Ek kan nie Tiendes gee nie

Ek kan nie Tiendes gee nie

Vraag: Sal die Here my kwalik neem as ek finansieel sukkel en nie meer kan bekostig om ‘n tiende van my inkomste aan die Kerk te gee nie. Ek is bang die Here straf my en weerhou sy seëninge, omdat ek dan van Hom steel. Wat is jou siening hieroor. Ons Herder meen ek moet bly gee, maar ek kan nie meer nie. Hy meen dat Maleàgi 3:8 ons beveel om altyd ons tiendes te gee en dat ons omstandighede nie as verskoning gebruik kan word nie. Ek is bang ek word vervloek.

Antwoord: Moenie jouself bekommer nie, die Here sal nie Sy seëninge van jou weerhou op grond van jou omstandighede nie. Hy is dan jou Vader en ken jou omstandighede baie beter as jyself. Eerstens sal ek jou aanraai om altyd jou Bybel eers te raadpleeg oor enigiets wat enige iemand aan jou mag sê. Dit sluit my in. Bid eers dat die Heilige Gees jou leiding sal gee. Jesus het ons belowe dat die Heilige Gees ons sal lei, ons moet net bereid wees om te hoor wat Hy wil sê. Al is dit nie altyd wat ons wil hoor nie.

Kom ons gaan nou na die teksgedeelte.
Maleàgi 3:8 “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. 3:9 Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
Kyk na die konteks, dan sal jy merk dat die Here met mense praat wat onder die Ou-Testamentiese wet is, en nie met gelowiges tydens die Kerk Dispensasie nie. Hy praat hier met die volk Israel. Moet nooit die fout maak om Israel met die Kerk te verwar nie. Hulle is nie een en dieselfde entiteit nie. Die Kerk is die Kerk en Israel is die volk Israel, wat weer huidiglik in hulle eie land is. Jode wat die Evangelie glo ,word deel van die Kerk al is hulle Israeliete. So bly jy steeds ‘n Suid Afrikaner al is jy deel van die Kerk. Die ware Kerk is alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof kom en dit maak nie saak watter nasionaliteit hulle aan mag behoort nie. Lees die hele gedeelte waarin hierdie teksgedeelte voortkom, dan sal jy merk dat die Here wel met mense onder die dispensasie van die Wet praat en nie met die Kerk nie. Dit is Israel. (Lees gerus die artikel “Het die Kerk, Israel as God se verbondsvolk vervang?”)

Onthou, ons lewe nou tydens die Dispensasie van die Kerk nie die Dispensasie van die Wet nie. Dus moet jy nie toelaat dat iemand jou weer onder die Dispensasie van die Wet inbring nie.
Galasiërs 3:10 “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. 
Galasiërs 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—“Onthou Jesus het in ons plek aan die Kruis gesterf, sodat ons in Jesus geregtig verklaar kan word.
2 Korintiërs 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
As ons geregtig verklaar is hoe kan ons dan onder ‘n vloek wees? Dan was Jesus se Kruisdood mos nie genoeg nie, en dan is ons almal nog in ons sondes. Of al jou sondes is aan die kruis betaal (wat beteken dat jy nie meer onder God se vloek kan kom nie) of niks van jou sondes is betaal nie. (Wat beteken dat jy nog onder die vloek van Deuteronomium is.)
Deuteronomium 27:26 “Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie; en die hele volk moet sê: Amen.
Jy, as Christen, kan egter met sekerheid weet, dat Jesus se kruisdood voldoende was om jou van enige vloek te weerhou. (Ons noem dit die algenoegsaamheid van die Kruis en in Engels: “sufficiency of the Cross” ) Die Here het aan die kruis gesê dat alles volbring is.
Johannes 19:28 “Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors! 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Dus, het Hy volle versoening gedoen vir almal se sondes wat in geloof Sy versoeningsdood aanvaar.

