Nagmaal

Hoekom gebruik ons “normale” brood met Nagmaal

Vraag: Hoekom gebruik ons “normale” brood veral met Nagmaal. In die Bybel staan dit dat suurdeeg as sonde beskou word en as daar feeste gehou was moes brood sonder suurdeeg geëet word? Hoekom gebruik ons nie brood sonder suurdeeg met Nagmaal nie?
(Ek dink jou artikel, en my navorsing, oor suurdeeg is voldoende om hulle te antwoord maar, enige ekstra besonderhede sal baie waardeer word).

Antwoord: Goeie vraag! Die rede hiervoor is heel eenvoudig, en dit handel oor die Griekse woord wat in Matt.26:26 gebruik is. In hierdie teksgedeelte, toe die Here die Kerk se ordinansie van die nagmaal ingestel het, is die Griekse woord “artos” gebruik wat oor die algemeen gebruik word indien ‘n persoon gewone brood wat suurdeeg bevat bedoel. In hierdie opsig is die Bybelskrywer se keuse vir die term “brood” insiggewend. Indien Hy bedoel het dat ons slegs ongesuurde brood tydens die nagmaal mag gebruik, dan sou Hy eerder die Griekse woord “azumos” gebruik het wat spesifiek na ongesuurde brood verwys.

Mens moet ook nie vergeet dat die nagmaal ‘n ordinansie van die Kerk is en dit vorm dus deel van die Dispensasie van die Kerk/Genade, nie die Dispensasie van die Wet nie. Onthou, die Kerk is nie onder die Wet nie, maar onder die genade. Indien die Here van die Kerk verwag het om van ongesuurde brood gebruik te maak, sou Hy dit met die instelling van die Nagmaal duidelik so gestel het, net soos wat in die Ou Testament die geval was. Hy het egter nie, en het boonop die skrywer van Mattheus geïnspireer om die Griekse woord wat gewoonlik van alledaagse gewone brood praat te gebruik instede daarvan om ‘n meer gepaste Griekse woord, naamlik “azumos” te gebruik. Ek dink die woordkeuse wat in die Skrifte gebruik is is nogal insiggewend en laat die gebruik van ongesuurde brood toe.

Indien die Here van die Kerk verwag het om van ongesuurde brood gebruik te maak, dan sou mens verwag dat hierdie voorskrif ook in die briewe, wat direk aan die Kerk tydens die Kerk Dispensasie gerig is, uiteengesit sou word. Ons vind egter nêrens in die briewe die gebod om nie suurdeeg tydens die nagmaal te gebruik nie. Hierdie feit dien as verdere bewys, dat gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef, enige vorm van brood tydens die nagmaal mag gebruik.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat die Pasga die Israeliete se verlossing vanuit Egipte gedenk, maar die Here verwag van die Kerk om deur die Nagmaal Christus se verlossingswerk aan die Kruis te gedenk. Alhoewel daar ooreenkomste tussen die twee instellings is, is dit ook duidelik dat die Nagmaal nie ‘n instelling is vir mense wat onder die Wet lewe nie, maar slegs vir gelowiges wat tydens die Dispensasie van Genade leef. Onthou, met Christus se kruisiging het daar ‘n dispensasionele verandering plaasgevind, en ons bevind onsself nou in die Dispensasie van Genade/Kerk. Die Wet van Moses met al sy offers was maar net die skaduwee van die werklikheid, naamlik die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir ons. Die Wet met sy offers het vorentoe gekyk, met die verwagting dat die Here Jesus Christus waarna hierdie offers verwys het op die toneel sou verskyn. Met die instelling van die Nagmaal was die Here alreeds op die toneel en sou binnekort alles vervul het. Met hierdie feit in gedagte het die Here vir die Kerk ‘n nuwe ordinasie ingestel, wat as herdenking sou dien van wat Hy aan die kruis gedoen het, en hierdie instelling vorm geensins deel van Moses se Wet nie. Die Here het die Kerk, wat uit alle gelowiges van alle nasies sou bestaan, ingedagte gehad en nie spesifiek Israel alleenlik nie. Die Twee entiteite, naamlik Israel as volk, en die Kerk, wat die liggaam van Christus is, is nie dieselfde entiteite nie. Die Kerk het nie Israel as God se verbondsvolk vervang nie. Lees asb die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” indien jy dit nie alreeds gedoen het nie. Ons moet nie die Kerk met Israel verwar nie.

Net omrede die Bybelskrywers suurdeeg met sonde vergelyk kan mens nie aanneem dat die eet van suurdeeg sande is nie. Suurdeeg word in die Skrifte simbolies met sonde vergelyk, maar ons moet die konteks toelaat om te bepaal of die gegewe Bybelskrywer simbolies of letterlik is. Om letterlik suurdeeg te eet is nie sonde indien God dit nie spesifiek verbied nie. Nêrens vind ons dat die Here Jesus of enige van die Nuwe Testamentiese skrywers die gebruik van suurdeeg in die nagmaal verbied nie. Inteendeel stel Paulus in sy briewe (wat spesifiek aan die Kerk gerig is) dat alle voedsel deur die woord van God en gebed geheilig word.
1Tim.4: “Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; 5 want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.”
Omrede die Here Jesus Christus nie spesifiek die gebruik van suurdeeg by die nagmaal verbied nie kan ons wel die nagmaal met gewone brood geniet.

Ter Afsluiting: Dit maak nie saak of ‘n gelowige van ongesuurde brood of van gesuurde brood tydens die nagmaal gebruik nie. Wat van belang is, is dat die persoon deur die beoefening van die ordonnansie van die nagmaal onthou wat die Here vir hom aan die kruis bewerkstellig het en God daarvoor dank. In hierdie geval is dit die gesindheid van die hart wat tel en die die tipe brood wat gebruik word nie.

Dit is my bede dat my hierdie antwoord jou vraag beantwoord.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.