Satan en die nasies

Satan se optrede ten opsigte van die nasies. Deel 1

Wanneer dit by die onderwerp van Satan, en die gevalle engele kom, is dit van uiterste belang dat ons, ons leerstellings vanuit die Bybel bekom, en ons moet nie op buite Bybelse profesie, vleeslike manifestasies, ons omstandighede, asook menslike opinies en tradisies staatmaak nie. Ons leerstellings aangaande die engele (heilige engele, sowel as as die gevalle engele wat Satan insluit) moet slegs vanuit die Bybel d.m.v. induktiewe studie van alles wat in die Bybels staan bekom word. Ons moet ook daarteen waak om ons eie opinies (wat ons leerstellings insluit) in die Bybel in te lees. God moet toegelaat word om deur Sy woord met ons te praat, en dit is ons plig om vas te stel wat Hy aan ons wil sê en ons moet daarteen waak om ons woorde in Sy mond te plaas. Indien ons hierdie waarskuwing nie ernstig opneem nie, ontstaan die gevaar dat ons vir onsself ‘n godsdiensstelsel gaan oprig wat nie met die Here se leer in harmonie is nie. (wat niks anders as dwaalleer, en dus Satan se wil, is nie) Baie sogenaamde kennis, wat deur moderne Apostels en profete, onder groot gedeeltes van die belydende Christendom, verkondig word, is niks anders as menslike verbeeldingsvlugte, en opinies wat op buite Bybelse manifestasies gebaseer is nie. Slegs die Bybel moet as grondslag vir al ons leerstellinge dien! (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking” te lees.) Indien ons, ons eie leerstellings op die Skrifte afdwing, of inlees, gaan dit verreikende gevolge vir die belydende Christendom, asook die wêreld in geheel, teweeg bring. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons seker maak ons die woord van God reg sny, net soos wat God ons in Sy woord waarsku!
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die Skrifte stel dit baie duidelik dat ons nie buite Bybelse opinies en profesie nodig het om volkome toegerus te wees nie.
2Tim.3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Om hierdie rede moet ons onsself daarop toespits om getroue studente van die Skrifte te wees.

Derhalwe is dit van uiterste belang om van die konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese interpretasie metode gebruik te maak, en om die Bybel net soos enige ander dokument, soos byvoorbeeld ‘n koerant artikel, of ‘n kontrak tussen twee persone benader en bestudeer moet word. Ons moet ten sterkste die versoeking weerstaan om die Skrifte te wil vergeestelik, of van die allegoriese metode van Bybel uitleg gebruik te maak, anders kan ons in die Bybel inlees net wat ons wil, en kan die Bybel gebruik word om enige leerstelling (selfs goddelose leerstellings, wat die dwaalleerstellings soos byvoorbeeld “Vervangingsteologie” asook “Bevryding teologie” insluit te verkondig en regverdig.) Sulke optrede kan daartoe lei dat groot getalle mense verkeerdelik onder die indruk is dat hulle God dien, en te laat gaan uitvind dat hulle in werklikheid Satan en sy doelstellings gedien het. Om hierdie rede is dit ook van uiterste belang om dieselfde metode wat ons gebruik om die Ou Testament te interpreteer, ook gebruik om ook die Nuwe Testament op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse te interpreteer. (Mattheus 28:19-20; Handelinge 2:41-42; 18:8; 1 Korinthiërs 1:14-16; 11:23-26)

