die opstanding deel 3

Die opstanding en meegaande implikasies deel 3

In deel een van hierdie reeks artikels het ons gemerk hoe die apostel Paulus die uiters belangrike geskiedkundige werklikhede aangaande die Here Jesus Christus se opstanding vanuit die dood aan sy lesers voorgelê het. In deel twee van hierdie reeks artikels, het ons gemerk dat Paulus bo enige twyfel gedemonstreer het dat die Here Jesus Christus se opstanding direk met die toekomstige opstanding van die gelowige verbind is. In deel drie van hierdie reeks artikels sal ons die aard van die opstandings liggaam of te wel die gelowige se verheerlikte liggaam bespreek. (Indien die leser nie alreeds die eerste twee artikels gelees het nie, word hy ten sterkste aangeraai om dit te doen, omrede die onderwerp daarin bespreek met mekaar inskakel.) In deel 3 van hierdie reeks artikels word 1Kor.15:35-57 en die aard van die opstanding-liggaam, of te wel die gelowige se verheerlikte liggaam verduidelik.

1Kor.15:35-37 “Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? 36 Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. 37 En wat jy saai — jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders.”
Opmerking: ‘n Denkbeeldige gespreksgenoot mag dalk die volgende twee vrae stel, naamlik: 1. Hoe word die dode opgewek. 2. Met hoedanige liggaam staan hulle vanuit die dood uit op? Dit is vanuit sy antwoord duidelik dat Paulus nie die tipe vraag van ‘n wyse persoon sou verwag nie (veral iemand wat beweer dat hy kennis aangaande God beskik.) God is immers almagtig en niks is vir Hom onmoontlik nie. Om die opstanding te ontken, is om te beweer dat God nie oor die vermoeë beskik om die dooies vanuit die dood te laat opstaan nie, wat sou beteken dat Hy nie werklik almagtig is nie. En om hierdie rede spreek Paulus die denkbeeldige gespreksgenoot as ‘n dwaas aan. Paulus maak nou van ‘n bekende voorbeeld vanuit die natuurlike skepping (wat God se handewerk is) om die moontlikheid van die opstanding te verduidelik. ’n Saadkorrel moet in de grond val en sterf alvorens daar ‘n plant of boom te voorskyn kom. Ons kan ‘n saadkorrel onder ‘n mikroskoop ontleed, maar ons sal nooit die beginsel van lewe in daardie saadkorrel of enige ander lewende wese volkome verstaan nie. Al wat ons werklik weet is dat die saadkorrel in die grond val en vanuit daardie saadkorrel kom ‘n volledige plant of boom te voorskyn. Paulus vergelyk geloof in die natuurlike skepping met geloof in die opstanding. Alhoewel mens nie die hele proses (en die beginsel van die lewe daarin gevind) kan verstaan nie (veral die konsep van fisiese lewe) bly die feit vasstaan dat albei konsepte ‘n werklikheid is. Alhoewel die plant wat opkom nie presies dieselfde as die saadkorrel lyk, wat oorspronklik geplant is nie, bly die twee egter onlosmaaklik deel van mekaar. Dieselfde beginsel sal vir ons natuurlike sowel as ons opgewekte verheerlikte liggame geld.

