die duiwel sewe

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel Sewe

In die laaste gedeelte van die reeks artikels, wat oor die duiwel se aktiwiteite, sover dit gelowiges aanbetref, handel gaan ons ‘n lys van feite en beginsels aan die leser voorhou, en dan God se metode van geestelike oorlogvoering, soos wat Hy dit in Sy woord aan ons gegee het, aan die leser voorhou. Ek is ook bewus van die feit dat baie van die stellings wat in hierdie artikel gemaak gaan word op mense se tone mag trap, en is ook bewus van die feit dat baie doelgerigte en eerbare gelowiges en Pastore van hierdie leerstellings verkondig, maar dit bly egter ons almal se plig om nederig te wees, ons Bybels te bestudeer, en waar nodig, die nodige aanpassings te maak. Hierdie stelling geld vir my ook, en ek is ook dan bereid om die nodige korreksies aan my leerstellings te maak indien enige persoon my vanuit die Skrifte kan oortuig dat ek verkeerd is. Nie een van ons is volmaak of alwetend nie, en derhalwe is daar altyd meer Skriftuurlike waarhede wat ons van God en mekaar kan leer!
Spr 27:17 “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.”
Dit bly egter ons almal se plig om getrou aan die Here en Sy woord te bly, maak nie saak wat dit ons dalk mag kos nie. Dit is ware dissipelskap! En daarom is dit belangrik om self die Bybel te bestudeer, en om self seker te maak of wat aan ons verkondig word, die waarheid volgens die Skrifte is. 
Hnd 17:10 “Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. 17:11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. 17:12 Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.”
Bostaande beginsel om die Skrifte te ondersoek geld vir hierdie reeks artikels, asook die webtuiste dieskrifte.org as geheel.


Feite en beginsels om in gedagte te hou:

1. Satan sal nie skroom om van natuurlike behoeftes of aptyte gebruik te maak om ons te verlei nie. Omrede ons as mense oor hierdie begeertes beskik (wat nie noodwendig sondig is nie) gee dit egter nog steeds aan die duiwel die geleentheid om hierdie natuurlike begeertes en aptyte teen ons te gebruik. ‘n Voorbeeld hiervan is die feit dat ‘n persoon bewus daarvan is dat hy moet eet om fisies te oorleef, (nie sondige begeerte nie) maar hy maak van oneerlike metodes (soos byvoorbeeld bedrog of diefstal wat sonde is) gebruik om daardie behoefte te bevredig. Boonop het God ons met seksuele drange as deel van menswees geskep, en seks ‘n genotvolle gawe gemaak. Dit word egter sonde as ons daardie seksuele begeertes, buite die raamwerk waarvoor God dit geskape het, bevredig. Dit is God se wil dat seksualiteit binne die raamwerk van ‘n huwelik tussen een man en een vrou moet plaasvind en wanneer ons buite hierdie perke optree verontagsaam ons God en pleeg sonde.

2. Boonop sal die duiwel ook van ons sonde natuur, asook die begeertes en aptyte wat daaruit voortvloei, gebruik maak om ons te verlei. Dit sluit gierigheid, die drang na mag en gewildheid, asook ongeoorloofde seksuele begeertes of passies wat buite die raamwerk van God se wil strek, in. Dit is egter uiters belangrik om te besef dat die duiwel ons wel met sonde kan versoek, maar hy kan ons nie maak sonde pleeg nie. Ons moet met sy versoeking om sonde te pleeg saamwerk en elke persoon bly dus persoonlik voor God verantwoordelik vir die sonde wat hy pleeg. Dit is ook belangrik om te onthou dat sonde altyd op die een of ander wyse ‘n ander persoon of persone raak (sou dit nou God self of ons medemens wees) en derhalwe het sonde altyd gevolge. Al ontvang ons nie altyd op die presiese oomblik waarop ons sonde pleeg die gevolge van daardie sonde nie, bly dit egter ‘n feit dat daardie sonde gevolge sal meebring. Dit kan of op ‘n latere stadium in ons lewens vrugte dra of selfs wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus staan waar ons genadeloon sal verloor.
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

3. Mat 4:11 “Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.”
Vanuit bostaande teksgedeelte kan ‘n redelike akkurate afleiding gemaak word, dat die Satan of sy engele se versoekinge gewoonlik in golwe of daaropvolgende fases plaasvind, eerder as een aanhoudende stroom van versoeking, maar dit bly egter die gelowige se plig om die duiwel te weerstaan en altyd op die uitkyk vir aanvalle te wees!
1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.”