Vir sover dit die onderwerp, van Satan se optredes ten opsigte van die nasies aanbetref, moet die leser in gedagte hou dat hierdie onderwerp van so ‘n omvattende, asook omvangryke aard is, dat ‘n enkele artikel nooit die volle omvang van hierdie onderwerp sal kan aanspreek nie. Derhalwe is my doel met die skryf van hierdie artikel, slegs om die leser te herinner dat daar wel ‘n onsigbare geesteswêreld is, wat deur geestelike wesens bewoon word, en dat daardie geestelike wesens wat as engele, asook gevalle engele bekendstaan, oor uiteenlopende agendas beskik waardeur hulle poog om menslike optrede, godsdienstige leerstellings, asook politieke ideologieë, te skep, en/of te beïnvloed en waarvan ons grotendeels van slegs die menslike uitleef van hierdie ideologie in die fisiese skepping bewus is. Die heilige engele wat nie saam met Satan teen die Here gerebelleer het nie, is getrou aan God, en word deur God gebruik om Sy doelwitte met die skepping, asook God se doelwitte met die huidige wêreld se geskiedenis, tot ‘n besliste punt te bring, waardeur Hy aan al Sy skepsele sal demonstreer dat slegs Hy as die enigste soewereine God die reg, en vermoeë, beskik om die wêreld asook die hele skepping suksesvol te regeer. Na afloop van hierdie huidige wêreld se geskiedenis, sal God, Sy heerlikheid volkome tentoongestel het, en daarbenewens aan Sy skepsels die sinneloosheid, suiwer boosheid, asook rampspoedige gevolge wat enige vorm van rebellie teen Hom op ‘n praktiese wyse gedemonstreer het. Boonop sal God ook Sy geregtigheid, genade en liefde d.m.v. Christus se voltooide werk aan die kruis aan die mensdom gedemonstreer het en sal Hy wel ‘n einde aan enige vorm van rebellie en sonde maak. Die Bybelse filosofie van die skepping se geskiedenis (soos wat ons huidiglik die wêreld ken) het dus ‘n definitiewe beginpunt en ‘n definitiewe eindpunt. Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die duiwel se optrede sover dit die gelowige aanbetref” te lees wat aan die leser nog verdere inligting aangaande ‘n skriftuurlike filosofie van die skepping se geskiedenis sal weergee.

Dit ook van uiterste belang om die geestelike stryd slegs aan te pak soos wat God dit in Sy woord aan ons weergee. Boonop moet ons ten alle kostes tegnieke/metodes vermy wat met die Skrifte in botsing kom, of wat op teksgedeeltes wat buite konteks aangehaal is gebaseer of afgelei is. (Ongelukkig maak ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom hulself aan hierdie mistasting skuldig.) Een so ‘n voorbeeld, waardeur ‘n groot persentasie van die belydende Christendom hulle aan skuldig maak, is om te verkondig dat gelowiges oor die vermoeë beskik om bose geeste, wie oor geografiese gebiede en stede aangestel is, te bind wat dan tot gevolg sal hê dat die geografiese gebied of stad vir die Here gewen sal word. Hierdie leerstelling kom nie vanuit die Bybel nie en is dus nie van God afkomstig nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om ook die artikels “Bind en ontbind van bose geeste” asook die artikel “Is Bybelse leerstellings werklik so belangrik” te lees.

Die Skrifte maak geen geheim daarvan dat Satan en sy bose geeste poog om die mensdom, en veral persone wat ‘n land (of geografiese area) se beleidsrigting moet bepaal, wil beïnvloed om hulle doelwitte te bereik nie. Om hierdie rede is die boek van Daniël so insiggewend, en is dit ‘n boek wat deur elke gelowige deeglik bestudeer behoort te word. Slegs die Skrifte sal as grondslag vir hierdie studie aangaande Satan se aktiwiteite ten opsigte van die nasies dien. Die boek Daniël bevat uiters belangrike inligting aangaande Satan se optrede t.o.v. die nasies en sal ook dan as vertrekpunt vir hierdie studie dien. Ons kan nou na die spesifieke teksgedeelte gaan wat ek hier sal aanhaal en bespreek. Die leser word egter ten sterkste aangeraai om self die hele boek van Daniël te lees.