1Kor.15:38-41 “Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam. 39 Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls. 40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. 41 Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster.”
Opmerking:
Die verskille, asook die verskeidenheid in die skepping reflekteer God die Skepper se wil. God se glorie vind juis uitdrukking in die verskille tussen die vlees van die mens, en die vlees van diere, asook die verskil tussen die vlees van diere en die vlees van visse en voëls. Hierdie feit geld ook vir die verskille tussen die lewende (organiese) skepping en die van die anorganies skepping, soos byvoorbeeld die heerlikheid van die son, maan en sterre. Net soos wat daar verskille in die prag van die hemelliggame teenoor die van die aardse liggame is, so is daar ook verskille tussen die liggaam wat die gelowige huidiglik beskik, en die van die verheerlikte liggaam wat hy met die opstanding sal ontvang. Die twee verskillende aspekte bly egter deel van die persoon se oorspronklike liggaam.
Dan.12:3 “En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.
Matt.13:43 Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”
Die wyse waarop die verskille in die hemelse liggame uiteengesit word, blyk ook ‘n indikasie te wees dat daar verskille in glorie van die verheerlikte liggame van opgestane gelowiges sal wees. Alle gelowiges sal dus nie alleen verskillend wees nie, maar daar sal ook ‘n verskil in heerlikheid tussen die gelowiges wees, wat die mate van hulle geloofswerke (na aanvanklike wedergeboorte) sal reflekteer. Alhoewel alle gelowiges se verheerlikte liggame soortgelyk aan die van die opgestane Here Jesus Christus sal wees, (wat sondeloosheid insluit) sal daar egter ‘n verskil in glorie en heerlikheid tussen die verskillende gelowiges wees. Alle gelowiges sal uitkenbaar wees net soos wat hulle van mekaar in voorkoms tydens hulle aardse bestaan gelyk het. Omrede daar verskillende grade van genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus uitgedeel sal word, sal daar verskillende grade van heerlikheid wees. Alhoewel almal uitermatig blydskap en geluk sal ervaar, sal daar dus verskille in die kapasiteit van die belewenis daarvan wees. Ons almal se bekers sal vol wees, maar ons almal se bekers sal nie ewe groot wees nie. Net soos wat daar verskillende vlakke van straf in die poel van vuur sal wees, net so sal daar verskillende vlakke van glorie in die universele Koninkryk van God wees, en die bepalende faktor in albei gevalle sal menslike werke wees. (Alhoewel ons geen werke kan doen om verlossing fase een, naamlik wedergeboorte in ontvangs te neem nie, bepaal ons geloofswerke na aanvanklike wedergeboorte [fase twee, naamlik heiligmaking/dissipelskap] die genadeloon wat ons sal ontvang.) Dus het die opstandings liggaam in wese identiteit en kontinuïteit, maar dit word met die opstanding van oneer, siekte en dood bevry. Die verheerlikte liggaam is onsterflik, kragvol en geestelik. Dit is dieselfde liggaam, maar dit word in een vorm gesaai en in ‘n ander vorm opgewek. (Die leser word ten sterkste aangedraai om die artikel “Wat is die ewige lewe” te lees.)

1Kor.15:42 “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; 43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. 45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.”

Opmerking: Ons huidige liggame wat aardgebonde is, is gevalle, tydelik, onvolmaak en swak. Boonop is ons huidige liggame ook vir siektes vatbaar en gaan ons stelselmatig d.m.v. die verouderingsproses agteruit en kom uiteindelik tot sterwe. Wanneer ons liggame tot sterwe kom word die oorledene se liggaam in die graf gelê waar dit ontbind en uiteindelik tot stof terugkeer. Danksy die Here, daar is hoop! Tydens fase een van die eerste opstanding, sal alle gelowiges wie tydens die Kerk Dispensasie tot geloof in Christus gekom het, met verheerlikte liggame opgewek word. Derhalwe sal ons vanuit die dood uit opgewek word om nooit weer te sterwe nie, en dan sal siekte en dood se houvas op ons liggame vir eens en vir altyd verbreek wees. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Waarom gaan gelowiges nog steeds dood?” asook “Genees en genesing tydens die Post Apostoliese tydperk” te lees) Huidiglik is ons liggame in oneer gesaai, en ons word gereeld deur die afsterwe van ‘n geliefde aan hierdie feit herinner. Met die opstanding sal ons liggame verheerlik word, en sal ons nooit weer siek, pyn, ongerief, veroudering of enige ander gevolg van die sondeval in ons liggame ervaar nie. (Boonop dit alles sal ons met ons afgestorwe geliefdes verenig word.) Ons liggame is wel huidiglik in swakheid gesaai, maar dit sal in krag opgewek word. Met die verloop van jare word self die sterkste atlete deur die verouderingsproses oorweldig, wat uiteindelik daardie persoon van meeste van sy krag sal ontneem en wat uiteindelik op die dood uitloop. Na afloop van die opstanding sal dit nie meer die geval wees nie, en sal alle gelowiges se verheerlikte liggame oor kragte beskik wat hulle nie huidiglik besit nie. Die Here Jesus Christus kon byvoorbeeld na Sy opstanding vertrekke binnegaan wat gesluit is.