4. Jak 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
Alle gelowiges kan dus deur die bose versoek word om sonde te doen, maar dit bly egter ‘n feit dat ‘n Geesvervulde gelowige die duiwel se versoekinge suksesvol kan weerstaan en dan sal die duiwel van daardie gelowige af wegvlug. ‘n Geesvervulde gelowige is ‘n gelowige wat homself aan die Here onderwerp het en wat deur die Heilige Gees beheer word. Dit is nie iemand wat in die Gees val of rondrol en in ‘n vreemde brabbeltaal praat nie! Om met die Heilige Gees vervul te wees beteken om volkome tot beskikking van God en Sy wil gestel te wees . So ‘n persoon sal die woord van God volkome gehoorsaam, maak nie saak wat dit mag kos nie. Om met die Gees vervul te wees verg dus om met God se woord gevul te wees, want God kan nie van Sy woord (die Bybel) geskei word nie. Boonop is dit net logies dat ‘n Geesvervulde persoon ‘n persoon is wat met alle bewuste sondes gebreek, en dit bely het, en so ‘n persoon sal dus van homself ontledig wees, sodat hy deur die Gees vervul kan wees. ‘n Gelowige wat met die Gees vervul is sal dus deur die Gees beheer kan word, en so ‘n persoon sal die Here sonder versuim gehoorsaam wees. ‘n Geesvervulde gelowige sal deur sy lewe en woorde die Here Jesus Christus aan die wêreld reflekteer en as sulks sal so ‘n persoon die vrug van die Gees openbaar. Die eienskappe van die vrugte van die Gees is dieselfde eienskappe as die van Christus! Oordink hierdie feit deeglik!
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie. 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.
Efs 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
En onthou, geloof wat op valse leerstellings gebaseer is, is nie Bybelse geloof nie maar eerder ‘n delusie!

5. ‘n Enkele teksgedeelte wat binne die regte konteks, en in die krag van die Heilige Gees aangewend word, is genoegsaam om Satan se versoekinge in tye van geestelike konflik die hoof te bied. Om hierdie rede is dit van uiterste belang, om die woord van God op die regte wyse en binne die korrekte konteks aan te wend. Onthou, Satan sal nie skroom om die Bybel buite konteks aan te haal en so te misbruik nie.

6. Toetsings en versoekings in onvermybaar in hierdie lewe, juis omrede ons in ‘n velle stryd teen die bose gewikkel is, en die Here het dit so bewerkstellig dat hy van hierdie toetsings kan gebruikmaak om ons geestelike groei te bevorder.
2Ko 10:3 “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, 10:6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.
Jak 1:2 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
Dit bly egter ook ‘n feit dat Satan nie al sy kragte op nominale Christene sal mors nie, maar wend eerder sy kragte teen die Here se getroue dissipels (diegene wat in Christus bly, en deur die Gees wandel) aan. Dus, kan mens verwag dat Satan sy felste aanvalle teen Geesvervulde dissipels sal rig. Dit is alle gelowiges wat God se woord ken, en dit getrou bestudeer en verkondig, asook in hulle alledaagse lewe getrou uitleef. Dit is hierdie getroue dissipels wat ‘n werklike gevaar vir Satan en sy planne vir die mensdom inhou, en dit is hierdie dissipels wat groot veld in die verkondiging van die ware Evangelie wen.

7. Onthou, dit is nie ‘n sonde om versoek te word nie. Dit word slegs ‘n sonde wanneer ‘n persoon aan daardie versoeking toegee. Gelowiges moet ook nie poog om die duiwel se versoekinge in hulle eie krag te weerstaan nie, maar moet eerder met die Gees vervul word, en in die krag van God, die duiwel weerstaan.
Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
Efs 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (Dit beteken geensins jy slinger rond soos ‘n dronk man “in die Gees” nie. ‘n Dronk man word deur die drank wat hy gedrink het beheer en daarom slinger hy rond. Dit is na hierdie teenstelling waarna die skrywer verwys. In teenstelling met ‘n dronk man, is ‘n Geesvervulde persoon in volle beheer van al sy fakulteite, juis omrede die Gees die vrug van selfbeheersing in die gelowige se lewe voortbring, maar die gelowige moet egter sy samewerking gee. Jesus Christus het nooit geloop en in die Gees rondgeslinger of op die grond in onbeheerste wyse rondgerol of wanordelik opgetree nie! Die Here Jesus Christus was ten alle tye ten volle in beheer van Homself!)
Slegs gelowiges wat in die Gees wandel en deur die Gees gevul, en dus deur die Gees beheer word, sal met sukses die aanvalle van Satan kan weerstaan.
Gal 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Gal 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.”

8. Tydens al drie versoekinge wat die duiwel aan die Here Jesus Christus voorgehou het , was die voorgehoue einddoel nie noodwendig onregmatig nie, maar die wyse waardeur daardie voorgehoue doelstellings bereik kon word was verkeerd. Dit is in alle gevalle verkeerd om Satan te gehoorsaam, en dit maak nie saak hoe mooi of regmatig sy voorstelle ook al mag klink nie. Boonop is dit altyd ‘n verskriklike sonde om die duiwel of enige ander geskape wese of voorwerp te aanbid. Daar is slegs een Skepper God en Hy alleen moet aanbid word! Dit word boonop ‘n sonde om selfs neutraal teenoor die Drie-Enige God te staan of Hom nie aktief te aanbid nie. (Hierdie stelling sluit die lees en bestudering van God se woord aan die mens, naamlik die Bybel, in!)
Hnd 17:24 “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. 17:25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. 17:26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 17:27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 17:28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. 17:29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. 17:30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 17:31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”

9. Dit is, en bly, altyd ‘n sonde om die Here te versoek! 
Mat 4:7 “Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.”

10. Gedurende die versoeking van Christus in die woestyn, het Satan die Here met onderskeidelik die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë, asook die grootsheid van die lewe versoek. (Hy doen dit nog steeds en die mensdom val daarvoor!)
1Jo 2:16 “Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”
Hierdie drie versoekinge draai dan rondom drie van die sterkste drange in die mendom se bestaan, naamlik fisiese aptyte/drange, die drang om mag en besittings te bekom, asook die drang/begeerte vir publieke erkenning, aansien en om deur ons medemens aanvaar te word. Dissipels van die Here word gereeld versoek om die weg van gemak, mag en wêreldse erkenning na te streef, instede daarvan om die weg en weë van die Here, soos wat ons dit in die Bybel vind, na te streef.

