Hoe beleef die gelowige die hiernamaals

Hoe beleef gelowige die hiernamaals?

Vraag: Baie dankie vir jou artikels dit help baie. Ek het jou artikels “Wanneer ons sterf”, asook “Waarom sterf ons nog?” gelees en baie geleer. Ek is ‘n gelowige. Dit bly egter vir my moeilik om myself in te dink oor hoe dit gaan wees wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee is. Ek glo dat indien mens ‘n idee hiervan sou hê ‘n persoon nie meer so bang vir die dood sal wees nie. Ek is bang vir die dood en dink nogal baie daaraan. Ek is ouerig en boonop sieklik. Kan jy my help asb.

Antwoord: Baie mense sukkel met dieselfde probleem. Om aan die dood te dink is nooit aangenaam nie maar as gelowiges het ons God se woord dat dit wonderlik sal wees.
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
Bogenoemde teksgedeelte stel dit baie duidelik dat ons nooit werklik aan hierdie kant van die graf die wonder van alles wat God vir ons voorberei het kan beskryf nie. Die Skrifte gee wel aan ons ‘n indikasie van hoe wonderlik dit vir ons sal wees wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee sal wees. (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees.)

Die kwalitatiewe aspek van ons bestaan: Met die afsterwe van ‘n gelowige verander die kwalitatiewe aspek van die gelowige se bestaan drasties en hy sal vir ewig van sy sondige natuur geskei word. Alle pyn en lyding sal dan op ‘n einde wees, wat vrees insluit. En omrede die persoon nie meer oor ‘n sondige natuur beskik nie, sal hy nie meer die werke van die vlees kan voortbring nie en sal dus slegs die vrugte van die Gees kan voortbring.
Gal.5:22 “22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
In hierdie opsig sal die gelowige gelykvormig aan die beeld van Christus wees.
Rom.8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;”
Dit beteken dat ons nooit weer sal vrees nie, maar slegs ‘n onbeskryflike vrede beleef. Boonop sal ons met ongekende blydskap gevul wees. Slegs die feit dat ‘n persoon nie meer oor ‘n sondige natuur beskik nie sal die kwalitatiewe aspek van ons lewens drasties verander. Die afwesigheid van die sonde natuur sal daartoe aanleiding gee dat ‘n persoon blydskap en opgewondenheid vir elke seëning sal beleef. Selfs vir die alledaagse gawes wat ons so vanselfsprekend aanvaar.

Ons sal byvoorbeeld nooit “gewoond” aan God se seëninge word nie. A.g.v. ons sonde natuur raak ons nou gou aan ‘n geskenk “gewoond”. Dink maar net aan al die kere waar jy na iets uitgesien het en die vreugde wat jy beleef het toe jy dit ontvang het. Dink aan die eerste keer toe jy geliefde raakgeloop het of die eerste keer jy ‘n nuwe motor kon bekostig. Maar hoe lank het dit geneem voordat daardie vreugde afgeneem het en jy aan daardie gawes “gewoond” geraak het. (of selfs oor dit begin kla het) Met die afwesigheid van die sonde natuur sal die vreugde vir elke seëning nooit verminder nie. Dink nou net vir jouself hoeveel vreugde jy gaan beleef indien jy werklik besef dat jy die ewige lewe, en alles wat daarmee gepaard gaan, as ewige besitting het. Nie net dit nie, maar elke keer wanneer jy die geur van ‘n blom ruik, ‘n vrug van ‘n boom eet sal jy met ongekende vreugde en dankbaarheid gevul wees. Dit geld veral wanneer jy met absolute sekerheid weet dat jy nooit weer pyn, lyding en die dood sal kan beleef nie. Boonop sal jou toekomsplanne nie deur die dood gekortwiek kan word soos wat dit nou die geval is nie. Dit geld ook vir alle werk wat jy verrig en alles wat jy gaan maak.

