Koninkryk

Matt.12:28 en Christus se koninkryk op aarde.

Proponente van die koninkryk nou leerstelling maak onder andere van Matt.12:28 as proefteks gebruik om sodoende te bewys dat Christus se koninkryk met Sy eerste koms alreeds op aarde gevestig is. Met die skryf van hierdie artikel sal daar gedemonstreer word dat Christus nie Sy koninkryk tydens Sy eerste kom op aarde gevestig het nie, en dat dit nog ‘n gebeurtenis is wat in die toekoms, na afloop van die Groot Verdrukking, sal plaasvind. Matt.21:28 kan dus nie as proefteks gebruik word om te verklaar dat die koninkryk huidiglik op aarde gevestig is nie. Matt.12:28 lees soos volg:
Matt.12:28 Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.”
Baie mense wat glo dat Christus se koninkryk alreeds gedeeltelik, of selfs in ‘n geestelike sin, op aarde gevestig is, maak van bostaande teksgedeelte gebruik om hulle leerstelling te regverdig. Is hierdie aanname egter korrek?

Voordat ons met die studie begin is dit belangrik om te begryp dat Israel as volk hulle konsep van die koninkryk vanuit die Ou Testament bekom het. Hierdie koninkryk het ‘n spesifieke geografiese gebied vir Israel ingesluit.
Gen.17:8 “En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, (‘n Spesifieke geografiese gebied) as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
Gen.48:4 en vir my gesê: Kyk, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot ‘n menigte van volke maak, en Ek sal aan jou nageslag ná jou hierdie land as ewige besitting gee.”

Selfs na Christus se kruisiging, en opstanding vanuit die dood, het Sy dissipels nog steeds hierdie siening gehandhaaf.
Hand.1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Indien die dissipels se siening aangaande die koninkryk foutief was, dan sou die Here hulle gekorrigeer het. Hy doen dit egter nie en herinner hulle dat die tye vir die vervulling van hulle verwagte koninkryk in die Vader se hande is.
Hand.1:7 “En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;”
Dit is binne die konteks van hierdie agtergrondskennis waarin Matt12:28 geïnterpreteer moet word.

Daarbenewens behoort Matt.12:28 ook saam met Luk.11:19 bestudeer word, naamlik:
Luk.11:19 “En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. 20 Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.”
Met Christus eerste koms was die koninkryk, in die Persoon van die Here Jesus Christus, aan Israel aangebied. In daardie sin het die koninkryk naby gekom. Dit sluit die boodskap van Johannes die Doper, Christus self en daarna Sy dissipels in. Die Joodse volk, as geheel, het egter hulle Messias, en derhalwe die koninkryk verwerp, wat daartoe aanleiding gegee het dat die Messiaanse Koninkryk van Christus uitgestel is. Die aanbod van die koninkryk sal eers baie later, in die toekoms, tydens die Verdrukking aan die Joodse volk aangebied en deur hulle aanvaar word.

Indien Matt.12:28 in die raamwerk van die aanbod van die koninkryk geïnterpreteer word, kan mens duidelik sien dat die verskillende verskynsels wat in die Here Jesus Christus se lewe waargeneem is, naamlik Sy wonderwerke, die vermeerdering van die brode, die verheerliking van Christus op die berg, (Matt.17:1-8) die genesings, ensovoorts as ‘n lewende voorskou beskou moet word van hoe die die wêreld sou wees indien hulle Hom as hulle Messias sou aanvaar het. Dit is ‘n historiese feit dat Christus a.g.v. die Joodse nasie se ongeloof nie Sy koninkryk tydens Sy eerste koms op aarde gevestig het nie. Die vrederyk van Christus is ‘n gebeurtenis wat nog in die toekoms sal plaasvind, omrede hierdie manifestasies nie huidiglik op aarde die norm is nie. (Omrede die Joodse volk Hom met Sy eerste koms verwerp het, het Hy nie Sy koninkryk tydens Sy eerste koms op aarde gevestig nie.) Beide die tekens (Matt.11:4; 16:3) en die kragte (Hebr.2:3; 6:5) van die koninkryk (Christus se Messiaanse koninkryk wat deur Homself na afloop van Sy wederkoms op aarde gevestig sal word) was in Christus en sy werke ten toon gestel. Dus kon die teenwoordigheid van die koninkryk, in Christus, ‘n werklikheid vir Israel (en die wêreld as geheel) word, indien die Joodse volk hulle verantwoordelikheid t.o.v. die aanvaarding van hulle Koning uitgevoer het.
Deut.17:15 “dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.”