Dan.10:10 “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan. 11 En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. 12 Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; 13 maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. 14 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk (hierdie spesifieke konteks handel oor die volk Israel, nie die Afrikaners, Zulus of enige ander nasie nie) aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms. 15 En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword. 16 En kyk, een wat soos ‘n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat teenoor my staan, gesê: My heer, deur die gesig het krampe my oorval en het ek geen krag oorgehou nie. 17 En hoe kan so ‘n geringe kneg van my heer met so ‘n heer van my spreek? Wat my aangaan, bestaan daar nou geen krag in my nie, en geen asem het in my oorgebly nie. 18 Toe het die een wat soos ‘n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk 19 en gesê: Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk. 20 Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors (engel)van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors (Satan se gesant, naamlik n gevalle engel) van Griekeland. 21 Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle (die volk Israel se engel) vors Mígael.
Dan.11:1 En ek, in die eerste jaar van Daríus, die Meder, het ek
(die engel wat met na Daniël gestuur is) opgetree as ‘n versterking en beskutting vir hóm.” (naamlik koning Darius)Die fout wat baie mense maak is om nie die onderskeid tussen die vors (engel) van die Perse en die konings van Persië raak te sien nie. Die engel wat die boodskap aan Daniël oordra, tref wel duidelik ‘n onderskeid tussen die vors van Persië en die konings van Persië. Dit is van uiterste belang om nie hierdie onderskeid mis te kyk nie, anders gaan dit tot verkeerde gevolgtrekkings lei. Dan. 10:13 “maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.”
Dus was die vors/engel van die Perse nie dieselfde wese as die konings van Persië nie!

By ‘n ander geleentheid het die engel die volgende stelling aan die profeet Daniël gemaak, naamlik:
Dan.12:1 “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; (die Groot Verdrukking) maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”
Bestudeer asb die volgende illustrasie, genaamd “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking” asook die illustrasie genaamd “die Sewe Dispensasies

Vanuit bogenoemde teksgedeeltes is dit baie duidelik dat die vors van Persië, ‘n bose gees was wie die engel, wie as boodskapper van God na die profeet Daniël gestuur is, teengestaan het. Die feit dat die vors Mígael, wie die bonatuurlike boodskapper teen die vors/gevalle engel van Persië gehelp het, bevestig hierdie feit. Dieselfde feit geld vir die bose gees/engel van Griekeland wat na die vors van Persië teen die boodskapper/engel van God opgetree het. (Dan.10:20-21)
Dan.10:20 “Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors (engel)van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors (engel)van Griekeland.”

Die feit dat Judas.1:9 die vors Mígael as ‘n aartsengel beskryf, gee aan ons ‘n indikasie van hoe sterk die bose gees was, wie God se boodskapper vir drie weke lank teëgestaan het, en wat vereis het dat die aartsengel Mígael nodig was om die vors van Persië teen te staan, sodat die boodskapper/engel wat van God afkomstig was sy boodskap aan Daniël kon oordra. Boonop stel die skrifte dit duidelik dat die aartsengel Mígael spesifiek as die vors van Daniël en sy mense, naamlik die Jode/Israel opgetree het.
Dan10:21 “Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle (die volk Israel se engel)vors Mígael.
Dan.12:1 En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk (Israel) staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; (Die groot verdrukking) maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”
Derhalwe is dit duidelik dat God spesifieke engele, as vorste, oor spesifieke volke aangestel het, en omrede Satan alles wat God doen probeer namaak, het hy ook bose geeste oor spesifieke volke as vorste aangestel om sy bose planne op aarde te bewerkstellig. Wat ook uit bogenoemde teksgedeeltes duidelike na vore kom, is die feit dat sowel die heilige engele, en so ook Satan en sy bose engele, in stryd met mekaar verkeer, sover dit die beleidsrigtings/ideologie, asook ander aangeleenthede van die nasies aanbetref. Satan se engele poog dus om die besluitneming en beleidsrigtings van spesifieke nasies vir hulle eie bose doeleindes te beïnvloed. (dink mooi oor hierdie feit na!)

