Die Onse Vader

Die “Onse Vader” van nader bekyk

Toe ek op skool was, moes ons elke dag voor klasse begin, die Onse Vader opsê. Maar vir die meeste van ons het dit maar net nog ‘n daaglikse ritueel geword. Omrede ek soms te lui was om te bid, het ek die Onse Vader opgesê in ‘n poging om my eie gewete te sus. Vir my was dit slegs ‘n modelgebed en word nog steeds deur baie mense as sulks gebruik. Nooit het ek besef hoe belangrik die gebed in werklikheid is en wat dit in werklikheid behels nie. Baie mense glo verkeerdelik dat die Here Jesus Christus met Sy eerste koms die koninkryk in ‘n geestelike sin op aarde gevestig het, en dat die koninkryk in ‘n versteekte vorm huidiglik op aarde teenwoordig is. Soos wat duidelik gedemonstreer sal word, weerlê die “Onse Vader” egter hierdie bewering. Hierdie feit maak van die “Onse Vader” ‘n uiters belangrike gebed wat gereeld deur elke gelowige met dieper insig gebid behoort te word. Veral in die tye waarin ons nou leef!

Dit is egter belangrik om te onthou, dat hierdie gebed aan gelowiges as voorbeeld voorgehou word, en is nie ‘n gebed wat die Here Jesus Christus kon bid nie. Hy is immers sondeloos en kon nie om vergifnis vir enige sonde vra nie. Kom ons gaan lees nou die gebed en bespreek dit, naamlik:
Matt.6:9 “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 10 laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; 11 gee ons vandag ons daaglikse brood; 12 en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; 13 en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Tradisioneel word die onse Vader gewoonlik in verskillende seksies verdeel en georganiseer. Eerstens word die Here geloof en geprys. Tweedens word skuldbelydenis gedoen en word die feit genoem dat ons almal wie teen ons gesondig het vergewe. Derdens word die Here vir alle gawes bedank, en laastens word ons daaglikse behoeftes/versoeke aan God die Vader voorgelê. Tot n groot mate is hierdie uitleg korrek, maar besef ons werklik waarvoor ons vra en wat hierdie gebed werklik bewys? Die gebed kan eerder in ses versoeke, wat uit twee hoofafdelings bestaan, opgedeel word. Die eerste drie versoeke word aan God gerig, met die versoek dat Hy Sy Koninkryk op aarde moet vestig. (‘n gebeurtenis wat nog nie plaasgevind het nie, anders sou ons nie daarvoor bid nie) Die laaste drie versoeke handel oor die dissipels se temporale versoeke/behoeftes terwyl hulle vir God wag om Sy koninkryk op aarde te vestig.

Die eerste gedeelte van drie versoeke is om God se Koninkryk op aarde te vestig: Die “Onse Vader” is ‘n versoek aan God om Sy koninkryk op aarde te vestig. Dit beteken dat God se koninkryk nog nie op aarde teenwoordig is nie en dat dit ‘n gebeurtenis is wat nog in die toekoms moet plaasvind. Die onse Vader handel oor die tussentydse periode tussen Christus se eerste koms, en Sy wederkoms, wanneer Hy self Sy koninkryk op aarde sal vestig. Derhalwe moet die “Onse Vader” in die konteks van die komende Duisendjarige Vrederyk van Christus verstaan word. Die eerste drie versoeke, soos wat ons dit in die “Onse Vader” vind, is dus ‘n versoek aan God om Sy fisiese koninkryk op aarde te vestig. Die Here Jesus Christus sal met Sy wederkoms ‘n einde aan Satan se heerskappy (wat alle menslike koninkryke insluit) op aarde maak en self Sy Koninkryk op aarde oprig en fisies as Koning vanuit Jerusalem regeer.
Matt.6:9 “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 10 laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Hierdie gebed is dus ‘n gebed om profetiese vervulling van God se woord, soos wat ons dit in die Ou Testament vind en moet in hierdie konteks aan God gerig word.

