God se wil vir alle mense

God se wil vir alle mense op aarde

Baie mense wonder en vra wat God se wil vir hulle is. Met die skryf van hierdie artikel sal kortliks vanuit die Skrifte aan die leser ‘n aanduiding van God se wil weergegee word. Dit is my bede dat die gelowige met die lees van hierdie artikel beter in staat sal wees om God se wil vir Sy lewe te bepaal en dan daarvolgens te lewe. Hierdie artikel kan gerus saam met die artikel genaamd “Om God se wil te ken” bestudeer word. Ons kan nou gaan en die afsonderlike punte aangaande God se wil vir ons vanuit die Skrifte aanhaal en kortliks bespreek, naamlik:

  • Dit is God se wil dat almal verlos word: Alhoewel die oorgroot gedeelte van die mensdom verlore sal gaan, is die rede hiervoor egter nie God se wil vir die mensdom nie. Mense gaan verlore omrede hulle weier om die Evangelie te glo, of hulle glo in ‘n ander evangelie, wat volkome of gedeeltelik, van menslike werke afhanklik is en gaan dus verlore. Dit is egter nooit God se wil dat enige persoon verlore gaan nie.
    1Tim.2:4 “wat wil hê dat alle mense (geen uitsonderings nie)gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, (nie slegs ‘n sekere getal mense nie)as die getuienis op die regte tyd,” (Die leser word aangeraai om die artikels “Bekering, geloof en die ewige lewe.”, asook “Generiese geloof vs Reddende geloof.” te lees.)
  • Dit is God se wil dat alle gelowiges met die Heilige Gees gevul en deur die Gees beheer moet word: Alhoewel alle gelowiges tydens die Kerk dispensasie met wedergeboorte die Heilige Gees ontvang, en deur Hom verseël word, beteken dit geensins dat alle gelowiges met die Gees vervul is nie. Met wedergeboorte ontvang ons slegs eenmalig die Heilige Gees, maar dit word van die gelowige, om na afloop van aanvanklike wedergeboorte, gedurig met die Gees gevul te word. ‘n Geesvervulde gelowige is ‘n persoon wat God se opdragte gehoorsaam, en toelaat dat die Heilige Gees die Here Jesus Christus se lewe in en deur die gelowige uitleef en om dit te bewerkstellig moet die gelowige met die Gees gevul word. (Dus is ‘n Gees vervulde gelowige ‘n persoon wat die Gees toelaat om hom ten alle tye te beheer wat toenemend na ‘n heilige lewenswandel sal lei.)
    Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte wanneer ons deur die Heilige Gees verseël word en Hy ons nooit weer verlaat nie. Ons ontvang die Heilige Gees slegs eenmaal.)
    Ef.5:17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. 18 Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. 19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, 20 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, 21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.” (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, waardeur ons van die houvas van sonde in ons lewens na aanvanklike wedergeboorte bevry word, en waar ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons vul en ons Hom nie moet teëstaan of troef nie.) Die leser word aangeraai om die artikels “Drie Fases van Verlossing”, asook die artikel “Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees” te bestudeer. Die artikel “Word met die Gees vervul” sal aan die leser verduidelik wat ons as gelowiges moet doen om te verseker dat hulle deur die Gees gevul word.
  • Dit is God se wil dat heiligmaking in alle gelowiges se lewens bewerkstellig word: 1Thass.4:1”Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees. 2 Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. 3 Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; 4 dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, 5 nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; 6 dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ‘n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het. 7 Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. 8 Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.”
    ‘n Gelowige wat nie toelaat dat die Heilige Gees heiligmaking in sy lewe bewerkstellig nie, kan nie deur die gees gevul word nie. Wanneer dit by die vulling van die Heilige Gees kom is ons samewerking ‘n absolute vereiste. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te bestudeer.)
  • Dit is God se wil dat gelowiges onderdanig is: Dit is God se wil dat die gelowige aan die owerhede wat bo hom aangestel is onderhewig moet wees.
    1Pet.2:11 “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; 12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. 13 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, 14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. 15 Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, 16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.”
    Toe Petrus bogenoemde opdrag gegee het was keiser Nero aan bewind en ons almal weet hoe goddeloos hy was! Net so ook moet vrouens aan hulle eie mans onderdanig wees en werknemers aan hulle werkgewers onderdanig wees.
    Ef.5:24 “Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.
    Tit.2:9 Die diensknegte moet onderdanig wees aan hul eie here, hulle in alles behaag en nie teëpraat nie; 10 hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier.”
    En laastens is dit belangrik dat kinders aan hulle ouers onderdanig is, asook alle gelowiges mekaar onderdanig moet wees.
    Ef.6:1 Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. 2 Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met ‘n belofte — 3 sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.
    1Pet.5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
    Ef.5:21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.”
    En laastens, maar geensins die minste nie, behoort gelowiges hulle geestelike leiers in die gemeente ook onderdanig te wees.
    Heb.13:17 Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.
    Slegs waar ‘n regering, of ons geestelike leierskap, se beleid met die inhoud van die Bybel in botsing kom, word daar van die gelowige verwag om eerder God as mense te gehoorsaam en moet ons, indien dit nodig sou wees, ook bereid wees om in hierdie opsig vir ons geloof te ly.
  • Dit is God se wil dat ons, om Christus onthalwe, lyding moet aanvaar: In teenstryd met wat sommige predikers verkondig, is dit God se wil dat gelowiges soms vir hulle geloof vervolg, en selfs in sommige gevalle, vir hulle geloof in Hom martelaarskap moet ondergaan.
    Joh.15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. 20 Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. 21 Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.
