bevrees te maak, sodat hulle nie God se wil uitoefen nie.
1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.”
Die duiwel is lief daarvoor om vrees te gebruik, om mense sover te kry om Jesus te verloën en om nie die Evangelie te verkondig nie. Kyk maar wat het met Petrus, en die ander Apostels, gebeur toe Jesus in die tuin van Getsémané gevangene geneem is en voor die hoëpriester verskyn het. Petrus het die Here verloën, omrede hy bang was. Voordat ons vingers na Petrus wys, hoeveel keer was ons nie al bang om vir die Here te getuig voor mense, veral indien ons nie weet wat hulle reaksie op ons boodskap gaan wees nie? Sal ons bv. ‘n besigheid geleentheid of werksaanbod verby laat gaan, omrede ons weet dat dit verkeerd vir ‘n Christen is om in daardie bedryf te wees? Of sal ons a.g.v. gebrek aan geloof die geleentheid aanneem, omrede ons bang is dat ons dalk nie weer so ‘n geleentheid sal kry nie, en dalk werkloos en honger gaan wees? Het die Here ons nie vermaan om eers Sy Koninkryk en Sy geregtigheid te soek, en dan sal Hy al die ander dinge wat ons nodig het outomaties bysit nie?
Mat 6:33 “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Hoe kleingelowig is ons nie somtyds nie?! En hoe hartseer moet ons  ongelowigheid nie ons Hemelse Vader maak nie!

Satan sal ook vrees gebruik, om ons so ver te kry om oorhaastig besluite te neem, met die hoop dat ons foute sal maak en so ‘n ramp oor onsself bring. Die Bybel maan ons egter om op die Here te wag totdat Hy ons gewys het wat om te doen.
Jes 50:10 “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? —laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! 50:11 Kyk, julle almal wat ‘n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord—wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.’
Ons bring die meeste van die probleme waarmee ons sukkel oor onsself, omrede ons nie op die Here wag, totdat ons seker is Hy ons in ‘n spesifieke rigting wil lei nie, maar uit vrees en onsekerheid neem ons vinnige besluite, en verbrand sodoende ons eie vingers, en blameer God dan vir die ramp wat ons oor onsself gebring het.
Dit is hoekom die Here ons altyd maan om nie te vrees nie, want waar vrees is, is werklike geloof afwesig. Ons moenie toelaat dat vrees, in enige van sy vorme, ons verhoed om te doen wat die Vader wil hê ons moet doen nie. Die duiwel sal gewis ons vrees vir mense teen ons gebruik, om sodoende te verhoed dat ons  die Evangelie met ander deel.

Metode nommer 6

Satan sal nie skroom om homself as ‘n engel van die lig voor te doen nie. Juis met die wete, dat die Antichris nie as ‘n monster sal voorkom wanneer hy op die toneel verskyn nie, maar hy sal juis as die mensdom se verlosser homself aan hulle voorhou, met beloftes dat hy die wêreld se probleme eens en vir altyd sal oplos. Hy sal soos Jesus Christus voorkom, en optree, en sal baie mense met sy mooi woordjies en verleidende optredes mislei. Net die wat hom teëstaan sal vir eers met sy woede en haat te doen kry. Hy sal so oortuigend voorkom, dat die oorgroot meerderheid van die mensdom agter hom sal aangaan en hom sal aanbid. Ek sal later ‘n volledige artikel oor die Antichris skryf. Wat ek egter hier wil duidelik maak, is die feit dat die duiwel nie sal skroom om homself as die engel van die lig voor te doen nie! So ook sal sy arbeiders ook nie skroom om hulleself as engele van die lig voor te doen nie. Nie almal wat in die Here se naam preek is noodwendig dienaars van die Here nie! 
2Ko 11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

Jesus self het ons gewaarsku, dat daar mense sal wees wat sal beweer dat hulle in Sy Naam gepreek, en selfs wonders gedoen het , dan sal Hy aan hulle sê dat Hy hulle nooit geken het nie.
Mat 7:22 “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
En verder:
Mat 24:24 “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
Is dit nie wat ons vandag sien gebeur nie? Die Here het aan ons die opdrag gelos om uit te gaan en die Evangelie te verkondig, nie om sogenaamde genesing dienste te hou nie. Genesing van siektes word die fokuspunt van genesings dienste en nie die verkondiging van die Evangelie en heiligmaking nie.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

