Hemelse krone, loon en goeie werke

Hemelse krone, loon en goeie werke

Vraag: Wat is die mees praktiese metode om te verseker dat mens Hemelse krone, en loon sal ontvang. Daar is so baie opinies oor hierdie saak, maar wat is die mees praktiese metode om krone as loon te versamel. Geen Christen wil sekerlik met leë hande voor God verskyn nie. Indien daar so ‘n metode bestaan, hoeveel goeie dade moet mens doen voor mens verseker kan weet dat mens genoeg gedoen het om krone te ontvang? En laastens, wat is die krone wat God aan die mens belowe?

Antwoord: As wedergebore kinders van God behoort nie een van ons voor God te wil verskyn met leë hande nie. Om deur geloof met wedergeboorte, deur die Heilige Gees, in Jesus Christus geplaas te word en om vir ewig in die teenwoordigheid van ons Hemelse Vader in die hemel te wees, is die grootste gawe wat enige mens ooit kan ontvang. Dit is egter iets waarvoor ons nie kan werk nie, want dit is ‘n vrye geskenk wat die mens ontvang by die aanhoor en glo van die Evangelie. Dus kan daar net van van krone gepraat word, nadat iemand wedergebore geraak het en nie voor die tyd nie. Dit gaan niks baat om krone te wil versamel indien iemand nie wedergebore geraak het nie

Die mees praktiese metode vir die versameling van hemelse loon en krone, na wedergeboorte, sou ek sê is om in ‘n baie noue verhouding met Jesus Christus te lewe. ‘n Verhouding wat op geloof en liefde gebaseer is wat daartoe sal lei dat die Vader en Sy wil alles in die gelowige se lewe word. Indien Jesus Christus die gelowige se grootste hartsbegeerte en fokus is, sal die gelowige vrywilliglik al God se opdragte wil gehoorsaam en sal hy outomaties goeie werke voortbring soos wat die Heilige Gees dit op die persoon se hart lê. Al wat dus nodig is, is ‘n hart wat oorgegee is aan God en wat God, in liefde, nougeset wil gehoorsaam. As die Here werklik ‘n persoon se hartsbegeerte is dan sal daardie persoon se lewe om die Here draai en sal die persoon sy lewe om die Here en sy belange bou. Dit sluit die persoon self, sy hart, sy vermoëns, besittings en hele wese in. Al hierdie dinge sal aangewend word om God se wil op aarde uit te voer en die persoon sal met oorgawe vir die Here leef en nie vir homself nie.
Luk 12:34 “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Bybelse Christenskap is nie ‘n filosofie nie, maar ‘n persoonlike verhouding waarvan Jesus Christus die sentrale figuur is. Ons moet ook verder besef dat ons gered is met die doel om goeie werke voort te bring.
Tit 2:11 “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 2:12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 2:13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 2:14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”
Dus doen ons nie goeie werke om gered te word nie, maar ons doen goeie werke, omrede ons gered is en omdat ons in liefde ons Hemelse Vader wil gehoorsaam uit dankbaarheid vir wat Hy deur Sy Seun, Jesus Christus, aan die kruis vir ons gedoen het.

Ek gaan nog ‘n teksgedeelte aanhaal en dit verder bespreek want daar is nogal belangrike feite wat die gelowige kennis moet van neem.
Efs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Let mooi op die woorde: “tot goeie werke wat God voorberei het,” Goeie werke is dus nie dinge wat ons in ons eie krag wil probeer doen, deur die nakom van sekere stappe of formules nie, maar dit is natuurlike reaksie van ‘n wedergebore hart wat op die leiding van die Heilige Gees reageer, soos wat ‘n behoefte ontstaan en soos wat die Heilige Gees Sy begeertes in die gelowige se hart lê. Die Here sal dus Sy begeertes op ons harte lê en ons moet op Hom staatmaak om die deure van geleentheid oop te maak en ons die krag daartoe te verleen om Sy wil uit te voer.
Fil 2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
Ons moet die leiding van die Heilige Gees volg soos wat Hy lei. Onthou ons is die skape Jesus Christus is die Herder. Hy lei, ons volg. Ons moet nie poog om in ons eie krag vir die Here te werk nie. Ons sal net beloon word vir die werk wat die Heilige Gees deur ons gedoen het.