11. Tydens aldrie die versoekings van die Here Jesus Christus, het die duiwel die versoekinge in godsdienstige terme aan die Here voorgehou, en derhalwe het hy sy suggesties in ‘n dekmantel van morele eerbiedwaardigheid verbloem. Boonop het Satan nie geskroom om die Skrifte aan te haal, dit te verdraai, of om die woord vir sy eie duistere doelstellings aan te wend nie. (Hy doen dit nog steeds!)
2Ko 11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

12. Ons moet seker maak dat ons die regte Skriftuurlike balans, sover dit die duiwel se werksaamhede in die mens se bestaan aangaan, handhaaf. Baie gelowiges raak so behep met Satan, asook sy bedrywighede in hulle lewens, dat hulle dan sover gaan om die duiwel vir elke probleem of situasie in hulle lewens te blameer. Hy word selfs die skuld vir hulle eie keuses om sonde te pleeg gegee! Ons moet nooit ons eie sonde natuur en ons eie geneigdheid om sonde te pleeg vergeet nie!
Jak 1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 1:15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.” (Die leser word aangeraai om die artikel “Sewe vorme van dood in die Bybel” op die webtuiste te lees.)
In baie gevalle word die duiwel die skuld vir ons eie sondige optredes gegee, en dit terwyl hy glad nie eers in daardie sonde van ons betrokke was nie! Mens hoor nogal gereeld die stellings wat soos volg lui: “Die duiwel het my gemaak sonde pleeg” of “Die persoon het ‘n gees van hoerery/egbreuk/diefstal (of van enige ander sonde) en die gelowige moet eerstens van daardie gees bevry word alvorens hy sal ophou die spesifieke sonde pleeg.” Sulke stellings, wat op foutiewe leerstellings gebaseer is, is gevaarlik omrede sulke stellings aan die persoon wat die sonde pleeg ‘n verskoning vir die pleeg van daardie spesifieke sonde gee en dan ook op ‘n subtiele wyse die persoon van sy persoonlike aanspreeklikheid vir sy sondes vrywaar. Indien so ‘n persoon maar net die slagoffer van ‘n gees is, kan die Here mos nie daardie persoon persoonlik vir sy optrede verantwoordelik hou nie. Waar Satan wel agter ‘n spesifieke sondige optrede werksaam is, poog hy om met behulp van daardie spesifieke persoon die gegewe sonde te pleeg, maar die persoon moet kies om sy samewerking aan Satan te gee en aan die duiwel se suggesties toe te gee. So ‘n persoon pleeg dus nie die sonde teen sy vrye wil nie, maar eerder uit eie keuse in samewerking met die duiwel en derhalwe hou God nog steeds daardie persoon persoonlik verantwoordelik vir sy sonde. Die persoon wat sondig is nie ‘n hulpelose slagoffer nie en gee dus vrywilliglik sy samewerking. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” vir meer besonderhede rondom hierdie onderwerp te lees.) 

13. Alhoewel dit nadelig vir die gelowige is om behep met Satan te wees, bestaan daar ook aan die anderkant van die saak, die gevaar dat Satan se bedrywighede in die mensdom se bestaan onderskat, of in sommige gevalle, heeltemal ontken word. Diegene wat dit doen speel in die duiwel se hande in, en hy weet dat solank as wat hulle hierdie illusie handhaaf, hulle nooit van sy invloed agter die skerms bewus sal word nie, en omrede sulke mense nie die werklike bron agter sekere sondes, invloede, gebeurtenisse, leerstellings, beleidrigtings en insidente verstaan nie, is hulle ook nie in staat om die regte wapens/middele aan te wend om teen sy aanvalle staande te bly nie. Hierdie mense is dus geneig om alle probleme, en insidente, in terme van suiwer natuurlike verskynsels te ontleed en te verduidelik. Dit verskaf aan die duiwel ‘n ideale dekmantel waaragter hy sy bose werksaamhede kan voortsit. In baie gevalle waar Satan wel die oorsaak van persoonlike emosionele probleme, probleme in die gemeente, asook ongunstige omstandighede in die algemeen is, word sy aandeel daarin misgekyk of mis gediagnoseer, en boonop word sulke probleme in baie gevalle in terme van suiwer humanistiese metodiek omskryf en aangespreek wat verdere probleme en erge verlyding tot gevolg kan hê. (ongelukkig is daar bekende denominasies wat beweer dat Satan alreeds gebind is en ander verkondig weer verkeerdelik dat gelowiges oor die mag beskik om Satan en sy demone te bind. Die leser word weereens ten sterkste aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” te lees.) Derhalwe behoort ons as gelowiges oor ‘n Skrif gesentreerde en gebalanseerde kennis, van Satan se strategieë te beskik en moet ons slegs van God se metodes en middele, wat Hy aan ons in Sy woord voorgeskryf het (en binne die korrekte konteks) op te neem en dit in die stryd met Satan aanwend. Die Here het ons nie weerloos teen die duiwel se aanslae gelos nie, maar dit bly egter van uiterste belang, dat ons slegs die wapens wat God aan ons gegee het opneem, en dit op Sy terme aanwend, en nie ons eie opmaak en/of Satan op ons eie terme die stryd te wil aansê nie. ‘n Groot gedeelte van die hedendaagse geestelike oorlogvoering is nie op God se woord gebaseer nie, maar eerder op menslike opinies en idees geskoei. Boonop word die geestelike stryd nie op God se terme, en binne die raamwerk van Sy wil en woord gevoer nie, maar eerder op metodes wat deur sogenaamde apostels en profete opgestel is en wat deur buite Bybelse profesie ontvang is, en wat dan deur proefskrifte, wat buite konteks aangehaal, en soms verdraai word bevestig.