1Kor.15:44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. 45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.”
Opmerking: Paulus is nog steeds besig om ‘n onderskeid tussen die eerste Adam en die die tweede Adam, naamlik die Here Jesus Christus aan sy lesers voor te hou. Adam verteenwoordig die aardse natuurlike liggaam. Omrede Adam vanuit die stof geskape en dus aards is, het hy na die sondeval sy aard/natuur aan al sy nasate oorgedra en om hierdie rede word alle mens geestelik dood gebore.
1Kor.2:14 “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Christus, wie sonder begin of einde is, en wat van alle ewigheid af leef, het die liggaam van ‘n mens aangeneem, en in die wêreld ingekom en Hy is ‘n voorbeeld van ‘n geestelike liggaam. Slegs mense wat die Evangelie glo sal met ‘n verheerlikte geestelike liggaam opstaan.
Filip.3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (Ons finale tuiste is dus nie meer die aarde nie, en om hierdie rede is ons nie meer aardgebonde nie, maar die finale tuiste vir ons verheerlikte liggame is die Nuwe Stad Jerusalem wat in die Hemel is. Die mensdom se geskiedenis begin in ‘n tuin, naamlik die tuin van Eden, maar dit eindig waar ons in ‘n stad, in God se teenwoordigheid sal leef, naamlik die Nuwe Jerusalem wat vanuit die hemel afkomstig is.)

Dit moet egter gelet word, dat met die stelling “geestelike liggaam” Paulus nie bedoel dat almal wat in Christus tot sterwe kom slegs geestelike wesens sonder vleeslike liggame sal wees nie. (soos byvoorbeeld die engele) Die mensdom is met ‘n liggaam, siel en gees geskape en sal slegs volkome mens wees indien al hierdie fasette van hom weer na afloop van die opstanding in een persoon verenig is. Onthou, die Here Jesus Christus het nog steeds oor ‘n liggaam beskik nadat Hy uit die dood uit opgestaan het.
Luk.24:39 “Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. 40 En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.”
Een verskil tussen ‘n natuurlike liggaam en ‘n geestelike liggaam is dat ‘n natuurlike liggaam geskape is om slegs op die aarde te kan lewe en om hierdie rede kan vlees en bloed nie die Universele Koninkryk van God (wat die Hemel insluit) binnegaan nie.
1Kor.15:50 “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.”
Om hierdie rede glo ek, dat met die opstanding, ons verheerlikte liggame nie oor bloed sal beskik nie. En om hierdie rede het die Here vir Sy dissipels gesê dat ‘n gees nie uit vlees en bene bestaan nie, instede daarvan om te sê vlees en bloed. (iets wat mens sou verwag) Slegs ons verheerlikte liggame sal vir die hemel geskik wees.

Boonop word die natuurlike mens gewoonlik deur die vlees en siel gedomineer. In teenstelling daarmee sal die verheerlikte mens se gees dominant wees. Dit was van die begin af altyd God se wil dat die gees van die mens dominerend moes wees, omrede Hy Gees is. Maar met die sondeval het dinge verander en het die mens se vlees en siel dominerend geraak en daarom is ons begeertes om ons vleeslike, asook sielsbegeertes, te bevredig en dit gewoonlik ten koste van ons geestelike behoeftes. Na aanvanklike wedergeboorte, moet ons toelaat dat die Heilige Gees deur ons gees d.m.v. Sy woord beheer oor die vlees bekom, sodat Sy wil eerste gestel kan word en nie ons sondige begeertes nie. Sodoende wil die Heilige Gees volkome beheer oor ons liggame en wil bekom wat ‘n daaglikse stryd is. (wat ons heiligmaking noem) Wanneer ons na afloop van die opstanding ons verheerlikte liggame ontvang het, sal ons nie meer die vlees en siel eerste plaas nie maar die gees sal dan weer dominerend wees. Om rede ons geestelik wedergebore is sal ons sondelose geeste volkome alle fasette van ons verheerlikte liggame beheer en sodoende sal ons volkome deur die Gees gely word. Die volle oes, net soos die eersteling-gerf moet egter eers sterf, om daarna met die opstanding, met ‘n geestelike liggaam uit die dood te voorskyn te kan kom.