Die fokus van ons bedrywighede moet die verkondiging van die Evangelie wees, nie genesing en beloftes van rykdom nie. Indien ons doen wat die Here wil hê ons moet doen, dan sal genesing en wonderwerke volg, net indien dit God se wil daarvoor is. Indien die klem van ons boodskap te veel op genesing gefokus word, dan kom die mense nie na die Here, as sondaar wat bevry wil word van hulle sondes nie, maar kom net om genees te word (Wat in die meeste gevalle nie eers plaasvind nie), en sodoende kom die mense vir die verkeerde redes na Jesus toe en verstaan nie die werklike Evangelie nie. Sulke mense kom in baie gevalle nie werklik tot reddende geloof nie. Alle gelowiges sal slegs bevry word van siektes en die fisiese dood wanneer die Here ons met die Wegraping kom haal . (fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking. Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees.) Slegs wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee is, sal ons vry van siektes en lyding wees, en die ontvangs van ons verheerlikte liggame is ‘n gebeurtenis wat nog in die toekoms gesetel is.  Baie sogenaamde geloofsgenesers woon nie genesing dienste by indien hulle ernstig siek word nie, maar gaan na die beste dokters toe. (met geld wat van mense afkomstig is wie na hulle vir genesing gekom het.) Bowenal, kom hulle ook tot sterwe soos enige ander mens. Ek glo dat die Here mense gesond maak, en Hy doen dit soms deur wonderwerke, en in die meeste gevalle deur die hande van geneeshere wie opgelei is in die geneeskunde. Ons moet die Here dank vir opgeleide geneeshere, omrede baie van ons al dood sou gewees het indien dit nie vir hulle dienste was nie. Ongelukkig is die meeste genesings dienste ‘n klug en vind daar nie ware sertifiseerbare genesings plaas nie! Vir die meeste van hierdie mense gaan dit oor geld en die geloofsgenesers maak baie daarvan! Hierdie mense maak hope geld, deur valse hoop aan desperate mense te bied, en mense word baiekeer aangemoedig om hulle “geloof saad” (Faith seed) in die vorm van geld aan die sogenaamde geneser te skenk. (Asof ons God kan omkoop om ‘n wonderwerk te verkry!) In my beskeie opinie, is hierdie vorm van optrede niks anders as ‘n klad op Hemelse Vader se Naam, Wie nie eens Sy enigste Seun gespaar het om vir ons sondes versoening te doen nie en wat daardie verlossing kosteloos aan enige iemand skenk wat die Evangelie glo.
Rom 8:32 “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
Ons hoop moet op Jesus en Sy koms vir ons gefokus wees, en ons moet daarvoor bid! Alleenlik met die wegraping sal ons werklik van siekte en die dood bevry wees. Ek weet wel van sertifiseerbare genesings wat die Here op wonderbaarlike wyses laat plaasvind het, maar ons moet eerlik wees en erken dat dit meer die uitsondering as die norm is. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Genees en genesing tydens die Post Apostoliese tydperk” asook “Genesing ‘n Skriftuurlike perspektief” te lees.) 

Metode nommer 7 (Oorvleuel met bostaande gedeelte)

Net soos die Here gebruik die duiwel mense om sy woord te versprei. Satan skroom nie om sy mense as pastore en predikers aan te wend om aan mense ‘n ander evangelie, en ‘n ander geloof te verkondig wat daartoe lei, dat mense dink hulle gered is ,maar eindelik op pad hel toe is nie.
Mat 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
24:11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
2Ko 11:13 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.
2Pe 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;
1Jo 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”

Bogenoemde teksgedeeltes is nie al wat die Here in die Bybel oor valse leerstellings en valse herders te sê het nie. Indien die Here dit noodsaaklik gevind het om ons herhaaldelik teen valse leerders en valse leerstellings te waarsku, sal ons wys wees om na Hom te luister en Sy Woord te bestudeer, sodat ons kan opmerk as ons besig is om verlei te word.Valse leerstellings is een van die grootse gevare van ons tyd, en dit versprei deur die kerk soos ‘n veldbrand en die duiwel oes baie siele op hierdie wyse in. Ons het egter die Woord, asook waarskuwings van God en sal wys wees om te weet wat en in Wie ons werklik glo.
2Ko 11:4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”

