Maagde

Gelykenis van die Tien Maagde

Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus Deel 5

Gelykenis van die Tien Maagde

Voordat ons die gelykenis van die tien maagde bespreek is dit belangrik dat ons net weer kortliks na die kulturele en historiese aspekte van ‘n tipiese Joodse huwelik van die Bybelse tyd kyk. Dit is belangrik dat ons dit doen, want Jesus het so ‘n Joodse huwelik as agtergrond vir die oordra van die gelykenis van die tien maagde gebruik. As ons hierdie gelykenis dus reg wil verstaan, dan is dit baie belangrik dat ons weet hoe ‘n Joodse huwelik gedurende die tyd van Jesus bevestig is. Dit sal dan die uitleg en verstaan van die gelykenis soveel vergemaklik en sal verhoed dat onnodige foute met die uitleg van die gelykenis gemaak word.

Met die bevestiging van ‘n huwelik het die ouers ooreengekom dat die huwelik tussen die kinders kon plaasvind. Dit was die eerste fase van die huweliksbevestiging en daarna is die huweliksprys betaal soos tussen die ouers ooreengekom en is die verlowing as wettig bestempel. Die verlowing was in alle opsigte bindend soos wat ons huwelike van vandag sou wees en as een van die partye die ander een sou verkul gedurende die verlowings tydperk, sou dit as egbreuk bestempel word, wat volgens die wet met die dood gestraf kon word. Gedurende hierdie tydperk het die kinders nog by hulle ouers aan huis gebly en het geen seksuele kontak plaasgevind nie. Die tweede fase van die huwelik het dan plaasgevind wanneer die bruidegom, vergesel van sy vriende, vanaf sy huis na die bruid se huis gegaan het om haar vir homself te gaan toeëien. Gewoonlik het sy nie presies geweet wanneer hy haar sou kom haal en na sy huis sou neem nie. Tussen die eerste en tweede fase van die huweliksbevestiging kon daar soms ‘n  lang tydperk verloop, omrede die bruidegom eers ‘n huis vir sy bruid moes bou. Die derde en laaste fase van die huweliksbevestiging het met ‘n bruilofsfees by die bruidegom se woning plaasgevind wat ‘n paar dae lank kon duur. (Joh 2:1-10) Na die huweliksbevestiging is daar ‘n feestelike maal gehou wat as die Seudas Mitzvah bekend gestaan het. Dit is na hierdie bruilofsfees wat die Here Jesus Christus met die gelykenis van die tien maagde verwys het, en wat altyd na die huweliksbevestiging plaasgevind het. Onthou hierdie feite soos wat ons die gelykenis van die tien maagde verder bespreek.

Dus word in die gelykenis van die maagde aangeneem dat die eerste en tweede fases van die bruilof alreeds afgehandel is, toe die Here Sy bruid, die Kerk, kom haal het en met Hom verenig het met die wegraping wat reeds meer as sewe jaar voor hierdie gebeurtenis plaasgevind het.(1 Thess 4:13 – 18; 1Thess 1:10; 5:9; 2Thess 2:1 – 12; Op 3:10) Met die wederkoms aarde toe, om Sy koninkryk fisies hier te kom vestig, sal die derde fase nl. die bruilofsfees plaasvind. Alle mense wat gedurende die verdrukking gelewe het word na die bruilofsfees uitgenooi om as gaste die bruilofsfees by te woon. Die Bruid, wat die Kerk is, sal saam met Jesus vanaf die Hemel terugkeer aarde toe en is nie in die gelykenis van die maagde te sprake nie. Die tien maagde kan nie die bruid wees nie, want die bruid kan nie toegang tot haar eie bruilofsfees geweier word nie. Vyf van die maagde word egter uitgesluit.

Nog ‘n feit wat onthou met word is dat die kerk altyd as een maagd in die Skrifte voorgestel en nie as baie nie. Kom ons gaan kyk na een so ‘n voorbeeld.
2Ko 11:2 “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.”
Daar is net een ware kerk en net mense wat werklik die Evangelie gehoor en werklik geglo het kan deel van daardie kerk word. Met wedergeboorte word alle gelowiges in die liggaam van Christus in gedoop en dit geskied deur die werking van die Heilige Gees en is nie van mense of kerklike instansies afhanklik nie.
1Ko12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Daar is huidiglik baie mense wat in kerke sit wat nie weergebore is nie, omrede hulle nie die ware Evangelie gehoor en geglo het nie, en dus het hulle nie wedergebore geraak nie en is hulle nie deel van Jesus se bruid nie. Indien die leser dit nog nie gedoen het nie, word hy aangeraai om die artikel oor die breë en die smal weg te lees.

So die tydperk waarvan die Here Jesus Christus hier van praat is die tydperk net na die verskyning van die teken van die Seun van die Mens in die lug, na afloop van die Groot Verdrukking en net voor Sy wederkoms aarde toe . Vir die nodige konteks en agtergrond word die leser aangeraai om deel een, twee, drie, en deel vier van hierdie reeks artikels te gaan lees om sodoende ‘n breedvoerige verwysingsraamwerk te verkry. Kom ons gaan nou na die gelykenis van die tien maagde.

