beproewing

beproewing van die gelowige se geloof

Vir ‘n gelowige, of enige of enige ander persoon, om in onafhanklikheid van God te leef, kom op rebellie neer, en is dus sonde, en om hierdie rede word die gelowiges (nie ongelowiges nie) ernstig gemaan, naamlik:
2Kor.10.56 “en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”
En omrede ons geloof slegs in Christus gesetel moes wees, en in niemand, of niks anders nie, is dit die gelowige se plig om in die geloof te wandel, anders pleeg daardie persoon sonde al besef hy dit nie.
Rom.14:23b “en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.”
met hierdie wete in gedagte kan die gelowige verseker wees dat sy geloof die een of ander tyd aan beproewing onderwerp sal word.

Omrede die gelowige in volkome geloof afhanklikheid van God moet lewe, en volkome op Hom moet vertrou, is dit soms vir die Here nodig om deur sy genade hierdie waarheid deur praktiese lesse aan die gelowige tuis te bring. En een van die wyses waarop hierdie doel bereik kan word is te vinde in lyding en beproewinge. Hierdie feit is een van die hoofsaaklike redes waarom gelowiges lyding in hierdie wêreld ervaar. Selfs die leidsman van ons saligmaking, die Here Jesus Christus, het tydens Sy eerste koms erge lyding ervaar.
Heb.2:10 “Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.”
Die wete dat al die mensdom se sondes op Hom geplaas sou word, en dat Hy deur God die Vader vir daardie sondes gestraf sou word, het tot intense lyding gelei en ons vind alreeds ‘n mooi voorbeeld hiervan met Christus se wroeging in die tuin van Getsémané waar die Seun Sy volkome afhanklikheid t.o.v. die Vader ten toon gestel het, naamlik:
Luk.22: 42 “en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!”

Vir baie mense sal bostaande stelling vreemd klink, maar vanuit die Skrifte is dit duidelik dat God van lyding in die gelowige se lewe gebruik maak om die gelowige se geloof te suiwer en tot volmaking/volwassenheid te bring. In 1Pet.1:6-7 herinner die apostel Petrus ons van hierdie feit, naamlik:
1Pet.1:6-7 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”
Dit is uiterste belangrik om te let dat dit nie altyd goeie werke (so belangrik as wat dit is) wat ons vir Christus bereik het wat tot lof en eer en heerlikheid by die verskyning van Christus sal lei nie, maar die beproefdheid van ons geloof, waaruit alle goeie werke behoort voort te vloei, wat by Hom gaan saak maak.

Die apostel Petrus, wie bostaande stelling op Skrif gestel het, moes hierdie einste waarheid op die harde manier leer. Onthou die Here Jesus se waarskuwing wat Hy aan Petrus gerig het, naamlik:
Luk.22:31”En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. 32 Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.”
Petrus se antwoord op Christus se stelling is nog insiggewend, naamlik:
Luk.22: “33 En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. 34 Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie.”
Ons almal weet wat gebeur het. Petrus het toe, net soos wat Christus hom vooraf gesê het, sy Here verloën en ontken dat hy enigsins die Here Jesus Christus geken het.

Maar hoekom het Petrus dan in hierdie toets gefaal? Die rede hiervoor was dat die voorwerp van sy geloof homself eerder as God alleenlik was. Die Here het toe in Sy genade, asook wysheid, toegelaat dat Petrus getoets word, en hom ook toegelaat om te misluk, sodat Petrus die essensiële beginsel, dat hy, as geskape wese, swak is en dat hy nie noodwendig oor die krag beskik om sy voornemens suksesvol uit te voer nie, op ‘n praktiese wyse kon aanleer. Hiervoor het hy God se krag benodig. Hy moes leer om op God alleenlik te vertrou! Nadat hy toegelaat is om te faal, het Petrus die belangrike les geleer, dat hy volkome van sy Skepper afhanklik is en dat sy geloof in God toenemend van geloof in self gesuiwer moes word.