    2Tim.3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”
    Inteensteling met wat baie gewilde predikers verkondig, kan die klein minderheid getroue dissipels wat getrou aan God en Sy woord bly, verwag om vanuit politieke, sosiale, en selfs vanuit ‘n groot gedeelte van die geïnstitusionaliseerde Christendom onder toenemende druk geplaas te word, wat daartoe kan lei dat gelowiges vir hulle lojaliteit aan die Here Jesus Christus sal moet ly. (wat met slegsê en laster kan begin, en wat later tot gevangenisstraf, fisiese geweld en selfs die dood aanleiding kan gee.)
    2Tim.4:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”
    Die onderwerp betreffende lyding is nie ‘n gewilde leerstelling nie, en om hierdie rede word dit nie genoegsaam in gemeentes verkondig nie, en derhalwe is baie gemeentes nie genoegsaam voorberei om vir hulle geloof in Christus vervolging te verduur nie. Dit bly egter ‘n Bybelse leerstelling en moet verkondig word.
  • Dit is God se wil dat ons die Evangelie verkondig: Alle gelowiges behoort op die een of ander wyse by die verkondiging van die Evangelie betrokke te wees.
    Mark.16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
    Dit is die Kerk se mandaat om tydens die Kerk Dispensasie die Evangelie te verkondig. Nêrens in die opdragte aan die Kerk vind ons die opdrag om die koninkryk van Christus op aarde op te rig nie. Dit is Christus wat met Sy wederkoms Sy koninkryk op aarde sal vestig. Hy is egter nou besig om die Kerk te bou wat met die verkondiging van die Evangelie gepaardgaan. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk kom” asook die artikel “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” te lees. Dit sal ook raadsaam wees om die illustrasie “die Sewe Dispensasies” asook die illustrasie “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking” te bestudeer.) Om hierdie rede is dit belangrik dat die gemeente as geheel diegene wat voltyds met die verkondiging van die Evangelie werksaam is finansieel moet ondersteun.
    1Kor.9:7 “Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? 8 Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? 9 Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? 10 Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. 11 As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?”
  • Dit is God se wil dat gelowiges geleer word om as Sy dissipels op aarde te wandel: Dit is God se wil dat alle gelowige na aanvanklike wedergeboorte as toegewyde dissipels lewe. Matt.28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
    Alle gelowiges moet geleer word om as getroue dissipels van Christus te wandel. Hierdie opdrag is fase twee van die Kerk se mandaat en moet gehoorsaam word. Die feit dat hierdie opdrag van Christus nie getrou uitgevoer word nie is een van die grootste redes waarom die Kerk in die algemeen in so ‘n swak geestelike toestand verkeer. (die leser word aangeraai om die reeks artikels “Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” te bestudeer.)
  • Dit is God se wil dat die gelowige die wapenrusting van God aantrek en aanwend: Dit is van uiterste belang dat ons die geestelike oorlog met die wapens en tegnieke wat God ons in Sy woord gegee het veg en nie ons eie metodes opmaak nie. Ef.6:11 “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.”
    (Die Leser word aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” in hierdie opsig te bestudeer.)
  • Dit is God se wil dat gelowiges goeie werke voortbring:
    Ef.2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
    Goeie werke is van uiterste belang, maar dit is net so belangrik om te besef dat die motief agter die goeie werke God se eer moet wees en nie selfverheerliking nie. Die motiewe agter die goeie werke is dus van uiterste belang. (die leser word in hierdie opsig aangeraai om die artikel “Persoonlike liefde en toewyding aan Christus die grondslag vir Goeie Werke”)
  • Dit is God se wil dat gelowiges alles tot verheerliking van Sy Naam moet doen: Enige daad wat nie tot die verheerliking van God gedoen word nie val buite God se wil vir ons. Dit sluit enige optredes waarvoor ons nie met skoon gewetes God se seën en stempel van goedkeuring daarop kan vra nie.
    1Kor.10:31 “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”
    Wanneer die gelowige voor enige keuse te staan kom, moet hy homself afvra of wat hy nou wil doen God sal verheerlik of nie. Indien God nie deur sodanige keuse verheerlik kan word nie, is dit net logies dat die gelowige nie met daardie optrede voortgaan nie, maar dit eerder bely en laat staan. (ons almal is op die een of ander wyse vir ons eie foute blind en daarom is dit belangrik om medegelowiges te ken wat nie bang is om die waarheid reguit te praat en om ons te vermaan nie.)
    Spr.25:12 “’n Wyse bestraffer by ‘n oor wat luister, is ‘n goue ring en ‘n goue sieraad.”
  • Die is God se wil dat gelowiges bid: Enige verhouding word op wedersydse kommunikasie gebou. God praat met ons deur Sy woord en ons moet weer met Hom in gebed kommunikeer. Daarbenewens werk Hy dan ook in ons harte juis dit wat Hy wil hê ons moet doen.
    Fil.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
    Hierdie feit is dus een van die groot redes waarom gelowiges die heeltyd moet bid.
    Ef.6:18 “terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
    1Thess.5:17 Bid sonder ophou.”
    Fil.4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
    (Die leser word aangeraai om die artikel “
    Basiese Grondbeginsels oor Gebed” te lees.)
  • Dit is God se wil dat gelowiges in alles Hom dank: Indien ons werklik glo dat God soewerein oor die hele skepping is, en boonop alles in Sy hande onderhou, dan het ons mos altyd genoeg rede om Hom vir alles te dank. En dit maak nie saak hoe die omstandighede om ons lyk nie!
    Kol.3:16 “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
    1Thess.5:18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”
    Selfs in tye van hartseer en lyding moet ons weet dat God alles gebruik en dit tot ons eie voordeel laat saamwerk.
    Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
    (Die leser word aangeraai om die artikel “Pyn en lyding en God se liefde” te lees) Ons huidige bestaan is nie al wat daar is nie. Die ewigheid lê voor en hierdie lewe wat ons nou leef dien as voorbereiding vir die lewe wat kom. Daarom is dit van uiterste belang om as getroue dissipels van die Here te leef.
    1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