Ons weet byvoorbeeld dat Christus se koninkryk met Sy eerste koms deur die Jode verwerp is, en dat dit slegs na afloop van die Groot Verdrukking, met Sy wederkoms, ingestel sal word. Dit is ook vanuit die Skrifte duidelik dat die Here Jesus Christus ‘n fisiese koninkryk op aarde verwag en nie ‘n onsigbare geestelike koninkryk nie. Ps.2 is ‘n Messiaanse Psalm wat ‘n profetiese blik in die toekoms gee, naamlik:
Ps.2:1 “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: 3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! (Hierdie gedeelte van die Ps.2 sal ‘n hoogtepunt, net voor Christus se wederkoms bereik, wanneer die weermagte van die nasies in Israel versamel is om Christus se wederkoms te verhinder) 4 Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. 5 Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: 6 Ek tog het my Koning (Die Here Jesus Christus) gesalf oor Sion, (Jerusalem) my heilige berg. 7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. (God die Seun se geboorte as mens in Bethlehem) 8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. (‘n Gebeurtenis wat slegs na afloop van Christus se wederkoms vervul sal word)9 U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. (Christus wederkoms wanneer Hyself die weermagte van die nasies met Sy woord verpletter, en Sy koninkryk oprig en met ‘n ystersepter regeer) 10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!”

Christus se dissipels het ‘n letterlike geografiese koninkryk op aarde verwag en het hierdie feit duidelik so verstaan. Die Here het hulle nie in hierdie opsig gekorrigeer nie, want Hy weet dat die Koninkryk nog nie op aarde gevestig is nie. (Iets wat Hy sou doen indien hulle die konsep van ‘n fisiese koninkryk op aarde misverstaan het.) Hy het hulle slegs in terme van die presiese tyd, wanneer daardie koninkryk op aarde opgerig sou word, gekorrigeer, naamlik:
Hand. 1:6 “Die wat bymekaargekom het, (nadat Christus alreeds uit die dood uit opgestaan het en net voordat Sy hemelvaart plaasgevind het) vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? (‘n Letterlike koninkryk op aarde met ‘n Koning in bewind)7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;”
Dit is in die konteks van hierdie koninkryk waaroor Matt.6:9-10 handel.

  • Die eerste versoek: “laat U naam geheilig word”: Om God se naam te te heilig beteken dat God se naam as heilig beskou en eerbiedig word. Daarbenewens, moet God se naam (wat Sy Persoon en wil insluit) gerespekteer en sonder versuim gehoorsaam word. Die Here Jesus Christus leer dus Sy dissipels om die Vader te versoek om Sy koninkryk op aarde te vestig, waar Sy naam volkome deur die ganse mensdom geëer en eerbiedig sal word. (Iets wat nog nie in die wêreld, en selfs in die belydende Christendom/kerk, die geval is nie.) Die komende koninkryk van God is herhaaldelik in die Ou Testament voorspel en dit is hierdie koninkryk waarna die dissipels uitgesien het. Jes.29:23 is maar net een van baie sulke voorbeelde, naamlik:
    Jes.29:23 “want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees;”
    Slegs wanneer die Here Jesus Christus God se koninkryk op aarde vestig sal Sy naam werklik onder die nasies geheilig word.
    Eseg.36:23 “En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.”
  • Die tweede versoek: “laat U koninkryk kom”: Onthou, konteks, konteks, konteks. Die dissipels het hulle konsep van die koninkryk vanuit die Ou Testament bekom, en hulle was dus korrek in die feit dat hulle ‘n fisiese koninkryk op aarde verwag het. Hulle het dus die leerstelling van die letterlike fisiese koninkryk op aarde reg verstaan en die Here het Sy dissipels i.t.v. hierdie feit geleer oor hoe hulle moes bid. Mense wat die komende aardse koninkryk vergeestelik begaan ‘n ernstige fout en Augustinus van Hippo is tot ‘n groot mate vir hierdie verkeerde siening verantwoordelik. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk kom” asook “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” te lees) Vir die Here Jesus Christus om Sy dissipels te leer om vir die koms van die koninkryk te bid, sou sinneloosheid wees indien die koninkryk, in enige vorm, alreeds op aarde gevestig was.

