Ons Verklaar en God moet doen!

Ons verklaar en God moet doen!

Vraag: Ek het ‘n vraag en wonder of jy my kan help. Ek het op Facebook ‘n boodskap gesien wat alle ouers aanmoedig om ‘n spesifieke gebed oor hulle kinders te bid. Met die lees van die gebed het ek egter ‘n gevoel gekry dat daardie gebed nie heeltemal met die Bybel ooreenstem nie. Ek haal graag die gebed aan en vra jou om asseblief kommentaar daaroor te lewer. Die gebed lees soos volg: “Here, ek roep uit en lig my kinders (name verwyder) op na U. Vader, U het hulle aan my geleen en ek verklaar dat GEEN wapen wat teen hulle gevorm word, voorspoedig sal wees nie! Ek kanselleer elke opdrag van die vyand wat poog om hulle te vernietig. Ek spreek die bloed van Jesus oor hulle… hulle sal lewe en nie sterf nie en die werke van die Here in die land van die lewendes verkondig! Hulle SAL suksesvol wees, hulle SAL voorspoedig wees, hulle SAL guns in oorvloed ontvang, en hulle SAL U liefhê en dien met hulle hele wese! Ek verwag hierdie met vrymoedigheid en verklaar dit gedoen, in die magtige Naam van Jesus!!!Amen
Ek daag alle ouers uit om te herpos. Daar is KRAG in ons gebede vir ons kinders. Amen”

Antwoord: Voordat ek met my antwoord begin wil ek dit net eers duidelik stel dat daar baie mense is wat hierdie gebed met opregtheid bid, en met hierdie mense se motiewe is daar niks mee verkeerd nie. Wat egter ernstig problematies is, is die feit dat die persoon wat die gebed oorspronklik geskryf het, wetens of onwetend ‘n proponent van die Woord Geloof Beweging, asook die Voorspoed Evangelie is. Nie een van hierdie bewegings is van God afkomstig nie, en is eerder deel van Satan se plan om toenemend die Kerk, soos wat die wegraping nader kom, te verlei. Die Bybel het ons oor hierdie feit ingelig, naamlik:
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
Die Woord Geloof Beweging, asook die Voorspoed Evangelie is deel van daardie proses. Dit is hartseer om te sien dat mense so mislei word, en daarom is dit belangrik om alle leerstellings wat aan ons verkondig word, binne die korrekte dispensasionele konteks, met die Skrifte te vergelyk om seker te maak dat ons wel binne die wil van God verkeer en volgens Sy wil bid.

Die dwaalleerstelling van die Woord Geloof Beweging verkondig dat God altyd mense sal genees en ons finansieel voorspoedig sal maak indien ons genoeg geloof uitoefen. Hierdie leerstelling ontneem God van Sy soewereiniteit en verlaag Hom tot die mens se slaaf. Dit maak van God ‘n soort van genie in ‘n bottel wat moet voortbring wat ons verklaar. Hierdie soort van optrede behandel die Almagtige God as ‘n soort van muntoutomaat (vending machine) wat seëninge moet voortbring elke keer wanneer ons in geloof iets verklaar. Op hierdie wyse maak ons van ons geloof ‘n soort van mag wat God nie kan weerstaan nie. Hierdie leerstelling/optrede ontken op ‘n indirekte wyse dat God soewerein is, en dat Hy nie oor Sy eie wil beskik, en dit tot uitvoering kan bring wanneer en soos wat Hy wil nie. In kort is hierdie tiepe van gebede niks anders as ‘n poging om God te beheer nie.(dit sluit mense soos byvoorbeeld Kenneth Copeland, Joël Osteen, Joyse Meyer en hordes ander soos hulle in.)

Al beweer die proponente van die Woord Geloof Beweging dat hulle God aanbid, toon hulle egter deur hulle optrede (en woorde) dat hulle nie werklikheid die soewereine God aanbid nie. In teenstelling met wat hulle beweer, beskik hulle nie oor ‘n soewereine god nie. Hulle god is onder die gesag van die mens se geloof. Hierdie soort van godsdiens is nie ware Bybelse Christenskap nie, dit is eerder ‘n verchristelikte vorm van die okkult en het ‘n diepgewortelde oorsprong in die heidendom. In hierdie verchristelikte vorm van heidense geloof, poog die mens om sy eie wil te bewerkstellig deur om ‘n bonatuurlike wese te paai. Sodoende wil hulle deur die misbruik van geloof God beïnvloed om hulle begeertes te bewerkstellig. Waar in die Skrifte staan dit dat die mens verklarings kan maak en verwag dat die Here daaraan moet voldoen? Ons moenie dwaal nie, God sal Hom nie laat bespot nie. Dit is ‘n gruwelike sonde om God tot die vlak van slegs ‘n middel tot ‘n doel te wil verlaag. Slegs God is soewerein, en Hy sal Hom nie deur enige verklaring laat voorsê wat om te doen nie, dit maak nie saak hoe sterk ‘n persoon se geloof ook al mag wees nie.