Dit is een van die redes waarom dit so belangrik is om genadeloon in hierdie lewe vir daardie lewe bymekaar te maak. Dink net hoe jy gaan voel as jy met genadeloon beloon word, en nie met leë hande voor die Regterstoel Oordeel van Christus moet staan nie. Daardie genadeloon gaan ook ‘n groot invloed hê oor hoe jy die hiernamaals gaan beleef.
1Joh.2:28 “En nou, my kinders, (alle gelowiges) bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn (die wegraping) en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.” (wanneer die Regterstoel Oordeel van Christus sal plaasvind)
Ons almal moet eerder streef om die volgende aanprysing by die Here te ontvang, naamlik:
Matt.22:21 “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.”
Veral met die wete dat gevolge van die sondeval vir eens en altyd iets van die verlede sal wees en dat ons nooit aan die opwinding van hierdie feit sal “gewoond” raak nie. Ons besef nooit tot watter mate ons gevalle staat en die meegaande sonde natuur ons as mens negatief aangeraak het nie. Sonde het verskriklike gevolge!

Die kwalitatiewe aspek van ons lewens sal nie slegs op geestelike grondslag drasties verbeter nie. Ook ons materiële bestaan sal drasties verbeter. Pyn en lyding sal daar nie meer wees nie. Ons sal nooit weer die smarte van ‘n geliefde se afsterwe beleef nie. Siekte sal ongekend wees en hartseer sal daar nie meer wees nie. Al hierdie negatiewe aspekte sal nie slegs afwesig wees nie, maar ons sal eerder die kwalitatiewe aspek van die lewe in oorvloed hê. In die boek van Openbaring gee die Here wel vir ons ‘n blik van hoe die nuwe hemel en nuwe aarde sal lyk, wat die Nuwe Jerusalem insluit, maar Hy poog nie om ons bestaan daar in diepte vir ons te beskryf nie. Die rede hiervoor is dat ons nie aan hierdie kant van die graf die volle omvang daarvan sal kan begryp nie. Dit is net te wonderlik vir ons! Ons sal dit moet sien en beleef.
Openb.21:4 “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

Baie mense dink verkeerdelik dat ons in die hiernamaals as engeltjies op die wolke gaan rondswerf en niks doen nie. Hierdie beskouing kan nie verder van die waarheid af wees nie. Die mens is nie ‘n engel nie en sal ook nooi vlerke besit nie. Boonop sal ons in die Koninkryk van God werk verrig, maar werk gaan aan ons ongekende vreugde en vervulling verskaf. (ons is immers in God se beeld geskape en deel van God se beeld vind ons in Sy kreatiwiteit.) Hierdie Godgegewe kreatiwiteit sal deel van ons bestaan vorm, en die eindresultaat daarvan sal in vreugdevolle arbeid uitdrukking vind. Ons gaan verheerlikte liggame kry soos wat Christus na Sy opstanding op aarde gehad het. Ons geliefdes sal ons erken en weet wie ons is. (dink net weereens aan die vreugdevolle herontmoeting wat jy met al jou afgestorwe geliefdes sal beleef.) Boonop gaan ons, as God se administrasie, saam met Hom in Sy koninkryk regeer. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word,” asook “Die Gelykenis van die Ponde” te lees.) Ons het slegs hierdie lewe om genadeloon te vergader. Ons moet die geleentheid ten volle gebruik!

Om hierdie rede is dit ook van uiterste belang dat elke gelowige streef om ‘n die beter opstanding vanuit die dood as genadeloon te verdien. Alle gelowiges sal aan die eerste opstanding deelneem, maar nie alle gelowiges sal deel van die beter opstanding wees nie.
Fil 3:11”of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 3:12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 3:13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
Die opstanding waarvan Paulus hier praat, is nie die opstanding wat alle gelowiges, as deel van die ewige lewe, kosteloos tydens aanvanklike wedergeboorte ontvang nie. Die opstanding waarna hy verwys is ‘n beter opstanding, wat as loon vir goeie werke wat deur voortgesette dade van geloof, na aanvanklike wedergeboorte verdien kan word. Alle gelowiges kan streef om deur hulle voortgesette getrouheid aan die Here hierdie beter opstanding as genadeloon te verdien.