14. Ons moet ook onthou dat die Here in Sy alwysheid soms van Satan, in die raamwerk van Sy wil, gebruikmaak en soms is dit met die spesifieke doel om die gelowige iets te leer. In die boek van Job merk ons hoe die Here Satan in sy doelstellings gebruik het om Job ‘n les te leer, en aan Job die geleentheid gegee het om God te verheerlik en daardeur ‘n oorwinning oor die duiwel te bewerkstellig. In 2 Kor. 12:7-10 merk ons waar die Here van ‘n bose gees gebruik gemaak het om Paulus, a.g.v die groot openbarings wat die Here aan hom gegee het, van hoogmoed te weerhou, deur aan hom ‘n doring in die vlees op te lê. (Wat niks anders as ‘n bose gees was nie!)
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. 12:10 Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”
Die les wat Paulus in hierdie geval moes leer, was om God se stelling dat Sy genade vir die apostel genoeg was, te glo en in daardie feit te rus al was dit nie noodwendig ‘n baie aangename ervaring nie. Derhalwe was dit ook ‘n konkrete wyse waaroor Paulus ‘n oorwinning oor die duiwel kon behaal, deur om homself aan God se wil te onderwerp, wat hy ook gedoen het. Christus se krag kon juis deur die Apostel se swakheid ten volle ten toon gestel word en daardeur kon Hy al die eer bekom wat Hom toekom. Die feit dat God soms van Satan in die uitvoering van Sy raadsplan gebruikmaak, mag dalk vir ons moeilik verstaanbaar wees, maar dit gebeur wel. Dit is ook opmerklik dat die apostel geensins die bose gees probeer bind het nie! Hoekom nie? Want hy kon nie!

15. In die stryd teen Satan is dit belangrik om die korrekte gesindheid teenoor die duiwel te handhaaf. Ons moet nie vanselfsprekend aanvaar dat, as gelowiges, ons elke keer die duiwel outomaties ‘n nederlaag sal toedien nie en hom derhalwe met minagting hanteer of onderskat nie. Mens vind nogal gereeld hierdie arrogante houding onder ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom, en veral onder selfaangestelde apostels en profete wat ons so gereeld op televisie en ander media platforms te siene kry. Die Skrifte gee nie verniet aan ons ‘n mooi beskrywing van hierdie tipe persone nie!
Jud 1:8 “Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. 1:9 Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! 1:10 Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde.”
Om die duiwel met selfversekerde arrogansie, en op ‘n wyse anders as wat God dit in Sy woord aan ons beveel, die stryd aan te wil sê, en Satan boonop met minagting en selfs lasterlike woorde aan te durf is ‘n ernstige mistasting en so ‘n persoon stel homself vir ‘n geestelike nederlaag, ernstige verlyding en latere smarte oop! Geen gelowige moet dan ooit dink dat hy slim genoeg of sterk genoeg is om die duiwel op ‘n wyse, anders as wat God dit in Sy woord aan ons beveel het, aan te vat en sonder om volkome op God en Sy krag en wysheid staat te maak nie. (‘n Groot gedeelte van die geestelike oorlogvoering wat ons in ‘n groot gedeelte van die hedendaagse belydende Christendom aantref is niks anders as menslike dromerye nie en moet kategories verwerp word!)

16. Die Here verwag van ons om ‘n definitiewe besluit te maak om teen die luste van die duiwel stand in te neem en daarna te bly vasstaan. Hierdie feit behoort vanselfsprekend te wees, maar die feit bly staan dat Satan, ons ou sonde natuur en die wêreld gereeld oor gelowiges die oorwinning behaal, juis omrede gelowiges nie ‘n bewustelike stand teen die duiwel, hulle sonde natuur en die wêreld inneem nie. Derhalwe flankeer hulle nog gereeld met hulle eie geliefkoosde sondetjies (al is dit net soms!) en sodoende gaan hulle bewustelik in versoeking in en pleeg dan sonde, wat die een of ander tyd gevolge sal voortbring!
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
Dan bid en kla ons dat ons nie ‘n oorwinning oor die spesifieke sonde kan behaal nie, maar ons kom nooit op die punt om ‘n beslissende stand teen daardie spesifieke versoeking, sonde en Satan in te neem, en dan op grond van God se genade deur geloof in Hom en Sy instaatstellende krag te bly vasstaan nie! In hierdie opsig het God, deur monde van Jakobus, goeie raad aan ons gegee, naamlik:
Jak 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
Solank as wat ons nie ‘n beslissende stand teen Satan, ons sonde natuur, die wêreld en ons koester-sondetjies inneem en daarmee breek nie, sal hy bly oorwinnings oor ons behaal en die rede hiervoor is dat ons nie in werklikheid met ons geliefkoosde sondes wil breek nie! Dit is derhalwe belangrik om ‘n besliste stand teen Satan in te neem, ons wapenrusting wat God aan ons geskenk het, op te neem en aan te trek (Ek sal later meer oor die wapenrusting uitbrei.) en op die grondslag van hierdie besliste besluit, en in die krag van God, en met Sy wapenrusting vas te bly staan en die oorwinning in Christus se Naam en krag te behaal. Ons moet die Here toelaat om Sy lewe in en deur ons te lewe, maar as ons nie met ons sondes breek en Hom nie gehoorsaam om ‘n beslissende stand teen Satan en sonde in te neem nie, sal Hy nie Sy lewe in en deur ons kan uitlewe nie. Die Here sal ten alle tye Sy kant bring, maar ons moet egter ook ons kant bring! Die keuse om teen die duiwel stand in te neem is nie net ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar is ‘n voortdurende geestelike keuse en stryd!