Vervolgens ‘n verdere paar redes waarom Matt.12:28 as ‘n aanbod van die koninkryk aan Israel geïnterpreteer behoort te word. (Indien mens in ag neem dat die dissipels hulle konsep van die Messiaanse koninkryk vanuit die Ou Testamentiese Skrifte bekom het en waarop die Here met Sy eerste koms voortgebou het.) Boonop word die konsep van die aanbod van die koninkryk nie slegs in Matt12:28 aangetref nie.

In die Ou Testament vind mens herhaaldelik die konsep, dat ‘n party aan wie ‘n voordeel aangebied word, eerstens gewillig moet wees om die terme vir die ontvangs van daardie voordeel te aanvaar, alvorens die voordeel in ontvangs geneem kan word. ‘n Mooi voorbeeld hiervan vind mens in 1 Kon.11:38 naamlik:
1Kon.11:38 “En as jy luister na alles wat Ek jou beveel en wandel in my weë en doen wat reg is in my oë deur my insettinge en my gebooie te hou, soos my kneg Dawid gedoen het, dan sal Ek met jou wees en vir jou ‘n bestendige huis stig, soos Ek vir Dawid gestig het, en Israel aan jou gee.”
‘n Verdere voorbeeld vind mens in Jer.18:7-10 naamlik:
Jer.18:7 “In een oomblik sal Ek spreek oor ‘n nasie en oor ‘n koninkryk om dit uit te ruk en om te gooi en te vernietig; 8 maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen. 9 En in ‘n ander oomblik sal Ek spreek oor ‘n nasie en oor ‘n koninkryk om dit te bou en te plant; 10 maar as hulle doen wat verkeerd is in my oë deur na my stem nie te luister nie, dan sal Ek berou hê oor die goeie waarmee Ek gesê het dat Ek aan hulle goed sal doen.”

Daarbenewens is Israel se verbondsstruktuur van so ‘n aard, dat die volk eerstens tot bekering moet kom alvorens die Koninkryk deur Christus op aarde gevestig sal word. Ek gaan net ‘n uittreksel van die Mosaïese Verbond ooreenkoms tussen God en die Joodse volk hier weergee. Die leser word aangeraai om self die hele hoofstukke van Lev.26 en Deut.28 sorgvuldig deur te lees.
Lev.26:38 “Maar julle sal omkom onder die nasies, en die land van julle vyande sal julle verteer. 39 En die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle ongeregtigheid wegteer in die lande van julle vyande, ja, ook oor die ongeregtighede van hulle vaders saam met hulle wegteer. 40 Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen my gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het, 41 sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid, 42 sal Ek dink aan my verbond met Jakob; en ook aan my verbond met Isak en ook aan my verbond met Abraham sal Ek dink, en aan die land sal Ek dink. 43 Maar die land moet eers van hulle verlate wees en moet vir sy sabbatte vergoeding kry, terwyl dit woes lê sonder hulle; en húlle sal vir hul ongeregtigheid boet, omdat, ja, omdat hulle my verordeninge verwerp en hulle siel van my insettinge ‘n afsku gehad het. 44 Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die HERE hulle God. 45 Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die HERE. 46 Dit is die insettinge en die verordeninge en die wette wat die HERE tussen Hom en die kinders van Israel by die berg Sinai deur die diens van Moses gegee het.”
Bostaande konteks was nie net ‘n verbondsooreenkoms tussen Israel en God nie, maar was ook n profesie van toekomstige gebeure wat sou plaasvind. Israel se geskiedenis bevestig hierdie feit. Hou dit egter ingedagte dat hierdie ‘n verbond tussen God en Israel is en dit sluit nie enige ander nasies in nie. Die verbond van Moses is slegs met die Joodse nasie gemaak. Wanneer Israel teen die einde van die Groot Verdrukking volkome tot bekering kom, dan sal die Here Jesus Christus se wederkoms plaasvind en sal Hy Sy Messiaanse koninkryk op aarde vestig. Maar voordat dit kan plaasvind moet Israel eers as volk tot Christus hulle Messias bekeer. (Iets wat nog nie plaasgevind het nie. Met geringe uitsonderings is die hele Joodse volk nog steeds in ongeloof, maar hierdie stand van sake sal tydens die Groot Verdrukking tot ‘n einde kom, wanneer Israel weereens ‘n Joodse volksmoord in die oë staar.)