Nog ‘n baie belangrike feit wat ons moet besef is dat die gelowige se fokus nie die werke of loon self moet wees nie, maar om in Jesus Christus alleenlik gevind te word. Die Gelowige moet op Jesus Christus en in sy verhouding met God, wat op liefde en geloof gebaseer is, fokus en op niks anders nie. Dit is wanneer ons in hierdie noue verhouding met Hom wandel, dat Hy Sy wil aan ons bekend sal maak en wanneer Hy goeie werke deur ons sal doen.
Joh 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Die wonderlikste van alles is dat dit God is wat deur ons Sy werke doen, maar dan beloon Hy ons boonop vir dit wat ons in Sy krag doen! En daarom sien ons in die boek Openbaring dat die ouderlinge, wat die kerk verteenwoordig, hulle krone voor Jesus neergooi, want hulle besef dat die krone God toekom en nie hulle nie. Dus sal dit baie dwaas vir ons wees om te roem, indien die Here ons in Sy genade gebruik om Sy wil uit te voer. Ons behoort eerder op ons knieë neer te val en Hom in dankbaarheid en nederigheid te aanbid.
Opn 4:10 “val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê:
4:11 U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”

Ons moet baie ernstig daarteen waak dat die wêreld en die wêreld se genietinge en sorge ons nie onvrugbaar maak om God se woord te hoor en te eerbiedig nie.
Luk 8:14 “En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.”  (lees asb die artikels “Die Gelowige se werke gaan beoordeel word” asook “Die Gelykenis van die Ponde” en “Die onderskeid tussen wedergeboorte en die loon vir goeie werke”)
Ons moet soos die hoorders wees wat God se woord hoor en in ‘n goeie hart ontvang sodat ons kan vrugte dra.
Luk 8:15 “En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.” (Dit is baie duidelik dat die Here hier van Sy woord, die Bybel, praat en nie van geloof geld “seed money” soos wat die proponente van die Voorspoed-Evangelie wil hê ons moet glo nie)
God praat baie keer met ons maar ons hoor Hom nie, omdat ons so besig is met ons eie lewe, dat ons nie ‘n oor het om na Hom te luister nie. God gaan Homself nie laat bespot nie. Hy weet wanneer Hy ons eerste prioriteit is en wanneer iemand Hom werklik in geloof soek. Dan alleen kan ons verwag om werklik van Hom te hoor.
Heb 11:6 “ En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Dit is belangrik om te besef dat God Homself deur Sy woord aan ons sal openbaar indien ons binne ‘n vertrouensverhouding met Hom staan en om persoonlik ken en in liefde soek,. Ons doel moet altyd wees om God nog beter te leer ken. Die fondament waarop hierdie verhouding gebou word is die woord van God (Bybel) en gebed, wat moet uitloop op gehoorsaamheid. Vir meer inligting oor om van God te hoor lees asb die artikel “Om God se wil te ken

Daar is nie ‘n vasgestelde hoeveelheid werke wat gedoen moet word alvorens ons met krone beloon sal word nie. Ook is daar nie sprake van ‘n vasgestelde kwaliteit van werke wat mens behoort te doen nie. Wat wel saak maak is dat ons, ons bes doen om God se leiding gehoorsaam te volg en om getrou aan Hom te bly tot aan die einde, al kos dit ons alles. As mens die krone baie mooi bestudeer dan sal mens opmerk dat die krone toegeken gaan word op grond van ons getrouheid aan God en hoe ons die Heilige Gees se leiding getrou nagevolg het. ‘n Kort uiteensetting van die krone sal aan die einde van die artikel kortliks bespreek word.  Dit is Jesus Christus wat ons deur die Heilige Gees moet lei en dan is dit net logies dat Hy as God,  bepaal watse werke en hoeveel werke ons moet doen. Dit gaan oor God se wil en nie ons eie nie. Al wat ons moet doen is om Hom getrou te volg en gehoorsaam en daardeur sal ons verseker dat ons nie ons krone of loon sal verloor nie. (‘n Ware gelowige kan nie verlore gaan nie, maar hy kan sy krone en loon verloor. Op. 3:11 Lees gerus die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” asook “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe“)

Ter afsluiting moet ons die Here Jesus Christus die fokus punt van ons lewens maak. Ons moet tyd saam met Hom spandeer en Sy woord getrou bestudeer, met die doel om te hoor wat Hy sê en nie wat ons graag wil hoor nie. Praat met Hom. Gebed is niks anders as om met God te praat nie. Ons sal nooit ten volle besef hoe graag God van ons wil hoor nie. Lewe vir Hom en maak Sy wil jou wil. As dit werklik ‘n persoon se begeerte is om God se wil te doen, dan sal Hy Sy wil op die persoon se hart lê. Ons begeerte moet wees om daagliks saam met Hom te wandel en ons moet Hom in geloof vra om ons harte na Hom te neig, sodat ons vir Hom kan lewe. Dan alleen sal mens besef dat mens werklik lewe en sal ons seker maak dat ons krone ontvang. Aanbid Hom en bly getrou aan Hom!! Hy verdien niks minder as dit nie en boonop sal Hy ons daarvoor beloon!