Ons ontvang die ewige lewe (wat die waarborg van die opstanding tot die lewe insluit) deur geloof alleen (in die Evangelie alleen) as geskenk by God, sonder enige werke van ons kant af. (en kan dit nooit weer verloor nie) Daar is egter ‘n ander faset van die opstanding waarna Paulus hier verwys, wat slegs diegene wat Jesus Christus getrou as dissipels, (na aanvanklike wedergeboorte, fase een van ons verlossing) nagevolg het as genadeloon sal verdien. Alle gelowiges sal uit die dood uit opstaan, maar sekeres sal ‘n beter opstanding ontvang. Die apostel Petrus verwys ook na hierdie beter opstanding, naamlik:
2Pe 1:10 “Daarom, broeders, (fase een, naamlik weergeboorte is alreeds afgehandel anders sou hy nie na hulle as broeders verwys nie) moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking wat lyding insluit)want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. 1:11 Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking/opstanding. Alle gelowiges sal aan die opstanding deelneem, en die koninkryk binnegaan, maar sekeres sal deur getroue dade van geloof na aanvanklike wedergeboorte verrig ryklike ingang tot die koninkryk as genadeloon verdien.)

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs het ook na hierdie opstanding as ‘n beter opstanding verwys, naamlik:
Heb 11:35 “Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.”
Daar is dus ‘n faset van die eerste opstanding, waaraan alle gelowiges deel van sal uitmaak. Dan is daar ‘n faset van die opstanding, wat in die Skrifte as ‘n beter opstanding beskryf word, wat aan die gelowige as loon voorgehou word. Hierdie beter opstanding word deur voortgesette werke van geloof, wat in en deur die krag van die Heilige Gees, na aanvanklike wedergeboorte verrig is verdien. (waaraan slegs getroue dissipels sal deelneem en hierdie beter opstanding vorm deel van hulle genadeloon.) Lees gerus die artikel “Die onderskeid tussen wedergeboorte en loon vir goeie werke” Ons goeie werke, wat na aanvanklike wedergeboorte gedoen is, en wat getrouheid aan God tydens tye van lyding insluit, gaan bepaal watter funksies, posisies en voorregte ons in God se koninkryk as genadeloon gaan ontvang. (lees asb die artikel “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” vir meer inligting)

So ook sal die ongelowiges se werke hulle graad van straf by die Wit Troon Oordeel bepaal. Ons moet egter nie die Wit Troon Oordeel van Christus met die Regterstoel Oordeel van Christus verwar nie. Hierdie twee oordele is nie een en dieselfde nie, en is boonop meer as duisend jaar van mekaar geskei. Die Wit Troon Oordeel is nie om ‘n persoon se ewige bestemming te bepaal nie, maar die graad van straf. Die feit dat ‘n persoon homself by die Wit Troon Oordeel bevind dien as indikasie dat hy ongered is, naamlik:
Joh.3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Daarenteen dien die Regterstoel Oordeel van Christus nie as oordeel om te bepaal of iemand hel toe gaan of nie. Hierdie vraag is alreeds vir eens en vir altyd afgehandel die oomblik toe die gelowige in die Evangelie geglo het. Almal wat voor die Regterstoel Oordeel van Christus verskyn het alreeds die ewige lewe as gawe deur geloof by Christus ontvang, en kom nie in die oordeel van die Wit troon Oordeel nie.
Joh.5:22 Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, 23 sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. 24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe (nou as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, (en kan dus nooit veroordeel word en verlore gaan nie.) maar het (alreeds) oorgegaan uit die dood in die lewe.” (So ‘n persoon kan dus nie voor die Wit Troon Oordeel verskyn nie, ander sou die Here nie die bostaande beloftes gemaak het nie.)

Die Regterstoel Oordeel van Christus dien dus nie as platvorm om te bepaal of ‘n persoon gered is of nie, maar dit dien as platvorm waar die gelowige vir goeie werke na aanvanklike wedergeboorte beloon gaan word. Die Regterstoel Oordeel van Christus het absoluut niks met die poel van vuur te make nie. Indien jy die Evangelie geglo het, het jy alreeds die ewige lewe as gawe ontvang en kan nooit voor die Wit Troon Oordeel van Christus verskyn nie. Jy gaan wel voor die Regterstoel Oordeel van Christus moet verskyn, waar dit bepaal gaan word of jy genadeloon sal ontvang of nie. ‘n Persoon bly egter gered al ontvang hy geen genadeloon nie.
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — (fase twee van ons verlossing naamlik heiligmaking/dissipelskap, wat goeie werke insluit) 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (omrede hy deur geloof op die fondasie, naamlik die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis staan.)