    Onthou, die Here Jesus Christus het met Sy eerste koms die koninkryk aan die Jode aangebied.
    Matt.4:17 “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
    In bogenoemde teksgedeelte het die Here die koninkryk in terme van ‘n letterlike aardse koninkryk aan die Joodse volk voorgehou. Die Joodse volk het Hom egter verwerp en verklaar dat hulle geen ander koning as die keiser gehad het nie. (Onthou ‘n koninkryk kan nie sonder ‘n Koning bestaan nie.)
    Joh.19:15 “Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”
    Alhoewel Christus die beloofde Messiaanse Koning, volgens die Ou Testamentiese Skrifte was, en die koninkryk met Christus se eerste koms naby gekom het, is daardie koninkryk a.g.v. ongeloof nie met die eerste koms bewerkstellig nie en is met die Here se hemelvaart tot en met Christus se wederkoms van die aarde afwesig. Slegs met Christus se wederkoms sal die koninkryk op aarde ‘n werklikheid word. En dit is vir die oprigting van daardie koninkryk waarvoor ons moet bid.
  • Derde versoek: “Laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”: Anders is wat huidiglik op aarde die geval is, word God se heerskappy sonder enige teëspraak in die hemel aanvaar. In die hemel word God se bevele, en wil, onmiddellik sonder enige weerstand uitgevoer en word Sy bevele (en wil) nooit bevraagteken nie. God se soewereiniteit word nie in die hemel, soos wat dit huidiglik op aarde die geval is, enigsins teëgestaan nie. Slegs na afloop van Christus se wederkoms, en oprigting van God se koninkryk op aarde, sal God se soewereiniteit deur almal op aarde erken word. Dit is in terme van hierdie konteks, waarin Christus Sy dissipels leer, om vir die koms van God se koninkryk op aarde te bid, sodat Sy wil ook op aarde uitgevoer sal word soos wat dit huidiglik in die hemel die geval is.

Die tweede gedeelte van drie versoeke handel oor ons daaglikse behoeftes:
Net soos wat Matt.6:9-10 drie versoeke bevat wat God vir die oprigting van Sy koninkryk op aarde versoek, net so bevat Matt.6:11-13 drie versoeke aan God om die voorsiening van die gelowiges se daaglikse behoeftes. Solank as wat God se koninkryk nie op aarde gevestig is nie sal dit vir gelowiges nodig wees om God vir die voorsiening van hulle daaglikse behoeftes te vra. Dit is in hierdie konteks waarin die Here Sy dissipels leer bid het.

  • Eerste versoek, die voorsiening van ons daagliks brood: Tot en met Christus, God se koninkryk op aarde vestig, sal voedseltekorte en hongersnode deel van die mens se bestaan op aarde wees. Dit is juis a.g.v. hierdie werklikheid dat die Here Jesus Christus Sy dissipels geleer het om God die Vader vir die voorsiening van hulle daaglikse brood te nader. Sodra Christus, met Sy wederkoms, God se koninkryk op aarde vestig, sal hongersnood, en voedseltekorte, iets van die verlede wees en sal gelowiges nie meer nodig hê om die Here vir hulle daaglikse brood te vra nie. (Hulle sal slegs Hom hoef te dank!) Die Ou Testament (wat as agtergrond vir die Onse Vader dien) is vol van profesieë wat oor hierdie tydperk handel. Ek gaan net ‘n paar vir die doeleindes van hierdie artikel hierby aanhaal.
    Jes.65:21 “En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: 22 hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.
    Amos 9:13 Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.
    Sag.8:12 Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.”

