Die Objek van Geloof

Die Objek van Geloof

Geloof het nooit meriete of waarde op sy eie nie. Die meriete en waarde van geloof lê in die voorwerp/objek op wat vertrou word. Ons almal beoefen geloof daagliks op verskeie voorwerpe uit. Ons glo en vertrou dat ons geld iets vir ons kan koop. Ons glo die koerant berigte wat ons lees, en glo wat ons op televisie hoor en sien. Ons vertrou op ons vriende en eggenote. Ons glo en vertrou selfs in onsself. Dus gaan ons geloof net so betroubaar wees, soos wat die voorwerp/objek is waarop ons vertrou. Dus kan ons met sekerheid sê dat geloof op sy eie, maak nie saak hoe groot dit ook al mag wees nie, geen inherente krag beskik nie. Die krag lê alleenlik in die voorwerp/objek waarop ons vertrou.

Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus. Die gelowige glo, dat Jesus Christus sy enigste verlosser van die sonde en die Hel is. Sonder Jesus Christus sou die sondaar homself nooit kon red nie, maak nie saak hoe sterk sy geloof sou wees nie. Dus lê die krag van ons geloof in Jesus Christus, wat God in die vlees is, en wat nie kan misluk nie. Dit maak dus nie saak oor hoeveel geloof ons mag beskik nie, maar eerder oor watse soort geloof ons het. Dus is Jesus Christus die waarde en meriete vir die gelowige se redding en sekuriteit en niks of niemand anders nie.

Slegs God alleen kan die enigste waardige voorwerp van die mens se geloof wees, en niks anders nie, want niks anders is almagtig nie, behalwe God alleen.
Jer 17:5 “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. 17:6 En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land. 17:7 Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. 17:8 Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.”

Daarom het Jesus ook van Sy volgelinge verwag om dieselfde soort geloof in Hom te hê as wat hulle in God gehad het.
Joh 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”
Jesus het geweet dat Hy God is en dat ons verlossing net deur Hom kan plaasvind. Enige ander weg sou na die dood lei, omrede net Jesus versoening vir ons sondes kon doen.
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Ons lewe in ‘n tydperk waar ons geloof op baie subtiele maniere van die Here Jesus Christus afgehaal en op iets anders geplaas word. Ons Hoor van Predikers wat beweer dat ons krag in ons woorde het, en dat ons net positiewe uitsprake oor ons omstandighede moet maak, dan sal ons probleme en armoede verdwyn. Dit is egter ‘n leun en maak van die mens die voorwerp van sy geloof en nie God nie. Net God is die enigste waardige voorwerp vir die mens se geloof, niks anders nie.

Om ons geloof in enigiets anders te plaas stel ons in ‘n posisie, waar ons tot ‘n ernstige val gaan kom en ons gaan niemand daarvoor kan blameer nie behalwe onsself nie. Om te glo is om oortuig te wees dat ‘n stelling oor ‘n persoon of voorwerp waar is. en derhalwe is dit nie ‘n krag wat ons op ons omstandighede kan fokus en daardeur ons begeertes kan bekom nie. Dit is die Here wat ons op grond van Sy genade red. Ons moet slegs glo wat Hy vir ons gedoen het! Dit is die Here wat ons verlos. Ons ontvang slegs God se verlossing deur te glo! (deur om te glo dat Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis ons van ons persoonlike sondes verlos en dat Hy op die derde dag opgestaan het. Die Evangelie!)) Geloof is nie ons verlosser nie en dit beskik ook oor geen krag nie!

So ook is die bewering dat daar ‘n wet van geloof is, en indien mens net sekere metodes toepas, resultate outomaties te voorskyn sal kom. Hierdie is ‘n baie ernstige verdraaiing van die waarheid, omrede sulke persone Jesus Christus met hulle geloof vervang. Hulle maak dus geloof self die redder en nie God nie. As mens se geloof in sy eie geloof gesetel is, dan is daardie persoon op ‘n dwaalspoor en het hy Jesus Christus met geloof vervang. Die Here maan ons egter om al ons versoeke na Hom in gebed te neem. Ons geloof moet ten alle tye alleenlik in Jesus Christus wees en nie in sekere wette van geloof of enige ritueel nie.
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Rykdom, ons krag, ons skoonheid, koninkryke, mense en alles behalwe God kom die een of ander tyd tot ‘n val. Indien ons geloof op daardie voorwerpe geplaas is, gaan ons saam met daardie voorwerp tot ‘n val kom. Laat ons ernstig hieroor nadink en tot bekering kom. Die belangrikste vraag wat ‘n persoon ooit sal kan vra, en beantwoord, is of daardie persoon die Evangelie verstaan en glo! Glo jy die Evangelie?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.