Ons moet egter nie die oorlogvoering tussen die engele met oorlog, soos wat die mensdom dit voer, verwar nie. Engele is geeste, en die feit dat hulle nie oor fisiese liggame beskik nie sluit die moontlikheid uit dat hulle mekaar kan doodmaak. Ons weet byvoorbeeld dat Satan, sowel as sy engele, eendag in die poel van vuur gaan beland en ons kan dus sonder enige twyfel die afleiding maak dat hulle mekaar nie kan doodmaak nie.
Matt. 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”
Hoe hulle presies met mekaar in die stryd tree, verduidelik die Bybel nie duidelik nie, maar hulle kan mekaar teenstaan en so verhoed hulle dat hulle onderskeie leiers se opdragte tot uitvoer gebring kan word. Maar ons weet ook vanuit die Skrifte dat God op die einde van die tye as oorwinnaar uit die stryd sal tree. God is egter almagtig en kan ter enige tyd die Satan vernietig. Daarom is dit belangrik om God se doel met die geskiedenis, asook Sy ewige plan vir die skepping, vanuit die Skrifte korrek te kan omskryf, naamlik: “Om Homself d.m.v. Sy soewereiniteit, en genade, in en deur Sy skepping, asook die verlossing daarvan, te verheerlik, wat uiteindelik uitdrukking vind in die vestiging van Sy Koninkryk in die hemele, asook op die aarde, naamlik die toekomstige Duisendjarige Vrederyk van Christus, wat die ewigheid voorafgaan en inlui, deur middel van die Here Jesus Christus, tot heerlikheid van God.” Om hierdie rede vernietig God nie onmiddellik die Satan, asook die rebelse mensdom, soos wat Hy baie maklik kan doen nie. God gun Satan, sy engele, asook die rebelse mensdom die geleentheid om te poog om hulle planne tot uitvoer te bring, en daardeur wil God deur verloop van die geskiedenis vir Sy skepsele bewys dat dit ‘n fatale fout is om teen Hom te rebelleer, en dat geen wese, maak nie saak hoe lank hy die tyd gegun word, God as alleenheerser oor Sy skepping kan oorwin nie. Daar is, en sal altyd net een almagtige, soewereine en ware God wees!
Deut.4:35 “Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie.”

Vervolgens gaan vanuit die Skrifte na ‘n paar voorbeelde gekyk word, hoe die Satan agter die skerms te werk gaan om sy bose planne d.m.v. die gevalle engele, asook die mensdom, (en veral mense in gesaghebbende posisies) op aarde te bewerkstellig. Die eerste voorbeeld waarna ek graag wil verwys, handel oor die koninkryk van Griekeland waarna alreeds kortliks in Dan.10:20 verwys is en wat die antieke wêreld op ‘n stadium in die geskiedenis gedomineer het.
Dan.10:20 “Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors (engel) van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors (engel) van Griekeland.”
Vir die doeleindes van hierdie studie, sal daar veral op die spesifieke tydperk van die Seleukiede-koning Antiogos Epifanes, wat van ongeveer 175 tot 164vC regeer het, gefokus word, wie heerskappy oor Israel bekom het en wat sy ryk deur middel van die Griekse, of Hellenistiese, kultuur wou verenig. Om hierdie doel van hom te bereik, het hy die Jode van hulle godsdiensvryheid ontneem en die Jode verbied om die God van Israel te aanbid. Hy het in ongeveer 167vC die regmatige reël van priesterskap in die tempel in Jerusalem omvergegooi, asook onrein diere op die altaar van God geoffer en sodoende die tempel van God onteer. Boonop het hy ook ‘n heidense altaar in die Tempel opgerig en die tempel aan die afgod Zeus toegewy. Hy het ook groot gedeeltes van Jerusalem afgebreek en op verskeie geleenthede het hy groot getalle Jode vermoor en hulle vrouens en kinders as slawe verkoop. Hy het byvoorbeeld op een geleentheid ‘n ma gedwing om toe te kyk hoe haar seuns lewendig op ‘n vuurwarm plaat gebraai is, omrede hulle hulleself nie aan afgodery wou skuldig maak nie. (dit is nogal opvallend dat ons deesdae selfs in ons eie land soortgelyke wreedhede aantref!)