    Let wel: Bostaande teksgedeeltes handel oor die volk Israel tydens Christus se Messiaanse koninkryk. Die Here Jesus Christus sal na afloop van Sy wederkoms fisies vanuit die huidige Jerusalem oor die wêreld regeer, wat ‘n tydperk van ongekende voorspoed vir die hele aarde sal inlei. Ongelukkig word bostaande teksgedeeltes gereeld buite konteks aangehaal en op die huidige Kerk Dispensasie toegepas. Dit is ‘n ernstige mistasting wat nog tot groot ontnugtering aanleiding gaan gee. Tot en met Christus se wederkoms sal hongersnood, voedseltekorte, droogte ensovoorts op aarde teenwoordig wees.

    Tot en met Christus se wederkoms, is dit absolute noodsaaklik om God vir die voorsiening van ons daaglikse behoeftes te nader. (Onthou ons versoek God om in ons behoeftes te voorsien nie ons gierigheid, wat afgodediens is, nie!)
    Filip.4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”1Pet.5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
    Solank as wat ons nog tydens die Kerk Dispensasie leef geld die volgende beginsels, naamlik:
    1Tim.6 “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
  • Tweede versoek: “en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”: Ook geestelike behoeftes sal ‘n werklikheid bly, waarvan vergifnis van sonde een so ‘n behoefte is. Hierdie tydperk sluit dus die Kerk Dispensasie in, wat slegs met die wegraping tot ‘n einde gebring sal word, wanneer gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef met hulle verheerlikte liggame oorklee sal word. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, is dus glad nie hier terspraaklik nie, maar eerder fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking waar ons samewerking verwag word.

    Onthou, geregtelike verlossing van die ewige verderf word nie deur enige werke bekom nie, maar slegs op grond van genade deur geloof in die Evangelie!
    Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
    Titus 3:5 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees
    Rom.4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
    Matt.6:12 handel dus oor gemeenskap binne God se gesin, waarvan alle gelowiges vir ewig met wedergeboorte deel vorm. Wanneer gelowiges sondig, is dit nodig om vergifnis vir daardie sonde te vra, sodat die Vader/kind verhouding binne God se gesin herstel kan word. Verlossing van die ewige verderf is glad nie hier terspraaklik nie. Die hele konteks handel oor fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking! (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” asook die “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” te lees.)

    1Joh.1:6 “As ons (gelowiges, kinders van God) sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis (sonde)wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 7 Maar as ons in die lig (heilig)wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. (alle gelowiges besit nog steeds ‘n sonde natuur en sondig nog gereeld)9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (dan wandel ons weer in sonde/duisternis want ons vertel leuens.) Om te weier om ons medemens te vergewe is sonde, en so ‘n gelowige wandel derhalwe in duisternis. Boonop kan so ‘n gelowige nie verwag om gemeenskap met sy Hemelse Vader te geniet nie. Enige sonde verbreek gemeenskap met ons hemelse Vader, en daarom is dit belangrik om diegene wie teen ons sondig te vergewe, net soos God ons in Christus vergewe het. Derhalwe is dit van uiterste belang dat ons skuldbelydenis doen sodra ons bewus van enige sonde in ons lewe raak. Sodra ons skuldbelydenis doen word ons gemeenskap met ons hemelse Vader herstel.
  • Derde versoek: “en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” Omrede die koninkryk nog nie ‘n werklikheid op aarde is nie, is dit belangrik dat gelowiges bid om van die bose verlos te word. Die stelling “die bose” kan in ‘n meer letterlike sin as die “bose een” vertolk word. Alhoewel hierdie lewe die sfeer is waarin God die gelowige toets, versoek Hy egter niemand met sonde nie.
    Jak.1:13 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”
    God se toetsing van die mens is altyd ten goede, en om te bewys wat in ‘n persoon is. Satan versoek die mens ten kwade, om hom te kry om teen God met sonde te rebelleer.
    Jak.1: 2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
    Maar hoekom toets die Here ‘n mens? Omrede dit die gelowige se geestelike lewe ontwikkel en boonop sal ons God daardeur verheerlik en genadeloon vir onsself bymekaarmaak.
    Jak.1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
    Die kroon van die lewe is nie die gawe van die ewige lewe (fase een, wedergeboorte) wat slegs deur geloof in ontvangs geneem word nie. Die kroon van die lewe is ‘n kroon wat gelowiges as genadeloon na aanvanklike wedergeboorte kan verdien, (fase twee, heiligmaking/dissipelskap) omrede hulle getrou in tye van toetsing aan die Here bly. Ons moet dus nie bid om van toetsings bevry te word nie maar bid om van Satan se strikke bevry te word. Ons moet dus bid om teen die bose een se skelmstreke beskerm te word.