Valse leraars sal ‘n Jesus aan die mensdom bied om te aanbid, maar dit is nie die Jesus van die Bybel nie. Dit is definitief ook nie ‘n Jesus wat ons kan red van ons sondeskuld nie! Daar is die Jesus van die Nuwe Era (New Age Movement) wat nie die tweede Persoon in die Drie Eenheid is nie, maar net een van ‘n groep verligte wesens. So ook sal die Hindoes, Christus aanvaar, maar hulle maak Hom net een van die miljoene gode wat hulle het en is dus nie die enigste ware God nie. Jehova Getuies sien Jesus net as ‘n engel en nie gelyk in Godheid en attribute met die Vader nie. Die Jesus van Islam is nie God van die Bybel nie, maar net ‘n profeet wat gelykgestel word met Mohammed. So ‘n Jesus kan niemand red nie, ook nie homself nie. Deesdae, veral in ons grootste teologiese fakulteite in Suid Afrika, word Jesus se Godheid bevraagteken en self ontken. So ook Sy fisiese opstanding en maagdelike geboorte. Indien iemand so Jesus aanneem, kan hy nie gered word nie, want dit is nie die Here Jesus Christus (die God en Verlosser) wat die Bybel so duidelik beskryf nie. Op hierdie gebied win die duiwel baie grond en hordes mense word verlei en gaan gevolglik verlore. Indien hierdie mense nie tot inkeer kom nie, sal hulle verlore gaan. Daar is vele meer voorbeelde wat genoem kan word. Hierdie is maar net ‘n paar van die valse christusse wat die duiwel aan mense bied, die grootste een sal die Antichris wees , wat binnekort sy verskyning sal maak.

Metode nommer 8 (Oorvleuel met bostaande gedeelte)

Die duiwel sal ook, deur valse predikers, ‘n ander evangelie aan die mensdom bied, wat gewoonlik op werke gebaseer is, en dus nie op genade deur geloof in Jesus Christus alleenlik nie. Sulke evangelies kan baie subtiel aangebied word en baie mense gaan sodoende verlore. Die mens het geensins ‘n aandeel in sy eie verlossing nie! Al wat ‘n mens kan doen is om vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in die Here Jesus Christus (se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir die sondaar) te bekeer. Enige evangelie wat enigsins op die mens se werke berus, om verlossing te bewerkstellig, is ‘n valse evangelie en ‘n persoon wat so ‘n evangelie verkondig staan onder die Here se oordeel!
Gal 1:8 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 1:9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
Niks kan ook by die volkomendheid van Jesus se kruisdood gevoeg word nie. Ons word gered indien ons glo dat die Here Jesus Christus aan die kruis vir al ons sondes gesterf het en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het. Dit is slegs aan die kruis waar die Here vir ons sondes betaal het, en nie in die Hel of op enige ander plek soos wat baie mense verkondig nie.

Mens hoor deesdae ook dat ons, as Christene, met ander gelowe moet hande neem en saam met hulle na vrede moet streef. Daar word valslik verkondig dat ons almal maar op die einde van die dag dieselfde God aanbid en dien . Chrislam is een so voorbeeld, en dit is ‘n dwaallering wat nogal nogal vinnig aanklank in baie gemeentes vind. Die feit is dat Islam en die ware Christendom niks in gemeen met mekaar het nie, en ons aanbid nie dieselfde God nie! Islam ontken pertinent Jesus Christus se Goddelikheid, asook die Drie Eenheid, so daar kan geen sprake wees dat ons dieselfde God aanbid nie. Ons moet in liefde die Evangelie aan Moslems verkondig en hulle leerstelling heeltemal verwerp. Dit is egter nie wat huidiglik in baie gemeentes wêreldwyd plaasvind nie. Daar word nou gepoog om die twee gelowe onder een vaandel te verenig. Dit is egter soos om water met olie te wil meng. Dit kan nie gebeur nie! Ware Christenskap is baie eksklusief en dit maak geen plek vir samesmelting met enige ander geloof op aarde nie. Jesus het dit baie pertinent gestel, dat slegs Hy die enigste weg na die Vader is en daar geen ander weg naas Hom is nie! Jesus was nie net ‘n profeet gewees nie, maar was ook God in die vlees , (Volkome mens en volkome God) ‘n feit wat Islam heeltemal verwerp.
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Joh 8:24 Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.”
Let wel dat die “Ek Is” wat Jesus hiervan praat, Sy naam is, wat hy in Exodus aan Moses gegee het toe Moses, God om Sy Naam gevra het. Hierdie voorval het plaasgevind toe God (Jesus) met Moses uit die brandende bos gepraat het.
Eks 3:14 “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

Rick Warren en baie in die sogenaamde Ontluikende Kerk is skuldig aan hierdie dwaalleerstelling en dit gaan daartoe lei dat baie mense verlei en verlore sal gaan. Rick Warren is baie gewild onder seker kerk denominasies en sy The Purpose Driven Life is deur baie mense in Bybelstudiegroepe gebruik. Die Bybel waarsku ons egter baie ernstig!
1Jo 2:22 “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.
1Jo 2:23 Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.
1Jo 4:2 Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;  4:3 en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.”
Islam ontken dat Jesus God in die vlees is en mens wonder net hoe mense soos Rick Warren nie bewus van hierdie feite kan wees nie? Het hulle dalk ‘n ander agenda? Vir wie dien hulle in werklikheid?