Kom ons gaan bekyk die sogenaamde gebed van nader en bespreek dit:

Die persoon se stelling: “Here, ek roep uit en lig my kinders (name verwyder) op na U. Vader, U het hulle aan my geleen en ek verklaar dat GEEN wapen wat teen hulle gevorm word, voorspoedig sal wees nie!”
Opmerking: Die skrywer van die gebed maak ‘n deklarasie, naamlik “ek verklaar” wat nie aan hom/haar gegee is om te maak nie. Daar is baie getroue gelowige ouers wie hulle kinders aan die dood moes afstaan. Dit beteken geensins dat hulle buite God se wil was omrede God hulle kinders hemel toe geneem het nie. Die Here het goeie redes vir wat Hy doen. Net Hy beskik oor al die feite, en soms maak Hy nie die redes vir Sy optredes bekend nie, en dit is in tye soos die waar ons geloof in Sy soewereiniteit, liefde en almag moet toepas.

Die teksgedeelte waarna die persoon verwys is Jesaja 54:17. Die konteks waarin hierdie teksgedeelte in voorkom het slegs met Israel as volk te doen, en kan nie goedsmoeds op individuele gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk leef toegepas word nie. Soos wat ons later sal sien, is daar duisende Christene wat jaarliks vir hulle geloof gedood word. Mens kan nie teksgedeeltes buite konteks aanhaal en dit dan as beloftes aan gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef wil toepas nie. God staan onder geen verpligting om sodanige mistastings te eerbiedig nie. Die hele konteks waarin die genoemde teksgedeelte in voorkom handel oor beloftes wat God aan die volk Israel maak en is nie ‘n belofte aan gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef nie.

Onthou, konteks, konteks, konteks! Al die apostels met die uitsondering van Johannes is vir hulle geloof in Christus vermoor. Indien Jes.54:17 ‘n belofte aan die Kerk was, sou nie een van die apostels, of enige van die ander getroue gelowiges wat gedurende die laaste tweeduisend jaar gesterf het, vir hulle geloof gedood kon word nie. Hierdie is weereens ‘n voorbeeld van ‘n teksgedeelte wat heeltemal buite konteks aangehaal en misbruik word. Van wanneer af kan ons deklarasies aangaande teksgedeeltes wat buite konteks aangehaal is maak en verwag dat God dit moet gehoorsaam! Die Here het ons wel gewaarsku dat ons tydens die Kerk dispensasie kan verwag dat die wêreld ons sal haat.
Joh.15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. 20 Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. 21 Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”
Ons kan, en moet egter ons kinders aan die Here in gebed opdra en Hom vra om hulle te beskerm, en indien dit Sy wil is sal Hy aan ons versoek voldoen.

Die persoon se stelling: “Ek kanselleer elke opdrag van die vyand wat poog om hulle te vernietig.”
Opmerking: Nêrens in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, vind ons die opdrag om die vyand se opdragte deur deklarasies te kanselleer nie. Ons beskik nie oor daardie vermoë nie. Hierdie is weer ‘n voorbeeld van dwaalleerstelling wat die belydende Christendom binnegedring het. Dit kom nie van God af nie, anders sou ons so ‘n opdrag in die Skrifte vind. Die skrywer van die gebed/deklarasies moet eerder Christus se boodskap wat direk aan ‘n gemeente wat tydens die Kerk Dispensasie geleef het bestudeer, naamlik:
Openb.2:10 “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
Ons moet egter vir ons kinders en alle medegelowiges bid en die saak in God se hande los. Ons kan nie gesag vir onsself wil toeëien wat nie deur God aan ons gegee is nie. Kyk maar hoe het Satan Paulus en die ander apostels aangeval en nie in een geval het hulle so ‘n deklarasie gemaak nie.

Die persoon se stelling: “Ek spreek die bloed van Jesus oor hulle… hulle sal lewe en nie sterf nie en die werke van die Here in die land van die lewendes verkondig!”
Opmerking: Hierdie dwaalleerstelling is alreeds in ‘n vorige artikel bespreek en die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Pleit van Jesus se bloed ‘n Skriftuurlike perspektief” te bestudeer. Die leser kan ook gerus die artikel “Waarom Sterf gelowiges nog” lees.