Voordat Petrus misluk het, het hy alreeds in die Here Jesus Christus as die Seun van God geglo. (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte) Ek gaan twee teksgedeeltes aanhaal om hierdie feit vanuit die Skrifte te bewys, naamlik:
Joh.2:11 “Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.
Mark. 8:27 En Jesus en sy dissipels het uitgegaan na die dorpe van Cesaréa-Filíppi; en op die pad vra Hy sy dissipels en sê vir hulle: Wie sê die mense is Ek? 28 En hulle antwoord: Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander: Een van die profete. 29 En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus.”
Alhoewel Petrus alreeds ‘n gelowige was, was sy geloof egter met geloof/vertroue in homself besoedel. Deur toe te laat dat Petrus se geloof d.m.v. beproewing getoets word, het die Here d.m.v. die vuuroond van beproewing, Petrus se geloof, van geloof in self begin suiwer. Sodoende het Petrus geleer om nie geloof/vertroue in homself te hê nie, maar sy vertroue moet slegs in God (en Sy krag) gesetel wees. Dit sluit die feit in dat, as God se skepsel, hy in totale afhanklikheid vir die uitleef van sy daaglikse lewe (na aanvanklike wedergeboorte. Fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking.) op God, deur geloof, moet staatmaak. Geloof wat gedeeltelik met geloof in homself besoedel was, moes gesuiwer word sodat Petrus se geloof volkome in God gesetel is. Hiervoor moes die Here toelaat, dat Petrus in die voorneme wat hy in eie krag wou bewerkstellig, moes misluk. Dus moes gedeeltelik geloof in Petrus met volkome geloof in God vervang word. Hierdie feit geld vir alle gelowiges! (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees)

So ook maak God van mislukkings (in die vlees gepleeg) in gelowiges se lewens gebruik om ‘n groter mate van geloof-afhanklikheid in Homself te bewerkstellig. Maar vir God om Sy doel in die gelowige se lewe te bewerkstellig, moet die gelowige uit sy foute leer. Wanneer die gelowige leer om homself te verloën, en volkome op die Here te vertrou, sal diesulke optrede tot ‘n verrykte geestelike lewe aanleiding gee. Wanneer ons geestelik faal, moet ons besef dat ons meer op onsself (of in iets of iemand anders) vertrou het instede daarvan om volkome in die Here te glo. Ons moet hierdie mislukkings dan as geleenthede beskou waaruit ons dieper geestelike waarhede kan leer wat weer tot ‘n dieper geestelike lewe sal lei.

Vir die Here is gesuiwerde geloof wat vanuit die soms smartlike beproewing in die gelowige se lewe te vore kom baie meer as goud of silwer werd. Vir God, ons Skepper en Hemelse Vader, is gesuiwerde geloof wat nie deur die gelowige se vertroue in self besoedel is nie baie kosbaar. Dit is ook Sy wil dat gelowiges tot so ‘n mate in hulle geestelike lewens groei dat hulle op die punt kom waar hulle volkome op Hom, en Hom alleen, vertrou. (iets wat maar vir ons almal moeilik is!) Indien ‘n persoon deur ‘n beproewing in die lewe gaan, en nie met ‘n groter besef van sy totale afhanklikheid van God aan die anderkant uitkom nie, het daardie persoon iets wat baie belangriker (en kosbaarder) as enige tydelike verlies, wat hy tydens die tydperk van beproewing moes prysgee, verbeur. Wanneer gelowiges hulleself onder groot druk bevind, ontstaan die gevaar dat hulle in tye soos hierdie die mense naaste aan hulle kan seermaak. Die meeste van ons het al so opgetree en was al aan die ontvang kant van sulke optredes. Hierteen moet ons waak. Dit is dan ook gedurende tydperke van ernstige beproewing waar baie gelowiges moed opgee en hulle rug op God draai. (wat niks anders as ‘n geestelike tragedie is nie.) Sulke gelowiges sal nie verlore gaan nie, maar hulle sal ‘n groot verlies lei. (die leser word aangeraai om die artikel “Bekering, geloof en die Ewige Lewe” asook die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.)