Let wel: Ons moet seker maak dat die begeertes wat op ons harte gelê word, wel God se begeertes is en nie ons eie begeertes en giere nie. Ons almal kry gereeld giere, maar dit is nie God se begeertes nie. Ek het gevind dat as God Sy begeerte op my hart lê, dan bly die begeerte daar al vra ek Hom om dit weg te neem. Ek het ook al opgemerk dat waar ‘n begeerte maar net een van my eie giere is, dan gaan dit na ‘n tyd weg as ek die Here daarvoor vra. Die Bybel is ook die enigste standaard en maatlyn om seker te maak dat ons begeertes met die van God inlyn is. Moet nie oorhaastig optree nie en wag liewers totdat jy seker is dat die begeerte wel van God afkomstig is, voordat daarop gereageer word, veral met belangrike besluite. Mens sien dit nogal gereeld waar mense ‘n projek namens die Here begin en dan loop dit na ‘n tyd dood, omdat hulle belangstelling verloor het en hulle die taak in hulle eie krag gedoen het. Die begeerte wat hulle oorspronklik gehad het was toe nooit werklik van die Here afkomstig nie. Indien dit van God afkomstig was sou Hy die persoon die krag en deursettingsvermoë gegee het om met die projek aan te gaan. Ander mense kry weer die begeerte om vir God te werk, maar hulle spandeer hulle geld, tyd en vermoëns op aardse dinge en sal nooit eers genoeg tyd spandeer om hulle kennis van God te vergroot nie. Ek het al gereeld met mense te doen gekry wat vir my sê dat hulle die begeerte het om vir God te werk, dan as hulle hulle geld ontvang word dit op die nuutste selfoon of dergelike ding gespandeer. As God ‘n persoon se hartsbegeerte is, dan sal daardie persoon alles prysgee om Hom beter te leer ken en sal die persoon God met sy tyd, geld, vermoëns en verstand dien. Dink maar net as die visvang gier ‘n man gebyt het. Wat sal ‘n man nie alles prysgee om die nuutste katrol, geheime aas en visstok te bekom nie. Dan word daar boeke gekoop om meer kennis oor die nuutste tegnieke op te doen. Geld word op telefoon oproepe gespandeer, net om te hoor watse aas in ‘n spesifieke dam werk. Om baie vroeg op te staan en ver te ry, om in die koue lyn nat te maak is geen moeite nie en word beskou as deel van die pret. So sal dit met ‘n persoon wees wat werklik die Here wil dien. En onthou die Here weet as ons nie eerlik met Hom oor ‘n saak is nie. Hy is immers God en is alwetend! Indien nodig moet ons die Here vra om ons met ons liefde vir Hom by te staan en dan moet ons, ons Bybels opneem en lees. Hoe anders gaan ons Hom beter leer ken as deur Sy woord aan ons?

Die Krone: Baie Bybelkenners sien vyf afsonderlike krone in die Bybel. 1) Die kroon van geregtigheid vir die wat Sy koms lief het. 2 Timoteus 4:7-8. 2) Die kroon van heerlikheid vir getroue herders. 1 Petrus 5:2-4. 3) Die kroon van roem vir sielewenners. Thess 2:19. 4) Die onverwelklike kroon vir heilige en diensbare lewe. 1 Kor 9:24-27 en laastens die kroon van die lewe vir Christen-martelare. Op. 2:10 Dit sluit mense wat in hierdie lewe swaar gekry het en nog steeds getrou aan God gebly het. Jakobus 1:12 ; 2 Kor. 4:16-18 en Heb. 11:3-5

Soos alreeds gestel, gaan ons beloon word vir ons getrouheid aan God en hoe ons Sy leiding en wil getrou uitgevoer het. As ‘n persoon krone wil versamel dan sal daardie persoon Jesus Christus sy lewe maak en Hom getrou volg. Ek hoop hierdie antwoord help die leser en dien as aanmoediging om volkome vir die Here te lewe om sodoende te verseker dat hulle krone in die Hemel sal ontvang. Die Here verwag van Sy kinders om Hom in eenvoudige gehoorsaamheid te volg, soos wat Hy Sy wil, in die Bybel, aan ons bekend gemaak het. Ons moet Hom aan die wêreld deur woord en daad bekendstel as God, Skepper,  Verlosser en die komende Koning van almal. Mag Hy ons daarmee help!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.