Die persoon se stelling: “Hulle SAL suksesvol wees, hulle SAL voorspoedig wees, hulle SAL guns in oorvloed ontvang, en hulle SAL U liefhê en dien met hulle hele wese!”
Opmerking: Let op die term “sal”. (nogal in hoofletters geskryf) Volgens hierdie persoon sal sy kinders suksesvol en voorspoedig wees, asof God geen sê in die saak het nie. Wat van die apostels wat almal arm gesterf het. En wat van al die gelowiges in ander lande wat a.g.v. hulle getrouheid aan die Here arm is en vervolg word. Volgens Opendoors.org, wat Christelike vervolging blootlê, is daar na beraming 5,621 Christene laas jaar a.g.v. hulle geloof om die lewe gebring, en ondervind 360 miljoen Christene hoë vlakke van diskriminasie asook vervolging oor die wêreld heen. Dit is ook opmerklik dat dit juis in baie gevalle die arm en vervolgde gemeentes is wat deur God aangeprys word, naamlik:
Openb.2:9 “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.”
Daarenteen is dit juis die voorspoedige gemeente van die Laodicense wat deur Christus streng aangespreek word, naamlik:
Openb.3:15 “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.”

Dit beteken geensins dat God nie mense finansieel voorspoedig sal maak nie. Hy doen! Een van die Geestelike gawes wat nie na afloop van die Apostoliese Tydperk (met die voltooiing van die Bybel) nie tot niet gegaan het nie is die gawe van gee. (Rom.12:8) Omrede dit God is wat self hierdie geestelike gawe daargestel, en aan spesifieke gelowiges uitgedeel het, (om Sy werk op aarde te bevorder) weet Hy ook dat hulle oor die nodige vermoë, asook geleenthede moet beskik om daardie geestelike gawe te kan beoefen.
2Kor.9:6 “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. 7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. 8 En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. 9 Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid. 10 En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, 11 sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.”
Ek weet van baie gelowiges wat ryk is, en wat Geesvervulde lewens lei, en wat God deur die getroue beoefening van hulle geestelike gawes verheerlik en waarvoor Hy hulle eendag ryklik sal beloon. ‘n Persoon se rykdom dien nie as barometer van hoe naby aan die Here ‘n persoon is nie. (anders ou die Hollywood sterre almal naby die Here wees en die apostels ver van hom af wees) Die mate van hoe getrou ‘n persoon die wet van Christus eerbiedig (wat korrekte leerstellings insluit) is ‘n indikasie van hoe naby daardie persoon aan die Here leef.
Joh.14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”

Die persoon se stelling: “en hulle SAL U liefhê en dien met hulle hele wese!”
Opmerking: Let weer op die term “sal”. (weer in hoofletters om klem daarop te lê) Nêrens in die Bybel vind ons die opdrag om te verklaar dat ons kinders die Here sal liefhê en Hom met hulle hele wese sal dien nie. Dit is egter elke gelowige ouer se plig om sy kind in die weë van die Here groot te maak, (wat korrekte Bybelse leerstellings insluit) maar dit is en bly die kind se keuse of hy die Here gaan aanneem of nie. Die Here dwing niemand om in Hom te glo of Hom te dien nie. Boonop sal Hy nie ‘n persoon teen sy wil dwing om Hom te dien indien daardie persoon nie wil nie. God het ons ‘n vrye wil gegee en sal daardie feit respekteer. En indien God nie so ‘n verklaring maak nie, wie gee ons die reg om te te doen en om dan te verklaar dat dit so sal wees? Dit is egter ons plig om ons kinders volgens God se woord op te voed, en ons moet hulle waarsku dat dit hulle vrystaan om die Here te glo of nie, maar hulle moet onthou dat God hulle verantwoordelik gaan hou vir die keuse wat hulle maak.

Die persoon se stelling: “Ek verwag hierdie met vrymoedigheid en verklaar dit gedoen, in die magtige Naam van Jesus!!! Amen”
Opsomming: Dis nie ‘n gebed nie, maar eerder ‘n deklarasie van die persoon se eie wil, en begeertes wat onder die dekmantel van ‘n gebed verbloem is en wat dan met die formule “in in die magtige Naam van Jesus!” afgesluit is. Dit is duidelike dat die persoon wat die gebed geskryf het nie verstaan wat dit beteken om in Christus se naam te bid nie. Alle ware gelowiges is God se ambassadeurs/verteenwoordigers op aarde waar die duiwel die God van hierdie wêreld is. (2Kor.4:4) Ons verteenwoordig God se belange op aarde. Om dus in Christus se naam te bid, beteken nie dat ons nou oor ‘n blanko tjek beskik waar alles wat ons in Christus se naam verklaar moet plaasvind soos wat ons dit verklaar nie.