A.g.v. die ontheiliging van die tempel het die Joodse volk in opstand teen Antiogos Epifanes gekom, wat daartoe gelei het dat hulle suksesvol was om hulleself van hierdie afgodedienaar te bevry. Daarna is die tempel ook gereinig en die tempeldiens in ere herstel. Om hulle bevryding van Antiogos Epifanes se brutale beleidsrigting te herdenk, is die fees van ligte (Hannukkah) ingestel en herdenk die Jode reg oor die wêreld nog steeds jaarliks hierdie gebeurtenis. Die feite aangaande Antiogos Epifanes en sy brutaliteit, asook eiewaan, is in die apokriewe boeke van 1 en 2 Makkabees opgeteken. (Hou egter ingedagte dat die apokriewe boeke wel geskiedkundige feite bevat, maar die boeke is egter nie soos die Bybel deur God geïnspireer nie.) Met hierdie agtergrondskennis is die praktiese applikasie van Daniël 10 nogal insiggewend. Antiogos Epifanes se onderdrukkende brutaliteit (en derhalwe sy bose beleidsrigting) teenoor die Jode was die direkte gevolg van die vors (gevalle engel) van Griekeland, wat die Joodse volksmoord aangehits het, en wat deur die bonatuurlike boodskapper van God afkomstig, en die aartsengel Mígael teengestaan is en wie verhoed het dat Satan se doelstelling met die Joodse volk suksesvol uitgevoer is.
Dan.10:20 “Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors (engel) van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors (engel) van Griekeland.”

Satan, en sy gevalle engele, streef daarna om heerskappy oor volke en koninkryke te bekom, met die uitsluitlike doel om hulle teen God te laat rebelleer en Satan se bose beleidsrigting te implementeer, asook om God se planne op aarde te weerstaan. (wat Satan aanbidding , afgodediens, oorloë, moord, geweld, rassisme, verkragting, die beperking op die besit van private eiendom en godsdiensvryheid ensovoorts insluit.) Die heilige engele weerstaan die gevalle engele en wil die nasies beïnvloed om God se wil met die wêreld tot uitvoer te bring. Soos alreeds genoem, verduidelik die Skrifte nie presies op watter wyse die twee groepe engele mekaar die stryd aansê, en watter metodes hulle gebruik om oorlog teen mekaar te maak nie, maar die Skrifte stel dit egter baie duidelik daar wel oorlogvoering tussen die twee groepe engele plaasvind. Na afloop van die wegraping, en teen die middel van die Verdrukking, sal daar weer oorlogvoering tussen die twee groepe engele plaasvind, en sal Satan, en sy engele, deur Mígael en sy engele verslaan word en sal Satan en sy engele vir die laaste drie en ‘n halwe jaar van die Verdrukking, naamlik die Groot Verdrukking, tot die aarde beperk word. (wat tot verskriklike lyding en lewensverlies aanleiding sal gee.)
Openb.12:7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; 8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. 9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”
(Bestudeer asb die illustrasie “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking”) Onthou, die Here gaan die Verdrukking gebruik om die goddelose mensdom te straf, en om die volk Israel onder druk te plaas, sodat hulle na Hom in geloof sal draai, en Hy hulle as volk kan red, en daardeur die profetiese woord, wat Hy aan hulle gemaak het, tot vervulling kan bring. Tydens die Verdrukking gaan Satan en sy engele; die Antichris en valse profeet; die heilige engele asook die hele skepping, wat die mensdom asook die diereryk, insluit deur God as instrumente in die uitvoer van Sy wil gebruik word. En hierdie plan sal suksesvol uitgevoer word!