1Kor.15:50 “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. 51 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”
Opmerking: Maar wat nou van gelowiges wat nog sal lewe wanneer die Here die Kerk Dispensasie met die Wegraping afsluit. Omrede dit onmoontlik vir vlees en bloed is om die koninkryk van God in te gaan, deel Paulus nou ‘n verborgenheid met sy lesers. ‘n Verborgenheid kan as enigiets wat nie in die Ou Testament geopenbaar is nie, maar wat nou in die Nuwe Testament deur God bekendgemaak word, omskryf word. Gelowiges wat nog met Christus se koms vir die Kerk nog sal ewe, sal almal in ‘n oogwink verander word. Hierdie gebeurtenis sal plaasvind wanneer die laaste trompet/basuin vir die kerk, wat die Kerk Dispensasie tot ‘n einde sal bring, geblaas word. Baie mense dink dat die stelling “laaste basuin” dieselfde basuin is wat tydens die verdrukking met die blaas van die sewende basuin is. (Openb.11:15-19) Dit moet egter gelet word dat die sewende basuin wat tydens die verdrukking geblaas sal word, met God se oordele oor die wêreld gepaardgaan en nie met hierdie basuin wat die Kerk Dispensasie tot ‘n einde sal bring nie, en wat nie ‘n oordeel is nie maar ‘n seën. Wanneer die laaste basuin, wat die Kerk Dispensasie sal afsluit blaas, dan sal al die gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof in Christus gekom het, en wat alreeds gesterwe het, vanuit die dood met hulle verheerlikte liggame opgewek word. Gelowiges wie nog leef sal in ‘n oogwink verander en met hulle verheerlikte liggame beklee word. Die rede hiervoor is eenvoudig. Hierdie verganklikheid moet met onverganklikheid, en hierdie sterflikheid moet met onsterflikheid beklee word. Slegs ons verheerlikte liggame sal voldoende wees om ons toe te laat om in God die Vader se teenwoordigheid te verskyn.

1Kor.15:54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. 55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? 56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. 57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”
Opmerking: Wanneer hierdie verganklikheid met onverganklikheid, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, wat beteken dan ons nooit weer siek sal word of tot sterwe sal kom nie, sal die dood finaal oorwin wees. (Onthou, ons verlossing vind in fases plaas. Die leser word aangeraai om die artikel “drie fases van verlossing” te lees.) Die mens se rebellie teen God het tot die angel van die dood aanleiding gegee.
Rom.5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”
Sonde is die angel wat ons die doodsteek toegedien het. Die wet wat God se wil aan die mensdom voorgehou is, het as ‘n spieël gedien waardeur ons sondes tenoor ‘n heilige God duidelik opmerkbaar gestel is.
Rom.5:20 “Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; 21 sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.”