Om werklik in Christus se naam te bid beteken ons rig ons versoeke aan God as Christus se verteenwoordigers/gesante op aarde. En as sulks sal ons bid vir dit wat die Here Jesus Christus voor sou bid. Ons gebede sal dus altyd in lyn met Christus se wil aan die Vader gerig word. En onthou, Christus het altyd Sy gebede in lyn met God se wil aan die Vader gerig. ‘n Gelowige behoort dus te bid vir dit wat in lyn met God se wil is.
1Joh.5:14 “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra (nie verklaar nie) volgens sy wil.”
Ons kan dus nie iets as alreeds gedoen verklaar indien ons nie weet wat God se wil vir daardie spesifieke gebedsversoek is nie. Ek weet byvoorbeeld nie of dit die Vader se wil vir my is om te lewe totdat die wegraping plaasvind nie. Ek kan Hom versoek, maar ek kan nie verklaar dat ek aan die lewe sal bly totdat die wegraping sal plaasvind nie. Om so iets te doen sou nie my geloof tentoonstel nie maar sou eerder my arrogansie blootlê. Dit is God se besluit om te maak, nie myne nie! Ek kan dus nie Christus se naam as formule agter my gebede voeg, en verwag dat God nou my deklarasies ‘n werklikheid moet maak net omrede ek dit in geloof gedoen het nie. Die mens moet God dien, nie God die mens nie en a.g.v. hierdie feit is dit God se wil wat gedoen moet word nie my wil nie. Waar my versoeke egter in lyn met God se wil aan die Vader gerig word kan ek verwag dat God my gebed sal beantwoord.

Die persoon se stelling: “Ek daag alle ouers uit om te herpos. Daar is KRAG in ons gebede vir ons kinders. Amen”
Opmerking: Hierdie is weereens ‘n voorbeeld van hoe valse leerstellings versprei word. Daar sal baie mense wees wat glo dat die bostaande gebed (of eerder ‘n deklarasie van die skrywer se wil) skriftuurlik is en dat dit hom nader aan God sal bring. Valse leerstellings plaas mens verkeerdelik onder die indruk dat ‘n persoon naby aan die Here is, maar in werklikheid is daardie mens nie naby die Here nie, maar dryf eerder verder van die Here af weg. Boonop is die krag van ons gebede nie in ons gebede self te vinde nie maar in die persoon aan wie ons dit rig, naamlik God. Ons gebed sal slegs krag hê indien dit God se wil is om ons gebed toe te staan. (1Joh.5:14)

Ter afsluiting: Moenie jou kritiese denke prysgee wanneer jy ‘n preek, gebed of Christelike plasing lees nie. Dit is. a.g.v. hierdie feit dat die belydende Christendom tot so ‘n erge mate verlei is. Vergelyk altyd alles met die Skrifte (binne die korrekte dispensasionele konteks) om seker te maak dat wat aan jou verkondig word werklik ‘n Bybelse leerstelling is. Wat ook mens in die Bybel glo, dit moet kontekstueel korrek wees. Om geloof in ‘n stelling wat in die Bybel voorkom te plaas, wanneer daardie teksgedeelte uit konteks aangehaal is is nie Bybelse geloof nie. Om te beweer dat ek die Bybel glo en goedsmoeds teksgedeeltes buite konteks aanhaal is geensins ‘n demonstrasie van Bybelse geloof nie. Net omrede jy werklik korrekte Bybelse leerstellings wil leer, kan jy geensins aanneem dat dit ook die begeerte is van die persoon/pastoor/prediker wat leerstellings aan jou wil verkondig nie. Onthou altyd Paulus se waarskuwing, naamlik:
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
Die Bybel stel dit duidelik dat die meerderheid mense in die laaste dae nie gesonde Bybelse leerstellings sal verdra of begeer nie, naamlik:
2Tim.4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”

Hierdie is weereens ‘n voorbeeld van ‘n deklarasie van die persoon se wil wat onder die dekmantel van ‘n gebed in Christus naam aan ons voorgehou word, en is dwaalleer wat deur die Woord Geloof Beweging verkondig en versprei word. Die enigste ding wat gevaarliker as onkunde is, is onkunde wat met arrogansie gekombineer is. Ons moet nie arrogant, hoogmoedig of oningelig wees nie. Daar is ongelukkig baie, en erge probleme met die Woord Geloof Beweging, asook die voorspoed evangelie. En een van die grootste probleme met hierdie groepe is dat hulle God se soewereiniteit deur hulle sogenaamde verklarings/deklarasies ontken. Ware Bybelse Christenskap verklaar onomwonde die feit dat alleen God soewerein is. Hy is die alleen Skepper van die hele skepping, wat die hemel, en aarde en alles wat daarop is insluit. Hy besit dus alles en slegs Hy beskik die mag en gesag om alle dinge volgens Sy wil in te rig. Dus bestaan God nie vir ons nie, maar ons bestaan vir Hom.
Jes.46:8 “Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges! 9 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;”

Ons moet nooit hierdie feit vergeet nie.

Seën Groete!

Vic.

Deel met ander asb.