Die boek van Ester: Indien mens die feite soos in Daniël 10 in gedagte hou, dan gee dit mens ‘n goeie idee hoekom die boek van Ester so insiggewend is. Die dramatiese gebeure soos wat ons in Ester van lees maak geensins enige verwysings na die aktiwiteit van die Heilige Gees, heilige engele, asook Satan en sy engele nie. Ester verduidelik net aan ons hoe, van die menslike oogpunt af, ons gebeure (wat ons probleme insluit) ervaar, asook waarneem, en God se voorsienige sorg en bestuur van sake, wat die stryd van die heilige engele teenoor die van Satan en sy engele insluit, word egter grotendeels van die mensdom verberg, alhoewel God wel agter die skerms aan die werk is. Ek gaan in hierdie studie slegs ‘n kort opsomming van die boek van Ester weergee, en die leser word aangeraai om self die hele boek van Ester te lees, en die feite soos wat ons in die boek Daniël vind in ag neem soos wat die boek van Ester gelees word. Soos wat ons almal deur die verloop van ons lewens op hierdie gevalle wêreld vreugdes, asook smarte, (wat ons probleme insluit) beleef, moet ons altyd in gedagte hou dat daar agter die skerms ‘n geweldige geestelike stryd plaasvind, met die wete dat God in beheer van die verloop van die wêreld se geskiedenis is. Almal, en ek bedoel almal, wat Satan insluit, sal op die ou einde van die dag die knie voor God buig en erken dat slegs Hy alleen God is!
Rom.14:11 “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.”

Tydens die tydperk waardeur die volk Israel deur die Persiese ryk regeer is, was Haman, wie erg anti-semities was, tot ‘n senior amp in die Persiese ryk bevorder. (Est.3:1-6) Hy het spoedig van hierdie invloedryke posisie van hom gebruik gemaak om die koning van Persië te oorreed om ‘n dekreet uit te vaardig wat sou beteken dat alle Jode op die 13de dag van die twaalfde maand Adar om die lewe gebring sou word. (Est.3:7-15) Dus, was Haman se bedoeling nie net slegs ‘n Joodse volksmoord nie, maar hy wou ook seker maak dat hierdie volksmoord op een spesifieke dag afgehandel word!

A.g.v. God se voorsienige sorg, asook die bestuur van die mensdom se geskiedenis, het ‘n jong Joodse meisie die koningin van die Persiese ryk geword. (Est.2:15-17) A.g.v. haar invloed, is die koning van Persië oorreed om nog ‘n dekreet uit te vaardig, wat die Joodse volk die reg gegee het om hulleself op die dag van die beplande volksmoord te verdedig. (Est.7-8) Derhalwe is die Joodse volk van die beplande volksmoord verlos. (Est.9:1-19) Hierdie gebeurtenis word nog steeds jaarliks deur Jode reg oor die wêreld as die fees van Purim herdenk. (Est.9:20-32)