Hierdie wete behoort jou aan te spoor om die Heilige Gees toe te laat, om in en deur jou, goeie werke te verrig, wat sal verseker dat jy genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus sal ontvang. Hierdie feit behoort ook as teenvoeter vir jou vrees vir die dood te dien, omrede jy weet dat indien jy die Evangelie geglo het, jy nooit verlore sal kan gaan en voor die Wit Troon Oordeel kan verskyn nie, omrede jy vir ewig God se kind is en sal bly. (Lees gerus die artikel “Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige”)

Ter afsluiting: Onthou, vir jou as gelowige lê jou beste lewe nog voor! Dink gerus aan die volgende paar feite na, en vra die Here om meer insig aan jou te gee, sodat jy hierdie feite tot ‘n groter mate kan verstaan en dit deel van jou denkproses kan maak. 1. Totale afwesigheid van pyn en lyding, maar ook ‘n positiewe ontvangs van die kwalitatiewe aspekte van ewige lewe. 2. Al die negatiewe aspekte van die sonde natuur, wat die werke van die vlees insluit, sal dus heeltemal afwesig wees, maar al die vrugte van die Gees sal ten volle beleef word, wat vrede en vreugde insluit. 4. Die mens se sondige natuur sal nie net heeltemal afwesig wees nie, maar hy sal oor ‘n natuur beskik wat hom positief tot God oriënteer. Dus ‘n totale afwesigheid van enige bose inklinasies wat ons gedagtes en begeertes insluit. 5. Geen moontlikheid om ooit weer te sondig, tot sterwe te kom, of enige lyding te ervaar nie. 6. Ewige voorbestaan in God se teenwoordigheid, waar jy die Here in vreugde sal dien en saam met Hom regeer. 6. Jy sal ongehinderd jou kreatiwiteit tot eer van God kan aanwend, uitleef en verder ontwikkel. 7. Omrede jou begeertes nooit in stryd met God se begeertes sal wees nie, sal al jou drome en begeertes bevredig word. (dit vir wat jy vra sal jy ontvang) 8. Jy sal nooit weer van jou geliefdes d.m.v. die dood geskei word nie. 9. Jou ewige voortbestaan, sonder die moontlikheid van enige terugslag, sal vir jou ewige vreugde verskaf. 10. Jy sal nooit weer vrees nie. 11. Jy kan vir jou genadeloon in hierdie lewe vergader, waarvoor jy in die hiernamaals ryklik beloon sal word en wat die Here vir jou in bewaring hou. 12. Onthou, ons almal se bekers gaan vol wees, maar sekere gelowiges se bekers/kapasiteit sal groter as ander wees, omrede hulle die Here as getroue dissipels na aanvanklike wedergeboorte gedien het. (die beter opstanding) Maak vir jou dus genadeloon bymekaar! Die opoffering wat jy nou moet maak sal nie met jou loon by die Regterstoel Oordeel van Christus vergelyk kan word nie. 13. Jy sal nooit weer aan al God se seëninge “gewoond” raak nie, wat aan jou ongekende vreugde gaan verskaf. 14. Die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe in die hiernamaals is onbepaald beter as wat ons nou kan dink. Onthou God se belofte aan jou, naamlik:
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Dink mooi oor al hierdie feite na en maak dit deel van jou lewe. Onthou, die Here kan ons vandag d.m.v. die Wegraping kom haal, en daarom is dit belangrik om as toegewyde dissipels te leef, en om God te vra om ons d.m.v. die wegraping te kom haal en huis toe te neem. (op hierdie wyse kan ons fisiese dood vryspring) Hierdie aarde is nie ons tuiste nie en daarom sal ons nooit werklik hier vrede vind nie. Ek hoop my antwoord help jou. En onthou, as gelowiges hoef ons nie die dood te vrees nie. Die dood bring vir ons verligting en ‘n ongekende beter voortbestaan.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.