Lewens Afrigter?

Lewens Afrigter?

Vraag: Ek hoop jy kan my help. Ek wil net weet wat jou mening oor ‘n lewens afrigter is. In Engels noem mens dit “Life Coach”. My man meen dat hulle meer skade as goed doen en dat mense dit net doen om geld te maak. Watse antwoord kan ek my man gee?

Antwoord:  Van die staanspoor af moet ek jou sê dat my antwoord nie baie gewild gaan wees nie, maar met behulp van die Here gaan ek eerlik my mening vanuit die Skrifte weergee.  Soos met enige vraagstuk, moet ons vir die antwoord na die Bybel gaan. As Christen is die Woord van God my maatstaf en daarvolgens gaan ek enige leerstelling of optrede ondersoek. (maak dit ook deel van jou mondering)

Ek lees nêrens in die Bybel dat daar so ‘n bediening soos lewens afrigter genoem word nie. Ek is sterk van mening, dat indien die Here wou hê dat ons deur sogenaamde lewens afrigters moet gelei word, Hy dit duidelik so in Sy Woord so sou genoem het. So ‘n bediening word egter nêrens in die Skrifte (wat baie oor ampsbedieninge te sê het) gevind nie.
1Korintiers12:28 “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. 12:4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 12:5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; 12:6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. 12:7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. 12:8 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 12:9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
12:10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. 12:11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.”

Soos jy kan sien, word die amp van lewens afrigter nêrens genoem nie, en  boonop is dit nogal ‘n insiggewende feit, veral in lig van die feit dat die Skrifte voldoende is en dat die die woord die lig van ‘n gelowige se pad is.
Psalm 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Die antwoord vir die Kerk lê nie in die stigting van nog ampte nie, maar in die terugkeer na God se Woord en toegewyde Bybelstudie en dissipelskap. Ons moet weer ons Bybels optel en self lees wat die Here vir ons daarin wil sê. En hiervoor is dit belangrik dat die Bybel op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse geïnterpreteer word.  Alles wat ons nodig is alreeds deur God in die Skrifte vir ons opgeteken. En boonop kos dit ons niks nie.
2Timoteus 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Lees die bostaande teksgedeeltes weer baie mooi deur, dan vra jy jouself of die Woord van God dan nie meer voldoende is nie? Wat het geword van God se Woord en die leiding van die Heilige Gees? Boonop het die Here ook die ampte van Pastore, leraars en ouderlinge in die gemeente gegee wat voldoende behoort te wees. Derhalwe is dit van uiterste belang om eerder die Skrifte (wat deur die Heilige Gees geïnspireer is) te gehoorsaam, eerder as om na iemand wat homself/haarself in ‘n nuwe amp as lewens afrigter aanstel (waarvan die Bybelskrywers nie eens bewus was nie) te luister. Deur wie moet ons nou eindelik gelei word, ‘n lewens afrigter of die Heilige Gees?

Hierdie is maar net weer ‘n geval waar die Kerk meer soos die wêreld wil word, eerder as om as ‘n lig in die donker wêreld te skyn. Baie mense kry idees in die wêreld daarbuite en bring dit dan die Kerk binne. Hulle is dan verplig om die Bybel te verander, verdraai of om teksgedeelte buite konteks aan te haal om sodoende hulle nuwe leerstellings te regverdig. Die Here wil hê ons moet uit die wêreld uit kom en as ligte in ‘n donker wêreld skyn. Ons moet nie die wêreld in die kerk inbring soos deesdae hoogmode is nie. Kyk maar mooi en jy sal opmerk dat dit oor geld en status gaan. In my mening noem hierdie mense hulleself lewens afrigters, sodat hulle meer professioneel kan klink, en sodoende makliker betaling kan bekom. 
Die sekulêre wêreld het lewens afrigters en nou wil sommige mense in die Kerk ook lewens afrigters hê. O ja, ek moet net noem, teen vergoeding! Neem die vergoeding weg en dan is die Lewens Afrigter ook weg!

Ek wil net beklemtoon dat ek nie iets teen mense het wat voltyds vir die Here dien en betaling ontvang nie, maar die gemeente moet deur die Gees van God gelei word om te gee en die werkers moet God se werk doen uit liefde en nie vir wins nie. Boonop moet ons God eerbiedig deur die ampte wat Hy daar gestel het te respekteer eerder as om nuwe ampte te skep. Die Kerk behoort immers aan Christus, en ons sal wys wees om Hom te gehoorsaam. Ek is jammer om te sê, maar deesdae gaan dit meer oor geld (en status) in sommige kringe as oor ‘n heilige lewe en wat die Skrifte in werklikheid sê. Kyk maar hoe word daar op TBN en ander Christelike kanale, in die naam van godsdiens, handel gedryf, en dit alles in die Naam van ons pennielose Vriend van Nasaret! Ek glo indien Jesus Christus nou in liggaam hier sou wees, Hy weer tafels sou omgegooi!
Johannes 2:14 “En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit. 2:15 En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. 2:16 En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie.”
En verder:
2Petrus 2:3 “en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”

Ter Afsluiting: Ongelukkig moet ek erken, dat ek saam met jou man stem. My raad aan jou is, bestudeer die Bybel en begin gerus by Spreuke. Daar is genoeg raad om jou ‘n leeftyd besig te hou en boonop kos dit jou niks nie. Soos wat jy die Skrifte bestudeer en daar ontstaan enige verder vrae, dan sou ek jou aanraai om eerder jou Pastoor of Geesvervulde gelowiges om raad te nader, eerder as om na ‘n sogenaamde lewens afrigter te draai.  Onthou altyd om die Here in gebed om raad en wysheid  te vra. Hy is altyd gewillig om ons deur Sy Gees te lei. (Maak egter seker dat jou pastoor se leerstellings korrek is anders gaan jy saam met hom verly word!) Meet ook alles wat ek of enige mens jou mag leer teen wat die Bybel daaroor te sê het. Vermy mense wat die Bybel buite konteks aanhaal, of byvoegings tot die woord maak, asook die woord verdraai. 
Handelinge 17:11 “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”

Ek hoop my antwoord beantwoord jou vraag.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.