Maar danksy die Here het Hy die skynbare oorwinnings wat Satan in die tuin van Eden (met die sondeval) en Golgota (Christus se dood aan die kruis) ongedaan gemaak, toe Hy vir die mensdom se sondes aan die kruis met Sy bloed versoening gedoen het en toe die derde dag vanuit die dood uit opgestaan het. (en die dood oorwin het) Na afloop van hierdie verpletterde oorwinning wat Christus oor Satan en die dood behaal het, kan alle gelowiges met absolute sekerheid weet, dat hulle ook in Christus die dood oorwin het, en eendag (dalk binne kort) met hulle verheerlikte, onsterflike liggame beklee sal word.
Kol.2:13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, 15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
Heb.2:14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel — 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”
Met die wete dat gelowiges net soos Christus vanuit die dood sal opstaan, het aanleiding gegee dat Paulus sy oorwinningskreet teenoor die dood en Satan uitroep, naamlik: “Dood waar is jou angel, doderyk waar is jou oorwinning?” Indien ons geliefdes (wat wedergebore is) aan die dood afgestaan het, kan ons met versekerdheid weet dat ons hulle sal sien, en daarom kan ons ook die volgende stelling uitroep, naamlik: “Dood waar is jou angel, doderyk waar is jou oorwinning?”. En dit alles danksy ons onbeskryflike God!

Ter Afsluiting: Alhoewel ons nie in hierdie lewe mooi alles sal begryp wat die Here vir ons voorberei het nie, en hoe die lewe sal wees wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee is nie, bly dit egter ‘n wonderlike gebeurtenis om na uit te sien. Dit is my mening dat ons nie naastenby die perke van vreugde, liefde en die wonder van die lewe in hierdie gevalle liggame van ons kan uitleef of ervaar nie. Alhoewel dit die Heilige Gees se wil is om die vrugte van die Gees in ons lewens voort te bring (en ons laat dit Hom soms toe) bly dit egter ‘n feit dat solank as wat ons in hierdie gevalle liggame bly, en nog met ons sonde natuur moet worstel, dit ‘n groot beperking op die ervaring van die ewige lewe plaas. (die leser word aangeraai om die artikels “wat is die Ewige Lewe” te lees.) Dit is vir ons moeilik om die konsep van ‘n wêreld waar volkome blydskap, vrede, die totale afwesigheid van sonde en alle smarte te begryp. (ek is van mening dat ons blydskap en vreugdes, asook die volle belewenis daarvan, wel tot ‘n groot mate, deur ons gevalle sonde natuur, die smarte van die lewe, asook die alomteenwoordigheid en bewustheid van die dood gedemp word.) Boonop raak ons so maklik “gewoond” aan goed en dinge waarna ons net ‘n kort tydjie gelede met kinderlike geesdrif uitgesien het, verloor a.g.v. ons sonde natuur vinnig die “wonder” daarvan en word in ‘n reg wat ons altyd moet toekom omgeskakel. Ons besittings, voorkoms, intelligensie, vermoëns, geleenthede alles verloor met tyd sy wonder en dit sit vinnig in arrogansie, hoogmoed en nyd om. Dit sluit liefde vir God en ons medemens in! (In baie gevalle dink ons dat die ontvangs daarvan ons reg, of eie handewerk is, en vergeet dat dit maar net ‘n gawe van God was en niks oor om opgeblase te raak nie!) En dan praat ek nie eens van ons wonder vir God se Persoon, Sy attribute, Sy werke en weë nie! Wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee is, sal hierdie geneigdheid heeltemal verdwyn en sal alles in die lewe vir ons ‘n rede vir ewigdurende wonder, vreugde en dankbaarheid wees. Dan eers sal ons die volle omvang van die ewige lewe wat God ons gegee het besef, asook die vrugte van die Gees wat van God afkomstig is, en wat net soos Hy onbeperk is, volkome begin verstaan en uitleef.
Gal.5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.Ef.5:9: Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
1Kor 2:9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

En dan praat ek nie eens van die ander fasette en vermoëns van ons verheerlikte liggame nie. Dit is my opinie dat God doelbewus nie te veel in die Skrifte oor hierdie onderwerp uitgebrei het nie, omrede Hy weet dat ons nie die volle omvang daarvan ooit in hierdie gevalle liggame kan begryp nie. Om hierdie rede het Hy Paulus geïnspireer om die volgende belofte aan ons te gee, naamlik:
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom lief het.”
En sonder die opstanding sou al hierdie dinge nie ‘n werklikheid kon wees nie, en daarom is dit ‘n fatale fout om die opstanding te ontken. En onthou: Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het, en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede, hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.