17. ‘n Duidelike, praktiese en eenvoudige voorbeeld van hoe om oor die duiwel te seëvier vind ons in Openbaring 12:11, naamlik:
Opn 12:11 “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”
Daar is drie beginsels wat ons uit bostaande teksgedeelte kan leer. Eerstens, is die grondslag vir alle oorwinnings oor die duiwel in die bloed van Christus te vinde. Nee, dit is nie die een of ander mistiese ritualistiese applikasie, of pleit van die bloed van Christus, soos wat ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom die bloed van Christus verkeerdelik oor hulleself, omstandighede en voorwerpe “pleit” nie! Die Here Jesus Christus se bloed, was op ‘n letterlike kruis, buite die letterlike stad Jerusalem, omstreeks twee duisend jaar gelede as offer uitgestort, as bewys van Sy fisiese dood, deurdat Hy werklik vir die mensdom se sondes gesterwe het! (Dit is ‘n werklike historiese gebeurtenis wat op ‘n gegewe punt in tyd en op ‘n spesifieke plek plaasgevind en afgehandel is!) Christus se bloed is nie nou in die hemel nie, maar die gekruisigde, gestorwe en opgestane en verheerlikte Here Jesus Christus is nou in die hemel en as sulks het Hy Satan alreeds verslaan! Christus se oorwinning maak alle ware gelowiges se oorwinning moontlik! Dit is wat die skrywer van Openbaring 12:11 bedoel het toe hy geskryf het dat hulle Satan deur hulle getuienis en die bloed van die Lam oorwin het.

Die tweede beginsel wat ons uit Openb. 21:11 kan uitneem, en in ons stryd teen Satan in ons lewens kan toepas, is om seker te maak dat ons ons getuienis vir die Here op ‘n positiewe konsekwente wyse in die wêreld prakties uitlewe. Waar ‘n gelowige nie sy Christelike beginsels op ‘n positiewe waarneembare wyse uitleef nie, beteken dit ook terselfdertyd dat daar geen nederlaag vir die duiwel in daardie persoon se lewe sal wees nie. Onthou die Here Jesus Christus se vermaning soos wat ons dit in Mat. 5:14-16 vind, naamlik:
Mat 5:14 “Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 5:15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. 5:16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”
‘n Christen se getuienis wat onder die maatemmer van kompromie, lafhartigheid, wêreldgesindheid, vleeslikheid, asook nalatige traak-my-nie-agtige geestelike verwaarlosing weggesteek word sal naderhand uitgeblus word.
Mat 5:13 “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.”

Die derde beginsel wat ons uit Openb. 12:11 kan leer, behels ons gesindheid teenoor die lewe self. Indien ons Satan werklik in ons alledaagse uitleef van ons lewens wil oorwin, moet ons ‘n gesindheid van selfverloëning, asook selfopoffering handhaaf (iets wat ons bewustelik moet kies om te doen) en derhalwe behoort ‘n gelowige bereid wees om alles, insluitende sy eie fisiese lewe vir die Here prys te gee of op te offer. (wat Jesus Christus se opdrag om die Evangelie te versprei ook insluit)
Mar 8:35 “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. 8:36 Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?”
So ‘n gesindheid sal ‘n persoon se waardestelsel en prioriteite vinnig in die regte perspektief plaas! (weereens is dit ‘n keuse wat ons moet maak!) Om werklik oorwinnend, in hierdie lewe, oor die duiwel te wil lewe, moet elke gelowige ‘n martelaars gesindheid kweek. (al is dit nie wat die oorgroot meerderheid mense wil hoor of verkondig nie.)
Luk 14:25 “En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: 14:26 As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. 14:28 Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? — 14:29 sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot 14:30 en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. 14:31 Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie? 14:32 Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes. 14:33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. 14:34 Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? 14:35 Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” (Om enige misverstand ten opsigte van bogenoemde teksgedeelte te verhoed, word die leser ten sterkste aangeraai om die artikels “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel”; “Drie fases van verlossing:” asook “Bekering geloof en die ewige lewe” te lees. Die lees en verstaan van hierdie drie artikels is van uiterste belang!)