Mat 25:1 “Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.”
Opmerking: Die tien maagde kan dus nie die kerk wees soos wat baiekeer verkondig word nie, omrede die konteks asook die feit dat die bruid outomaties deel van die bruilofsfees is, laat nie toe dat hierdie afleiding gemaak kan word nie. Soos reeds genoem, word die tydperk net na die afsluiting van die Groot Verdrukking hier behandel en wou Jesus die gelowiges wat op aarde oorleef het, waarsku om waaksaam te wees en op Sy skielike wederkoms te wag. Die lampe hier verteenwoordig belydenis van geloof in Jesus Christus. Dit sluit ware en valse belydenis in. Die maagde verteenwoordig hoofsaaklik Jode wat Jesus as hulle Messias en Verlosser bely en ‘n sekondêre applikasie kan gemaak word op mense van alle nasies wat geloof in Jesus gedurende die verdrukking bely. Die skaap en bok oordeel wat later afsonderlik behandel gaan word, handel hoofsaaklik oor die nasies, wat nie Jode is nie, en hoe die Here hulle gaan beoordeel. Onthou die kerk is glad nie hier terspraaklik nie.

Mat 25:2 “En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
25:3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.
25:4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.”
Opmerking: Olie verteenwoordig die Heilige Gees en Sy werk in wedergeboorte. Die onverstandige maagde is diegene wat nie geestelik waaksaam is nie en toegelaat het dat hulle geloof verswak. (meer hieroor later) Die wyse maagde het kanne met olie met hulle saamgeneem en dus het hulle verseker dat hulle geestelik waaksaam was. Die ekstra kanne verteenwoordig dus mense wat se harte geestelik waaksaam en ontvanklik vir die inwerking van die Heilige Gees is en daarom glo hulle sonder twyfel dat Jesus se wederkoms skielik kan plaasvind.

Mat 25:5 “En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.”
Opmerking: Die Bruidegom wat talm verteenwoordig die tydperk tussen Jesus se twee komste aarde toe. Al die maagde raak aan die slaap. Die verskil tussen die wyse maagde en die dwase maagde is die inwoning van die Heilige Gees. Soos wat in die vorige artikel baie duidelik verduidelik is, word van die gelowiges, wat na afloop van die dispensasie van die kerk (dispensasie van genade) nog leef, verwag om seker te maak dat hulle geloof nie tot so ‘n mate verswak dat hulle ophou om te glo nie.
Opn 16:15 “Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.”
Klere verteenwoordig Jesus se geregtigheid wat ‘n persoon ontvang sodra ‘n persoon die Evangelie glo. (geloof)(Jes 61:10; Op 19:8 ens) Gedurende die verdrukking is die gelowige verantwoordelik om sy geloof te bewaar en daarom gee die Here die waarskuwing soos in Op 16:15 vervat. Dus kan gelowiges wat gedurende die verdrukking tot geloof in Jesus kom, uit genade verval en verlore gaan. Mense wat tydens die dispensasie van genade (kerk dispensasie) tot geloof kom, word deur die Heilige Gees verseël en kan dus nie verlore gaan nie. In baie opsigte kan ons, wat tydens die kerk dispensasie leef, baie dankbaar vir die feit wees, dat as ons die Evangelie geglo het ons verseker kan weet dat ons in die Hemel sal wees. Gedurende die dispensasie van genade neem die Here aan om ons staande te hou, indien ons werklik ons geloof in Hom geplaas het. Paulus het hierdie feit baie duidelik aan die die gemeente van die Korinthiërs oorgedra.
1Ko 1:7 “sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus,
1:8 “wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees.
1:9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.”

Die vraag ontstaan nou hoekom die Here dan van diegene wat tydens die verdrukking tot geloof kom, verwag om hulle geloof te behou en nie uit geloof uit te val nie. Die rede is eenvoudig. Gedurende die verdrukking, net soos die geval in die Ou Testament, gaan die Here Homself op ‘n baie opsigtelike manier aan die mensdom openbaar. Dink maar aan die deurtrek van die Israeliete deur die see op droë grond en hoe die Here die Egiptiese weermag laat verdrink het (Exodus 14) Hoe die Here bedags in ‘n wolkkolom en snags in ‘n vuurkolom voor die Israeliete uitgetrek het. (Exodus 13:21) Hoe Hy water uit ‘n rots te voorskyn laat kom het (Núm 20:8) ens. Die Ou Testament is besaai met gebeurtenisse waar die Here op ‘n bonatuurlike en opsigtelike manier Homself aan die mens geopenbaar het. Die Here openbaar Homself nie op hierdie manier aan ons wat tydens die kerk dispensasie woon nie en daarom het Jesus mense as salig bestempel wat Hom glo sonder om te sien.
Joh 20:29 “Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.”
Om hierdie rede word die Kerk met die Heilige Gees verseël en neem die Here verantwoordelikheid vir ons na wedergeboorte. Gedurende die verdrukking gaan die Here Homself weer op ‘n baie opsigtelike manier aan die wêreld openbaar en daarom word van die gelowiges verwag om hulle geloof te behou. Die Heilige Gees gaan hulle nie verseël soos wat Hy ons, wat tydens die kerk dispensasie gelewe het, verseël het nie. Lees asb deel 4 van hierdie reeks artikels vir aanvullende besonderhede.

