Kan Satan die toekoms voorspel?

Kan Satan die toekoms voorspel?

Vraag: Kan die Duiwel die toekoms voorspel? Indien nie, waarom kom voorspellings van mediums, spiritiste, vals profete en toordokters soms waar? Mens hoor gereeld van sulke voorspellings wat waar word, en dit komende van mense wat nie in Jesus glo nie. Is daar is verduideliking hiervoor?

Antwoord: Dit is ‘n baie goeie vraag. Om mee te begin moet ons besef dat net God buite tyd leef en dat alles deur Hom geskape is, insluitende tyd.
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Daarom kan net God Homself as “Ek Is” aan die mens bekendmaak soos wat hy in Exodus 3:4 gedoen het.
Eks 3:14 “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”
Hierdie stelling wat God gemaak het, stel Hom as die Ewige God voor, wat geen begin of einde het nie. Hy bestaan dus buite tyd wat deur Hom geskape is en daarom kan Hy Homself as “EK IS” voorstel. Sou jy miljoene jare in die verlede kon teruggaan, en Hom sou vra wat Sy naam is, sou Sy antwoord nog steeds “EK IS” wees. Dieselfde beginsel geld vir die hede en die toekoms. God is buite tyd en Hy sien alles in die hede, so daar is absoluut niks wat Hy nie sien of weet nie. Daarom is God ook alwetend.

Ons as geskape wesens is deel van die skepping en is gebonde aan tyd. Daarom beleef ons net die hede en kan ons die geskiedenis naslaan, maar ons kan nie akkurate voorspellings oor die toekoms maak nie, want ons was nog nie daar om die toekoms te beleef nie, en het dus nie betroubare inligting oor die toekoms nie. Alle voorspellings wat die mens maak is raai skote . Dus, is ons skattings nooit honderd persent akkuraat nie. Dieselfde beginsel geld vir Satan en die engele.
Jes 41:22 “Laat hulle aanbring en ons te kenne gee wat gaan gebeur! Gee te kenne die vorige dinge, hoedanig hulle was, sodat ons daarop kan ag gee en van die afloop daarvan kan kennis neem. Of laat ons die toekomende dinge hoor! 41:23 Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is; ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.”
Net God kan met absolute akkuraatheid die toekoms voorspel en daarom is dit so belangrik, dat indien ‘n persoon in God se Naam profeteer, hy absoluut seker moet wees dat God wel deur hom praat, anders is so ‘n persoon ‘n vals profeet.

Hoe kry Satan dit dan reg om d.m.v. sy okkultiese dienaars, soms die toekoms akkuraat te kan voorspel? Eerstens moet ons besef dat Satan baie slimmer en sterker as die mens is. Omrede hy ‘n gees is kan hy en sy demone baie dinge waarneem wat ons as mense nie kan waarneem nie. Hy is dus ‘n kenner van die mensdom se gewoontes en die demone deel hierdie inligting met mekaar. Net soos ons, het hy ook die vermoë om planne vooruit te maak. Sou hy bv beplan om iemand oor twee maande se tyd, op ‘n sekere dag, te probeer doodmaak, weet hy dus wat hy vooraf wil doen. Daardie kennis word dan aan ‘n medium gegee wat weer die profesie aan die hoorder of kliënt oordra. As die datum wat deur die medium voorspel is dan aanbreek, poog hy deur sy dienaars om sy plan inwerking te stel. Hy kan bv die slagoffer se vriende kry om hom te versoek om te gaan drink of om dwelms te gebruik. In hierdie opsig is sy opsies amper onbeperk en werk die mens se sonde natuur gewoonlik vrywilliglik saam. Indien die persoon toegee, dan sal Satan alles in sy mag doen om die persoon so dronk te maak dat hy ‘n ongeluk op pad huistoe maak. Daardeur wil dit vir die hoorder van die profesie voorkom asof die medium die waarheid praat en dan begin so ‘n persoon alles te glo wat die medium mag kwyt raak. So word daar ‘n binding op die persoon gesit wat tot sy eie en sy hoorders se ondergang sal lei. Kyk maar hoe gewild is hierdie mediums op televisie, en veral in Suid Afrika wat kamtig ‘n Christelike nasie is.