Die gelowige se wapenrusting: Geen studie sal volledig, in ons stryd teen Satan wees, indien dit nie die wapenrusting van God, soos wat Hy dit in Sy woord aan ons gegee het, weergee en bespreek nie. Dit is hoe ware geestelike oorlogvoering gevoer moet word! ‘n Groot gedeelte van die sogenaamde geestelike oorlogvoering, wat mens deesdae in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom vind, is niks anders as mensgemaakte versinsels wat dan, as van God afkomstig, d.m.v sogenaamde profesieë aan ander gelowiges voorgehou word, en dit in weerwil van die feit dat God dit in Sy woord duidelik stel dat ons in die Skrifte alreeds alles het wat ons benodig en alreeds ten volle toegerus is!.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (Let op die woord “Volkome”!)
Indien God dit in Sy woord duidelik stel dat ons in Sy woord oor alles beskik en volledig toegerus is, hoe kan sommige mense dan verkondig dat ons verdere buite Bybelse profesieë nodig het om ons verder toe te rus? Het God dalk ‘n fout begaan, of is dit die mens wat deur valse profesie verlei word? Onthou, die duiwel sal nie skroom om homself as ‘n engel van die lig aan oningeligte, goedgelowige mense voor te hou en hulle besig hou met tegnieke wat hy weet nooit werklike vrug sal afwerp nie. (Om nie eens van die vermorsing van misplaaste fondse en tyd te praat nie!)
2Ko 11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
(Soos byvoorbeeld die bind van geeste wat heerskappy oor dorpe, stede en geografiese gebiede beheer uitoefen en dan glo dat daardie dorpe vir die Here gewen is. Net nou die dag lees ek van ‘n persoon wat ‘n sogenaamde profesie ontvang het om plakkate met teksgedeeltes daarop op verskillende plekke in ons land op te rig. Maar dit is nie wat die Here ons in Sy woord beveel om te doen nie! Satan skrik nie vir naamplate met teksgedeeltes daarop nie, hy het dan nie geskroom om die Skrifte, in sy poging om die Here te versoek, teen die Here self aan te wend nie. Die duiwel ken die Skrifte beter as die meeste mense en hy kan daardie kennis slegs bekom deur om die Bybel te bestudeer! (Hy is nie alwetend nie en moet net soos ons dinge leer!) Ons moet by dit bly wat die Here ons in Sy woord beveel en niks anders nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” op die webtuiste te lees.) Baie van hierdie tegnieke is op teksgedeeltes gebaseer wat uit konteks aangehaal word, en dan verdraai word, om dinge te sê wat die oorspronklike skrywers van die Bybel, onder inspirasie van die Heilige Gees, nooit gesê het nie!
Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.”
Onthou God se krag is in God self gesetel en nie in die een of ander plakkaat/naamplaat of aangeleerde tegniek wat nie op die Here se woord geskoei is nie! Die oplossing lê nie daarin om nuwe buite Bybelse profesie en tegnieke aan te leer nie, maar om weer die Bybel in diepte te bestudeer, en dit wat ons daarin leer weer in ons lewens toe te pas, dan sal ons die oorwinning behaal!

Derhalwe is dit belangrik om die geestelike stryd op God se terme uit te voer en slegs soos wat dit in die Bybel opgeskrywe staan! En daarvoor het die Here ons die wapenrusting van God gegee en dit in Sy woord laat opteken.
Efs 6:11 ”Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 6:14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 6:15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 6:18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Hierdie is die tegnieke en metodes wat God ons gegee het, en ons moet dit gebruik, nie nuwes opmaak nie!)

a. Die Gordel van die waarheid:
Die waarheid wat hier bedoel word, is die waarheid van God afkomstig, soos wat ons dit in ons Bybels opgeteken vind. Bybelgebaseerde leerstellings en beginsels is die waarheid, wat soos ‘n gordel, al die wapenrusting en toerusting bymekaar hou en dit gee aan die gelowige die korrekte raamwerk waardeur hy die wêreld om hom moet waarneem en sy lewe volgens hierdie Bybelse leerstelling en beginsels behoort in te rig. Indien ons leerstellings op buite Bybelse profesieë, verkeerde uitleg van die Skrifte, emosies en bespiegelinge van mense gebaseer is, gaan die raamwerk waardeur ons die wêreld aanskou verkeerd of verdraai wees, en boonop sal dit ook daartoe bydra dat ons die geestelike stryd teen Satan op die verkeerde wyse aanpak wat tot nederlaag op nederlaag sal lei. Mens hoor gereeld byvoorbeeld dat daar ‘n groot herlewing op pad is, of dat ons selfs in een is, maar indien ons na die belydende Christendom om ons kyk sien mens eerder dit waarteen Paulus ons vooraf gewaarsku het. (Ja, ek praat hier van die belydende Christendom, wat stelselmatig agteruitgaan en wat baie mooi deur onderstaande teksgedeelte omskryf is! Iets wat God d.m.v. Sy apostel vooraf voorspel het!)
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”

Derhalwe is dit van uiterste belang dat ons leerstellings op die wysheid van God (soos wat dit in die Skrifte opgeteken staan) gebaseer moet wees, en nie op menslike opinies en leerstellings wat op tekste, wat buite konteks aangehaal, en verdraai is nie! Die leerstellings en waarhede soos in die Skrifte gevind gee aan die gelowige die korrekte oriëntasie ten opsigte van die lewe. Hierdie wysheid van God behoort die grondslag van al ons vriendskappe, aktiwiteite, finansies, familie, wetenskap, sielkunde asook ons vermaak en uitkyk op die lewe, te vorm. Dit behoort ons ten goede te beïnvloed en ons lewens behoort deur hierdie waarhede in God se woord gereguleer te word. Dit gaan ons niks baat om samekomste te reël waar ons onsself voor God verootmoedig, sonder om eers weer ernstige Bybelstudie te doen nie. ‘n Gebrek aan toegepaste Bybelkennis is in werklikheid die grootste rede waarom die oorgroot gedeelte van die belydende Christendom geestelik agteruitgaan en besig is om verlei te word. (al verkeer hulle verkeerdelik onder die indruk dat hulle geestelike reuse is!) Kan die onderstaande stellings, deur die Here gemaak, nie ook dalk aan die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom van vandag gerig word nie?
Mat 22:29 “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (ons het nie meer buite Bybelse profesieë nodig nie, maar eerder meer in diepte Geesvervulde Bybelstudie!)
Luk 6:46 “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”
En onthou die Here se gebed vir ons, naamlik:
Joh 17:17 “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.”
Geloof wat op verkeerde leerstellings gebaseer is is nie Bybelse geloof nie maar misplaaste geloof (of eerder ‘n delusie!) en gaan nog tot grootskaalse ontnugtering lei.