Soos wat ons die boek van Ester lees, en die feite soos in die boek Daniël weergegee in gedagte gehou, kan daar drie feite vanuit hierdie twee boeke afgelei word. Eerstens: Is dit duidelik dat die vors/engel van die Persië agter die skerms besig was om die beleidsrigting van die Persiese reik ten kwade te beïnvloed wat tot ‘n Joodse volksmoord aanleiding sou gee. Tweedens: In opdrag van God, het die engel wat die boodskap aan Daniël gebring het, asook die aartsengel Mígael, teen die bose engele opgetree en het hulle die bose planne van Haman in die wiele gery. Daar is dus drie demensies waarin die stryd gevoer is. (eerstens, op die menslike vlak. Tweedens, die stryd tussen die heilige engele en Satan en sy engele. Derdens, God wat soewereine heerskappy d.m.v. Sy oorhoofse raadsplan vir die huidige skepping se geskiedenis tot ‘n bepaalde eindpunt bring.) Die gebeure in die fisiese skepping het dus ‘n ooreenstemmende eweknie in die nie-fisieke skepping, naamlik die stryd tussen die twee groepe engele en waardeur God aan die heilige engele, sowel as sy diensknegte op aarde, die vermoë gegee het om die oorwinning te behaal. Hierdie feit moet nooit uit die oog verloor word nie. Derdens: Alhoewel die bose geeste poog om die mensdom ter kwade te beïnvloed, bly die mensdom nog steeds voor God vir hulle optrede verantwoordelik gehou, omrede die mens ‘n besliste keuse moet uitoefen om die Satan se begeertes/suggesties/idees/impulse te gehoorsaam en daarvolgens op te tree. As voorbeeld kan die Here Jesus Christus se opmerkings aangaande die eerste moord op aarde, naamlik die moord van Abel deur sy broer Kain hier voorgehou word.
Joh.8:44 “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.”
Kain, net soos die ongelowige Jode, is deur die Here vir hulle aandeel om Satan se begeertes uit te voer verantwoordelik gehou, omrede dit die ongelowige Jode was wat Hom wou doodmaak.

Satan ken die Skrifte, en hy is deeglik daarvan bewus dat die Here spesifieke beloftes aan ‘n spesifieke volk, naamlik die Joodse volk, gemaak het en waarvan sommige van daardie beloftes nog nie in vervulling gegaan het nie. Om hierdie rede poog hy om ten alle kostes die Joodse volk uit te roei, om sodoende die Here se wederkoms te verhoed. (Satan is dus die aanstigter agter alle anti-Semitiese groepe oor die wêreld heen, en hierdie feit sluit ook hulle historiese optredes en beleidsrigtings in.) In Openbaring 12 word daar voorspel dat gedurende die tweede helfte van die Verdrukking, Satan alles in sy vermoeë sal doen om die Joodse volk uit te wis en derhalwe sal hy d.m.v. die Antichris die Joodse volk meedoënloos vervolg. ‘n Verdere voorbeeld tot watter mate die engele (bose geeste sowel as heilige engele) agter die skerms van die sigbare skepping werksaam is vind ons in Openb.16:12-16, wat soos volg lees, naamlik:
Openb.16:12 “En die sesde engel (heilige engel) het sy skaal uitgegooi (op bevel van God) op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word. 13 En ek het uit die bek van die draak (Satan) en uit die bek van die dier (Antichris) en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste (bose geeste/gevalle engele) soos paddas sien kom. 14 Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. 15 Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. 16 En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.”

Teen die middel van die sewejarige Verdrukking, wat die aanbreek van die Joodse Volk se donkerste tydperk sal inlui, sal die aartsengel Mígael moet opstaan en tot intense oorlogvoering teen Satan, en sy bose geeste, intree en hulle anti-semitiese plan om ‘n totale volksmoord te bewerkstellig te voorkom.
Dan.12:1 “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk (Israel) staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk (Israel) bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”
God, net soos Satan, sal in die toekoms, (net soos in die verlede) engele aanstel wat die nasies se beleidsrigtings t.o.v. hulle uiteenlopende doelstellings sal beïnvloed.

Ter afsluiting: Die boek Daniël kan nie gebruik word om die leerstelling, wat beweer dat gelowiges oor die mag beskik om bose geeste oor stede ensovoorts te bind, te regverdig nie. Op geen stadium het Daniël gepoog om die engele van die Perse, of Grieke, te bind nie. Hy het sy gebede aan God gerig. En dit was die heilige engele wat met Satan se engele in die stryd getree het, nie Daniël nie. Op geen stadium het Daniël of enige van die apostels ooit gepoog om Satan of enige van sy engele te bind nie. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die artikels “Bind van bose geeste” en so ook “Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” te lees wat aan die leser gaan verduidelik hoe om werklik geestelike oorlogvoering te doen. Gelowiges beskik nie oor die vermoeë om die Duiwel te bind nie.