Sonder om al die bonatuurlike tekens en gebeure wat tydens die verdrukking sal plaasvind een vir een aan te haal, gaan ek net die bonatuurlike dade van die twee getuies van God aanhaal wat as voorbeeld sal dien van hoe God gedurende die verdrukking, opsigtelik op aarde te werk sal gaan. Net soos Moses, sal hierdie getuies waarneembare wonderwerke doen en self hulle vyande met vuur dood en om water in bloed te verander. So iets is nooit tydens die kerk dispensasie waargeneem nie.
Opn 11:3 “En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer.
11:4 Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.
11:5 En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word.
11:6 Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil.”
Dus sal dit nie moeilik wees om te sien dat God op ‘n besonderse manier gedurende hierdie tydperk werksaam sal wees nie, en daarom sal God dit van die gelowiges verwag om in die geloof te bly. Met hierdie wete keer ons weer terug na die gelykenis van die tien maagde.

Mat 25:6 “En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!
25:7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.”
Opmerking: Middernag verteenwoordig die onbekende dag en uur van Jesus se wederkoms, wanneer niemand Hom verwag nie. (Al die maagde het aan die slaap geraak) Jesus se koms, is ook met die verskyning van die teken van die Seun van Mens in die hemelruim aangekondig, maar die presiese dag en uur is onbekend. (Mattheus 24:30) Die maagde wat hulle lampe gereed maak, verteenwoordig die feit dat al die maagde ‘n belydenis handhaaf dat hulle in Jesus glo. Alhoewel al die maagde se uiterlike optrede dieselfde mag lyk, is daar in hulle geestelike lewens wel ‘n groot verskil.

Mat 25:8 “En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.”
Opmerking: Die dwase maagde kom nou te laat agter, dat hulle nie reddende geloof het nie. Alhoewel die dwase maagde aan die begin wel geloof gehad het, het hulle toegelaat dat hulle geloof sover agteruit gaan, dat hulle opgehou het om te glo. (Hulle lampe het gebrand maar gaan nou dood) Hulle demonstreer dus deur hulle optrede dat hulle Jesus nie ernstig opgeneem het toe Hy gemaan het om waaksaam te wees nie. Nou betaal hulle die prys vir hulle geestelike nalatigheid.
Op 14:12 “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”
Op 16:15 “Kyk, “Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.”

Mat 25:9 “Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.
25:10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
25:11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!
25:12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.”
Opmerking: ‘n Persoon word net deur die Heilige Gees weergebore indien die persoon in Jesus Christus en Sy soendood aan die kruis glo. Net die Here kan verlos en daarom is dit belangrik om na Hom alleen te gaan vir verlossing en nie na mense of instansies nie. Die wyse maagde is dus korrek om die dwase maagde aan te raai om na die verkopers te gaan om meer olie te koop.

Die verkopers verteenwoordig Jesus Christus en Hy nooi almal uit om by Hom te kom koop en dit boonop verniet.
Opn 3:18 “Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.
Opn 22:17 En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.
Rom 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”
Jesus het die volle prys betaal en al wat die mens moet doen is om Jesus se soendood in geloof vir homself toe te eien. Die Here se wederkoms gaan egter so skielik plaasvind dat mense wat nie gereed is nie, nie ‘n geleentheid gaan kry om hulle saak met Hom reg te maak nie. Die wat nie ware geloof in Jesus het nie, sal dus uit die bruilofsfees uitgesluit word en sal nie deel in Jesus se duisendjarige vrederyk hê nie. Dit sal mense insluit wat toegelaat het dat hulle geloof so verswak het dat hulle uit geloof verval het.

Mat 25:13 “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.”
Opmerking: Alhoewel die gelykenis van die maagde nie direk op die kerk van toepassing is nie, beteken dit geensins dat ons nie daaruit kan leer nie. Ons word ook gemaan om net soos die mense wat die Groot Verdrukking oorleef, ook waaksaam te wees. Onthou die Here se wederkoms vir die Kerk gaan ook onverwags en skielik plaasvind.
Luk 21:36 “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”

Alhoewel ‘n gelowige wat gedurende die Kerk dispensasie lewe nie verlore kan gaan nie, kan hy egter nog verlies lei as hy voor Jesus moet verskyn om rekenskap vir sy lewe te gee.
Rom 14:12 “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
1Ko 3:11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
3:12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

Dit in kort is die gelykenis van die maagde. Met die volgende artikel bespreek ons die gelykenis van die talente.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.