b. Die borswapen van geregtigheid:
Hierdie geregtigheid sluit eerstens die toegerekende geregtigheid van Christus, wat op grond van geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis vir ons sondes, deur die gelowige ontvang word en dien as die grondslag waaruit ‘n lewe van praktiese geregtigheid behoort voort te vloei.

c. Die skoene van die bereidheid vir die Evangelie:
Gelowiges behoort bereid te wees om ten alle tye, en ten alle koste God se wil uit te voer, en dit sluit die verkondiging van die Evangelie in! Die verkondiging van die Evangelie is spesifiek die Kerk se mandaat en nêrens word ons aangesê om die wêreld oor te neem nie. Ons moet met die verkondiging van die Evangelie besig wees, of op die een of ander wyse by die verkondiging van die Evangelie betrokke wees. Dit is die opdrag wat die Here aan die Kerk gegee het.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
En indien hulle die Evangelie verstaan en geglo het, moet hulle geleer word om as toegewyde dissipels die Here getrou te volg en dit sluit heiligmaking in.
Mat 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Die ware kerk se voortbestaan hang van die verkondiging van die Evangelie af. Mense word nie deur fisiese geboorte, as lidmate van die ware Kerk, in hierdie wêreld in gebore nie. Hulle word slegs wedergebore indien hulle die Evangelie verstaan, en glo, en dan eers vorm hulle deel van die ware Kerk. (Om as babatjie gedoop te word maak nie van jou ‘n wedergebore kind van die Here nie! ‘n Persoon moet eers die Evangelie verstaan en glo, alvorens hy wedergebore kan word!) Maar hoe gaan hulle die Evangelie glo indien niemand die Evangelie verkondig nie?
Rom 10:14 “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? 10:15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die ware Evangelie aktief te verkondig (En ja, daar is baie valse evangelies!) of by die verkondiging daarvan betrokke te wees. Maar om die Evangelie te verkondig, is dit egter belangrik dat ons die regte Evangelie in die eerste plek ken, alvorens ons dit wil verkondig.

d. Die skild van die geloof :
Die skild van die geloof geld nie net vir die groot krisisse in die lewe nie, maar geld ook vir die alledaagse roetine van die lewe! In baie gevalle is dit juis tydens die alledaagse roetine van die lewe waar die grootste oorwinnings oor die duiwel behaal kan word. Dit is ook in die alledaagse roetine van die lewe (veral wanneer dit goed gaan) wanneer ons in ons geloofslewe en getroue dissipelskap kan veragter! Maar indien ons in die alledaagse bedrywighede, wat ons beroepe insluit, en waar God van ons verlang om ons werkgewers getrou te dien, dan verheerlik ons die Here en dien Hom in werklikheid! (iets waarvoor Hy ons by die Regterstoel oordeel van Christus sal beloon! En boonop verheerlik ons Sy naam!)

e. Die Helm van verlossing:
Vir gelowiges is dit van uiterste belang om te besef dat hulle van die kop af ondertoe verlossing nodig het en nie net van die nek af ondertoe nie! Ons gedagte wêreld moet verlossing d.m.v. heiligmaking in die krag van die Heilige Gees ondervind, en derhalwe is dit van uiterste belang dat die gelowige se verstand hernu moet word, anders sal hy nie as ‘n toegewyde dissipel van die Here kwalifiseer nie.
Rom 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel (dit sluit ons koppe en gedagte wêreld in!) as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” 