Iemand wat die leerstelling van die tiendes op jou wil afdwing, neem jou terug na die Ou-Testamentiese wet toe. Die tiendes is aan die Israeliete as deel van die wet voorgeskryf , en ons as Christene is nie onder die wet nie, maar onder die Genade. Ons moet deur die Gees van God gelei word. Een van die redes waarom die Here die tiendes leerstelling in die Ou-Testament ingestel het, was omrede die Leviete en Levitiese Priesters nie grond mag besit het nie, en dus geen vorm van inkomste van die grond af kon verdien nie. Hulle was voltyds in diens van God. Dit was ‘n vorm van belasting wat betaal moes word, net soos wat ons nou belasting betaal aan die regering. Onthou die hele boek van Maleàgi moet as ‘n eenheid gelees word, daar was nie hoofstukke en verse soos wat ons dit in ons Bybels het nie. As jy dit ingedagte hou, en jy lees die hele Maleàgi, sal jy opmerk dat die Here baie meer as net tiendes aanspreek. Gaan daar nou van jou verwag word om offers ook te bring? In hoofstuk een van Maleàgi spreek die Here Israel aan, omdat hulle blinde diere bring wat hulle aan Hom wil offer.
Maleàgi 1:8 “En as julle ‘n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ‘n lam of ‘n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ‘n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.
Mens kan net selektief een gedeelte van Maleàgi oorbring na die dispensasie van die kerk toe, en daarna al die ander gedeeltes ignoreer nie. Mens moet konsekwent wees?

Nog ‘n belangrike rede hoekom die tiende leerstelling nie op die Kerk van toepassing is nie, is die feit dat dit met Paulus se duidelike riglyne, wat hy in die Briewe aan die kerk gerig het, bots.
2 Korintiërs 9:7 “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.
Soos jy kan opmerk, word nêrens ‘n persentasie van inkomste genoem nie, maar net soos die persoon in sy hart voorneem om te gee. Dit kan enige persentasie van inkomste insluit, selfs net een persent, of selfs niks en selfs negentig persent. Dit is ‘n saak van die hart. Die tiende leerstelling bots met die hele beginsel soos hierbo genoem. Dink daaroor. Die idee is dat ‘n persoon homself eers aan God toewy, en toelaat dat die Heilige Gees leiding gee in die bedrag en hoeveelheid wat gegee moet word. Dit kan meer as net ‘n tiende wees of selfs minder. (Dit kan enigiets wees en nie net geld nie)
2Korintiers 8:3 “Want hulle was na vermoë—ek betuig dit—ja, bo vermoë gewillig, 8:4 en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang; 8:5 en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God,
En verder:
8:12 “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. 8:13 Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, 8:14 maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. 8:15 Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.
Die Here gaan nie van jou verwag om te gee wat jy nie het nie. As jy nie het nie moenie gee nie. Daar is sekerlik ander mense wie die Heilige Gees kan beweeg om te gee, indien jy nie kan gee nie. Geld is nie die enigste gawe wat jy kan gee nie. Wat van jou vermoëns en tyd? Let ook verder op, dat nêrens na die Kruisiging word iemand aangesê om tiendes te gee nie. Lees en kyk maar vir jouself.

Daar is egter ‘n paar belangrike feite wat ek net wil uitlig .
1 Korintiërs 10:26 “Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.
Dit sluit jouself en al jou besittings in en nie net ‘n tiende nie. Dit sluit jou liggaam ook in!
Romeine 7:4 “So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan ‘n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.
Dus, moet ons die Here verheerlik in alles wat ons het en nie net met ons geld nie. Hoe en waarop spandeer jy jou tyd, verstand, talente ens? Dus alles wat jy is, en wat jy het, behoort aan Christus en nie aan jouself nie. Ons almal gaan by God rekenskap gee oor hoe ons Sy sake hier op aarde behartig het. Nie net oor ‘n tiende van alles nie.

Efesiërs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
As jy nie geld het nie, vra die Here om jou te wys met wat jy wel behulpsaam kan wees, en gaan met dit dan na jou Pastoor en gemeente.
Titus 3:8 “Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.
Titus 3:14 Ons mense moet ook leer om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie.
Daar is baie meer as net geld gee. Moenie spaarsamig wees met wat jy wel het nie, al is dit net tyd.
2 Korintiërs 9:6 “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.
Dit geld nie net vir geld nie, maar alles in die lewe. Dink mooi hieroor.

En laastens, word jy nie geseën oor wie jy is en wat jy doen nie, maar in wie jy is, nl die Here Jesus Christus!
Efesiërs 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
Daar kan nog baie oor hierdie onderwerp geskryf word, maar ek dink hierdie behoort genoeg te wees om jou gerus te stel. My antwoord is ook alreeds te lank. Onthou moenie vrees nie, vertrou op die Here en laat Hom toe om jou deur Sy Gees te lei.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.