Gelowiges moet daarteen waak om onnodiglik op die engele te fokus. Die Here het in Sy woord vir ons genoeg inligting aangaande die engele gegee, en dit gee aan ons genoegsame inligting sover dit die geestelike wêreld, asook ons worstelstryd teen Satan en ander bose geeste in die lug, aangaan. Ons aandag moet egter op die Here Jesus Christus gefokus bly en Hom alleen as getroue dissipels navolg. Ons moet nooit tot die engele bid en na hulle vir enige vorm van verlossing kyk nie. Hulle tree slegs as God se diensknegte op en daarom moet ons, ons versoeke aan God rig, en indien dit Sy wil is sal Hy die nodige opdragte aan die engele uitreik. Die engel, net soos die mensdom, is maar net diensknegte van God en sal nooit God wees of word nie!

Ons moet egter ook die ander uiterste vermy, wat beweer dat Satan en sy engele nie bestaan of dat hulle huidiglik gebind is. Dit verbaas my dat daar wel nog mense is wat glo dat Satan huidiglik gebind is! Historiese gebeure, wat misdaad, oorloë, natuurlike rampe, rassehaat, volksmoord ensovoorts insluit, sal sinneloos voorkom indien die ‘n persoon vooraf al klaar besluit het dat daar nie onsigbare magte is wat die moontlike oorsaak/aansporing agter hierdie gebeure is nie. ‘n Voorbeeld hiervan is wanneer ‘n persoon vooraf alreeds besluit het, dat indien hy nie iets met sy fisiese oë kan waarneem, hy nie daardie oorsake in ag sal neem nie. So ‘n persoon sal dan heeltemal die konneksie tussen die maan, en die see se getye misloop, omrede swaartekrag nie met die blote oog raakgesien kan word nie. Vir so ‘n persoon sal die verskynsel van die see se getye onverstaanbaar voorkom, omrede hy nie swaartekrag met sy blote oog kan waarneem en derhalwe nie hierdie feit by sy bestudering van die verskynsel van getye inreken nie. So ‘n persoon sal heel waarskynlik tot die verkeerde gevolgtrekking kom. Dieselfde beginsel geld vir die geesteswêreld, waarin Satan en sy engele, die heilige engele, asook God te vinde is.

En laastens, moet ons nie die Satan vir al ons optredes wil beskuldig nie. Ons almal sit nog met ‘n sonde natuur, wat daartoe kan lei dat ons die hele spektrum van sondes kan pleeg, sonder dat Satan enigsins betrokke is.
Jak.4:1 “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?”

Gegewe die feite so in hierdie studie weergegee, is dit van uiterste belang dat ons vir die leiers wat oor ons aangestel is moet bid, al stem ons nie met hulle beleidsrigtings saam nie.
1Pet.4:7 “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.
1Tim.2:1 In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

Onthou, bostaande opdrag was gemaak toe die goddelose keiser Nero aan bewind was, wie Christene in teer gedompel het en hulle op pale as ligte vir sy feestelike onthale gebruik het. Nero is nie meer nie, maar die ware Kerk bly nog steeds voortbestaan! Gehoorsaam die Here! Dit is Hy wat die nasies in Sy hande het! Ons sal nooit aan hierdie kant van die ewigheid werklik besef hoe belangrik ons gebede was nie!

Daarom is dit van uiterste belang om die volle wapenrusting van God opneem, aantrek en leer om dit suksesvol aan te wend.
Ef.6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God 18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges”

In deel twee van hierdie studie, sal ons na meer onlangse verskynsels, en politieke gebeure, kyk en poog om Satan se invloed ook in hierdie gebeure uit te lig.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.