f. Die swaard van die Gees, die woord van God:
Die enigste offensiewe wapen, wat ons in die wapenrusting van God vind, is die woord van God! (NB! Soos wat ons dit in die Skrifte opgeteken vind!)
2Ti 3:14 “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Volgens die Skrifte is die swaard van die Gees dus die gesproke proklamasie/verkondiging van die geskrewe woord van God, soos wat ons dit in die Skrifte vind. Dit is nie genoeg om net ‘n Bybel of selfs baie Bybels te besit, of daarmee in die sak rond te loop en so nou en dan daarin te lees of daarna te verwys nie. Dit beteken die sorgvuldige bestudering en toepassing van die woord, om sodoende oor ‘n deeglike kennis te beskik oor wat die Here werklik aan die mens wil sê en nie wat die gelowige wil hê die Here moet sê nie. Dus behoort ons, ons leerstellings vanuit die Bybel te bekom en nie ons leerstellings in die Bybel inlees, sodat dit sê wat ons graag wil hoor nie. (ongelukkig maak die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom hierdie fout, en baie van hulle besef dit nie eens nie, omrede hulle nie self weet wat die Here in werklikheid in die Bybel sê nie!) Boonop is dit elke gelowige se plig om te verseker dat hy onder die prediking van ‘n Bybel-gesentreerde, Bybelgerigte prediker sit, wat sy leerstellings vanuit die Bybel bekom, en nie sy eie of selfs aangeleerde leerstellings, asook kerklike tradisies in die Bybel inlees nie. Hiervoor is dit belangrik om die Skrifte op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse, sorgvuldig te bestudeerder en interpreteer. Die swaard van die Gees kan dus, in beginsel, in die volgende twee teksgedeeltes saamgevat word, naamlik:
Efs 6:17 “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 6:18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
Opn 12:11 “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam (ons toegerekende geregtigheid a.g.v. Christus se voltooide werk aan die kruis) en deur die woord van hulle getuienis, (die praktiese uitleef en proklamasie van die geskrewe woord) en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” (Die vereiste vir dissipelskap soos wat God dit in Sy woord gegee het.
Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. (Dit beteken geensins die dra van fisiese kruise as bewys van dissipelskap nie. Mens vind tot mense wat groot kruise maak en dit dan rondsleep as bewys dat hulle hulle kruis opgeneem het. Hierdie tipe optrede is sinneloos en mis die konteks van Christus se stelling! Om jou kruis op te neem beteken om jou besittings, belange, doelstellings en jou hele lewe, en selfs jou fisiese lewe tot beskikking van God, en Sy opdrag, om met die verkondiging van die Evangelie betrokke te wees, te stel, wat sommige mense alles kan kos, selfs hulle fisiese lewens!)
Luk 14:33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”
Die leser word aangeraai om die artikels “Onderskeid tussen wedergeboorte en die loon vir goeie werke” asook “Onderskeid tussen ‘n dissipel en ‘n gelowige” en “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” asook die “Gelykenis van die ponde” te lees.)

g. Gebed:
‘n Faset van die wapenrusting van God wat nie genoeg aandag geniet nie, is Geesvervulde, Gees geleide gebed wat in die raamwerk van God se wil plaasvind en wat Sy wil en heerlikheid as doelstelling het. (Hiermee bedoel ek nie positiewe woorde “positive confession” of deklarasies van ons wil in God se Naam nie. (die sogenaamde “declare en decree” wat ons in so baie kringe vind nie!) Ek praat van gebed wat op God se wil, en binne die raamwerk van Sy soewereine plan, soos wat ons dit in die woord vind, gebaseer is, en wat God se doelstellings en heerlikheid as fokus het. Dit is nie ‘n spesifieke plek of geografiese gebied wat enige krag aan ons gebede gee nie en die plek waar ons bid is van weinig belang. Wat wel van belang is, is aan wie ons gebede gerig is, en die feit dat dit in die heilige Naam van Christus, en binne die raamwerk van God se wil, en in geloof, aan die Vader gerig is. God is alomteenwoordig en hoor Sy kinders se gebede waar ook al hulle hulleself mag bevind.
Joh 4:21 “Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. 4:22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. 4:23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Maar soos alreeds gestel, moet ons gebede binne God se wil gerig word en en moet ons Sy woord gehoorsaam wees. Ons kan egter nie Sy woord ken en gehoorsaam indien ons dit nie binne die korrekte konteks bestudeer, verstaan en toepas nie.
Joh 15:7 “ As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. 15:8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. 15:9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. 15:10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”
Om bogenoemde opdrag te bewerkstellig is dit van uiterste belang dat ons die vrugte van die Gees voortbring, wat toegewyde Bybelstudie, heiligmaking en dissipelskap vereis, naamlik:
Gal 5:18 Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie. 5:19 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 5:20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 5:21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie. 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. 5:26 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.”

En dit is boonop belangrik om in die Naam van Christus te bid, maar dit beteken dat ons bid waarvoor Hy sou bid en inlyn met Sy wil sal lewe.
Joh 14:13 En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. 14:14 As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. 14:15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. 5:15 En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” (Ek wonder soms hoe mense dinge in Christus se Naam kan verklaar “declare en decree” indien God dit alreeds in Sy woord duidelik gemaak het dat dit nie so sal wees nie! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Krag in ons woorde” asook “Spreuke 18:21 en krag in die mens se woorde”; Die leser word verder ook ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” te lees. Ek weet ek gaan op baie mense se tone trap, maar dit is en bly egter ons plig om die Skriftuurlike waarhede binne die korrekte konteks te verkondig!)

Ter Afsluiting: Die wapenrusting wat God in Sy genade aan ons geskenk het, word nie op ons afgedwing nie, of teen ons wil vir ons aangetrek nie. Dit is en bly die gelowige se plig om hierdie wapenrusting op te neem, en aan te trek, en ons sal dit vir die res van ons lewens moet doen. Dit is egter nie genoegsaam om slegs die wapenrusting op te neem en aan te trek nie, maar ons moet leer om dit doeltreffend teen Satan se aanslae aan te wend, en dit is, en bly ‘n lewenslange proses, en ons kan boonop verseker weet dat die duiwel sal poog om die swak punte in ons mondering te soek en dit tot voordeel van sy eie bose doeleindes uit te buit. Derhalwe is dit belangrik om die volgende teksgedeeltes te leer en ken en daarvolgens te lewe, naamlik:
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
1Jo 4:4 Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.
Heb 3:5 En Moses was wel getrou in sy hele huis as ‘n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, Heb 3:6 maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou”

 Seën groete! 

Vic

Deel met ander asb.