Metode Nommer 9 (Oorvleuel met bostaande gedeelte)

Die duiwel gebruik ook bose geeste om die Heilige Gees na te maak en sodoende mense te mislei. Kyk maar wat gebeur in baie kerke en hoe mense soos Todd Bentley ‘n gees versprei wat alles behalwe die Heilige Gees is. Dit is verskriklik soos wat hierdie mense tekere gaan. Hierdie gees wat hulle kan uitdeel soos wat hulle wil, kom baie meer ooreen met die Kundalini gees, wat vanuit die Hindoeïsme afkomstig is, en wat definitief nie die Heilige Gees is nie. Die Heilige Gees maak Sy tuiste in mense wat met Bybelse geloof die Evangelie glo en gehoorsaam, nie soos wat enige mens besluit om Hom uit te deel nie. Dit grens aan Godslastering en wie dink hierdie mense is hulle. Kyk maar hoeveel mense volg hierdie valse profete na, net om die sogenaamde “salwing” te ontvang. Die Bybel maak dit egter duidelik, dat dit die Here Jesus Christus is wat ‘n persoon wie die Evangelie glo salf met die Heilige Gees en nie mense nie.
Mat 3:11 “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
Ef. 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
 

‘n Persoon ontvang die Heilige Gees eenmaal tydens die glo van die Evangelie en nie weer daarna nie. Deesdae vind mens vreemde dinge wat in die baie gemeentes aan die gang is en hierdie optredes is nie die werking van die Heilige Gees nie.
1Jo 4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”

Metode Nommer 10 (Oorvleuel met bogenoemde gedeeltes)

Die duiwel stel ook strikke om mense gevange te neem om sy wil te doen.
2Ti 2:25 “Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, 2:26 en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.”
Die hartseerste van alles, is die feit dat die duiwel ook al male sonder tal, gelowiges gevangene geneem en hulle gekry om sy wil te doen, inplaas daarvan om God se wil te doen. Daar is net te veel wyses waarop hy dit regkry om in een artikel te beskryf, maar seker een van die uitstaande metodes is om die gelowige te kry om niks te sê wanneer daar valse leerstellings, sonde en selfs valse gode in die gemeente toegelaat word nie.
Jes 5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.
Is dit nie wat vandag gebeur nie? Sodra ‘n Prediker of pastoor sonde, sonde noem word hy as ‘n kweselaar uitgeskel of selfs van haat spraak beskuldig. Homoseksualiteit en bandeloosheid word as lewens keuses bestempel en word nie meer as sonde gesien nie. God het nooit verander nie en kan ook nie, so Hy haat nog steeds sonde.
Jud 1:23 “maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.
1Ti 5:22 Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”

Jesus het nie aan die Kruis gesterf, sodat ons in ons sondes kan voortleef nie, maar het gesterwe, sodat ons van die houvas wat sonde op ons het, bevry kan word (heiligmaking) en goeie werke kan voorstaan.
Efs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking.)
Die duiwel sal baie tevrede wees indien Christene oor verkeerdhede stilbly en niks met die verkondiging van die Evangelie te doen wil hê nie. Ons kan op baie wyses tot die verspreiding van die Evangelie ‘n bydrae lewer, maar wat doen die meeste van ons? Absoluut niks!
Jesus het ons egter gewaarsku, naamlik:
Luk 11:23 “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.”
Kom ons gee die nodige agting aan God se woord en gehoorsaam dit.

Ter Afsluiting:

Hierdie is maar kortlikse weergawe van die metodes wat die duiwel gebruik om te verhoed dat die ware Evangelie verkondig word, en dat mense tot geloof in Jesus Christus kom. Baie meer kan oor hierdie onderwerp geskryf word, maar my doel was net om gelowiges te kry om vir hulleself te dink en redeneer. Ons kan nie net op mense staat maak vir wat ons glo nie, maar ons moet na die Bybel self gaan en seker maak wat ons glo. Ons moet die Heilige Gees vra om ons in die waarheid te lei, en getrou ons Bybels bestudeer, en alles wat mense dalk aan ons verkondig met die Woord van God self vergelyk om sodoende te verseker dat ons nie die slagoffers van dwaalleer is nie. (Handelinge 17:11) As gelowiges moet ons bewus van die feit wees dat ons in ‘n stryd gewikkel is en dat ons nugter en waaksaam moet wees.
1Kor. 15:34 “Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.”

Die Oplossing

Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 6:14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 6:15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 6:18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges”

Kom ons bid ook vir mekaar.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.