Verder moet die konteks waarin ‘n gebeurtenis plaasvind in gedagte gehou word wanneer die Bybel geïnterpreteer word. Christus se stelling dat die koninkryk naby gekom het was slegs tot die die Joodse volk beperk. Matt.10:5-7 stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Matt.5: “Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; 6 maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. 7 En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Die wondertekens wat die apostels sou verrig, sou meer as een rede hê. Eerstens dien die wonderwerke as bewys dat die boodskap wat hulle verkondig van God afkomstig is. Tweedens, dien die wonderwerke ook as demonstrasie aan die volk van hoe sake in die Messiaanse Koninkryk van Christus sou wees, indien hulle die Here Jesus Christus as hulle lank beloofde Messias sou aanvaar.
Matt.10:8 “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.”
Bostaande wonderwerke sal slegs ‘n algemene verskynsel tydens Christus se vrederyk op aarde word. Derhalwe is dit verkeerd om te dink dat gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie leef nou alreeds hierdie wonderwerke as normatief kan verwag. Die Joodse volk moes egter eers die Here Jesus Christus as hulle Messias aanvaar het alvorens Hy Sy koninkryk op aarde sou vestig. Met Christus se eerste koms was die Koning en die Koninkryk naby hulle gewees, omrede Hy Homself as hulle Messias voorgestel het. Sou hulle Hom aanvaar, sou Hy die koninkryk op aarde gevestig opgerig het.

Die voorwaardelike aard van die aanbod van die koninkryk kan in Christus se stellings waargeneem word, naamlik:
Matt.11:9 “Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as ‘n profeet! 10 Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u (Die Here Jesus Christus) aangesig, wat u weg voor U (Die Here Jesus Christus) uit sal regmaak.
Matt.11:14 En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom. 15 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”

Bogenoemde teksgedeelte is een van die duidelikste bewyse dat Christus met Sy eerste koms die koninkryk aan Israel aangebied het. Sou hulle Johannes die Doper se prediking aangaande Christus aanvaar het, dan sou hulle outomaties Christus as hulle Messias aanvaar het en dan sou die koninkryk op aarde gevestig gewees het. Onthou, die koms van die koninkryk is afhangend van die feit dat die Joodse volk die Here Jesus Christus as hulle Messias moet aanvaar.

Dit is ook verder opmerklik dat die Here Jesus Christus na Mattheus 12 en Lukas 11 nie ‘n verdere aankondiging, dat die koninkryk naby gekom het, maak nie. Dit is hier waar ons vind dat die Fariseërs, nadat hulle Christus se wonderwerke wat Hy in die krag van die Heilige Gees gedoen het, waargeneem het dit aan die krag van Beëlsebul/Satan toegeskryf het. Dit is tydens hierdie gebeure waar dit duidelik geblyk het dat Israel die Here Jesus Christus as hulle lank beloofde Messias sou verwerp. Na hierdie gebeure vind ons dat die Here nooit weer die stelling maak dat die koninkryk naby gekom het nie, en van toe af het Hy in gelykenisse met die volk begin praat. Die rede hiervoor was eenvoudig. Omrede die ongelowige Jode nie die lig wat Hy alreeds aan hulle in Sy vroeë bediening gegee aanvaar het nie, (hulle was dus uit uie keuse ongelowig) word enige verdere insig van hulle weerhou. (Hier geld die beginsel wat dit duidelik stel dat diegene wat het, aan hulle sal meer gegee word. Aan diegene wat deur ongeloof nie het nie, sal ook dit wat hulle het weggeneem word.)
Matt.13:3 “En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ‘n Saaier het uitgegaan om te saai;
Matt.13:10 “En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit,
(hulle het self hulle oë gesluit. Hulle was dus ongelowig en wou nie werklik die waarheid ken nie.) sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”
Lig wat verwerp word, word later lig wat weerhou word!

In Matt.23:36-39 vind ons dat die Here daardie generasie Jode, wat tydens Sy eerste koms gelewe het, en wat die aanbod van die koninkryk verwerp het, oordeel juis omrede hulle nie die tyd van hulle besoeking raakgesien het nie.
Matt.23:36 “Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. 37 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! 38 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!”
Luk.19:41“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween 42 en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. 43 Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. 44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.”
(Die verowering van Jerusalem en die verwoesting van die tempel in 70nC”)
Boonop het die Here Jesus Christus dit duidelik gestel, dat Hy nie sou terugkom aarde toe om Sy koninkryk hier te vestig nie, tot en met Israel as volk Hom in geloof aanneem nie.
Matt.23:39 “Want Ek sê vir julle: Julle (Israel)sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle (Israel) sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (‘n Gebeurtenis wat slegs na afloop van die Groot Verdrukking sal plaasvind, wanneer Israel gewisse uitwissing in die oë staar en die Here se wederkoms sal plaasvind.)