    (Die leser word ook aangeraai om die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word”, asook “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” te lees.)
  • Dit is God se wil dat gemeentes kerklike tug moet toepas: Hierdie is ook ‘n onderwerp wat nie baie gewild in groot gedeeltes van die belydende Christendom is nie, maar dit bly egter God se wil.
    1Kor.5: 9 “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie — 10 dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan — 11 maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. 12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie 13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.
    Openb.2: 2 Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;”
    Die gebrek aan kerklike tug is weereens een van die groot redes waarom die wêreld die Kerk binnegedring het instede daarvan dat die Kerk as ‘n helder lig in die donker wêreld moet skyn. Die kerk het skynbaar die waarskuwing aangaande wêreldgesindheid heeltemal vergeet.
    Jak.4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. 5 Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?”
    (Die leser word aangeraai om die artikel “Jy moet oordeel” te lees.)

  • Dit is God se wil dat gelowiges vir die geloof stry: Ons lewe in ‘n tydperk waar ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom hulle geloof op gevoelens, buite Bybelse profesie asook vleeslike manifestasies baseer en nie op die Skrifte alleenlik nie. Dit gaan nog tot grootskaalse verlyding aanleiding gee. Hierdie tendens het tot ‘n groot mate alreeds in die Belydende Christendom plaasgevind.
    Jud.1:3 “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. 4 Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.”
    Een voorbeeld hiervan is die feit dat die Nuwe Era beweging se leerstellings alreeds, onder die dekmantel van Bybelse terme, die Kerk binnegesypel het. Daar is alreeds belydende Christene wat nie eens bewus van hierdie feit is nie, en wat nie werklik die verskil tussen hierdie twee onversoenbare en opponerende geloofstelsels kan onderskei nie. Die gewilde boek “The Shack”, asook die Woord Geloof beweging is maar net enkele voorbeelde hiervan. (Die leser word aangeraai om die artikels “Is Leerstellings werklik so belangrik”, asook die artikel “Krag in ons woorde?” te lees.)

Ter afsluiting: Soos wat ons bogenoemde lys Skriftuurlike opdragte in ons lewens toepas, en dit deel van ons daaglikse lewens maak, sal die onbekende besonderhede aangaande God se wil vir ons individuele lewens aan ons duidelik word. En hiervoor is bybelstudie asook ‘n intieme bewustelike verhouding met die Here, wat op geloof gebaseer is, van uiterste belang.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

Onthou egter, dat ons geloof volkome in die Here gesetel moet wees, en in niemand of niks anders nie. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag!
Spr.3:5 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. 6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak. 7 Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;”
En laastens, bid altyd om wysheid.
Jak.1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.