    Na afloop van die wederkoms, wanneer Christus Sy koninkryk op aarde oprig, sal Satan gebind wees en kan hy nie meer gelowiges mislei nie.
    Openb.20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
    Met die koninkryk wat huidiglik afwesig op aarde is bly Satan nog steeds die god van hierdie wêreld.
    2Kor.4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
    Om hierdie rede loop hy nog steeds as ‘n brullende leeu rond en soek wie hy kan verskeur.
    1Pet.5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
    En nee, ons kan nie die Satan bind nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” te lees.) Sit is om hierdie rede waarom die Bybel vriendskap met die wêreld as vyandskap met God beskryf.
    Jak.4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.

Ter afsluiting: Die Onse Vader geld dus vir alle gelowiges wat in die interim tydperk tussen Christus se twee komste lewe. Gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie wedergebore raak sal met die wegraping met hulle verheerlikte liggame oorklee word. Die wegraping sluit ook die Kerk Dispensasie af. Alle mense wat na die wegraping wedergebore raak sal deur die verdrukking moet gaan. Indien hulle dit oorleef sal hulle na afloop van Christus se wederkoms die koninkryk met hulle fisiese liggame binnegaan. Hulle sal egter nie meer deur die duiwel versoek kan word nie omrede hy gebind sal wees. Met Christus in beheer sal die wêreld ‘n ongekende tydperk van voorspoed beleef en sal daar in al ons behoeftes voorsien word.
Jes.35:4 “Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos. (Die wederkoms wanneer Christus Sy koninkryk op aarde kom vestig) 5 Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. 6 Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. 7 En die gloeiende grond sal ‘n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.”
Die konteks van bostaande teksgedeelte handel oor die komende duisendjarige vrederyk van Christus, (die millennium) maar ongelukkig word hierdie teksgedeelte gereeld buite konteks aangehaal en verkeerdelik op die Kerk Dispensasie van toepassing gemaak. (hierdie stelling geld spesifiek die sogenaamde geloofsgenesers.)

Die feit dat gelowiges nog steeds die onse Vader moet bid, dien as onweerlegbare bewys dat Christus nie Sy koninkryk met Sy eerste koms op aarde gevestig het nie. Die Onse Vader is ‘n gebed aan God om Sy koninkryk op aarde te vestig. ‘n Gebeurtenis wat nog nie plaasgevind het nie. Die eerste gedeelte van die Onse Vader, wat uit drie versoeke bestaan, handel oor ons versoek aan die Vader om Sy koninkryk op aarde te vestig. Die tweede gedeelte van die Onse Vader, wat ook uit drie versoeke bestaan, handel oor gelowiges se temporale behoeftes terwyl die koninkryk nog afwesig op aarde is.

Alle gelowiges lewe huidiglik as vreemdelinge in vyandige gebied, en daarom kan ons toenemende druk vanaf die huidige wêreld sisteem verwag. Gelowiges wat nou tydens die kerk Dispensasie lewe verwag egter om enige oomblik d.m.v. die wegraping deur Christus van die aarde af verwyder te word.
1Thess.4:16 “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Die wegraping kan vandag plaasvind, en as gelowiges, moet ons daarvoor bid. Die gelowiges wat na Christus se verskyning met die wegraping uitsien sal boonop net die kroon van geregtigheid by die regterstoel Oordeel van Christus beloon word! Tot en met wanneer die wegraping plaasvind, behoort alle gelowiges op die een of ander wyse by die verkondiging van die Evangelie betrokke wees. Onthou, mense se siele is op die spel.
Openb.22:20 “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! 21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.