Maar daar is baie meer wat die mens nie sien nie en wat Satan ook nie so gretiglik sal wil bekendmaak nie. Die Duiwel sit met ‘n probleem, want hy kan nie met absolute sekerheid weet dat sy plan sal slaag nie. Hy is nie God nie en is ook nie almagtig nie. Dus ken hy ook nie die toekoms indien God dit nie aan hom bekend gemaak het nie, en daarom vaal sy planne soms meermale as wat hulle slaag, want hy is vaalblaar net soos ons. Ook kan hy niks aan die mens doen indien hy nie eers God se toestemming daarvoor het nie, en God kan maklik sy planne laat misluk en selfs Satan se eie planne teen hom gebruik om God se eie wil uit te voer.
Job 1:10 “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 1:11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.”

Dit is ook net hier, waar Satan alles in sy mag sal doen om te verseker dat die mens net van die voorspellings wat bewaarheid word hoor, en nie van al die mislukte pogings nie. Indien mens na die werklike syfers gaan kyk, sal dit gou opgemerk word, dat hierdie voorspellings in die meeste gevalle misluk, net soos die valse profesieë wat so gereeld deur mense wat kamtig in die Here se Naam profesieë uitspreek. Die mislukte pogings word ten koste van die waarheid onder die mat gevee. Satan weet al te goed, dat God nie kan lieg nie, en dat net profesieë ,wat van God afkomstig is, honderd persent van die tyd bewaarheid word. Daarom is dit belangrik vir gelowiges om nie valse profesieë te maak en God se Naam so in oneer te bring nie. Die skade wat deur hierdie tipe van optrede veroorsaak word is onberekenbaar. Ons is veronderstel om saam met God, vir die waarheid te staan en nie om Satan in sy boosheid te ondersteun nie!

God laat soms ook toe dat ‘n profesie wat deur ‘n vals profeet gemaak is, in vervulling gaan, met die doel om die mens op die proef te stel.
Deu 13:1 “As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 13:2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 13:3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.”
Geen profesie, of wonderteken, kan as barometer van die waarheid aanvaar word nie. Die enigste waarborg vir die waarheid wat die mens tot sy beskikking het is die woord van God. (die Bybel.) Ongelukkig word Bybelse waarhede, as sekondêr tot buite Bybelse profesieë gerelegeer, wat tot grootskaalse verleiding en smarte gaan lei.

Dit is van uiterste belang, dat ons as Christene, kennis moet dra van die strategieë wat Satan toepas en daarteen waak. Paulus het in hierdie opsig uitstekende raad aan ons gegee en ons sal wys wees om dit te gehoorsaam.
2Ko 10:3 “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, 10:6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.”
Ons moet ten alle tye alles wat aan ons verkondig word, of wat ons mag lees, met die Bybel vergelyk. Volgens die Skrifte is Satan maar net nog ‘n geskape wese, en beskik hy ook oor beperkinge, en selfs sy planne kan verydel word en word nie altyd uitgevoer nie. Hy kan dus nie die toekoms voorspel nie, en indien ‘n gelowige sy lewenswandel volgens die Skrifte, en in God se wil, inrig dan sal Satan se planne vir daardie gelowige ook misluk al voorspel hy die teenoorgestelde! Die duiwel kan wel raaiskote oor toekomstige gebeure maak, want hy bestudeer die mensdom al vir duisende jare, en weet hoe hulle oor die algemeen, in spesifieke situasies, sal optree, en dan sal hy sy voorspellings in lyn met sy raaiskoot aan die medium of valse profeet oordra. Hy is egter nie alwetend nie en kan nie die toekoms met absolute sekerheid voorspel nie. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om in God se wil te leef!

Ek hoop hierdie antwoord werp lig op hierdie onderwerp.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.