Net soos wat Abraham word alle gelowiges se geloof hulle tot geregtigheid gereken, naamlik
Rom.4:20 “En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee 21 en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. 22 Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. 23 Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, 24 maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, 25 wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.
Rom.5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; 2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. 3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, 4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; 5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”

(fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) Op dieselfde wyse sal voortgesette geloof, wat deur veelvoudige beproewinge, van enige vorm van vertroue t.o.v. self gesuiwer is (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) by die verskyning van Christus (wegraping/eerste opstanding) met lof eer en heerlikheid, as genadeloon, bekroon word. (fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees. Beide die toegerekende geregtigheid, sowel as die lof eer en heerlikheid, word geheel en al, sonder menslike/vleeslike werke, bekom, maar is eerder die resultaat van volkome vertroue/geloof in God wat slegs op grond van Sy genade ontvang word. Waar geloof, met geloof in self, besoedel word sal dit keer op keer tot geestelike mislukkings lei. Onthou hierdie waarheid.

Ter Afsluiting:
1Pet.1:6-7 “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”
Die beproewing van geloof is nie ‘n steekproef om vas te stel of daar wel geloof is nie. (alle wedergebore Christene het immers ten tye van hulle wedergeboorte reddende geloof uitgeoefen anders sou hulle nie as gelowige omskryf kan word nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Generiese geloof vs Reddende geloof” te lees.) Boonop is die beproewing van geloof nie ‘n poging om vas te stel of daar genoegsame geloof was om wedergebore te raak nie. Soos reeds in hierdie artikel gedemonstreer is, het die beproewing van geloof ten doel die suiwering van die geloof wat alreeds aanwesig is. Dit beteken dat alle vorme van onsuiwerhede, wat vertroue in self insluit, verwyder moet word. Hierdie waarheid was duidelik Petrus se bedoeling toe hy die beproewing van geloof deur lyding met goud wat deur vuur gelouter is vergelyk het. Net soos wat die onsuiwerhede in goud deur die hitte van die vuur geskei, en gesuiwer word, net so word die gelowige se geloof deur beproewinge en lyding van die dinge van hierdie wêreld (waarin ons so baie vertroue in plaas) gesuiwer. Die doel van hierdie proses is dat slegs God die voorwerp is waarin die gelowige se vertroue gesetel is, en niks en niemand anders nie. Hierdie feit dien dan as een van die grootste redes waarom die kinders van God beproewinge en lyding tydens hierdie lewe ondervind. (fase twee van ons heiligmaking, naamlik heiligmaking)

Ons moet mooi besef dat ons in ‘n gevalle wêreld lewe wat nog steeds onder God se vloek is. Gelowiges kan egter verseker wees dat God self die beproewinge wat ons in hierdie gevalle wêreld beleef ten goede laat saamwerk, maar slegs vir die wat Hom liefhet.
Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Eer God in tye van beproewing deur ons geloof volkome in Hom te plaas en daarvoor sal Hy ons ryklik met genadeloon vereer.
Jak.1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Die kroon van die lewe is nie die gawe van die ewige lewe, wat slegs op slegs geloof in die Evangelie ontvang moet word, nie. Die kroon van die lewe is ‘n kroon, wat na afloop van die Wegraping, as genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus uitgedeel word. Die kroon van die lewe gaan slegs aan gelowiges uitgedeel word, wie tydens tye van toetsing (wat soms lyding en beproewinge insluit) getrou deur voortgesette geloof, die toetsing van hulle geloof deurstaan het. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking)
Onthou altyd dat God ten alle tye volkome in beheer van enige situasie is. Dit sluit tye van beproewing in. (lees gerus die artikel “werp al julle bekommernis op Hom”) Dit is van uiterste belang om in tye soos hierdie te leer om volkome op God te vertrou.

Seën Groete

Vic