Die gelykenisse van die verwerping gee ‘n baie duidelike aanduiding dat die koninkryk uitgestel gaan wees. In die eerste gedeelte van die Evangelie volgens Lukas vind ons dat die koninkryk as naby voorgestel word.
Luk.10:9 “En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom. 10 Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en sê: 11 Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het. 12 En Ek sê vir julle: Vir Sodom sal dit verdraagliker wees in dié dag as vir daardie stad.”

Maar later in Sy bediening het die Here die gelykenis van die ponde gegee. Die rede waarom die Here die gelykenis vertel het, was om dit duidelik te maak dat die koninkryk nie met Sy eerste koms op aarde gevestig sou word nie. (Die koninkryk was toe nie meer naby nie) Met die gelykenis van die ponde het die Here dit duidelik gestel dat die koninkryk eerder tot ‘n latere tyd in die wêreld se geskiedenis uitgestel sal wees.
Luk.19:11 “En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ‘n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was (Jesus Christus was op pad Jerusalem toe om daar gekruisig te word, nie om die koninkryk op te rig nie.) en hulle (die dissipels)gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn.” (‘n Gebeurtenis wat nie met Christus se eerste koms plaasgevind het nie.)

Alhoewel die koninkryk uitgestel is, het Sy diensknegte nog steeds verpligtinge wat hulle in die die interim tydperk van die afwesigheid van die koninkryk op aarde moet verrig, en waarvoor hulle verantwoording sal moet doen.
Luk.19:12 “Hy het dan gesê: ‘n Man van hoë geboorte (Die Here Jesus Christus.) het na ‘n ver land (Sy hemelvaart na afloop van Sy kruisiging en opstanding vanuit die dood.) gereis om vir homself ‘n koningskap te ontvang en dan terug te kom. (Sy wederkoms aarde toe om Sy koninkryk hier te vestig) 13 En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. (wederkoms)14 Maar sy medeburgers (Ongelowige Jode) het hom gehaat en ‘n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. 15 En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, (Sy wederkoms) sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.” (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Gelykenis van die ponde” te lees.)

Slegs in die konteks van die sewentigste week van Daniël, naamlik die Verdrukking, word daar weer verklaar dat die koninkryk naby is.
Matt.24:14 “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; (slegs met die aanvang van die komende Verdrukking sal die evangelie van die koninkryk aan die hele wêreld verkondig word.) en dan sal die einde kom.
Luk.21:31 So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.”
(die verskyning van die Antichris, die ontheiliging van die Tempel in Jerusalem, en die meegaande tekens, ensovoorts.)
Die konsep van die koninkryk wat naby gekom het, sal eers weer in die toekoms tydens die Verdrukking herhaal word, en dit is daardie generasie Jode wat as volk die Here sal aanneem en dan sal die koninkryk met Christus se wederkoms verskyn.

Ter Afsluiting: Indien mens die stellings dat die koninkryk naby gekom het in die korrekte konteks interpreteer, dan is dit duidelik dat die Here Jesus Christus se stelling in Matt.12:28 nie ‘n stelling is dat die koninkryk alreeds op aarde gevestig is nie. Sy stelling dat die koninkryk by hulle gekom het was omrede Hy teenwoordig was en die koninkryk in Sy Persoon aan hulle aangebied het. Die wonderwerke wat Sy bediening gekenmerk het, sou ‘n alledaagse werklikheid word indien hulle Hom as hulle Messias aanvaar het. (Genoemde wonderwerke sal tydens die komende Duisendjarige vrederyk van Christus ‘n alledaagse verskynsel wees, maar dit sal slegs plaasvind wanneer die Joodse volk hulle Messias teen die einde van die Groot verdrukking aanvaar en Hom sal aanroep om hulle te verlos.) Derhalwe kan Matt.12:28 nie as proefteks gebruik word om te beweer dat die koninkryk alreeds op aarde gevestig is nie. Met die komende artikels, wat oor hierdie onderwerp handel, sal hierdie feit al hoe duideliker word. Dit bly egter ‘n feit dat die koninkryk van Israel deur die prediking van Johannes die Doper, asook Christus aan die volk Israel aangebied was. Matt.12:28 moet in lig van die raamwerk van hierdie feite geïnterpreteer word. Inaggenome hierdie feite sou dit foutief wees om te verklaar dat Matt.12:28 die ontstaan van die koninkryk in geestelike vorm op aarde te interpreteer.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.